"Eindelik dood en stil het hulle gedink ek is": ’n huldeblyk aan Ryk Hattingh

  • 3

Ryk Hattingh (Foto: Naomi Bruwer)

Ek het Ryk Hattingh baie jare gelede die laaste keer in lewende lywe gesien. Ons het daarná nog gekorrespondeer toe hy Huilboek vir my gestuur het om te lees voor dit na die uitgewer is. Eendag ruim ek miskien nog die tyd in om te kyk wat hy alles verander het, maar daar is ’n spesifieke toneel wat in die slag gebly het.

Ryk berei ’n maaltyd vir sy gaste voor: Griekse skaapboud, keurig gaargemaak met ’n komplekse sous, en die proses word beskryf met besonderhede wat jou as leser laat watertand. Dan kom die kos op die tafel, en een van die gaste vra: “Maar waar is die kruisementsous?” En Ryk sê niks nie. Sy woede teen die ploert kom later tot uitbarsting in sy manuskrip.

Enigiemand wat Ryk geken het, sal weet hoe pittig en vurig daardie verontwaardiging kon wees. By die herlees van sy boeke is ’n blywende indruk hoe elke insig, elke gewaarwording en elke emosie die volle aandag kry, in prosa wat met verloop van tyd al hoe trefsekerder word. Soos hy ons tereg aan die begin van Huilboek waarsku: “Maar ek sê nou vir julle, julle moet kennis neem, want ná al die jare het ek my stem gevind.”

Wie ook al gedink het dat die 19 jaar in Nieu-Seeland ná die verskyning van Witskrif Ryk sou getem het tot ’n bedaarde voorstedelike burger, word hier verkeerd bewys. Soos wat Koos Prinsloo in Slagplaas al die instrumente tot sy beskikking ingestem het om ’n stelling oor die alomteenwoordige stank van liefdeloosheid te produseer (soos dit in Ryk se Mynhoop genoem word), só word Huilboek nou Ryk se afskeid van die wêreld. Dis ’n roman waarin hy getrou bly aan sy eie skrywerskredo: “Elke woord moet die éérste woord wees, elke sin die beginsin, elke toneel die openingstoneel.”

Dis wat Edward Said miskien “laat werk” sou noem – ’n geraffineerde ontginning van vorm in die lig van ons eindigheid. Koos het geweet hy gaan dood. In Ryk se geval was ’n weke lange bedlêendheid ná ’n knievervanging – die lyflike ervaring van eie kwesbaarheid – die aanleiding tot die skryf van ’n roman. Sou dit sy laaste boek wees? Ons weet nie; miskien is daar êrens nog ’n voltooide manuskrip.

Woede is ’n ou motief in Ryk se werk. Hy was byna altyd kwaad, maar in Mynhoop en latere tekste kom ’n ander aspek wat in die vroeër boeke reeds aanwesig was, dwingender op die voorgrond: die verdriet wat uiteindelik voortspruit uit die besef van haweloosheid wat diep in die eie lewe sy oorsprong het.

Die seuntjie in Tweedelaan 6, Benoni, word telkens ten tonele gevoer, en telkens staan hy op die drumpel van ’n voller weergawe van sy wêreld. Hoe sterk die begeerte van die ouer skrywende ek ook mag wees om daardie wêreld weer in die lewe te roep, sal elke poging faal. Die een persoon wie se werklike naam nie eens bekend is nie en wat die sleutel moet hê, die enigmatiese Outa Toon, maak dit ten slotte duidelik: “Hier bestaan nie meer nie, my basie.”

Die groot oortuiging van Marcel Proust se magtige À la recherche du temps perdu (Op soek na die verlore tyd) is dat alles wat verlore gegaan het, herwin kan word as dit eenmaal gestalte kry in die woord. By Ryk is daar baie oomblikke waarin episodes uit die verlede brandskerp vertel word, maar daar is geen enkele toegang, geen madeleine wat die verlede in sy volheid herstel nie. Soos dit in Ignatius Brand verwoord word: “Al wat ons behou, is ’n paar letsels en heelwat herinneringe aan hoe ons in ons vorige lewens verwond is.”

Nooit is daar ’n hier nie. ’n Mens bly ’n “rondloperhond” of ’n “jagse bereserker”. Jy bly die kind wat jy self veronderstel was om op te pas, en soos jou ma jou geleer het, skryf jy alles op waaroor jy huil. Terwyl Ryk in Nieu-Seeland ’n enorme klip in die werf staanmaak en vir sy gesin kook, huil hy steeds oor jeugepisodes wat hulle verskyning in sy studeerkamer maak. Die huilboek word nooit ’n vergeetboek nie, kan dit ook nooit wees nie, want soos daar oor verlies gesê word: “Elke toediening [van verlies] bou voort op vorige strata van gesedimenteerde verdriet.”

