Eet my woorde: Inskrywings (18)

  • 1

Foto: Unsplash

Hier is die 18 groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Kobus Nieuwoudt Marna van den Berg Anesta du Preez Marscha-lee Swartz
Charlene Jordaan Kotzé Karolien Steenkamp Anzél Steyn Marna Dippenaar
Ferdi Staats Esterina Carstens Christa Kleynhans Marietjie Jansen van Vuuren
Juanita van Zijl Annelien Diedericks Heidi van Wyk Alida Strauss
Meagan Thomas Christine Oberholster Caroline Marais Anna James
Michaela van Staden Zané Joubert Cecile-Jo Swart Annemie Goncalves
Chenlel Davids Christina Harmse Belinda Cronjé Mia Coleman
Joshwin Sampson Mariette Halgryn Nadia Malherbe Madré Slingers
Joanita Richter Marilyn Meiring Michelle Hammann Melanie Pienaar
Hannes Steyn Reuben Murphy Elmarie Liebenberg Mia le Roux

Kobus Nieuwoudt

Avondmond

Vasgevang in vrees
Soos ’n blinde begin my
bed my lees

Eers in my kooi nou bed se prooi
Van toon tot Kroonstad
Verslind soos nuusblad

Ek wens ek kon sien,
maar moeë oë in die donker
laat nie toe dat hulle dien

Saggies probeer ek fluister
na wie ook al wil luister
Verlos my van die duister
My naarheid so goor
Ruk af hierdie pleister
’n Opregte verhoor

Skielik klap die donker hande
’n botsing van bo, die luier in my oor
’n Stille gebed, ’n pleit na bo, noue bande
My donder! Ek glo dit nie? Hy hoor!

’n Woord wat verdoem
Te bang om te vlug
’n Glimlag in die weerlig
Tuit sy haar lippe en offer ’n soen

’n Sonde op die Sabbatdag
Dis my vrou wat so lekker sit en lag!
Krummel en kraak,
dis haar ongewone eetgewoontes,
wat my so vreeslik traak.

Skaam probeer sy bewaar
’n Stoute glimlag skielik swaar
Haar wange van ken tot kop
Dol van vreugde en kieste gestop

Haar sang van versoening
’n Lang klinker van verdoeming
Fluit sy suutjies my bynaam
’n Soetkoekie of verskuilde linker?
"Asseblief eet saam"

Haar kus besoedel
Haar wellus in geheim
Haar skuld is haar boedel
’n Skatkis versuim

Haar lippe dik met sonde
Nuut ontruim en nou verbonde
Meegevoer in die samesyn,
soos haar lekkerste lekker verdwyn

Nogmaals kou sy harder
Gevoelens onnodig verwaarloos
Haar krummels op my lakens vergader
Hoekom is my vrou so boos?

Haar avondmond rond met skild
Haar enigste wapen teen my ongeduld
Soet soos suiker en lippe soos stroop
Weereens laat ek toe dat sy regoor my loop.


 

Marna van den Berg

Volmondig

Die dag breek in
’n tamatie-omelet

roosmaryn salf
middagete tot samesyn

met skemer verlei
vye, bloukaas en wyn

laataand ’n sny brood
in heilsaamheid gedoop.


 

Anesta du Preez

Die H O N G E R verlanger

Ek honger na ons Afrikanerkultuur
soos koshuisbrakke honger
na bobotie, koeksisters en wynsteensuur.

Totaal wanhopig word Afrikaans en kultuur eeu na eeu
opgevreet en aangepak
deur Souties en Soeties
totdat dit vorm verloor soos ou wegneemkos.

Die nuwe eeu steun op absint
want die hongersnood is groot
"wie is ek, waar pas ek in,"
die uiteinde is ’n afgeremde en afgematte Afrikanervolk.

Gaan na die aasplek
bedel
eet
vreet
en teer
op dit wat die kappies en die baarde voorberei het
Die HOOFmaal
van wie jy is, van waar jy inpas.

Wees desperaat vooruitstrewend.


 

Marscha-lee Swartz

My uitgeteerde siel ...

My siel voel leeg
kurkdroeg ...
soes ’n straathond o p s o e k na daait ...
Wie sal tog my honger kan raai?

Liefde en omgee is sielskos
soes ’n spoek dwaal ek in die bos.
Verlate en allien,
hoe kry ek myself weer oppie been?

Uitgeteerde siel,
honger na vrede en liefde.
Stukken soes ’n geripte jeans ...
Waai my siel totsiens.

Ai wêreld voed my stukkene siel.
Met sielskos.
Les my dors met geluk,
sonder dat ek weer hoef te buk.

My siel soek kos,
want ek wil weet ek is my eie boss.
Lewe jy is my hangmat,
al voel my siel soes ’n slaggat!

Na elke hou
vul jy my met liefde.
My siel is gevul
met geluk en seer ...
Soe daarom probeer ek altyd weer.


 

Charlene Jordaan Kotzé

Van voor af

Eet my! Eet my uit!
Sodat almal dit weet
en my nooit sal vergeet:
Daar’s iets wat my siel bly verniel;
my derms uitryg en my asem uitsuig.
Dan my wese uitspoeg en my kaal laat bly lê.

