
Foto: Unsplash
Hier is die tweede groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.
Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.
Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.
..........
Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.
Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:
| Mariska Ford | Lana Dunn | Esme de Beer | Annemie Bester |
| Riana Maritz | Renate Potgieter | Eshleen Samuels | Ernest Swanepoel |
| Martha Khoëses | Sheugnet W Jones | Elsabe van der Westhuizen | Driekie V Kruger |
| Dale Penderis | Leo Shir | Clarice Andries | Thelma Labuschagne |
| Eliouse Boys | Esmé Coetzee | Anke Bezuidenhout | Salomé van Vuuren |
| Kobus Erasmus | Lourensa Stemmet | Amanda Lawrenson | Renata Homan |
| Molly Lubbinge | Luisa van der Linde | Renate Engelbrecht | Annemarie Baird |
| Juanita Louw | Nadia Vickery | Riana le Roux | Judith van Zyl |
| Zolie Wilken | Christopher Williamson | Constance Thomas | Angelique van Kraayenburg |
| Marietjie McDermott | Sheleen Maritz | David Jantjies | Elsie Fourie |

Mariska Ford
My ma se probleem
In haar bedkassie rol Chuckles rond
en ek kan sien hoe lek sy die Nutella uit die hoek van haar mond!
Dan voer sy hoogheilig vir ons wortelstokkies en seldery
en as ons gelukkig is, kan ons ’n hand vol rosyntjies kry.
Raai wat ontdek ek gister agter die tuna-blikkies?
’n Aero, maar net die laaste paar stukkies.
En weggesteek agter die meel?
’n Boks Ferrero Rocher, met Sellotape geseël!
Ek hoor gereeld die geritsel van lekkergoedpapiere naby haar,
Maar as dit by ons kom, geld "MA VAN DIE JAAR"!
Want ons kry brownies met fyngedrukte boontjies
En sjokoladekoek van gerasperde murgpampoentjies!
Hoe sal mens die saak benader?
Boikot, betoog of dalk as familie vergader?
Al wat ek vra is ’n nuwe reël:
DAT MY MA HAAR SJOKOLADE MET ONS ALMAL SAL DEEL!
Lana Dunn
Tekort aan voedsel
Daar is ’n leemte in my hart
Verworpe, uitgespoeg, verward
Om doelloos te dwaal in my verstand
Te vergeet van ellende hartseer en smart
Tekort aan geestelike voedsel,
Ons lug en omgewing, aardbol besoedel
Uitgedor, droog en dor is my siel
Kyk hoe het die wêreld alles verniel!
Misdaad, geweld, pes, siektes my siel
Angs en vrees, verhonger – my verstand verniel
Wat bly oor, oorlog, anargie
Depressie vir hierdie dors in my siel.
O Heiland! My siel raak stil
Slaaploosheid het my slaapkamer gevul ...
Dors my verstand, na ’n gesonde land ...
Weg is die mooi van my aangesig.
Peinsend, verhonger, irrasioneel –
Peinsend, uitgeteer dooie blik.
Dood en doodsbleek wat voor my geestesoog afspeel.
Armoede, afgekapte hande –
Bloed wat loop ...
Felle oordele,
Lê ek en wag vir die dood.
Daar is niks meer oor ...
Tekort aan voedsel.
Verdor is my boedel.
Esme de Beer
Wees versigtig, my kind
Aan Addie en Mila
Wees versigtig waarvoor jy soek, my kind
Jy sal vind
Hierdie wêreld is ’n kulkunstenaar
Wat kaalvoet oor jou graf sal dans
As jy honger het, wees versigtig, my kind
Hierdie wêreld kan jou met een hap verslind
Vir hulle lyk brode en klippe
Baie dieselfde
As jy dors het, wees versigtig, my kind
Die helder riviere kan jou vinnig verblind
Die water lyk skoon
Terwyl die skerpioene om jou hakke krul
Wees versigtig, maar moenie vrees nie, my kind
Hierdie wêreld sal jou gees nie kan bind
Jou honger is stil
Jou dors geles
Ons God sal sorg vir die res
Annemie Bester
#wiesoekkosasdaarliefdeis
Ek is so verlief
Dat ek al vir ’n maand amper niks eet nie
Ek is so verlief
Alles proe soos karton
My gedagtes word gevoed
Deur die herinneringe van jou lyf
Die middernagtelike soutkoekies en kaas
Is afgewurg voor ek jou verorber het
My vingers gly oor die kontoere van jou lyf
Soos ouma se elektriese mes
Deur ’n Sondagmiddag-skaapboud
Jou bene vou om my middel
En jou tong in my holtes
Vul my soos ’n bierblikkie
In ’n Webergebraaide hoender
Die lakens so ’n warboel om ons
Soos ’n opgeskepte trifle
En laataand teug ek aan jou
Asof jy die likeur na die maal is
Riana Maritz
Hoopkos
Tranerig is die oë, wasig die kringe,
Binne die hartjie is, o, so baie dinge!
