Eet my woorde: Inskrywings (20)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die 20ste groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Hannah Pfuhl Nishaam van Zyl Kurt Armstrong Conrad Kleyn
Anusca Stumpfe Margaretha Bruwer Wessel Strydom Adri van Aswegen-Janse van Vuuren
Elizabeth Steyn Trevor Fourie Miche Kritzinger Anri Potgieter
Lynette du Plessis Christina Stewart Adri Bezuidenhout Marisha Hermann
Erika Barnes Salvia Ockhuis Yuwinn Kraukamp Robert Nolte
Wilken Calitz Lynnette de Jager Ronel Sturgeon Wentzel Lombard
Lelanie A Kruger Charmornè Swarts Irma Carstens Ankia Nel
Anna-Mart Botha Lynette Schultz Charleine Collins Landi Scholtz
Karen Woodward Sheldan Dolf Anna Koen Elmien Kraamwinkel
Kayla Hofmeyr Carike van Biljon Elma Human Esté Gross

Hannah Pfuhl

Vervulling

Nat sement wat geleidelik
by ’n afdraande gly.
Dis hoe dit voel met elke
lepel vol.

Onrustigheid binne my maag
g’n eetlus of smaak
sandkorrels kners tussen my tande
met elke hap

Die patat het sy soetheid verloor
slegs die rykheid van grond deurdring my mond.
Die mielies lyk ongesond.
Slymerige ertjies rol in my bord.

’n Knoffelbol sal nie hierdie vark kan red nie.
Drie generasies wildheid klou vas aan die been.

Dit gebeur as jy vergeet om jou kos te seën.

Met verslapte vingers en ’n gebroke
Amen
sluk ek weer die alwetende pil:

slegs Gebed kan die maaltyd vervul.


 

Nishaam van Zyl

Huldeblyk

daardie aand was daar ’n oorlog in die kombuis
te veel asems onder een asbesdak
in die verbrokkelde viervertrekhuis
teen die kalksteenmure slaan ek met my gebalde vuis
totdat die "greyscale"-herinneringe aftuimel
onder die aggressie van die sesjarige seun
met my opgeboude frustrasie
oor die armoedige bestaan in die lokasie
waar ek my kindskap gewetenloos verloor
en my arme drome wat vlugtend vlieg
soos voëls van die klippe en ’n kettie
elke keer met my kop op die grond
klop ek aan die staaldeur van ons bure
met die briefie van my ouma
wat vra vir ’n stukkie brood en ’n bietjie suiker
geteken: "Lena" en altyd "God seën"
dalk oorreed dit hul gewete om te gee
vir die koeliekind met kaalvoete verleë
só veg ek vir my oorlewing
terwyl ek spartelend sink in my verbeelding
voor die kolestoof in my ouma se armoedige kombuis
vir die laaste snytjie bakbrood
harde brood wat brokkelrig breek
uitgeteer van die gewapende hongersnood
dán les ek die dors van Lena met flou suikerwater
en myself met versterkdruppels
want daardie aand het Lena beswyk
met die dodelike tuberkulose – haar lewenslot
steeds wou die honger pes nie wyk
en van die sementvloer roep haar bedelaarsbloed
dieselfde bloed wat deur my are vloei
waarteen ek hulpeloos moet stoei
want jare later staan ek steeds bakhand
vir net ’n bietjie broodmeel
voordat die dood my ook gryp aan die keel
en my huldeblyk gaan dán dieselfde wees:
"gee ons vandag ons daaglikse brood ..."
want my wonde kon nooit genees.


 

Kurt Armstrong

Rys, aartappels en vleis

Wat eet ons vanaand?
Woorde woes en welsyn.

In my huis was piet brommer se vlerke geknip en husse met lang ore kon niks hoor. Die broodkrummellyn het ons soos miere een vir een gedra na liefde.

Kerrie êrens in die week, maar ons care nie want in hongersnood was daar ’n band wat nooit breek


 

Conrad Kleyn

Noem my sommer Brommer

Ek is baie honger.
My maag klink soos ’n brommer.
Ek sal enigiets eet,
al is dit ’n neut.

Ek is nou lus
vir ’n stukkie vis.
Ek stap in die straat
en dit is al laat.

Die winkel is toe,
ek weet nie nou hoe.
Ek moet ’n plan maak
voor ek moeg raak.

Ek is baie honger,
ek kry nie eens ’n komkommer.
Ek bly soek,
maar ek kry net ’n boek.

So moet nie kommer
of dalk wonder
Noem my maar Brommer
want ek is nog honger!


