Eet my woorde: Inskrywings (5)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die vyfde groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Dolla Lerm Marissa Fourie Jo-Marie Erasmus Farrah Hartung
Marianne Buys Daleen Venter Yolanda Scherer Alecia Hattingh
Corné Lottering Heidi Kleinhans Veronica Williams Hennie Schutte
Nicolette Steel Riaan Conradie Jorja van Niekerk Ciska Duraan
Stephanie Smith Annabella Coetzee Mariana Holtzhausen Tanya Coetzer
Johan Eloff Gerda Taljaard Lisa Schwartz Madelie Broodryk
Sunita Keyser Liza Vermaak Hester Steenkamp Melody de Winnaar
Jan Schaafsma Lynette Vorster Roelien Geyser Estelle Diederiks
Renette Vosloo Estella Mouton Ernie Mellet Liezel Hanekom
Lizaan van Heerden Marietha Moolman Christelle Truter Christo Meyer

Dolla Lerm

Skepsels bon appétit

I

Keuses à la carte
so aards so ongeduldig so onopgevoed tap gekaapte sap uit gifappel terug in skaapvelsap

pogings van ontsnap sluimer in millenniums se aftap steeds gekrom ontvorm dronkstom

Met die uiterlike versterk spring die innerlike aan die werk om die begenadigde te versadig en as besadigde nou met behae van nugterheid, waardes opgedis te merk

II

Stewig lê die gans verdik en meer verstik in sleurhonger vangstrik se verkwik, voel verdrukking die knuppeldik se verruk as vergrype na eie tuingronde die dwaalmaal verklik.

Baie brawe bye hou van blomme, zoem vir nektar opgewonde in tonne tog verdeeld gebonde die wegvoer na eie lushof tonnel waar werkers hommel

ander skreeu o' die sonde ... ruk dit tog uit gesonde monde maar val self oor groen grondboongronde.

III

Verslete sweef die wete van die wees wat nie sy waarde ag na liggaam en vlees ...

Vergete hierdie gees wat nie vaardig groei bloei en snoei om as voldoende, weer volledig te wees ...

Vergeefs die eter wat sloer in oorbrugbare sintuiglike beurse wat oor vleis koer en na mampoer loer.

IV

As wysheid in ondenkbare dieptes van voorkennis manifesteer om wanvoeding te probeer hanteer beheer en genees.

In konteks van my neokorteks gekoeksister, stry die indeks van my daaglikse spyskaart teen vergrype se aard
want ek weet my woorde sal ek telkens weer moet eet

Met my geleerde reënboogkleurvrugte draai ek my rug op vlug, weg van die oorvloedstafel, verder weg van die verdomde verdoemde verbode vrug.


 

Marissa Fourie

Janus

In die see van swaarkry
weergalm honger waarheid.
Bakhande en rasende blikke gebleik
– hul hoop vir die toekoms geyk.

Niemand is mos verkeerd
behalwe almal wat begeer.
Maar nee, dis korrupsie se wurggreep
vermors en vermink, hoe kan ons vergeet?

Moenie die hand byt wat jou volvoer nie;
as jy net sou afkyk, sou jy sien
jy’t reeds jou eie polse afgekou.


 

Jo-Marie Erasmus

Koue liefde

Maer staan jy daar teen die muur
met nuwe verwagting oor die inhoud van die uur.
Wat bring die Spreuke-hande na jou toe vandag?
Wat lê in die holte van die enkele plastieksak?

Maer sit ek hier op my stoel,
versadig en vervul met jou lewensdoel.
Eet en vreet, het my bedkas-boek geweet,
is die vreugde van ons swoeg en sweet.

Soms is jy stil maar soms lewe jy hier,
in die hoek van my woning, my wittebrood-plesier.
My kameraad,
my blinkvos-blik.
My yskas, oor my beskik.

In vertroue is jy altyd aan diens,
vir wanneer die wegneemetes my vernietig tot weersiens.
My koue liefde en betroubare vriend,
dankie vir jou bystand, soms onverdiend.

Enkellopend loop ons saam
en loop sal ons loop tot die gas vergaan.


 

Farrah Hartung

Bedel op straat

Ek krimp ineen
Dit maak my lam van kop tot been
Die pyn onbeheerslik
Dié soort lewe is vreeslik
Geen geld, geen werk
As moeder bly jy sterk

Die mense staar en kyk jou kwaad
Vir hul lyk jy so verward
Hul voel jy moet net ’n werkie kry
Probeer, telkemale, glo my!
Krampe wat my gryp na my maag
Die hongerte hou nooit op knaag

Die kinders by die huis huil en hoop
Mamma kom dalk huis toe met brood
Dis nie asof ek hier wil staan
Maar waarheen moet ek tog heen gaan
Iemand moet die honger stil
Al is dit vir my kinders wat van dit gil.


 

Marianne Buys

Smaak se tintel

tafels wat swaar kreun
geurig kleurvol gedek
aromas wat sintuie terg
geregte laat die tong tintel

vrugte in blomfigure gekerf
heldergeel, rooi en groen
waaier-palmboom pryk
uitlokkend op houtbord

gaste skep borde vol
’n maaltyd saam te geniet
verhoudings weer innig gesmee
rondom tafels van feestelikheid

voedsel keurig voorberei
spreek van omgee en liefde
maak leë harte mildelik vol
bevestig saamwees se innig

feestelikhede se kroon
borde vol soet en sout
deel van vreug en leed
kos samesyn se gom


 

Daleen Venter

Twintig en twintig een

Twintig twintig en twintig een
die samesyn van kaas en wyn het verdwyn.

Om myself te weerhou van saamlag en kou
saam met jou ...
laat ’n hongerte in my wat als wegvreet
en my los met net die grate van onthou.

Dae en maande van wag en terughou
"Be safe" is wys.
Een jaar nou twee, ek kan nie meer
Daar is geen keer.

Ek oorvreet my aan die interaksie
saam met jou en die dood.

Die doderyk, onversadigbaar sit en wag
sluk ons in dae na mekaar.
Nou ewig saam sit ons aan
Die Bruilofsmaal.


