Eet my woorde: Inskrywings (3)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die derde groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Rona Strydom Karen Fourie Zelna van Niekerk Judith C Strong
Sharon du Preez Miché Saaijman Mariane Volschenk Claudie Louw
Sophia Schrenk Gerrie Bezuidenhout Willie Klopper Driekie J Grobler
Alma Swart Michellé Hattingh Tabbie Enslin Felicity Tobias
Juanita Vermeulen Karen Marais Ian Nel Drieka Michaels
Clinton du Plessis Yzelle Loubser Lizette Lingenfelder Nuhveet Storm Rottcher
Gisela Taylor Nolene Kock Clarice Newton Deswill Remon Wanie
Coenraad Janse van Rensburg Delicia Klink Desireé Germishuys Trude Mc Donald
Hilton Thomas Gerda-Marié van Rooyen Carina de Beer Marylin Hamelton
Kirsten Lea Madeleine Venter Venette Fouché Tommy Koekemoer

Rona Strydom

Hoe lyk honger?

Ek volg die spore van stil kinders
hulle voetspore was nie lig of dansend nie
kaalvoete sleep na ’n afgrond van ondervoeding
sulke groot mae en traanlose gehuil
dit is wat ons op televisie gesien het

As ons na ’n wêreld weg staar word ons mislei
deur die persepsie van afstand
honger merk nie dag of nag op nie
dit is dieselfde ’n grys rand van pyn ononderbroke
dit is siek, wakker, stadig en benoud

Aan die daaglikse belofte van ’n verhongerde nagmerrie
elke gevoel van genot is dof tot die lewe
ons werk en ry en leef in kringe van luukse
die honger wêreld is nie ons skuld nie
die voorkoms van die straathoek is dwelmgeïnduseerd

Ek kan meer geld mors met vals liefdadigheidsorganisasies
ons eis die vryheid van onbetrokkenheid
om ons apatie met sinisme te regverdig beskuldig ek myself meer as jy
geëmansipeerde hande van armoede se dogters
grawe in die aarde op soek na ’n hartklop van voeding van goud

Om ’n fyn lyn te volg na ’n lewenslyn van volle geluk
met elke soort vrugte en groente
die ryk grond van gee kon opoffer maar die grond is styf en hard
wat is vleis maar net verbeelding volop
die asem is ’n baie vuil doodstank


 

Karen Fourie

Kersfees-buffet

Uitgestal op die tafel
is die Kersfees-buffet
Genoeg kos
om ’n weermag te voed
Daar word nie weer voor volgende jaar kos gemaak nie, sê Ma
oor die gekreun van die swaargelaaide tafel
Gammon, heel hoenders, beestong, soutvleis
Slaaie van alle kleure en geure, groentes, brode
Om nie eens die trifle, roomys, koek en meringue te noem nie
Ons is onwillig, ondankbaar
Want wie wil heeltyd dieselfde kos eet?

En tog ...

Oorkant die pad
Staan ’n sakkrapper en juig
Want iemand het ’n bak
amper vrot oorskietkos vir hom uitgesit.
Vandag gaan hy sy familie treat!


 

Zelna van Niekerk

Stuur my!

Heer, gee my vandag my daaglikse krag?
Want U het reeds my brood verskaf wat ek met liefde met ander kan deel.
Stuur my dan heen die wêreld in om U brood met ander te deel.
Brood is nodig om mens se hart weer heel te maak in hierdie wêreld vandag.
Vul dan al die leë plekkies in ons hart met U kosbare brood wat heling bring.


 

Judith C Strong

Ek weet, ek eet

Rom rom rom, rooi, groen en wit.
Rom rom rom, hoor jy dit?

Kom nou, bietjie minder eet, bietjie meer sweet,
want ek weet wat ek weet!

Gedagtes rondom dit wat op pad is.
Beelde van oorvloed van lekkernye en braaibroodjies,
soet mosterd op koue vleis, krismiskoek en braaivleis
maak my ... lus ...

Sonskyn, see en roomys ... melkskommels, min tee en baie koek.
Lui rondhang ... en ’n mooi boek.

vingeraflekhoender ...
Taai kinders bad toe boender ...

Oujaar se tafels mooi gedek ...
mooi konserte wat heimwee wek

Nuwe jaar, nuwe dag met nuwe krag breek aan ...
met deurmekaar magies en ligte hoofpyn wat taan

Dankie vir die genadetyd,
na ’n maskerjaar se nyd.

