Eet my woorde: Inskrywings (19)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die 19de groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Duncan du Preez Joan Strydom Jacolene van Huyssteen Anneke Andrews
Priscilla Brown Stefaans Coetzee Clara Kirstein Alexander de Bruyn
Cherise Marais Jean Lombard Gideon Mostert Wilbur Beukes
Yvette Joubert Wilma Julius Zerelda Esterhuizen Zander Marais
Abraham Pretorius Anja van den Bergh Elana Alberts Ivor Swartz
Letitia de Villiers Lindie Koekemoer Bonita van der Berg Sonette Deck
Marcel Breed Sanet Odendaal Charlene le Roux Michaela Kinnear
Marzelle Bothma Nathalie Meyer Belinda Nel Maria Lombaard
Cobus Zietsman Shanté Kroukamp-Potgieter Monique Cloete Helena Anderson
Jenna Wilkinson Tarina Jordaan Letitia Weideman Mieke de Wet

Duncan du Preez

Hongersnood

Proe die rande op jou tong.
Soet en sappig smul jy aan jou rykdom.
Honderd-dollar-note kan jou nie versadig.
Hoe meer jy inneem, hoe meer honger word jy
stadig.
’n Bose kringloop wat jou gierigheid voed
en valse hoop om jou aksies te vergoed.
In ’n land van korrupsie is daar hongersnood
want die ryk hou aan eet en die arm bly in die nood.


 

Joan Strydom

Uit die perdestal

Vertel my nie dat blomkool soos kapokaartappels smaak
Of dat jy van gerasperde zucchini ’n pot pasta kan maak
Geen ander soetigheid kan soos suiker onder jou tande kraak
Banting-brood maak my hart en my maag nie bly nie
En daai ding in die perdestal proe nie soos ’n vy nie.


 

Jacolene van Huyssteen

Martie

Martie het ’n probleem
sy kla gereeld van maagseer.

"Eet nou net soveel en nie meer.
Môre is nog ’n dag en dan eet jy weer.
Dis nie nodig om als nóú in te forseer."
Maar nog altyd weier sy
om haar les te leer.

Vir 24 uur
moet sy kos sien.

Anders bel sy vir Debonairs
en sê sy sukkel om asem te haal.
(Ai, dit het nou al gebeur: Hóéveel maal?)
En elke keer as die mense uiteindelik kom
tot by die punt van die verhaal
Sit Martie tog te gereed
om elektronies vir haar voedsel te betaal.

Nou ja, julle sal seker dink Martie is oorgewig.
Nee, glad nie ... Sy’s net baie, baie stewig.
Onthou – sy was ’n supermodel,
maar 5 jaar later het sy besef: Dis die persoonlikheid wat tel.


 

Anneke Andrews

Lewe

Ek reis deur die lewe.

Hou my kop omhoog
soos ’n sonneblom
wat dors na die son.

Lê agter jou rug
’n ertjie
in sy huisie

Tamatierooi wange
spoel die stof van
die dag af.

Werp jou brood op die water,
sê my vriend.

Laat ons dank vir
spys uit U hand ontvang.


 

Priscilla Brown

Drogbeeld

Verterende spieëlbeeld
vetsugtige haelskade
4 rondrollende druiwekorrels
fruktose – glukose – suiker

Paniek!
Avo – gesonde vet
1 gram mono-onversadigde vet = 37,3 kilojoules
drogbeeld weerglans in die mikrogolfdeur ... adipositas

34 kilogram – 15% been
Netto gewig: 29,75 kilogram
1 Crackerbread = 117,25 kilojoules
Vasgevang in die verraaiende klug – en die kis sak af na die grond


 

Stefaans Coetzee

ons

Here, leer my met eerlikheid bid
wanneer ek aan tafel sit
– gee ons vandag ons daaglikse brood –
ons
tog gaan mense rondom my
van hongerte dood


 

Clara Kirstein

Lysies van die minderheid

# Brood
# Tampons
# Bier Wyn
# Olie
# Kerkskoene
# Sigarette
# Swartsakke
# Spykers
# Petrol
# Airtime
# Botter

# Dubbelskof
# Skoolfonds
# Voorskot
# Water
# Tiende
# Medies
# Munisipaliteit
# Huur
# Karpaaiement
# Bank
# Kids sakgeld

Ma: Pay / skuld betaal / Spar Checkers
Di: Hof 10h / Oueraand 17h l/s
Wo: Oueraand 18h h/s
Do: Rugby 14h / ekstra skof
Vry: Kar diens / Sokkie R30
Saterdag: Ladies night
Sondag: Kerk


 

Alexander de Bruyn

Virtue signalling

ek draai my straatvis toe met jou gesig
’n cover photo het nog nooit so lekker gelyk nie
dit was ’n lang pad tot hier vir my en vir jou
behalwe ek het h/toe geswem
en jy het met jou boot gekom
’n veilige afstand
van mekaar af.

Jy kyk my op en af, veral af
want ons is bipolêr
dis maar ’n grys area
verskil is, jou gesig skyn op die skerm
en myne by die vuur
my neus teen die venster
om beter te kan sien.
Dit als beland op jou blad
vir almal om weet,
dat brood en diamante
eintlik maar dieselfde ding is.