 

Anusca Stumpfe

Die spysvonds-enigma

wie sou kon raai harslag is kos
of Neef Biefstuk was eintlik Oom Os
en Tannie Turksvy is ’n lekkerny
onder haar geniepsige doring-karos

sien nou vir Sammajoor van Hopperslaan
min boudjies met byna niks kossies aan
wie op aarde sou dan tog kon raai
dat iemand sou smul aan ou Seppie Sprinkaan

iemand baie braaf moes dié spyse toets
of wag, dalk het alles begin met net ’n poets
want wragtig wie sou tog kon raai
daar skuil hemel op aarde in ietsie soets

dankie vir warm kaneelgegeurde melkkos
op ’n reënerige dag in die koue bos
maar wie het gaan trek aan Kittie Koei se speen
nee wag, so ’n stouterd moet ons liefs uitlos

wat van Ulla Ui met haar baie rokkies aan
jy huil sommer skelmpies terwyl jou ogies traan
en Robert Rissie met sy kwaaie byt
wat jou laat haas na die waterkan

my brein is nou ’n tamaai stuk knoets
help asseblief met my IK-toets
met geure soos soet, suur, bitter en sout
wil jy nou meer daar was moenies en moets


 

Margaretha Bruwer

Innerlik tevrede

In die stof en son verkoop sy vrugte om ’n geldjie te in
Hul redekawel vir afslag – My hart krimp ineen.
Ons het so baie, sy so min
Sag glip die woorde uit my mond
en uit die harde altyd-wen-wêreld kom hul tot hul sin
Sy weet. Eenkant plaas sy ’n éclair-toffie in my hand


 

Wessel Strydom

Honger Tyd

Veselperske middaguur
Nog swem, nog jolyt, nog lag.
Dog nostalgies, sonder kuur;
Oor Tyd my so betrag.

Gou-gou groen (dan verby weer),
Vytjietyd, fluit-fluit.
Bring die hark, adekweer;
Tyd se oge raak geslyt.

Lemoene vir my koue,
My deken sluk my in.
Tog so donker, natuurgetroue
Tyd gee voor (ek binne-in).

Bloeiend perskes gewaar ek weer;
Niemand kan honger Tyd ooit keer.


 

Adri van Aswegen-Janse van Vuuren

genoeg

met ’n stukkie brood
en soutvis maak ek
al my kinders groot
hoor ek ouma Leen

maar vandag het brood
verfynd geraak
duur geword
smaak verloor
probeer ons dit opdis
met delikatesse
wat die oog vlei

wat my opval
is hoe tevrede ons is
met oppervlakkige
kitsoplossings
waar proses verlore gaan

die strewe opwaarts
versekerd
selfvoldaan

ek val vas in ’n vallei
van verlies
’n honger na volheid

verlang
na die vermeerdering
van brood en vis


 

Elizabeth Steyn

Die rasendes

Jy is
wat jy eet wat jy is wat jy eet
Wat jy weet

Jy is gluten-vry
En certified organic
Stylvolle beligting, digitaal geprys
in lugreëling

ek is wat ek eet wat ek is wat ek weet

Met rooi plakkerpryse sonder handelsmerk
Op ’n deurmekaar tafel in ’n vuil winkel
Die skyn-sente-omdraaier
... tóg middelklasgemaklik
met ’n vrieskas propvol
vleis

en ons
ons weet wat ons eet, wat ons is en was en wil wees

Viets en jonk en sterk
Fiks en sosiaal
Noukeurig ontplooi
Met ’n chroniese moeg
van werk vir geld,
kinders rondry,
van oormaat kos en
gerief

ewig rasend vir tyd
so sinneloos verkwis

En dan is daar die werkloses
die bakhande, die pleitendes

hy of sy of hom of haar
wat eet wat sy kan kry of steel
wat nie is wat sy eet nie

wat oorleef om te sorg
vir iemand anders se kind

en ons,
ons is die rasendes
’n mensdom propvol knaend

ons is die rasendes
met siel en gees vergete

ons is die hongeres
luuks en lam ooreet


 

Trevor Fourie

Kind van Afrika

sy gluur en staar oopmond
haar magie boepens-rond
met vel en ribbes ontbloot
het die Here haar verstoot?
die wit son het haar gru uitgedors
en skroei warm op die droë aardkors

’n aasvoël sirkel
en ’n skerpioen wikkel
ook op soek na ’n porsie kos

met broodgebrek en ’n gebarste lip
tussen kameeldorings en onthoofde blomme
smag sy na die wellus van die lewe
– die vleispotte van Egipte

geen karnaval geen hemelse vrede
haar magie wolkloos leeg
sy swerf en sluk die sterre

as die reënboog weer kleurvol hang
is haar gekrenkte trots
in die Olyfboom bedrup
Hy sal voorsien. Hy
wat op die water loop
en brode en ook visse vermeer

silver skottels wag begerig
’n hunkering wat nooit versadig
die honger van ’n Afrika-kind


 

Miche Kritzinger

Skreeu-...!

Onversadigbaar, onverstaanbaar, onver-...-alles!!!
Dit, is ek, SKREEUhonger, asof ek mal is!
As ek die gaatjie nie vul,
Begin ek soos ’n kwaai leeu brul!
Ek word sommer lastig, laf, lui,
En wil sommer met ALMAL baklei!

Dis hoe ek my magie soek; knuppeldik;
Ek smul so lekker, dat ek amper verstik!

Slurp! Sloep! Suig!
"Skreeuhonger", "rasend honger", "VREKHONGER"!

