Eet my woorde: Inskrywings (9)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die negende groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Marlé Mostert Kristen Brand Ansunette Smook Maritza du Preez
Tielman O’Reilly Bardine de Villiers Sonja Brown Riana Wessels
Millie van Wyk Lisie Köstens Celeste Brown Lonelda Taljaard
Drienie Kelly Marietjie de Oliveira Selma Slabbert Talana Rossouw
Leandra Papa Chanté Aucamp Ilge Grotzinger Jean Streso
Angie Gallagher Willem de Swyger Tersia Gouws Wilma Heymans
Susan White Susanne Pike Dylan le Roux Cornel Dunn
Danica Meiring Delmaine Anderson Desiré Dannhauser Alma Thompson
Rika van Staden Annalie Nel Zelna de Lange Carla Botes
Suné Damons Lafras Verster Helen Olivier Michelle le Roux

Marlé Mostert

Die blydskap in voedsel

Kos is ’n wonderlike ding,
dit kan soveel blydskap bring.
Party is geseën met dit,
ander moet daarvoor bid.
Kos is nie verniet,
maar as ek kon sou ek dit vir almal aanbied.
Dit maak mense vol,
en daarom stempel ek my boekie met ’n goue kol.


 

Kristen Brand

Verlate vergete

Die kind agtergelos
in sy ma se verlede
Sit nou op straat
hiér in die hede

Die kind sonder hawe
sien niks daarmee fout
om deur die rommel te grawe
op soek na ’n bietjie sout

Verlate vergete
dwaal sy siel rond hier in ons stede
sy liggaam moes hy agterlos
in die hemel is daar ’n oorskot van kos

Die probleem was nog altyd groot,
maar wie steur hul nou regtig
aan hongersnood?


 

Ansunette Smook

Vryheid van armes

Op sosiale media sien mense baie hartseer en pyn
Kinders en oumense wat honger ly,
En sommige mense wat hul versuip aan brandewyn
Die wêreld het ’n gly gekry.

Ouer mense, kinders en diere kry so swaar
Die lewe self druk hulle in ’n blik,
Sonder kos en water word jy maer!
Mense wil nie help, dan word jy op jou titel getik

Mense gaan dood
Van erge hongersnood
Dis nie net in ons land,
Dis ook aan die ander kant!
Mense wil nie deel met hulle brood,
Maar gooi met klippe as jy sê: EK’T ’n NOOD!

Die armes op my myn
Gee vir die rykes die broodlyn
Met min geld in my sy
Moet ek my kinders se lewe lei
Net om te voel ONS IS VRY
Maar swaar sal ons kry!

Behalwe met God langs my sy
sal ons nie honger ly!


 

Maritza du Preez

Nog jonk

Somerwind, lei my na salige vreedsaamheid
van ’n kraakvars vrugteboord.
Draai sy paradysvruggies, eens smaakloos
weg van gister se somber skadu’s
Skilder hul wange vol wyn!

Want sien, alles wat uit hul eie lelik voel,
bot na die lente se eerste blink reën.

Herfswind lei my na die Noordepad.
Gun my siel sy eie vreugdetyd,
sodat ek die soet gesuis van jou lag weer kan indrink
Jou liefde is konfyt.
Laat my aan jou skone beeltenis nooit versadig raak.

Winterwind waai sag, dat ons oomblikke langer
gloedvol in mekaar se arms tussen perskeboomlane mag bly.

Sterrenag, lantern lamp.
Tel my oor die glimmende spieël van die môrelig,
waar ek en jy
aan al die suikersoet happies van die nag smul.

En as die halfmaan oor die veld verskuif ...
Sy laaste lig tussen jou vingers stort

Stuur vir my die somerwind.
Lei my na die appelboord
waar ons drome nog een maal
jonk en ryp mag word.


 

Tielman O’Reilly

Eet ... eet ... eet
Eet om al die pyn te vergeet
Maar hoe meer ek vreet, hoe meer voel dit of ek my hartseer verteer ...

Maar verteer op ’n manier wat my ook gaan kos ... heeltemal te duur ...