 

Yolanda Scherer

Wat eet ek, Here?

"U berei ’n tafel voor my aangesig ..."

So refrein die belofte van voorsiening deur my kop;

"U berei ’n tafel VOOR my aangesig ..."

                   Maar wat eet EK Here?

Is dit die fyn maal van saggekookte lam met aartappels en wit rys,
Met soet pampoen en fyngedrukte groenboontjies met ’n groot skep botter in,
Soos my ma en my ouma voor haar dit kon maak ...
Saam met die lekkerte van saamsit om die groot houttafel met al die ooms en tannies en niggies en nefies, boeties en sussies

Terwyl ’n omgee-maaltyd geniet word?

Of is dit ’n voorbereide tafel met vreemde teksture en uitlandse smake en kulture?
Iets soos basil pesto, songedroogde tamaties in olyfolie, ontpitte olywe met platbrood en gevulde pimiento’s
By ’n tafel waar kulture bymekaarkom en brood met die hand gebreek word en aangegee word met ’n glas verouderde rooiwyn ...
Met ringe en armbande en stemme wat klingel en die kerslig ’n riel dans teen die mure en in vurige oë ...

"U berei ’n tafel voor my aangesig ..."

Here, is dit gister se brood van onvergewensgesindheid
Wat in gal gedoop is
Wat ek vanaand eet?
Of dalk die ou brood van hartseer en verdriet wat vanaand in ’n louwarm souterige sop gedoop word?
Brood wat nog nie oud genoeg is om weggegooi te word nie, maar waaraan mens ’n paar keer druk om te voel of dit nog vir nou se sop sal werk?
Solank dit nog nie muf op het nie ... bygesê!

"U berei ’n tafel voor my aangesig ..."
Dawid sê nie wat op die tafel voorgesit word nie, wat hy wel se is ... "teenoor my teëstanders ..."

                    Ek moet kies wat ek wil eet

Vredeskos,
            liefdeskos,
                         vrugte van die gees,
Olyfolie om my hart te salf

Of die galsterige bitterheid met
Klipharde brood en suur gegiste wyn
met vetterige taai vleis sonder kruie
Wat mens moeg maak vir kou
En lui maak vir omgee

Ons is wat ons eet

"U berei ’n tafel voor my aangesig, teenoor my teëstanders (my issues)
My beker loop oor!"


 

Alecia Hattingh

Skinder

Jou woorde maak my leeg,
ek voel hoe ek krepeer.
Die wêreld is besig om te sterwe,
ja dis erger met die bedorwes
Hulle maak soos hul wil,
spat woorde uit links en regs uit gemoedsverskil
Niemand verstaan die eintlike saak
Van lewensbelangrike lesse
uit jou kombuiskaste se messe
Steek geliefdes in die rug,
vriende raak verlam uit jou nuusberig
Hoe jy skinder en hul beswadder, om uit te praat is mos jou plig
Nee weg met jou, jou onverskillige mens
Weet jy dan nie ons almal het ’n hart, het ’n wens
Om mooi woorde te hoor,
dis ons sielslied, ons jubelkoor
Wat jy nou met jou stories verniel
Eet jou woorde, dis gif in almal anders se mond
Word siek van jou eie swart hart,
ek hoop jy leer daaruit en word weer gesond


 

Corné Lottering

Versadig en dankbaar

Tong, boud, kalkoen, gammon
en somme nog klomp anne vleise, slaaie en kosse
met name bó my vuurmaakplek
maak ’n mengelmoes reuke buite
want môre is Christmas
en op Oukersdag is ons almal chefs
onse mense hou mos van lekke eet.

In my eenvertrek-wendyhuis
is die stoof leeg
(kon weer nie die maand die gas volmaak)
maar at least is daar polony in die yskas
so môre; wanneer die rykmanskosreuke
hulle by al die splete en krake in my plankmure inwurm
en my reuksintuig oorweldig
sal ek smaaklik sit en eet aan my ou getroue polony.


 

Heidi Kleinhans

Sielskos

Dis ’n donker tyd
en dit bly ’n donker tyd
en ma – vergewe my,
wees lief vir my

Ek kan myself nie
vergewe nie.
Wees lief vir my, ma.
Vergewe my,
Ek soek kos,
kos vir my siel.

Vir 21 jaar het ek my oorwerk.
Soms het ek
gaan sit in die kerk

Vir 40 jaar wandel ek die aarde
en soek ek ...
ek soek kos vir my siel.

Ek het my selfrespek begrawe en my seer met drank probeer lawe

En ek weet nou en besef dat drank nie kos is vir ’n siel

Maar die skade is gedoen en ek is verniel

Verniel
Myself verniel

Mamma en ek kry so skaam
elke keer wanneer ek
voor ’n spieël staan

en my waarheid moet erken,
ek kan nie meer.

Ek wandel, alleen
soos ek verkies,
op soek na kos vir
my siel
en kyk ek in die spieël en sien wie
het die mens verniel.


 

Veronica Williams

Krummels innie koskas

Jou oë sink diep weg in jou kop
en jou wange is hol van hongerte
en jou maag skrie op pad
skool toe, huis toe, kooi toe
kaalvoet innie reën en harde gras

Ma, ek is honger sê Davy Meisie Lennie
Jonny Sanna (ekke) Lisbit en Georgie.

Ma skrie Sanna! loep koep vi' my groceries
oppie boekie
by Bai se winkel oppie hoekie
in Francisstraat D6 nineteen fifty nine

Vrek honger krap ek innie koskas
net krummels, ’n kokkerot en een sad-looking korsie
hard soos ou toast maarit issie toastie.
maak soos ’n haas en vriet liewerste gras!

Sanna (ekke) iet maarie korsie
en suinag is my naam!
ek iet krummeltjie vi' krummeltjie
wanit moet lank hou tot venaand.

Ek droom van regte toast ’n jêm ’n tea na skool
of sopbene-kos met ’n lang sous
lat Ma, Pa, Davy, Meisie, Lennie, ensovoorts
ammal kan iet van een blikkie baked beans

Miskien Sondag braaihoender
en Sanna (ekke) is gelukkig sy kry die wishbone.
jong, ek wens tot ek blou innie gesig is.