Omes, hoe dan nou?
Hoekom het jy jou mou so gekou?
Daar kom woorde, maar ook nie.
Dis kos wat kort, maar waar, wie?
Met haar armpies langs haar sye, sit sy net daar.
Nêrens anders nie, want hier word drome waar.
Die sypaadjie is warm, maar dis okay vir haar voetjies:
"One dollar for bread, please" vra sy soetjies.
Die hand steek deur die ruit – dis wragtig ’n noot!
"Thank you, madam," met ’n knikkie en die glimlag, ewe groot
"Mommy, look!" – my hart breek!
Die moeder – vasgegrendel in ’n rolstoel, ongebad, seker al ’n week.
Klein, skurwe voetjies vaar die winkel in.
Moedertjie, bly julle da by die lokasie in?
Hmmm, da suid van Tsaxa, extension vier.
Kos? Wie gee vir julle, of kry jy by manier?
Ai – jeh! Niks, wag maar elke dag hier:
Onse God sal mos kyk op Sy manier!
’n Hele Bakpro maak sy verskyning
en daar is dit; trane het my hart omring.
Hoe kom mens reg? Waar vind jy ’n weg, vra ek jou!
Ons eet almal heel okay, maar wat van die kind en die vrou?
Daar’s niks: nie klere, nie kos
En sommige van ons wil alles sommer net so los?
Een Bakpro maak als reg, vir nou,
Maar wat as ons almal aan hoop en geloof begin vasklou?
Renate Potgieter
Koue komkommersop
In die agtergrond speel sagte musiek, die woorde vul my kombuis, my siel.
Ek wonder of my koue komkommersop die harte om my tafel weer sal laat leef?
Soveel om oor te praat, soveel hartseer tog liefde om met mekaar te deel.
Ons almal se lewensverhaal het verander, ons is inderdaad heeltemal anders.
My hond se stert swaai links en regs, haar helder bruin oë blink en is vol verwagting vir die gaste wat later gaan klop.
As sy maar net weet hoe vreemd dit voel om weer voor die stoof te staan.
Met die deeg tussen my vingers knie ek ritmies saam die woorde wat om my dans.
’n Hand vol parmesan of dalk twee, gebraaide rooi uie en knoffel voeg ek ingedagte by.
My tuisgemaakte roomys woer en woer met liefde hier agter my, die lemoen-en-kondensmelk-konkoksie sal ons heel laaste aan smul.
Die beste gedeelte, die droom van die aand, lepeltjie vir wonderlike lepeltjie.
Vanaand gaan ons saam brood breek, saam chardonnay drink, saam in die geure en smaaklikheid deel.
Ek voel ’n sagte soen in my nek, ek draai om en sien hoe hy glimlag, ek weet, hy weet wat ek dink ...
Vanaand, my liefling, is ’n splinternuwe koue komkommersop somerverhaal.
Eshleen Samuels
Gemors
Wat soek jy? Iets om jou te vul soos liefde of kos
Hul albei veroorsaak ’n gemors
Dis veronderstel om ’n leemte weg te neem
So waarop kan jy steun
Is kos dan die antwoord of iets meer
Dis ’n hongerte maar dit maak so seer
So vul maar jouself met kos want liefde veroorsaak soms net ’n groot gemors.
Maar vergeet die gemors en bak en brou en eet jou dan flou
Ernest Swanepoel
Kosteleurstelling
Dis pap vir ontbyt.
Dis pap vir middagete.
Dis pap vir aandete.