So nou moet ek stop om my kop vol kos te prop ... want voedsel is nie die antwoord tot die vraag wat die pyn in my hart nie kan verwoord ...


 

Bardine de Villiers

Hoeveel woorde kan ons eet?

Woorde uit jou daaglikse lewenstenk
hemelse kos vol rou woorde
Voer liewer met woorde
’n tydlose geskenk
Trots die grootste vyand
sluk dit met ’n glas verdraagsaamheid op ys in die hand

Is dit verkeerd om soms nie jou mond om te dop vir ’n glimlag?
Toegevou langs ’n tafel vol mooi woorde
verdrink jy in alleenheid se leë akkoorde
Bittersoet ironies
jy lei aan woordhongersnood
God se gesonde Woord
kos vir jou siel
’n antwoord

Wat vervul, genees en beseer meer as woorde?
Woorde is soos radioseine sonder grense
Werk jou mond toe met wilgertak en katjiepiering
dalk verander dit jou siening
Solank die lelies blom en die mossies eet
luister om te verstaan
nie luister om te antwoord
Vind jou stem, praat jou hart, leef die waarheid
Ervaar liefde deur jou hongersnoodgrense


 

Sonja Brown

lugpastei

smaakpapille gil oorverdowend:
meer, my heer! smeer ons epitele
met soet en sout en umami
want die bitter’s reeds daar
reeds gaar ... honger slaan
blikbekers teen sluktralies
vir aandag, begeerte regeer
bewuste denke, vraatsug’s
dood sonder speekselbrood
in krap’rige kele, lugpastei
is oral te kry. sonder sous.
maagwand-rantsoene vol
giftige soene en wellus wat
pelle ‘s met bakke vol niks,
hol maag grom grimmig’
pleidooi vir onderhoud,
vir behoud van rondheid
    van gesondheid
        van vlees
    en van gees ...

          hóór jy?
         vóér my!

         ‘seblief.


 

Riana Wessels

Drentel, drentel, doel

Doelloos drentel ek trappe op,
sleepvoet, moedeloos.
Yskas leeg, kombuis bot.
Onverwoordbare lus hierbinne na wees.
Wees wat geen word het.
Leeg is my binneste
Leeg van niks
My hart loop oor met vrae,
Wat gevra word.
Gryp na ’n mosbol met botter.
Help dit regtig?
Nee, nee leeg bly die leemte.
Doelloos drentel ek trappe af
Sleepvoet, moedeloos.
Binneste roep
Soek na volword, volwees.
Doel vind happie met liefde, vreugde, vrede,
geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid,
Met die grootste selfbeheersing.
Rede vir lewe draf ek trappe op en af.
Straat op en straat af in die
binnekamers van my doelwees-hart.


 

Millie van Wyk

Mamma se kospot

Na ’n lang dag van stres en sonskyn
Keer ek terug na ma se huis
Waar ek bevind dat die kok
Is glad nie tuis

Honger en moeg
Klim ek in die stort
Vars uit die badkamer keer die geur van die
Heerlikste kerriehoender my voor

My mag vol blydskap
En my mond wat water
Besef ek weer
Mamma se kospot stel nooit teleur


 

Lisie Köstens

’n Straatman se gebed

Vanaand onthou ek die Psalm van Dawid.
Daar waar hy sy oë opgeslaan het na die berge.
Nou hou ek maar my krom hande omhoog, daar na U in die verte.
Die koue sementvloer voel soos ysblokke hier onder my twee kniekoppe.
Dis nat en dis koud.
Ek laat sak my kop, met trane wat van my wange af loop.
Ek het gesien hoe hou die ander my dop.
Die een het gesê: "Ag, hy’s seker vol dop."
Here maar U weet wat U weet
Here hier op die aarde raak die dinge nou baie erger
Die koue bekruip my en die ou bene wil nie meer nie.
Die mense wat uit die restaurant loop sulke wye paaie
My maag skree en maak sulke snaakse draaie.
Ek weet almal dink ek is ’n stuk vuilgoed.
Maar niemand ken my, my lewe of al my goed.
Gee my nog net so klein bietjie moed.
Ek staan voor U hand in die hoed.
Ander vermy my, sommige lyk of hulle bang is vir my.
Dis ’n arm man wat hier onder so moet ly.
Here, hoor asb ’n ou man se hart
Dis die gat hier in my binneste wat die meeste brand.
Hoor asb hierdie ou man se nood
Asb Here, ek vra asb net weer, vir nog een klein stukkie brood.