Jy vréét my! Jy vreet my uit
my wentelbaan ... my wilsbestaan.
Jy goël my opsies – vrotroet suikersoet.
Ek slurp jou bittergal braaktand bloed.
Net sodat ek weer honger en dors kan hê.

En ek jou, my geheim, van voor af kan begin bemin.
Eet my. Eet my uit.


 

Karolien Steenkamp

Mamma se Rice Krispies

Die skemeroggendson begin gluur al deur ons kamer se ruit
Ek drentel suutjies na die kombuis, my hart al weer propvol verwyt.
Om na die yl gepakte yskas te staar gaan my bloedjie se maag nie versadig.
Toe hý nog hier was ... "Here, nee, asseblief help my, wees my genadig."

Spaarsamig gooi ek bietjie van die kwart pakkie rys met ’n knippie sout in ’n pot,
Klaar gekook, melk en suiker om na iets te proe ... nou ja toe, dis die lot.
Dek die tafel ingedagte vir drie en besef wreed weer gou ons is nét twee.
Tyd om my blouoog-popkind haar ontbytkossies vir hierdie dag te gee.

Nog deur die blare, deurmekaar krulhare, laat ek haar by die tafel sit.
Handjies gevat – "Kom my liefie, ons moet eers gou bid."
Ek dank die Here vir die kos op ons tafel en vra vir Sy seën,
Begin opskep en toe kom dit: "Mamma, wat eet ons en waar is Pappa heen?"

Met vlak trane sukkel-sluk ek die knop in my keel en vertel so weergawe:
"Hierdie is Mamma se spesiale Rice Krispies" sê ek, haar kamstige veilige hawe.
"... en my liefie onthou jy ek’t jou gesê Liewe Jesus het Pappa aan ons nét geleen.
eendag sien ons hom weer, dalk nie in hierdie leeftyd nie maar in ’n ander een."

Doodstil kyk sy deur my oë in ons noodlottige verlies,
glimlag saggies en begin eet maar aan Mamma se Rice Krispies.


 

Anzél Steyn

wat was

vlae velle hang halfmas
aan skelet en hoop
loop deur rye motors
verskietende-ster-wense,
dowwe oë omsluit
wat was
’n sagte vel, verkloof
verrimpelde sonskade

’n snytjie brood net korsie
brosbruin gebrand
half-leeg melkbottels
en oorskiet,
pap groen appels, kafee-slaptjips
gesout met koekiekrummels
en bedorwe appelkooskonfyt

enige ding sal doen;
met horison goud geverf
honger wat sy vlees opkerf
buk hy by sy maat
sy enigste versadigende saad.

die nag word stil stiller
bakhand opgekrul onder ’n swartsak
die dag se voedingsvangs
skreeu skaarsheid;
sy viervoet-vriend blaf
’n dankiesê-lek
druk ’n koue snoet teen sy been
en sê met ’n hart vol, maag hol
"môre probeer ons weer, vandag was ’n seën"


 

Marna Dippenaar

Woordelose voedsel

Dit wat die lyf binnedring is so oneetbaar

die blikke warrel die straat af soos pasgetroudes
verstotelinge voel die koue weer oorkom
die skuilings is nie meer waar voedsel die lyf ontmoet nie

die donderwolke vul die lug
kinders trek aan moeders se some
oë wat die dringende nood aankondig

storms woed oor die see van die leë mae
die klokkies langs die kus lui alleen
bokkems wat vir jare nie meer te vinde is nie

die dorre lande woed met sand
’n wasteland
die vermistes word vermis en jy
waar is jy?

water vul nie meer die leemtes
die leë leemtes wat my
die kinders nie meer kan voed nie

die geruis kom nader en of ek
die môreson se strale sal sien
weet net jy

jy waar is jy?
dit wat ek vir my nageslag mee moet voed is
verlore soos die laaste krummels van die tafel afgevee
sonder bekommernis
waar sal ek van jou vind
al is dit net ’n lafenis vir die wonde
swakkes word swakker en
die res is nie meer nie

jou teenwoordigheid is nou nodiger as ooit
net God kan ons nou help
dit wat die lyf binnedring kan mens soms
van buite af vergryssel

kom terug kom vul weer die leemtes waar jy
eens was
leer ons wys ons

vind jou nageslag om ons weer
voedingryk te maak en te verstaan dat
jy ons voeding te waardevol is om te verloor

jy wat die lyf opvul is die voeding vir die lewe
God se woord vul ons met gees
sonder dit is ons bestaan in gedrang


 

Ferdi Staats

Noenmaal

Toe niks my kon versadig nie,
Het ek begin om woorde te verslind.
Veselpapier uit ’n ou woordeboek

Woorde
Het nie ’n gedekte tafel
nodig nie,
Of seën Here wat ek hier gaan geniet nie.
Net ’n skêr om te knip ...

(Bestanddele:
Een woordeboek.
Skêr.
Vind:
Noenmaal,
Knip ...
Vind: Kossoorte
Knip ...
Nagereg:
Knip ...
Knip ...
Meng in ’n bak.
Geniet ...)


