Eet my woorde: Inskrywings (7)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die sewende groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Catherine Lemmer Alexis Roos Leona Gryzenhout Lorraine de Beer
Thomas Kruger Jeanetta Bothma Melanie van As Prins Nolwazi Mbali Mahlangu
Ludwig Eon Siwa Johané Snyders Theresa Carstens Lisa Pretorius
Shiree Frans Geraldine Stemmet Veronique Joseph Marizaan van Beek
Sandra Damens Hermione le Roux Barend van der Merwe Marissa van den Berg
Anzil Kulsen Rene Viljoen Alma Ward Ida Kleynhans
Annie Bennett Beatrie Zandberg Anke Swart Kristy-Ann Nolene Kotzé
Eunice Basson Roeline van Schalkwyk Edward Walker Katelynn Venter
Lizé-Mari Carstens Mari Vorster Jessica van Loggerenberg Rentia Potgieter
Linda Scott Susaar Schlesinger Charné Kruger Nadia Engelbrecht

Catherine Lemmer

Smartvraat

Donkerte drink ek in
Ek maak dit myne.
Myne!
Dis asof die pyn my gate vul
In plaas van gate maak ...
Nog!
As daar nie plek is nie, maak ek plek
Die bulimie van ’n siel op soek na versadiging
Gee!
My donker honger kol
Prop my vol
Lewe – eis jou tol


 

Alexis Roos

’n porsie ouma

My kindermaag grom vir ’n pot vol jou ...

Kan ek koorsig in jou hartsgange dwaal en wag vir ’n bordjie snertsop en botterbrood

Gin my ’n onderste bedkaslaai vol faces- of nickerball-lekkers en ’n R10 se tuckshop sweets – net nog ’n laaste keer.

Ek wil wakkerword met die half verbrande melk op die stoof; daai velreuk wat in my neusholtes dans.
My kaasbroodjie wat drup in die oond en breakdance in my siel in.

Kom ons gaan nog eenkeer saam Pick n Pay toe dat ouma vir my Jolly Jammers koop; en ek skelmpies my bankkaart gee by die till.

Wat van nog een koppie tee?

Net tot ek versadig genoeg is om die verlangende honger te kan stil.


 

Leona Gryzenhout

Eetlose dae

Met gate in my klere stap ek trots al af in die straat, dis skemer ... In my gedagtes luister ek die beste musiek terwyl ek wyd kyk om my ...
Met verdriet steek ek my hande in my broeksakkies in want dit wat voorlê     is: ondraagbaar ...
Ek lê in my bed, ek lê gemaklik maar my pyn en smart vat my slaap weg ... Met my oë toe vat my sintuie oor, ek sien en ruik alles wat ek begeer ...
Die kwyl loop so stadig oor my droë gebarste lippies, dit wat ek wil hê is: onmoontlik ...
Die geskel van ’n gebroke hoender maak dit moeilik om te ontwaak, ek voel dood, leweloos en sinies ...
Ongemaklik krap ek orals my lyf, die rofies van my skeute is aanloklik vir my en dit is: afgryslik ...
Trane spoeg oor my wange, eens mooi is verlate en vergete nou ...
Lafenis is in die wind nou ...
Stilte vat my stadig weg nou ...


 

Lorraine de Beer

Hongersnood

honger hart
Honger siel
Honger wêreld
Wat homself verniel

Magies vol
Harte leeg
Verlore waardes
Verdwaalde jeug

Die Aarde draai
Die wêreld brand
Presidente en leiers
Kop in die sand

Tel jouself op
Hou jou kop hoog
Dit is nou tyd
Om teen jouself te betoog


 

Thomas Kruger

Krummels

Verpoeierde krummels uitgedroogde komkommerskille dryf as dun bo-lagie in die lang glas gin en tonic

Verveeld met die omringde geselskap
staan die vrou met haar silwer hoëhakskoene op die vloer van krakende ou hout

Die ronde tafel vol kalkoen, vis en skaap word bespreek

Ook saffier en rumatiek is in geledere
Insulien is iewers byderhand

Kinders met hul kristalhelder stemme
omsing die gaste
met noot, lied en hongerpyn
voor hul terugkeer
om vanaand
ook weer
in te lê in die beloofde land se verpoeierde krummels van leë beloftes.


