Eet my woorde: Inskrywings (4)

  • 1

Foto: Unsplash

Hier is die vierde groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Esmarié van der Westhuizen
Gameeda Henry
Anra Plaatje
Madelein Klopper
Andries Fourie
Johan van Niekerk
Marie Le Hanie
Marthinus van Rooyen
Tasneem van Rooyen
Marieke Buys
Hesré Visagie
Elmarie Visagie
Pieter Lübbe
Hadley Basson
Bernice Saulse
Johan de Jager
Theolla Langenhoven
Jani van der Watt
David Bezuidenhout
Elsa-Nel Strauss
Stefan Jansen van Vuuren
Dries van Heerden
Marie van Rensburg
Jerzy Koch
Zelda Esterhuysen
Hendrik Botha
Loretta Szikra
Maryke Kitching
Avril Julia Crouch
Mariena Stander
Jeffrey "Oarasib" Hartzenberg Susan Smuts
Lee-Anne Cornelius Benito Trollip Renette Symington Andries Breytenbach
Esmé Dercksen Leonita Coutts Machtilt de Beer  

Esmarié van der Westhuizen

Dis doodstil op ’n Sondagaand
wil opstaan en gaan
tot ek is by die maan
ek hardloop agter jou aan
want die klere wat jy dra is een stukkie vyeblaar
jy vertel van manna wat val hier en daar
jy is grondboontjiebotter-lekker
ek soek jou en ’n Oukersaand-krekker
jy is my groot jolyt
my moskonfyt
jy is mos
my bord boerekos


 

Gameeda Henry

Kosmaak

Gekapte uie wat in olie braai,
laat jou neus jou maag verraai
gevoer na hoogtes van hongerte
verlei deur dekadente geure
van verskillende aromas en kleure
met koolfrikkadelle, katvis, kebabs en kasserolle.

Kosmaak is soos ’n simfonie
waar die bestanddele note is van die melodie,
potte en panne, die tromme, die simbale,
luisterryke liedere, die eindresultate,
nooi jy as dirigent jou gaste met bon appetit
vir bredies, braai, breyani, en bobotie verniet.

Verskeie arias en wysies word ontlok
ou resepte wat opnuut ontpop
nou en dan word geïmproviseer
vir magies wat vra vir encore, vir meer,
slaan jy met elke dis die spyker op die kop
met smoortjies, soetpatat, sosaties, selfs
sop.

Om dinge makliker vir jou te maak
hou getrou by ’n weeklikse spyskaart
wissel rooi en wit proteïene af elke dag
varieer disse na vier weke op ’n slag
om "wat-moet-ek-maak" totaal te vermy,
kook pampoenbredie, pizza, paella of pastei.

So is kosmaak stresvry en sonder pyn,
lang inkopielyste wat in die niet verdwyn,
die geheim my vriend is om genot te ervaar
en tevrede eters wat dink jy’s raar én waar,
want deesdae se gesukkel laat my koud
eet liewer lewer, lensiekerrie, lasagne of lamsboud!


 

Anra Plaatje

Vir my

hallo vir die soveelste keer
ek is hier, kan jy my voel
ek weet jy is seer
jy moet eet, vir my

my magie is leeg
maak jou oë toe dat jy nie sien
die groen lagie om die gaar deeg
sal jy dit nie proe

ek voel jou pyn
die trane oor jou wange
in jou mond is dit fyn
en jy sluk dit, vir my

krummels op die bord
elke walglike hap was vir my
onthou, eendag sal ek groot word
maar vir nou, met ’n skop, dankie ma


 

Madelein Klopper

Eet jou woorde

Soetworteltjies, blomkool en kaassous
Rys, gebakte aartappel
Appelkooshoender en sappige sampioene
Romerige malvapoeding
Sien altyd uit na driegang se soetding

Sagte groenboontjies en spek
Pypkaneel kalbassiepampoen
Ryk stampmielies met room en kaas
Peperbiefstuk en speserye-uie
Fluweel pepermenttert
Kleur in elke bord, maak elke dis die moeite werd

Stadig verslind my pen papier
Spyskaarte verruklik swart op wit
Watertandlekkerte, lusmakend
Bevredigende heerlikheid

Macaroni en kaas gebak
Groen ertjies, botter en uie
Kraakvel varktjop
Soetsuur pynappelyskastert
’n Tradisionele gereg, amper soos beesstert