SO, as jy weer so honger is dat jy wil SKREEU ...
Dink bietjie aan die hongeres en deel jou kossies soos ’n mamma-LEEU.


 

Anri Potgieter

’n laaste avondmaal
"Neem, eet, dit is my liggaam."

bespot, met brokke brood en bekers bloed
staan die tafel ter elfder ure onaangeraak
’n onaanneemlike offer vir bekeerdes in broodsgebrek:
geliefde, my skape loop op klaweraas

beangs vlug ’n banneling terug na sy egipte
wyl die woestynveld wit gemanna en
vol afvlerk-kwartels lê
want die brood was nie genoeg nie

berouvol verlaat ’n iskariot sy getsémané
deur die sydeur en haas hom terug na
die tempel vir sy bloedgeld en sy galg
want die brood was nie genoeg nie

bedroef werp ’n verloënaar sy pêrels
voor die swyne en bly dan sit – verhonger
tussen mandjies vol vermeerderde vis
want die brood was nie genoeg nie

maar – begenadig is die verlorene
wat vir ’n halwe brood dan tog kom aansit en
in kroeë en in kerke die
kruis van sonde dra
want brood alleen is nie genoeg nie:
geliefde, laat my skape wei.


 

Lynette Du Plessis

Vebrande kos

Mammie maakie mee vebrande kossie

Een aand toe brand die huis af
 koolbredie oppie tweeplaatstofie
 terwyl sy slaap
 alles het vlam gevat
erger as my birthday-koek-kersies
ons moes honger gaan slaap
dadda met ’n smile op sy gesig
 hulle diewors-papiere is nou as

Mammie maakie mee vebrande kossie
 dit proe soos haar huwelik.


 

Christina Stewart

Gee ons vandag ons daaglikse brood

Vroemôre op die hoek
Desperate oë wat soek
Nie vir aalmoese nie, nee.

Ou, krom skouers en knobbelhande
Asseblief Meneer, Mevrou
Vir ’n dagloon kap ek dorings op die lande
Of kan gate in jou roostuin grou.

Karel is my naam – hulle roep my Bosrot –
Oor ek niks het nie
Tog beduie hy trots na sy krot
Nog nooit was ’n gehuggie so skoon of so net nie
Of so leeg nie.

Asseblief Mevrou net een dag se loon
Dis net ek en my ou vroutjie en kleinkind.
Ons kan nie weer honger gaan slaap nie
Hoe verduidelik ons dit vir hom?

Ek kyk op in sy oë
Die vaal regter een wat lankal nie meer sien nie
Die krom ou hande
Nog nie onwillig om sy brood te verdien nie

Dis winter Karel, te nat om buite te werk
Hier is jou dag se loon,
Ek sal jou annerdag kom haal.
Is reg so Mevrou – los net woord by die pastoor by ons kerk.

Bosrot, Hongerrot, Vaaloogrot, maar trots
Kry die Brood van die Lewe by Christus se voete.
En ek – my sakke en kaste boordens toe vol –
Besef in skaamte:
Hoe ver het ek afgedwaal van daardie roete.


 

Adri Bezuidenhout

Skraap-samig

ek vat ’n sluk vrede
van die laaste koffie in die blik
die seep is so dun vol skrewe
maar ek was my sondes af

net om môre weer ’n happie
van teleurstelling te proe
die stroop is klaar
die son skyn swaar

wanhopig is ek verplig
om te verstik
aan die besoedelde lug
van die volwasse lewe
waar die sente te min is
om ’n maal van geluk op te vurk

vanaand is beter
want die soetheid van die vrug
weer die mismoedigheid van die dag
in die oranje sonsak vas


 

Marisha Hermann

Woed-siel
Om ’n houttafel

sý siel
word gevoed
deur die kykers.

húl oë rek: die merke!
veroorsaak deur voedsel
pers gevlek.

háár liggaam
vergaan
suiker die oorsaak daarvan.

Tog is hul
vreedsaam
hulle
vreet saam
in vrede saam
om ’n houttafel

terwyl dit in siele woed


 

Erika Barnes

’n honger nasie
(12 Julie 2021)

suid-afrika
honger. rou. angstig.
staan sy in toue vir ’n bietjie meel
staan sy in groepe vir ’n bietjie vrede
hou sy vas aan hoop
dat uitkoms sal kom

suid-afrika
honger. selfsugtig. weldadig.
hardloop sy mal deur die strate
brand sy alles wat goed is af
gooi sy bomme
met die hoop om uitkoms te vind

suid-afrika
honger. gatvol. kwaad.
maak sy planne om weg te trek
pak sy haar tasse en wag by die deur
gooi sy haar hande in die lug
en wag vir uitkoms

suid-afrika
honger


 

Salvia Ockhuis

Stom

Hul kyk anderpad
as haar dowwe oë
om die krummels
van hul oorvloed pleit,

weg van
haar saamgeperste lippe
– ’n gapende wond
en grommende grot
van leemtes
volgeprop –

en fluister
vir mekaar verstom:
waar sal ons hulp
met haar
vandaan tog kom?