 

Cherise Marais

Kelnerin

ure op my voete
ek balanseer smaakvolle disse op my hand
die aroma byna hemels
net om 'it weg te gee
groen van jaloesie

om skemer ontsnap ek oppie bus
honger
my kinners kla oorie lang wag
Aai, Mammie, ons is honger man

soe ek versorg hulle
sloof my af voorie stoof
fronsend staar ek na die pasta
nie so fancy soosie kos wat ek weggee nie
tog is my kinners happy merrie bietjie

al werk ek vir min
is my kinners se liefde veel
kos is voedsaam virrie maag
maa liefde virrie hart


 

Jean Lombard

Kontras

’n Blink bruinverglansde varkie vertoon kordaat
Die rooiwangappel in sy bek bespotlik
’n Witgedekte tafel dra swaar
Aan opgetowerde fyn smulhappies
Buite sit vaal verflenterde bedelaars
Bakhandsmekend vir noodsente
Want selfs ’n halwe brood sal doen


 

Gideon Mostert

Nie net van kos nie ...

Mens moet nie net van kos leef nie, maar die Woord van God moet ons stapelvoedsel wees.
Hy versadig ’n honger siel en dit word met liefde vervul.
Jesus is die brood van die lewe, wie in Hom glo sal nooit weer honger of dors wees.
Jesus staan by die deur en klop, maak die deur oop en laat Hy jou met Sy gees vul.

Of jul eet of drink, doen dit tot God se verheerliking.
Alle plante wat saad gee en alle bome wat vrug dra sal julle voedsel wees.
Die seëning van voedsel moet ons Sy lof laat besing.
Geen bekommernisse vir môre se kos is ’n belofte van God aan ons vlees.

Vyf brode en twee vissies het ’n skare gevoed.
God het met ’n wonderwerk nog twaalf mandjies laat oorbly.
Moenie jou kwel oor wie jou môre gaan voed.
Bly glo en wees dankbaar en jy sal altyd gevoed bly.


 

Wilbur Beukes

Gesteelde kos

Dis beslis nie 1873, maar in die Beukes-woning,
Kraai die sprokie van Gouelokkies en die drie bere
in dié kombuis nog altyd koning!

"Wie het in my kos gemors!?" –
En daarna volg ’n dramatiese vertoning!
Want god weet, ’n Sondagbord-dief vra geen verskoning vir sy looting
Jy kan maar ook kiertsregop staan soos ’n toring. Los maar, daai dief is onder verdowing!

Vir hom wat die vleisie gaps, is die stroping vir sy eie derm miskien ’n wonderlike beloning!
Al wat ek weet, muise kla van bitter koring en gesteelde kos knyp later soos ’n doring

Dis beslis nie 1837, maar in Afrika! O donker woning
Kraai die sprokie van Gouelokkies en die drie bere nog altyd koning!

"Wie het in my pap geëet?"
– tot gevolg ’n eienaardige vertoning.
Ondervoede kindertjies, honger ogies, grootste slagoffers van gieriges se stroping
Al wat ek weet, gesteelde kos bied geen beloning
Fraai huise, groot blink motors en die paleislewe van koning;
al daai wag vir ’n eienaardige sloping


 

Yvette Joubert

Slampamperinge met kos

Ons is so behaaglik met die etery
’n Noenmaal vol pretensie
Vorm, geur en reukplesier
’n landskap-kostapyt
Smul mens smul.

’n Allegaartjie-dag vol spyt
Dwing jou om te herkou byt vir byt.
Wanneer word versoekings hok geslaan?
Kieste vol kos om dit te verstaan.
Geniet mens geniet.

Neus die vroegoggendkoffie,
Spoel rooiwyn as ’n namiddagbederf
Kou ’n oester soos ’n toffie
Umami is nog nooit vir die verderf!
Kwyl mens kwyl.

Lek ’n gevriesde grenadellabol
Sodat jy weer soos ’n kind in die veld rondjol.
Gun jouself ’n slukkie uit die fontein
En moet net tog nooit wegkwyn.
Leef mens leef.


 

Wilma Julius

Eenvoudig en lekker

Ek eet graag uitheemse disse maar maak dit nie self nie
Ek spot altyd my ma het my net geleer vleisgeregte maak maar toe trou ek ’n man wat aanvul
Hy knie die deeg, hy maak die brood en ek eet net
Dit voer my weg as hy sy gebak voor my neersit
Ons gee graag vir dié in nood, kinders klop altyd aan ons deur vir ’n sny of twee
Ons is dankbaar en ek is bly vir ’n man wat kan bak
Hier op die platteland is dit maklik en lekker met aroma van varsgebakte brood wat hang in die lug
Niks fancy goed nie. Eenvoudig en lekker


 

Zerelda Esterhuizen

Sondag

Bloederige bees verdrink in Bistosous
bros hoenderboudjies baklei vir plek en
gryserige groenbone beland langs
gestolde beet en bloedrooi tamatieslaai
Die embuiatafel die kreun
En hulle vra die Here se seën

Maar voor die son sak:
’n glas val, ’n stem bulder, ’n vrou skree, ’n kind snik
Dis Sondag in die suburbs