 

Esterina Carstens

Moeder kon kosmaak

Voor die houtstoof staan ’n moeder
Die dag breek en sy is ons voeder
Girts-girts knak sy die fyn houtjies
Stadig begin dit brand eers floutjies

Die reuk van rook vul die dag met uitsien
Stadige borreltjies in ketel is reg vir bedien
Enamel klik vrolik teen mekaar
Warm melk en bruinsuiker ken mekaar

Fyngekerfde uie val in die pot wit op swart
Soos ’n baldadige mandalapatroon nogal smart
Wanneer sy lewer byroer strek die kat
Ogies loer oor tafelrand en pootjie vat-vat

Moeder maan kat  jy sal vir Piet moet vra
Meerkat en honde  jul sal moet gedra
By gedekte tafel kry ons seënbede vir dag
Ook vars suurdeegbrood eet ons vandag


 

Christa Kleynhans

Die lewe is ’n fees!

Sou ons trou onthou
dat kos nie net die vlees
maar die gees onderhou?

Jy ...
Jy breek jou brood in die sweet van jou aangesig
in samesyn se warme lig,
maar steeds
wroeg jy kos af
wyl jy aan jou wrok nakou:
bittere soet uitsprake
wat jy ons toesnou.

Ons verlaat die tafel,
Alles was met liefde voorberei;
Nou proe dit so wrang.
Ma stort ’n traan; begin na Ouma verlang
terwyl sy borde was en haar siel kasty.

Leef jou lewe;
drink en neem dit in.
Dae is kort;
laat ander weet
dat jy hul bemin
selfs al sou die sielspot nie aldag kook,
selfs al sou die stoom nie daaruit spin.


 

Marietjie Jansen van Vuuren

KOM-kommer-bos-genade

Gaan hiervandaan en wees vissers van mense
Sodat dié wat honger het kan eet
GAAN ... want die lewe is meer as brood in my boorde wat nie bot nie
GAAN ... want jou komkommerbos word deur ’n kranksinnige wurm opgevreet

GAAN ... pak jou mosterdsaad en wees die kind wat jou brood en vissies aan onse Here gee
GAAN ... verby die kospotte van Egipte want Kanaän wag op jou
Blaas jou trompet van lofgesang totdat jou mure van melk en heuning drup
In die tuin van Getsémané sal jou vyebome bloeisels baar

Gaan na die fontein van Siloam sodat jy kan opstaan en kan loop
Sodat jou tafel onstérflik sal kreun onder die oorvloed van Josef se skure
Sodat jy volkome versadig sal wees aan die manna van genade
Slag die vetgemaakte kalf en verwelkom die verlore seun wat soek na sy pa ...

Gaan bak ’n boerbrood met jou laaste meel en olie sodat God jou oes kan seën
Want as jy nie gaan nie om Sy visser te wees
Is ’n bitter soutpilaar of ’n Goliat-walvis wat jou vréét jou lot
GAAN ... voordat jou sewegangmaal met ’n ompad deur Nineve se na-nag loop

Gaan soek jou Emmaus-pad want ’n engel staan daar wag
KYK: Langs jou verdorde komkommerbos het die kwartels nesgemaak
Sal die Liewe Heer voor elke ete sélf jou voete was
GAAN ... want die tafel vir jou tuiskoms is reeds gedek ...


 

Juanita van Zijl

Brood, botter, Afrika

haar oë smeek, beledig, vloek jou
dag na dag
by die robot wat te vinnig groen word

vir brood, vir botter, vir Afrika

sy weet politiek sit nie kos op die tafel nie
doen ook nie die tafelgebed nie
sy kom van ’n ander land
almal in my buurt kla
sê die welsyn moet haar verwyder
"Asseblief tog"

ek hoop hulle verstik
Sondag
Aan hulle stukkie nagmaalbrood


 

Annelien Diedericks

volrond

smiddae lê jy die ryprooi tamaties
vrolik neer
in my spierwit kombuis
saam met blinkgroen komkommers
– vars gepluk –
uit jou nuwe sandsteenbedding
met tuisgemaakte kompos
eens uit die spierwit kombuis

tussen lower komkommerranke
en gemmerroosmaryntakke
met blou-soet botsels
swel daar koljandersade
groen en volrond
langs die okkerneutboom
wat ná sewe jare afwagtend
met ’n eerste drag spog

die lug verkleur heldergeel
van varsgeplukte suurlemoengeure
in my spierwit kombuis

op die blou gasvlam
dans ryprooi tamaties
geurig in ’n pot
met gekneusde soetbasilieblare
terwyl jou arms om my rank
met geure uit jou sandsteenbedding
in my spierwit kombuis


 

Heidi van Wyk

Eetlus en eet leuse

"Fynkou, stadig eet." My oupa se woorde, al baie gehoor vantevore.
Sy lepel kletterend teen sy bak – ’n huis weg, bereik dit selfs my ore.
Proe en peusel deur die dag, dis wat my oupa kort.
Nooit een dag sonder nagereg, ’n soet tand moet tevrede gestel word.

"Botter is duur. Stadig met die kaas!"
"Nie so vraatsig!" is my ma se kommentaar.
Sy kook fynproewer-etes wat ons almal haastig verslind.
Sy trek haar neus op vir soet; sout is wat sy plesierig vind.