Dis pap en melk.
Dis pap en eier.
Dis pap met botter en suiker.
Ek is al so dik vir pap!
Die koskaste bly dolleeg.
Daar is niks lekker om van te kies of keur,
al is daar verlange na ’n spesifieke geur.
Verslaaf aan gym, soetgoed, skinder of musiek?
Myne – kos!
Ek soek, maar niks ...
So, vanaand is dit weer pap vir aandete!
Martha Khoëses
Honger
Dit was altyd ’n vreemde ding
Nooit oor ons vermoëns of krag nie
Ons het ’n land gehad wat so groen en mooi was
Gevul met skoonheid en moontlikhede
Bome so welig
En water so helder
Stroom volledig
Almal buig in die volmaaktheid van die natuur
Tog gaan tye vinniger verby as ’n trein
Neem die skoonheid en oorvloed saam
Ons het stil gestaan, geboei deur verwondering
Dink aan wanneer en hoe ons hier aangekom het
Ons staan in die droogste van riviere
Met die nederlaag duidelik in ons oë
Die natuurlike skoonheid van ons land,
Nou bedek deur stof en wind
Die eens pragtige natuurskoon het vir altyd verander
Om vir ons ’n wrede kant te wys wat ons nooit geken het nie
Dag en nag staan die boer by sy pos
Kyk ver oor die mak velde van waar hy sou oes
Bekommerd omdat die reën geweier het om te kom
Hy ken geen ander nie
Hy wens geen ander nie
Slegs water om die hange te vul
Om stadig vanaf noord na suid te vloei
Om die grond wat dors is deur te drenk
En die vure wat oor die hele land brand te blus
Verslane staan hy
Nie bekommerd oor die nuus van ’n nuwe siekte,
Wat die aarde teen ’n kommerwekkende spoed besmet nie
Want sy bekommernisse is groter as almal wat na die mark gaan
Om dit te koop wat uit sy handewerk en gebed is
Ja, die siekte is nie die een wat die Afrika-kind doodmaak nie
Die belaglik hoë pryse van ons kos, in die afwesigheid van hand en reën om die grond te versorg
Om die vars produkte en kruie te kweek
Die voedsel wat in staat is om die liggaam en land te genees
Hy kyk verby die pieke en sien die diere
Nee, dit gaan nie oor die trofeejag, of die biltong wat deur baie oor die wêreld geproe word nie
Die reën het afstand met die grond gemaak,
Laat beide dier en mans desperaat en honger,
Kniel elke dag in ’n rituele gebed
Almal saam roep net hierdie een keer na die hemel,
Verenig deur die vrees vir uitwissing,
Alles omdat die vrees vir honger hulle mal maak,
Die een wat oor die dier, boom en mense geheers het
Dié buig en kruip verslane.
Deur die grond wat hy een keer met ’n magtige hand regeer het,
Nie gereed om ’n nuwe meester in die gesig te staar nie,
Wat bekend is vir sy verhongering en dood.
Vandag kruip hy saam met almal in die land,
Want honger het die uiteindelike meester geword.
Sheugnet W Jones
Nagmaal van die veld
Dit raak nou donker
Lang oranje en skarlaken streep die nag
waar papierbas se plat kroon die horison-rant versag
Vinke raas nog
dan ...
stil ...
Sonder dink
Haar wese
blote instink
Wag
Die oomblik huiwer buite sig
blad tril
Haar kop sak
maar haar blik
onwyf'lend op iets daar
tussen gras en grond
Swart op swart beweeg
Insinuasie van ritsel en spasie
laat die huiw'rende oomblik ontsnap
en met brute grasie
onderstreep sy daardie stonde
met bloed uit die roggelkeel
van ’n stomme dier wat skop ... skop
’n banneling uit sy trop
Dis honger wat haar dryf
maar nie haar eie nie –
daar’s kleintjies in haar lyf.
Elsabe van der Westhuizen
Gemufte brood
Was jou woorde maar soos ’n geurige sny brood
sou ek dit met smaak kon verorber,
maar helaas het dit muf geword
en my hart onversadig gelaat.
Driekie V Kruger
Die gebed van ’n kind
Skerwe oral op die vloer,
skets die verhaal van gisteraand.