’n Hart-pot kook oorkant die highway
Ace borrel bleekwit oor die rant
stukke ui dryf doelloos saam met flentervleis
en goudgeel mielies sis oor die kole
Die mankolieke tafel die kreun
en hulle vra die Here se seën

Maar voor die son sak:
’n glas val, ’n stem bulder, ’n vrou skree, ’n kind snik
Dis Sondag in die townships


 

Zander Marais

Barsitters

soms doen ek die verkeerde dinge met opregte wense
soms doen ek die regte dinge met die verkeerde mense
soms sê ek die verkeerde goed op die regte tyd
soms sê ek die regte goed en word verwyt

al wat ek weet is dit

daar's soveel stukkende barsitters daarbuite
wat spog oor twisted waarheid en halwe feite
steek jou hand in die lug as jy rugby speel
vir ’n dop sal ek my geheime met jou deel

moenie my vra waar my familie is nie
als wat ek wil hê is anyway ’n illusie
as jy wil weet wat het van my sekuriteit geword
gaan ek jou net wys wat als in jou lewe kort

mens is mos trots op ’n vol yskas vir ’n klein rukkie
want aan die einde van die dag wag vir jou ’n stukkie

trots

en ek kyk almal so en ek luister en ek sê:
fok almal en fok dit
want almal wat hier sit
het een ding in gemeen
’n been vir ’n been

I'm here for a good time
not for a long time
Sê almal tot die bar toemaak


 

Abraham Pretorius

Tekorte, goedhartigheid en oorvloed

’n Menigte met uitgeteerde lenige ellelange uitgestrekte hande
Almal met droë verrimpelde en krakende bak palms gerig na bo
Wysend soos rigtinggewende diamantvormige pyle direk na ander se harte
Alleen, stil en smekend en half amper horende vraende uitroepe vir net ’n klein bietjie na hul kant

Sommige ander het weer sterk al bultende spiere en draende hande
Algoed uitreikende met spierwit gekneukelde en gebalde vuiste gerig na onder
Draend kompleet vertonend soos massiewe hyskrane met gevulde skeepsnette
Altyd gewend, beantwoordend om ’n groot en groterwordende nood te vul en dors te les

Die res staan weer met terugtrekkende arms en toegevoude hande
Al twee opgekrul styftrekkend en duimedraaiend vas teenaan elkeen se borsmaat
Niksdoenend en wegkykend op die kantlyn staar hulle na die opelug om vir nog tyd te speel
Alewig innemend, terughoudend om ’n selfs al hoe groter nood vir selfsug in ’n arrogante wêreld te vul


 

Anja van den Bergh

Om die eettafel

Aandete in ons huis
Is hoekom mense vir ons kom kuier, juis
Nie net vir Ma se vyfsterdisse nie
Maar ook vir die gratis sepie

Die ete begin soos normaal
Met Ma wat die kosbakkies uitdeel sonder faal
Maar voor enigiemand ’n happie kan vat
Is daar klaar ’n struikel in die eetpad

Kleinboet stamp sy voet op die vloer
Want Ouboet het op sý stoel gaan boer
Pa vra hom om iewers anders te sit
Ek wil net weet of ons kan bid

In sy haas om ’n ander plek te soek
Gryp Ouboet saam sy bak die tafeldoek
Daar vlieg die sout, my vurk en spaghetti
Of ek vanaand gaan eet, ek weti

Ma probeer keer en trap per ongeluk op die hond se stert
En dis tye soos hierdie wat ek wonder "Is familietyd die moeite werd?"
Kleinboet het begin eet waar hy staan
Oor my wang rol ’n traan

Net toe ons dink die ergste is verby
Mors Pa die koeldrank en gly

Kopswaaiend giggel ek vir my lieflike gesin
Want so ’n ete kry ’n mens min


 

Elana Alberts

Boererate van ’n emosionele eter

Selfmedikasie is aan die orde van die dag
Allerhande boererate maak die simptome sag
Gebruik die resepte slegs as aanduiding
Pas hoeveelhede aan tot dit verligting bring

Selfbejammering-salf kom in ’n Cadbury-papier
Doeltreffendheid is hoog, maar neem in die eerste uur
Hoe langer jy wag vir behandeling
Hoe groter die dosis voor jou hart weer sing

Vir trane stuit werk roomys goed
Trane is soos lawa, dit bly brand in die gemoed
Sonder medisyne gaan dit nooit uitwoed
Om trane te stol kort jy koud en soet

Wanneer jy geval het, miskien jou tone stamp
Is dit tuisgebakte koekies wat die pyn bekamp
Gemmerkoekies, klapperkoekies, "chocolate"-koek
Gou is die val vergete en die pyne soek

Alleenheid, verwerping, depressie en verraad
’n Lekker stywe druk verdryf die kwaad
Drukkies kom verpak veral in bruinpapier
Pasteie, slaptjips en gemmerbier

Sou jy dalk ’n paar newe-effekte beleef
Soos lag, gelukkig wees, of op wolke sweef
Moenie jou bekommer of jou hare uittrek
Dis heeltemal normaal, dis hoe die boererate werk


 

Ivor Swartz

Die ongenooides

Die koue kloue van my swaarkry bring my weer tot voor die spieël.
Ek sien my hart; sy ink drup swart; die haat kruip op tot in my keel.
Al die structures oppie Vlaktes hou my mense weg van kos.
Hie aan my kant van die highway is die duiwel al weer los.