"Organies is die beste," hou my ouma vol.
Suiker- en koringplaasvervangers is volgens haar "in die kol".
Sy volg ’n "pescatarian" dieet en hou van vitamiendrankies en groenslaai.
Haar yskas is vol tuna steak en geelstert (haar aandete as ons rooivleis braai).

My klein boetie eet die hele dag, elke dag, alles, enigiets, sonder ophou.
"Seuntjies wat vyf jaar oud is, is altyd honger," verduidelik hy, armpies gevou.
My ouers reken dis omdat hy ’n groeiende seun is en dat hy die energie kort.
Maar glo my, hy sal nie ophou eet totdat sy magie ineenstort.

My suster sal net brokkoli en spinasie eet as sy geforseer word om dit te kou.
Sodra ons oor lammetjies praat terwyl ons skaap eet, word haar glimlag flou.
Sy hou van kraak- en girts-happies (vir die oor soos ’n engelekoor)
Sjokolade en roomys is altyd die wenner en seekos is sy gek oor.

My pa hou van ’n skerp byt aan die kerrie en sout aan die vleis.
Brandrissie, uie en knoffel is volgens hom "paradys".
Hy maak die eienaardigste kombinasies, soms smullekker en soms nie.
Eksotiese smake, niks proe ooit soos karton of papier.

’n Kuier met my gesin sal nooit vir enigiemand verveel:
Fynproewer-etes met een of ander gesondheidsvoordeel.
Bedien in klein porsies, aanhoudend, om ons versadig te hou.
Interessante geure en altyd iets soet aan die einde om te kou.

My gesin besit nie een ’n enkele vaal smaakklier.
Niks is ooit te gal, te sout, te soet of te suur.
Sodra die huishouding wakker is, is die oond al warm.
Want teen dan is my boetie honger en sy magie is aan die karring.


 

Alida Strauss

Ma se pannekoek

Reën knetter op die sinkdak
En ontsluit die nostalgie van onthou
omvou my soos ’n kombers
Troetel, troos my hart

Ma se pannekoek
Die olie prut
vat hande met die deeg
Blasies fluister, draai om
O gaats, ’n flop ...!
Lekker, nou rede vir geen fênsiegeit

Sommerso met die vingers, strooi die suiker
Die lekker onthou, vul my binneste
Knarsend onder my tande,
die soet, die sout en dan
’n hemelse ontploffing van kaneelwasem teen my verhemelte

My siel is gelawe
Ek was weer tuis
My ma se pannekoek


 

Meagan Thomas

Genadebrood

Ek sit hier op die stop
Biddend dat die hongerpyne moet laat los
Die souterigheid van my trane
Is vir die afgelope weke al my kos
My verskoning raak oud
My stem het verdof

Almal het ’n opinie
"Vuilgat", "skollie" of "voertsek jou gemors!"
Moeg van in winkelgange dwaal
Verlep van vernedering
Gestroop van my trots
As hul tog net wil luister
Ek is tien en my ma is lankal tot stof

Mammie, as jy my kan hoor
Vra tog vir jou God ’n stukkie genadebrood
Asook dat hy hierdie samelewing moet verlos!


 

Christine Oberholster

Lipleklekker vreugde!

Die smaak van ’n handgekniede broodjie pas uit die warm oond gehaal,
Dít is ’n vreugde wat in my mond bly maal ...
Varsgemaalde koffie met gryswit geure wat dartel bo die beker,
Dis ’n geluksalige gevoel wat tiekiedraai, wees verseker!
’n Stukkie sappige vleis wat sis as die vuurtonge gulsig lek,
Dit kan enige neerslagtigheid met uitbundigheid dek!
Boerekos, vleis, rys, aartappels en groente daarby,
Dit is ’n vreugde, ’n hoop en herinnering wat my vir ewig by sal bly ...
Rooiblink biltong wat wegsmelt in jou mond en die soutigheid jou ’n hupstoot gee,
Ek maak my oë toe en dit sleur my mee.
Dis kultuurkos, trooskos, mý kos en meer,
Lipleklekker vreugde wat hartseer verteer!


 

Caroline Marais

Die spieël van herhaal

Dit begin met bloed en donkerte,
ma, die voedingsaar van lewenssekerte.

My mensmasjien geskep uit sterrelig en stof,
my wêreld gekleur, gegeur en gepynig deur kos.

Koskas, medisyne vir my siel,
’n help-my-toesmeer vir die groot verniel.

Jou smaak is ’n pilaar van onthou,
toegevleg met ’n kosgebore tou.

Ek's leeg, leeg soos ’n dop,
tog is ek ongemaklik volgeprop.

Jy belowe my hoop met happies so groot,
my hulpkreet steek vas in my keel van noot.

Voed my pyn, stil my lus,
jy is my dwelm ek bou ’n kis.

Die kis is klein, groot genoeg vir my,
hoe lank gaan ek nog die son vermy?

Koskas jy is vir my ’n verruklike vuurdoop,
die paadjie waar ek my siel stukkend loop.

Ek hou jou dop in die spieël van herhaal,
dis ek, altyd ek, wat in die weerkaatsing staan.


