“Ek het maar net saam met die baas gekom”?

  • 4

Waarom is ons bruin (om nou dié ongemaklike en onpresiese term te gebruik) leiers deesdae so stil?

Drie verskynsels in ons onlangse verlede noop my om die amper polities-inkorrekte (?) vraag te vra. Kyk, in hierdie land is dit mos doodsonde om bruin kwessies – wat dit ook al mag beteken – in die openbaar te noem.

Of daar in die post-1994-verkiesingsiklus nog iets soos bruin politiek bestaan, is ’n meer komplekse vraagstuk wat nie horisontaal-denkend benader moet word nie. Een van die kernbeginsels van die bevrydingsbeweging was reeds om die rasbegrensing binne die politiek te reduseer. Maar soos dinge verander, bly dit dieselfde.

Een van die tergende waarhede binne ons “minderjarige” politieke argitektuur is dat “bruin kritiek” al meer as formalisties buite die hoofstroom-politiek beskou word. “Bruin kritiek” word beskou as iets onbelangriks en periferaal. ’n Lastigheid wat nie aandag verg nie – wat een of ander tyd moet verdwyn.

Dit was tóé die geval en nou weer.

NP Van Wyk Louw se voorwoord in Danie Botha se Opkoms van ons derde Stand (1960) is nog steeds relevant: “Ons lees soms die woorde in ons koerant: Die kleurling is ons natuurlike arbeidsbron. Ek wil pleit: Laat hierdie frase nie die volheid van ons oortuiging wees en die leegheid van ons vriendskap verraai nie.”

Deels omdat die meerderheid bruines (nog steeds) op politieke en ekonomiese vlak geen noemenswaardige rol speel nie. Omdat bruines nie ’n oorhoofse taal en kultuur as ’n saambindende faktor het nie. Bruines is inderwaarheid ’n klompie mense wat losserig saamgegooi is – met geen saambindende kernelement nie.

Ook omdat sommige bruin politici nog steeds glo – soos Jakes Gerwel in sy literêre studie Literatuur en apartheid (1983) bevind het: “Ek het maar net saam met die baas gekom.”

Dié bruines weier somtyds, in ’n verskuilde vorm van politieke korrektheid, om “klein politieke issues” in bruin gebiede te belig. Die blote issues wat gemeenskapsgeoriënteerd is; wat geen ideologiese reukie bevat nie. Waarvoor is hulle dan so bang?

Die ekonoom Dawie Roodt het onlangs kommer uitgespreek oor die ekonomiese vooruitsigte vir bruines. Reeds daarom sal dit nog 20 jaar duur voordat bruines ekonomies welvarend sal wees. Intussen is sommige bruin politici tjoepstil. Is dit ter bewaring van hul groot salarisse en ruim byvoordele?

Net een bruin politikus het kritiek gelewer nadat ’n Sondagkoerant na wyle Anene Booysen as ’n “niemand” verwys het. Twee (bruin) parlementslede het liewer vir my gevra hoekom skryf ek nie daaroor nie. “Weet jy,” sou Nena van Egoli gesê het.

Die Wes-Kaapse regerende party – wat danksy bruines regeer – het tydens die De Doorns-plaaswerkerstakings nie geweet vir wie om te steun nie. Hulle het liefs die kant van die boere gekies en die staking afgemaak as ’n konflik tussen bruin plaaswerkers en swart Oos-Kaapse werkers aan die een kant en arbeidsmakelaars van Basotho en Zimbabwiese werkers aan die ander kant. Belaglik verby.

Reeds daarom moet die formalistiese benadering van “bruin kritiek” verwerp word om daaraan ’n sosiologiese oriëntasie te gee.

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Jason, daar is sekerlik in sommige opsigte sin in wat jy skryf. Die bruines het, in 'n samelewing wat op suiwer kwantitatiewe gronde deur swartes oorheers word, dieselfde probleem as die wittes en Asiate, naamlik die afwesigheid van groep- of minderheidsregte, soos in bv die VSA. Dit bring mee dat die swartes as 'n groep oorheers en in baie opsigte maak net soos hulle wil.

    Wat my in jou teks hinder, is iets wat al by te veel van jou etniese groepgenote gebruiklik geword het. Ek kan verstaan as bruines nie "kleurlinge" genoem wil wees nie, want kleur is nie in groter mate kenmerkend van bruines as van wittes, Asiers en swartes nie. Teen wil en dank het alle mense egter die een of ander kleur en, of ons van die feit hou of nie, kleur gee ten minste 'n aanduiding van kulturele identiteit en dus ook van sodanige verskille.

    As die bruines 'n gerekende of erkende etniese groep wou word, moet die lede die moed en trots he om te verklaar dat hulle bruin is, dus nie "sogenaamd" bruin nie. Dit is wat die swartes in bv die VSA gedoen het met die slagspreuk dat swart mooi is. As die bruines dieselfde begin doen, sal daaroor waarskynlik geen haan kraai nie. Bruines is in hierdie opsig in 'n beter posisie as die wittes, want as wittes dit sou waag om te verkondig dat wit mooi is, sou hulle dadelik van rassisme beskuldig word. Dit is die ou storie: swartes mag maar, wittes mag nie.

    Johannes Comestor

  • Jason, soos Johannes sê is daar heelwat leesbaarheid in jou skrywe. Of dit toeval is en of dit sò opsigtelik is moet jy maar oor besluit maar presies dieselfde het ons albei opgeval en genoop om te reageer.

     

     'Ongemaklike en onpresiese term' noem jy dit. Ek vind die verstommende werklikheid dat wanneer mense in 'n gesprek oor swartes praat, word die woord 'swartes' gedemp uitgespreek met 'n kyk in die rigting van die deur al is dit so helder soos daglig dat slegs 'wittes' (wat niè skaam is vir ons kleur) in die omgewing is.

    Hoe belaglik kan mense wat hulself 'grootmense' noem, word?

     

    Verdomp! Wat presìès is ongemaklik en onpresies aan 'bruin' en niè aan 'wit' nie, of dink jy werklik dat ons wit is soos in sneeu! Of demp jy ook jou stem wanneer jy swart of selfs bruin  sê? Probeer jy net 'n 'polities korrekte' brief met al die nodige aanpassings, verskonings aanhalingstekens skryf of waarom praat jy sagter wanneer jy 'bruin' sê? Ek wonder of jy hoorbaar sal wees wanneer jy die woord 'swart' uitspreek.

  • Jason, ek het jou meer as 'n maand gegee om te reageer. Jy het nie. Die gevolgtrekking is dat jy lief is vir jou eie stem en wanneer jy gekonfronteer word het jy nie die moed om jouself te verdedig nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top