Ek sit by die tafel van ongenooides met my stywepap en lag.
Die rook trek van die plastiek wat in my huis brand in die nag.
My ouer broer het een aand net ’n Shoprite-sak gevat.
Hy't die tatoes op my jonger broer se bobeen uitgebrand.
Deur my trane en daggawalms het ek na God toe uitgeroep.
Ma Hy was besig in die suburbs met ’n Bybelstudiegroep.

My moeder was ’n enkelma, haar enigste krag was bid.
Toe ek vir 5 jaar van my lewe in die tronk en bendes sit.
Slaan sy haar oë op na die berge maar haar hulp kom van ryk mense.
Hulle sit almal in glashuise en gooi klippe oor die grense.

Dis hoekom ek so sukkel om te glo dat God voorsien.
Want ek hoor dit net by mense wat my met hul privilege wil bedien.
Wat kospakkies kom uitdeel om weer foto's te share op Facebook.
Ek wens hulle steek die highway oor om die lewe te kan sien uit my hoek!


 

Letitia de Villiers

Tuiskomkos

Sondag: Swaar belaaide etenstafel.
Gedek met opdienskottels,
geërfde breekware, opgevryfde eetgerei,
kristal sjerrieglasies, fyn lapservette.

Van-die-been-af-val sagte skaapboud.
Hoender wat swem in ’n masalasousie.
Vlokkerige rys en brosgebraaide aartappels.
Dun gekerfde groenbone,
met hul metgesel aartappels en uie.
Blomkool onder ’n kombers van kaassous.
Pampoenkoekies bedruip met ’n suikersoet kaneelstropie.

’n Ontploffing van reuke, teksture en smake,
laat jou sintuie dans
op die ritme van tuiskomkos.


 

Lindie Koekemoer

Geure vir geite

Eet is mos ’n persoonlike ding
Elkeen het ’n gunstelingkos wat jou hart laat sing
Met elke prut, stoom, borrel en meng
Word my hart gevul met verwondering

Waatlemoen en selfs lemoenpampoen, se geure
is vars en vrolik, eintlik heel bekoorlik, terwyl
perlemoen, bokkoms en wilde sampioen
dit nie vir hierdie smulpaap doen

Lekker-eet, help my vergeet,
nes die soet geur van melktert, vanielje en beet
’n Vergeet-happie sjokolade is goed vir die siel
Net soos roosterkoek saam met die dans van die riel

’n Skeut vars lemonade, genoeg afgemeet
om behaagsaam te geniet, doepa vir elke skeet
’n kommetjie soet-kerrie met klapper geëet
laat my boerehart bokspring, aroma van lief en leed

’n Uitjie of agurkie, pikant-ani-brand
of soetsuur en kraakvars onder die tand
Komkommer se koel en aardse tekstuur
Maak ’n slaaitjie ’n ekstra lekker plesier

Geniet ’n troosproesel sagsoet patat
Of Oupa se tuisgemaakte biltong, net reg om te vat
’n Sterk beker boeretroos saam met Ouma-beskuit
Maak die wêreld weer bakgat, geen meer verwyt

Elke lekkerny en kousel
Selfs sommige brousels
Bring passie en bewondering
Maak sin van beslommering

Ek is lief vir kos, vir reuke en smake
Ek het waardering vir enigiets met kou te make
Sonder kos maak die wêreld nie sin
’n Vol maag maak ’n vol hart, dit maak my sing!


 

Bonita van der Berg

Broodjie by die boks

"Lekker lekker Kaapse druiwe
kom koep die ronde korrellywe
geel wange van die perskes bloos
soet soos heuning is hul troos
soet appelkose meneer –
vir mêdem se konfytpot te begeer!"

Djirrre asseblief tog lat ek alles verkoop
voor die donker oor Klipheuwel kom loop
toeterend nog ’n samaritaan wat stop
verkreukelde note se som in sy kop
genoeg vir ’n botteltjie melk, halwe brood
drafstap dan gou na die boks op die skroot

kruisbeen sit hy doodmoeg op die grond
van onder flap staar ogies blink en rond
besig om klein stukkies brood te breek
Ouma Fien se stem wat vir hom preek:
"My kjênd, dis met God se genade gekoop."
klein paar handjies wag vuil, afwagtend oop ...

"Liewe Djirre, U is baie groot,
U sorg vir ons in onse nood
laat ons dit nimmer nooit vergeet
wanneer ons ook onse broodjie eet
Djirre dankie vir ouma Fien daarbo
sy het ons geleer om te glo."

vandag was daar ’n halwe broodjie en melk
môre koep ek miskien pienk polonie en jêm
dalk ook twee tiensentlekkers vir my en Sam
’n taai swart Wilson-toffie vir ons elk!


 

Sonette Deck

Hunkerdood

Begrawe die verlede en plant ’n nuwe begin.

Ons laaste ontmoeting sinspeel steeds af in my gedagtes, en ek besef dat ek jou nie gou weer sal sien nie.

Jy was stomgeslaan; verras toe ek jou met eerste daglig kom wakker klop en ’n koppie vars gebroude moerkoffie in jou hand in druk.