Rusie, slaan en rumoer,
wie is dit wat betaal?
Liewe Jesus die kossies is min,
Liewe Jesus die geldjies is klaar,
net een ou lekkertjie,
is al wat my hart min.
Ou gelapte klere,
dun van baie was en stryk.
Houtreuk van leë koskaste,
net donkerte wat uit hul pryk.
Liewe Jesus die kossies is min,
Liewe Jesus die geldjies is klaar,
net een ou lekkertjie,
is al wat my hart min.
Haar hare deurdrenk van mamma se trane,
hongerpyne smag na vervulling, ’n verlange.
Met haar bloukolhande saamgevou,
kniel sy elke aand voor haar bedjie in rou.
Dale Penderis
Gister
Diep in die holtes van die siel
Gevul met die oorbekende werklikheid
Smagtend na ’n verwagting vir die onbekende
Dis daar, maar waar?
Dis iets, maar wat?
Soekend, smagtend
Niks, leemtes, verlange
Eet-kou-sluk, eet-kou-sluk ...
Die gemoed en die skaal sug
Leeg, leër, dolleeg
Eet, ooreet, verstop
Ek soek in die kas na iets wat my pas
Nodeloos en verniet
Want dit wat was, hang nog in my kas
Vae herinneringe en verdriet
Stilte, bepeinsing, oordenking
Soekend na ’n halm sterker as strooi
Hier in my kamer vind ek my Vader
Die gordyne skuif oop en in my kamer
Hier by my Vader ... ek was ’n teiken van die duiwel se prooi
Nou soek ek wat was, nie meer in my kas
Maar fokus op dit wat is
Hier in my kamer, ek en my Vader
Oorwin ek die yskas en al sy magnete
Dis groente, dis vrugte en als is gesond
Kaalvoet en knielend op heilige grond
Leo Shir
Mincebol
Ek sit in die kombuis
Skielik! Draai ek om
My gedagte haak vas, dit ruik so lekker
o Vader ek voel dom
Die glans en die stoom in die oond
maak verstom
My tande water en voete sweet en lippe los
Sjoe! My mincebol
moenie so skaam lyk nie
Hier is gravy en pasta
So stap bietjie nader, my mincebol
Julle al drie maak honger
Clarice Andries
Mengelmoes
Droëwors, biltong, sosaties
Uniek, so eie aan ons nasies
Koeksisters, vetkoek of melktert
Die moeite werd en altyd beskikbaar
By enige konsert
Braaivleis, potjiekos, shisanyamas
Die regte medisyne vir enige dramas
Biryani, bobotie of vetkoek
Beskikbaar in elke Suid-Afrikaanse boek
’n Mengelmoes met mieliepap en boerewors
So eg aan Afrika se kors
’n Mengelmoes van Afrikaans tot Sepedi
Ons tale, kulture en name soos Naledi
Thelma Labuschagne
Wat as?
wat ás daar ’n sakkie
netjies in jou pens kon pas?
één met ’n zippie
wat mens oop en toe kan maak
ons sou dan tog te lekker smul
en die sakkie tot teen sy rand kon vul
met feeshappies wat mens rond en dik laat raak
vet word is dan nie meer ’n sukkel-saak
wat as jou sakkie stampvol word
van al die heerlike disse op jou bord?
ag moenie kommer – moenie vrees!
jy sal net soos ’n stofsuier wees
haal die sakkie uit en skud hom leeg
jy hoef dan nooit as te nimmer
óóit weer ...
... jou happies op te weeg!
Eliouse Boys
Ogies blink, magies leeg
’n Herinnering aan ’n tyd
’n Gedekte tafel, prentjiemooi
Gebakke van alle soorte, soet en sout
Familie en vriende blink geklee is genooi
’n Mooi tyd, lank gelede, herinneringe
’n Donker wolk, ’n siekte het kom steel
Die dief vat mense en vat werke
Magies onthou kossies van mamma
’n Soete gedagte, nes sy
Pappa tel bietjie geldjies met waterogies
Dis al wat oor is.
Die droom, ’n hartsbegeerte
Disse wat hartseer stil
’n Gelag van ons kinderkoor
Smaaklike reuke van mamma se potte
Pappa wat tergend help
Kossies wat maagboepies gee
Dit moet asseblief my toekoms wees
Maar vir nou
Ogies blink vir wat was
Magies leeg vir wat is ...