Krismis trim ôs die dining room
met crinkle paper en sterretjies
en ballonne en engeltjies
en Boeta Aram ve'tel vi' ammal
"Kyk! Ôs is arm, ma' darem!"

Ek dink miskien eendag ... eendag ... darem ...

Toe kom eendag darem en Sanna (ekke) eet –
skool is klaar, holwange is klaar,
kaalvoete is klaar, kollege is klaar
gras onner my voete is groen!

nou wiet djy hoe lekker smaak
tempura prawns innie One&Only?


 

Hennie Schutte

Soos ’n vark op ’n ashoop

Hier waar ek nou sit en huil en dink
Terwyl ek vuil bruin water uit ’n boombas drink
Geen meisie sal ooit van my hou
Ek is sulke arm, verwaarloosde ou

Glad nie nooit is ek tevrede
Met my kos en met my hede
My gesin se kos is vuil, gemuf en vrot
Meestal proe dit soos ’n vrot dooie rot

Dit proe soos afval op ’n ashoop
Al het ons soms vyf sent om iets varser te koop
My ma sê die groente en vrugte is darem gesond
Daarom gee ek dit nooit vir my verbeeldingshond

Vars kos het ons so selde
Ons stoor dit in lang gras in die velde
In die oggend is die vleis vol sand en vlieë
Nee, ek het nie eens krag on daaroor te huil en skree


 

Nicolette Steel

"The bravest thing that you can ever do, is to say what you don’t want"
– Brené Brown

Daar is ’n dun lyn tussen dapperheid en eerlikheid.
Tussen eerlikheid en arrogansie.
Tussen arrogansie en standpunt inneem.
Tussen Jan Rap in die media verneder oor koninklike protokol wat nie gevolg is nie en in dieselfde straat gaan slaap Jan Rap se maat leë maag.

Vyf belowende sterre teen die hotelmuur.
Een daarvan skitter dof.

Netjies en skoon, skitter ’n hotelster dof.
Onbeskof.
Uitbytery.
Kwarantynpakket.
Smaakloos.
Glinster die res.

Vyf dae verpligtende kwarantyn teen ’n fooi genoeg om ’n gesin ’n kwartaal lank aan die lewe te hou.

Een porsie rys is genoeg vir ’n ryk gesin van vyf.
Hoenderstukke wreed opgekap, wit gekook bo-op een groen jalapeno.
Oneetbaar.

Vir Jan Rap se maat ’n koningsmaal.
Aan die ander kant, vernederend teen ’n hoë prys.

Daar is ’n dun lyn tussen die besef van hongersnood en die besluit om aan te dring op ’n maaltyd "fit for the fee".

Wanneer dring jy aan op ’n maaltyd regverdig geweeg teen ’n prys?

Ek betaal hiervoor.
Woorde met gewig.
’n Sin met peinsende besef.

Daar is ’n dun lyn tussen honger ly en onbeskaamd uitgebyt word.

Dapperheid maak dat ek sê die maaltyd regverdig nie die prys nie.
Dapper wees se rimpeleffek sit nie lekker op die besef van my binnemenslyf nie.


 

Riaan Conradie

Ek eet jou woorde

vreet vreet alles opvreet
jou woorde inkluis sal ek ook eet
uit jou mond steel ek jou stem
jou maagkramppyne is vir my eie gewin

in die donkerte is ek die plaag
wat groei in die hol kol van jou maag
jy maak my stil maar ek kom weer
om jou van binne te verteer

ek knibbel jou hier en knaag jou daar
vir ’n wyle langer sal ek jou spaar
van ver hou die wêreld jou fyn dop
en kyk hoe blaas ek jou magie op

vreet vreet alles opvreet
jou woorde inkluis sal ek ook eet
uit jou mond steel ek jou stem
saam sal ons sterf, maar ek sal wen


 

Jorja van Niekerk

Die uitgehongerde ideaal

Die warrelwind ruk deur my derms,
die stem in my brein baklei al weer.
’n touspring tussen wakker bly en dood
wat waai by die deur.

"Net ’n happie," smeek my gedagtes.
My bene voel lam, my oë val plat.
Hulle soebat maar hulle lieg.
Gee ek in dan skel hulle my sat.

Klippe lê op my bors,
Leegte trek deur my lyf.
’n dunner kompleksie, ’n uitgeskulpte gesig
is wat ek na toe dryf.

Die naarheid sak in met geweld
en sterretjies verdof my visie.
Deur sal ek druk,
want ek het geen "kondisie".

Die reuk van vars vetkoek
hang soos walle in die lug.
Alles binne my skreeu vir kos
maar perfeksie is my plig.

Die gevreesde vraag val dood teen my ore.
"Is jy honger, my kind?"
Natuurlik ja, antwoord ek innerlik
maar my mond is toegebind.


 

Ciska Duraan

Vakansie

Moerkoffie en ouma se boerebeskuit
Bacon, eiers en vars witbrood
Katjiebotter en stroop
Cream Soda met baie ys
King Cones en KitKat
Koerantpapier- vis en slaptjips
Kaas-en-tamatie-broodjies
Spookasem en melkskommels
Skaapboud en groenboontjies
Malvapoeding met roomys
Stywepap en sous
Skaaptjoppies met braaisout
Braaibroodjies en Savanna Loco
Aartappels in foelie en knoffelbrood
Ma se gin en tonic
Pa se brannas en Coke


 

Stephanie Smith

Smaaklike herinneringe

Ek wil weer ’n kind wees
wat lekkers eet en boeke lees,
wat met my ouma winkels toe loop
om Checkers se koekies te koop.

Vat my terug na kindwees
wat partytjies hou
en vir ’n week lank saam met my ma
die lekkers aanmekaar bou
– dat dit soos karretjies en prinsessies lyk –
en kolwyntjies bak wat lekker ruik.

Ek wil weer ’n middernagfees
op ’n kermisbed hou
waar ons Disney-video's kyk
en aan Ghost Pops kou
en groen en pers gaskoeldrank drink ...
sonder om aan siektes te dink.