 

Yuwinn Kraukamp

Begrafniskerrie, verjaarsdagkersie

Daar is net een smaak wat bestaan in my wêreld, die Desember-smaak wat net manifesteer en verdwaal in my mond een keer ’n jaar.

Sodra ek deur die voordeur stap word ek getrek deur ’n oseaan vol geure en kleure,
’n golf van smake en reuke nooi my binne en skree, "Welkom, kom geniet die feesmaal van die eeu dames en here,
kom vul julle mae en maak nat julle kele."
Generasies van kookgeheime vloei uit Ouma se boeke en bladsye
’n leeftyd se kerkbasaars was oorwin met haar geheime disse en gemengde speserye,
vir ewig gekerf op daai blaaie deur al die grys en goud en goeie tye,
al die onsterflike kennis en herdenkende bestanddele gegroei en gepluk in ons eie tuine.
Ouma het geglo dat die perfekte smaak van die regte resep versadig die donkerste holheid en genees selfs die diepste pyne.

Luister, daar is net een magtige smaak wat my wêreld ontwaak, en alle lewe en lig in die sterrestelsel begin met daai eerste donker sluk,
verhit en versoet, die kafeïenstroom profeteer hoe die dag gaan vloei, hoeveel lewe kan ek saai en hoeveel sonlig ek mag pluk.

Daar is een nasmaak wat my palet verdoof,
spoel af die wortels en skil af jou werkwoorde,
bedien en versier ’n vrugteslaai vol vergelykings en alliterasies,
vir ’n heerlike drie-eenheid wat smelt op jou tong sodat jy die murg uit elke lettergreep kan lek,
marineer eers jou naamwoorde en skaapribbe met repetisie en parodiese geurmiddels,
gebruik net ’n knippie sout van die aarde en peper jou vleis met ’n paar idiome,
gooi olyfolie oor die vuur en ontdooi ’n paar ou gesegdes vir die kole, want op Erfenisdag soek ons behoorlike gebraaide metafore;
elke silwer skinkbord het twee refleksies – die ryp en die vrot – die appel van jou oog is ook die suurlemoen van jou drome.
Elke braaiparadys word bedien met warm patats en al die gebaktepere wat vas klou aan jou sole.
Dit mag anders proe, maar dis nog altyd dieselfde poeding met net ’n ander sous.

Spandeer ’n leeftyd om daai naamlose smaak te onthou en te hervang wat jy ’n leeftyd terug geproe het.
Hunkering van papier en plastiek, blink leer en aanlyn liefde, ons almal is honger vir ’n smaak wat nie meer bestaan nie,
vir die smaak van vervulling, ver te breed vir die menslike keel.
Ons is lopende lyke in ’n teater van hongersnood,
die spasie tussen die lepel en die lippe brei aanhoudend uit, en die doelpale van versadigheid skuif al hoe verder agteruit.
Een dag verstaan die weeskinders van oorvloed dat hongerte meer as net ’n sensasie in die maag is; dit gaan dieper as die vlees, verder as die been, erger as die seer.
Die hongerlose koning gooi sy oorskiet op die sypaadjie vir dié wat bedel,
die hawelose versamel vel en been en aanskou dit as ’n helpende hand uit die hemel.
Koninklike krummels is ’n feesmaal vir die hulpelose, ’n lighuis van geloof en begeleiding vir die hopelose,
die hond jaag die been, die boer bid vir reën; gevangenisse van ’n siklus van hongerte gestig deur die haatvolle en die hartelose.

Die smaak van Desember lok ons almal rondom dieselfde houtaltaar, buig ons hoofde onder dieselfde houtkruis,
pietersielie oor die slaai, sout op die vleis, kleursel oor die rys
’n honderd speserye in my neus bevestig dat na ’n duisend-jaar-lange ballingskap is ek uiteindelik tuis.
Die nasleep van vetterige heerlikheid is ’n karkas van hoenderbene vir Fluffy om te kou en te byt,
Die klank van aandete wat geniet word is die afwesigheid van woorde tussen die besige staal-eetgerei-geluid.
Die sig van vlugtige gelukkigheid is die beeld van swart skape en wit brode wat gebind is deur rooi bloed rondom dieselfde familie-tafel vir die heel laaste tyd.
Daar is net een smaak wat bestaan in my wêreld, en dit herinner my na jou.


