Eet my woorde: Inskrywings (17)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die 17de groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Vallerie Nel Suzanne Botha Riëtte van Zyl Werna Pretorius
Lezanne van der Westhuizen Miché van Wyk Darelle Snyman Star Feneysey
Janine Visser Wikkie Burger Elmeri Steyn Lili Rademan
Lucas Roos Monita Bennett Ryno van Tonder Euodia Stone
Heinrich Rix Moesiera Thys Elizma Grobler Arinda Ackerman
Barry de Klerk Victor Helberg Dominique Bothma Mathilda Cronjé
Carike Herbst Anionette Parks Wendy-Lee Strydom Hilde O’neil
Surika van der Merwe Nazley Wilschutt Deserisé Cocklin-Viljoen Kirsten Steyn
Ilzaan Muller Meriélle October Kiana Coetzee Ayden Croy
Anél Latsky Mathilda Steyn Etienne du Bruyn Leandri Lotz

Vallerie Nel

Honger vir liefde

Ek het spesiaal gekom na jou huis, sodat ek my hart vir jou kon wys.
Ek het geklop geroep, maar al wat ek hoor is die hol klank van my hart se versoek.
Ek staan met my hart in my hande om vir jou te gee, jy moes hom net saamvat met elke tree.

Dis ’n jammerte ek’t jou gemis, met die verlange moes ek my hart rustig sus.
Hy’t seergekry en in ’n duisend stukkies gekraak, hoe gaan ek dit aan hom opmaak?

Ek’t hom oortuig, om hom weg te gee en hy’t ingestem my brein geen beheer.
Hier staan ek nou gebroke met ’n seer hart, dit help nie om hom met ’n pleister toe te plak.
Die trane stort van my wang af en my hart so trots is nou skaam en swak.
Hy was honger vir jou liefde.
Nou moet ek weer my tassie pak.

Van voor af weer soek en vind om my hart aan iemand te gee om mee te bind.
Vir jou sal ek nooit weer kry, my lewe in ’n oogwink verby,
maar in my drome sal ek vir jou vir ALTYD lief bly ...

Honger vir jou liefde, nou moet ek weer ...


 

Suzanne Botha

Kosduiwel

Wat gebeur met my lyf?
Die skaal tart my met sy
nommers.
Nou's dit weer lang klere dra in
somers ...

My oë klein en sag satyn.
Dis net jammer mens sien die pyn.
Die Kosduiwel het my beet
moet ek ophou eet?

Die honger begin my oorrompel,
is dit met my depressie gekoppel?
Sal ek kom uit my donker gat?
Of gaan dit net tyd vat?


 

Riëtte van Zyl

Honger wêreld

My wêreld is vol van honger mense
Hulle tafels loop oor en beursies is dik
menigte swerf rigtingloos rond met hul vet pense

As woorde maar net ryskorrels was ...
Hoeveel sou versadiging kry
in ryswoordekorrels wat op bladsye bly?

As woorde maar net sade was ...
Sou ons in hoop en afwagting kon plant
en so bly glo in die toekoms van ons land

En as woorde maar net brokkies sjokolade was ...
O die genot! Die tevredenheid wat dit sou bied
aan die honger siele wat dit geniet

Maar woorde is net woorde, swart op wit.
vasgebind op papier of skerm
of is dit?


 

Werna Pretorius

woorde vul

dowwe oë leeg en groot
daar agter in die klas
vele monde om te voed, hy ’n ekstra las
in die rural village armoede en nood

vanoggend weer niks om die binneste te vul
die maag wat soos ’n jong leeu brul
teen die hut verwaai
ou geskeurde koerant nat en taai
eet die woorde, sluk stukkies papier
die skool is tien kilometer van hier

... die feeding scheme skop eers af om elfuur


 

Lezanne van der Westhuizen

Verlange na smaak

Die sagte gebrul van ’n honger maag,
Skerp tande wat aan my potlood knaag
Wonder ek wat daar is om te eet
Die gedagte wat aan my bly vreet

Bobotie met geelrys,
Ma se resep wen altyd eerste prys
Braaivleis en ’n skaaptjop
Dit laat my hart sommer vinniger klop

Aartappels lekker gebraai
’n Kerrienoedelslaai – o, al te fraai
Soet pampoen met kaneel
Strelend op my tong – nes fluweel

Ek verlustig my aan die soete gedagte
Jan Ellis-poeding die vernaamste verdagte
Stroop so blink en vla so goud
Jis, dit laat voel my sommer stout

Maar die hartseer van ’n koshuiskind
Wat sal ons vanmiddag op ons borde vind
Seker een of ander vaal dis
Sonder sout en min smaak gewis


 

Miché van Wyk

Vol van gees

Ek het besef dat ek sielshonger is.
Dat dit net die lewendige woord is wat my sal verfris.
Dat smaak ek moet hom xhoutjie orro dat ek hom vir ewig sal kan inneem.
Sodat my siel nxa kan bly en ek vervuld sal wees.
Sodat ek kan xhoulag deur die lewe met my siel tevrede.
Vol van gees wil my siel wees.