 

Anna James

Goue golwe gloei in die bitsige warm olie
Die vloeistof glimmer en glanseer
Soos sy haar bewende hande oor dit hou
Amper daar

Die kreukels in haar hande glip en gly
Op af om op af om
Vleg die deeg
Op af om

Haal die stroop uit die koelkas
Geen vingers vandag wat ’n vinnige lek steel
Skerp gemmer prikkel diep binne haar neus

Dis tyd
Een vir een verdwyn die ligte vlegsels
Pop, sis, pop, sis
"Magic" soos haar dogter altyd sou sê
So lank soos drie keer om die bitterbessiebos en terug

Sy skep die goue sisters saggies uit die gloeiende pot
Stadig nou, dis warm
Sy wil nie weer brand nie

Hier word mens nou haastig
Stroop toe met julle
Kom nou, toe-toe

Die koeksisters suig lustig aan die glans
Vir ’n oomblik kan sy ook nou rus
Voete pyn en rug wil knak

Genoeg nou

Haar mond water soos sy die eerste hap vat deur die bros kors, die soet stroop bars uit, sy sit terug en laat die soet smaak haar hele mond vul, net genot. Die lewe in a goue dop.

Sy pak op,
Twee koeksisters vir die pad
Die res vir die nuwe pand
Een laaste kyk na die bakkie koeksisters op die kas.

Die laaste gebak. Die gordyne sak. Alles word swart. Die kind vat haar aan die hand. Genoeg nou.

Een traan rol oor haar hart
Genoeg nou
Sy hoop iemand in die tehuis kan koeksisters bak


 

Michaela van Staden

Die soet gegeur met bitter deesdae

Dag vir dag herhaal alles oor en oor
suigstokkies gegeur met chili's
en die pannekoek is nog rou
het ek dalk net my smaak verloor.

Dis bitter en rou
waar’s die lekker in die lewe heen
waarna my binneste kind jaag
my flapjacks breek wanneer ek dit wil omvou.

Deesdae gee sjokolade my tandpyn
lekkernye is sleg-suur en te hard
aarbeikoeldrank se na smaak is aaklig
dis wat ek 10 jaar terug sou sê oor wyn.

Die kos, lekkernye en koeldrank vul my nie meer
waar’s my geluk heen
die kindjie wat ek was het dit heel geniet
dis seker hoe die wêreld jou leer.

Dinge verander en mense word groot
dinge wat jy geniet as kleintjie bly in die verlede
dis moeilik om die lekker terug te kry in die lewe
so geniet die smaak terwyl jy kan want jy gaan dit mis
vat my woord.


 

Zané Joubert

Die geraamte

Jy wat kla oor jou bord kos
Bly daar tog mense in die bos.
Hulle het niks; nie eers ’n krummel brood,
Maar jy wat jouself so hoogmoedig hou dink mos jy is groot.

So het Jesus gesê vir die vyeboom van jou boom sal niemand eet.
Jý jou hoogmoedige sal die wêreld vergeet,
Want so het Jesus na die arm gekyk
en die ryk verwyk.

Soos ’n geraamte staan sy daar
Hoor sy hoe die storm bedaar.
Drink sy vuil water uit die kraan.
In die arm gebied is mense besig om te vergaan.

Sy wat honger gaan slaap.

Haar gebed so strek.
Weet sy die engel beskerm haar met sy engelvlerk.

Haar vel so bruin gevlek.
Haar ou sinkplaatdak wat so lek
Is dit jy jou hoogmoedige wat so gemaklik gaan slaap,
Is dit tog die arm onkruid wat nooit vergaan.

Honger skree haar maag.
Op soek na kos, sak sy op haar knieë al te laag.
Maar in gebed bly sy sterk.
Want eendag sal sy hemel toe trek.


 

Cecile-Jo Swart

Neem ’n foto

’n Helder somerkersfees
Die maan neem sy plek
Voedsel vir die vriend
Kos in my bek.

Gevegte vir die tweedelaaste
Die weggee van die res
Kersfees is om gevier te word
Eintlik net vol stres.

Maak kos en neem ’n foto
Vergeet om dit te eet
Jou foto sal die lekkerheid
op elke foon kan meet.

’n Donker warm wintersdag
Die son al weer weg
Rooiwyn vir ons pelle
My gunstelinggereg.

Gevange in vol maag
Van die kook verlos
Kersfees gaan mos oor Jesus
So hoekom al die kos?


 

Annemie Goncalves

God, my lewe in ruil vir haar hemelse brood!

Bedelaar van hoop
Bedelaar van vrede
Gaan bedel by die poorte vir haar lewe

Want hy hoor haar huil
En hy sien haar honger
En ook al die spoke van gister in die donker

Die duiwel, hy kom sonder om te vra
Aanvaar of baklei, sy gaan saam
So sê maar reeds ja

Van stof tot stof is sy
Jou hande het jy vir bloed en land afbaklei
Ag asseblief Meneer, dis my kind ek sweer
Vir haar nog een stukkie brood sy is bemind
haar laaste reistog voor die dood
Gee dat sy o Vader
Geen meer vertroosting nood

Sonder vrees gaan dapper heen
Die Here so getrou hy beloof sy Seun
Glo – glo asseblief nou
Ek is Pa en sy my kind
Here sal jy haar by die hel se poorte gaan vind

Wees gerus my liefste jongeling
Oorvloed van lewe en voedsel
Dié sal net Hy kan bring

Half tevrede sal ek nou gaan rus
Logika en rede
Hiervan niks beslis
Gee my net nog een jaar
Vir ’n ysterhand se regeer
Om dan tot niet te gaan

Ek sien jou weer!