 

Robert Nolte

Seisoene aan die Kaapse tafel

Met laatherfs in die dennebos
Begin die soeke na wildekos
Klipsampioen en bruin boleet
Lê neffens naald en bas versteek

My oupa lê olywe in
Ouma begin konfyt te kook
’n Kunsvliegstrik word ingespan
Om dalk ’n mooi forel te vang

Dis winter en die platboompot
Prut vol waterblomgenot
Wat halflyf in ’n vlei of dam
Geoes word waar hul in bot staan

Ons sal dan nou ook mossels trap
En rooiaas sny wat ryp moet raak
Want storms spoel die gate oop
Waar galjoen in vlak skuimwater spook

Lentedae word alikruk
In bamboeswoud se sloep gepluk
Mens maal dit fyn, so met die hand
En geur met room en wyn na smaak

Ons vlek ook geelstert of ’n snoek
En bak ’n fynbosheuningkoek
Aarbeikiste word vol gepluk
Maar moerbei is ’n skaars geluk

Met somerson, net voor springlaag
Durf ons die koue dieptes aan
En duik ’n kwota kreefgeluk
Vir roosterbraai of driepoot-kook

In die Boland loop die druiwewaens
Met vragte bestem vir die pars
Menige al fresco-aand
Is bestem tot Februarie-maand

In die Kapenaar se pens en bloed
Berg die seisoenale spens sy goed
Want elke lekkerny en dis en maal
Is geskenke vir ’n groot onthaal


 

Wilken Calitz

My Tant Mien

My Tant Mien had ’n voet wat sukkel
’n Kierie in die hand en altyd aan die hekel
Die teepot sweet met ’n jurkie om die lyf
Snuffels hyg in sy mandjie want sy truitjie sit te styf

Haar heiligdom is onder in die gang
Daar klap die potte en maak gaste bang
Koejawels gis al vir maande in ’n fles
En suur gemmerbier om jou dors te les

"Die kos is amper klaar!" roep sy deur die walms
Ek dink aan bemoedigende Psalms
My tante bring die dis, heel in haar skik
Pappa gluur vir my, fluister: "Boeta, jy moet sluk"

Mamma vryf haar tempels en sê sy trek swaar
Sussie peusel suutjies en verklaar sy is naar
Die brakkie skuur sy pels teen my been
Ons bid vir die voedsel en vra vir God se seën

Ek breek die stilte: "Sjoe, maar dis lekker"
Met elke hap raak my plan al hoe gekker
Snuffels wag vir krummels van die spys
En net daar begin ek die hemele prys

Pappa ken my goed en vra dat ons weer bid
"Want die kos is so smaaklik." Oë sluit in gelid
Snuffels kry ’n gratis rit tot op die tafel
Hy lyk honger en ek droom van ’n wafel

Twee minute later gil Tant Mien
"Wat op aarde, dit is groot skade!"
Snuffels spaander, sy lippe nat gelek
By die voordeur uit met ’n hoender in sy bek


 

Lynnette de Jager

My honger siel

Om opregte emosies op die bladsy te mors, stil my innerlike pyn,
Ek dwaal verlore en alleen in ’n dorre, emosielose land,
Verteer deur ’n desperate honger na liefde en toegeneentheid,
My honger nie bloot om te eet van die plesier van die vlees nie,
Maar die bedwelmende kalmte van my honger siel se emosies,
Ek smag na daardie betowerende kyk tussen twee gekruisde minnaars,
Wanneer twee harte raak en die lig van liefde skyn,
Om te voel hoe die verhewe euforie weer oor my siel spoel,
Ek smag weer na daardie gevoel, ek het dit nodig om werklik lewendig te voel,
Soos ’n gestrande siel wat ’n oase in die woestyn soek,
Ek is verlore in die duisternis en dwaal in ’n land van donker skaduwees,
Die speldgate in die nag se gordyn my enigste ligglans,
Ek is honger vir die liefde wat ek nie het nie,
Ek is dors na die sorg wat ek wil hê,
Al waarna ek smag is liefde en omgee,
In my donkerste uur, sal ek ooit weer bad in liefdesverwarmende strale?


 

Ronel Sturgeon

Kosmonster

Daar is ’n gerommel in my maag
Die monster se kake wil knaag
Alewig die geroep na kos
Genade my broek se nate trek al los

Sal ’n pizza sy groot lus kan blus, of
Dalk bring ’n burger die monster tot rus
Slap skyfies en vis laat sy groot bek ook kwyl
Ek's raadop, my heupe het gerek met nog ’n myl

Dalk doen KFC net die ding
Dit moet die monster tot bedaring bring
Sien my oë die steak toe raak
Hoe sal ek ooit ’n keuse kan maak?

Wors en lekker mieliepap
Laat my ook na my asem snak
Reik toe na Simba op die boonste rak
Smag toe gulsig na die hele pak

Ek moet die monster se tande trek
Voordat my kake ’n dubbelken bywerk
Tamatie, blaarslaai en groentesop
Blyk toe ou monster se lus te stop

Kos is daar om elke hoek
Laat jou oë na iets anders soek
Die monster sal jou lewe steel
Gesonder ’n mes dan teen jou keel.