Gebraaide roosmaryn en knoffel
Vul die kombuis met geur
Patats, gekaramelliseer, rol in ink
Oor wit papier
En proe gulsig
Spyskaart op spyskaart
aan elke woord wat dit eet


 

Andries Fourie

Ondervoed

aan sy honger hang ’n hemel
maar tussen dit en daar
neffens die dood se sterwensuur
lê ’n lewenslus geblus
en styf hier om sy kring van pyn
brand daar ’n helse konkavuur

wie kies ’n kind se keuses
wie pleeg sy wasdom moord
en kom sy vrae ook tot bekering
of lê die bidlyn duskant brood


 

Johan van Niekerk

So uit die bloute (die onversadigde honger)

Aan tafel het hy saam gesit
Ons opskepborde oorvol gelaai
Ons oë met lus en drang uitgeput

Hy het ons gepaai en gevoer
Ons monde, gedagtes volgestop
Met vetgesmeerde wange beloer

Maar nooit kon ons versadig word
Nooit het ons genoeg gehad
Al lek ons elke krummel uit daai bord

Die honger en die pyne het bly staan
Ons duime druk-druk en vee
As die sweet op ons blouglansgesigte uitslaan

Met sy lyf in die palm van ons hand
Word ons eensaam deur die wêreld omvou
Alleen skreeu ons teen ons verstand

Glas en plastiek word ’n vloek
As die werklikheid ons ontwyk
En als is Instagram, Twitter en Facebook

Het jy gehoor, gesien, gelees
Die skerm vervang die brood
Ons eet net posts en shares en vrees

Ons vul ons oë en elke drang
Maar versadiging is daar nie
As die Wêreldwye Web-god ons vang

Vasgevang in die gonsende datanet
Word ons oorlopens toe volgestop
Maar net ons ego’s loop oor van vet

Ons brose siel bly knaend honger
Maar ons bly vasgenael voor elke skerm
Elke app maak ons mooier en jonger

En dan eendag ... so uit die bloute
Besef ons die eensaamheid
In ’n huis gevul met mense ...
Ken ons niemand ...
Leef ons eenkant ...
... verby mekaar in stilte ...
Saam met almal is ons alleen ...
Besef ons eendag ... so uit die bloute


 

Marie Le Hanie

Asblik-klonkie

motor volgelaai op pad,
houers met lekkernye,
gekookte eiers, frikkadelle en slaai
blik met koekies het ma nog gebak

knibbel aan ’n appel,
knaag aan ’n heerlike stuk droëwors
’n knippie sout saam met die gekookte eier
slukkie koeldrank vir die dors

motor word gevul met brandstof
lang pad lê nog voor
daar gewaar ons die klong
kop in die vuilgoeddrom
op soek na iets te ete vóór die donker kom

dankbaar kry hy ’n piesangskil
gulsig knibbel hy die sagte effens soet maar bitter buit,
my hart ruk en skaamte maak my lam,
is dié wat ’n honger kind doen?

vinnig gryp ek ’n kardoes
plaas hande vol eetgoed as aalmoes ...
waarheen het die klong verdwyn?
my hart klop in my keel,
waar is hy heen?

straat op en straat af
ons móét hom vind
die kind is honger en nog ’n donker nag wag ...
uiteindelik gewaar ons hom!

die aalmoes-kardoes
hou ek by die venster uit
soos blits gryp hy die kardoes en hol
ek gewaar die swerm honger jongens agterna

kan dit wees?
soveel honger kinders dié op straat ...
veg vir jou maal hoe groot of klein
veg vir oorlewing,
honger ...
dis ek of jy.


 

Marthinus van Rooyen

Smagting

Dit is my staanplek hierdie.
By hierdie robot is ek tuis!
Dag na bruinbrandende dag smeek my geoefende hande;
knieë knak eerbiedig; mond gaan oop en toe:
  "Dankie Tannie vir die toebroodjie."
  "Dankie meneer vir die geldjie."
Met die gawes kan ek tydelike verligting koop,
maar my onlesbare honger soek meer as dit!
My smagting word net al groter.
Ek gil met oopgesperde mond
teen die gesigte wat strak verby my staar:
"Sien tog raak my dieper honger en dors!"