Vat my terug na my ouma
wat piesangs-met-stroop braai
of hoenderboudjies met ’n komkommerslaai.
Ek wil weer fietsry na die winkel oppie hoek
vir vis en tjips
(toegedraai in ’n bruinpapierdoek).

Vat my na die skool se snoepie
waar ek pouse lank staan
en die skoolklok nie hoor roep nie
           vir ’n Wilson's-toffie
                    en ’n Fizz Pop-suigstokkie
of sherbet wat my mond rooi vlek
en my droë lippe gee, van al die suiker aflek.

Vat my terug na moerbeibome en granate ...
wat ons pluk en eet en mekaar spoeg met die sade.
Vat my terug na die NG Kerkbasaar
vir gemengde jelliepoedings en pannekoek gaar
                 en kerrie en rys
en die reuk van anys.

Kindwees was pret
maar nou soek ek net my bed,
want ek is volwasse – en ernstig verby,
oor gesondheid en vars groente sny,
want Google-diëte doen hulle rondte
en ongesonde kos gee mens bloedklonte!

Maar wat ek het is herinneringe so      smaaklik
van kos en kuier (en kindwees, hoofsaaklik).
Ek het altyd so lekker geëet en lag
– sonder skuldgevoelens in die nag –

Maar nou het Netflix vir my geleer
dat diere eet moet jy definitief keer,
want hulle verdien om asem te haal
– hulle praat selfs hulle eie taal!
         Keto sê weer BROOD is sleg
            net ROOIVLEIS eet is reg.
Banting belowe dat VET is goed
maar vermy tog enige iets SOET.
     Fasting wil hê jy moet kos vermy
want dán is jou liggaam eers oukei ...
en ons almal weet MSG gee jou kanker
net ORGANIES is jou anker!

Maar noudat ek my eie kindjies het,
wil ek hulle uit die skuldgevoelens red
want ek weet nou lewe is té kort
vir geen soetigheid op jou bord.
         Want om alles te vermy
is daar geen smaaklike herinneringe
wat    by   jou    kan   bly.


 

Annabella Coetzee

Bitterbekkie bid

Woorde val en spring rond in my mond
soos springmielies op die grond

Ek byt die wrede woorde stukkend
My bitterbekkie bid
Ek proe soet-suur herinneringe
Ek verteer die hartseer woorde
wat rond en bont lê in my siel
Pyn verniel

Verlore woorde
 wat ek met trane optel
 skommel en spring
 en rol nou
bollemakiesie in my kop

Halsoorkop verlief

Soetste gedagtes word met teer woorde geklee
georden om my liefde vir jou te gee

Jy is terug
Jou soet soene smaak soos stroop
wat my honger siel wil stil
Ek het jou lief
Soos God se wil


 

Mariana Holtzhausen

Voedsel vir die siel

Sodra dinge moeilik gaan in ons lewe, of wanneer ons hartseer, ongelukkig of bang voel, hunker ons na trooskos en wil dan bewe.

Ons stop ons vol allerhande eetgoed. Sommer enigiets wat voorkom. Selfs soetgoed.

Solank ons net kan kou en sluk. Iets soek vir geluk.

Eintlik rig ons net meer skade. En prop ons vol van skanse.

In plaas van beter voel, voel ons net slegter en omdat ons slegter voel eet ons meer en omdat ons meer eet voel ons erger

So kringloop die hele proses in ’n soort sooibrand wat jou van binne af opvreet en jou laat met ’n groter brand.

’n Seer en leegheid; nietig en die trooskos word die gif waarmee ons onsself uiteindelik vernietig.

Maar daar is ’n ander soort voedsel wat ons van binne af genees.
Die voedsel wat ons verkry van die Heilige Gees.

Dis gratis en verniet. Dit ontneem ons van ons verdriet.

Al wat ons moet doen, is om te vra en Hy sal jou op Sy hande dra.

Ons word genooi om te kom aansit by die feesmaal en te eet soveel ons wil.

Hierdie kos genees en vul die hongerpyne van seer en smart.
Hierdie kos is lig op die gemoed en strelend vir die hart.

Jy sal nie weer hunker na trooskos maar sal smag na die dors en troos vind op Sy bors.

Dis manna, dis kos uit die hemel, dis voedsel vir ons siel en sal jou gemoed nie verder verniel.


 

Tanya Coetzer

Die tafels weet

Warm melktert-aromas sweef deur die lug
Om die mooiste versierde huis teen die kus
Ouma Tienie se geregte, ’n bakkerykoek
Voorgereg, hoofgereg, ietsie stroopsoet
Tien koppe buig, twintig oë sluit
’n innige danksê net voor die maaltyd
Oor die kosborde klink sjampanjeglase
Op ’n nuwe jaar, en vriendeliker base!

Elders op die platteland ruik die lug na varsgebakte potbrood
Onder die deur is ’n briefie aan Kersvader geskryf in potlood
Pa en ma werk hard vir die beste Kerstyd
’n enkele broodjie met die rooiste konfyt
Vier koppe buig, agt hande sluit die bond
’n dankbare lied vir die goud in die mond
Oor die kosborde klink lagklanke en stories oor die verlede
Op ’n nuwe jaar, vol seën en beantwoorde gebede!