Rom, rom, rom ...
Ek weet tog wat kom!


 

Sharon du Preez

’n Aftreksel hongertee

Ek ontwaak uit my hibernasie
hologig van ontbering en gebrek,
’n dier wat southonger sere lek.
Dit blyk die misbrood en druif
had gister hier verby gewuif.

Maar ek en my demone was in alterkasie
hul wou brandstof uit my konka hewel.
My donkie hotnaasvoor was moeg, aan't sneuwel.
Die engel met die duister oë
wou rente op die hipoteek trek, blind vir my vertoë.

Hierbenewens wou ek my sielspurgasie
katabaties oopstoom,
hosanna roep teen die manna van my koggeldroom.
Dat my nerwe só oor en oor moet skawe
g’n gespysig of gelawe.

Skoffel 'k maar hortend tot op my eenmanstasie,
lenig van liggaam en vrees.
Eens had 'k volbek volgaarne Langenhoven gelees.
’n Olyfgrys hadida wat vir die stiltes skree
en ek loop skink ’n aftreksel hongertee.


 

Miché Saaijman

Ek honger vir onthou

Die bokse vol kos staan in die hoek
Geen brood of botter binne
Dis bokse van onthou, ’n fotoboek
Maar die mense hier baklei in lang sinne

Los die koekieblik uit
Die familie het my goed genoeg gebyt
Maar Ouma verstaan
Daar waar sy gaan
Leef jy nie van brood en water
Die onthou kan nie wag tot later

Die toegedraaide koffiekan
Voed die dors van ’n eertydse man
Dis die onthou van etenstyd
In die sonkamer
Dis Oupa se lag so wyd
Soos die sonstrale

Daar's niks vir die aptyt
In die ou geroeste koekieblik
Net Ma op die kombuistapyt
Uitgevat vir die kerksaalklip

Ek hoop jul word versadig
Aan koekies en koffie genadig
Want soos die baklei omtol
Word jou maag lelik en hol

En ek bly agter, so honger
Honger vir onthou
En Ouma se horlosie word blou
Terwyl jy dink jy kan langer
Baklei oor ’n kas en ’n hanger


 

Mariane Volschenk

’n Bord op die hoek

’n Gesig op die hoek maar dit is nie wat jy sien
Geen honger na woorde, net ’n bord kos sal dien
Vul die kol op my maag is al wat die gesig vra
Gewoonlik is jy die een wat oor die lewe kla
’n Brood sal doen vra die mond op die hoek
Geen krummel tyd, ’n werk is wat jy moet soek
Voel net vir eens honger sê die gesig
Het jy dan geen greintjie binnegoed?
Die stille gesprek slaan my ’n harde hou
Die bord is ’n hoop waaraan hy vasklou
En my kommer was die motors in ’n tou


 

Claudie Louw

Die eet

Soos tralies om ’n tronk,
Staan jy wag om my.
Gedagtes
Toekoms
Drome
Als

Vas-
Is ek.
Sonder,
Kan ek nie.
Jy staan wag om my,
Soos tralies om ’n tronk.


 

Sophia Schrenk

Ashoop-wanhoop

Naar kol knaag soos ’n rot
Aan haar maag
Knaag aan goete en vullis
Deur die reuk van vrot

’n Vermaerde kind
Hang aan ’n droë pram laag
Te moeg om te suig
Of ’n vlieg te verjaag

Brandsiek honde krap
Seemeeue skarrel
Plastiek wat lui-lui warrel
Kaalgat kind soek soek ...
Maar sal niks vind

Hoe vra ek jou
Sê ek dankie my ou?
Vir my dag se brood
Op die rand van die dood?

Kyk op met leë oë
Lig ’n leë hand
Ten hemele
Ek leef nog
God Sy U dank
Dis enkelgenade
Onverdiend

Die belofte
Die ewige brood
Wat lewe gee
Jy, my kind
Sal nooit weer honger
Of dors wees nie ...

Sy gaan rus in die skadu
Die ewige rus
En hoog bokant alles
Sweef ’n arend
Gee die son haar ’n laaste kus ...