***

Nama-woorde en betekenis:

Xhoutjie orro – klein stukkie vir stukkie eet
Nxa – lekker of goed
Xhoulag – om lekker hard op te lag


 

Darelle Snyman

Wat eet ons?

Die beplanning is aan die rol
Want vir sewe dae moet al die magies vol

Dit moet iets wees waarna hulle al lank smag
Want Ma se kombuis ken die slag

Hulle is nie meer twee of tien
Waar jy net kan sê ... eet wat jy sien

Een keer ’n jaar se groot bederf
om al jou volwasse kinders na jou te laat swerf

al wat ek wil hoor as hulle so om die tafel drom
"Mams, jy slaan ons altyd stom"

Die beplanning was die moeite werd
Want volgende jaar is hulle weer hier, vir ’n ander tert


 

Star Feneysey

Profetiese proefkonyn

Kaalvoet, semelbroek swerf die armsalige drommel rond.
Ongenoeë – lewensmoeë; die tonnel van honger in sy oë
Soos ’n aasvoël sy waardigheid verruil
vir ou kos uit ’n vullisdrom;
so het sy storie profeties waar geword –
werk en huis deur Covid verloor!
Miskien vandag sal daar meer in rykmansbuurt se rommelsakke lê

Hy voel soos ’n rot, wyl hongerpyne deur sy menswees stort!
vlieë sy enigste kompetisie – voedsel essensiële
want finansiële kommer nie meer .

Grommel-grommel so worstel die drommel
in ewige honger atmosfeer
Die gesig van die nag is nat; waar gaan hy slaap ...
Verlam van die koue – laat die wind nie wakker raak.

Die bome staan soos geeste langs mekaar
donker bring kommer soos ’n skip wat sink!
Tussen slaap en slaap bly hy bewus
van wat hongerstryd is.
Dood, wat is dit? Wat gee hy om!
Uit buite en vêr lê hy onder die aandster.

Dooie blare sing die klank van ’n klavier
Hy grinnik, want môre sal die wind weer sing
Op sterwe, sy naam op geen grafsteen spog
laaste nag van honger en dors
hoop dan is hy tog verlos.

Skadu van die woud so oud ...
liefde vir die lewe ...
Hy lag uit histerie tot laat in die nag.
Sal die mensdom ooit verander; soos skape alles glo,
prysgee – vir sonder dak – sonder kos.
Gee my jou hand, maak mooi jou hare
hier sal hy sterf onder boom en blare.


 

Janine Visser

Elfde gebod

In ’n baie klein dorpie woon ’n vrou van formaat
as die inwoners skinder is haar bynaam dikwels Vraat
Haar hart is gul en haar rekmerkarms oop
vir die wesies en armes is haar naam eintlik Brood

"Kos is haar lewe het haar ouers gespot:
eet, eet en eet was haar elfde gebod"
Tog deur die skinder, spot en beskuldig
het Babette net geweet kos bly geduldig

Tussen beeshaas en droë brood het sy die antwoord gekry
die soort kos of hoeveelheid maak jou eintlik nie vry.

Daar diep in jou siel is ’n groter verlange
kos is net tydelik en totaal vergange

In ’n baie klein dorpie woon ’n vrou van formaat
as die inwoners skinder is haar bynaam dikwels Vraat
Haar hart is gul en haar rekmerkarms oop
vir die wesies en armes is haar naam eintlik Brood


 

Wikkie Burger

Dinsdag

hoender met ’n byt
aartappels en griekse slaai
die dinsdagaandmaal vir haar
maaifoedie van die baai

nog ’n glasie wyn
voor manlief arriveer
daarna ’n peperment
om die ewewig te balanseer


 

Elmeri Steyn

Kilojoules

eerder minder as meer

tel tel tel tel tel

loer deur skrefiesoë
na die digitals
ag here asb!
eerder minder as meer

tel tel tel tel tel

minder

minder

minder

noudat ek te lig bevind is
nou dat ek minder is

sou jy nou jou vlerke
om my kon toevou?


 

Lili Rademan

kyk
selfs swartkolke eet sterre
dit is soos
kompos vir die kosmos
maar as ek jou sien dan
kou die kalander maar aan koolstof
om vir ons net ’n stukkie asem te skep
sodat ons die melkweg kan drink
en soos die heelal ons verteer
loop ons kringe en
kerf aan ons jaarringe
op hierdie klein spikkel sterrestof

– sterrevang


 

Lucas Roos

vonkeltrane

daar lê ’n leemte binne my
wat wegkruip agter lang stiltes
oomblikke van beheerde onbeheer

’n hongerte vir haar
hare, hande, hart
en daai hel
(wat ek so van hou)

sy is die gifappel
wat my siel verteer
maar sy is broodnodig
en ek is honger.
vasgekeer in ’n woestyn
klou ek aan die oase
net buite my bereik
maar ek kan nie meer nie

ek is net ’n selfsugtige mens
geskep om te sterf
gesterf om te skep
en ek weier
om verder te voel
verder seer te kry
vir ’n mens wat roekeloos deur storms dans

en roekeloos sag praat
met goue maagvlinders
wat deur haar mond ontsnap
maar soos ’n kraan wat lek
styf toegedraai word
wanneer ek weg is

ek is klaar gekwyn
klaar met die wyn
klaar gesing, gedans, gedrink
klaar met daai klein lewe.