 

Tasneem van Rooyen

Die leë koskaste

Die enkelma kyk na haar seun,
haar grommende maag moet opsy gesit word, want sy is die enigste op wie hy kan steun.
Hy kyk na haar met sy blink oë;
sy sit met haar diep, hartseer denke, ingetoë.
Wat het geword van "die lewe is ’n lied"?
As enkelma is daar net soveel wat jy jou kind kan bied.
Haar donker, leë koskaste het ’n metafoor kom word vir haar lewe.
Hy het haar alleen gelos, maar tog moet ons vergewe, 70 x 7.
Maand na maand is daar byna nie genoeg vir albei om te eet,
hoewel sy daagliks douvoordag opstaan om bloed te sweet.
Spreuke sê: "Vertrou volkome op die Heer",
maar hoe doen jy dit na al die jare se seer?
Wanneer sal die ellende en swaarkry tog stop?
Sy magie is leeg en haar geld is op.
Ja, haar leë koskaste het ’n metafoor kom word vir haar lewe,
tot sy eendag besluit het om ten volle te vergewe.
Sy kon die kettings breek en haarself optel;
sy kon ’n slag haarself en haar kind eerste stel.
Op ’n dag beskou sy aandagtig die helderblou lug;
die bejammering van ’n enkelma word skielik ’n klug.
Nuwe avonture en lewensveranderinge wag,
sy is uit die kloue van die status quo se mag.
Sy magie is nou vol en daar is kos in oorvloed;
alles oor sy ma geglo het aan "hou goeie moed".
Haar vol koskaste het ’n metafoor kom word vir haar lewe:
danksy haar vermoë om te vergewe, het Hy haar verhewe.


 

Marieke Buys

Rooiwyn

Sy is rooiwyn:
Gesofistikeerd, maar nie almal se smaak nie.

Tyd maak haar eksklusief,
maar ook swaarder.
Donkerder.

Sy los ’n droë smaak op jou tong
en maak jou lippe pers,
maar sy's die vlekke werd.
Onder haar invloed
word jy nie dronk nie –
Net rustig.

Haar soetbessienote breek
subtiel – elke dan en wan –
deur die bitterheid van die
gefermenteerde druiwe,
wat maak dat net een glasie van haar
nooit genoeg sal wees nie.

Die aroma van die eikehoutvat
waarin sy jare lank moes ryk word,
verryk die bittersoet geure
wat harmonieus op jou tong dans.

Sy is smaaklik,
maar net as jy van rooiwyn hou.


 

Hesré Visagie

Hongerte van ’n straatkind

Gevul met honger verlange,
staar ogies uit onder ’n verslete jas
wat lankal nie meer pas.
Heerlike disse staan uitgestal,
families wat skaterlag,
terwyl straatkinders na ’n bietjie warmte smag
op ’n yskoue wintersnag.

Die hongerte knaag aan die binnekant
van sy maag,
maar hy het nóg ’n hongerte:
Die verlange na ’n moeder
wat hom sal houvas,
aan die slaap sing
en met Kerstyd geskenke bring.

’n Kombers so sag en knus,
die leemte in sy hart gevul met die liefde van ’n moeder,
wat die monsters van sy realiteit sal verjaag.
Die hongerte is gerusgestel,
al grom die binneste vir ’n stukkie brood
uit hongersnood.

Diep onder karton,
steek twee kaalvoetjies uit.
As iemand hom net kon help,
teen die ysige reën
wat tans die aarde seën.
Hongerte vlam op,
maar hy klou vas aan die moederlike beeld in sy geestesoog,
met sy kop op die sypaadjie neergelê.


 

Elmarie Visagie

Droogte is ’n hongerte vir water

Hongersnood sak toe op die land,
Trane tref die dor oppervlakte van die aarde
En na ’n lang dag kleef die stof en sweet vas
In die boere se baarde.
Die aarde roep uit na die lug vir reën,
Sodat dit die plooie, diep ingekeep,
Kan uitwis en ondersteun.

Dis soos al daardie honderde eeue gelede:
Sewe jare voorspoed en daarna
Sewe jare hongersnood.
Trane biggel selfs oor die wange
Van dié met ’n harde hart
Net om halfpad op te droog, oë steeds
Gevul
Met smart.

Die mensdom ly honger omdat
Die boorgate en fonteine opgedroog het.
Al wat boere nou kan red,
Is gebed.
Vee was eens op ’n tyd spekvet,
Maar met die droogte het die weiding
Verander in stof.
Bossies is nou net droë takke sonder ’n
Greintjie lewe,
Swak vee se lywe bewe.
Die hongerte onttrek die murg uit hul pype.

