Eet my woorde: Inskrywings (21)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die 21ste groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Henriétte Schoeman Charmaine Hofmeyr Daniella van Schoor
Scalia Duimpies Paula Hartzenberg Illona Edwards
Rozaan Muller Riaan le Roux Karlien Lourens
Estelle Venter Alessandra de Wet Eksteen van Wyk
Heloïne Armstrong Nathaneil Isaacs Elana Pietersen
Mandy Brown Leané Lackay Tashna Hendricks
Dilshaad Davids Chelsea Engelbrecht Tiffany Klink

Henriétte Schoeman

Saffraan

As ek net kan asemhaal
sal my dadels kan groei
soos stingels met trosse druiwe
wat in die nanag bloei.

Dis duwweltjies wat my siel oopbreek
soos rooi ryp granate
van reën in die Namibstreek
na wyn wat in vate vloei.

As die askoeke skroei
en die wind die aandklok lui,
oor kole wat in ashopies agterbly,
sal die saffraan van jou hare my altyd onderkry ...


 

Charmaine Hofmeyr

Hongerpyne

Omring deur ’n feesmaal
Oppervlakkige gelag en onsensitiewe gedrag

Lighartige vrolikheid met wyn en vergryp
Gejaag na oorvloed in ’n oppervlakkige
bestaan

Sit vroom in die kerk met jou tiende jou
Omkoopprys
Ry verby die vrou vasgevang in wanhoop en versletenheid

Geen omgee of tyd vir haar
Net veroordeling want jy weet mos waarna sy smag

Jy in oorvloed het mos die mag om ander se sukkelende bestaan te verag
Maar eintlik is jy net so broos in jou gejaag na oorvloed; mag en prag

Ons almal se diepe gesmag is net na ’n liefde wat alles vergewe en gebrokenheid aanvaar
Wat nie deur oorvloed in die materialistiese kan vermag


 

Daniella van Schoor

Die boemelaar

Die dowwe geel straatligte reflekteer vanaf sy ribbes wat deur sy dun vel deurboor soos die punt van ’n mes ...
Sy skelet steek stadig en sielloos sy vuil vingers uit en vra vir ’n sent.
Die asblikke loop oor en hy wonder of hy vandag dalk ’n broodkorsie sal sien?

Hy sit agter die glasruit en dink "ag shame" terwyl sy dik vingers op sy uitbultende pens rus.
Sy triple-ken is in ’n frons terwyl hy dink aan ’n "triple cheese burger".
Sy maag loop oor van die suur en hy dink miskien verdien hy selfs ’n roomys om die Rennies beter te laat smaak

Al twee loop oor, een van suur, die ander van seer, en ...
Al twee is uitgehonger vir meer.


 

Scalia Duimpies

’n Stukkie

Dag in; dag uit; so tel die ellendiges die ure af.
Dwalend; swerwend; bewend; soekend ...
al is dit net ’n reukie van hoop.

Kos?

Hoekom laat dit jou mond so water?
Dringend op die uitkyk vir die kraan van lewe;
sodat ek ophou kan bewe, hulp is tevergeefs,
dis elkeen vir homself.

Ja; voedsel:
Vir die armoediges en ellendiges; ’n reuk van hoop en lewe.
Vir die rykes en onafhanklike; ’n ondankbare reuk.


 

Paula Hartzenberg

die kreet

dié wat in asblikke soek
soek na sterre
dis nie eenvoudig nie
miskien om by vuurlig mee te speel
of mee te lag of sterf

ook ek wat na die sterre proe
die newels
wat lyk soos spookasem
wat hulle nie is nie
maar brand in die universum

kan nie vanaand honger wees
vir die sterre nie
iewers tjank ’n hond in ’n donker hoek in my
vir die wêreld
en na my

dit moet iets aardser wees
uit die dowwe, vetterige klein blikbord
van my vers


 

Illona Edwards

My konsistorie met my Happy Meal

Kom ek vertel julle van my Happy Meal
en die Oscar-vertoning van my eks
wat soos ’n gesoute akteur die legendariese woorde
"Dis nie jy nie, dis ek" seepglad van sy lippe laat rol het.
Ek hou my kop laag soos ’n bekende aktrise,
terwyl my groot sonbrille stock vat van almal in die restaurant.
Wag hier kom die waitress met my Happy Meal.
T-bone steak, gebakte aartappels met botter en sampioene.
gevolg deur chocolate mousse en passion fruit.
Luister, dié Happy Meal doen die trick.
Al wat jy moet doen is hou konsistorie met jou kos.
Vertel die T-bone steak van die pyn en lyding van jou hart
en glo my as jy jou eerste hap gevat het
maak jou hart bollemakiesies en jou sonbrille wasem op.
Die gebakte aartappels met botter praat saggies in jou ore
en al wat jy hoor is "tyd maak alles reg",
drink net elke aand slaappille.
"Julle tart my," fluister ek vir die sampioene.
Probeer my flous dat hulle sexy hartjies is.
Die chocolate mousse en passion fruit praat nie.
Hulle pronk net rond in jou mond en jy sug
en laat jou dink of jy volgende keer iets anders moet bestel.
As jou kop deurmekaar is, of jou hart te seer is,
hou konsistorie met jou kos, glo my hulle praat terug
en dalk kan jy ander vertel van jóú Happy Meal.