 

of so jok ek vir myself

ek weet
wanneer ek haar sien
sal die storms kom
en die engele skree
van die aankomende vloed
en die reën sal ons besiel

ek traan
(sy ook)
die flou vonkelwyn in my bloed
begin weer borrel
sy huil
(ek ook)
dat dit spat
en al my pyn verdwyn
vonkelwyn
nou vonkeltrane
wrede haat
weer wrede liefde
en so word ek verder verteer.


 

Monita Bennett

My kos en my Vader

Vir leef, vir genot, vir lief.
Vir my maag, of my troos, of my siel.
Ons eet al die dinge en bly leeg.
Bereik al die dinge en bly streef.

Genoeg? Nee, nog nie, nooit.
Eet, sal ons eet, sal ons eet tot die dood.
Lekker nou, maar later weg.
Ons monde water vir die sleg.

Ek soek die brood van die lewe,
Na volmaak en vol wees vir ewig.
Die plek waar honger vir my glimlag,
Aanvaar, vergewe, versadig.

Vir leef, vir genot, vir jou.
Genoeg en verniet om te kou.
Kry jou bord, sit bietjie nader.
Hier is jou kos en hier is jou Vader.


 

Ryno van Tonder

Nog net een

Angstig staar ek voor my uit.
My kop dwaal oor en oor oor my besluit.
Ek sal môre minder, ek belowe.
My hart weet al klaar dit is bedorwe.

Dit bring sedasie wat vir my ’n oomblik laat vergeet,
van die dieper storm binne my wat stadig die wal afbreek.
Nog net een, nog net een,
suig ek aan dopamien se speen.

Die smaak op my tong gee die eerste sensasie.
Volgende is my sinaps met ’n oortreffende vibrasie.
Nog net een en sluk, nog net een en sluk.
Ek het klaar ingegee, vasgevang, onder druk.

Die deksel maak toe, maar iets in my druk terug,
Iets donker in my siel wat soek na lig.
Ek wil ophou, maar ek kan nie, ek is besig om te verdrink,
aan elke happie wat ek oor my lippe skink.

Vervloek staan ek voor jou teen my wense,
oortref ek al my welstandgrense.
Vir my is dit dalk net te laak;
Vir jou, hou matigheid voor oë en wees gewaak.

Nog net een.


 

Euodia Stone

Gemengde gevoelens met ’n prikkelbare derm

ek's lief vir jou – nog van altyd af
jy't my gehelp groot en sterk word,
maar met al die grootwordjare
was daar spanningsvolle dae
met ouers wat baklei en skei

soos ek jou meer leer geniet het,
geliefde Kos,
het die vermoë om spanning te hanteer,
verminder
so het die getwis begin:

maag en brein veg om oorlewing
jý – die grootste antagonis
of my beste alliansie

geliefde Kos, jy verskaf my tong groot plesier,
maar maak my maag se gemoed suur
(en omgekeerd)

dis ’n stryd soos geen ander,
maar ek kies om jou te omhels
om te floreer in dié chroniese stryd
(jy is tog medisyne)

jy is my kameraad
ek wil nie meer baklei nie
saam met jou kan en gaan ek
gesond leef


 

Heinrich Rix

Deur vloede voedsel voorsien

Sewe-en-veertig weke gelede
het ek vir jou,
in ’n ou, verlate baksteenmuurhuis,
by die oewer van ’n droë rivier,
op ’n enkelplaat-gasstoof,
ontbyt probeer kook,

maar sonder gas,
vuur-en-vlam,
gaan ek nêrens kom nie,

vandag,
twee gebroke stowe,
natuurstrome vloeiend,
vloed by die huis verby,

met gas, sonder die regte potte, panne en spane,
kook ek vir ons met ’n braaitang op ’n oondplaat ontbyt,

omstandighede, omgewings,
en lewens verander,

my lief, as alles verander,
as ons alles in die vloed verloor,
en een laaste ontbyt al is wat ons het,
sal my liefde vir jou,
deur die vloede,
voedsel voorsien,
aan al die toekomstige generasies,
wat hierdie oewer ontdek ...


 

Moesiera Thys

Lus

Lus vir dit
Lus vir dat
Soet pampoen,
Maar haat patat.
Kôwwie en donuts
Gebakte vis en chips!
Kôwwie en donuts
Gebakte vis en chips!
So sing my ma komieklik
Soos sy haar boesman-twist ruk.

Swart koffie en brood het niks te doen met lus.
Want in die asvaal kinderdae gaan als oor honger blus.
French polony, twee-rand-vyftig se suur kaas.
Na skool ge-pan-bak, eet jy soos ’n baas.
Môre is weer sterk wees met ’n maag wat plek-plek raas.

Kôwwie en donuts
Gebakte vis en chips!
So sing my ma komieklik
Maar wie se song is dit?

My luskliere bly vêr van French polony af deesdae.
Ek lus vir iets, maar weet nie wat, so bly my lus my pla.
Yskas vol, maar hier’s niks om te eet, hoor ek myself kla.
Maar hiert, meisiekind! Vergeet jy van daai dae?
Julle wil net fênsie vriet, het die oumense gesê.
Want kindwees is uitsoek, al kry jy ook maar swaar.