 

Jeanetta Bothma

Moerby

Als in een bak
Vanaf winkel se rak
Geen swoeg of sweet
Min van elk afgemeet

Vrede is in oorvloed gewis
Wanneer ’n dankie ma op ore kom rus
Dank God dan vir elke krummel bedien
Ook om elke dag te voorsien


 

Melanie van As Prins

Die straatkind

Na vandag het die ligte
van Johannesburg nog gebrand.
Die rookwalms vanuit my kaggelvuur
het die hemelruim met sy rook verdof.
kaalvoet-winter-kinders
met deurgeloopte skoensole
smul aan die nag se dou.
Hul hande vra vir net
vir een dag se genade opgedra.
Koerante van 1994 of 2021,
ou bokse wyn met goue labels
is die droom waarvoor
môre dalk mag vra.
As die aand sy braaksel van dood
vierkantig in die oë staar
huil ’n kindjie klein en sonder hoop
met net sy trane wat liefde soek.
Na ’n klein stuk respek
en ’n hemelse nagrus
ver bo koue donker angs en honger.
En hier slaap ek alreeds in my bed
wonder en bid vir die kind
sonder ’n naam
wat gister net vyf sent wou vra.

Brood is cheap
maar glo is duur.


 

Nolwazi Mbali Mahlangu

’n Tong te kort

aan tafel is die aarde plat
ons gryp aan ons derms wanneer ons bid
terwyl die prêriewolwe daarin treur
ons borde lê op hul mae
daar is ’n lugspieëling in die keramiekverf
’n mond water
dié is die buik van die woestyn
die stoom slinger sy pad na die rand
koes-koes tussen die duine krummelpap
pa verbrand sy tong met die kaktusse broccoli
ma suig sy tong om ons almal se dors te les
haar soen help vir die eina
die son sak soos speeksel af ’n berg se ken
buite leer my broer plankloop
vind ’n koppie en gooi homself neer
die ingewande laat los
dis net die hongeres wat húl oorgee aan drome


 

Ludwig Eon Siwa

Spysverteringsoldate

Julle neem ondersoek en diagnoseer my met ’n bekende gevoel.
Dit kom nou meer duidelik, wees openhartig met jouself.
Dit maak ons taak minder deurmekaar, al hou jy nie van die innige gewoel.

Baie laaste sal die eerstes wees, met hoop op ’n koue hou met jou mikpistool.
Die min kos wat oor is, maak nie almal in jou maag vol nie, ons het groter seuns baklei net vir ’n stukkie stronk of blaar van die kool.

Soggens vroeg, saans tot laat ’n werkersoldaat nou is jy ons huis.
Spyse kommer is ons wigstoel, baie om te doen en nêrens om te reis.
Jy betree nie hierdie kwarantyngebied sonder dat jy verteer is nie.

Soetpatat vir jou pankreas.
Seldery vir jou bene
Rooiwyn vir jou bloed
Wortels vir jou oë

Sjokolade was gestuur, maar na die afvalstowwe verhuur. Neute is meer welkom hier.
Jou vel is behoeftig, soebat en bang gryp dit die boontjie, ertjie en lensie aan.
By die venster van jou mond, by die hoek van jou tong, is ons smagtend na ’n goed gebalanseerde dieet.

Met almal in die straat Covid-positief sê die bure hulle weier om te deel.
Dié wat nie het nie moet bedel of gaan steel.
Dae voor die inperking was Pappa werksaam.
Nou staan hy kaalvoet, stukkend en skaam.

Verligtend verstik die min kos teen toe vensters van die maag.
Die smaak van lekker kos is vaag.
Buite om die vuur is daar geen geraas.
Die wind wat die klaar gebruikte teesakkie droogwaai op die gras is die enigste geraas.