 

Rozaan Muller

Sal jy
vir H/hom

sal jy die lig wees
in ’n wêreld vaag en verdwaal
sal jy my huis wees
in ’n land bevlek met vrees

sal jy my spieël wees
midde die orkaan se oog
die see-uitsig
elke keer as hulle lag

sal jy die vuur wees
op ’n koue wintersdag
en as die merries kom
my bed om die wildheid mak te maak

sal jy die Brood wees
vir my hawelose honger hart

want ek is bang vir duiselignag

            vir
gly
            en
                        val
                                    en
                        val
            en       

wag

vir jou hande
wat my vang wat
my voer wat my het

en ek weet jy was
is en
jy sal


 

Riaan le Roux

Soma, en so meer

in eggo-eetkamer
stol alfabetsop

alleen
sal mens van brood nie leef nie

wat baat sjef, sommelier
sonder dank van monde

borde boordens
met leegte omklee kort

maal met nul
is aftreksom, gromme

deeltafel voed
vrede

geheel:
feesmaal


 

Karlien Lourens

Herhalende patrone (’n toksiese verhouding)

"Blokkie chocolate vir jou?"
"Nee dankie, Tannie.
Ek's op ’n dieet"

My kop klop
en ek hyg na asem
My maagwande word opgevreet
deur die gedierte binne my
Ontembaar

Ek sluit my kamerdeur
en word verswelg
deur die inhoud
van my versteekte trommel

Burgers
Chocolate
Chips
Chocolate
Ek probeer myself versadig
Ek verslind enigiets half eetbaar
Probeer die trane
deur my keelgat terugforseer

Dis toe my halwe Crunchie-bar
die muur tref
dat die sluise oopbars
Ek vlug
na die plek waarmee ek só vertroud is
en slaan die deur toe

Ek openbaar myself
Fisies en emosioneel
Meestal fisies

Totdat die siklus herhaal.


 

Estelle Venter

Sjef

Op Insta plaas hy helder en flink
kiekies van kos, met sy oë wat blink
dié uitnodiging maak: as jy bróód
wil breek, is ék jou uitkoms-uit-nood.
Sjef virrie sterre wat kan bekostig
om ietsie meer ruimskoots en kwistig
met hul munte om te gaan: Bultong
op ’n kaviaarbed, gekerriede long
in ’n aftrekselsultjellie, vandag
se vangs uit die Verre Ooste. "Ag,
wat maak dit saak, liefling? Solank
dit mooi fotografeer: klík vir dank!"
Tuis tel hy sy sente – tra-la-la! –
en smeer sy brood, eenkant, met Rama.


 

Alessandra de Wet

’n Feestelike droom

Ek kom in die kombuis in na ’n harde dag van skool.
Die algebra was te veel vir my.
Ek ruik heerlike hoender en kool,
Nou het ek sommer ’n honger lus gekry.

Mamma sny die uie, rasper kaas en maak die vleis gaar.
Sy was die groente en sit die borde neer.
Al wat ek kan doen was sit en staar,
Terwyl sy die varsgebakte brood smeer.

Die kos is gereed en ek is sommer eerste by die tafel gewees.
Die kos word op die tafel gesit.
Nou het ek ’n lekker fees.
Nou al wat ons moet doen is bid.

Die kos was so lekker.
Ek is nou trommeldik geëet.
Maar toe hoor ek my wekker.
Was die kos ooit regtig gewees?


 

Eksteen van Wyk

Foie gras

Wrede spieël en skelle lig weerkaats en ontbloot die Groteske
Die dubbele ken, met ’n dubbele ken
Die velvoue, met voue
Die Dikgat Shar Pei!
Is sy al smalend genoem

Rekmerke marmer die styfgespande pens-sfeer, soos padkaarte vir dié bree pad
Wat die Groteske nou alleen loop, my Lam
Vet-skanse verswelg dié tenger brose weerlose
Nóú verskans teen hoon en smaad en spot

Bou haar burg om middernag voor die yskas (foie gras)

Dié waggelende vet, lomp eend
Geswolle lewer en snawel glansend van die oordaad
Deinende trom oor die bose (asem hortend)
Dreigende trombose?

Sy foie gras voor die yskas
[Dié wêreld is immers nie vir stomme eende bedoel nie]


 

Heloïne Armstrong

’n Bitter pil om te sluk

Ouma se omgee was soetgoed
Sondae middae melktert en tjoklitkoek

Oupa se bydrae was geld
na werk ’n halwe brood en sakkie melk

Mammie se sorries was klompie
aanmekaa 5bop chips en appelbompies

Pa se aandag was min
soos eergiste se leftovers wat lankal hoort innie bin

Nou is ek ’n grootmens
En almal se liefde is skaars
Ek's uitgehonger
Dissie mee my maag'ie maar my kop wat bly raas


 

Nathaneil Isaacs

Natuurlike eet

Net om te pluk en eet, sonder om te moor om te eet, sonder om te werk om te eet

Net om te oorleef deur te eet.
Sonder om te bedel maar nog steeds kan eet

Want ons almal moet eet ...


