
Foto: Canva.com
Ek is mal oor jou
Ek is telkens versot op jou.
Toe Tafelberg nog kind was,
was ek reeds mal oor jou.
Lank voor die branders se stemme wou breek
of die wind sy eie wil kon ken,
was ek gaande oor jou.
Seisoene voor Tulbagh mooi was,
somers voor Kanonkop kon pinotage maak
of Blouberg die see kon sien
was jy reeds in my gedagtes.
Jare voor die spore op Matjiesfontein se stoep wou stop
en oom Sias kon sê waar die liefde lê,
was ek telkens versot op jou.
Toe Engels praat nog ’n sonde was
so lank is ek al mal oor jou
dat ek jou nou al lief het in elke taal.
In ’n tyd waar Laurika wou sing oor Mannetjies,
het ek gesing oor jou.
So lank, ja,
is ek al mal oor jou.


Kommentaar
Pragtig, sag, liefdevol en lees so maklik.
Dit is so spesiaal en met 'n wonderlik talent gedoen. Lekker gelees.
Ek is mal daaroor, ek stem saam met Jan, sag en liefdevol en sterk!
Baie mooi.