 

Gerrie Bezuidenhout

Maagpyne

Die kinders is honger
Maer magies swel so
Ouer of jonger
Maak meerdere se swaarbelaaide beursies
Net nog meer toe in totaliteit


 

Willie Klopper

ek vertrou jou

in my denke
waar ek aansit
by die tafel
kry ek liefdes-
krampe op my maag
dat die liefde se gekraakte lewensmuur
omtuimel in my hart
kry ek die liefdespel
se gekraakte gebrande
lippe ontmoet my by my maag se gegrom oor die liefde se seerplekke
ek verslind alles
die souttert spat in
my kies se roepe
na die wind se waai
in die gedagte van weet
waar ek sweet
om my plig
te berou
ek herkou
aan die liefde nou
en my maag se stil
is dolleeg sonder die gekou
van die onderdorp se geweld
waar die pap en wors
jou maag voed
met groot spoed
sê ek dankie vir my God
vir ’n maaltyd genuttig
in ’n nag van tevrede
met ’n warm vol magie
daar slaap ek soet


 

Driekie J Grobler

Die gat binne my

mamma en pappa
het vanaand weer baklei
en ek moes honger gaan slaap
daar was wel ’n broodjie vir my magie
maar my hart het honger gely

juffrou raas
omdat ek sukkel om op te let
en toe Sanet my daaroor tart
verskree en slaan ek haar
nou staan ek buite, word die klas belet

dit was die gang van my kinderlewe
met ’n gat binne my waar letsels gedy
en toe die honger te veel raak
het ek troos in dwelms en drank gekry

so, voor jy dalk oordeel
maak liewer eers seker
dat jóú kinders nie ook
emosionele skade ly


 

Alma Swart

Die redding van ’n honger kind

Verbete is sy armpies bokant sy kop gestrek
Tel my op asseblief, smeek twee waternat blou oë
Sy beentjies is swak en kan nie meer staan.
ʼn Opgeblaasde magie wat se pyn nooit gaan lê.

Verrimpelde hande lig die tenger lyfie op haar rug, ʼn veilige plek
Haar skouers is kromgetrek, haar lyf geboë
In ʼn keep van swaarkry lê nou ʼn traan.
Hierdie is die kind wat sy nooit kon hê

Hy is net drie, hoe sê mens daar is nie kos,
Jou pa kon dit nie hou en het jou gelos.
Die wêreld kon nie verstaan en het haar verstoot
Nou is mamma ook dood

Haar gewillige lyf het gesorg vir brood,
en soms in die laatnag was daar ook sop
Vir pappa was daar nie meer werk, en sy ego was te groot,
maar elke aand was daar ʼn dop.

Kom maar klein lyfie, Sanna sal na jou kyk,
jy sal gevoer word tot die honger van jou wyk.
Suurpap en marog is in my huis
daar waar ek nie bang is om liefde te wys.

Niemand het hom ooit gaan soek
Hy is Sanna se seun, blond en sterk
Honger sal hul nooit weer wees, noudat hy werk
vir rooivleis en groente onder die doek.

Met haar tenger lyf langs dié van hom
Haar verouderde gryskop op sy skoot
Maak hy haar oë vir oulaas toe
Dankie mamma, vir die redding, en elke stukkie brood.


 

Michellé Hattingh

Die woonstelblok anderkant die spoorlyn

vanaand nog deure toegeklap
nóg geskree, nóg geslaan, nóg braaksels van armoede
wat uitskiet in die lug
gerook, gestoom in woede en seer
woorde wat in gal gebraai is
saam die bietjie pap wat oor is
global warming is op pad
is reeds hier
by Shoprite tussen plakkate van
“stay home”, “wash hands”, “wear masks”
agter die grendels, agter geslote deure
met die ridder op die wit perd, die barmhartige samaritaan
met sy kospakkie en omgee
maar hoe kan pampoene en brood die bed betaal?
terwyl die beddens vol luise en bedsere krioel
terwyl hulle die sosialistiese pangolin opvreet
hulle wat R350 in die hand stop
en sê: “dê, loop en pla ons nie meer
gaan in (gemaskerde) vrede
kyk, ons soldaat sal jou help
om die pad nie byster te raak
kyk, jy sal ok wees.”
al is jy net ’n nommer
’n nommer
óf van die virus
óf van die honger


 

Tabbie Enslin

Vrolike verstoteling

O die doughnut-ring
O die doughnut-ring
794 kilojoule-versekering

Swaar, die versiersuiker en deeg
Swaarder, die skuldgevoel geweeg

O die doughnut-ring
O die doughnut-ring

Maak van elke suikerslet
en elke heuninghoer
’n vrolike verstoteling


 