Hoewel skryfwerk die enigste verweer is teen die verbygaan van die tyd, is daar by Ryk geen sprake meer van die vertroue wat Proust nog in die mag van die woord gehad het nie. Ons kan verhale vertel, maar hulle is nooit waarheid of werklikheid nie. Die toegang wat Outa Toon kon verleen tot alles wat in die jeugjare verswyg is, bly geslote. En miskien, soos Huilboek ons ook vertel, maak dit in die kakofonie van stemme ook nie meer saak wat iemand sê nie.

Praat ’n mens dan uiteindelik net oor jouself? Ek het mense al hoor sê dat Ryk se vertellings darem al te persoonlik is, narsisties selfs. Niks kan verder van die waarheid af wees nie, omdat die vertellende ek in sy werk soveel konneksies onderhou met die wêreld om hom.

In sy romans, maar ook in die wonderlike Mynhoop, word die geweld van Suid-Afrika, waar hy tot ongeveer sy 40ste jaar gewoon het, skerper opgeroep as in byna enige ander skrywer se werk. Dis Benoni en Johannesburg eerder as die platteland of Kaapstad, die Hoëveldse lug waarna in Nieu-Seeland steeds verlang word, die vaderfiguur as die Nasionale Party met die lat wat ’n geslag kinders van hul verbeelding beroof, die middelklas, en te midde daarvan ’n ontwakende seksualiteit, so geil dat die stoom van die bladsye opslaan.

As redakteur van Loslyf is Ryk gelei deur die oortuiging dat Afrikanerpolitiek en die miskenning van seksualiteit nóú aan mekaar verwant is, van daar die ontheiliging van die foto’s waar Dina van die Witwatersrand haar ontbloot by die Voortrekkermonument. Hy het self die teks geskryf, met ’n satiriese angel wat destyds net by een ander Afrikaanse skrywer merkbaar was: die tot nog toe onvolprese Koekie Ziervogel.

Witskrif, maar veral Huilboek, bevat van die mees ontroerende passasies oor ballingskap, ontheemding en ’n bestaan in die Suid-Afrikaanse diaspora. Dis ook ’n werk waarin Ryk dikwels liries meegevoer word. Al is hierdie liriese passasies altyd slegs ’n tydelike oomblik van vervoering, spreek hulle soos nooit tevore nie van ’n vereenselwiging met die bedreigde aarde, wat bewerk en bestudeer en met verwondering bejeën word. Jy plant jou tamaties met fyn vooruitbeplanning om ’n voortgesette oes te verseker, jy luister na die storms, jy aap die voëls na, jy kook met sorg. “Om ’n tuin te maak en te onderhou, om jouself aan die tirannie van die planteryk te onderwerp, is een van die min betekenisryke dinge oor om in dié tye te doen.”

Uiteindelik sal jy miskien eerder ’n dier wil wees, of ’n plant, ’n swam selfs. Met sy elegieë aan ’n verwarmende aarde en sy verknogtheid aan grond wat ook mededeelsaam kan wees, is Ryk ons mees ekologies bewuste skrywer.

“Ek is in ’n noodtoestand ontvang en gebore” is maar een van die gedenkwaardige sinne in Huilboek, maar dis ’n noodtoestand wat in Ryk se prosa ’n bestaanstoestand is en bly. Die stem wat ons hoor, vereenselwig hom met randfigure, met almal wat leef in opstand teen watter orde ook al aan hulle opgelê word: “Bossievreters. Bergies. Boemelaars. Boomzolrokers. Pilslukkers. Tikkers. Turfsitters.” “Vryheid is die heel hongerste woord”, maar die paradoks is dat daardie vryheid slegs ten dele bereikbaar is en altyd weer herower moet word.

“Ek was goed vertroud met die weë van buitensporigheid” – maar dan is dit betekenisvol dat hierdie lys van wanordelikes alfabeties georden word. Hoeveel woede en raserny ook in sy boeke aangetref word, is Ryk – en word hy al hoe meer – ’n skrywer wat sy ambag uiters noukeurig beoefen. Die bedrewe tuinmaker, soos wat mens hom by sy huis in Kensington kon sien, en die voortreflike skoenmaker is van dieselfde drif as die skrywer besete.

Vir lesers wat die eindresultaat “struktuurloos” vind, soos die “toegewyde akademikus” by ’n literêre onthaal in Witskrif, is daar ’n vernietigende antwoord as Ryk vermeld dat sy volgende boek oor kak sal handel; en terwyl die ander gaste van eie tafel af vlug, vertel hy vir die vrou langs hom van “die reusagtige, klipharde pikswart drol wat ek onder Baines se kremetarte in die Kudiamkampanne in Botswana gaan kak het en die visioene wat daarop gevolg het” (54–5).

