Eet my woorde: Inskrywings (6)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die sesde groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Melanie van Niekerk Lizette Kruger Eugene Viljoen Marti van Zyl
Lee-Ann Engelbrecht Ellouise Kleingeld Otto Olifant Melieze Visser
Wadith van Wyk Roseline Ruiters Nicó-Lee Du Bruyn Bruno Andries
Hester Harbor Alicia Joubert Anita van der Walt Jaco Strydom
Tia Welman Britney van der Walt Ineke Steyn Celia-Mari Pieterse
Shuneen Adams TC Boshoff Ivania van der Westhuizen Carmen Viljoen
Christo Swart Lizna Kriel Heinz Peter Hiestermann Danie Crous
Driekie Beetge Theresa Postma Laurette Hitchcock Simone Sevenster
Anina Naudé Maya Joubert Adri Antoinette Hiestermann Inge Keyser
Marietjie Pienaar Louise Oosthuizen Abigail Adams Elizma Rheeder

Melanie van Niekerk

Sny broodjie

Was die lewe so lekker soos die sny broodjie wat voor my lê en wink
met al die lekker lae bederf

Die brood gesny
deur die kettingwinkel se bakkery
Perfek elke sny nes
die Here die mens geskape het

Ekstra dik botter om die lae te begin
Die lewenspad glad vol verwagting en hoop vir ’n beter môre

Die swartkat-grondboontjiebotter wat soos die harde kurwes van die lewe
uitlê met die glinsterstukkies grondboontjies
wat lekker tye vasklou in die sirkels van tyd

Die dooieleeu-stroop dik opgeplak soos die glimlagmasker wat als moet verbloem

Sag byt ek in die sny
al die lae smelt ineen
Elke happie verplaas
die mislukte gevoel van my bestaan
Mag die Here ook my so verplaas
tot Sy eer


 

Lizette Kruger

’n Duisend oë

Hoe voel die wolwefluit van ’n jagse man?
Mooi voel, vrouwees sit nie in vernedering!
Nek-ruk, na-kyk, naar wees, ongeloof van ’n duisend oë vra hoe jy kan
Hoe. Jy. Dit. Kan. Toelaat? ’n Onheilige bitsige berisping.

Waar is jou wil, waar is jou nee?
Laat die vet voue jou niks omgee?
Hoe vreet jy óm jou verstand?
Wie vermy dan gesonde weerstand?

Ek weet ek kan weier, ek skree baie nee.
My vet voue maak my fokken verleë!
Ek kén die honger van elke dieet.
Verslawing kan weerstand van môre laat vergeet.

Nek-hang, naar-kyk in die spieël, bitter naak voor ’n duisend man.
Maak toe julle oë wat in ongeloof sweef
Glo die afwesige wolwefluit van ’n jagse man
Is seer verwyte wat vet vroue se harte omgeef.


 

Eugene Viljoen

Jannie worry

My naam is jannie en ek worry
Eish my bru ek worry
Waar sal my next meal vandaan kom
Covid het my job gestiel
My job en my kastiel
Ek slaan my oë op na die berge
Maar ek gaan van hongerte sterwe
Ek het nie meer ’n sent
Never mind ’n tent
Die queue van die sopkombuis is lank
Slaan ek die winkelvenster uit met ’n plank
Nie man officer ek was hungry
Hierdie rumble was mos in my tummy
En nou sit ek in die vyfsterhotel
Die maximum hoor was min
Geen pel om te bel
Eish my naam is jannie en ek worry.


 

Marti van Zyl

Verwagting

Die mall is oorvol van oorgewig mense,
Hulle slof rond, eet roomys met
klere wat styfspan oor boepende pense.
Stoot bultende trollies volgestop
van alles ... en nog,
op hierdie koop, koop, koop, hê, hê, hê ... tog.
Die kredietkaart reeds oor sy limiet
Januarie gaan leegloop van verdriet.
Tussen groot, bonkige karre in die warm son,
wag ’n hoopvolle op hulle –
help gretig oorpak aan die spulle.
Die deure klap toe met skielike haas ...
Sorry my maat, het al die geld geblaas.


 

Lee-Ann Engelbrecht

My derms kerm!

Oooeee jinne eina; dis weer sulke tyd
die kos is op
en niemand hoef meer die vloer te mop
want daar is geen kos om te mors
die breë bors is weg
en die derms begin te veg
die salaris lyk maar sleg
en die skuldeiser staan soos ’n berg
hongerpyne slat my flou
daar is geen kos om aan te kou
my derms begin gee al ’n vou
nou sit ek op ’n ashoop in rou


 

Ellouise Kleingeld

Sielskos

Jou woorde dans
op my gesig
oë glinster-skitter
terwyl ek aan jou mond hang
honger vir die sielskos
waarmee jy my voed


 

Otto Olifant

Elkeen is uniek

Moet Kameelperd so lank en lenig wees?
Moet Krokodil so plat en skubberig wees?
Steenbok so rats en lenig,
en Springbok so viets en vinnig?