 

Chenlel Davids

Kou klippe

Jarre Mamie wat gaan ons venaand iet
hoekom trek jy so jou gevriet?
Ek se jou dan die Bybel sê
Wie nie werk nie eet nie
En hier werk niemand
So wie iet en wie kyk?

Dis toe hoe ek onder die brug beland
Dit gaan straf in my land
Ek loop heeldag en steek uit my hand

Ek hoor hoe raas my maag
Kyk hoe kyk hulle my
Hulle ry verby
Maens boepens gevriet

Ek krap maar vir ietsie innie drom
Dit help assie maag op sy ergste grom
Joh, dis die rede vir snuif en gom
Mense kyk deur jou ek's verstom

Hier oppie straat moet jy fight
Of jy gaan slaap sonder dite
Vir dae sonder iets oor die lippe
Nou verstaan ek as hulle sê kou klippe


 

Christina Harmse

Lewensreis-padkos

Pap patat vir die baba met ’n lewe voor haar
McDonald’s-tjippies vir die nuuskierige kleuter
Kosblikbroodjie vir pousetyd vir die haasbek
’n Snoepiepastei vir die kind nou te cool vir ’n kosblik
Melkskommel op die eerste romantiese afspraak
Donker, klam sjokoladekoek vir die eerste hartbreek
’n Eerste glasie grootmensborrels om te klink op agtien
Romanse oor ’n bord Italiaanse spaghetti
Flikkering in die oë met ’n roomys en nuwe ring op die strand
Drielaagkoek om te vier, jy het getrou
Beet en koek, grond, suurwurms aptyt met die dra van die kind
Kolwyntjies met kersies om die aanstap van die lewe te vier
Belangrike gesprekke oor rou vissie-stukke
Trane oor koffie
Kaaskoek-bekommernisse
Wynaande van wil-vergeet-verdriet
Kitskos wanneer die energie op is
Sop wanneer kos eet moeilik raak
Dalk later net ’n drup
Komkommerbroodjies vir die laaste groet


 

Belinda Cronjé

Gee my laaste

Wolke weerkaats blink
in die oë van ’n honger kind
sy armpies dun gerek
en hande onder sy sye ingetrek

ribbebene soos golwe om sy lyf gevou
sy vreugde deur die hongerte geknou
my seun so salig
onder die son vergader

nagte om dink ek aan jou
ek, jou moeder, ’n honger vrou
ek gee my laaste sent
vir ’n bersie en geskeurde tent –

om jou veilig, ongeskonde te hou
ongetemd jou hart,
leeg van smart
heilig die soet geur van dankbaarheid

die vlieë wat woel om jou mond,
jou lyfie vuil gesmeer met grond
jou glimlag my kind
maak kuns weer wind

eendag sal jy die see sien, seun
as die pyn van honger as word weer
die gebrek en gekreukel aan jou,
weer saam die wind, vergete waai

ek gee my laaste woord aan jou,
seun van hart, seun van honger
ek gee my laaste nou.


 

Mia Coleman

verdwyn

Opgekrul in ’n donker hoekie
Onder ’n pienk lapdoekie
Lê ’n klein lyfie en huil
Arms om die lyf gevou
met hoop vir bietjie verligting
van ’n magie wat pyn
want elke dag se bedel
in die wind en weer
word gevat keer na keer
en gebruik vir dagga en wyn
met ’n lyfie wat ruk
raak sy weg
op pad droomland toe
steeds besig om die honger te veg
soos sy wegraak dink sy terug
aan ’n vol bord kos onder ’n ordentlike lig
haar laaste maaltyd was 3 dae terug
en broodkrummels en melk
vir aandete is ’n klug
opgekrul in ’n donker hoekie
lê ’n lyfie
wat besig is om stadig maar seker
van hongerte weg te kwyn
en dag na dag
wens dat sy net kan verdwyn


 

Joshwin Sampson

Ek wil vry wees

Ek staan voor 'ie spieël
En huil oor wat ek sien
My liggaam ’n skildery
Wat ’n hartseer storie vertel

Ek is vet
Oorgewig
Rond
Mollig
En dít my walg my

Ek lyk niks soos die modelle wat op tydskrifvoorblaaie en plakkate pronk nie

My hart is swaar
Elke asemteug verg baie moeite soos die angs in my binneste opborrel
En die stemme in my kop saggies in my ore fluister: "Nog net een happie!"
Ek wil ontsnap uit my volrond liggaam: ’n Kokon wat besig is om my te versmoor

Ek wil vry wees ...
Vry van gemorskos wat my met elke geur betower en elke smaak op my smaakknoppies laat baljaar
Vry van die vrees om my refleksie in ’n spieël te sien
Vry van ’n wêreld waar my waarde aan onrealistiese skoonheidstandaarde gemeet word

Ek wil op die wind sweef – soos ’n arend – hoog bo alles en almal


 

Mariette Halgryn

Padkos

My padkos is stilwees.
Stilwees en weet.
Ek het dit met my hart beet.
Dit hou my versadig,
teenwoordig en wys
My padkos bring duidelikheid
en waarheid oor my realiteit.
My padkos verteer
te vining na my sin
want die energie wat ek daaruit put
ploeg ek in my lewe in.
Die vrug van my padkos,
is die pit van my dagkos
en ek het nie ’n bykos nodig
as my pitkos my padkos is nie.