Kôwwie en donuts
Gebakte vis en chips!
Sing ek ook nou komieklik
Terwyl ek loop en lus.


 

Elizma Grobler

Grens-wenresep

Honger onder maanlig
Net haak-en-steek-bosse in sig
As my maag nóg ’n maal grom
Sal jy dink dis ’n verlore bom

Net vyf kort worsies in ’n blik
Ek onthou die storie van vyf vissies, so dit is moontlik
Mits ons vir genade vra
Soos wanneer Pa vir ons dank voor ete op Sondae

Dis dinge waarna ek nou verlang
En ek hartseer met ’n grynslag moet vervang
Grense skei ons sommer so
En my verbeelding verloor sy vermoë

Dan hap ek maar ’n droë "dog biscuit"
Wat gewetenloos in my verhemelte vassit
Sluk die laaste bietjie flou poeiertee
Voor ek my "fire bucket" skoonvee

Nog steeds sit ek honger hier
Gryp maar ’n blikkie bier
Verlang verder na my ma se kos
Besin oor oorlog in die bos

In ’n "dixie" gooi ons al die blikkies kos saam
   Manne om daardie vuur sal dit kan beaam
Nou is dit tyd vir skep
En elke soldaat deel in hierdie grens-wenresep


 

Arinda Ackerman

versadiging
(’n gedig)

vir ontbyt. ’n glas kraanwater
vir my vlees om in te week
terwyl ek deur die dag hap
aan vanaand se rooivleis-reuk

vir ’n versnapering, op my bed
lê ek uitgespoeg en kyk
na sosialemediameisies
hoe ek eintlik moet lyk

middagete is beloningtyd
dit smelt blitsig weg in my kies
’n band om my bobeen
en ’n artikel "Vinnige gewigsverlies"

agtienhonderd, die uur het aangebreek
85 g biefstuk en ’n koppie sop
Ek is vol, ek is tydelik tevrede
ten spyte van die holte in my kop


 

Barry de Klerk

Ons eettafel

Dis Saterdagaand, so pak die hout en laat die vure hoog brand
Gooi op daai wors en tjoppie, en kom laat ons braai
Moenie Pappie se dop vergeet nie, hy maak dit sommer oop met ’n rand of met stewige tand
Kry die borde op die eettafel reg en bring sommer Mammie se aartappelslaai.

Sondagoggend ruik ek vroeg die tuisgebakte koeksisters en melktert
Dis amper lunchtyd, gaan roep vir oom Gert
Die tafel is gedek met ouma Tas se spesiale tafeldoek
Mammie sê die kos is reg en gaan sê tant San hier oorkant ons bid en sy moet nou ophou vloek.

Maandae vat my terug na tuisgebakte brood en ietsie meer
Pappie sit reg by die tafel, hy soek sy jam en wil dit dik opsmeer
Ons pak sommer elkeen ’n paar in vir môre se skool
Al is dit soms so taai soos ’n Toughee se sool.

Dinsdae was rustig, miskien net Mammie se special kerrie
Ek kry sommer twee borde rys, want boeta "leer" weer met sy tjerrie
Die kerrie stort op die tafel en Pappie se hemp is weer vol kolle
En hy soek sy koue water in ’n jug, sommer ’n groot volle.

Woensdae was die kombuis leeg of dalk was ons lui
Pappie kom huis toe met vis en tjips van die naaste takeaway
Die parcel lyk so klein op die tafel, maar ons weet dit is te veel
Vanaand sal ek skelmpies maar die res vir myself steel.

Donderdae was special, ek dink Mammie sit haar sjefhoedjie aan
Die reuk van spaghetti bolognese of hoenderpastei bly nog by my, maak nie saak waar ek gaan
Die bakke op die tafel is leeg en almal se pense staan hoog
Ons stry al weer in die kombuis oor wie sal was en wie sal afdroog.

Vrydag was mammie af en die kinders moes hul deel doen
Dalk ’n kaastoebroodjie? Die gouda lyk al groen!
Wat van ons cover en bestel ’n pizza, dit het mos ook kaas?
Vergeet bietjie van die tafel – vandag is dit pizza en movie, maar na die tyd voel almal ’n bietjie opgeblaas.

Kos en ons gesin gaan nog vandag hand aan hand
Ek mis net ons geselsies om die tafel elke aand
Eendag sal my gesin ook die waarde van die eettafel leer
Al moet ek kort-kort my vurk neersit en kleintjies keer.


 

Victor Helberg

Broodjies bak

Ek en jy in die kombuis
Het vir my gewys
Dit is pure chaos
Jy met jou resepte
Ek met my konsepte
Kry die pot
O nee!
My kosmaakvaardighede is vrot
Bring die meel
Dit is te veel
Sit aan die oond op 180 grade
Die brood kort nie sesamsade
Nou is dit tyd om te wag
Ag nee, af gaan die krag
Jy gaan kry die gas
Ek sit net op my bas

Yippee!
Krag is weer aan
Broodbak is weer aan die gang
Jy maak skoon
Die alarm weergalm op die foon
Klaar!
Gaar?
Sowaar!
Broodbak was sukses
Nog skoonmaak is ’n pes
Eet en eet totdat ons mae bars
Want min was ’n brood al so vars
Smaaklik
Smullend
Nie net maagvullend
Die reuk en geur van ’n vars brood
Vul jou hart en die krummels jou skoot
Dit is die einde van ek en jy in die kombuis
Jy met jou resepte
Ek met my konsepte


 

Dominique Bothma

Versteurde botterkoekie

Glo my, ek dink aan jou –
sagte, smelt-in-jou-mond stukkie hel
wat net nog ’n slegte smaak gaan agterlaat
hier in die voue van my brein.