Wat van Olifant?
Is dit van so baie eet
Dat hy so rond en gesond is?
En Seekoei?
Is swem dan nie goeie oefening nie?
Dit klink so al na ’n mite, daai ...

Moenie dat mense jou vergelyk
Met die lede van die diereryk.
Jy is uniek in wat jy doen.
Hoe jy lyk, is ’n bysaak.

En dis in elk geval jóú saak.


 

Melieze Visser

Broodnodig

Honger – die sensasie van ’n interne leemte

Die kleinste lyfie met ’n kreet so groot
Wat die leemte onmeetbaar net nie kan verwoord
As alles wat leem was maar troosbaar was met ’n stukkie soete brood
Leemtes wat skree in elke mens, ’n honger van elk ’n ander soort

’n Honger na brood vir jou maag
So ’n honger maak die geduld en suikervlakke laag
’n Oorweldigende honger wat slegs jou maag laat grom
En soms soos ’n beer laat brom
Tog kan jy dit met die toegang van ’n happie vinnig oorkom

Die nood vir kos is iets wat niemand kan vermom
Die leed van honger kinders wat enige brokkie voedsel verwelkom
Te swak om verder te stap om iewers te kom
’n Ma wat krap vir ’n stukkie brood vir haar honger kindjie in die naaste drom

Die honger wat die wêreld inhou sal van huis tot huis verskil

Wanneer die honger ’n roering binne-in jou meebring
Wanneer die oorweldigende behoefte na versadiging jou indring
Geluide uit die diepste dele van jou laat ontbreek
Wanneer ’n maag, ’n hart, ’n siel na iets voedsaam smeek

Die honger vir liefde wat voel die wêreld is koud en kil
Dié wat smag daarna om te vergeet – honger vir nog ’n pil
Dié wat honger smag na hul eie vryheid en eie wil
Dié wat oorverdowend skree – ongehoor – in die donker, in stiltes so stil

Honger vir aanvaarding, honger vir aanraking, honger vrede, honger vir moed, oral is daar ’n honger groot en ongevul

Emosies van leegheid, skadu’s van waardeloosheid, diep verborge pyn versteek agter ’n glimlag en ’n grappie
Word versmoor met koek en kos – ’n vinnige verblinding van tydelike vreugde in elke happie
Eet wanneer jy bly is, eet wanneer jy treur
Eet wanneer jy gespanne is, vind vertroosting in elke geur
Sit weereens – weerloos – met ’n volgestopte kies
Later kom die spyt, die selfverwyt en kyk dit wat skaal terug na jou gee, vies ...
Wat jou net weer herinner aan die seer
Laat terugkeer na die yskas wat troos uitstal in elke kleur en geur

Met aromas van vreugde, volheid en tevredenheid – tydelik –
wat alles op die heupe en gemoed – permanent – gaan sit
’n Honger so groot dat die tydelike demper doodeenvoudig net moet voldoen
Om die volwaarding vol te hou – keer ons terug keer op keer

’n Honger wat verander in ’n dors
’n Honger wat bly hunker in jou bors
’n Honger wat kos nie meer kan troos
’n Honger so diep en donker en broos

Skink vir iemand ’n glas vol tyd,
Dek die tafel met messe wat slegte bande sny,
Met lepels wat luister, en vurke wat vreugde voed
Maak dit mooi met ’n servet van trane afvee
Dek ’n kersie saam wat die donker in elkeen kan verlig
’n Voorgereg wat ons opbou en lus maak vir die lewe
’n Hoofgereg vol kleur, met vreugde wat ons waarlik vul
En sluit dit af met ’n nagereg vol aanvaarding
Rond dit af saam met ’n koppie vol dankbaarheid en roer dit met waardering

Sodat elkeen wat aan die tafel sit weer kan opstaan met ’n hart vol kos
Laat elke gas weer kan lag diep uit ’n versadige maag – wat klanke van vreugde en tevredenheid los.


 

Wadith van Wyk

Leer om te waardeer

Toe ek nie honger was
Met ’n oorvloed in my koskas

Was ek min gepla
Met mense wat kla

Maar nou wat ek in dieselfde skoene staan
Besef ek waardeur ’n honger mens gaan

En dit het my geleer
Om ’n bordjie kos te waardeer.


 

Roseline Ruiters

Getroud met kos

Ek leef vir oomblikke soos dié
’n tjoppie word voor my oë gepamperlang
die geur van rou steak vul my sensitiewe neusgate
my hande jeuk behoorlik net om daaroor te streel
die vleissous waai orals behalwe in my mond

My maag gaan so tekere dat dit brand
wanneer laas het ek nog geëet?
Twee dae laas?
’n Paar chippies word in my hand geprop
maar my oë traan vir die ware jakob

Ek’s ’n slaaf vir lekker vrugteslaai
maar daar word op my hande geslaan
wag, hoor ek die kok sê
maar my tong huil al vir dit wat my blik sien

Alles rondom my het vergaan
die oomblik toe ek my oë op daardie verruklike hoender sit
my hele bestaan draai om daardie een vlerkie
net een happie
dan’s ek versadig
dalk 2, 3 of alles
ek’s ’n sot vir hierdie buffet van vleis

ek’s getroud met dit ... my ander helfte


 

Nicó-Lee Du Bruyn

Suur melktert

Die dag wat ek jou ontmoet het,
was ek so beïndruk.
Ek het besluit om iets vir jou te bak,
iets meer indrukwekkend as koekies druk.