 

Johané Snyders

Sjokoladeseer

stukkie vir stukkie breek af
krakend in daardie smeltende bruin vingerpunte
’n weerkaatsende bruin van jou oë op my lyf
stuk vir stuk daarna
totdat net my huil oorbly

daardie glimlag wat jy kom steel het
het taai trane in my kombuis getrap
ek wou dit opvee
maar druppel vir druppel het ’n rivier gevorm
wat my meegevoer het na niemandsland
’n eensame hartseer
wat my naam uitroep

België se kakao swem sensories deur my trane
soekend na vatplek
apaties teen my weerstand bied hulle aan
om my seer te vervang met jou naam
sjokoladeseer
jou laaste geskenk uit België


 

Theresa Carstens

Daagliks brood

gor, gor ... temalied van hongerpyne
op die kolestoof, bruin, verbrande brood
jy’s brekfis, jy’s lunch, jy’s supper
jêm en brood, suiker en brood, droë brood
harde brood, gemufte brood, lekker brood
dis die naam vir jou gedoop
broodpoeding met custard gegooi
brood in die sop, dis wat klop
broodpampoen in oond gebak
en broodpap vir swere gemaak
skoolbroodjie met vet gesmeer
is die trots wat arm kind van leer
hongerpyne het karakter gevorm
en die reis met daagliks brood
was die norm


 

Lisa Pretorius

Sy is honger

Sy probeer om haar sit te kry, maar
die klip is oral ewe hard.
In haar hand smeul ’n pyndoppie –
’n gifpyl uit haar moederland.

Aan haar buik hang ’n gewas;
die onkruid van haar hongersnood.
Die broodmandjie is met vlieë oortrek –
die enigste klank uit ’n vlakke dood.

Sy is honger, maar die wêreld het smal geword.
Pyne het haar binneste infiltreer
en die fauna en flora van ’n lewe kort
is braak gelê.

Sy probeer om haar lê te kry, maar
al kom die onderste klip bo,
lê ’n ou narratief op dorre grond
van ’n land vervloë.


 

Shiree Frans

Dis leeg,

Alles is leeg,
die yskas,
die mandjie,
die kas

Dis alles leeg,
My kop
My maag
My hart

Al prober ek hoe hard, al werk ek hoe hard ...

Dit bly net leeg


 

Geraldine Stemmet

Die verjaarsdagkoek

Chocolate, vanilla of rooifluweel
Al die lagies mooi verseël
Versier my in pienk of rooi
’n Blommetjie of twee om my op te tooi

Een en twintig kersies mooi geplaas
Vir jou om uit te blaas
"Veels geluk met jou verjaarsdag, mag die Here jou spaar"
So gaan die deuntjie elke jaar

Die mes gly deur elke laag
Perfekte porsies vir die gaste wat opdaag
Voorgesit in die mooiste porselein
Die laaste keer wat ek heel sal verskyn


 

Veronique Joseph

Eregas

Kos is waar ons as mense met hartlikheid ontvang word en jou vinnig laat tuis voel.

Tuiskos skenk ons die oorvloedige blydskap en liefde om die kuns van kos en feesdae te omskep in een groot feesmaal!

Wanneer mag jy dalk weer jou ouma en oupa sien of selfs jou broer en suster?

Elkeen is ’n eregas om tafel van kos!!


 

Marizaan van Beek

Vertroosting

Die reuke van ’n vreemde stad
omring my in hul andersheid
Blymoedig soos ’n kind eksploreer ek
elke hoek, elke proesel, elke smaak, elke reuk

Opwindend sluk ek die vreemdste verskynsels
tot dit dik raak
agter in my keel gaan sit
en ek bitter swaar sluk

My siel smag na moedersmelk
na pap en wors, bobotie, braaivleis
Kaiings op toast en geroosterde boud

My gemoed soek die eenvoud
van my huis se kos
daar waar ek veilig is
Getroos kan word


 