Families moet versorg word,
Maar met watse kos?
Hunkerend na ’n lewe vry van honger,
Staan trotse Suid-Afrikaners bymekaar,
Hoopvolle oë opgeslaan na die hemele,
Wagtend op die reën om die hongerstryd
Te kom verslaan.


 

Pieter Lübbe

Verlepte angelier

Verlepte angelier
teug-teug aan jou bier

dis die dwelms
dis die skelms
dis die donker skerms
van jou siel tot jou derms

soms die kurk
soms oopgedraai
plat, pateties en sommer poegaai

môre nuwe dag
wat jou dadelik inwag

bottel, papsak
probleme aanpak

armer, slegter
dít weet ek egter

verlepte angelier
teug-teug aan jou bier
sak-sak maar verder af
met jou rug teen die muur


 

Hadley Basson

Nog net een happie van jou sappigheid

My maag sing liedjies aanhoudelik soos ’n radio sonder grense.
Duidelik en hoorbaar ...
Selfs die ontvangsdame aanskou my met arendsoë.
Terwyl my dermpies bollemakiesie met mekaar baklei.
Dis asof stilte die spreekkamer betree het.
Pasiënte bekyk my onbeskaaf aan
Asof ’n gedruis van ’n geselskapklub in my maag ontstaan het.
Duidelik en hoorbaar ...
Skielik lus ek nou braaivleis met roosterbrood.
Hier val ek nou uit die pan in die vuur.
Toe die helpster my naam noem:
’n Ou honger windjie verlaat my agterstewe soos ’n atleet op ’n wedstryd.
Duidelik en hoorbaar ...
Dit het gevoel asof ek in ’n glas water verdwaal het.
Kos! Kos!
Dis al woorde wat ek geuiter het.


 

Bernice Saulse

Feesmaal vir my lover

Kom, proe
’n stukkie van my hart
En sluk dit af
met liefdessap


 

Johan de Jager

Eet van my woorde ...

Die kosbaarste lewensles wat voortvloei
is om woorde in goud te omskep,
Die diepe waarde van wysheid
is ’n ware wenresep

Soos koel waters in ’n droë dorsland
is ’n beker vol heilsaamheid,
’n bord gevul met omgee
en liefde soos soet konfyt

So staan daar dan geskryf,
’n stukkie droë brood, met vrede daarby
is veel beter as ’n huis vol disse
met groot getwis waar seer gedy

Voedsel is ook sieletaal
en raak ’n ontdekkingsreis,
inner- en uiterlik ’n geestesdis
verby aartappels, pampoen en vleis

Kom blaai dan deur my resepteboek
as ’n skatkis op jou pad,
dit is gevul met hartsbestanddele
Om so te bêre as ’n skat


 

Theolla Langenhoven

Ek is ’n provider

Dis past five innie môre, die eerste drom is buite.
Stoot my 2 m x 2 m- wit sak op four wheels nader:
soekend na treasures.
Om kousel aan my kinta te provide.

Ek sien myself as ’n groene.
An environmentalist on grassroot level.
Krap heeldag tussen parties, funeral-kosbakkies en kiembies –
vir plastic, bottels, kratte en bokse.

Maak dit met sorg en liefde skoon, vir die inweeg,
Want dis my loon.
Die Mandelas lê tussen my melkkanne en bra.
For safekeeping.

Terwyl ek met ’n smile na die spaza shop stap
met my shopping list: ’n brood, sakkie melk,
R5 se appels, blikke Lucky Star pilchards, pak kerse en my BB-tabak.
Dan gaan park ek my 2 m x 2 m virrie aand.

Want ek is ’n provider.


 

Jani van der Watt

Kos smaak anders as ’n mens hartseer is

Volgens my sielkundige –
"’n ongesonde hanteringsmeganisme".
Dit is glad niks nuuts vir my
om ongesond my te bevry.
Beter as om lem te vat,
vel te krap, vleis verbrand.

Dus vul ek die leemte met voedsel.
Maar net soos my geluk,
Bly die "vol" net tydelik.


 

David Bezuidenhout

Versadig of net bietjie verstop

Ag "fork"it man!
Smul jy ook aan ’n skaaptjoppie so nou en dan?
Jy eet hom sommer net-net so,
want so storie raak mos ’n totale "mes" teen die wang.