Filicity Tobias

Vul my

Strompelend, uitgeput en in twee geskeur
Klim ek die berg na heilsaamheid
Met ’n liggaam wat smag
Na vervullende heilsaamheid
Die dag het gekom die nag het gegaan
Daar is ’n geroep diep binne-in my na meer
Vul my asb vul my, gee my die kos van die lewe
Dit moet my liggaam en siel aan mekaar hou, ek moet opstaan, oor begin
’n Nuwe dag het aangebreek jou liefde is die kos vir my gebroke siel


 

Juanita Vermeulen

Reseptor

Ek dink om te eet, begin te werk;
Ek dink aan my kind, begin te worry;
Dan vroetel ek deur die yskas, maak die deur toe, maak weer oop en vergeet om te eet;

My kop raak seer, ek skink nog ’n sterk koffie;
Ek voel bietjie flou, maar ek het ’n chappie om te kou;
Dan loop ek na my tafel, werk ’n bietjie verder, daar's te veel om te doen;

ek kom nie tot my einde.

Reseptor, my brein, die honger verdwyn;
Skink nog ’n koffie vir die ongeregistreerde pyn;
My obsessie, my lewe, my werk en my strewe;

Ek dink om te eet, begin my tafel regpak, die kombuis en sommer die kombuiskaste ook;
Dan vroetel ek deur die yskas, en die honger verdwyn;

Ek skink nog ’n koffie, vir die stukkende reseptor in my brein wat dink ek is ’n masjien.

My fisiologie raak verkwyn, my lewe, my werk en my strewe, voeding is te vergete.
Geen einde aan hierdie obsessie in my brein.


 

Karen Marais

Die lyfgordel stywer trek

Dis weer tyd om kos te maak, wat moet ek maak wonder ek.
Ek sal maar raap en skraap wat in die koskas is.
Ek kry rys, soppoeier, een aartappel en ui.
Ek maak sommer ’n lekker dis wat ek ryspastei noem.
My kinders spot my al, mamma se disse met die mooiste name.
Die kos is klaar, maar dis nie genoeg.
Ek, mamma van die huis, sal maar weer sonder kos bly.
Ek maak weer ’n gaatjie in my lyfgordel en trek dit stywer vas.
Ek is dankbaar dat die Heer weereens voorsien het vir ’n ete vir my kroos


 

Ian Nel

Asblik-honger

Dis asblikdag
ek loop vir die derde keer
om nog ’n swart sak
vol leë melkboksies
chipspapiere en ’n halfgeëte toebroodjie
uit te gooi
toe ek hom daar sien
die sakke versigtig deursoek
vir ietsie
wat nog eetbaar is
en hy die laaste druppel
sap uit die boksie teug
terwyl hy hurkend sê
“my lanie ek sal weer mooi toemaak”.

Ek met die witbrood
kry skaam
omdat ek
net ’n paar minute terug
gekla het
oor ek vandag
wéér winkel toe moet gaan
vir ons daaglikse brood.


 

Drieka Michaels

Uit Pappa se mond

Waarom die frons op Pappa se gesig.
Wat pla jou.
Vertel ons ’n doodse stilte heers in die vertrek.
Pappa maak sy keel skoon.
Ek weet toe sommer dit is iets buitengewoon.
Luister kinders ek wil ernstig met julle praat.
Die tyd is besig om uit te loop.
Eet my woorde.
Die lewe is drasties besig om te verander.
Geniet en waardeer julle kos ten volle want daar gaan ’n tyd aanbreek dat die oorvloed van kos verbygaan.
Ja ons gaan staan met geld in ons hande en sal dit nie kan bekostig.
Net soos die seisoene verander.
Pappa gooi sy hande omhoog en prewel ’n paar woorde.
Kos jy gee dan die smaak op my tong
Soet, suur, bitter en sout so uniek en perfek is jy.
Die liggaam word deur jou gebou.
Jy versterk en gee ons elke dag die krag en hoop.
Jy is so deel van die liggaamsisteem.
Ons is in mekaar geweef.
Ons kan lag, dans, sing, jubel en asemhaal deur jou want jy is so uniek.
Kos as jy deur my spysverteringskanaal beweeg dan gaan ek slaap want jy het my magie gevul so perfek is jy.
Teleurstelling oorweldig my
ek staan met my lysie met my beursie in die hand.
Dit voel of ek deur die dak kan skreeu.
Kos hoekom het jou pryse so toegeneem.
Ek vrou alleen sal nie vir my kinders kan sorg.
Ja my trane loop vrylik oor my wange.
My liggaam word koud en klam.
Pappa se woorde weerklink in my ore.
Eet my woorde. Jy gaan staan met jou beursie in jou hand en niks kan koop.
Die werklikheid word soos koue water in my gesig gegooi.
Kos ons kan jou nie bekostig.
Dit is soos ’n onkeerbare storm op die see. Die branders wreed en geen rigting
Kos jy is dan so deel van ons voortbestaan.
Jy is dan so uniek en perfek, maar tog het jy ons in die steek gelaat.
Donkerte het ons oorval hongersnood is aan die gebeur.
Nou staan ons magteloos en kragteloos.
Die tyd van oorvloed is onherroeplik verby.
Dit het gebeur eet my woorde.


