
Foto: Canva
Ek het dit gemis ...
Here, waar is U kinders met die sagte oë?
Daar is ’n eerbare hart agter alles wat nie so perfek is nie.
Ingespan, alles wat ek is soos U dit wou laat wees en ...
’n spreekkoor opinies in waarderende onvermoë verwag applous.
Here, waar is U kinders met die trooswoorde?
Daar is plek langs ’n brose teer ontblote siel.
Salpeterstrepe laat die lug die lyding dra, maar ...
’n woord vra tyd van gode wat slegs die eietyd aanbid.
Here, waar is U kinders met die diensbare hande?
Is daar nog ’n Simon in die skare, ’n Simon wat kan help dra.
Die geringste hand sou nou ’n Simon wees, tog ...
bly alles melaats wat durf iets vra.
Here, waar is U kinders met die genadige harte?
Eerlike foute, tekortkominge en onverklaarbare reaksies is volop.
Dis nie die perfekte mense nie, net ’n egte een wat hakerig, krapperig handel, nogtans ...
is die skare wat wag om die baan eerder skadelik, vol druppels van waan.
Here, waar is U kinders?
Waar?
Ek het U nou so nodig –
is daar een in wie ek U sal sien?