Sandra Damens

Hoop op bestaan

Ek trek die belt stywer
Voel of my liggaam aan homself knaag
Ek lig my hand en klop
Hoor die geluid van
lepel op bord, vaag
O, net ’n ietsie om te eet
Iemand by ’n venster skram weg
Ja, ek't geweet
Sy gedagte: Dis ’n lastige pateet
’n Brommer kom sit op my neus en ek waai dit weg
Dan die besef!
Volg hom, hy soek ook na kos
Ek beweeg agter hom aan
Asof bemoedigend kom sit hy weer op my en vlieg dan voort
Ek volg hom, my skouers krom
Ons bestemming ’n gehawende vuilisdrom
Ons word ’n span!
Ék lig die deksel, brommer duik in
Ja, hy eerste want hy't my gelei tot hier
Ons eet in stilte en ek dink
Waar het die mens se liefde gegaan?
Dat ’n brommer die weg moet baan
Vir ’n skepsel van God se hoop op bestaan?


 

Hermione le Roux

Maar ek’s vet ...

Haar troeteldier eet beter en gesonder as sy.
Alles word gedoen sodat die bloedjie maer kan bly.
Geen suiker in haar koffie nie; geen koekies in die bed ...
God behoed dat iemand dink sy raak ’n bietjie vet!
Voor die dans begin dit – die afkeur en die vas,
Alles te verseker die aandrok sal tog pas.
Hierdie keer sal alles werk – dit is haar laaste kans.
God behoede sy dik lyk soos by die ander dans!
Sy’s uitgeteer en pragtig. Sy’t voor die dans "geëet".
Niemand sê ’n woord nie, maar almal – almal – weet.
Sy val. Sy skree. Sy blaas en sweet. Absolute hel.
Tussen die paniek word die ambulans gebel ...
Dis waar sy lê en maer wees daar in die hospitaal,
En of sy ooit sal beter word, kan niemand tans bepaal.


 

Barend van der Merwe

netwerk à la carte

in hierdie ruim geroerde sop
tree u as die kurator op

die bloedjong bruid kan hier vertel:
die huweliksbootjie vaar nog wel

die oud ontnugterde soldaat
veg hand en tand voort vir die saak

die alkoholis kan illustreer:
als is nog wel onder beheer

en swartskaap kan die wêreld wys
hy wen oplaas die eerste prys

die terminale pasiënt
gaan weldra almal tog unfriend

die ateïs wil ieder kry
om ongeloof hier te bely

en draai tog na die ware god
waarsku broer, en bewaar jou lot

leë woorde op ’n sleutelbord
my eetlus met my vrede fort

in hierdie ruim geroerde sop
tree u as die kurator op


 

Marrisa van den Berg

Tongtip-knapsak

Het jy maar geweet
van die voedsel wat ons eet
’n ou ou storie
van seën en glorie
met sorg, spesiaal gemaak
koestering wat mens raak

Van die eenvoud van elke dag
tot spesiale skeppingsprag
nuwes en lank t'rug uithaal
resepte uit boeke gehaal
smaaklik en soete herinnering
wat mondwater en liplek bring

Vertel ’n mooi verhaal
wat ons lewens bepaal
Elke dag iets nuut te maak
lekker ruik geure en tongtip-smaak
Verrassend, vindingryk
’n moet-proe wat mooi lyk

Miskien moet ons weer besin
Tog het baie min
Dié kosbare voorreg
Meeste op ’n honger smartweg
om iets in die hande te kry
lekker en mooi te vermy

Want onbekostigbaar
raak dit al hoe raar
vir ’n magdom mense
met diepe hartswense
om weer te kon geniet
die samesyn wat dit bied


 

Anzil Kulsen

My naam is Spice

Dit drup af by my ken, af ... op my tieties
Blink, vol verwyt en selftwyfel
Ek moet iets eet lat’ik ka’ leef en hierie knaende gat ka’vul
Hoe het dit alles so uitgedraai
Aan’ie begin was dit dan net my kak gemoed.

Is dit kwyle, of trane wat oor my drup?
Ek kort iets groen, soos brokkoli of spinasie vi’ daai serotonien.
My maag grom, ek moet iets eet, iets moet ek doen
Aan die gat in my kop en in my maag, in my hart en my gemoed
Ek is heeltemal ondervoed.