Elke huis het sy kruis met eie olifante wat hul ook maar stukkie vir stukkie moet eet
Dis vasbyt en raakbyt, maar die waarde van samekoms bly ongemeet

Die etes neem in, die tafels weet
Hoe dikwels dan die mens vergeet
Dat alhoewel die etensklokke nie in elke huis dieselfde lui nie
En almal nie dieselfde kos in hul borde kan kry nie
Was en sal maaltye altyd steeds
Die sentraalpunt van saamkoms wees

Die etes neem in, die tafels weet
Dat kos verenig, herenig, en welkom heet
Soos net níks anders kan nie


 

Johan Eloff

Sielskos

Stilswye, die knaag aan hartswande
Soos hongersnood knaag aan jou krag
In sy woorde, slaan sy haar tande
Sy't lank genoeg daarvoor moes wag

Soetsappig, sy smeulende skrewe
Haar mond word dor soos sy lees
Haar binneste smag en dit bewe
Sy woorde, soos kos vir haar gees

Ontbyt is sy "Môresê"-woorde
Belangrikste deel van haar dag
Sy boodskap vanuit alle oorde
Die kos waarna sy daagliks smag

Haar middagmaal is ’n hartjie
Om haar te laat weet sy's gemis
Dis soet oor haar siel soos ’n nartjie
Peuselry, wat sy opraap beslis

Aandete vir twee word gewissel
By foonskermlig in die nag
Hul voer mekaar met liefkosing
En soms laat hy haar bietjie lag

Die liefde, nes lyf, kort soms voeding
Al is dit ’n langafstandmaal
"Gesonde verhouding"-vergoeding
Die maal word met "wegwees" betaal

Dis vreemd hoe gou mens kan vol raak
Van ander se feesmaal-gesels
En hoe onbehoorlik jy vet word
As hulle jou daarmee omhels

Maak seker jy smul aan hul woorde
Maak seker jou honger's geblus
Klets terug in jubel-akkoorde
Want net môre is jy dalk wéér lus

Wees dankbaar jy't nagereg-kelkies
Wees dankbaar jy eet nie alleen
Daar's ander wat smag na geselsies
Wat sal smul, aan jóú "weggooi"-been


 

Gerda Taljaard

proe die nag

om middernag baai sy
in die yskas se vriend’lik lig
glansend oor haar gesig
en oor die parmaham
en agurkies en amandelvla
en appeltert en dadels
alles uitgepak op die tafel

want waar sal haar hulp
vandaan kom, terwyl haar man
en die kinders slaap, kou sy
’n kanaal oop deur jare se koue
seks, kantoorwerk en kerk
tot in Milaan en Amsterdam
waar sy ’n ander lewe smaak
in kroeë, bistro’s en koffiehuise

en die eksotiese drank en spyse
van ’n minnares se rype lyf


 

Lisa Schwartz

Flirt

Losklos
bietjie-baie besembos
ek smaak jou kos!
sopnat
soetpatat!
snoek en hoender
oopgevlek
lippe-lek.

Olie-kruie-spesery.
My lief, ek like die spel-
ery!
Smeer.
Klits.
Soteer.
En so meer ...

Daar kom die Alibama
my poeding, my pie,
hy kom om te (l)aai!
Wie's jou muse?!
My chef.
No excuse!

Soetkoekie.
My eie
Resepteboekie.
Craving jou muis –
Ek's amper tuis.


 

Madelie Broodryk

Die lang pad

Elke oggend as opstaan – wens ek ek was al dood.
Daar is niks om te eet nie – net ’n klein stukkie brood.

Die lang pad vir vandag begin al weer –
jy word sleggesê keer op keer
’n Piesangskil, ’n leë sak ...
Wat kan ek vandag in my sak pak?

’n Twee rand word vir my gegee.
Ek moet dit eintlik aan iets nuttigs bestee.
Dan dink ek terug aan my dogtertjie by die huis,
waar ons elke dag geslaan word met die vuis.

Die paar goedjies wat ek uit die trashcans kon kry,
weet ek moet my verbly.
Die glimlag toe ek by die huis kom is vol hoop:
sy gee nie om nie – my poppie van die ashoop.

Dis laat die aand en vuil hande kom tot rus.
Die lang pad van armoede het my uiteindelik aan die slaap gesus.


 

Sunita Keyser

spys

dit bot en stulp
my woorde eet
van die alfabet se spys
bring lote na vore
skep strofes
groei sinne
wat uit die vrugbeginsel rys
die abc van skryf
letter vir letter
rondgeskommel
om te verorber
te vul en versadig
eet dan my woorde
’n klein voorgereg
op die spyskaart
van oneindigheid
lees om te weet
dat die stom honger kan stil
met die eetmaal wat digters bring


 

Liza Vermaak

Sielskos-mense

Kom ons raak sielskos-mense.
Mense wat mandjies vol liefde uitdeel en resepte van wysheid skryf.

Hulle kom gewoonlik aan met
vroegoggend-mieliepap en absolute aanvaarding
van elkeen wat saam hulle aan tafel sit.
Hulle bak vir jou koeksisters met soet
sagte oë wat niks miskyk nie.
Hulle help kerf aan die biltong wat
soms te taai is om te kou.
Hulle dra liefde aan soos ’n warm koppie boeretroos.

Hierdie is ons mense.
Mense wat soms vergeet word in ’n gejaag
na kos wat nooit sal versadig nie.
Hierdie is ons mense.
Mense wat hulle pakkie seerkry sal
neersit om te help dra aan iemand anders s’n.

Kom ons raak sielskos-mense, want al wat
ons kort is liefde en begrip om hierdie
honger wêreld te versadig.


 

Hester Steenkamp

Die kombuistafel

Ek sit toe-oë by jou lang houttafel –
my vingers vryf oor die geskende blad
waar jare se letsels diep gegroef lê
en ek hoor weer hoe jy sê
dat jy alles het wat jy nog ooit wou hê

Ek sien jou weer hier staan
met jou blou voorskoot aan
en ’n meelwolk wat uit die tafel opstaan
as boepens brooddeeg daarop land,
glad geknie deur jou vetgesmeerde hand

Ek ruik die karamel van honderdduisend ure hier
waar ek vandag jou lewe vier
Die reuk van vanielje, anys en kaneel,
gemmer en neutmuskaat,
liefde en suiker en papawersaad
vou hul arms warm om my lyf
soos ek steeds oor die tafel vryf

Blinkgepoetste flesse op die rak
staan in netjiese rye weggepak –
beet en boontjies en kwepers,
tamatie en makataan
Jy het bêre vir later goed verstaan

Ek proe die soetsuur stroop van samesyn –
kaiings en mosbeskuit,
warm plaasbrood en korrelkonfyt,
suurkos en vaalvleis en wildspastei
met liefde deur jou voorberei