 

Celeste Brown

My pot se deksel

Ek wil ruik hap proe kou sluk
aan alle disse wat prut, braai, stoom, bak, kook onder druk:
Frans
Italiaans
Spaans
Grieks ...
Goeie genade en alla mapstieks,
daar is 40 soorte cuisines om deur te werk!
My wederhelf egter, staan sterk:
Sy proe-ervaring begin en eindig tuis
met braaibroodjies, aartappelslaai en braaivleis.


 

Lonelda Taljaard

Boepenskind

Sinkdakke teen die reën
Maselkolonie bly teel

Flentersakke aan die draad
Basterhond soek maat

Honger hande krap in die sand
Armoede loop bakhand

My boepenskind
Ek bid ...
Mag jy kos en liefde vind


 

Drienie Kelly

Krummels van genade

niemand weet van die gat in sy maag nie
honger ploeg lande deur sy moeë gemoed
trane lê soos offergawes in troebel oë
vlamme van hoop wat binne hom woed

bakhand kniel hy voor God se hemelkruik
smekend vir die manna wat sy honger sal stil
as genadekrummels tog net vir hom wil reën
oor sy siel se dorre landskap koud en kil

vure van vreugde brand in sy gemoed
salig sluk hy aan die brood uit Vaderhand
die silo's van sy siel is vol beloftes
dood lei hom deur genade – versadig na die ander kant


 

Marietjie de Oliveira

Is en was.
Dwalend, soekend in elke asblik
Die geur van kos in neusholtes vasgeplak
Grommende leeugeluide wat opklink uit ’n eens vol-van-oorvloed-orgaan, laat hom smekend bakhand by die verkeerslig van vroegdag staan, in die hoop dat vlees nie sal vergaan.


 

Selma Slabbert

Happie vir happie

Kos, kos, kos
Laat my tog los!
Happie vir happie kan ek voel
Hoe hierdie lyf van my stoel
Hoekom het ek nie die wilskrag
Om "nee" te kan sê vir ’n slag?
As ek my oë oopmaak, dink ek aan eet
Wonder of die mense dit dalk weet?
Ek het regtig al wat dieet is probeer,
Maar ek faal jammerlik keer op keer
Ek voel al so skaam
My lyf dik en onbetaam
Die klere druk, klou en knel
Die al hoe dikker lyf laat my kwel
En hoe meer ek kwel, hoe meer wil ek eet
So hou ek net aan met vreet
Soos ’n blaasoppie lyk ek nou
My broeke gans te nou
My arme skaal kreun
Waar is my lyfie tog heen?
Help asseblief, wie kan my verlos
Van hierdie obsessie met kos!


 

Talana Rossouw

Die bobbejane aan tafel

Braai weer op ’n ander plek
in die tuin vanaand.
Praat oor ons planne wat
die wêreld kan verander –
sou ons maar net doen wat ons beplan.
Visserman verduidelik Bitcoin en
"Suskerbus, dek vir ons die tafel."
Ons sit waar ons altyd sit,
Hoofbobbejaan op die punt.
Steel gou ’n happie voor ons bid
Ma word gesê sy moet nou
asseblief
kom
sit:
Tjoppie en braaibroodjie
Standaard op die spyskaart.

Vertel dieselfde grappies
Beeld dieselfde tonele uit
uit die dieselfde flieks soos altyd
lag al weer dat ek my maag vashou ...
Visserman kry weer raas
oor hy ’n derde porsie wil hê,
hy noem my dominee
oor ek te veel oor God wil sê,
en Gideon is stiller as gewoonlik
maar ten minste is hy ook hier.
Die bobbejane is almal bymekaar
"Dis nou weer vir my so lekker
om al my kinders aan tafel te hê."