Ja, jy –
suiker, meel en eiers tot perfeksie gebroei
in die 180-grade-oond
terwyl ek met my gedagtes staan en stoei.

Nou sit jy voor my:
Botterkoekie, netjies gepak in Ouma se duur kristalbak.
Sal ek enetjie proe?
Miskien,
al hang ek sekondes later, vinger-in-keel,
weer oor die toiletbak.


 

Mathilda Cronjé

Môre of oormôre – ek wonder maar net

Kosbak kosblik kospakkie kosskottel kostrommel en padkos
’n verskeidenheid van kosse verpak net reg om te eet.
Jy staan voor die oop vrieskas en dit is van hoek tot kant gepak
daar is nie net kos vir vandag nie maar ook vir môre en oormôre.

Ek voel trommeldik, ek het my ooreet, my maag gaan bars
ek is nou so versadig môre gaan ek vir seker op ’n dieet.
Daar is darem niks so lekker soos ’n skaaptjoppie op die vuur nie
mensdom praat nie eers van snoek en soetpatats.

Op die hoek van die straat staan ’n verslonste ou man
hy wys met sy vuil regterhand na sy oop mond want hy is honger.
Ons stap verby trek die skouers op en wys ons leë hande
hy knik verleë en vee die sweet van sy voorkop af
en besef daar is niks kos vandag dalk môre of oormôre.


 

Carike Herbst

Iets vullends

Ek praat van iets goeds,
Iets vir my siel,
Wat my honger sal verminder, of selfs weg sal vat.
Kos, wat my weer sal plaas op die regte pad.

Daar was twee mense
wat lank gelede geëet het
van ’n verbode vrug
wat die wêreld verwoes het

’n Honger na die verkeerde
het hul laat sondig teen die Here
die wêreld gelos met ’n leemte
en laat uitroep na ’n ete:

Gee my iets vullends
Gee my iets wat nie kan verniel
Alkohol, sigarette of seks
Dit verwoes net my siel

Gee my iets vullends
Gee my iets wat die honger sal wegvat
Iets vir hierdie leemte
hierdie leemte in my hart

Gee my iets vullends
Gee my iets wat waarlik kan vol maak
Vrede, liefde en blydskap.

Ek soek, maar dit voel nie of ek vind.
Ek kort die Here,
Dis net Hy wat my stukke ten volle kan bind.

Ek kort iets vullends.
Nader tot Hom en Hy sal tot jou nader.
Die vullende goed wat jy kort, sal jy by ons Abba Vader vind.


 

Antionette Parks

Ovaal juweeltjies

Die gekookte eier was na skool gedeel
My broer het dit met respek gedoen
Biddend het ons Liewe Jesus bedank

Maandag en nog vier skooldae lê voor
Mors kon ons nie ... een eier vir elke dag
Krummel-, gebakte eier en eierbrood
Elke eierdis het ’n dagnaampie gekry

Vroegoggend het Mamma gaan werk
Die eierkalender het ons twee gevolg
Gelukkig, gehoorsaam en gesond
Liefste Mamma se trotse
Eierjuweeltjies.


 

Wendy-Lee Strydom

Oukersaand

Flikkerende liggies, tafel gedek.
Glase blink, gespit en gepolish.
Dis gaste is op pad,
Die huis is getooi.
Als is reg, magazine-mooi!

Sagte hoender, crispy vel.
Gebraaide aartappel, bone in bacon
Kaneel-pampoenpoffers in kondensmelksous
en ’n vark met ’n appel in sy bek.
Almal sit en vingers aflek.

Hier kom die poedings
Tiramisu en tjoklitsous.
Sagte mousse, room en jellie
pepermenttert en koffielikeur.
Dis ’n fees vir Madam en Meneer.

"Dankie, Mieta, jy kan maar gaan".
Twee korsies brood,
’n bietjie botter, ’n bietjie jêm.
"Gaan eet dit daar om die hoek"

... die kersie op die koek.