Esmé Coetzee
Paradys van skyfies en kabeljou
Met die sand tussen my tone ...
Midde die papier kraakvars soos die geure ontsnap ...
Die smaak van see ...
Die seelug drink die oomblik in ...
Ek raak meegevoer deur eggo’s van die golwe en paradys van skyfies en kabeljou op my palet ...
’n Oomblik van vrede, vreugde en vryheid midde die onsekerheid van ’n wêreld onderstebo ...
Anke Bezuidenhout
Manna vir die gees
Ek is honger, ek self weet nie na wat skree my hongerpyne nie.
Is dit my gees wat pyn na honger
of is dit my vlees.
Hoeveel keer moet ek lees
my kookboek van die lewe sê
die resep is eenvoudig
Die trofee-lewenskoek, is ’n eenvoudige mengsel van volharding in geloof,
gebed en lewendige verhouding met die skrywer God.
My pyne skree, God voed my ...
Stuur vir my manna, soos U Moses se volk gevoed het.
Niks meer, niks minder, wit klein vlokkies ... niks meer, niks minder net manna vir my gees.
Salomé van Vuuren
Kersmalligheid
sakke bult volgelaai
oorgewig anties
laat trollies kreunend kla
karwagte sweet en swoeg
stasiewa se vere steun vergenoeg
taai kinders agter vuil vensters
is moeg gewag
kersvader op die hoek
dril as hy lag
die uitgestrekte hand
pleit tevergeefs
in die fees van oorvloed
is daar geen geld
om hongeriges óók nog
mee te voer
Kobus Erasmus
Versorg
Na denke oor versorging,
vra die nadenker:
eet ek om te leef
of leef ek om te eet?
Die rentmeester eet om te leef,
die verbruiker leef om te eet.
Die heelal word versorg.
Hoekom nie ook vir my?
Lourensa Stemmet
Die stryd
Te pletter. Verslae. Terneergedruk.
Lam.
Die kasdeur se koue, silwer metaalhandvatsel.
Ek staar voor my uit.
Jy gaan dit nie doen nie, ek weet jy gaan.
Die kasdeur swaai oop.
Daar lê dit, die stem wat ek hoor laat soggens, middae en laat saans.
Jy gaan dit nie doen nie, ek weet jy gaan.
’n Hele een verdwyn in my mond, toe nog een en nog ...
Te pletter, verslae, terneergedruk.
Lam.
Maandag.
Maandag sal ek weer begin.
Amanda Lawrenson
Kos verlos ...
Niks anders bring die satisfaksie
Dit komplementeer die aksie.
Jou sintuie begin ’n oorlog
Herinnering begin die tog
Soet suur sout
Ewe skielik benoud
Dit prik die lewe
Laat jou bewe
Dis kos!
Dit verlos!
Renata Homan
Wat’s vir aandete
Die dag was lank en hongerpyne gryp vas.
Ek krap en kyk rond wat’s in die kas.
By die winkels was dit vol maar die groente was te duur.
Ek moes besluit, wortels en pampoen of betaal ek die huur.
Ek besluit op rys en vleis.
In die potte en panne lyk alles so grys.
Geen kleur, geen smaak.
Solank dit net die maag volmaak.
My man kom in, glimlag en vra wat’s vir aandete?
Hy weet nie ek moes kies nie, nou hoe lewe ek met my gewete?
Molly Lubbinge
Dinsdae
Op en af
Langs die uitkykpad
Drentel die dae
Jaar na jaar
Alleen en maer
Hóm agterna.
Die gleuwe tussen sy ribbes
Soos klei uitgekerf
Gooi skadu’s
Oor die bietjie spier
En hoop
Wat hy van gister kon erf.
As dit reën, gaan skuil hy
By die bushalte in Ferreirastraat
En as dit warm is,
Sit hy onder die papierbas by die sirkel.
En op Dinsdae
Voor hulle kom vullis haal
Raak die gekramp en
Draai van sy derms
Vir ’n paar uur
Eindelik,
Tydelik
Stil.