 

Clinton du Plessis

Drukkoker

Die vullissakke skrum swart,
ʼn voorry van bevoorregting
buite die toe hekke van meenthuise,
die beste van die reste, uitgesit vir
ongereelde munisipale trok.

Vir vermaak kyk ons kosprogramme,
verkieslik in Afrikaans,
bobaas sjefs, kaalkop
glanspersoonlikhede, soos glazed gammon,
oorgewig eks-akteurs uit reekse,
blitsverkopers met
kook en geniet wat die suid-punt
(sommige) van ons bly bied.

En uit die veraf republiek, uit die vergete gebied,
die township, migreer
dié wat daagliks meet en pas
dié wat met verslete jas krap in sak en as,
oopskeur soos honde, snuffel
deur die beste van hierdie geweste se reste.

Voorgereg:
eendlewer en lemoenpatee met karamelvye
hoofgereg:
harissa-lam met vrugtige koeskoes, vonkelwyn-geroosterde baba- en witwortels
groentelinte met beet-en-granaat-slaaisous
nagereg:
meringue-koek met romerige tiramisuvulsel.

Op die stortingsterrein, buite die dorp,
oorkant die spoorlyn, waai die stof en rook,
skerm pa, ma, kind en hond teen die son, die stok
in hierdie brassery se wiel, hulle wag vir die ongereelde munisipale trok
om die beste van die reste, vir hulle, te kom stort.

* Resep uit, Rooi Rose, 5 Spyskaarte vir Kersfees (04/12/2017) – https://www.rooirose.co.za/5-spyskaarte-vir-kersfees/


 

Yzelle Loubser

Werkersnood

eet my woorde
want dis al wat ek jou kan bied,
mag dit jou opbou, versterk en voed,
mag jy voel hoe die petrol daarvan jou tenk opvul,
die kospryse styg te veel
want almal moet eet,
maar in stede van voeding
kry ons woorde om te eet,
leë beloftes van niksseggende woorde.


 

Lizette Lingenfelder

Dolleeg

Oorlog, oorstroom, orkaan
blou planeet oorverhit;
natuur, persoon – vuisvoos geslaan –
honger wat so vlak kom sit.

Dolleeg. Dolleeg.

Weerklink die eggo oral oor;
voedingskemas, ashoop-oes
stil die klank tot sagte koor,
honger kreet wat bly verwoes.

Pandemie, pandemonium, maskers, ingeperk;
eens bekend verdwyn in die niet.
WGO, wetenskap, medici onbeperk,
hongersnood nuut, oortref die virus-parasiet.

Dolleeg. Dolleeg.

Skree die honger siel van skares hard;
alleen, beangs, glimlagloos,
resessie, siekte, dood en smart;
geen hand aanraak, omhels of troos.

Dolleeg. Dolleeg.


 

Nuhveet Storm Rottcher

Ek sit om die etenstafel
Hande vasgeklou in gebedsgebaar
Deur die mans wat leiding neem
En my woorde verstop my keel
Tot dit die murg uit my wurg
Soos die skaapskenkel wat versuip in sy eie vet

Wat maak ek hier?

Ek sluk my woorde en ek sluk my siel
Dit proe effens soos kerrie
Dalk is dit die letsels wat onder my vel gevee word
Die spreekwoordelike mat
Wat as gebedsluier oor sy skandes gegooi moet word
Soos die dominee se
Vergifnis en die sout van die aarde

Het ek al verslaan?

