Egbriek

  • 1

Foto: Unsplash.com

Egbriek

ek wens ek het gewiet
hoe ommie egbriek te kee
but soedra djy djou vinges klap
haloep ek tot voo djou deu

djy maak onmiddellik oep
ek gaan op ’n rusbank sit
“Lei my nie in versoekingie”
is ek supposed om te bid
but hoe kan ekkit doen
as djy my skielik vasgryp en soen?

die wellus in djou mooi oë
maak lat ek kop viloo
is asof djy met een kyk
my binneste deuboo

is asof niks en niemand
op daai moment bestaan
net ek en djy wat saam
tot in djou slaapkame gaan

ek wens ek het gewiet hoe
om van djou af weg te bly
tog vind ekkit irresistible
as djy sê djy is lief vi my

djou stem is soe anloklik
djou woorre kalm en sag
as ek my wee kô kry
commit ek adultery
innie mirrel vannie dag

ek wens daa was ’n way
hoe ek my marriage kan red
wat het djy assie anne vrou
wat my eie vrou nie het?
hoeko issit soe swaa
om weg te bly yt djou bed?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top