Die pad na ’n man se hart is deur sy maag
en die pad na my ouma se resepteboek was net so soet.
Die resep van my ouma se melktert is heel eerste,
Die klop in my hart sê hierdie is ’n moet.

Jou woorde aan my was so glad soos die botter deur my vingers
wat ek gebruik om die bodem van die glasbak te smeer.
Die kastrol met warm melk kook op die stoof,
so warm soos my vel toe jy jou duim oor my wang vee

Die aand van my 21ste verjaarsdagpartytjie was beurtkrag die teken van ’n flop,
maar jy het my lewe opgehelder toe jy daar aankom.
Net soos die blikkie in my hand,
het my hart kondensmelk in my are gepomp.

Hoe meer ek roer hoe dikker raak die mengsel,
Hoe meer ons kuier en aktiwiteite doen,
Hoe meer is ek in jou kloue verstrengel.

Die lang lys van meisies in jou lewe was die laaste tikkie kaneel,
wat egalig gestrooi word vir kleur en ’n eksotiese geur.
Die reuk van kaneel was te veel,
ek moes loop na die onthulling dat jy net met my gevoelens speel.

Net soos ek die tennisbeskuitjies moet breek vir ’n kors,
het jy my hart in duisende stukkies gebreek.
Na alles, was dit regtig so maklik om van my te vergeet?
Of om my te los?

Die tert is klaar en in die yskas,
wat dit huisves vir dae.
Ek is verlam in my bed, ek kan nie beweeg.
Die stukke van my hart is te swaar.

Van vreemdelinge na vriende en weer vreemdelinge,
Was al daardie gelukkige oomblikke regtig die moeite werd?
Want al wat ek nou het om my te herinner aan jou,
is ’n suur melktert.


 

Bruno Andries

godverlate

êrens in ’n stinkende geut
van ’n godverlate stad in Indië
sterf ’n kind ’n stille hongerdood

’n heilige koei loei
en in die tempel
lag ’n apie hom ’n papie


 

Hester Harbor

Om honger te wees

Om honger te wees
Dis nie normaal
Die pyn op my maag
Smag net na een maal

Om honger te wees
’n Brood tussen vier
Kos vir die week
Dis net ’n plesier

Om honger te wees
Dit breek ’n vaderhart
’n Ego gebreek
Skelm trane wat brand

Om honger te wees
’n Kinderlyfie klein
Wat gaan ons eet
’n Glimlag versteek die pyn

Om honger te wees
Van waar die volgende maal
Dis ’n donker tyd
Maar vandag se normaal


 

Alicia Joubert

Kosmaak

O wee hier gaan ons al weer
rasende magies wat skree!
Die potte se deksels kreun van die stoom
so wag elkeen vir ’n bordjie kos van te droom.

Dit is hoender, groente, rys en bone
wat is ’n maaltyd sonder die ou gewone?
Die skottelgoed lê soos ’n berg
almal lag en dis ’n geterg.

Hoe bevoorreg is ons as mense
om nog te kan aansit vir aandmaal sonder perke en grense.
Dankie Heer dat ons versadig kan gaan slaap,
dankie vir elke geleentheid vir kosmaak wat ek kan opraap.


 

Anita van der Walt

Beheervraat

nog ’n daglig glip deur toe gordyn se split
wakkerwordgedagte dans eerste die koswals
rondomtalie skoffel-skoffel tiekiedraai
wyl ek weet ek nie so baie moet eet
in my keel sit die traan
’n eensame siel skuldig
tussen huismense waar
niemand weet
almal jou vergeet
jou gebruik
sê hoe sleg jy is
dikke ding
lelike ding
niks kan ek reg doen
al wat ek kan beheer
is dit wat ek vreet


 

Jaco Strydom

Die confusion van die skaap se oë

sy lewe lank
vrees hy die donker,
die jakkals,
die wolf,
die lammervanger,
maar dan, een Vrydagmiddag
onder helder son
is dit die herder
wat vir hom kom
hom vasvat, hom wurg,
met lem verskeur
en later onder moeë maan
met wyn, aartappels en beet, lag
der laaste stuk van sy lyf oopbreek
skud en slurp aan sy murg
en sy amper alles opvreet


 

Tia Welman

Skeletkinders

die strate is propvol uitgehongerdes
opsoek na vullisdrommaaltye om die pyne te stil
hulle bedel op straathoeke vir hande vol aandag
of selfs net ’n lepel lewenskrag

ons generasie bestaan uit skeletkinders
met ’n honger wat nie deur aardse etes gevul kan word nie.

nee
die kieste word vol gif geprop
verbode vrugte en oorskietkos
hulle verwar liefde met aandag
en verloor koers van Sy pad

hol wangbene volgestop
met aardse lekkernye
wat hulle van binne verteer

"Maar waar is Hy dan?"
soek hulle met toe oë al weer

die enigste Een wat skeletkinders kan genees
van die alewige honger na liefde sonder vrees.