 

Elana Pietersen

Wat die hart van vol is, loop die bord van oor ...

Wanne os honger, happy of sad is
smul os half weg aan emosies, probeer dit wegstiek ini process.
prestasies word gevier met different snacks,
vergelyk elke emosie met die genot daarvan.

Ons probeer holtes vul met kos waar ons minderwaardig voel,
leeggetap deur tekortkominge te lys.
Vul die leemtes met kos "sielskos" altans dis wat ons gloe.

’n Burger & chips sal die ding doen,
’n Pie omi lewe te verfraai wil dit eet of dat eet
later konstant dieet omi ekstra rolletjies te sny.

Terwyl niemand advice gie oor wat "sielskos" eintlik isi
os is confused met take-away words wat die mindset ontsnap
ken nie die actual meaning daarvan en wietie dis hoe os behoort te lewe
deur positive words en os bodies nutritious food te gie.

Van kleins word os gepaai "ag moenie huilie hie is ice cream of ’n koekie"
So word os voorgestel aan ’n lifestyle choice sonne omit te choose
Sit later met die gebakte pere, wonne wane dit sal end kry.

Word os wake geruk meti naked truth vani skaal wat ’n ane taal praat.
Jy vorm ’n love/hate-verhouding meti kos,
verwyt jouself as jy ini spieël kyk en in ’n hopie van selfbejammering sit.

Vind jouself op ’n kruispad van moet ek myself uithonger of trommeldik eet?
Soe stap jy ’n pad saam met die ewe getroue title "emosionele eter".
Baie van os skuil agte die title tot selfaanvaarding inskop meti kilo’s en jy jouself liefhet ongeag.


 

Mandy Brown

Ouma se gebak

Van pannekoeke, rolkoek en vrugtekoek,
Van deeg brei en warm bly in ’n doek,
So onthou ek my ouma se gebak te goed,
Wat het oorgebly van haar?
Resepte by dosyne.
Wit papier vol geskryf sommer skeef en oor die lyne.
Die onthoustories van koekies bak.
Die briewe skryf en resepte deel.
Maar o genade my marie beskuit-koekies wou nie werk.
Die deeg het soos ’n rekkie teruggetrek.
Lekker lag ek nou vir my eie foute.
En hier staan ek sjef na jare.
Ek blaai nog steeds deur die wit papier se blaaie.
Onthou resepte van Ouma se tyd.
Wat altyd saggies aan my ore byt.
As die twyfel aan my hande klop voor ek bak.
Dan blaai ek terug na Ouma se gebak.


 

Leané Lackay

Die gaatjie in my maag

Eendag toe ek by die restaurant was
en die lekkerste kos ruik.
Voel ek iets kriewel in my tas.
Dit was ’n geldjie om vir my kos te koop
sodat die hongerte weg kan loop.
Ek besluit toe om in die spyskaart te kyk
en voel toe my maag raak ’n gat.
Pizza, burgers of spaghetti
wat sal dit wees.
Dit is my grootste vrees.


 

Tashna Hendricks

Oorvloed kos

Kos, kos ek hou van kos.
Staan in die ry vir lekker kos.
Eet jou kos.
Moenie mors.
as jy mors
les eerder jou dors.


 

Dilshaad Davids

Ek hou van koek

Ek hou baie van koek,
want dit is soet.
Soms is dit te sout
en dit maak my benoud.
Soms laat dit jou tand pyn
dan drink jy sommer asyn.
Die koek is soms te sag
dan laat dit my sommer lag.
Dit maak jou honger en as dit op is
lê en snork jy soos ’n brommer.
Dit is altyd heerlik en smaaklik
om nou daaraan te dink laat my mond water.


 

Chelsea Engelbrecht

’n Wêreld sonder kos

Wat is my grootste vrees?
Hoe sal ’n wêreld sonder kos wees?
Geen meer tjoklits, sweets of koek.
Nee ek gaan staan sommer in die hoek.

Kan jy aan ’n wêreld dink sonder kos?
Dit is soos mense wat verdwaal het in die bos.
Geen meer soet of sout.
Dit maak my sommer benoud.

Ek is so bang as dit gebeur
sal ek tot my gunsteling-beertjie vir ’n bordjie kos opskeur.
tingelingeling lui die klok.
Dit is etenstyd.
Dankie tog!
Dít is nie nou my realiteit.


 

Tiffany Klink

Droom van koekies en melk

Om honger te wees is nie altyd lekker nie.
As gevolg van die grommery
kon ek nie gelukkig bly.
Daar is nie altyd iets om te eet
dan grawe ons en grawe op soek na ’n stukkie ...
om aan kos te dink sal nie help.
Ag sit en droom ek nou van koekies en melk.


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top