 

Leandra Papa

Silwer rand

Als in ons huis is van korte duur,
geluk, liefde ... Pa se bonus.
Kersfees het aangebreek en die enigste geluide wat jy kan hoor is Pa se geskel en Ma se gesanik.
Dis al weer sulke tyd, dink ek.
Pa se bonus is op, die koskaste is leeg en Ma moet betaal.
Pa weet vir ’n feit dat hy sy geld uitgesuip het, maar nee, Ma kry die skuld.
"Ek's honger," hoor ek Pa skreeu.
"Doef," hoor ek iets breek.

Dis hoe dit vir die afgelope tien jaar in ons huis gaan.
En gewoonlik op Kersfees,
is dit die ergste.
Ma en Pa is min gepla oor ons.
Geen worries oor boetie wat by my kom inkruip en aanhoudend kla dat hy honger is nie.
Geen worries oor die bure wat langsaan feesvier en hulle skellery wat net harder word.

Kersfees is daar om fees te vier.
Die geboorte van Jesus.
Om dankbaar te wees.
Dankbaar vir familie, vriende, ’n huis, ’n bed, om te lewe ... vir kos.
Maar op die oomblik is ek vir absoluut niks dankbaar.

Hoe maklik kan iets soos hongerte ’n mens laat blind raak en miskyk vir dit wat jy het.
Ja, daar’s geen kos, maar ek lewe.
Die koskaste is wel leeg, maar daar's ’n dak oor my kop.
Ma en Pa gee wel min om, maar daar's boetie wat op my staatmaak.

My maag grom en boetie se smeking na kos het oorgegaan na huil.
My liggaam voel lam en ek het ’n hoofpyn.
Suikerwater, dink ek en staan op.
Op my twee bene voel ek hoe als begin draai en om my donker word.

Deur ’n harde klop word ek na ’n paar uur wakker of kan dit dalk minute wees ...?

Voor ek die stoep bereik, kry ek die aroma van kos,
en wraggies
daar staan Tant Sannie
soos sy elke jaar daar staan.
Met haar plate koeke, bak vol slaai, braaivleis, gebraaide broodjie ...

Nog iets om voor dankbaar te wees ...
Vir bure wat omgee.
Wat die silwer randjie is en nooit oordeel.


 

Chanté Aucamp

Kos is kultuur ...

Kos is kultuur ...
Curry, koeksisters, cappuccino.
Elke smaak op die tong
Is spesiaal daar aangedrong.

Ratatouille, ramen, rendang.
Resepte is vir jare van ma na dogter gegee
En het jare gevat om te perfekteer,
Elke keer bygesit en verander wat die resep roteer.

Kos is my gunstelingdeel van Kersdag.
Skaapboud, pap, malva, vla.
Almal eet en lag sonder om op die dag te kla.

Mamma en sussies in die kombuis,
Onvermisbare geure trek deur die huis.
Skril laggies en onuitmaakbare woorde kan tot in die straat gehoor word.
Die kos bly nie lank op die bord.

Kos is kultuur.
Bobotie, biltong, braaivleis.


 

Ilge Grotzinger

Onthoubroodjie

Ma het altyd gesê:
"Kosmaak is die liefdestaal"
Met die bietjie wat jy het,
Kan jy soos ’n koning onthaal.

Die oggendreën
Wat ’n enorme seën?
Verrimpelde hande
’n Stuk deeg geknie sonder skaamte.

Broodjies is gebak
Die grootste lekkerte van die dag;
In kosmaak verdrink
Van vingertjies aflek tot bekkies blink

Groenboontjies gekerf, pampoen gesny
Na die vleisboud in die oond begelei.
Kaneelgeure en kerriekleure
Is die liefdestaal wat fluister en ons luister.

Die tafel gedek met mes en vurk,
Rondomtalie-kosmos uit die veld;
Bring die prag na die nag
Kinderharte verbly na die gewag.