 

Hilde O’Neil

Versadig

stuur ’n stukkie kampvuur
bedien my met die maan
skink die son se laaste uur
sy stories vat my saam

les my dors met die môredou
pluk ’n soetigheidjie by sterreprag
skep ’n boeretrosie by berge blou
tussen soutsee-duine rus ek vannag

namakwaland se geure lê dikpens in my skoot
die wynland se wingerd stoot nuwe loot
as die nuwe dag soos ’n groot eier breek
ruik ek die speserye in sy dop versteek


 

Surika van der Merwe

Die verskil tussen ek en jy

My hemp is so groot soos ’n tent,
Jou hemp se knope en knoopsgate baklei vir oorlewing.
My broek hou ek bo met ’n nylontou,
Jou broek kan ek gebruik vir ’n winterkombers,
My knieë is knopperig, hard en rond,
Jou knieë loop onder jou maag rond.
My bene is dunner as jou voorarms.
Jou bene bid, o Vader, help ons!
My wange is ingeduik, vaal broos,
Jou wange is rond en gesond.
My oë sit los in hul hol oogkaste, ingeduik, groot en wit,
Jou oë sukkel om deur die ooglede te sien.
My hakskeensenings lyk soos dun, droë biltong
Jou hakskeensenings het weggeraak deur die jare se eet.
My heupbene loop my vooruit.
Jou maag het jou heupbene ingesluk.
Ek het nie eers krag om in die asdrom te krap vir kos nie,
Jy het nie eers krag om uit jou spoggerige kar te klim en te stap nie.
My mond het maande laas skoon water of kos geproe.
Jou mond ken net van kou ... kou ... kou.
Gee bietjie ’n kou van jou kos diékant toe man!
Ek is honger, dors, dodelik maer,
En jy blink van die oorvloed,
van rys,
vleis
en
aartappels.


 

Nazley Wilschutt

Survival of the fittest

Ek lê hier op die bed. HONGER.
Die yskas is leeg. Koskas is leeg.
Al waaraan ek kan dink is KOS.
Ek dink aan die burgers van McDonald’s.
Ek dink hoe ek dit met een hap sal verorber.
Al waaraan ek dink is junk food.
Burgers. Chips. Pizza. Hoender.
Kos. Kos. Kos.

My maag brand.
Ek gaan drink water, want dis tog beter as niks.
My maag word ten minste gevul.
Survival of the fittest.

My pa is besig om hom reg te maak.
Hy gaan uit.
Is hy dan nie honger nie?
My ma lê op die bed.
Is sy dan nie honger nie?
My broer kyk na ’n video op sy foon.
Is hy dan nie honger nie?
My suster het gaan slaap.
Die enigste een wat gekla het en gehuil het vir kos.

Gaan ons oorleef?
Gaan iemand ons hulpkrete hoor en kom help?
Gaan iemand gehoor gee aan die hulpkrete van my maag?
Gaan iemand die gromgeluide van my maag stilmaak.

My pa is terug.
Met brood, kaas, peanut butter, polonie, botter.
Kos.
’n Toebroodjie.

Dit was baie beter as ’n burger.


 

Deserisé Cocklin-Viljoen

Vrugte vir die siel en vlees

Die wolke verrys soos stapels blou spookasem
in die newels van haar onderbewussyn
en smelt suikersoet op die punt van haar dorstige, droë tong
wyl die hartmonitor verstar in ’n reguit lyn.

Die uitgeteerde liggaam vergryp haar aan die
verloklike, vlesige fluweelrooi vye wat soos vuur
suurstoftoevoer van die EKMO-lewensondersteuning
in oordaad na die brein en ander organe stuur.

Die swart van haar vingerpunte word met
polsende rosige rosé gevul en bruis
borrelend deur die verkalkte are;
ewig met die hart gekruis.

Die glasige, gebreekte kykers sien
’n hersenskim van ’n bottergeel groenmielie
en die dowe ore hoor die klinkende klanke
van die knars en knibbel aan grasgroen pietersielie.

Haar lewelose hart word met verfrissende
en lewegewende, soet fonteinwater gevul.
’n Lowerryke oase verskyn in die woestyn
en ’n nuutgeskape liggaam word onthul.


 

Kirsten Steyn

Kerkbasaar

Sintuiglike aanval in die saal
vergete reuke, geure wat draal
bekende smake terg op die tong
oë, ore, neus, hande verstom

Van ver lok die sis van die gasvlam
sinne benewel deur kaneelwalms
voete weet nie waarheen om te gaan
hulle weier net om stil te staan

My neus lei my na kerrie en rys
wenkombinasie vir tweede prys
lagies rys en souserige vleis
vrugterige Mrs Balls vir spys

Braaivleisgeure die lok en verlei
Sosaties en wors? Klink reg vir my!
Wat van krummelpap, tamatiesmoor?
Ja! die antwoord wat hulle wil hoor

Kleurvolle bakkies basaarpoeding
drillerige jellie, bruin poeding,
gesmelte roomys én vla daarin
deurmekaar lekkerte – dit maak sin

Lekkergoedtafel wat kreun en steun
opgewonde lyfies teenaan leun
springmielieballe, fudge en nougat
smelt-in-die-mond, wat meer kan jy vra?
Grondboontjiesplinters en klapperys
suikerlekkers en marshmallowmuis
kleurvolle sakkies, propvol plesier
sherbet is heerlik al is dit suur

Blink pronk die flesse propvol konfyt
perske – met gemmer – vir bietjie byt
appelkoos en lemoen, rooi aarbei
waatlemoen, vye, asook moerbei

Groot koeke, terte, anysbeskuit
die goudbruin koeksisters lok my uit
romerige melktert, hertzoggies
ook jêmtertjies en ystervarkies

Tannies wat fluks die panne uitkeer
in netjiese stapels weer en weer
suikersoet-taai as jy daaraan vat
watertandlekker die eerste hap
onwillekeurig val die oë toe
hemelse lekkerte om te proe
suikersoetkorrels knars op my tong
speekselkliere breek uit in ’n song

Van alles om te kies en te keur
wen pannekoeke maar élke keer!