Jy het my nie verwag nie. Tog was ek daar. Ek klou steeds styf vas aan dié herinnering, want dalk as ek langer klou, verhonger die verlange my nie soos laas nie.

Weereens staan jy verleë met die huiwering van ’n afgestorwe liefde. Ek was bekend met wat vir my sou voorlê. En ek wens elke oomblik dat dit anders was.

Ek het op die voorstoep gesit en met verlange in die verte in gestaar toe ek nogmaals besef het dat dit nie ek is van wie jy probeer ontsnap nie. Jy hol van jouself af weg.

En daar is hierdie sielsversteurende skrou van jou gees wat my nie wil agterlaat nie. Jou siel wat my in alles laat onthou dat ek eintlik werklik besig is om te versmoor sonder jou.

En ek is siek want ons was bedoel gewees vir hierdie leeftyd en die een wat volg en nog miljoene daarna. Ons was bedoel gewees vir altyd.

En hoeveel male is ek nog verplig om te dronkverdriet op die kaal kombuisvloer op ’n leë maag en niks behalwe al die oomblikke waar ek in jou oë kon staar of jou miljoene kere omhels; alles weg en verlore in ’n oomblik van niks.

Twaalfuur; uitgehonger, dwaal my gedagtes na al die plekke waar ons eens was, na al die oomblikke wat ek saam met jou gedeel het, en al die tye wat ons nooit saam kon gehad het nie.
Dit is eenuur. Die vloer is yskoud en ek is steeds honger; sonder jou.

Jy was die vroegdaglig op die horison.
Jy was warm liefde tussen die wynkelders.
Jy was brandewyn en coke.
Jy was ’n hunker na liefde.
Jy was my metafoor.
Jy was nie soos ek nie.
Jy was ek.

Ek huil nie omdat dit verby is nie, maar glimlag eerder omdat daar ’n óns bestaan het. Sê vir my, sal daar vir ons ontmoeting met ’n verkeerde tyding weer ’n tweede kans gegun word?

Óf sou jy uiteindelik vergeet dat ek ooit bestaan het en eenvoudig die tragedie daarvan blameer?

Kom terug en hê my lief.
Want sonder jou sterf ek ’n hunkerdood;
Vergiftig deur my eie woorde.


 

Marcel Breed

Hierdie noem ek liefde

Vanaf die sappige ouderdom van negentien verhonger ek myself daagliks.

Sien, JY het my oortuig dat liefde voel soos leegheid en daarom maak my leë maag vir my sin want ek en my bed is vol; vol van jou liefde...

As jy sweterige passie ooit "liefde" kan noem.

Ek vereenselwig ons "liefde" so met hongerte dat ek nie meer weet of my maag leeg is, en of ek net na jou verlang nie.

Los my eerder net dat ek slaap, want ek is leeg, moeg en honger.

Snags droom ek van kosse wat hierdie hongerte sal vul, sappige biefstuk, eksotiese vrugte en ryklike sjokolade maar kom die môre dan vergryp ek myself weer aan jou gewillige kruisskyf; jou eksotiese, doringagtige turksvyliefde; na jou ryklike sjokoladebruin oë.

Dit is moeilik om tot die besef te kom dat jy ’n verslaafde is, maar wanneer jy so maer en honger is soos ek; wanneer kos en jy / jy en kos my gedagtes, my wese vul is dit sekerlik maklik om te sien.

Ons almal het ’n hongerte in ons, sommiges stop hulle self vol met kos, ander met dwelms maar jy, jy was vir te lank my vulsel. Jy was tofu wanneer ek na meer gesmag het.

Vir ’n oomblik het ek gedink liefde is in die leemte van my maag maar nou weet ek ...

Liefde vir myself is in die volheid van my maag en die leemte in my bed waar jý my te lank gevoer het met jou heuning-ontneemde woorde en waterige beloftes.


 

Sanet Odendaal

By die gebrek aan sout

Ek het vir sewentien-duisend-een-honderd-agt-en-veertig dae geleef sonder sout
Sewe-en-veertig jaar lank gewéét
Nie soos woorde weet
Nee
Soos selle weet:
Iewers is daar iets onbeskryflik meer

Alles was laf
Glase halfpad leeg
Borde oorvol twak
Te min hier
en te veel daar
En altyd áltyd die weet
Iewers is daar iets onbeskryflik meer

En toe
Skitterwit jy daai dag my kant toe
Ek wou jou opskep
en hope van jou
in my keel af gooi

Ek wou jou strooi oor my kop
En dans in jou sneeu
Saggies op my rug dryf
Genesende water
Vol
Vol
Vol!

Ek het geweet
Hier is iets onbeskryflik meer

Ek huil oor jou see
Hy't mos opgedroog oornag

Ek huil oor my dans
Ek huil oor my lag
Ek huil oor my wonde
so oop en so seer

My selle weet mos

Eendag was daar iets onbeskryflik meer


 

Charlene le Roux

Uit die hart van die koepel

Hier word gelag
gespeel gehuil
Hier word gewerk op die stukkie aarde

Op die stukkie aarde word gesaai met trane ...
met sweet wat drup oor my voorkop bewerk ek my stukkie aarde

Oes met trane, trane van blydskap
Bloed het al gevloei vir die behoud van lewens.
dood het sy kreet gegee
op die stukkie aarde

Hier word ons gevoed
ons ly nie meer honger
uit die aarde spruit my voedsel
van saad tot op my bord

hier in die hart van die koepel.