Deur die sweet van jou aangesig sal jy jou loon verdien.
Te veel kere word ons by die verkeerde tafel raakgesien.
Is Die Laaste Avondmaal waar jy jou wil voed,
of is dit by mense wie jou nie eers met ’n masker kan groet?

Merkwaardig.
Vervaardig.
Vals.
Vol van als.

Elke gram word deeglik ingeklop.
Insta"gram" is nou wat ons honger oë vensters verstop.
Weet jy hoe om ’n vasgestelde resep te lees,
of het Uber Eats klaar jou strokie gereed?

Kom ek maak jou nie heeltemal "bord".
Wat het jy in gedagte gehad, of het alles net ’n "leë-pil" geword?
LitNet ’n bietjie op,
ken jy werklik die verskil tussen versadig of net bietjie verstop?


 

Elsa-Nel Strauss

’n Smeltweg van sleg

Die soet smaak van sjokolade
Na die bitter hartseer; pyn
en die swaar van ewige verlies
Dis romerig in die kies
Maar niks meer nie.

Die soutsappige geur van braaivleis ...
dit smelt in die keel
maar die berge wat jou steek
verdamp nie ook af in jou keel.

Dit bly te veel om
te smelt in jou mond
En vir jou is die enigste skoonheid
In die oggendstond –
die lekker brekkie wat volg na jy wakkerword
Indien moeite en verdriet
nie ditself sal wegsmelt
Word sjokoladekoek en slaptjips
nou jou enigste held.

Opstaan en weer probeer is te veel van jou gevra
Dus besluit jy om nou net iets ligs en soets te dra
Toffies verlig jou hart
Al beteken dit ook jy verloor die tyd
Om te broei oor lewensinsig tussen die smart.

Daar is net een weg vorentoe en dit is boontoe – Boontoe
Al voel dit vir ’n oomblik beter –
soos jy nou hier sit en dink
Om in gesmelte roomys
En nie nog meer treur nie – te verdrink.


 

Stefan Jansen van Vuuren

Mamma maak kos vir Kersfees

Mamma maak kos vir Kersfees.
Hoender in die oond, bykosse reeds op die tafel.
Die vertrek is omring deur Kersfees-versierings
om die atmosfeer te skep.

Ek proe die speserye,
dit neem my terug na my kinderdae.
Mamma se lip-lek-lekker etes
En die stories wat aan tafel vir ons vertel is.

Mamma is in die kombuis,
ek staan langs haar.
Bewonder die wonderwerk in bewerking
’n Bekwame kos-kenner in werking

Ek vertel haar dat ek ook deel daarvan wil wees;
leer kook.
So vat sy my aan die hand
En wys my haar wêreld

Die aroma verwelkom my
En elke keer as ek eet
onthou ek haar
En alles wat sy my geleer het:

Oor kos
liefde
En lewe.


 

Dries van Heerden

Kersfeeskroniek

Na vele weke
se spaar, swoeg en sweet,
breek die Groot Dag aan.

’n Ster verlig die feestafel
met kleur en klank,
hol woorde wat luglangs sweef.
Melodieë meng God's lof en eer
oor tafels wat Kerskos weeg.
... maar die Goud-kind in die krip
skyn dof en half verweer.

Na eet en vele glase wyn,
volg erge sooibrand,
naarheid en luiheid,
onmin en grade van babelas.
Dan wonder mense soms
waar die God van Liefde was.


 

Marie van Rensburg

Die nuus om ag.

Beurtkrag! Beurtkrag! Beurtkrag! Dekselse beurtkrag.
... hier volg die nuus om ag.
Eindelik jip, eindelik brekfis op my se bêrrie bord
... vier bendelede gewelddadig op straathoek gewond
Ag damn, Ma … a …. a my eiers is ysig koud
... kragstasie buite werking sê Eskom is die fout.
Ma, my bacon is wragtig nog in sy maai in bloediglik rou.
... brand woed nog verbete en buite beheer in onse Parlementsgebou.
Ma, hierdie kasaterwater-koffie maak almal net kwater en kwater
... duisende mense al weke sonder drinkwater.
Fronsend staar Pa na sy brood wat smaak nes semellappe
... ondersoek word gedoen na duisende tienerswangerskappe
My maag draai rond soos ’n Vrystaatse daredevil
... ses wreed vermoor in ’n woonstel in Bothaville.
Tevrede, met goeie rede, vra ons met dikpensmae
... VREDE op aarde en vir die mens ’n welbehae.