Om hierdie tafel is gepraat en gelag
aan die begin en einde van elke dag
Hier was almal altyd versadig en verkwik
en ek vryf vir oulaas oor die blad
voor ek vir die laaste keer hier uit sal stap


 

Melody de Winnaar

dis ’n twak-maal

hier by my is iemand se kook en geniet
en my pakkie goedkoop sigarette

ek maak myself tuis,
met kers in plaas van kandelaar

terwyl my hande tas na een van min sigarette,
soek ek iets waaraan my oë kan proe

het dit!
gebakte skaapboud met piepklein aartappels
rondom ’n bord gerangskik

my vuurhoutjie knars oor swael
laat ’n effense branderigheid in my neus

die eerste teug is hemels,
die tweede los ’n euforie van behaaglikheid

rookdampe gord die kombuis in dofheid
ek weet die sigaret en fotokombinasie
is genoeg om my honger te stil

vir nou


 

 

Jan Schaafsma

Er staat niet wat er staat

Hier volg die Woord soos in teeblare of alfabetsop onthul:

Glo net, gló! en vis en brood
vul elke townshipmaag in nood.1

Nee! Leer elke kind ’n vak;
om vis te vang en brood te bak.2

Heuning bied ons, ja, en melk –
dit kos maar net ’n stem van elk.3

Gee elke mens ’n lappie grond
vir mielies plant, van hand na mond.4

Ons voel die armoed aan die tand
en maak ’n kind vir toelaagrand.5

Wyk liewer na Amerika uit
en eet McDonalds vir ontbyt.6

Voer in, voer in, dis spotgoedkoop.
Laer rakpryse skep hoop.7

Tamaties en ywe smaak na zat
groen gepluk, subiet gekrat.8

Hoe dúrf Pierre, my god van kos,
kaviaar en truffels net so los?9

Dáái dromme het die beste oes;
voertsek brak, al grom jy woes.10

Ek wens ek kon die drang afskaal
vir soetgoed ná die aand se maal.11

Dit reën; die oes kan nie begin;
die mielieprys skiet hoogtes in.12

Nog ’n kak dag in Afrika: net
braaivleis, sonskyn, Chevrolet!13

O Heer, ons dank dat U nie faal;
darem korsies vir ’n maal.14

Kostelikheid oor kos kos min.
Herkou gerus aan elke sin.*

Voetnote:

  1. Hoeveel vitamien is daar in "Groot"?
    2. Die skool brand af, daar val die dak ...
    3.  Ná kiesdag sal hul hoop verwelk.
    4.  ’n Vrugteboom dra nié terstond.
    5.  Vir kos sal ons maar iets verpand.
    6.  ’n Hartaanval, die gim ten spyt.
    7.  Ons boere moet verkoop en loop.
    8.  Vir ongekneus se huis toe vat.
    9.  Geen brood? Eet koek, sê Marie mos.
    10. "Survival of ..." se ma se ...!
    11. Vinger-in-keel genees die kwaal.
    12. Vir elk ’n lepel pap te min.
    13. Hun ogen puilen uit van vet.
    14. Op skool gaan my gedagtes dwaal.

*En skryf ’n beter einde of begin.


 

Lynette Vorster

Kou, sluk, verstik

Swart, bitter koffie is jou keuse, nie my keuse nie.
Dis die gevolg van my tekort.

Leë beursie, leë spens. Eenvoudig. Nie jou raad oor 10 ways to save
on your grocery bill nie,

Ek verbeel my ’n snytjie brood met 20% fat margarine is ’n Wimpy-burger.
Daar is mense wat minder het.

Wees dankbaar vir die stukke budget-hoender. Kook sop. Chicken
à la King bevorder cholesterol.

Ander se positiewe bullshit word in oormaat vir my opgedis.
En my kop sak in my hande terwyl ek daaraan verstik.


 

Roelien Geyser

Salie en saffraan

Ek wonder soms oor jou
’n Vreemde mengsel van kaneel en rou

Ek sien jou tussen roosmaryn en mint
Jou ewige soeke om geluk te vind

’n Duisend geure verswelg deur smart
Komyn en kwepers verborge in jou hart

Ek sien nog jou geboë rug
Verstrengel met die hoop vir ’n vroeë marakkavrug

Ek wonder soms waar is jy nou
’n Gebed dat salie en saffraan jou altyd sal omvou


 

Estelle Diederiks

Ons het onsself vergeet

Die mensdom het homself versaak
Gegroei en ontwikkel bó homself
Iewers die pad byster geraak.
Ons gee aandag aan alles behalwe onsself
Ons het vergeet om na onsself te kyk.
Ons voed ons daagliks met die verkeerde kos
Met sosiale media en dies meer,
Ons lewens snel verby, en tog ontbreek die leer;
Die wysheid oor onsself vind ons nie.
Ons vergeet om ons siele, ons menswees te voed.
Van brood alleen kan ons nie lewe nie;
Al is daar miljoene ondervoed.
Ons smag na meer.
Ons harte skreeu!
Wanneer gaan die mensdom leer?
Nóg ’n einde van ’n eeu.
Ons bevredig ons met aardse dinge,
Ons jaag na die wind,
Ons wend ons tot verslawinge,
Alles wat ons bind.
Draai terug mensdom!
Draai terug na My.
Eet My Woord
Dit gee lewe en rykdom
Dit gee krag wanneer jy ly,
Dit transformeer,
Gee wysheid, leiding, verantwoordelikheid,
Dit maak jou meer en meer,
’n Koningskind in heerlikheid ...