Ja
Hy was daar langs die straathoek
en daar in die seer
al wat ek moes doen was vra
en Hy sou my skelethart genees.


 

Britney van der Walt

Honger, hoekom

Mielies
Koring
Sonneblom
Pryk lustig in die lande.
Wat kan dan veroorsaak
Dat ons dit nie in die hande
Kan kry?
Note
Munte
Sente
Waardeloos, nutteloos teen die hongerpyn.
Reën
Droogte
Hael
Is dit te blaam?
Dalk eerder is dit onsself
Wat die kruis gebou het en ons kinders dit moet dra.


 

Ineke Steyn

Kom braai by my

Ek staan op en dink aan wat ek gaan maak vandag,
Soms voel dit soos ’n skip sonder vrag.
Ek droom van konfyt met vye, kaasborde met peuselhappies by die dosyne,
Ek droom van ingelegde nartjies in stroop, broodbak, beskuit is my dood.

In die oggende eierbrood of toast, pap en sous,
Enige ding wat jy van kan raai, dit sal ek maak saam ’n slaai.
Kom braai by my, ek belowe jou jy gaan daaroor wil sing.
Al die lekkerste bykosse wat jy kan saambring.
’n Aartappelslaai of kerrienoedels dalk,
Braai pie of ’n potbrood gemaak om kostafels te oorlaai

Daar is nie genoeg dae om als te probeer
Te veel resepte om van te kies en te keur
Maar ek belowe jou een ding meneer
As ons uitgaan vir sushi sal jy my nie kan keer
Want daai is my eerste keuse, voor pizza en braai maak ek sushi my leuse.
Ander mense trek op julle neuse.
Dan vat ek oor en eet hulle s’n eerste.

Smaaklike ete


 

Celia-Mari Pieterse

Emosionele honger

Een knippie sout
om bloeddruk te reguleer.
Dis nodig, want ek lê heel dag net
en skuil van my seer.

Een lepel suiker
vir al die bitter hier binne my.
Wie weet?
Genoeg kan my dalk van hierdie monsters bevry.

Een koppie melk
om al die donker bietjie ligter te maak,
al voel dit soms
of niks beter raak.

Een hele dekselse koek
waarmee ek myself volprop
voor ek besef al wat ek eintlik soek,
is vir hierdie leemte om te stop.

Ek dink ek besef nou
dis my siel wat ek moet vul
voor ek ooit hierdie honger
binne my gaan kan stil.


 

Shuneen Adams

slim vang baas se kind

met ’n slag, twee drie
huise hiervandaan,
hoor ek die gegrendel
van ’n hek.
Swaar, stokstyf toe.
om daarin te kom kos
’n meestersplan
beraam!
ek is honger
ek is covid en ek sal
wag,
uit moet hul kom,
om bene te rek iets te
eet en asem te skep
Ek wag net hier op dié
een plek!

Dag 56 en steeds
staan ek wag.
het nou al oral om hul
huis geloer
en wrintiewaar wat sal
ek sien?
twee woelige pare
bene, trap stewig vas
terwyl twee pare
handjies pa help die
grond bewerk!
Trots staan hul trug
terwyl hul hul
handewerk beskou
wortel in die mond
hoog pronk die blare
van boontjies, mielies
en ui
reguit parmantig, elk in
sy eie ry!

Vergete is my planne,
dae lank het ek
gewag ... en hulle?
soetsalig tuis besig
om groente te plant!
Die outjies het ’n
meestersplan beraam.
Dus bly hul veilig, tafel
bly gedek, magies
gevul
vredeliewend op een
plek.
Rustig wag hul vir die
storm om uit te woed,
wyl hul elke dag
vars lug, vanuit hul
groentetuin begroet
en lekker smul aan
berries mooi rooi en
stroopsoet.

Covid mag dalk koning
kraai maar hier vang
slim nou sy baas se
kind.
As ons almal hul
voorbeeld volg,
ons dink die virus is
dom
Op een of ander
manier sal hy by ons
almal probeer kom.
Ons moet ook in ’n
tuintjie belê,
so sal hongerpyne
ons nooit eens kan
bykom
die beste manier om
ou covid en ou
hongersnood goed uit
te oorlê!


 

TC Boshoff

Afrika-leemte

Boepensie wat kaalvoet die stofpad langs stap
en met uitgestrekte handjies hoop op ’n stukkie pap
met ribbes wat jy kan tel soos die klawers van ’n klavier
les jy daagliks jou dors in die cholerarivier

’n Verkrimpte hart wat bokspring met die gedruis van ’n motor
sigbaar verlig want dié keer is die porsie groter
versigtig koester die wankelrige vingers die kosbare vrag
en in jou wese wonder jy of dit al is, vir vandag

Stadig bak die lewe jou siel tot ’n lyk
al sou jy wat wou gee vir ’n taai stuk steak
maar die aarde is dor en niemand sien jou raak
droom van bredie terwyl die leemte binne braak


 

Ivania van der Westhuizen

Gate

Gate is goed wat gevaarlik is.
Gate gryp jou met gulsige arms.
Dit verswelg jou in die grom-aria van die honger-monster.

