
Foto: Canva
Ek gaan djou nie lekke maak nie
Ek gan djou nie lekke maak nie,
nie djou oë lat blink soos water
wat glinster in die sonlig nie,
nie djou woorde roer in stroop
of djou drome toedraai in papiertjies
soes iets wat djy kan bêre vi later nie.
Ek gan djou nie soet praat nie,
nie vir djou wolke verkoop
en sê is goud nie.
Ek ganie die wêreld sag stryk
as hy actually skerp is nie.
Maar
ek sal saam met djou loop
deur die storms en reën van die lewe,
deur dae wat voel soos modder aan jou bene,
en nagte wat steek soos rook in jou neus.
Ek sal straight up wees,
nie heuning nie, nie gif nie
net truth in my bek,
rou, reguit, waarheid.
Want liefde,
regte liefde,
is nie lekkers in ’n sakkie nie,
dis brood wat djy breek,
water wat djou dra,
en ’n stem wat sê:
Ek gan djou nie lekke maak nie,
maar ek is hie vi djou.