 

Michaela Kinnear

Kombuisvisioene

Dit is die essensies van die geure
wat my heel eerste
in wonder van kombinasie tot elikser
laat delf het.
Van die winde wat reuke tot ver
in betowerings waai van hoe
om ’n hart te hou, amper soos
"die pad na ’n man se hart ..."
Maar as hulle net geweet het
wat hierdie kombuisvisioene
toegedraai het, waarin ek ’n ding
binne-in ’n ander toedraai
om op die pad na sy hart te bly
en die smake van liefde te beleef.
Want wat jy saai sal jy maai
en ek saai die aanleer van aanvaarding,
van smaak wat verskil want deur sonskyn
en donderweer
sal ons steeds sorgsaam rondom
dieselfde tafel wees.
Met verrykende kleure kos wat
ons vul wanneer die wêreld ons
siel uitgehonger los
en tog kan jy gaan sit en weet
dat die oorvloed van voeding
soos brood lewe sal gee
wat jou versadig en danig maak
aan hoe om ’n hart in geure
vas te vang.


 

Marzelle Bothma

Mengeldrankie à la jy

jy het ’n duur kristalglas uit
die jonkmanskas gehaal,
en op die tafel voor my
neergeplak

jy vul dit toe met die verbitterdheid van ’n mens
wat eens liefgehad het; die humeur van ’n
kwylende rottweiler wat wag om vrylating, en
die wisselvalligheid van die stormagtige samestelling van ’n tiener

toe bedek jy die kwantiteite met ’n sjarmante glimlag,
lam-maak-kyke wat my siel tot in haar
diepste wese deurboor, ’n slag met woorde, en ’n
onbeskryfbare aantrekkingskrag vir enige vrou met ’n hart

dis eers toe jy my reguit in die oë kyk
om my aan te moedig, dat ek besef
die mengeldrankie van jou wese is keurig
vir mý voorberei.


 

Nathalie Meyer

Die gat

Daar’s ’n gat wat nie wil toe nie
In my diepte gaap hy wyd
Gebore met die leemte
Om te vul is elk se stryd

Daar’s ’n gat wat nie wil toe nie
Met geen einde aan sy vraag
Hy laat my kwyl en inprop
Onversadigbaar sy staaf

Daar’s ’n gat wat nie wil toe nie
Wat met leegheid groter swel
Tot hy eendag as ek stil word
My met swart en niks verswelg

Die gat wat nie wil toe nie
Is die vorm van ’n kruis
Die honger sal slegs stil
Soos hy vul met balk en vyl

Breek die Brood en neem die Wyn
Drink Water sonder maat
Slegs dinge van Hierna
Sal die gat versadig laat


 

Belinda Nel

Tafel vir twee

Noodlot het genooi
en karma het bedien
dít wat albei gaste
kwansuis sou verdien.

Vonkelwynborrels en verlief
het saam in die are gefoxtrot,
bruisend in ekstase
en ontkenning van dié rebound-genot.

Onderaan die spyskaart
(verdoesel in die fynskrif )
die name van ekse en issues
as waarskuwing teen sooibrand en skif.

Die voorgereg, eens smaaklik,
kraakvars en fraai
was in retrospek
’n goed deurmekaargekrapte slaai.

Die hoofgereg, vervolmaak
deur KUL-inêre instruksies:
’n vuurwarm tong en yskoue boud
bedien in supersuur balsamiese reduksies.

Die nagereg, immer gewild
oor die eeue heen en bedien met brie:
verbode vrugte, altyd teen dieselfde prys –
twee vir die prys van drie.

Verskoon my van dié omgekeerde tafel –
terstond!
Ek is verloën versadig.
Van nou af is dit nil per mond.


 

Maria Lombaard

Bak en rou

Appelbrood vir gaste, piesangbrood vir die gesin
Wortel-cupcakes vir afshow, sjokoladekoek vir kersligdinee
Soetkoekies vir Kersfees, neut-en-vy-koek vir die lewe is te kort
Butternutsop vir troos, lensiesop vir siek
Stir-fry en rysaffêres vir ek is moeg, maar shepherd's pie en pampoenbobotie vir genot
Braaibroodjies as dit nou moet, en slaai as jy wil
Couscous vir pieknieks of buite eet, en moussaka vir almal om die etenstafel
Flatbread vir Vrydagaand, scones vir Sondagoggend
Pannekoek vir reën, gebakte appels vir koud
Warm tee vir elke dag, met ’n suurlemoensny vir die anders

’n Oliebevlekte geskiedenisboek;
Nou is ons elkeen in ons eie huis en niemand is vir niks,
Elke dag se liefde oor die foon en so bietjie mis


 

Cobus Zietsman

Die veewagter

By die agterdeur uit trap sy stewels in fyn stof
elke tree die paadjie na die skuur gebarste kors
sy oë skeer oor die kraalmuur na die rooi son
priemend deur ’n woestyn van wolklose blou

die uitpeuloë van ’n ou Ford-trekker wink skeel
as hy ’n suinige straal diesel in die leë tenk hewel
op die draai van die slinger spoeg die enjin ’n dreun
’n verweerde belt dryf die katrol van ’n ou hamermeul