Daar is gate wat na jou toe terugstaar uit die kaste van jou kombuis.
Daar is gate ook in jou beursie en jy bedel vir die behoefte om dit te vul.
Daar is geen boeretroos vir die gebedsgroep.
Daar is net die troos van ’n God wat voorsien.

Die gate skree om gevul te word.
R5 se maalvleis van 10 jaar terug is nou R70 of méér!
Groentetuine is die antwoord vir die geldnood-era!

Gate is orals en is dongas wat jou opslurp en jou gebroke anderkant wil uitspoeg.
Emosies gaan lê binne-in dié gate van die vervalle pad na welvaart.
Seer, kwaad en magteloosheid lepellê daar.
En die pyn van verwerping sny soos ’n mes wat ’n vurk in jou verhoudingspaaie dolwe.

Gate groei oor jy nee sê vir "kuier oor ’n koffie" by jou huis of restaurant.
Die kitskoffie is lankal op en daar is net ’n noodgeldjie vir brood.
Gate vorm rondom jou tafel waar eens op ’n tyd jou vriende gesit het.

Gate het nie ’n gevoel vir gewone mense soos ek en jy nie.
Gate gryp enigeen en dit onderskei nie, maar lê en wag geduldig vir prooi.
Soms grou en klou dit om jou daar te hou.
Maar soms kruip jy met moeite en met mening uit tot bo.


 

Carmen Viljoen

Liefdesdade wat bulimie nie kan keer nie

Die bleekgesigvrou sit met ’n glimlag om haar mond
altyd sappige watertandlekker maaltye voor
Met lagplooie om haar oë lyk sy op haar beste
terwyl sy die verskeie maskers dra
Gasvrou, Huisvrou, Mamma, Fantasievrou, Beroepsvrou

Met ’n glasie wyn in die een hand terwyl sy voor die kospotte woel
put sy vreugde daaruit om te weet, dié wat haar kos eet sal met
vol magies en vol harte
daardie aand in die bed klim
Dit is ’n anderste satisfaksie, dit is ’n liefdesdaad
Dit bring haar trots en vervulling wat niemand wat haar ken sal kan raai
sy nie self uit die daad van eet put nie.

Niemand is tog daar agter die badkamer se deur
wanneer sy op haar knee voor haar wit porseleinmeester gaan kniel nie.
Wanneer sy haarself keer op keer leegmaak
as sy te vol voel sodat sy nie later te veel voel nie
Sy wil maer wees
Of ten minste maerder as die vetste vet vrou
Haar verhouding met kos was nog nooit normaal nie.

Kleintyd leer mens dat jy alles op jou bord moet eet
as jy die kleuterskool juffrou se goedkeuring wil wegdra
of daardie aanloklike beloofde bakkie nagereg wil hê
Dan sluk jy maar swaar aan die koue gestolde Maltabella-pap
of daardie gehate skorsie wat op jou bord lê en jou koggel
Dan is jy so ’n mooi soet nooi as jy jou kos afwurg

Later leer jy anders, en niemand laat jou weet presies wanneer daardie punt is nie
Maar eendag is dit net so dat jy skielik te vet is
Die juffrou dink dan sy is vriendelik en noem jou net mollig
maar jy weet dit beteken eintlik vet want die kinders sê dan so

Jy leer dat jy minder moet eet as jy nie die kinders op die speelgrond se graplied
wil hoor nie
Want al hardloop jy hoe baie om die atletiekveld met jou rooi gesig
en die sweetkolle wat soos twee drasakke onder jou T-hemp se moue verskyn
jy het die "fat gene" geërf
en jy sal nooit die lang, slanke atleet wees wat die hardloopding
met soveel grasie kan doen nie

"Dit sal vir jou nou maar altyd ’n effort wees"
leer die bleekgesigvrou
Maar nagereg is dan so lekker, alles wat vet maak is lekker
en een ding wat sy nog nooit gehad het nie was goeie selfdissipline
En so op ’n dag in haar tienerjare vind sy die kortpad
Die enigste kortpad is kniel voor die porseleinmeester
Die volmaak- en leegmaak-badkamerspeletjie
Tot haar kneukels rou is
Sodat sy maer kan wees
Of darem maerder as die vetste vet vrou

Op ’n dag verander dinge tog vir haar
Haar dogter word groot en die bleekgesigvrou
vrees die dag wanneer haar dogter moet uitvind oor mense soos sy
wat die volmaak- en leegmaak-speletjie speel agter die badkamer se toe deur
En hoe sê sy vir ’n pragtige meisie dat dit nie nodig is nie
Dat dit gevaarlik is om daar te kniel
Hoe waarsku sy haar dogter teen die
altyd leë gevoel wat bly
maak nie saak hoe maer dit jou maak nie