 

Wentzel Lombard

Om-nom-nom

Verorber, verslind, vernietig
Vergruis, verknoei, verkrag
Vir wat?
Vir oorlewing, vir voeding, vir nutriënte
Vir pret, vir voortbestaan, vir fokken volk en vaderland

Vertering, verwerking, verdraaiing
Verdwyning, verminking, verwarring
Van wat?
Van kosse, van feite, van liefde
Van proteïene, van gelowe, van drome

Verdring, verwerp, vergeet
Verfoei, vergiet, vergul
Vir wie?
Vir die gemeenskap, vir die kerk, vir jou ouers
Vir die polisie, vir jou kinders, vir die bure

Vir jouself


 

Lelanie A. Kruger

Die einde van die wêreld

Die robot-bedelaar se dooie oë knip-knip
ontbytpapdoos oor ’n boepens-maag
’n padloper op pad skoenboks-tas duimry hy
hierdie verlore wesens knibbel-knaag
aan motoris-gewetes ek byt my lip

Rooi ligte skreeu wanhoop-sinne verby
Geen werk. Geen huis. Geen kos.
Ek laai die tassie-man op dis ’n storie:
Teenspoed. Rampe. Dan raak jy bos
Meneer die einde van die wêreld is hier vandag

’n Kar-konsole vol peuselgoed neute en stafies
kou-kou spil die hero tot zero se val en glorie
ek sê meneer die wêreld eindig dis als die duiwel
dit gee my konstante konstipasie
terstond deel hy sy rosyne vir plakkaat-hande wat wag

Wat is in die tas?
Rekke skiet af: hemp broek kam en das ’n Gideonsbybel
nóg robot nóg ’n karton-siel sê: Honger. Kinders. Werkloos.
Die groen lig roep padtekens wys die nagskuiling is links
ek kies en neem ’n stadiger baan

Moenie worry oor my meneer die einde is naby
sy sug val hard en daar groei niks.
Dié profesie van jou vra ek om die stilte te sny

Jy reken die einde is nou? Hoe weet jy die ding?
Ja meneer dis vandag almal is maar moedeloos

Ek voel dit al so op die krop van my maag
preek hy tam vir hierdie straatleek-leerling
hier trek ons af jy moet nou gou ingaan
sluk sinnelose skuld proe trane en spoeg gemeng
uit my beursie diep ek ’n bloue saam ’n koepon

Sy moeë oë lewe weer hy wip regop skielik gejaag
totsiens meneer ek draf gou voor die hek toeslaan
kry ’n soldaat-saluut en agter hom sak die son
dankie meneer ek het die boek toe misverstaan
die einde van wêreld is met ’n week verleng!


 

Charmornè Swarts

Geure uit die kookhuisie

Die gemoedere woed binne-in my
Ek trek al hoe meer binne-in my dop.
Soms is daar niks om te sê
Dan spreek my stilheid boekdele.
Afval en samp bring vrede
Nee kyk, dit maak my "happy"
My ma het my geleer
Voorwaar dit was die resep, na my ander helfte se hart.
Moenie praat van derms
As daar nou skaap geslag word nie.
Die dumpling op die pot
Bewaar jou siel as jy daai pot oopmaak
Jy word vir dae aanmekaar uitgesort, as dit platval.
Gou-gou word ’n ui uit die tuin gehaal
vir vanaand se pot.
Die vars hoender word sommer op die werf geslag
Varser as daai kry jy nie.
Lippe word afgelek.
My hart verlang terug
Terug na my ouma se kookhuisie
Terug na waters waar rus is
Waar jou beker mdoko, oor jou lippe loop.


 

Irma Carstens

Miskien sal dit genoeg wees

Miskien sal dit genoeg wees,
wanneer die appels swaar aan my lyf begin hang.
Dit was nie, dit is nie.
Miskien sal dit genoeg wees,
wanneer die deeg rys onder my ken.
Dit was nie, dit is nie.
Miskien sal dit genoeg wees,
wanneer ek aartappelsakkies aan elke arm dra.
Dit was nie, dit is nie.
Miskien sal dit genoeg wees,
wanneer ’n Italiaanse focaccia my bobene oorneem.
Dit was nie, dit is nie.
Miskien sal dit genoeg wees,
wanneer beetsap my onderlyf opvlek.
Dit was nie, dit is nie.
Miskien sal dit genoeg wees,
wanneer my liggaam soos springmielies in die pot op en af tekere gaan.
Dit was nie, dit is nie.
Miskien sal dit genoeg wees,
wanneer die skaal ’n 100 sakkies suiker weeg.
Dit was nie, dit is nie.
Miskien sal dit genoeg wees,
wanneer ek my lyf brandmerk met die woord "enough!"
Dit was nie, dit is nie.
...
Want al die miskien los spasie vir verwagting en al die verwagting is so puntloos soos komkommer.
En al die keer en seer en weer probeer is vervang, vervang met genoeg witsjokolade om die spasie te vul.


 

Ankia Nel

Witbrood onder die arm

Stofgesig bakhand bedelaar
grootoog smekend my gewaar
    S'blief auntie, ons ga al ampe dood
    ek vra ni gelt nie, net ’n stukkie brood
    myse pa het alwee booze loep koop
    myse ma het laas maand weg     geloep.
    Issi maklik ni auntie, ek's ma net twelve
    die oudste van drie maar ek ken al die hel.
    Daa annekant sit myse siblings ook
    di hongerte het ons almal se lewe al weggestroop
    S'blief auntie, jou grocery trolley loep oor
    djy sal ni ees weet ni, djy sal niks verloor.
Haasbekgesiggies glimlag en waai
ogies soekend na iemand wat genade sal saai.
Maskaratrane trek oor my vet wange ’n streep
Ek’t ’n kas vol kos, ek kies wat ek môre gaan eet.