’n paar halwe streepsakke geel mieliegruis
soos knielende soldate agter op die ou Dodge
al skuddend die tweespoorpad na die buitepos
tussendeur skelette van skaaplam en karoobos

bleekwit houtpale stut ’n flenter-doringdraadkraal
duskant ’n afdak onder ’n kokerboom se takke kaal
leun ’n beplooide ou wagter op die skeef van ’n paal
in ’n maalstroom blêr angstige honger ooie verdwaal

in dun rye val die gebreekte mielies op die dor grond
waar om die maergatskape skarrelend drom
gryp die stukkies geel met gulsige raspertong
die onheilige hongerkrete in die kele te stol

eensklaps doem uit die niet ’n hondsdol horingsman ram
met sy oë wild uit versonke kaste die ou man gewaar
storm woedend omlaag gaffel horings teen sy knieë aan
’n dowwe slag breek sy kop teen die trok se staal
blinde honger sprei in wit murg oor die droë kraal.


 

Shanté Kroukamp-Potgieter

’n Ode aan Anand

Geamuseerde peperkorrel-pupille proe aan die patroon:
"Oef pêdieno ... ooof peh-rie-jon ..."
’n Sherbet-giggel bruis op my lippe, crescendo dan in toon.
"Oef is ’n eier," rank die stelling nonchalant tot by my oor,
gevolg deur ’n geblits en klits wat metamorfoseer tot ’n oef-eier getoor.
Die goue botterwolk word aangesweef deur reusvingers,
fyntjies neergelê op ’n keramiekkussing,
en met só ’n teer beminning geëet, dit blyk te wees ’n pruimmond-soen.

Die peperkorrel-pupille staar smoorverlief na die letters in Les Halles –
’n psalm-ode in die heiligste van papier-katedraal.
Kort voor lank is dit "pa-tei-de-la-pie" hier en "po-ta-feu" daar –
die towenaar het ons kombuis tot Hogwarts verklaar.
Knoffel-ui simfonieë word georkestreer,
dan met roosmarynbotter en Viognier geharmoniseer.
Neus en oor loer betower om die hoek ...
’n houtlepel-baton-staf dreig: "Uit, of ek piets jou met my vadoek!"
Moedernaak word die magnum opus-dis bedien
en sensories oorweldig fortissimo alles endokrien.


 

Monique Cloete

Wat hulle nie weetie

Gnocchi goed gedoop in ’n
geurige okkerneut-en-pesto-sous
Met net die regte hoeveelheid bokkekaas ...
My fok Merylise, fokus, fokus!

Op jou tut-toets wat niks weet van
pasta of kaas of hierie meit langs jou se late lunch op een of ander wynplaas.
En nog ’n ding, isit jou maag wat so raas?

Klas-chommies ja, ma wat hulle nie weetie
Is dat jy't vanoggend nie geëetie.
Jaag na jou aguur-klas met jou kop vol drome,
Jou sak vol boeke en ’n maag vol niks.

Koshuissusters ja, maar wat hulle nie weetie
Is dat jy slaap innie tyd vannie eetsaal want
Slaap is ’n tydmasjien, slaap is ’n muntmasjien.
My bru, slaap hou jou trug vannie nikotien.

Komiese lektore ja, maar wat hulle nie weetie
Jou kognitiewe funksies skep ’n hand vol oorlewing en leer, meng met armoede se seer;
Bak vir drie jaar lank en laat Ouma eerste proe.

Wat hulle nie weetie,
Jou drome is soeter as hul ego trips
Jou siel gestop met hoop en motivational clips,
Maar vir nou, is jy seker daai is genoeg vir drie pakkies two-minute noodles, een appel en haai groen Chappie om later te kou?


 

Helena Anderson

Vergryp

Eet ons alles of los ons oor?
Kyk ons hoeveel mense eet ...
Is ons spaarsamig of vergryp ons self?

Moenie rondom jou kyk wat ander eet
Die resep vir ’n gesonde hart, is om te deel met jou medemens.
Los dalk ’n bietjie oor ...
Dalk is dit iemand se laaste honger wens ...


 

Jenna Wilkinson

Ek is (leeg) vol

Ek is honger om myself klein te maak, ek lus vir ’n dis sonder
die wrede kalorieë wat my oorneem en oorwin.

                                                                                                                               Ek

vermy alle soet, sout en gevaar van my palet af.
Ek is vol.
Vol water en skande gestop. Vol water en suurstof.
’n Meisie van lug en vloeistof.
Ek kan vlieg, maar ek gaan val, en ek bid dat ek verkeerd

                                                                                                                               is.

Ek vind vrede en vriendskap in die nommers op die skaal,
hulle sê vir my dat ek (te) lig genoeg is. Maar die meisie in die
spieël verraai my weer. Droë geskeurde lippe bloei riviere by haar
gesig af en ek dryf rond in haar ingesonke oë, kleurloos en vleesloos
’n onnatuurlike, vreemde wese,
ek dink nie hierdie lewe was ooit my keuse.
Ek is net te lig (genoeg) dobberend rondskommelend,
gewigloos, amper verdwyn in ’n maalkolk van lewende water.
Ek hunker na die bodem.
Ek smag na die vryheid van gees.
Ek is honger vir die verpletterende gewig van die water want my siel is net te   leeg.