Dan dra die bleekgesigvrou maar eerder haar finale masker
Die een van tevrede wees in die vel wat jy gegee is
En die beste maak van dit wat jy het
Terwyl sy die lewenspeletjie meer eerlik probeer speel
"Nee dankie" leer sê vir elke bakkie nagereg
En maar leer om haar skorsies te eet


 

Christo Swart

Fluit, fluit, my etenstyd

Hulle sit rondom oorgekookte kos en gesels oor die eerste vyf links op Google.
Die kinders se oë klou aan handheld skerms vas
Geen klets, geen musiek
Die vrou wat host, kruip weg in die kombuis
want sy kyk nie 7de Laan nie
vroeg soggens gaan ruik sy die mis teen die hange van Tafelberg
haar asem ritmies
tromme
soos ’n sjamaan loer sy in die kospot in
hulle gaan dit nie eers proe nie
hulle het afgeleer hoe om op te let
vêr verwyder


 

Lizna Kriel

Vergifnis opgedis
Johannes 21:1–19

Knetterend het Hy my vergewe,
Om ’n vuur met vars ontbyt
my genooi om te kom aansit
terwyl ek kaalgat
terugswem in Sy arms in,
gestroop van intensies en agendas.
Net ek
met die hoop
dat Hy is wie Hy sê Hy is.

Sout wat sout bly
binne my,
sit voor my
met vergifnis in Sy oë.
Gewonde hande bedien my siel
met hoop
en ek sit nog steeds
kaalgestroop
in die eggo van ’n hanekraai.

By Sy vuur word Lewende Woord
God's Lewende Brood
en voed my siel,
trommeldik,
daar by Sy kosmaak-kampvuur.
Teruggekoop, so kaalgestroop.
Vergifnis opgedis
deur die Visser van mens


 

Heinz Peter Hiestermann

Alles tevergeefs

Dik gevreet en vrek honger,
is uiterstes
soos kondensmelk en bokkoms.

Dik lywe, maer lywe
Sielswroegend
Van vroeg soggens
Tot diepste donker nag.

Die woorde van Prediker
Kom tot herinnering
Alles tevergeefs, alles tevergeefs
Dit is alles tevergeefs

Bord kos, leë bord
Wat maak dit saak as
U siel in hel gaan brand
Soos kaiings op die vuur

U het vandag nog kans
Maak reg, bekeer
Neem die Verlosser aan
Prys Hom in rykdom en in armoede

Die Woord van God
Is ware voeding
Sielskos, Koningskos
Lewende Water


 

Danie Crous

Feesmaal

Of jy sit by die vleispotte van Egipte
of by ’n pappot in jou dorp
of jy deel in ’n koningsmaal
of ’n stukkie bedelbrood
ongeag jou taal,
al praat jy geen woord
die samesyn is goed
vir gees en gemoed.

Hoe skraal die maal ook al
is dit male sonder tal
bewys, en goed om te weet
dat dit mense baat om saam te eet.

Dit bied geleentheid om
– te bespiegel oor die weer
– van ander mense te leer
– te gesels oor mense se familie en kinders,
hul reise, stories en ander ondervindings
– sienings oor godsdiens en politiek te verkry
– jou in ander se voorspoed en vreugdes te verbly
– iets van die stilles se lyftaal af te lei
– ontbloting van eie onkunde te vermy
– te hoor van gesinslede se behoeftes en vrese,
– raad te gee met hul doelwitte en keuses
– saam familie-aktiwiteite te beplan,
en reëls vir saamwerk as ’n span.

Maar rondom die tafel sal dit ook gebeur dat
– mense mekaar wil verskeur
– verskille blyk oor ’n bepaalde saak
– argumente hewiger raak
– partye weier om toegewings te maak
– uitsprake en woorde kwetsend raak,
– mense opstaan en uitloop
en die ete van vrede en vreugde stroop.

Dan dink ’n mens aan die Laaste Avondmaal
toe Jesus tot voetvlak moes daal
om in ’n tyd van onsekerheid en vrees
dissipels te leer om diensbaar en nederig te wees
toe ’n verraaier van die tafel sou wegloop
vir sy eie tragiese storie se verloop
toe brood en wyn verhef is tot ’n feesmaal
wat vertel van ewige lewe, die verlossingsverhaal.


 

Driekie Beetge

my hartstafel

soos wyn aptyt opwek
soos kalmoes seer heilig
soos olywe ’n hart versterk
soos pomegranate reinig

so is my hartstafel
vol lieflike geure
kaleidoskope
in rooies gedoop

so dek ek my hartstafel
met rooi liefdesappels
om die einas te heel
van baie roue sere

my nardus-flam wat brand
versprei ’n lief-aroma
tussen gisters wat was
lawe ’n siel se ode

maak my kop besope
met jou liefdeswyne
geskink uit druiwe-oorde
soete woorde, sonder ydel


 

Theresa Postma

Plakkerskamp

Don’t care with your purse, care with your time,
your heartfelt interest in one another. – Theo du Plessis