 

Nadia Malherbe

Die punt is balans

Te honger is spekvet dik gevreet
Sy kyk neer op Meneer Dieet
Dié sit natuurlik en bokkos kou
Hy glo dis al wat die vet sal weghou
Brandmaer kom sit gedwee –
sy het klaar haar mond afgevee
Water is al wat sy kon kry
Om versadig onversadig te bly
Oom Vet sug net en bespiegel
Of het hy al die uintjies geëet in die piekel
Mejuffrou Dors,
druk ’n bottel teen haar bors
water is vir haar nie genoeg –
sy kuier eerder in die kroeg
saam met die geduldige Dominee Verslaaf
Hy is baie, baie braaf ...
Hulle dink nie aan kos nie,
Hulle vergeet skoon van eet
Maar saam het die tweetjies die wêreld om die heup
Mevrou Balans kom ingedraf
Die hele spul lyk maar bek-af
En sy sê: "Jy moet fokus my kind ...
jou lyf is al wat jy het – en dit is die punt
dat jy eindelose vreugde daarin moet vind ..."


 

Madré Slingers

Broodblik

Weeeew!
Die skril geluid van ’n pouseklok.
Etenstyd in volle swang!
Twee tipes broodblikke word uitgehaal.
Twee tipes getuies van ’n siel wat sy voeding by ’n ander ontvang.

Die een blik ...
Smaaklik.
Blinkoog uitsien na die volgende hap.
Elke weg lê aan die inhoud
herinner aan beskermende mamma-hande.
Altyd gereed om te voed.
Die broodblik ’n getuie
van rustige familie-etes rondom ’n tafel.
"Hoe was jou dag?"
"Kan Mamma nog byskep?"
’n Getuie
van ’n warm melkie voor bed
vir ’n bederf as jy soet was: koekies!
’n Getuie
van ’n vol magie.
Opsies.
Versorging deur kos ...

Die ander blik ...
Figuurlik.
’n Figuurlike getuie van jou lewe.
Vuil handjies. Leeg. Lanklaas uit mamma-hande kos ontvang.
Mamma se leeg word jou leë handjies.
Die broodblik ’n getuie
van ’n hopelose leë geskarrel na ietsie vir die pot – waarin jy gebore is of verval het.
"Hier’s niks nie!"
"Jy sien ek het min gepay!"
’n Getuie
van hongerpyne wat jou aan die slaap sing
van ’n magie wat kreun vir 10 oor 10 die volgende dag: Voedingskema-verligting.
’n Getuie:
"Sy ma los hulle netso sonder kos naweke!"
Desperaatheid.
Verwaarlosing deur kos ...


 

Joanita Richter

Gee aan ander

skarrel en wandel
van die môre tot die aand
op straat word hulle soos gesigloses behandel
dit laat ’n mens betraand

êrens op ’n vullishoop
sit mense opgewonde en eet
tog is hulle van hul menswaardigheid gestroop
in hul binneste skree ’n noodkreet

die pakkie sop wat almal miskyk in die kas
kan êrens ’n magie versadig
dis mos geen las
omgee kan tog nie jou geluk beskadig


 

Marilyn Meiring

Jou mag oor my

My kinderjare lê vergete in my hart soos ou verrotte herfsblare
Kinderhuiskos, ai liewe Heer waarom het hulle my daar gelos?
Naweke was kuiertyd, jy kry koekies met lekker appelkooskonfyt
Hier is ’n vrug of twee,
inruil wat kan jy die oom gee?

Tienerdogter word jy, wil ook leer van vry
Nou is daar kos maar jy sal dit moet los
’n Meisie met ’n mollige lyf sê hulle is nie reg
Nee jy moet eerder maar jou mond toevleg
Nuwe tydskrif, nog ’n dieet
Liewe Here waarom laat hulle ons nooit vergeet
Maer moet jy bly anders sal jy nooit ’n man kry

’n Ma is jy nou, ja jy is ’n man se vrou
Jy staan voor die spieël en haat
Waarom kan ek tog nie lyk soos ’n graat
Hoekom kan ek myself net nie aanvaar
Hierdie pille maak my so vreeslik naar
Tien is die perfekte nommer
Ek leef weer net op wortels en komkommer

Jy eet al hierdie woorde vir soetkoek op
Tog sal jy nooit lyk soos dai modepop
Media het jou net hierdie sprokie vertel
Waarom voel jy steeds ongelukkig in jou vel?

Hierdie towermag oor my
gaan jy eendag toelaat dat ek myself liefkry?


 

Michelle Hammann

Die etensklok

Geplant, gepluk en gelos
Die lewe se driegangmaaltyd
’n Vraatsige gejaag na vir altyd
Uiteindelik is ons net vrot kos
wat almal vinnig sal vergeet
ná al die koue frikkadelle
en afwesigheid van skynheilige pelle
is jy vir ewig klaar geëet.