Djy’s te vet, dikgat, het Pa met sy nat snor teen my gesig gehyg
Gevat, gevroetel en die pyn met tjoklit beloon.
Is ô’se secret, djy’s te sweet vi’woor’e, gaat was’djou nou.
Die onthou het gekom toe die size ag oor my boude protesteer; manlief het gelag
Toe spyt en toe verwyt: Sugar, jy het nou ma’net ’n kak gemoed.

Dis ’n traan, helderblink, ’n nat kol, dis myne
Dis my lyf, my kop, my gat. Ek moet eet, iets groen. Ophou dink, net doen; beweeg.
Prop olywe in my mond, ’n tamatie, roosmaryn- en tiemietee.
Jou gat, Pa. Jou gat.
Niemand noem my weer sweet of sugar nie.
My naam is Spice! En ek is ondervoed.


 

Rene Viljoen

Jy verteer my

Onverwerkte gedagtes spook soos ek jou probeer verwerk
Afwerk
Beperk.
Ek verteer jou nie, maar jy vir my.

Ek weeg jou, dan weeg ek my.
Ek is te swaar, tog is ek so, só leeg.

Kraakvars, sout van die aarde, heuning om die mond.
Druk dit af
Sluk dit af
Lewe ek my ewige front.

Adder, los my met my smart.
Ek het jou so nodig, maar jy los my leeg en verward.

Smeulend, pittig, gooi maar net na smaak.
Ek wens ek kon jou liefhê, ek wens jy kon my heelmaak.

Ek droom oor jou, versamel jou, dra jou waarheen ek gaan, maar ek sal jou nie die kans gee nie
Ek sal jou bly vermaan.

Surig, heerlik, geurig, dis die familieresep.
Suutjies suutjies span jy vir my jou lustige web.
Jy verteer my diepste denke, my hart en siel en gees.
Ek kan jou nie ontsnap nie want jy verteer my hele menswees.

Ek weeg jou, weeg my en weeg jou dan maar weer.
Ek begeer jou, vereer jou, maar jy verteer vir my.


 

Alma Ward

Eendag

Vandag moes ons weer sê
ons is nie honger nie
Sodat Pappa kan eet

Mamma maak ’n eier en ’n worsie gaar
En ons dek die tafel
Sodat Pappa kan eet

My maatjies kom kuier en drink Sweeto
Ek sê Mamma is gou-gou dorp toe om slaptjips te koop
Ons kan nou-nou eet

My maatjies is huis toe en Mamma stop by die huis
Sonder slaptjips
Sonder Sweeto

Vanaand eet Pappa sy eier en sy worsie klaar
"Ons is nie honger nie."
"Pappa kan maar eet."

Eendag gaan ek ’n groot huis hê en baie geld
Sodat Pappa kan eet
Sodat almal kan eet


 

Ida Kleynhans

Nieet

Wat skuil daar ...

Onder jou welige pype en duisende plooitjies
Onder jou bulky baadjie en gesette tooitjies
Onder jou geil moue en vetterige nooitjies

Voer jy jouself wérklik mooitjies?

Kan daar nog oor jou rankige vingers roomys drup
jou gevlekte tande nog biltong skeur
jou dor mond nog water
en jou dun dun lyf nog smag?

Is daar nog bobotie oor op jou bene
pap onder jou papier-vel
rys met jou roeringe
en fut in jou vlees?

Maar jou gees, ewig geset.

Gevreet deur die gis wat jy gooi.
Deur die selfkastyding.
Die kotsende lyding.

En die kool?
Is dit werklik die suursous werd?


 

Annie Bennett

Maagpyn

Ek sit en wag ... geduldig
dat my gasheer my moet voed.
Ek rommel my trommel
my spens is leeg
maar gasheer dink aan ander goed.

Hoe is dit dat die tyd so draal;
van ontbyt tot noen
is daar vir my geen proteïenmaal!
Die pap is op, my spens se prop
is oopgetrek en leeg geloop
soos ’n rabarberbek-soen.