O, God, mag ek my gewete nie langer
sus met bessierooi en lint
want, my oë het gesien!
Die kind wat weet van hongerte.
Die kind wat armoede in haar oop hande dra,
my sonder gesigsuitdrukking dophou.
Hier is die lewe net sink, bokskarton en muf.
Geen bome, geen groot ruimtes.
12 gesinne. 12 kosmandjies
: pap, soja, blikkiesvis
wee, o wee, gestrik in rooi lint.
Ja, stomme kind, my oë hét gesien.
Kom, waar Kersmis die blou-blou van die lug ontmoet
sal ek vir jou ’n feestafel dek
met whoopie pies en springmielieballe,
pampoenkoekies, vleis, reënboogslaai,
brownies, én roomys;
ons sal saam rondomtalie draai
en uittelrympies aan ’n sierboom hang:
olke bolke riebiekie stolke.
Jou vetkryt-voëls sal vlerke kry
vlieg daar bo en vooruit ...
Ja, kind, hoe durf ek my gewete
in geskenkpapier toemaak.

O, God, vandag wil my nie los nie,
alleen die liéfde kan hierdie kind red.


 

Laurette Hitchcock

ten koste van

Hoe lank raak ’n dag?
sy is óp van wag
dinge raak net nie beter
alles is onseker
die kinders kerm en kla
sy kry fokkol support van die pa

elke dag ’n oorlewingstryd
sy kom nie met die grant-geld uit
hoe hou mens die pot aan die kook
met ’n man wat nog wil suip en rook?

vier snytjies bruinbrood en ’n blikkie vis
waar is die Man
van die Bybelverhaal?
om dit te laat vermeerder
tot ’n groot feesmaal

haar melk vir die bybie
is lankal op
laaste sente gisteraand
gesteel vir sy dop

sag vou haar hand
oor haar jongste se gesiggie
stil is hy –
ná ’n rukkie


 

Simone Sevenster

Op die rak ...

Hier sit ek stokalleen en kaal
in hierdie winkel – hy is kolossaal.
Ry drie is al vir dae my tuiste
Oor my klap niemand ooit vuiste.

Nes enkellopende ou tannies sit ek op die rak.
Anders as ek, is Appels, Pere en Piesangs só mak.
Al is hulle soms peperduur
woon hulle nie lank hier.
Binne ’n uur word hulle gekies
As mense verby my loop dan hoor ek net "sies".

Gevriesde Ertjies is ook al lank hier
haar eerste verjaardag word amper gevier.
Blomkool vertoef ook al ’n hele ruk
miskien moet ek op my rug lê of anders mik?

Dit is Kersfees en my vleismaats bly nie langer as ’n uur of twee
Gammon, tong en bees – almal het dieselfde idee.
Selfs Sardientjies word gekoop
Dit is net ek wat nog hoop

"Tot siens, liewe vriend. My beurt is uiteindelik hier!" skreeu Eenlaagtoiletpapier ewe
My vietse lyfie begin bewe
Hoe kan dit wees?
Hier sit ek, en almal het elders ’n fees.

Daar draf Sampioene, Vars Room en Knoffel lag-lag
Seker ’n sampioensous wat wag.
Kos in blikkies, vervalde Volroommelk en Polonie vat die pad
Ek is moeg, siek en sat.

Hier kom die man in die jas
hy gaan my verwyder –
een van die dae is ek as.
Niemand wil my in ’n dis gebruik.
Is dit oor hoe ek lyk of ruik?

"Verskoon tog, meneer, waar kan ek Aspersies kry?"
Hoera! Vandag kry ek my ry!
Die dame streel my en dan my tweelingbroer
Waarom moet sy só sloer?
Ek is stom
want toe kies sy hom.

Nou is dit net ek en Gevriesde Ertjies
Ek is vies, waarom wil niemand ons kies?
Nes Tannie Bets in Huis Sonneblom
sit ons steeds op die rak.
Miskien moet ek my maar vermom?


 

Anina Naudé

Lag, leef en vergeet

Kaviaar word verslind deur kaal boepens-
lywe wat dans, lag en slinger

Borde breek, diamante en tande skitter
Spoggend, met oormaat, vol glase klink

Tafels kreun van sjampanje, sushi,
Kersfeeskalkoen en aartappelslaai

Bo in die lug oor ’n uitgeteerde lyfie
van ’n kind ... op rooi stofgrond,

’n honger aasvoël wat draai ...


 

Maya Joubert

Verg(eet)

Ek vergeet soms
hoe maklik mens vergeet, moet vergeet,
hoe dit geknaag het te midde van (honger)nood
Woorde en honger, "asseblief" en "kos"

Deurgeknaag
Opgeknaag
In my íngeknaag
Ek was deurgeskuur, maar my lyf moes (kon) dit verduur

Net my lyf kon.

Handjies reik na vertroosting,
soos ’n naïewe kind na nagmaalbrood,
net ’n herinnering sonder verduideliking, teistering in ’n sekonde van ontvangs geplaas
wat geen kol in my maag kan vul, toeweef

Te min
Net ’n herinnering, proeseltjie
om die smagting te verwek, in dop en wese,
van wat kon wees

Dus mag ek vergeet,
want
hoekom sal jy onthou hoe honger jy was
as jy reeds versadig is?


