Eet my woorde: Inskrywings (16)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die 16de groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Yolanda Martin Natasha van Dyk Anmiray Opperman Koos Gericke
Lisette Rautenbach Audrey Sneyders Christo Schoeman Anke Krüger
Elizabeth Wolmarans Topsy Robbertse Melissa Schroeder Patricia White
Marcelle Olivier Tarren Basson Elmeen Landrew Esmé Goosen
Sonia Jooste Zaida Swart Lynné Wessels Werner Labuschagne
Janine Greyling Rochelle Hugo Roelof Boshoff Sunet Smit
Esmiralda van Deventer Emile Myburgh Sindy van Loggerenberg Luke Swanepoel
Nic Groenewald Dinti de Beer Hannes Koekemoer Marita Pieterse
Mckayla Kock Willemien Burger Zerildi Pieterse Zelna de Klerk
Jana Hurter Lanel Coulter-Roos Minzé Saayman Obedine Tsuses

Yolanda Martin

Daaglikse stryd met kos

ek stop my vol met smaaklike en onsmaaklike kos, enigiets net om ’n bietjie vetjies aan my maer beentjies en skraal middeltjie te sit.

saans huil ek myself aan die slaap wanneer ek so staar na my gedaante in die spieël. ’n middeljarige vrou vasgevang in ’n tienerlyfie.

as ek tog net my kossies kan inhou, sal ek dan gewig optel? hoopvol en stresvol dag in en dag uit maar geen verandering. die seerste is wanneer almal verby my kyk asof ek deursigtig is of nie bestaan nie.

my trane rol as ek dink hoeveel jare ek nou al ’n stryd het met my gewig, ’n stryd met kos. mense lag my uit en noem my name.

eendag sal iemand my raaksien en mooi vind, eendag sal ek goed voel oor myself nes ander. eendag sal ek hierdie stryd met kos oorwin. tot dan bly ek hoopvol.


 

Natasha van Dyk

Dit gee lewe

Die kos wat ons elke dag eet
Waarvan ek en jy soms vergeet.
Dis waaraan ons ons lewe meet.
Dit gee lewe, vir vlees en siel my maat,
Moet nooit dit net agterlaat.

Die kos wat ons elke dag sien
Wat ek en jy soms nie verdien.
Dis waartoe jy moet gaan
Maar waar kom die volgende bord kos vandaan?
Dit gee lewe, vir vlees en siel my maat,
Jy en ek kan daarby baat.

Die kos wat ons elke dag aan kan voel
Dis mos wat ek met my gedig bedoel.
Dit gee lewe vir vlees en siel my maat
Dis nie daar vir jou en my om te haat.
Dit gee lewe, dit maak jou nie ’n vraat.


 

Anmiray Opperman

Saai wat jy wil maai!

As ek ma net so sit en kyk
raaki speletjie duideliker elke dag
ek salute tjulle vi wat tjulle vermag

Om te aanskou hoe tjulle die approval
van anner na jag
hoe tjy tjou rug briek
soveel haat teenoor anner uitspriek

Alles om net in te wies?

Ek sit ma en kyk, skaterlag
vi wat tjulle in een dag vermag
but ek's verseker daarvan dat tjulle vi my oek lag

blinkbek vi my sit en lag
vi my eenvoudige bestaan
soms sien ek ’n skewe trek
ek los dalk ook ’n vreemde smaak

Isi my saak
eenvoudig is ek.
daais hoe ek smaak!
môre, môre sorg vi homself

tjulle gejag en baklei vi moontjies
nei, nei my brah
daai isi ntja

Da bly ek da sonner en lewe hie onner
In eerbied sonner verdriet
as wat ek van bloedgetapte geld moet vriet

Tjulle siele is vidala
tjy's lankal ini mang
nee jong! julle gulsigheid en afguns maak my bang

Want wanne, wanne wil tjulle da die true meaning of life an vang?

So vriet ... vriet jou trommeldik aan jou greed
But ons, ons gat nog once ammal die Most High moet meet

Dan en net dan sal tjy wiet
hoe't tjy jou broer se bloed gegiet
so gat aan en wies ma uitgevriet
jou verdriet is wat tjou sal warm hou

Want teen daai tyd, teen daai tyd het amal tjou lankal vergiet.