Ek gooi my oë op na die hemele
En wonder wie na my redding sal kom
Sal dit oor my sprinkel soos lentereëns
Of miskien soos kaneel oor melktert
Of gaan die stilte intrek
Soos knoffelbotter in brood

Versuiker my hoop?

Ek sluk my woorde
Ek sluk my siel
Pappa se amen
En die gaste prys my kookvernuf aan
Asof hoe goed sy ’n eier kan klits
’n Vrou haar waarde toe-eien
Ek sluk my woorde en glimlag
My siel moet wag tot ’n ander dag


 

Gisela Taylor

Sopkombuis

Kaal voetjies hardloop oor die stof ...
Die skiller in my hand loop ruk-ruk oor die growwigheid wat net ’n rukkie terug in die donkerte van die grond geskuil het.

Kaal voetjies hardloop oor die stof ...
My gedagtes dwaal na gisteraand se maal van smullende geure geskep deur ’n kunstenaar in die restaurant se kombuis.

Kaal voetjies hardloop oor die stof ...
Tóg sal dié eenvoud vir hom soos koningskos wees. Grondgekweekte goedheid was mos nog altyd vullend?

Kaal voetjies hardloop oor die stof ...
Blink ogies kyk op terwyl vuil handjies uitreik na ’n bakkie.

Kaal voetjies loop stadig terug huis toe ...
tevrede met min, koning vir ’n dag.


 

Nolene Kock

Kosbare smakie

Kosbaar of baar-kos
Hoe ook al sy.
Ek het ’n smakie in my
Ek sal die spyskaartjie moet kry
Grote Griet! Ek’t nog ’n ou vyftigrandjie op my.


 

Clarice Newton

Ek sit op die bank en wag vir jou om huis toe te kom.
Sodat ek die kos op die tafel kan sit met liefde en voorsprong,
ons sit dan die radio aan en wag vir ons song.
Dis klein maar dis groot,
hierdie liefde wat ons kort,
die hart se noot.
Ek weet dat liefde soms genoeg sal wees vir ons om die somer en die winter nie te vrees, vir wanneer geld nie daar is nie,
of wanneer die wêreld se stemme nie waar is nie.
Daar is meer vir ons.
Koffie en warm skons,
kinders wat rondhardloop.
Ons wat elke dag nuwe geluk kan koop.
Dis pragtig, my ding,
die manier hoe ons hande kan vashou soos die reën en die wind vir ons sing.


 

Deswill Remon Wanie

Die reuk uit die kombuis is altyd ’n plesier
Trek elke geur so diep as wat ek kan
Op die stoof of dalk op die vuur
Solank ek eet uit moeder se hand

Gebakte aartappels met ’n gebraaide boudjie
Of ’n souterige tjoppie met boerewors
’n Warm bord kos ek soek dit glad nie koud nie
Gebakte brood met ’n sagte kors

Soet pampoen op ’n Sondagmiddag
Malvapoeding vir nagereg
Huiskos is waarna jy altyd sal smag
Veral as jy weet jy bly vêr weg

Reëndae is dit ertjies of bone
Wortels met heerlike sopbene in die pot
In die kombuis hou ma haarself op haar tone
Ek sê dankie vir haar, die kosse en aan my liewe God


 

Coenraad Janse van Rensburg

Lewenstafel

Sy brandsiek siel krap-krap langs, in en op die antropologies-ontwerpte vullishope
van moderne kosmopolitaanse stede en dorpe ...
soekend na die vetgevoerde karkasse
wat die geldwolwe op sekelmaannagte
uit hul swierige Lamborghini’s en blink Porsche’e se oorvol kattebakke
gretig gereeld gaan leegmaak!

Hy wou die ondraaglike juk verlig
met hande vol galgeelvet
van die magnate en swendelaars se gemeste kalwers,
maar dít het weliswaar
soos botter
tussen sy vingers
glibberig en loperig
gesmelt ...

Desnieteenstaande berei hy ’n aansitfeesmaal by die lewenstafel voor
waar hy die borde oorlopens toe volmaak met sielstrooskos
en voer die uitgehongerde kosmos
met goue lepels gelaai van dié heilsaamheid!

Dan kniel hy agterna met geloof en hoop
en vryf mildelik die gestolde ryk vetlagies soos agapéliefdesbalsem in –
sagkens in kruisbewegings ...
eers in die pyngevulde roofaf siele van die aansittendes ... en helaas –
helaas
aan sy eie teer kossmagtende siel ...