 

Jerzy Koch

die meisiekind

daardie klein meisiekind uit sirië is
sonder water sonder kos sy leef nog en
ly terwyl die dae verbygaan en die honger
die nagte in sy krampgreep hou en wakker

haar ouers is by haar maar ook hulle
kan nie beweeg of help nie en bly steek
tussen die grense tussen die groen
uniforms van die twee partye

die skildwagte stoot en stamp hulle
van albei skeidslyne druk en du
dit na die ander onsigbare kant
van die laaste oerwoud van europa

die manskappe is ook christene maar nie
van die siries-ortodokse kerk nie die een
is oosters-ortodoks die ander rooms-katoliek
maar hulle is van hulle god af

wat na bewering die staatsgrens is
van pole en witrusland is eintlik ’n lyn
dun getrek in die brakkerige grond
tussen moraal en moord

die gebied hier is nie grys nie omdat daar
donker woude is of mistige moerasse
standhou in die kontreie wat god vergeet
het om in den beginne droog te lê

maar omdat regerings sê hul is moeg vir al
die onheil op die ondermaanse bowendien
dis winter en voor jy iemand vind word
die wye wêreld vinnig in duisternis gehul

hulle vergeet hoe vreet die honger in die donker
en dat dit winter word en koud maar hul
wag liewer tot dit begin sneeu dan is dit beter
om die lyke te bêre en makliker om uit te lê


 

Zelda Esterhuysen

Onthou se proe

Ek ruik jou in die knuswarmte van vars brood, die sagtheid versmelt in Illovo-stroop

Toe pak jy dit weg: toegedraai in sagte lap
nog klam geadem.

Die hele brood, netso
kompleet met korsies
ongesny

Jy sê jy wil wegloop

Jy broodmes
onverskillig
deur my hart
woordeloos

Geen getuies
merk die gemeenheid

Marokkaanse lamsbredie
met komyn en paprika
sag ingedut met
appelkose, pruime
en verdik met
amandellym:
dit was ons wennerdis

Toe trek jy na NZ
twee covidjare
smaakloos
reukloos
verlang ons
traanloos

Vriendskapspore toegewaai

Ouma wat ek nie kon ken,
hier is vir jou rolkoek sonder krake
met warm appelkooskonfyt
tuisgemaak:
jou resep in jou handskrif
geskryf in my hart


 

Hendrik Botha

Stroop

Gee my nog meer water, voedsel en son,
vir jou sou ek verdriedubbel as ek kon.
Maande lank deur die elemente stoei,
’n oorlewingsinstink om te bly groei.

Beskerm my teen hael, siektes en roof,
vir my klaagliedere is jou ore nie doof.
Oorgelewer aan die natuur se leer,
sien ek hoe jy vir my veg, koes en keur.

Voer my vet, ent my in en lei my nat,
sonder sekerheid oor wins om te vat.
Genade of geluk besluit maar self,
die tyd het gekom om dieper te delf.

Kyk hoe staan ek voor jou in al my prag,
al weer gereed vir stroop of pluk of slag.


 

Loretta Szikra

Oorvloed

Gesellig sit ons aan.
Dankbaar vir die feesmaal,
die oorvloed
en die hande wat dit voorberei het.

Die liggies op die kerstafel skitter.
Flikkers val op verglansde ham
en ’n sappige skaapboud
wat tussen vetmaak-smulkos
wag om verorber te word.

Maar teenstrydig met wat was,
sluk ek swaar vanjaar.
Die kos in my mond word dik
soos my denke droewig dwaal
na dié wat niks het nie;
wat haweloos en honger
hopeloos
na dooie drome staar
terwyl ek weet,
dit wat vandag hier mors
word môre hondekos …


 

Maryke Kitching

Kosmiese wanvoeding

Die mens benodig kos om te oorleef.
Dit is in ons basiese behoeftes verweef.
Maar wat kos dit die siel om na waarheid te streef
as die kostuum van onsekerheid aan ons denke vaskleef?

Ons staar na die ruimte op soek na kosmetiese antwoorde,
maar in werklikheid kyk ons terug na ’n kookprogram sonder woorde.
Die mensdom voed die betekenis van ons bestaan met hol akkoorde
en spoeg die kostelike sielskos uit ten koste van identiteitsmoorde.

Aristoteles se voedsame resep aan die magteloos
– om ons van emosionele hongersnood te troos –
kom in die vorm van eenvoud, geluk so broos:

om te wees as wese
                                                  is
                                                                        kosteloos.