 

Koos Gericke

Deur dik en dun

Voor die TV, op die bank,
raak ek al lank
aan snoepgoed geheg.
Onverbloem struikel ek mank
voort op die Breede Weg.

Jy is wat jy eet,
rammel die leke profeet.
Oefen is in! Vleis is uit!
Dis Nuwejaar –
ek het vas besluit!

Familietyd! Feestyd!
Oordaad! Spyt.
Ek knibbel ongeërg
aan ’n slaaiblaar en wind
om so min as moontlik
kalorieë te verslind.

Die strand – dink ek naïef –
sal my motiveer.
Saggies en teer
op my XXXL-handdoek
vlei ek my neer.
’n Gimlyfie dartel vrolik verby,
toepaslik in skrapse lappies getooi.
Ek loer oor my pens
en sug en wens
iemand kon my selluliet
só kunstig plooi.

My gedagtes die dwaal
in my eie wêreld versonke.
Die lenige ek ontsnap
uit sy oorgewig tronke.

Stemme uit ’n ou verlede
ruk my terug.
Die wrede hede,
aanloklik, verleidelik,
die nou verbode vrug.

Ice cream, nice cream
Cold to the extreme
Djy moet dit proe
Djy moet dit lek
Spesiaal vir die lekke bek.

Hallo, ek is Flippie
Koep vir jou ’n tjippie
En net omdat ek nice is
En ek wiet djy hou van spices
Include ek sout en ’n dippie.

Later, heelwat later,
slof ek terug na die kar.
Gedagtes en ideale
totaal in die war.
Nuwejaarsvoorneme
lê aan skerwe.
Tussen roomys en skyfies,
opgekerwe.

Ek is maar net ek
besef ek terdeë.
Ek moet dit aanvaar
al is dit hoe swaar.
Die profeet was toe al die tyd reg:
eet bly ’n stryd op die Smalle Weg.


 

Lisette Rautenbach

Kinders van Afrika

Hoor jul nie ons hulpkreet
om ons magies te voed nie
julle wat in baksteenhuise bly
maak julle beursies toe
en wil ons honger magies
in hierdie tyd van
hongersnood nie voed nie
kinders van Afrika


 

Audrey Sneyders

Boemelaar

Staan en bedel die vernedering is groot,
Maar al wat hul soek is ’n stukkie brood.
Mense sal hul skel en verby hulle loop
En dink dwelms is al wat hulle wil koop.
Maar al wat hul soek is om hul magies te vul
En jy worry oor jou dieet wat jy kul


 

Christo Schoeman

Babilon-brood

... ek stap tot voor hom, stop
daar waar hy, jammerlik en klein, in ’n hopie op ’n bondel sit en bedel
hy lyk verlore, verwese en vuil ... uitgelewer
ingesluk en uitgespoeg deur die samelewing
oorgelewer aan die grille en giere
van ’n lewe langs die hoeke en sypaadjies van ’n koue-kille straat
sy hand is bewend, hoopvol uitgestrek
sy vingers krom en stomp gewerk
sy gesig vertrek, wys elke lyn van swaarkry
sy oë swyg, verkoop ’n storie ... wat ek nie wil hoor nie
’n Kruis plooi stadig op sy voorkop toe hy frons
’n woord vorm om sy gebarste lippe, kruip uit by sy mond
... ek ken jou, prewel hy duidelik maar hoorbaar sag
ek het eens langs jou aan dieselfde tafel gesit en eet
in die raadsale en voorportale saam met ministers, konings, beroemdes, befaamdes van aansien
heildronke ingestel, gelag, gejuig, sjampanjeproppe afgeskiet
uit dieselfde kelk gedrink, van dieselfde spys geëet
rykdom en grappies gedeel
... my hart ruk, ek onthou sy naam, hoe kon ek ooit vergeet
soos bloedbroers het ons brood saam gebreek, maar die brood en die wyn het aalwyn-bitter in my
mond kom lê,
swaar en wurgend klem die greep van sy lank vergete verraad om my keel
my oë gly weg uit sy smekende blik
jammer ... maar ek ken jou nie.