 

Delicia Klink

My dierbare ma,

Ma is die anker van die huis
Die koskok in die kombuis
Ma beskerm my met elke mag
En God drama met krag
My dierbare ma

Ek voel hoe ma my omvou
Om my veilig te hou
Ek dank ma vir soveel liefde
Ma dankie vir die sterk vrou wat ma is
My dierbare ma
Ma se nooit nee
Ma sal altyd gee

Die beste van alles is
Ma prys die Here deur elke storm
Al is dit enorm
Mag soveel vreugde oor ma reën
En mag God ma nogmaals seen

My dierbare ma
Geloof, hoop en liefde is al wat ons deurdra
Net soos ma van God vra


 

Desireé Germishuys

Pandemie-hongersnood

Dor lê die liefde, verteer deur emosies van sosiale onttrekking. Hongerpyne na aanraking van jou naaste wat self in ellende vergaan.

’n Hol kol op die maag, maagwande wat staaf om nog ’n bietjie te raas vir skrapsie liefde in die warm woestynwinde van verandering en alleenwees, sonder toenadering en vertroosting.

Sekondes voel soos ure en ure soos dae in afwagting vir wanneer jy weer vol sal voel. Indien ooit.

Vol liefde, vol vreugde, vol hoop. Indien ooit weer.

Versadig op vandag se kopknik en ’n sagte goeiemôre, verdoof agter die maskers van ’n pandemie wat blyk of hy nie ’n einde het nie.

Tot dan sal die trane vloei soos ’n rivier se stroom wat probeer om alles weg te spoel.

Nog ’n bietjie honger, nog ’n bietjie alleen.
Nog ’n bietjie dink oor die helder son op ’n bruingebakte lyf met genoeg aanraking om die leemte te bedaar.

Ons is almal honger vir emosionele vertroosting in ’n wêreld onvoorspelbaar.


 

Trude Mc Donald

Ek spartel soos ’n vis op droë sand
Waarom!? vra ek weer
Niks groei op die land

Twee vissies en vyf brode die skare gevoed

Waar is ons visse?
Waar is ons brood?
Hierdie tye van nood

Uitgewis
Dis hoe mens is

Op my knieë smeek ek U, Heer
Om na U mensdom terug te keer
Help ons te leer

Nie om die appel te byt
Nie om ander te verwyt

Net om te lewe
Sondes vergewe
U skynende lig
Vir ewig.


 

Hilton Thomas

Ghellieblik van die lewe

Nou, in die winter van jou tyd
Sit jy by die ghellieblik van die lewe
met jou hart wat lustend soek na hitte.
Maar jy, uit vrees vir die soektog
Bly sit by die ghellieblik van die lewe.

Warmmaakdinge is oral te kry
Toevoukomberse van snoesigheid
Kan jy kry as jy dit sou waag.
Maar jy, uit vrees vir die waagmoed
Bly sit by die ghellieblik van die lewe.

Sou die lewe roep: hier is dit
Sou die wêreld nooi: kom kry vir jou
Enigiets vat, as jy sou wou toets
Maar jy, uit vrees vir die toetsuitslag
Bly sit by die ghellieblik van die lewe.

Uit die put van depressie ontsnap
Eensaamheid van angs kan jy van wegkom
Omarm van hitte as jy sou uitreik na ander
Maar jy, uit vrees vir ewige verwerping
Bly jy maar sit by jou ghellieblik van die lewe.


 

Gerda-Marié van Rooyen

Fond-of-you

sampioen baai in borrelolie
duiwelsvurk deur murg gesteek
deur vir ontwyking nou geslote

nóg ’n vurk in die pot

reuk van wingerdvrug troon die krismistafel
drummer boy klink instrumentaal in die agtergrond
tonge verlos, kwetter verhard

nóg ’n vurk in die pot

joligheid dra feeshoedjies van papier
fond-of-you-ete kry spoed
’n skaterlag breek bevrydend uit

nóg ’n vurk in die pot

vet reëndruppels klots teen die ruit
onderlangs grom honger mae
verligte harte stille getuienis van vrede

nóg ’n vurk in die pot

sampioen ontsnap na oppervlak
duiwelsvurk stryd verloor
onderhandelings vir ’n drywende fungus

eerste vurk uit die pot

reddingsboei vir vervreemde vriendskappe
kersmaal ’n burg tot vredesverdrag
pot-op-vuur bring ongesproke versoening

al die vurke in die pot

gaap
groet
totsienstoet

alle duiwelsvurke agtergelaat


 

Carina de Beer

Hongerpyne

Ek word wakker met ’n leemte in my maag,
Waar die verdowende roep van walvisse eggo.