 

Avril Julia Crouch

Ek en jy op die strate in Dromme-land …
(Opgedra aan straatkinders)

In Dromme-land sit ek en jy,
want ons weet kos is hier altyd vry
en ’n kosbare skat wat ons graag deel,
al voel dit soms of ons hiérdie kos ook steel.

Diep krap ons in vullisdromme vir oorskietkos en kyk kort-kort om –
honger en koud en bang vir die polisie wat om die draai vir óns kom,
want net in Dromme-land word straatkinders se magies effens gevul,
omdat mense ons as skelms sien wat hul om elke hoek en draai wil kul.

As straatkinders wens ons aand ná aand vir ’n lekker bord gekookte kos,
soos dáárdie kos en toebroodjies by die skool voor ons die skool móés los.
Ons verlang na Pa en Ma wat ons saans toegevou het in ’n warm kombers ...
nou is ons ouerloos, liefdeloos en kosloos onder ’n donker bos sonder kers.

Hier sit ons op die strate weens omstandighede oorgelaat aan ons eie lot –
wesies en swerwers in Dromme-land deur die wrede Covid-19-komplot
en uitgelewer aan genadelose landsleiers en ’n ongevoelige mensdom
wat glad nie omgee vir straatkinders wat op die strate kan omkom.
Dáárom swerf ons en slaap ons nog op die strate in Dromme-land,
want hier kan ons nog krap vir kos en bakhand bedel vir ’n rand!


 

Mariena Stander

Kosmologie

Ek, die kosmograaf van my koskas
loer suutjies by sy kosyn verby.
’n Kosbare oomblik waar koshuiskos
my geheue deurdring ...

Van kosmakery weet ek taamlik min,
maar kosmeties kan die avokadopeer
wonders aan my gesig aanbring.


 

Die ewige verderf

Hierdie gedig is op versoek van die skrywer verwyder.


 

Jeffrey "Oarasib" Hartzenberg

Vir die siel

Vertroos my siel soos woorde
in die tong van akkoorde

Woorde is soos die toonbeeld
wat stil jou honger onverdeeld

Gevul word jy deur troos
in frases wat jou nie behou boos

Al die bogenoemdes herinner jou aan voedsel
soos die siel versadig word in sinne in elke proesel.


 

Susan Smuts

Emigrasie-hongersnood

Twee vriende verskyn uit die wilde wind
hul wis hoe donker mis ek ieder kind
die wyn bloedrooi by feesmaal en kers
hul omgee omarm met sorg en ’n vers
In die gloed van saamwees en brood
smelt my weemoed en verlate nood.


 

Lee-Anne Cornelius

Voedsel vir die siel

Dit is sommer lekker om kos te eet
Somkeer help dit om jou sorge te vergeet
Kos is goed vir die liggaam
En beter te eet met familie saam

Alhoewel daar so baie voordele in kos is
Kos soos hoender, groente en vis
Aartappels, rys en selfs spinasie en kool
Die kosse help jou groei van kop tot sool

Daar is wel ’n tekort aan kos in baie lande
Mense geboei deur armoede se bande
Kos voed die mensdom se hart en brein
En verbeter hongersnood se lot en pyn


 

Benito Trollip

met ’n sop-sop hier

’n dunnerige-bruin-dikkerige warmte, ’n vleiserige, waterige poging
        plek-plek romerig, terstond verrassings en nog
        plek-plek teleurstellings wat my mond brand
’n brand-swets-vloekerigheid volg. wie kan anders
as om te ... wag! ... anders as om dankbaar te slurp
        aan die nieamptelike dis van siekes
in ’n honger heelal waar warmte ’n aandoening of pure
        smullekkerte is. keer my of ek eet
die hele pot op, ma! Maar ma, sop
in hierdie somer? My seun, troos is altyd enige sop soggens om
                          elf


 

Renette Symington

Die maaltyd

Lewe is ’n groot, ongesonde bord kos.

Iets wat ek amper teen my wil in my kieste prop om nie ongeskik voor te kom nie.
Ek prop en stop tot ek trommeldik en ongemaklik voel.

Ek vervreet my aan my werk, soos aan olierige skyfies.
Depressie en angs bekruip my soos die suiker in my tannie se Kersfeeskoekstruif.
Verwagtinge en teleurstelling rol my rond soos ’n Sondagfrikkadel in die rys se sous.
Wat sal ek kies tussen pasta en pastei? Ag, sommer albei. Hoekom skei as ek in ’n ongesonde huwelik kan bly?