 

Renette Vosloo

Laat my nooit verlore gaan nie
(’n versugting in drie dele)

Oorskiet (1)

dalk bly daar eendag
(as ek gelukkig is)
iets van my oor –

beentjies
in ’n uilebol
uit die keel van ’n uil
êrens in ’n oop veld
of ...
koraalkos
stinkend groen
uit ’n haai se maag
op die see se bodem

kom daar iets
van my koel karkas –

die een se dood is
die ander een se brood

Oorskiet (2)

dalk bly daar eendag
(as ek gelukkig is)
iets van my oor –

wittige nuttige beentjies
êrens
op die Vrystaatse vlaktes
waar die raaf en die roofvoël sweef
van vleeslike beendere leef
of ...
op ’n dierryke delta
waar hiëna en jakkals en aasvoël
beendere skoonvreet

was my kadawer
bruikbare oorskot:
stof tot stof

Nuttig (3)

dalk bly daar eendag
(as ek gelukkig is)
iets van my oor –

kompos
ingespit in ’n boord
in ryke grond
kan die aarde my nuttig
word ek kos vir ’n boom

bloeisels in die lente
ryp vrugte in die somer
sappige vlees onder tande gebreek

neem en eet,
dit is my liggaam
nuttig vir my
en nou vir jou.


 

Estella Mouton

Sakrament

Jy leef nou van die uitgeteerde woord
om in die hoeke van die huis te kan pas
deur skrefies te kan glip

spoorloos oor sneeustiltes te kan loop
die gestyfde tafeldoeke wit en ongestoord
waarop niksseggende woorde
                                 op dooie tonge draal

agter die asbliksakseile van ’n spookskip
in die karige holtes van woordleegtes
oefen jy jou stram parkour
                                    en haweloosheid

berei jy jou spyskaart jou vangs van die dag
grynslag jou papierdun skelet
                    vou die lieflike beendere oop

in die swart seerowervlag van die nag
flets jou verstarde oë lospryse
                                     uit die doderyk

met die stotterende monosillabes van al die eensame ure
weef jou onaangeraakte hande
                        ’n hunkerende woordeweb

geluidlose langbeenspinnekop uit vergete kripte
uitgehonger skuifel jy nou oor die eter
in die loomwit oë van die gemeste woord
                   dartel Beëlsebul se vlieë.


 

Ernie Mellet

Ontdekking

Hy sien nie hoe die vet sy broek besmeer nie;
Wat is nog ’n vlek meer op ’n reeds besoedelde, geskeurde broekspyp?
Dit loop uit ’n halfgeëte hotdog wat iemand weggegooi het,
maar daar is nog ’n stukkie hardgeworde worsie tussen die vlieë en die myte
en dis oorlewing;
iets om die hol kol effens meer vol te maak ...

Sy skuif die kartonne eenkant toe en maak die Kentucky-pakkie oop
Daar’s net ’n harde been binne-in, maar tog los velletjies vleis
Sy kou dit gretig af met bruin kankertande en soek na nog
Onder in ’n Pick n Pay-sak is twee uie; reeds pap en voos
Sy los dit; selfs bergies het tog standáárde!
Sy trek die longkankerwalms van haar entjie in ...

Hulle is vaak en definitief nie van werk
Vaak van niksdoen en rondslenter van drom tot drom
Teen die aand gaan lê hulle op ’n hopie agter die konkas
Dis koelerig en hulle trek die gunplas-seil oor hulle
In die agtergrond hoor hulle hoe Julian uit ’n Bybel voorlees wat hy by sy maat geskollie het:
"Aan die begin het God die hemel en die aarde geskape,
en die aarde was woes en leeg ..."
VERDOMP!


 

Liezel Hanekom

Wilskrag teen vergryping

Daar is skadu's in my gemoed,
sluiers voor ’n vals fasade.
Storms wat diep binne-in woed,
’n innerlike tirade.

Troostervriend van korte duur,
maar wel ’n soete maat.
Vervulling van ’n oombliklike vreugde,
al slaan die klokuur laat.

Maar tog,
wanneer die soet nasmaak vervaag
en ’n weerkaatsing die waarheid praat,
kom sit spyt op die krop van my maag.
Selfverwyt en nog meer, selfhaat.

Kloue gryp my wilskrag stywer vas,
dis moeilik want min verstaan.
Dis nie sommer enige lawwe las
om te keer dat my mond oopgaan.


 

Lizaan van Heerden

Hoop

Hoenderbene plaasvervangend vir skulpe
by Tweede Nuwejaar se strandmakietie
terwyl my sinke en my planke
die nuwe jaar inwaai ...

Maer skaapstertjies as delikatessen
langs ’n oop Karoo-braaivuur
onder sterre terwyl die stilte uit die
droë, dooie bossies hyg ...

Trifle glimmend op die rooi Kerstafel
vir onthou van Ver Ouma se
blou oë en lagmond
terwyl die son swart word van verlang.

Want ons sien die prentjies
soos dit wás
en soos dit weer sál wees –
op die tippie van my tong.


 

Marietha Moolman

Donderweer
Uit die hart van ’n boer se vrou

My gebed het opgeraak
Ek het oorleef met skietgebedjies
Ek is moeg gehardloop in hierdie wedloop – moeg
Die boere is moeg – ek sien dit – slegs elke ou wat sy eie skoene volstaan
Weet hoe dit VOEL!
Net een tree op ’n slag
Een dag op ’n slag
Môre voer ons weer ...
Ons kan ten minste nog ’n bietjie, daar is wat nie meer kan
Vanoggend kom sit ek by die Here se voete – ek kan nie meer –
Wat nog van die boere?
Ek praat met Hom
Ek stort my hart voor Hom
Ek wil dit eers nie hardop sê nie maar ...

"Here, dis droog ...
Nie net daar buite in die Karoo nie
Maar ook hier binne my!
Waar is my olie Here?
My lampie was vol!
Waar is dit Here, waar is dit?
Waar is die lekplek dan?
My vel is dun my hart is klein
My trane vlak
My lampie leeg
My hart kry ’n krakie elke keer as ek die honger sien
Ek wil my oë toemaak om my hart te bewaar maar
Here ek dink my olie het uitgeloop
My vreugdeolie
Daar is krakies in my hart
Ek het nie meer woorde Here
My gebed is net ’n sug
Ons boere trek swaar Here
Ek is ’n boer se vrou Here
Ek is mos ook lief vir diere Here – baie
U het my dan so gemaak
Skape wat moeg en moedeloos weg van die leë voerkrip loop
Nie om te gaan wei nie – daar is niks meer – maar om te soek
Ja ek soek ook Here ... ek soek U
Niks in hierdie lewe maak mens en dier versadig
Behalwe U Here.
Ek weet dit baie goed Here
Uself het dit vir my kom leer
Van kleins af
U is en was nog altyd daar vir my
Ek het dit gevoel
Ek het dit gesien
Ek het dit geweet
Ek moes baie berge klim Here en deur valleie,
Valleie met doodskaduwees en droogtes – U weet mos –
U was dan self daar, elke oomblik elke sekonde – vir my
By my
Met my
As ek terugkyk dan sien ek hoe U my paaie gelyk gemaak het.
Ek sien hoe U my opgetel het,
Gedra het
Vasgehou het
Toegevou het in U skoot
Teen U bors vasgedruk het
Ek het U hartklop gehoor Here
Ek het dit nie altyd in die situasie besef en beleef nie
Maar wanneer ek terugkyk ...