Luisa van der Linde
nalatenskap
die smaakontploffing van gedeelde spys en drank
sal lank ná die kis gesak het
nog watertand herinneringe
padlangs in haar menswees loop
kulinêre oordaad, stroopsoet op die hart se tong, verouderd soos pryswen-wyn wat die toets van tyd deurstaan
gedeelde leed en lyding rondom borde stomende aromatiese rys, walm wispelturig in haar wese op koue dae wanneer boerekoffie nie troos nie
soete verleiding en sielvolle woorde smelt suggestief hartlangs terwyl sy saggies neurie en liefdevol rye vars vreugdevruggies neffens mekaar opdien,
kleurvol in gelid soos die koskaleidoskoop
wat sy van kleins af koester
Renate Engelbrecht
Trooskos
Daar is min genietinge
So gevul met satisfaksie
Soos ’n bord trooskos
Met witgestrekte rekmerke
Raak jy weer mens
Styg jou hoopmeter
En so koester onthou se kombers
Jou hart weer heel
Annemarie Baird
Lepelstories
"Waar’s jou lepel? Jy kom vat al weer gat hierso!"
Die juffrou skree altyd op mens as jy jou lepel vergeet
(My pa sê dié juffrou klink nes ’n ou kens hadida)
My ma het my laas keer ’n pak gegee, want ek het my lepel verloor
Ek sal nie mind om met my hanne te eet nie, Juffrou
"Jy hou vir jou rou!" sê sy. Jy kry niks tot jy nie ’n lepel het nie.
Jy maak my naar, dink ek, maar ek bly stil, want ek het nie die naweek kos gekry nie
My pa was by die tavern en my ma het weggeloop met haar nuwe boyfriend en my sussie.
Ek vra die nuwe juffrou vir ’n lepel en sy krap in haar sak en owe my een
Die juffrou se oë blink en sy lyk of sy wil huil
Die ou hadida skree op die nuwe juffrou
Wat bederf jy die kind so, hy moet sy lepel hier hê anners eet hy nie,
Ek is gatvol vir hierie blerrie goed wat net skool toe kom om te eet
Sy ma is te sleg om hom ’n lepel te gee
Die juffrou sê sy wil maar net hê ek moet eet
Hy kan mos ook met sy hande eet, baie kulture het die gebruik
Ooo Jerie! Skree sy
Jy moenie kom opdruk hier nie, Juffrou
Hierie klein bliksem vat jou vir ’n one
Die nuwe juffrou raak so ’n rooierige kleur en sy kyk reguit na die hadida
Die hadida draai om en stap klap-klap die gang af
Die nuwe juffrou druk die lepel in my hand
Gaan eet, my skat, sê sy
Dankie juffrou, sê ek, dis lekker vis en pap vandag
As juffrou wil dan kom maak ek juffrou se klas skoon
(ek hoop sy sê ja, ek het gesien sy’t appels in haar sak
Sulke groot rooi appels)
Dis reg, my darling, sê sy
Juanita Louw
Tekorte
Leeg, onversadig, hunkerend,
Onvervuld smag haar wese
na nutriënte van kameraderie,
gemeensaamheid en eenheid.
Eggo die roepe van vervloë oomblikke
deur die leegheid van smaaklose broodkorsies
Na ’n tyd van oorweldigende, varsgebakte, versadigende volheid en smaak.
Was die vitamiene en minerale van ons saamwees ’n suksesresep,
Helaas
Vir ’n oomblik hemels
Nadia Vickery
Sielskos
Ons woorde kan voed
Jy doen sleg, of goed
Jy weet nooit watter effek jy laat
Tot met die woorde raak daad
Diere, voel ek, verdien meer as ons
Nie aanvaarding, maar liefde by die pond
Ons neem aan ons is hier
Ons dink tog, superieur
Maar die onmeetbare liefde van ’n dier
Sal jou bybly in jou laaste uur
Sal jy jou maaltyd opgee vir ’n dier?