 

Ilzaan Muller

’n Stukkie brood

’n Stukkie brood is al wat ek vra
In almal se oë is daar net oordeel wat terugstaar

Asb meneer net ’n stukkie brood
Vir my honger nood

Asb mevrou ek vra mooi
U sal tog iets gee vir ’n jong nooi

Geen pille, drank of sigarette
Vir ons arme marionette

Selfs ’n kliphard een met groen
Sal die werk doen

Sal u so gaaf wees om vir my een te koop?
Om vir my ’n ekstra myl te loop

In die koue aande bid ek en vra dat onse Vader vir ons ’n stukkie brood sal stuur

Om my klein boetie se verjaarsdag te vier


 

Meriélle October

My ouma is ’n kweper

My ouma is ’n kweper,
meer peer as appel.
’n Bitter frankheid sonder (haar),
                     sout op die tafel.

Sy pluk en skil ons,
in haar gryse blou-groen sig.
Plotseling klein onder die donker (Frida) frons
                        ’n kweper is ’n harde, soet-suur vrug.

Haar hande is boompie broos en stomp
dog, die wortels en stam ruggraat sterk.
Sy hou ander bome regop, dra hulle vruggies rond
                         ’n Kweperboom is altyd koelte en rus na werk.

My ouma lag oopgevlekte pynappelskywe,
meer vleis as pit.
Hekel gou ’n doilie met stysel gestywe,
                             op my knieë het sy my leer bid.

Haar tande, taai toffies versteek in overall-sakke
vlymskerp tong vol knypende koue en                      stiltes.
Deel haar talente soos geskenke vanaf die hoogste takke
                       lallimala en hertzoggies: barakat vir jou hongertes.

Sy is kweperbloeisels:
’n rangskikking van wit en sagte pienk blomme.
Smeer vir jou bietjie Dawn op die knieë en kroes vlegsels
                   Ek adem haar in;      lemoenkoek, kaneel en roosbome.

’n Pêreltjie en hoed vir Sondagoggend-kerk
Sondagkos vir ouma is soos gebed;
heilig, sporadies, ’n ritueel, geregte en gaste onbeperk.
                  Eet al jou kos en beet vir poeding, haar enigste wet

Mamma se stem is Debussy of plofstof: dit kan sus of byt
maak slim mense stil en harde ooms huil.
’n Goudgeel kweper is soet-sag en ryp,
                        ’n handgestikte bont voorskoot waaragter almal kon skuil.

Haar oop-huis-arms en groot oë is nou gesluit,
en my ma(s) soek vertroosting met heimwee en kweperkonfyt.


 

Kiana Coetzee

Veg vir beter as brood en botter

Voor ’n rooi plaat het die sweet haar vel ontsnap.

Jy kan tog net só lank
in die kaste krap
voor jy jou morele waardes
vir kwaliteit
by die deur uitsmyt!

Roer en soek, roer en soek.
Gee op.
Roer maar weer.
Roer wat jy het,
want
hoop voed tog jou teleurstelling.

Jy kan maklik ’n bord breek,
Maar borde heg nie soos wonde nie.
Wat kos ’n mooi bord deesdae?
Wat is jy bereid om daarop te bedien?
Vir wie sal jy dit uithaal?

Maar dan droom ek oor myself.

En ek dink nie sy is meer op soek na
stysel óf proteïen nie.
Nee,
Sy soek, maar sy soek nie na dit waaraan jý dink nie.
Sy soek nog steeds in die leë yskas
en sy soek nié sous nié.

Rooiwyn vir die stadig gekookte
lamsboud met uie en tiemie.
Rooiwyn, net sonder die lamsboud.
Die lamsboud wat Ouma nie meer kan maak nie.

Gou besef sy teen watter koste voedsel verkoop word,
hoe sleg kruie kan wees
en
hoe sterk peper smaak.

Die meel is nog nie bitter nie,
want die muis is nog honger.

Dan kry sy iets,
baie ver agter in die spens.
Dit vat haar honger weg,
Maar net vir ’n wyle.

Totdat sy volgende keer
moet vég
vir beter as brood en botter.


 

Ayden Croy

Skarrel

Soe sit die baas met die many thousands in sy sak en sê vir jou dais genoeg virrie halwe brood.
Soe sit die baas met no worries in die wêreld en dink jou five bob is genoeg om te lewe.
Soe sit die baas met die many many thousands en praat van equal access to freedom.
Ja soe sit die baas op sy gat met die baie vriete in sy bord en smile nie eers meer nie.
En dan staan ek.
Getrou, toegewyd, en altyd op ’n skarrel vir my next meal,
en vasgebind aan my reis van survival.
Cause niemand dink mos aan os nie.
Niemand dink aan dai swart drom wat ons supper noem nie.
Niemand dink aan die blou Toyota wat ons lunch noemie.
En niemand dink aan die fokken wit huis in Bellville wat ons breakfast noemie.
Cause why?
Cause die baas dink mos dai five bob is genoeg van sy kant ommie halwe brood vol te maak.