Twee-vissies-en-sewe-broodjies-gebed
Hande vat en seën gevra;
Dankbaar samesyn om die liefdestaal-tafel,

... Ek onthou


 

Jean Streso

Elke mondvol word haarfyn bereken.
Maksimum, minimum.
Makro’s, ketogene.
Hoeveel ure is dit nog?
Die spieëlbeeld, ’n onduidelike teken.
Te vet!
Te maer?
Hierdie kruis is ondraaglik swaar.

Elke mondvol word haarfyn bereken.
Maksimum, minimum.
Porsies, raklewe.
Vir hoe lank nog?
Die leë koskaste, ’n duidelike teken.
Te veel!
Te min?
Is daar genoeg om te deel?

Persepsies word geskep, een mondvol op ’n slag, deur middel van hoofrekeninge.


 

Angie Gallagher

stel ons asseblief in kennis indien u enige dieetvereistes het

dis vir my op wat daar op te dis is
’n Brusselse spruit, ’n langorige hus
ek’s nie intolerant nie, nie ’n veganis
dis vir my op wat daar op te dis is

ek skrik nie vir brand of vir koue pampoen nie
my aptyt is so te sê mateloos – moenie
fiemies verwag nie, dié feit’s nog voldonger:
dit smaak my ek raak nog omslagtiger honger

my eetlus is soms wedersyds
ék vreet iets op, dít knaag aan my
by wyle word die lus heelhuids –
’n lekseltjie lies, ’n borsie, ’n dy

ek verslind, ek verorber en smak, voor ek weet
lê ek weg aan my woorde – jy ís wat jy eet

vir my kan jy heelwat voorberei
ek eet enige ding, ek sal vat wat ek kry


 

Willem de Swyger

gebreekte brood

ek        eet
            vas
            is vasgevang
            is oorgewig
            is vol
            tot oorlopens toe vol
            tot barstens toe vol
            is keelvol
            is gatvol
            van oormaat
            van oordaad
            van té veel
            van té vinnig
            van kitskos
            van kitsoplossings
            van kortpaaie
            van instant gratification
            té swaar
            en tog tegelykertyd
            té leeg
            radeloos
            hopeloos
            onbeholpe
            onhanteerbaar
            magteloos

ek        soek
            smag na
            stadig
            heilsaam
            hoop
            skaamtevry
            genoeg
            gesond
            lig
            diepgang
            berusting
            genoegdoening
            vergenoegdheid
            tevrede
            bevredig
            versadig

ek        bid
            my
            innerlike
            honger
            word
            immermeer
            gestil


 

Tersia Gouws

Die vrolike gevreetjie

Vet en vrolik,
geronde woorde
spreek boekdele
oor jou lyf.

Hierdie opset het nie oornag gebeur nie.

Jare se lekker eet
het veroorsaak dat jy nou lywig heet.

Die blye glimlag
steek
weg
die
seer
van
minder
kostelike
kommentaar
oor jou
geronde
gevreetjie.

Elke happie het jou duur gekos,
meneertjie.

Helaas, laat hulle gerus eet aan hul woorde, binnekort is jy vetvry
en steeds vrolik.


 

Wilma Heymans

Kos is die musiek vir my maagspiere.
Dit gee my krag as dinge sleg boemerang.
Die aroma van vars speserye knak my reukspiere.
Die gerammel in my maag kan net stop as ek my innerlik voed.
Dit is my besluit waarvan ek hou.
Of gaar of rou ...

Maar ek moet nou gaan, my maagspiere kort oefening.


 

Susan White

Wat is kos vir my, wat is kos vir jou.
Soos ’n motor, soos ’n paar skoene, soos ’n parfuum, so het elkeen ’n ander voorkeur, maar kos is vir almal ’n beste vriend.
Kos is goed vir ons gesondheid, vir ons liggaam, vir ons fiksheid, vir ons ontwikkeling, vir ons geleerdheid.
Ek eet met my oë, so ek sien
die kleure,
die vorm,
die mooi
Ek eet met my neus,
die reuk,
die aromas,
die verskillende geure wat my nooi,
Ek eet vir my lyf, wat my help as ek oefen,
as ek siek is,
as ek moeg voel,
wat my help ontdooi,
Ek eet met my gemoed,
as ek hartseer is, help sekere kos,
as ek bly is, is ek lus vir sekere kos,
Wanneer ek verveeld is, is dit die kos wat my nooi,

Wat is kos vir my, wat is kos vir jou ...
Soos ’n motor, soos ’n paar skoene, soos ’n parfuum, so het elkeen het ’n ander voorkeur, maar kos is vir almal ’n beste vriend


 

Susanne Pike

Bloedson
in die sweet van jou aangesig

Here, wat as sweet skarlaken stort
op grond waar geslagte lank
geswoeg moes word?