Uiteindelik skree die keel hoera!
Die gasheer het kombuis beset.
Ek wag vir proviand;
die beste in die land ...
daardie groot vriend, die neus,
en ek trek al skewebek
want gasheer het gehoor dat ek mooi vra.

Wie is dit wat my spens wil toesluit?
Dit is onvanpas. ’n Swaar las ...
Ek moet voorraad koop
en seker maak gasheer kan loop.
Op ’n leë maag sal hy
en sy hande
Die yskas en die spens wil buit!

Gasheer het sy ding gedoen.
Ek is versadig, polonie en kaas
en brooddeeg reis nogal stadig.
Ek gaan rus. My prop is in.
Ek, die maag, het
   weereens verander
     in ’n vet pampoen!


 

Beatrie Zandberg

Manna

Ek prop my vol maar ek bly leeg
Die honger het kom nesskop in my lyf
Ek wonder of ek die honger uit my siel kan skryf

Die woorde steek vas iewers tussen my siel en my hart
Hierdie honger kom al ’n baie lang pad
Iewers hier binne my sit ’n groot gat

Ek prop my vol om die honger te stil
Maar die honger bly knaag aan my siel
En ek weet hier diep binne is ek verniel

Ek kook oor van binne, maar tog bly ek leeg
Die honger van my maag kan ek nog stil
Maar vir die honger van my siel kort ek ’n pil

Ek prop my vol maar ek bly leeg
My siel begin al swaarder weeg ...


 

Anke Swart

Elke letter smaak anders
Tot die kleur en die geur
Iets nuuts elke keer
Onder dieselfde ou sous

Die maag van die mensdom is oorvreet
Blinkvet van al die kanniedood
In hebsug se hongersnood
Sonder dat een siel werklik versorg is

Borde vol leë kos te koop
Uit landerye vol nagemaakte opbrengs
Vir al die hande sonder kennis
So gaan ons vorentoe agteruit

Elke geskape ding ken sy perk
Net ons verkoop sonder einde – en skep aankoop sonder einde
Vir die onversadigbare suikersand van ons begeertes

Ons koop agter die siel aan
Eet en eet, en eet, so of dit gaan help
Besit alles wat geld, behalwe geld
Maar rekmerke en uitgeplatte skoene praat stilweg die waarheid

Al voer ons party glad nie
Bly die saligheid, die vrede staan
Versadig slaap ons rustig, elke aardse aand
Maar staan bankrot en honger in die ewigheid op


 

Kristy-Ann Nolene Kotzé

Padkos vir die siel

Ek sien leemtes oral om my heen
mense sit vervreemd,
oordeel geensins diskreet,
en maak die wêreld baie wreed

Ons peusel aan verskeie dinge
soos geld, modes, status en dies meer,
voorgee word die norm
en daar heers ’n hongersnood

Ons is honger
 na aanvaarding en liefde,
 na egtheid en vrede
 en na ’n rede om te lewe

God alleen
het padkos vir jou siel
Laat Hy jou binnekant vervul
met Sy Woord en wyse wil ...


 

Eunice Basson

Solank as wat die lepel ...
Vir die vroue met hul kosstalletjies

Saans, voordat sy die primus aansteek
gaan soek sy na ’n weglê-eier of twee
en kloek ’n paar woorde in daardie rigting
want haar henne stel nooit teleur nie.
Voor sonop lepel sy deur die beslag
en vul haar skottel met vetkoek
wat sy flink by die stasie verkoop
voor sy die vroeë trein haal, dankbaar dat sy
vir die bietjie ekstra aan tafel kan betaal.
Om agtuur met haar handsak in ’n sluitkas
staan sy reg om bedompige klere
by die droogskoonmaker in te boek.
Voor skemer, met ’n sak vol lowwe,
kloek-kloek sy weer by die hok langs.