 

Anna-Mart Botha

Jy is KOSbaar

Met die beklink van ons ontmoeting, het ek afgeTJOP.
Dit was julle familiebraai op die stoep.
Tussen dop en tjop het ons geskaterlag.
Min het ek geweet ... daar wag ’n groot jag.
Daar was ’n tipe leed in jou oë?
Was bang om jou lief te hê is bo my vermoë.

Aan ’n langtafelete is ons liefde toe geseël.
Met geure en smake wat my palet streel.
Soos een van jou gesogte rooiwyne,
is jy die salf vir al my sielspyne.

Sondae bly die kersie op die koek.
Jou bak en brou ook nooit uit ’n boek.
Jy my lief, het my kospot-horison verbreed.
Al vyf my sintuie sal dit aflê in ’n eed.

Jou liefde vir my is soeter as stroop.
Dit gee my smaakknoppies weer nuwe hoop ...


 

Lynette Schultz

voedselketting

dis mieliepap vanaand, arm kant se township-kos, ingeroer met mfino-bos.
mama wieg-sing op die gasstoof se fluit.
"sy roep die maan en sterre uit",
glo grootoog-kinders wat stories hoor wat gogo in die donker toor.
dis kersligkos langs die bloekombos
waar haweloses die huis beny met kinderlag wat die donker sny.

dis rand-rek-resepte in ’n voorstad vanaand.
oorskiet-ete opgetooi met ’n knertsie se steel-wyn bygegooi.
witrys kry rosyne by,
patats smoor dronk in kaneel.
ekstra wiskundeklas en ’n bril het die biefstuk weggesteel.
nou is dit frikkadel "de fortune"
op ’n haarbreed begroting
wat nét-net klop, net-net miskien ...
moeë werkers sleepvoet verby, en ruik die kos waarop rykes gedy.

kumamoto-oesters en oscietra-kaviaar word met ligte dom perignon-borreltjies afgewas op ’n glim-blink nuwejaar.
eksoties gerookte aal en edel garnaal met pikante vlierblom nektar-reën
lê in offerandes op silwer skinkborde
en wag op seën,
maar met onvergenoegde verveeldheid word ’n skatkis geruil vir poeier en ’n spieël.
en in kombuise, weggesteek, word hande, rûe en voete gebreek
wat huiswaarts keer na oorskietkos en ’n sinkhuis langs ’n bloekombos.


 

Charleine Collins

marine à la carte

Die blou-blou branders sis
– oesters, krappies, krefies,
garnaal, mossels, vis –
roerdraai warm, woel en spat
maak lus
vir eet en braai en baai

trek loomgesmeerde meringue
soet en t r a a g en t a a i,

terwyl aromas van roomys en sand
ons sinne bestuif
ons gastronomies laai

soos ek jou sout lyf
met klapper marineer
soepel olie vryf

om saam met my s  t  a  d  i  g
ons oë stout, lokkend op skrefies
te  p-r-u-t-t-e-l  in die son

b
e
d
r
u
i
p

vir stadiums van halfgaar
en goedgaar en

bon appétit!


 

Landi Scholtz

Waar dit als begin

Ek staan dou voor dag op
Die voëltjies roep die son om die swart nag te verdryf
Ek gryp gou stomende koffie en beskuit
Dis gans en al te vroeg vir ontbyt

Buite lê die koringvelde ryp
Soos gouestroop
... maar dis oestyd
En die stroper kloof sy weg oop

Ek sit op die stoep
Die reuk van varsgebakte brood in die lug
’n Moeë maar tevrede sug
Dit was ’n suksesvolle roep

’n saadjie in die grond
Dis waar dit als begin
Dink ek
En byt in my vars botterbroodjie in

Met sy laaste strale is die son besig om te groet
Môre weer vroeg op om ’n nasie te voed


 

Karen Woodward

Versnapering

As woorde as versnapering
Tog maar ’n einde aan hongerte kan bring!

Die hemelse herinnering aan
’n heuningbedruipte
neut- en briebelaaide beskuitjie
terg my tong
terwyl soetsuur,
fyn-robyn-framboosborrels
vir ’n vlietende oomblik
’n verskyning maak tussen tande
Die kaleidoskoop kousel
gebakte krummelappeltert,
ter lafenis gelei deur geklopte room,
rond die gastronomiese lugspieëling af
Wat my soveel saliger aan die sakpas-
versnapering van sousboontjies en brood
laat sluk.

Want woorde alleen
sal nie ’n einde aan die hongerte bring!