Sien U dan nie, Here
die hande (en harte) eelt gebid
(uit afhanklikheid van Bo)
wat stompgewerk
steeds in reën
op ongeploegde land bly glo!

Here, wat kan ek sê
as beendere – kaalgestroop –
wit in die bloedson bly lê?

My pen is dom.
My woorde krom.
My sinne stom.

Waar sal die brood
wat ons verdien
dan vandaan moet kom ...


 

Dylan le Roux

Soutpilaar

Die huis wat ouderdom wys
in die diepte van die slote
wat gegraveer is op haar gesig.
Nes die plooie van my ma.
Die verf kraak soos die grond
van die Kalahariwoestyn.
Afgeskilferde herinneringe.
Grootwordstories en
lag wat eggo in die gange.
Die kombuis wat resepte fluister
en families saambring.
My ma wat staan soos ’n soutpilaar
voor die kosbakke.
Sy is sterk.
Die reuk wat my net honger maak.
Honger vir die liefde en geselskap.
Die dag wat jy hierdie verloor
is ’n suur dag.
’n Knop in jou keel kan kom van verdriet.
Maar soos sy jou gedra het,
sal jy die volgende ook.


 

Cornel Dunn

Dieet in die Noordelike voorstede

Honger met ’n vol beursie
Dit maak nie saak nie.

My skaal is ’n vyand
Ek hou hom in my hand.

Honger of skraal
Hoeveel maal

Ek is op die laaste deel van my lewe
Mag almal my vergewe.


 

Danica Meiring

Afgekeurde aandete

Jakkals nooi vir Hasie:
"Hasie, kom eet vanaand by my.
Daar's lekker kossies
Sappige slaaiblaar,
Kraakvars uit die kontrei!"

"Beslis nie!" skreeu hasie
En gee ’n verbouereerde hop.
As ek vanaand by jou kom eet,
Vreet jy my op!


 

Delmaine Anderson

Kraak

My derms kraak, winde neem wraak
My maag maak geraas, skree en klou
My hande moet ek vou, ek is biddend en benoud
Drink dit af met water, my ingewande kla weer
later. My beursie is leeg en my kosblik vol spinnerakke. Die kraak raak groter! My wind slaan weg, ek lê op die vloer, is dit hoe ek sterf?


 

Desiré Dannhauser

Té veel of té min

As die wêreld woorde kon eet,
sou dit sielsgerus kon weet:
die maag is vol
en die kernhart gelukkig.
Of
dit lê leeg opgekrop en wag
vir net ’n stukkie manna deur die dag,
ongelukkig kan net die mensdom woorde eet
wat ons laat onthou en vergeet
van honger of versadig wees.

Die wêreld wag
vir die beloofde,
sielsberoofde
mensdom
om sy hongersnood te vertrap.
Gesaaide landerye en iets wat jy hap
is nie die kos wat kort nie.

Kos:
te veel óf te min
die tweebeen-skepsels oorwin
en die wêreld smeek vir iets goed om te eet,
ons weet –
té min kos is nie net vir mense ’n probleem nie.


 

Alma Thompson

My hart word ’n hamburger

Jou oë verslind my,
jou hande verteer my.

Die ongesêde woorde lê soos maagsuur tussen ons.

Hoe kon ek ooit só honger wees?
Uitgehonger vir die warm vla van jou omgee.
Uitgemergel na die koel komkommers van jou kyke.
Dit was toe.

Nou vat jy groot happe van my hart.
Jy vreet vetlustig aan die stukke wat nog oor is.
Jy gooi nóg souserige sop oor en smak jou lippe.

Jy verorber alles.
Selfs die laaste krummels
pik met jou vingers op.