 

Tarina Jordaan

Rebellie

Op kantoor van agt tot vyf. Die meule draai:
oproep, e-pos, grafieke, verslae.
Polspyn, rugpyn, vanaand ’n glas wyn
teen spitsverkeerpyn.

Wie is jy?
’n Rat in die vorm van ’n menslike lyf.

Vir wat is dit als?
Papier in die bank om huur te haal,
kos te betaal.
Wat ’n vervelige verhaal!

Tyd is geld, maar geld is papier
en papier kom van plant in die Here se natuur.

Kyk na die veld, na die plante daar.
Hul groei en baar vrug op hul eie tyd en baan.
Hul vrugte is gratis, hul saad vir iedereen
sonder voorwaarde voed hul die plek om hul heen.

Tik op jou toetsbord! Tel op die foon!
Antwoord die e-pos, als vir ’n loon.

Nee.

Spring oor die middelman
in sy kapitalistiese grot,
huppel oor geld
en ander se rot:

Druk saad in die grond,
plant ’n steggie in ’n pot.

Speel slaaf vir and’re
(hul ete is duur),
of plant self en eet
direk uit jou eie natuur.


 

Letitia Weideman

As die vuur en vleis en vriende vergaan

"Kom, kom drink van die water,
verniet!"
"Kom, kom eet en word versadig"
Verniet? Nee meneer, niks is verniet nie
Straatprediker, skewe skoene, oorgroot broek
Maag gevul met bier en brood

Op die ander hoek nog een daar
Blinkwit plakkaat
Job Please
CV in die hand.
Solomons splinternuut
Pakket het uitbetaal

Nommer een keer terug na niks
Na die suurdeeg en barley
Die gat in die muur
Die vrou wat kranksinnig skel
Na kinders wat afsigtelik deur die krom kosyn bars.
Op soek na die skraapsels om die gat te vul

Plakkaatman
Daar’s nog vleis en vuur en vriende
Maar die nagte is miserabel
Rol heen en weer
Elke sent fyn geëvalueer
Die sonstaan lewer niks op nie.

Verkondig volgende dag weer
Vermy 5 broodjies en 2 vissies verhaal
Los liewer die storie onuitgespreek
Werk nie in die praktyk nie
Sassa koop die vis, die pilchards
Wat hy dankbaar lomp verslind op payday.

Job please
Food please
paalvas soos die priester
Sonder boodskap, son brand fel
"Ek sal ’n hoed moet kry"
Maalstroom, maalgat, maaltyd
Hoe het ek hier beland?
Maaltyd, wanneer laas
my maaltydmissie
Dis net pap en kool en kool en pap
Kinders kla en kerm
ken nie die pyn nie
kas is leeg
Vandag was langsaam en suinig
Ek keer terug met niks

Prediker is vandag afwesig
Sit onbepaald in ’n ry by ’n staatshospitaal en verweer
Verset teen die vertraging
Onbeheerde gespanne gromgeluide
Begeerte na iets
Enigiets
Ek het dors, daar is water
Maar
Dis
Nie
Verniet
Nie

Eens gekwalifiseerde staan steeds honger
Daar’s niks
Voeg by: 4 kids, clothes, anything
en dan
GOD BLESS!
trefkrag
Dit sal werk, ’n veilige vangnet
Kyk net af
Begeerte is nou na meer as kos
Menswaardigheid, iemand wat my in die oë kan kyk
Iemand wat uitklim, vra hoe dit gaan
Iemand wat meer gee as die ou vervloekte kleingeld

Die kinders hardloop nie meer vrolik uit nie
Hulle sit verstok en staar
Probeer sin maak van die uitstaande-skoolfonds-brief in die tas
Die leë koskas

Die prediker is terug.
die vervloekte pyn steeds daar
Verkondig, "Jesus is jou vriend"
Op die ander hoek wonder ek: kan jou vriend my voer meneer?
Jy sê Hy is die brood
Waarom is ek steeds onversadig en smagtend
al heet my bordjie GOD BLESS
die stryd gaan voort
dag
vir
dag

"Hunger knows no friend but its feeder"
Het Aristophanes ooit die tekort en pyn geken
As
die vuur
en vleis
en vriende
vergaan


 

Mieke de Wet

my verhouding met die bord voor my is complicated

soms eet ek alles
ek eet meer as wat in my lyf pas
die pizzabokse wat toring in my kombuis is die bewyse
my drom vind sy lewensdoel
wanneer die pakkies lekkers hom vul

maar soms eet ek niks
want my opstel moet geskryf word
en ek het nie tyd om ’n kok oornag te word nie
maar ek het ook nie tyd vir two-minute noodles nie

ek ignoreer die mannetjie binne my maag
wat alles probeer om te ontsnap
hy skree
hy krap my maagwand oop
maar hy raak moeg
en nou is die honger weg

soms dink ek te veel aan myself
eerder as die kindertjies
wat nog nie hierdie week geëet het nie


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top