 

Roeline van Schalkwyk

ongehoorde hongerstemme

my stofboek se lyne vergaan in niks
stil en vergete daar eenkant
weggesteek waar niemand sien nie
soos ’n kind wat ly aan hongersnood

met krapperige kele klinkend hard
skryf ek kinders se hol mae wat praat
wat skel, steel, stoot en klap
aanhou baklei vir oorlewing

waar te veel leë oë my ink vermaer
my blaaie raas in hul hongerkrete
my band versuur onder die gal
my woorde is seer van erge dors

en tog, hoop ek iemand sien julle raak
my boek wat julle skreeu vertel
smeek en soek vir redding
stemme ongehoord soos ’n vergete gedig


 

Edward Walker

Ek is

Ek voel koud, ek voel seer
Ek voel leeg!
Wat sal my kan vul, in die vorm van voedsel?
Dit is nie kos wat ek smag maar, ’n voeding vir my siel.
Ek voel vol, ek voel oortollig
Ek voel volmaak
Ek weet "EK IS".


 

Katelynn Venter

Familiekontrei rondom ’n Kersfees-buffet

Die soet geure van Ouma se gestoofde pere
Laat my vergeet van die rowwe jaar se gebeure
Die klots van golwe in Hentiesbaai
Laat my hart in vreugde oorlaai

Die Kersliedere
Die Kersligte
Die vrolike getokkel van ’n klipwerf-kitaar
Laat my hart baljaar sowaar

Die warm stem van Theuns Jordaan
Laat die jaar se gebeure vergaan
Familiekontrei rondom ’n Kersfees-buffet
Is net die regte medisyne vir my


 

Lizé-Mari Carstens

’n Totale vergryping

Sou jy kon verstaan
Waaroor my nagmerrie gaan?
Dou voor dag –
Kom steel dit al my krag.
Al sou ek probeer om sterk te wees,
dit kom voor as ’n bekende Gees.
My ma verwys na hom as Piet Brommer.
Ek gaan kuier graag by hom, sonder kommer.
Tot ek weer nagte wakker lê –
van wat my versadigheid alles sê.
’n Leë hart, maar ’n vol maag.
Wat is dit tog?
Hoekom soek ek altyd nog?
Miskien moet ons ’n bietjie dieper delf.
Hoekom is ek so haatdraend teenoor myself?
Hoekom laat ek dit toe?
Die antwoord is –
Ek weet nie hoe.
Hoe verlos ek myself?
Is dit moontlik om só diep te delf?
Êrens langs die pad –
val ek weer in ’n sinkgat.
Ek kan nie myself red!
Verstaan asseblief tog net!
Sou ons die mense kon leer?
Oor hierdie martelende seer?
Of sou hulle dit voorskryf as leuens –
afgemat as ’n mislukking, weereens.
Dan dink ek weer aan my vertroosting ...

Hy laat my nooit voel soos ’n las –
altyd bereid om te help.
Nou staan ek weer oorwin deur die weerkaatsing in die spieël.
Ek en my yskas teen die bose wêreld.


 

Mari Vorster

Sy sing

Sy sing siembamba en
Handjies klap, koekies bak.
Handjies, lomp en vet en sweterig klap-klap,
Gee die meel nie te veel.
Sy vee haar donker hare uit haar oë,
Lag skitterwit en klokhelder.
Klits die eiers gou-gou!
Haar blou oë dans in myne ...
Lekker eet ons netnou!

Ek sing saggies vir haar siembamba en
Handjies klap, koekies bak.
Haar hande, plooierig en blou geaar, sag,
Klap lomp verby mekaar.
Gee die meel, nie te veel.
Ek vee die yl grys haartjies van haar voorkop,
Glimlag stil, verwonder my in haar vreugde.
Klits die eiers gou-gou.
My blou oë traan in haar waterige kykers ...
Lekker eet ons netnou!


 

Jessica van Loggerenberg

Trane in my tjoklits

Nog ’n dag van hartseer en pyn
Geluk het soos mis voor die son verdwyn
Weg is die gelag en samesyn
Al wat oor is; ek, tjoklits en wyn.