My bord is leeg.


 

Rika van Staden

Genadesmeek

Ons gee prys en eer
Vir genade, dankie o Heer.

’n Bord vol en rond
’n Maaltyd so gesond
Kinder-ogies vrolik en blink
Hul tred vas en flink
Met magies warm en gevul
En hartjies in vreugde gehul

Maar nou is my hart seer
Genade, asseblief o Heer.

Al is ek fluks en sterk
Tog weggeneem my werk
Geen meel om te weeg
Die koskas is dolleeg
Gesonke flou ogies loer om die deur
Afwagtend dat ’n ete gaan gebeur

My kinders is uitgeteer
Genade, asseblief o Heer

Hongerpyne geëts op hul gesigte
My gedagtes op fantasievlugte
Al waarop ek nou nog kan hoop
Om net weer kos te mag koop
Dat die werkgewer my aansoek sien
As gewillig om te arbei en te dien

Ek vra maar net weer
Genade, asseblief o Heer.


 

Annalie Nel

Wortel sê vir die oë wat na hom staar in die yskas se onderste laai: "Vat my, skraap my kaal, rasper my en eet my rou of sny my op en gooi my in ’n pot
Eet my rou of gaar, maar hou net op om na my te staar"


 

Zelna de Lange

Hier in my huisie sit ek en dink,
Wat eet my mense en wat om te drink.
Kos op die tafel, ja, al is dit ’n jafel, weet ek dat ouma sommer uitrafel, want sy is so lief vir haar jafels.
Maar o wee, kos is so skaars, maar ek moet my haas, want saam met die jafels soek ek my kaas.
Genoeg kos moet ek maak, want dit is saak, ons gee ook vir mense wat bly op die straat, so maak ek seker dat hulle rustig kan slaap.
So kos is belangrik, vir almal van ons,
My daaglikse brood, gebak in die oond
So eet ons almal en drink selfs water in nood.


 

Carla Botes

Sondagmaal

In vierkantige porslein bedien:
Karoolamribbetjie – fluweelsag reeds die vorige aand bewerk.
’n Smaakontploffing van roosmaryn en geperste knoffelhuisies.

Sappige pampoenpoffertjies pronk neffens, met gekaramelliseerde suiker wat die tong behoorlik laat bollemakiesie slaan.

Aartappelwiggies bedek in ’n geurige meelbeslag vars uit die kookolie, reeds ongemerk een verorber en saggies binnemonds dit laat afkoel.

Basmatirys, met oorskiet-lamribsous wat die smaakknoppies op al die regte plekke kielie.

Twee porsies spinasie voorberei met gebraaide spek, sampioene en ’n skeut room, net soos Ma dit altyd gemaak het.

Ons dank U Heer vir spys en drank, en seën die hande wat die voedsel voorberei het.

Sondagete by ’n tafel gedek vir een ...


 

Suné Damons

Vas

Droë vas en tree in gebed
3 maal per dag, beleef die Heilige Gees se krag
skud af die jukke en die wêreldse mag,
wat my omring dag vir dag.
Sonlig is net ’n refleksie van my donker nag,
maar steeds gaan ek vas.
Ek is nie religieus nie en glo nie in God,
maar my omstandighede is gehoorsaam aan Sy gebod.

My maag word deur suurstof verstop.
Kwas-i-orkor is maaltye wat my vol prop.
Maal die tye wat my oë van hongerte omdop.
Terwyl Christene my vul my Woord, wat ek beskou as sop.
Prentjie pragtig vir sosiale media se kop,
sit saam my aan tafel en verraai my met die eerste dop.
Hongersnood, sê Christene moet my voorsien van brood.

...

Nie die manna van my voorvaders óf
die krummels wat van die tafel ontsnap
bring die unleavened vars gebak, toegedraai in ’n lap.
Bring my die Woord in voedselvorm,
jou honger is na Lewende teks
en my nood is brood binne armoede se konteks.

100% God en 100% mens.
Hy't aan tafel gesit met brood en wyn vir Sy pens.
Jy Christen kom van ’n verre land oor die grens
en bied ’n boek aan vir my is jy kens?