 

Anél Latsky

Vir Sonia Cabano

Fyn het Vrystaatse meisie se vingers gevat.

Met tofu en snoek,
pampoen en perlemoen
het Sonia ’n koskombers om die volk ge(bry)

Van tannies tot hipsters kon sy saam laat praat –
Oor afval,
en bao,
kerrievis,
lam.

Kampvegter vir kos.
Kort van draad,
passievol,
groot van hart.

Haar potte prut nie meer nie,
maar haar woorde
sal altyd my kos
met heimwee en liefde geur.


 

Mathilda Steyn

My ouma se resep

My ouma het ’n resep gehad – nou te sien in ons huis –
waarvan die afmetings egter vergete lê.
Skarrelend, soekend (selde seëvierend) plunder jy deur die kombuis
om dalk die geheim in jou hand te hê.

Sy’t altyd gesê: "My kind, so ook is die lewe."
Maar ek, vingertjie-vol-versiersuiker-kleuter, het haar geïgnoreer.
Tien jaar later is sy uitgelag: tipiese tienerterreur.
Maar nóú verstaan ek, en hoop Ouma kan my vergewe.

Daar kom talle brousels oor jou pad:
bittere, bytende beklemmings wat jou wil aanvat
en chaos oproer.
’n Oond word oopgemaak, net warm woede waai terug
en ’n mes wat val raak ’n mes in jou rug,
alle vordering meteens gesloer ...

Maar ongeag wat die sleg betaam,
is daar niks wat nagereg nie kan regmaak nie.
Vat al die lewe se mooi en klits dit saam,
en smullekker soetighede sal jou smaakknoppies kielie:
’n hartsvriendin wat jou red vanuit jou nood
en die sagstrelende liefde van ’n sielsgenoot.

Versadiging
is egter iets tussen te veel en te min.
En na jare van die resep uitmekaartrek, flop en weer begin
val dinge uiteindelik in plek
en dan maak alles sin.


 

Etienne du Bruyn

Boemelaar

Ek kyk vir jou boemelaar
wat na my staar

jou sente van gister
al weer klaar
verduidelik jy
met ’n gebaar

my hart sink
wanneer ek hieraan dink

elke dag
’n soektog na die volgende bederf
vir jou ingeduikte wange
ek weet jou daaglikse maaltyd
soms net ’n hol kol op jou maag

hoe't jy hier beland

trots staan jy met jou bordjie
by die besige hoek
jou siel is uitgerafel
jy bedel ’n paar sente
vir bietjie kos op jou tafel

vat my brood
asseblief
jy's in die nood

ek sien jou dinsdae
jy sit op die sypaadjie en wag
vir manna uit ’n asblik
jou bonusdag

met gebarste lippe
proe jy aan iemand
se oorskiet van gister
jou oë glinster

om te lewe is duur
jou arbeid breek my hart
hoe is jy nog hier

my medemens
ek hoop jou verdriet
gaan tot niet
ek sal gee
om hulp te vra
is verniet

my siel was uitgehonger
maar jou pad wat jy stap
het dit oordonder

ek is dankbaar
om jou te kon help
dit was nodig

al is dit tydelik
voel my siel
vir nou
versadig.


 

Leandri Lotz

2021 – ’n Jaar opgedis

Die 12-gang-maaltyd twintig twintig en een
was ’n maaltyd van verrassing,
van bestraffing en soms seën.

Soms was dit Maltabellapap.
Soms was dit crème brûlée.
Soms was dit ’n boks tjokkies
waar jy nie weet wat jy gaan kry.

Soms ’n glibberige oester,
vir sommige ’n fees,
of koeksisters met sous van Worcester.
Ja, my "cravings" is Boheems.

Die lewe is ’n kontras
van soet en ook van bitter.
Hoe dit proe hang af
van die smaak van die besitter.

Sommige maande smaak soos koljander,
’n Smaak soos geen smaak ander.

Sommige maande was kool, aartappels en uie.
Ander was roomys en luukse groen vye.

Wat vir een lekker was is ’n straf vir die ander
Soos die verskil tussen marzipan en sjokolade uit verre lande.

Ja die jaar was soms trifle,
deurmekaar en ’n pappery.
Soms was dit ’n poeding
waarvan mens nie genoeg kon kry.

Nes ons elk se smaak verskil,
was daar lekker en ook sleg.
Soms was die pap te warm.
Soms was dit net doodreg.

Twintig twintig en een was ’n jaar vol disse.
Een vir elke smaak
en elkeen se luste.

Die lewe is ’n spyskaart
waar jy jou eie dis kan maak,
maar soms kort jy bestanddele
dan's dit ’n onbegonne taak.

Tog is sommiges se spyskaart veel lekkerder as ander.
Sommige tye smaakloos of baie aan-die-brander.

Dis op en af
Dis af en op.
Soms is dit gourmet.
Soms is dit begrafnissop.

Dis ’n mengelmoes van smake,
alles in net een jaar.
Dis ’n bakkie sagopoeding,
dan ’n mespunt kaviaar


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top