Eendag kon ons nog lag en terg en dans
Vandag sê jy dit was ons laaste kans
Jy het iemand nuut ontmoet
Alles smaak nou bittersoet

Die rooiwyn raak al minder in die bottel nou
Kersies, neute en karamel proe ek deur die kou
Die seer raak beter, die pyn raak minder
Vergete is gedagtes van jou, van die skinder

Woede slaan uit die bloute en foto na foto word verwyder
Gesmeerde grimering in die spieël, bangmaakgesig van ’n stryder.
Ek sal aanhou, ek sal opstaan. Ek sal weer iemand vind.
My ma se mooie, sterke, liefste kind.

Klaas Vakie meld uiteindelik aan,
Die ritueel het sy gang gegaan.
Stap vir stap, dag vir dag.
Eendag sal ek weer kan lag.


 

Rentia Potgieter

’n Happie vir happie

Happie vir happie beweeg ons deur die lewe.
Ons lewe is soos krummels op die grond.
’n Happie vir oorlewing.
’n Happie vir genot.

Hansie en Grietjie weet waarvan ek praat.
Die aaklige ou heks was mos een groot vraat.

Ons word verlei deur nuwe smake en geure.
Ons loop blindelings en skaamteloos deur die heks se lekkergoeddeure.
Happie vir happie kry ons onsself in die hok.
Verlei en gebol deur dié nare kok.

Ons skrik om te sien hoe ons soos die heks verbreed.
Happie vir happie wil ons alles opvreet.
Dan vermaak ons die wêreld wat oordeel, met ’n hoenderbeen.
Ons gebruik filters en toeps en so verstil ons die geween.

Ons lek eerder aan die glutenvrye koekies en brood,
en loer deur die kosrakke van die smaaklose dood.
Lekker bly mos lekker en die heksie se huis te mooi.
So besef ons dat ons ons lewe happie vir happie weggooi.

Stamp die heks eerder in haar eie warm oond.
Dit is waar dié verleidster hoort.
Lewe verby daardie huisie van lekkers en koek.
’n Gesonder en langer lewe is waarna ons moet soek.

’n Happie vir gesondheid.
’n Happie vir genot.
’n Happie vir ’n magie vol.
’n Happie vir goeie lot.


 

Linda Scott

Honger vir waarheid

Die vrugte van my tong het die
einste gif van my siel geword.
Een word op ’n slag tot die
dood gevoer. O hoe wens ek
ek het eerder na die soetheid
van die waarheid gehonger.


 

Susaar Schlesinger

Oukersaand se voorgereg

In ’n mengelmoes van lap
met bene lank
voor haar
uitgestrek,
sit sy.

Staar met nikssien-oë
dáár doer vêr.
Die geroeste blikkie
stomstil
in haar hand.

Sy verbeel haar
sy proe dikmelk
en suurpap
en vars gebraaide
kaiings!
Sy sluk droog.

Besige voete krioel
haastig voor haar verby.
Sewe stukke silwer
vergete
in Vuitton-handsakke
en egte leer beursies.

’n Bruin geldjie klingel
in haar blik.
Herkenningloos
skommel sy dit
om en om
... en om.

Vanaand eet sy weer
oorle’ Ma
se spierwit varkvet
op mufbrood.
Dit sal lekker smaak
op Oukersaand.
More is dit
Krismis

Dit sal lekker smaak
so op haar verjaardag.


 

Charné Kruger

Wenresep

’n Hulpelose geveg van baie woorde,
maar van min waarhede
was nog altyd die rouste
byvoeging.

Stringe oneindige vrae is
die polsslag van
verstaan.

Maar die belangrikste bestanddeel ...
emosies wat soms so soet en
soms so bitter smaak.

En dan ...
Die opdis van voorgee.
’n Smaakvolle
Indruk ...

En tog altyd
die gemarineerde bitter.


 

Nadia Engelbrecht

Vir my kroos

Vir julle, my kroos
bak ek malvapoeding om jul mae te troos.

Vir julle, my kroos
maak ek spaghetti bolognaise dit is tog skadeloos.

Vir julle, my kroos
sal ek elke dag tuisgemaakte KFC maak al is ek hoe voos.

Vir julle, my kroos
sal ek dag in en dag uit bak en brou,
solank ons as ’n gesin aan ons avonture en drome saam bou.


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top