 

Anke Krüger

Laslappies van ’n ma

Soos ek sit onder my laslappiekombers
En ek luister hoe my stukkende kraan drup-drup.
Kan ek skaars my gedagtes hoor,
die geskreeu van my maag neem oor.
Die kinders kla hulle is honger.
My man het geloop.
Ek smeek elke dag die Here om ons te seën met ons daaglikse brood.

In die laslappies van my bestaan.
Probeer ek, ’n enkelouer, om te verhoed dat my kinders vergaan.
Ek wil hê hulle moet verstaan dat God wel bestaan.
Ek vra jou hoe?

Hoe hou jy ’n gesin bymekaar?
Dit was altyd ek en hy en die kinders.
Botter en brood.
Pap en sous.
Daardie was die goeie ou dae.
So sal een sê.
Dis die dae wat ek nimmer sal vergeet.

Ek sit in die godverlate plek.
Ek is dors, ek is honger.
My positiwiteit is van die gras gemaak,
toe ek my beursie oopmaak.
Vyf-en-vyftig sent.
Ek onthou die dae toe dit goud werd was.

Ek mis hom jy weet.
Hy wat my eens soos ’n stuk goud behandel het.
Hy wat elke aand gesorg het vir ’n warm bed.
Hy wat die kinders kon voed.
Ek kan nie dink nie!
Die hongerte bly in my woed.

My laslappiekombers raak al hoe kleiner.
Hy maak skaars my twee kinders toe.
My salaris word gesny.
My siel is swaar op brandstof.
Ek gryp na takke maar daar’s geen.
Geen man wat ’n vrou met kinders wil ondersteun ...

My ma kom maak my wakker.
Ek is skaars agtien jaar oud
Maar die idees in my verstand
Maak my benoud.


 

Elizabeth Wolmarans

Verlustig

Moeders verkies ’n tafel wat bespreek is
’n Koninklike outoriteit bloei daaruit
Waar jy aansit is beslis en beslistheid, ’n goeie teuel
vir ’n kraakvars hart

Wyn is soeter uit ander se glase
Diefstal van hul smaak inruil vir die afdruk van jou mening op glinsterend rand
Tog nie ’n onbillike roof
Kelkies ontlok tog eienaardigheid in opinie en maak verryking dus hul doel

Die gees van ’n vaderland knetter op sy nasie se tong
Daarom moet mens lustig eet aan’t broedertafel
Identiteite kan sterf aan te min peper en
knoffel dryf tog die bloed deur jou hart

Om avontuur te ontneem is om die siel uit te honger
Soos die permanente diens van die moedersbors aan ’n nuweling,
is gereelde verlustiging nodig om dit te koester


 

Topsy Robbertse

Straathoek

Hier sit hulle op die hoek van die straat
’n Hele gesin deur die noodlot verlaat
Ek maak of ek wag sodat ek vir hulle kan kyk
hoe het kos en gerief hul so ontwyk

Almal bruingebrand, sonstrale se felle kant
Pa staan seker en bedel op ’n sypaadjierand

Ma lyk moeg maar sy moet lag,
want ’n kindergesiggie kyk na haar
al sit sy vir kossies en wag

Ouboet lyk skaam. Vermy oogkontak met dié wat by hom verbygaan
’n Tiener sonder hoop, hoe sal hy op sy eie kos kan koop

Hoe kan ek help?
waar neem ek hul heen
Wat kan ek doen behalwe ween
Want al help ek dié op die been,
Is daar oral net nog een.

Hoe eet ek my kos
’n Wegneemete uit ’n boks
of moet ek dit dalk maar net by hulle los?

Ek kyk links en ek kyk regs, ek moet ry
En ouboet kyk op na my
Hy sien nog een ry net verby
Hier moet ek my selfsug nou bely.
Ek sien die seer en ek sien die pyn
ek sien die dae se honger ly.