Baie sal instem, maar min sal dáái motor bestuur
My hart ruk stukkend, skeur uit my lyf
Ek wens ek kon meer mense bereik
Riana le Roux
Gekaap deur bulimie
verwronge die beeld in my spieël
is dit werklik ek
my lyf nie meer my eie
’n monster het ingetrek
my diepseer ken geen woorde
ek leef met die geheim
geen spys of drank kan troos bring
my denke is gekleim
so leef ons saam, ’n onpaar
sy vinger in my keel
my liggaam protesteer al
of het ek my verbeel
waar sal my hulp vandaan kom
wie sal dié monster tem
hoe leef ek voort die toekoms in
as hy klou, my siel afrem
alleen maak ek dié deur toe
kniel by my monument van pyn
gaan ek heel hier uitkom
sal die monster ooit verdwyn?
Judith van Zyl
Kos my vyand
Kos hou my aan die lewe
Maar hoekom is ek so aan die bewe
Wanneer laas het ek geëet
Ek is bang vir my eie gevreet
Ek klim op die skaal
Net nog ’n nommer wat my vermaak
Ek wil net nie langs die maer kind staan nie
Vir so ’n aksie
Is ek vir ewig geskaar
Gedagtes van kos vloei deur my aar
Wie is ek om kos te blaam
My liggaam nou weer skaam
Kom dit is net een happie
Dit het albeit ’n doel en ’n funksie
Red tog my lewe
Want kos is mos ’n gegewe
Zolie Wilken
Asblik
Ek eet, ja, eet eet ek.
Dis elke mens se gegewe reg.
Een van die redes vir ’n mens se bek.
En ’n beter gebruik van laasgenoemde,
In elk geval, dis net my opinie, by verreweg.
Mense dink hul moet my bejammer.
Waarom? Ek pla jou nie.
So moenie dat jou gewete jou dag belemmer.
My dag is vol van avontuur.
Soveel so, ek buig elke aand in eer die knie.
Wie van jul was nie al bang?
Bang vir verwerping, haweloos en hongerte.
Voel niemand gee om, onbelang.
Kyk dus gerus, dit pla my nie.
Almal moet die een of ander tyd deur donkerte.
My pad is dalk nie jou keuse.
Ook beslis nie my gewenste.
Vol paddas, sprinkane en reuse.
Maar jy ken my nie.
Dalk net dalk was ek die heel bekendste.
So, kyk as jy wil.
Ek is nie skaam om die drom te tip.
Jy is gemagtig om vir my te gril.
Daar’s altyd iets van alles.
Ander se gemors is my aardse skatte, hip hip!
Christopher Williamson
Vier koppe vir vier koppe
Ek mis nogals my ouma se viskop.
Ek los my speelgoed in my kamer
Ouma is in die kombuis en ma sit met die koerant
Die reuk van vis word al nader
Asyn, uiwe, rissies, peper en vis kook in een pot
Die tafel staan langs die kombuisdeur
Ouma sit ’n bord voor my neer
Die viskop, sy oë staar
Asyn maak my oë seer
Ek sit met vurk in my hand en moed in my hart
Die grate wat amper in my keel sit
Word losgemaak deur die halwe brood
Wat my pa met sy wages moes koop
’n viskop vir elkeen van ôs
Vier koppe
vir vier koppe
Constance Thomas
Soetkos
Maag en brein,
Vel en been
Voel skoon siek sonder enige kos ondersteun
Long en nier
Lewer en spier
Probeer alles bestuur
Maar siek en sat
Voel tong en hart
Want hulle weet sonder kos val alles plat
Siekte en seer
Maak alles tam en teer
Maar koeksisters en kolwyntjies ... Kyk, dit inspireer
Soos wind deur die hare
Dring soetbloed deur die are
Want na elke hap
Raak maag en brein wakker
en vel en been en long en nier
En lewer en spier
sterker en vetter
Ronder en net mooi beter
En so kry liggaam weer ’n hop in sy stap
Angelique van Kraayenburg
Ouma se kos
Verlange na reuke van die ou kombuis
dit was Ouma se huis
Tye van familie, eet en liefhê
Oupa wat tafelgebed opsê
Ouma kón kosmaak
Liefde die bestanddeel vir elke taak
Soms het ons diep gekrap
In potte gesoek vir ’n laaste hap
Magies vol ogies toe sou Ouma
dan vir almal sê daarna
Tevrede was ons mos
Gevul met haar liefdeskos
Kos was
altyd daar warm en gereed
gedeel deur elke lief en leed
Altyd met ’n iets wat ons kon verras
En nou ... dis net nie reg
Is Ouma weg
Oupa weg
Kos weg ... families weg
Almal leef apart
Op hulle eie deur hulle liefde en smart
En al wat ek oorhet vir nou
Is die mooi onthou
Ek herhaal dit nou in my eie kombuis
Rys, kookvleis
Groenboontjies, baie peper, aartappels
Tert met kaneel en appels
En ekstra liefde sonder vra
haar liefdestaal
Nou aan my eie mense oorgedra
’n resep wat nooit faal
Dankie Ouma
Marietjie McDermott
Element
Jou chemikalieë ruik ek deur die helder kristal,
Netjies met etiket gepak op tafel vir al.