Diep in my hart voel ek en weet ek hoe U lankal vir my wag,
Wag dat ek hier by U moet kom sit
U was nog altyd net hier
Ek het U weer gekry Here
Nou, in hierdie omstandighede
My hart se krake met U kom deel
Nie skaam te wees daaroor nie want U
Gaan dit weer heelmaak,
Volmaak,
Versadig maak
Here, ek kan nie wag vir die dag –
Die dag wat dit gaan kom reën in die Karoo
Wanneer die veld weer uit sy nate bars
Kalwers wat bokspring
Lammers wat toe-oë en versadig met vol pensies tussen die ruie bossies lê
Wat skemer resies tussen die kapokbossies hardloop
Ooie wat dikgevreet in kringe lê
Rustig en tevrede aan die herkou
Die bakoortjies, die skilpaaie, die hasies, die bokkies, die stoksterte
Voëltjies wat uitbundig sing en ’n harmonie van klanke wat die lug vul
Ja die veld weer vrolik gaan wees
Wanneer ’n boer weer die nuwe dag met ’n glimlag begroet
Al moet hy voor begin
Hy weet sy diere is gelukkig
Ja Here ek kan nie wag vir die dag –
Die dag wat ek ook weer kan terugkyk
Terugkyk en kan sien hoe ek U gesoek het
en hoe U vir my gewag het –

Om weer in U oë te kon kyk
Om U hartklop te kon voel
Die traan op U wang omdat ek die droogte gesien het
U nabyheid en teenwoordigheid te beleef soos mens in geen reënseisoen kan doen nie.
Dis wat mens volmaak
Versadig maak
Ryk maak
Wat jou aanhou laat hardloop met volharding – tot die einde"

Ek gee die hanslammers melk – weeskinders van die droogte
Daar is ’n diepe dreuning in die lug
Donderweer
Ek kyk op
Daar is dan nêrens wolke nie ...
IETS roer in my binneste
Wat is geloof dan anders as om seker te wees van die dinge wat ons hoop en oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

"Here Jesus, dankie dat U met elke boer is
Gee asb vir hulle wysheid en insig om die regte keuses te maak
Die regte besluite te neem
Mag elke boer by U kom sit vandag –
Dankie dat U hulle moedeloosheid, frustrasies,
Hartseer, kwaad, teleurstelling, depressie watter krake daar ook al is –
Dat U U liefde daaroor sal laat reën
Dat al die krake sal toespoel
Druk hulle styf teen U bors
Dat hulle U hartklop ...
Kan voel
Kan hoor
Kan sien
Dat hulle die beloofde land kan sien – soos Kaleb
En nie die reuse en droogtes wat in hulle pad staan nie.
Dat hulle met nuwe moed
Hoop
Geloof
Die wedloop wat voorlê
Met VOLHARDING sal hardloop
Dankie Jesus
Amen"


 

Christelle Truter

Alles met ’n te-

Het ek jou versadig my siel?
Met borde vol versnaperings gevul met genadelose plesier, het ek jou verniel?

Sonder om aan die onverwagte lying te dink was daar altyd iets om te vier,
Sal ek myself kan oorleef?
Al die soetigheid van versoekings, en dit wat saamkleef.

Verborge gedagtes wat ’n rusplek soek
Êrens geborge in my ouma se ou malvapoeding en soettand-koek.

Ek weet daar is baie idees daar buite
Gesonde verbrousels wat vir my aanstaar en gluur deur die ruite, net vir ’n rukkie, net lank genoeg, sodat ek twee keer moet dink voor ek nog ’n snytjie versoek.

Alles met ’n te-
Of so het my ma gesê. Toe hy uitloop uit my lewe het my te- in ’n bord gaan lê.
Ek het hom daar gaan vind waar hy my nie kon verlaat, hom opgevreet tot hy slegs naarheid agterlaat.

Het ek jou verniel my siel?
Toe ek hom wou vervang met wat in my bord rondhang. More is nog ’n dag ...

’n Dag van weer probeer en harder keer en
tot die duiwels in my kop my los, sal ek elke dag smag na nog meer ... kos.


 

Christo Meyer

’n Droë been sonder vleis

Toe ek na hoeveel trane
Een oggend teen jou vasloop
Droog my woorde op
Soos ’n dam in die Karoo
Waar reëndruppels net so skaars is
Soos vars vrugte en groente

Die band tussen ons twee
Was soortgelyk aan dié
Van ’n suigeling en moedersmelk
Nou is daar niks anders
As ’n naar kol op my maag

Die woorde wat uit jou mond kom
Vloei soos ’n rivier
Iewers op die platteland
Waarheen die inwoners daagliks stroom
Om aan die lewe te bly

Stotterend probeer ek
Deel raak van die gesprek
Soos ’n gas by ’n deftige ete
Maar my tong haak in my keel vas
Soos ’n outydse grammofoonplaat
En ek verstik byna

Sê my, hoe kan jy so kalm wees
Terwyl dit wat gesê was
Steeds oor my kop hang
Soos druiwe aan ’n tak?

Hoe kan jy net maak
Asof niks gebeur het nie
Terwyl ek elke dag
Stukkie vir stukkie kou
Aan ’n droë been
Sonder enige vleis aan
En smag na koningsmaaltye
Van baie lank terug?


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top