Kom hier Boeta kom kry
My wegneemete is nou neusie verby.
Maar die gesin staan op en kom na my
Met dankbaar oë is hul honger vir vandag verby


 

Melissa Schroeder

al kry ek net ’n krummel

al kry ek net ’n krummel
Here, waar is die manna?
Vermeerder my visse sodat die kind nie weer leeg die nag intree nie
daaglikse brood is ’n begeerte

In die land van melk en heuning smelt ons weg
bid ek vir ’n God wat my honger en dors miskyk

ek smeek nog
ek hoop nog

waarom voed U net ons siele?
al kry ek net ’n krummel
’n krummel koesterhoop
’n krummel
met niks mag ek oorgee aan die genadelose put
’n krummel is al wat ek vra

Here
hoor U my?

maak oop die sluise van melk en heuning
al is dit net ’n krummel


 

Patricia White

Brood en vrugte

Jesus het vir ons sondes gesterf,
Sodat ons die ewige lewe kan erf.
Hy is die lewende Woord,
Hy voed ons siele met die lewende Brood.
Die vrug van die Gees: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
nederigheid en selfbeheersing, moet ons dra.
As dit Sy wil is, kry ons alles wat ons vra.
Dankie Here vir als wat U aan ons voorsien,
Alle ere aan die God wat ek dien!


 

Marcelle Olivier

Spyskaart van keuse

Groot is die genade van die geboorte
’n bestemming ontasbaar ... ongesteurd
jou taxi na die wêreld se spyskaart,
Ma ... Wat eet ons vanaand?

voorgereg is ’n voorreg, jy weet
... Gee ons vandag ons daaglikse brood
die sneeu lê dik, die aartappels diep
NEE! ASSEBLIEF!
Moenie die krummels weggooi nie

Shhhht, bly stil! Hou op met bedel.
Kelner, is die hoofgereg gereed?
skyfies, rys of slaai, Meneer?
Onthou tog net die bier!
die tafel is vrolik met ’n geketter en gelag,
nog ’n happie, nog ’n bier, nog een asseblief
wat die maag van vol is loop die hart van oor
my maag is vol, nou kan ek deel

Vla, jelly, koek en koffie
instink vervang met vermaaklikheid
Die aand is verby, die kos was "okay"
Jammer my vriend, ek het niks om te deel

Groot is die genade van die geboorte
een gebore met ’n spyskaart van keuse
’n ander op soek na die volgende ete
Here ... Wat eet ons vanaand?


 

Tarren Basson

’n Leë stampvol

In die begin was daar lig
Tog sit ek in duisternis gewig
Mens, dier en plant is geskep
Maar massas is in armoede se roer en rep

Jy sê ek werk by corporate om die hoek
Hier sit ek huisvrou neskombersie met my kroos wat rondom my kloek

Jy sê my grimering spreek boekdele
Kom lees bietjie in op die volgende taferele
My blos is van die warm sonnetjie se bak
Van heeldag swoeg en onder manlike gesag moet sak

Ek is bleek so bleek nes Londen se vampiere
Seën my met ’n stukkie vleis dis my maagneiging se giere
Die pienk oor my lippe van goedkoop Black Label
Soos ’n paleis-prinses op steroids aan ’n electric cable

My wenkbroue wat flik-flik-flooi
Het ek by my oorle’ ma geërf Susara van Rooi
My gemoed is vol, my hart in twee my maag leeg
Kyk trane van my kroos – ek begryp nie hoe die skaal weeg.

Jy sê die welsyn is ons enigste hoop
Jy sê die strate is daar om my siel te verkoop
Ek voel bitter soos ’n Mara van ouds
Verdwaal soos Sneeuwitjie in die oerwoud

Jy sê beter dae, beter dae sal kom
Dis al dekades en al wat ek het is die stilte in selfverwyttakke gekrom


 