Brood vir brood
Wyn vir wyn
Vervul ons die onversadigbare pyn
Só eet ons tot die dood.
Die kersie op die koek
brand al hoe korter
soos ons tot by nagereg vorder
Honger het ons na antwoorde gesoek

Maar ’n ou hoender maak mos goeie sop?
Verouderde kaas en wyn is juis duur,
so al is jy oor die muur
en haarloos tot soveel as ’n dop
kan jy steeds jou seëninge tel
want jy het die wenstreep gehaal
omring deur geliefdes in ’n saal
wanneer die Sjef jou persoonlik bel

Jou mes en vurk is gekruis
Die tafel is alreeds afgedek
Jy staan en luister by die hek
Die etensklok lui kliphard by Sy huis


 

Melanie Pienaar

Kompulsie

My kaal voete
ken die pad –

deur die dooie veld,
oor die ysterspoor,
al met die teerpad langs –

tot by die kafee
wat langs die stasie groei.

My hande weet
waar die donker troos
op die rakke skuil,

my wange gloei
terwyl die flenternoot
oor die toonbank skuif.

Ek voel skaam,
maar dit keer my nie ...

My vingers pluk
die foelie oop
en prop my kieste vol,

tot die suiker
my siel ontplof
en die vrees verdryf.


 

Hannes Steyn

Eetmasjien

As die groot masjien inskop
En die voedsame kos vermaal
Raak jy versadig
Met dié besef jy dat dit jy was
Wat dit kon laat gebeur
En jy voel goed

As die groot masjien inskop
Om raap en skraap te vermaal
Snoer brein en maag saam
Om jou te oorreed
Dat jy gesond, versadig is
Maar jy voel nie goed nie


 

Reuben Murphy

Erfporsie

Mammie ve'tel dat sy Dadda se sokkies en onnies vi we'k saans innie louoond drooggemaak het.
"Kon hom altyd dee' ’n ring trek."

Na we'k, sit ek op sy skoot en ons deel ’n pakkie peanuts.
Hy haal hulle jackets af en ek ve'kyk my aan sy navy tie met die mannetjies op wat gholf speel.
Ek laaiks daai een.

Laaste wiek vannie maand koep
Mammie blikkies kos
en pak 'it op die counter uit.
Dadda kom t'rug vannie bruin gebou en gooi Mammie met die blikkies:
"Ek ietie die kakkie."

Na Dadda dood is
erf ek sy navy tie,
dit hang in my kas.
Mammie maak viskoekies van die blikkies pilchards.
Ek laaiks daai.

Unemployed dra ek die navy tie vi my interview,
kon my dee' ’n ring trek.
Mammie is oek nou dood.
Innie lou oond staan ha' AMC Classic-potte.

Ek hetie die we'k gekry nie:
"Die potte is leeg en ons moet iet."


 

Elmarie Liebenberg

Resep vir tragedie (Bedien dalk meer as een)

Bestanddele:

2 teelepels onkunde
5 ml oordeel
’n Knippie lae selfbeeld
1 koppie leuens
1 eetlepel hoop
Emosie- en depressie-neute
Letselversiersuiker en eetversteuring-sjokolade

Instruksies:

Meng die onkunde met die oordeel tot verwyte begin.
Strooi lae selfbeeld en leuens by, knie dan by die verwyte totdat twyfel ontgin.

Voeg laaste die hoop by om te verhoed dat twyfel kan verdwyn.
Sit oond op die hoogste graad sodat die hoop wegkwyn.

Breek die emosie en depressie oop en sit dit eenkant in ’n bak.
Maak letselversiering aan saam met die eetversteuring-sjokolade totdat dit knak.

Versier dan die tragedie buite en binne.
Totdat dit lyk soos net sinne.

Bedien dan deur dit te verkrummel in ’n bak van wanhoop en ewige duisternis.

Onthou die resep is slegs figuurlik
en eet ons elkeen die woorde van mense wat ons oordeel, ja natuurlik.


 

Mia le Roux

Bakhand vir nou

Die swaarste gevoel om te dra
’n Leemte wat jy nooit kan vul nie
’n Leegheid wat jou konstant herinner
aan die ontembare stryd wat aanhou pla

Dis ’n honger
na meer
wat nooit bevredig kan word nie

Want die lewe het jou gelos
met die krummels van ’n ander
Oorblyfsels van wat kon gewees het

Geen water kan jou dors les nie!
Die grootste feesmaal kan nie keer
dat jy wegkwyn nie!
Want dis nie wat jy soek nie!

Almal smag
na meer

Verorber dit wat in hulle pad staan
maar sal hul verteer van binne
Tot hul wel vergaan

Tot uiteindelik
Die rykste soete besef
’n Bittere smaak
wat jou tref

Daardie swaar gevoel
van alles wat jy wou
gee jou slegs een laaste maal
om aan vas te klou

Die oomblik wat alles sal versadig
in die soeke na jou
’n Vrede waaraan jy kan smul
Nou.


 

Aangebied in samewerking met die

  • 1

Kommentaar

  • Mariette Van Biljon

    Die Spieël Van Herhaal deur Caroline Marais laat mens weer eens besef dat kos soveel meer is as net vitamiene en minerale. Die pyn en plesier wat daarin saamgevat is, kan 'n persoon verwoes of laat lewe. Goed van jou taak gekwyt, Caroline!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top