Metaal glinster op bord se rand,
Allooi van smaak word my energie se brand.
Periodiek word jy inspirasie op my pupil,
Versmelt jy saam om my smaak te vervul.
Verprut, verpulp, verplant vir proe,
Element van bestaan, nutriënt, natuur ... deur grond en water geploe.
Sheleen Maritz
Ons daaglikse brood
Welkom in Suid-Afrika
’n land waar jy dood vannie honger
minder as 24 uur later en daar is
geelrys, bruingebakte vleis, boontjies,
Brand new outfit, puntskoene, nuwe hare
Sopnat karre ...
Dis waar wat hulle sê
Die een se dood is die ander se brood.
David Jantjies
Honger
’n Aweregse droogte en ’n vrank smaak bekruip die gebarste mond
’n Onversadigde tong voel-voel en rol onentoesiasties in die droë holte rond
Met belemmerde smaakbekertjies ongeoefend en vreemd onfiks
Wat traag gewoond geraak het om flouerig te tas-tas aan vakante niks
’n Hol en krioelende gat spin en rol en draai op die krop van die maag
Dit is waar die honger genadeloos toeslaan en om bevrediging knaag
Dit dwarrel in die brein en senunetwerk wat soekend na ekwilibrium rondtas
Geprojekteerde impulse soek vergeefs na ’n leksel insulien in elke tongkwas
As die sensasie wat bytend en klouend knaag tog net kon verdwyn
Dit vererger en vertrek maagwande in menigvuldige martelende pyn
Help! Doen iets! grom-skreeu verleppende en verskrompelende weefsel
Na selle en membrane gewoond aan enige spatsel of geursel speeksel
Hy hardloop inderhaas met ’n swaaiende kreupel been voor die vullislorrie uit
Sy onvermoë en die krete van sy vrou en kinders jaag hom onverpoosd om te buit
Meneer, geen virus of kaptoe of geslote ekonomie kan ooit ons pyn en drange verdedig
Oorskietkos uit vullisdromme van die rykes is al wat ons kankerhonger bevredig
Elsie Fourie
Daaglikse brood
Gee ons vandag ons daaglikse brood
anders gaan ons van die honger dood
Korona maak dit nie maklik ook
vir ons om onse pot te kook
Gee ons vandag ons daaglikse brood
so baie van ons verkeer in nood
skares word gevoed deur brode en visse
maar ons het tekort aan heerlike disse
Gee ons vandag ons daaglikse brood
manna val elke dag in onse skoot
maar wêreldse dinge maak ons blind
om die oorvloed van onse Vader te vind
Gee ons vandag ons daaglikse brood
tog woed ons met ons sonde voort
Ek is die Brood vir ewige lewe
Daarna moet julle elke dag strewe
Aangebied in samewerking met die
![]()


Kommentaar
Hoe lees die mense dan?
Dit staan duidelik in die kompetisiereëls. Een inskrywing per persoon.
Hier is 'n hele paar wat nou al by 2 trek.
Vir eers gaan ek nou nie name and shame nie, maar iets moet gedoen word?
Dankie vir die kommentaar! Ons hou die inskrywings redaksioneel dop. Slegs die eerste inskrywing per deelnemer sal in ag geneem word vir die kompetisie.
Goeiedag, ek wil graag my gedig inskryf maar verdwaal liederlik die inskrywingsblad.
Gee rigting, groot asseblief.
Groetnis
Goeiemiddag Charlotte,
Hier is meer inligting: https://www.litnet.co.za/skryfkompetisie-eet-my-woorde/.