Vastigheid en vorm, inderdaad – maar dan ’n ander soort vorm as wat die geleerde aan tafel daaronder wil verstaan. Elke boek van Ryk is fragmentaries en sonder ’n konvensionele plot of intrige. Dit is die uitdagende en selfironiserende toon en die herhaling van motiewe wat die teks saambind. Sy tweede boek maak dit al duidelik: Markus vermóéd ’n verhaal. Hy gaan soek in Hillbrow na ’n verhaal, maar tussen al die verhale wat vertel kan word, soms daarop aandring om vertel te word, is daar eenvoudig te veel om die hoop op ’n reglynige narratief in stand te hou. Markus formuleer insigte wat van belang is vir al Ryk se werk: “Ontwikkeling en progressie het met verhale niks uit te waai nie”, en “Ek is die skrywer, die prosesseerder. Ek is nie die interpreteerder nie.”

Die struktuur van sy boeke berus op die komplekse toon van woede en aggressie vermeng met humor, deernis en droefheid; op die intuïsie van die persoonlike proses wat plaasvind as jy soms in wanhoop jou studeerkamer betree. Die triomfantelik gedeponeerde drol is ’n gepaste metafoor waarvan Ryk waarskynlik self sou gehou het: die distillaat wat liggaam en gees voortbring in ’n poging om die verskrikkings van die wêreld te verstaan.

Om terug te keer na die skaapboud-episode: ek was van mening dat die toneel verkort kon gewees het. In die boek is dit heeltemal weggelaat, wat ’n aanduiding van Ryk se werkswyse is: ’n enorme nuuskierigheid, die versamel van leeswerk, aantekeninge, stukkies skryfsels in die nanag, hersiening, die voorlegging aan ’n leser, ’n getob, nog hersiening – en dan uiteindelik ’n manuskrip.

Almal wat Ryk geken of gelees het, sal hom huldig as ’n unieke, buitensporige stem waarin die rebel, die sedeprediker en die grapmaker saampraat. Ek wil hom spesifiek ook huldig as vakman. As die maker van sinne en beelde wat jou na jou asem laat snak: “Die slang byt in die son vas. Wit en skoon klim die engele teen Ignatius se werwels uit”; “In die hel is dit altyd Saterdagmiddag.”

En as vriend. Ek onthou veral twee dae saam met hom.

Die een was in sy huis in Kensington, waar ons wyn gedrink en op sy aandrang kokaïen gesnuif het totdat die dag op die rand was van chaos én bedwelmende helderheid. En Ryk maar aan die práát, telkens oor die sterwende Koos Prinsloo, wat miskien as skrywer en vriend die naaste was wat hy aan ’n ware sielsgenoot gehad het – en andersom. Hoe hulle oor mekaar skryf in Slagplaas en Huilboek sou ’n interessante studie kon word.

Die tweede dag wat ek onthou, was in Greenwich Village, waar hy sy familie die stad in gestuur het om die dag saam met my deur te bring. Hy was aanvanklik die bedaardheid self, maar algaande het sy tong losgekom oor die moeilikhede van emigreer. Moenie dink dat daar in ’n land met ’n geletterdheid van meer as 90% ook geléés word nie! Die Engelse braaiboud met drooggekookte groente by ’n gemeenskaplike kennis in Auckland: dat ’n mens die fok weet moet emigreer om dít weer mee te maak! En dan sy honende vertelling oor die keurige Afrikaanse mevrou wat in Nieu-Seeland beswaar gemaak het teen die aanstelling van die Loslyf-man as redakteur van ’n plaaslike koerantjie.

“Eindelik dood en stil het hulle gedink ek is,” skryf hy in Huilboek. Nou het daardie onvoorstelbare feit opeens werklikheid geword. Ek stel my voor: ’n laaste verbeelde gesprek met Ryk, waar ek my glas lig en vir hom sê: “Ons sal ons nie laat troos nie. Ons sal jou boeke herlees en saam met jou huil oor alles waaroor ons nog nooit genoeg gehuil het nie. Ons sal jou stem steeds hoor: daarvoor het jy gesorg. En ons sal saam met jou sê: ‘Prys die ontoereikende, loof die onvolmaakte.’”

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johann de Lange

    'n Lieflike huldeblyk aan die vreeslose blik waarmee Ryk na die wêreld gekyk het, en die onoorbrugbare verdriet waarmee dit hom vervul het. Dankie ook vir die voëlvlug oor tekste wat alte gou in die vergetelheid geraak het. Hy het almal met wie hy kontak gemaak het se lewe op 'n manier draagliker gemaak, of ondraagliker. Ryk was nie voorspelbaar nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top