 

Sheldan Dolf

democracy stepchildren

"This is how she’s dying, she’s dying to survive
Don’t know what she’s made of
I’d like to be that brave." – Sade

daar is sekere mense wie se resilience
hulle enigste weapon is
hulle het g’n weelde
geen vaste shelter
hulle staan in 350 lyne
al skroei die son
al reën hulle nat
heeldag
tot vanaand toe
sonder niks
hulle dra party t-shirts
wan ten minste is daar ’n kospakkie
wat die gat in hulle maag
tydelik verlig


 

Anna Koen

Sielshonger

My siel is honger vir mense
Ek verlang na ’n drukkie saam met goeie wense.
My siel is honger vir aanraking
sonder om te dink aan afstandsbewaking
Ek wil weer met mense kontak maak
sonder om te wonder wie gaan wie siek maak.

Wie sou dit ooit kon raai?
’n Kleine virus het die hele wêreld op sy kop gedraai.
Stadig, stadig het hy een vir een afgemaai
Soos ’n veldbrand in droë grasvelde deur sterk winde aangewaai
het hierdie virus verwoesting kom saai.

Ryk en arm, oud en jonk, man en vrou
Families is gedompel in rou
Ons is uitgelewer aan genade
net op God kan ons vertrou.

My siel is honger vir mense
ek wil liefhê en kuier sonder grense.


 

Elmien Kraamwinkel

Bakhand vir padkos

As jou recycle-trollie
tjierie-tjierie
Woensdag-vroegoggend
oor my drempel dreig;
is jou gelapte hande
ned'rig dankbaar
vir die bakkie oats
wat ek telkens daarin stoot.
Terwyl jy gretig grawe
in elke liewe
vullishoop,
weet ek jy wens nie net op
plastiek, papier, bottel en blik,
voor jy verder loop
Maar jou seningrige lyf
soek-soek ook na die
krummels
van ’n
vergete ete.
Padkos om die hol kol
op jou maag te ontknoop.


 

Kayla Hofmeyr

Asblikdelwers

Weet jy hoe dit voel om ’n honger kindjie te wees?
Om te smag na voeding maar geketting in vrees?
Het jy al gaan slaap met ’n leë kol op jou maag?
Terwyl allerhande finansiële monsters Mamma en Pappa jaag?

Soek en krap, maar die asblik is leeg.
So wanneer begin mens gevaarlike opsies oorweeg?
Dalk gewapen maar só magteloos
Leeg getap, honger en broos

Ogies wat smag na kos, smag na hoop
Moet ons weer van asblik na asblik loop?
Moed bymekaarskraap en vra vir ’n geldjie
"Meneer ek vra net vir ’n broodjie en ’n melkie"

Onthou ’n asblikdelwer bly ’n dromer.
Al word sy drome deur monsters verower.
Help tog met ’n happie, ’n drukkie of ’n glimlag wanneer jy kan
Die Here spreek ons vry – waardig steeds deur wat ook al ons gaan.


 

Carike van Biljon

Honger kwadraat

Net voor middernag, trein op die spoor
Branders wat breek in die verte te hoor
Gedagtes op die N1 tussen hier en daar
Terwyl Klaas Vakie sy sand vir nog ’n rukkie spaar
Diep gesprekke met die sekelmaan
Oor hoe die pad lyk wat vorentoe gaan
Vergeet of onthou, laat gaan en vertrou
’n Permanente hongerte wat aan die beendere kou
’n Hongerte om te lewe, dalk minder te voel en net ’n iets te wees
Die tipe hongerte geken tussen siel en vlees
Woorde en musiek is tog net tydelike kos
In ’n wêreld waar ’n oorvloed van voedsel steeds hongerpyne los


 

Elma Human

fluisterwoorde

yskoud soos soft serve-roomys
spiraal gestapel op ’n sugar cone
sensuele soet begeerte
gly in haar keel af,
word taai oor haar borste
lê ’n poeletjie
in haar naeltjie
dan libido dit
oor haar klitoris

sy lek die afsmeltkante
haar tong rondom, onderlangs, bo-oor
druk die hele horinkie uiteindelik
binne-in haar mond –
vol ekstatiese genot!
’n sugar rush ...

sy lag en klad haar lippe
met die wit servet


 

Esté Gross

Oom Appeltjies

Hy blaas en vryf die winter uit sy hande
En trek die waentjie met moeite die maanpad uit

Met sy NASA-oorpak land hy voor ’n vullisdrom
Hy stop, sink sy kop in ’n swartgat van karton
Plastiek, blikkies, gister se oorskiet

Hy kry ’n roly-poly en sê opgewonde: "holy moly!"

Maar soetigheid verskiet
Die datum sê jy moes dit al geniet

Uit die nasterdieptes delf hy soms ’n vonds
Die NASA-oorpak het hy gekrap uit so ’n swartkolk

Die heel vruggies wat hy opdiep
Druk hy in sy sak,
vir die bure se kindertjies
Na sy maantog gee hy vir elkeen ’n appeltjie

Hy keer huiswaarts, word klein voor hy
In die swaartekrag van sy sinkhuis verdwyn

Van sterre gestroop
droom hy snags van ’n plek met hoop
Ligjare weg van skarrel en van skaam
Waar hy kop omhoog op ’n ander maanpad loop.


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top