 

Adri Antoinette Hiestermann

Soet bitter melodie

"Wie weet waar Willie Wouter woon ..."
’n Kinderliedjie, wat soet klanke na
my hart bring.

"Wie weet waar jy woon ...
... waar Willie wasgoed was ..."
 Sê my, kan mens die seer uitwas?
Ek laat my gedagtes vry om die
soet herinneringe se vrugte toe proe

Maar alles verander in ’n bitterbessiebos
’n brandpyn in my maag, of is dit in
my hart, is dit die groen vrugte wat ek
in my verbeeldingsvlugte ryp gewens het?

Nee, dit is ’n honger hart
Wat na jou soet glimlag – net jou aanwesigheid alleen
Die stille verlange kan voed, in my verskanste smart
Kan dit nie in die woestyn weer reën?

Waarin ek terug kan kyk
In my siel se wasige ruit.

’n Soet smaak kom in my mond wanneer –
"... waar was Willie wasgoed?
Waar woeste westewinde waai ..."

Sou jy kon raai, sou jy?
Dat daar partymaal ook in my,
Woeste westewinde waai ...?
Dat dit in my woed.

Soos ’n mens soet klanke uit ’n kitaar kan optower
So is die soet melodie van my hart, maar
iewers is ’n vals noot op my hartsnare gedruk

My liedjie van ’n soet bitterbessiebos
dit is mos! Of was dit ooit al anders, ja –
Het ek dan nie al jou verfrissende soet nabyheid
oor my voel spoel soos bruisende wit branders.


 

Inge Keyser

Tog steeds sondaar

Soek in die kas.
’n Tjoklitjie hier,
’n happie daar,
maar vol word ek nie.

Siel steeds leeg.

Die golf van dopamien,
slegs tydelik.
Na tien minute het ek teruggekring.

Siel steeds leeg.

Soek in die laai.
Pak tjips op,
koeldrank uit die yskas uit ...
weg.

Ma wonder hoekom aandete nie geëet word nie:
"Waaraan het jy gepeusel?"
"Niks nie, Mamma."

"Wie het van die koekies geëet?"
maar
sy weet.
Hoekom vra sy nog?

Sy tel vir ’n rede.

Skuld en skaamte:
"Sal nie weer nie, Mamma."
Ons al twee herken die leuen.

Môre,
dieselfde storie:
"Daar was vyf muffins.
Nou net drie."
Sy weet.
Hoekom vra sy nog?


 

Marietjie Pienaar

Versadig – watwou!

Die wit kas het sy koue verloor
want boetie het kom kuier,
Pa het nog nie ophou kou
en besoek hom met elke draai

Versadig, watwou!
Dan kaas en tamatie
Dan botter vir die brood
Melk vir die Milo
En eiers vir ’n vale

Tien, twaalf, veertien keer
Ek het ophou tel
Versadig – watwou
Die yskas is nou flou


 

Louise Oosthuizen

Massaverorbering

Eet ons om te leef of leef ons om te eet?

Verjaarsdagtafel kreunend
Kersfeestafel steunend
Begrafnistafel bewend

Dekadente tafels gebukkend gepak in die vorm van gevulde eiers en klein wit driehoek- komkommerbroodjies.

Rolkoek
Vetkoek
Vetmaakgoed

Ek bepaal die daaglikse groeitempo van breedte en wydte met my akkurate indeks en wysvinger.
My vetjies vet en my rolletjies rol.

Gewalg (maar honger) deur my tekort aan selfbeheer bou ek kastele uit wafels en room vir moed en bravade.

Môre is Maandag
Slaai-en-water-dag

As die maan van kaas was het ek hom geëet.


 

Abigail Adams

Mammie, ek is honger

Mammie, ek is honger
Wa gaan ons volgende meal vandaan kom?
Pappa-goed werk hulle vrek
En steeds moet ek stilbly as my tjommies oor hulle buffet meals brag
Neh Mammie, ’n man is honger!
Here, help ’n man uit daso
Here, voorsien daso
Want Mammie, ek is honger hieso


 

Elizma Rheeder

Tekort aan brood

Daar’s ’n tekort aan brood, ons noem dit sommer hongersnood.
Maar die narre & die rykes drink net wyn, hulle weet mos nie van hierdie hongerpyn.

Dalk moet ons net leer ons appels deel.
Dan los dit mos niemand wat oor hongerte steel.

Marie Antoinette voer vir almal koek, maar in Afrika slaap sommiges vanaand op ’n hoek.
Hulle kan nie hulle koek kry & dit ook mos eet nie.

Mieliepap, marog of kool met Maltabella,
Dis maar stapelkos dis wat ons ken dié. Geen tjops & ribbes met fancy frikadelle.

Daar’s ’n tekort aan brood, die honger is waar.
Wie gaan hulle voer van die lewende brood klaar?

Daar’s beslis nie net 1 tipe hongersnood.
Daar’s soveel meer wat smag na die siel se brood.


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top