Soms word daar vír my geskep, ek kan nie kies nie.
Sal ek iets sê?
Sal ek dit skree?

Nee, ek vreet my woorde op, sonder om te kou en sluk dit heel in om die smaak daarvan effens te verbloem.

Enigiets om tog net nie ongeskik voor te kom nie.


 

Andries Breytenbach

’n Feesmaal vir kinders

Gehurk om die swart pot,
sit hulle in ’n kring.
Pa-goed het weer meel gebring!

In glimlagte wys wit tandjies.
Gewoond aan honger,
brei gretige bruin handjies
die wit krummelpap.

Dis tik in die sousie en hap,
tik in die sousie en hap.
Die poetoe is ’n feesmaal,
die sinkkaia word ’n banketsaal.

Hierna is dit verby
tot pa-goed êrens weer
’n los skroppie kry.


 

Esmé Dercksen

Die onversadigbare gat

Ek loop deur die gang;
Die kamers van my hart
Gevul met lag en leed en lief en smart.

Ek stop hierdie honger
Wat hier diep in my bruis,
Met elke stuk brood en koek
In hierdie huis.

Ek gryp na die brood en die wyn van die lewe
Met hande wat soos ’n alkoholis s’n bewe.

Ek honger, ek dors, ek smag
Na ’n lewe wat verdwyn het laas nag.

Die slang het sy gif in my ma ingespoeg
En my hele wese het geskree "Dis genoeg!"

Nou eet en drink ek hierdie diep gat vol
Maar ek het nêrens waarheen my seer siel kan hol.

Ek verdrink in hierdie maalkolk
Van weergalmende gille!
Gedagtes en denke aan ’n onversadigbare
Smagting na die vrugte;
die skille wat van my oë afdop ...

’n Neutedop ...
My lewe in ’n neutedop ...

Ouma het geglo aan hoendersop.

Maar selfs haar boereraat
Kan nie die slang se gif in my matriarg
Se verhongerde, verwronge liggaam stuit nie.

Nie eers mamma se boerebeskuit nie.
Al skyn die son op die boerestoep terwyl ek teug aan dit wat my Afrikanersiel voor roep ...

Bly die gat onveranderd.
Diep. Donker. Onversadigbaar.


 

Leonita Coutts

Hunkerende siel...

Voedingsmaal – gedeeltelik vertroostend en dalk vernuwend, maar so kortstondig.
Sielswroegend ... swoegend, soos my liggaam hunker, so hunker my siel.
Want die donker wat in my skuil ... my besoedel en vervuil, kan nie gestil word deur jou!

Soos die dag verander na nag ... so voorsien jy my van krag.
Maar jy faal my! Wat is die doel van hierdie tango as jy my halfhartig dien, nie in my siel kan sien?
Soekend en mistroostig ...
Want ek sit by jou tafel, maar jy voed net die deel wat ek aan jou weerspieël.

My hart bly dus donker, die kamers gehul in duister... Soekend is ek, terwyl ek fluister – "Red my."
Dus moet ek besluit, gee ek jou die genot om my te vul terwyl die reën teen my hart se venster val.
Óf stop ek hierdie tango ... sonder ritme, sonder passie – ’n nodelose "one man show" ...


 

Machtilt de Beer

Straatkind

hier op my laslappie-pad vol gate,
waar ek elke dag moet loop, sien ek ’n
straatkind se droom en ’n straatkind se hoop
net vir ’n stukkie brood, sy naam is job,
met sy voete kaal en sy ogies groot

job kan nie lees of skryf, daar’s
niemand om sy ruggie warm te vryf, ’n
roomys te deel of ’n soentjie te steel,
te veel stukkende harte en gebroke
drome in hierdie laslappie-land van my

in my laslappie-hart moet ek leef
en laat leef, honger ogies en leë
magies, die winters is koud en die
sonnetjie skaars, ’n bedelhandjie wat
vra vir ou gelapte klere om te dra

so waar as ek lewe, ek vra vir
waar-word-drome, vir harte heel, ’n
Afrikason in my laslappie-land
waar jy en ek wil bly, hy sorg vir
die boemelaar onder die brug en
elke voëltjie in die lug,
hy sorg vir die jobs van ons
wêreld en ook vir jou en my


 

Aangebied in samewerking met die

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top