Klik-klak
In die gang af gaan die voetstappe
Klik-klak
Soetjies klim ek die trappe twee-twee

Omring deur donker, maar steeds in die lig.
Alle oë op my, ek is in die kollig.

Fluweelagtig met ’n reuk genoeg om my suikersiekte te gee
Donker soos die middernagtelike lug en sag om aan te raak
maar so baie delikaat, asof dit maklik kan smelt
met die geringste verandering van die koue en hewige wind

Ek haal dit versigtig uit en is dadelik betower
Een happie sal mos nie op die heupe sit nie ...


 

Marilyn Hamelton

Die Honger oorval my
Dit klou aan siel en gees
En net soos water in dorre streke die aarde vermy
Moet ek soms uitroep: Is daar iewers Brood wat altyd sal wees?

Ek soek na koringare en grassade in die wind –
Dit waai weg.
Die honger bly.

My oë fokus op die krummels van gister en vandag ...

Dis te min,
Want die honger knaag.

Die verlorenheid sit soos klitsgras.
Die verlatenheid soos leë skottels en borde, blink gewas.

Ek drink, my glas bly leeg ...
Ek eet, my siel soek steeds.

Vir seker móét daar iets of Iemand wees
Wat die groot honger kan stil!
Wat die leë kol binne kan vul!
Wat die sin in die lewe kan
terugbring!

Dan kom die innooi ..

“Die Tafel is gedek.”

Ek moet net kom,
Kom met my honger na meer.
Kom met my soeke na Kos; wat sal volmaak,
Brood en Water, wat nooit verslaan,
Wat vir ewig staan.

Ek kan aansit
Die Maaltyd is dáár! Die
Bruidegom is dáár!
“Kom eet, kom drink!”
“Verniet!”

Dis vir elke leë-dor-siel,
Sodat die ewige Hongersnood ...
Sy rus kan vind


 

Kirsten Lea

Wat is lewe sonder brood?

Dis die warm Franse braaibrood
op jou ouma se agterstoep
wat jy geniet terwyl jy
’n warm beker koffie afsluk.

Wat is lewe sonder brood?

Dis die ham-en-kaas-toebroodjie
waarvoor jy al van wiskunde af wag,
maar nes pouse aanbreek
vra jou vriend vir ’n hap

Wat is lewe sonder brood?

Dis die sappige worsbroodjies
by die jaarlikse skoolkermis,
met ’n tamatiesousspoor
wat jou stadig bekruip

Wat is lewe sonder brood?

Dis die enkele sny bruinbrood
in die boemelaar se hand,
terwyl hy gretig vir jou waai
van die sypaadjie se rand

Want – wat is lewe sonder brood?

Brood leer mens lesse
soos mededeelsaamheid en hoop.
Brood bring geluk en blydskap,
dit maak mense se harte oop

Brood is soveel meer
as net ’n bron van energie
Vir sommiges is brood lewe.
Lewe is niks sonder brood nie.


 

Madeleine Venter

Hier by die water

kom kry – dis verniet
ja, kom proe hierdie brood
jou geld is vermors
wat jy nóú eet maak dood

kom drink, les jou dors
hier is melk ook en wyn
die droogte is lank
en wat is sal verdwyn

kom eet hierdie woorde
dis voedsame kos
versadig jou strewe
bevredig jou dors

kom luister
gee aandag
skuif nader
en spits

jou ore
moet hoor
vir jou siel
om te weet

dis tyd om te eet


 

Venette Fouché

Bitterbessie-ontbyt

ek het verwag om beter te word
ongetwyfeld is die belus net eenvoudig
rondgesmyt
gesond word lê eerder
tussen die herkenning van sout en niks
soet vanoggend
vanaand is verbrand
daar is meer as een manier
om bessies te bak in ʼn blik
aan die einde van ʼn maaltyd is niemand bitter nie
net teleurgesteld


 

Tommy Koekemoer

fishpaste
Op ’n "end of the month"-salticracker
Hy eet darem baie lekker


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top