Vir Adam was daar vrugte gegee
op twee okkasies het Hy Sy krag op die vermeerdering van vis en brood bestee
smaaklike ontbyt was voorberei en langs die kus geleë
ken jy nou nog nie jóú Vader se weë:

Gee Hom ’n KLEDINGSTUK as Hy naak is,
KOS wanneer Hy honger is en
WATER as Hy dors is.

Doen so aan elkeen op aarde en jy doen dit aan Hom.
Of sal Hy ’n klip gee aan dié wat honger is en dans op
Hongersnood se melodie terwyl my magie grom?
Christen jy trap verder op hierdie dooie blom,
as jy dink gebed en woord is die antwoord tot hongersnood se som.

Droë vas en tree in gebed
3 maal per dag, beleef die Heilige Gees se krag.
Skud af die jukke van die wêreldse mag
wat my omring dag vir dag.
Sonlig is net die refleksie van my donker nag,
maar steeds gaan ek vas.
Ek is nie religieus en glo nie in God,
maar my omstandighede is gehoorsaam aan Sy gebod.

Vir jou is vas ’n een-keer-per-jaar-hulpbron,
vir my is vas ’n elke-dag-geveg tot my maag ophou grom.

Die Italiaanse sonnet


 

Lafras Verster

Langtand-denke

Die getalle word al laer,
meeste mense se grootste wens,
maar met elke gram
verdun my grense tussen skelet
en mens.

Ek voel die onrustigheid binne my
ingewande wat dooddruk.
Werwels kreun van afbuk.
Spiere wat uitmekaar ruk,
gedagtes wat mekaar insluk.

Beendere skuur deur afgeweerde vlees,
bedsere ontwikkel waar daar rus moes wees,
dié geraamte wil ontsnap.

Ek gee die gees ...


 

Helen Olivier

Kom na my tafel

Kom na my tafel, hier's oorvloed te vind,
Dis ’n plek vir gesels waar liefde ons bind,
Keer jou sig nie na buite, daar's reën en daar's wind,
Moenie kyk in die oë van armoede se kind.

Hier kan ons vergeet van ’n wêreld in nood,
’n Happie genot, wyl ons harte ontbloot,
En ons drink nou ’n heildronk op honger se dood,
Elk gedagte van leed word na buite gestoot.

Môre in die strate loop ellende kaalvoet rond,
’n Kind se honger oë vermy my blik op die grond,
Die oorskiet van my tafel, verorber deur die hond,
Die glimlag op my lippe is nou alleen net ’n front.

En hoog in die lug is die aasvoëls aan draai,
Hul wag vir hul feesmaal, deur armoede gesaai,
Deur my rug nou te keer, sal ek goedheid verraai?
En hoor ek in die verte ’n haan drie maal kraai?

Maar kom weer vanaand, die kos is ’n lus,
My tafel het oorvloed, my gewete gesus,
Dertig silwer munte, ’n aalmoes gee rus,
Of gee ek die liefde nou prys met ’n kus?


 

Michelle le Roux

Sopkombuis

Hordes staan reg. ’n Massiewe geveg. Net om hul bekertjie sop te ontvang. Die soptannies raak al bang. Maar met vasberadenheid skep hul wyd en syd.

Daar is kindertjies met glaserige ogies tussenin. Hulle wil net ’n plekkie voor in die ry vind.

Hier is ek en jy. Nee dankie, my vrou, ek is nie nou honger. Dit is al 9 uur, hy gaan daarsonder.

Afgesloof in die kombuis, môre eet niemand weer oorskietvleis.

Dink dan eerder aan die sopkombuis. Die tannies wat met vrees werk sonder ’n georganiseerde lys. Die yskoue hande wat die beker ontvang. Met dankbaarheid in hul harte jubel met sang. Die kindertjies met die glaserige oë.

En vanaand se jy nee dankie. Net so?

2022, kom ons wees dankbaar, ons fiemies laat vaar. Steek jou hand uit, daar is soveel honger mense, kinders wat ons nog kan bereik.

Wees die tannie in die sopkombuis ...


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top