Elmeen Landrew

’n Pot vol Krismis

Dis ’n gerumoer
Soos al die handjies woel
Kjeenertjies in hul element
Mamma raak verlore soos wat sy denk
"Ag Jere, eeks so dounkbaar vir my geskenk,
  al die olyfboompies so vol lewe, maar eek Jere,
   eek sal hulle voer totdat my handjies bewe."
Die skaap sí gemê, laat die vuilbekkies skrik
Immerlik so laat hulle in hullsé koekrigeit stik
Dis pabba goed wat so slag
Sodat ôs ganoeg vleis kan eet, in die maand van
Jesus se verjaarsdag
’n gevlegte derm hier, ’n lieslap daar
Plus ’n gevlekte lewertjie in soutjies gesobbo
Hierie kant braai mamma die xhabô
en dourie kant word die afvaltjie geskrap
das net die vuurrook wat klap
Ook nie tien tellings nie toe houng die karkas onder die peperboom
Vrek van die hounger
verslind almal die gwarragoed en die brouense is
ook spierwit van bokmelkroom
en nou xhaa geëet speel alle kjeenerse
weer in die sand
Ô, die opwinding van Krismis in Namakwaland.


 

Esmé Goosen

Skraler troos

suur slierte slym
worstel ritmies uit my lyf
biddend bewend kniel ek
vee ek oor my mond
en voel hoe krummels in my hare koek

rooigesig en hygend kyk ek hoe my wilde oë
weerkaats in nog ’n ander huis se spieël
in waas van wanhoop dra ek my straf
my selfopgelegde vonnis
stom soos ’n verkragte

ek spoeg die laaste van die bitter brousel selfveragtend uit
spoel bakhand oor en oor
soos ’n gekweste dier
die suur weg uit my lyf

dan smeer ek lipstif dik en rooi
plak ’n glimlag soos pleister op ’n wond
gryns dun deur saamgeknersde tande
en trek my skouers terug
my sleutelbene afgeëts in skelte van die lig

ek weet dat almal weet
hulle kyk té vinnig weg as ek verskyn
begin dan Babels babbel oor
onverwante stukkies snert
hou my sydelings dop
as ek na die naaste tafel loop
op maat van hul musiek

ek kyk hul een-een tot hul eerste oë laat sak
dan neem ek fyntjies en bedrewe
tussen duim en wysvinger
’n soet versoeking
bring dit rustig na my mond
en kus dit net soos Judas kon.


 

Sonia Jooste

Kos!
’n genade waarsonder ons nie kan ...
passie in elke happie ...
Bon appetite!

Ek, passievol oor kos ... smake ... en elke delikate ...
Is jy ’n smulpaap ...?
Dan is ek jou maat.

Wie ken die geur van roosmaryn ... tiemie en karmosyn ...
Dit sal lentevars kom uit my tuin, fyngefrommel met my vingers in ’n Indiese kerriedis met Poppadoms.
Kos laat ons lewe
– en dans!

Om kos te omskep in kuns is my geluksplekkie!
Passievol tower ek geure saam in ’n smaaksensasie ...
Vir jou
Want kos maak ons harte warm.

Wat is kos vir jou ...?
Herinneringe van kleintyd in elke smaak. en geur ...
Ruik die kaneel van jou ouma se pannekoeke en jou mond water ...
Kos troos ... trooskos ...
Gouestroop-koeksisters druppend

Elke maal bring siele saam
Genees seer harte ...
Smee familiebande saam ...

die gevoel van warm sop in siekbed ...
Troostend is KOS vir ons seer siele.

Wees dankbaar vir elke happie al is dit nou pap met kaiings –
Of ’n koningsmaal in ’n swierige saal.

Kos ... ons troos, ons lag, ons lewe en PASSIE!


 

Zaida Swart

Sielsmoeg!

Jy lyk en ruik so lekker
Maar vir my is jy slegs ’n wekker!

Kleurryk in potte en borde
Maar vir jou het ek ’n orde!

In my maag sal jy nie bly
Al moet ek van jou skei!

Ek haat jou!
Ja, vir jou!

Genotvol gly jy in my keel
Met jou sal ek nou deel!

Vingers wat diep grou
Raak ontslae van die gekou.

Saligheid omvou
Laat my vergeet van die onthou.


 

Lynné Wessels

Weegskaal

Die tafel kreun onder die feesmaal
Die Here word bedank vir die daaglikse brood
Tussen bekendes het hulle verdwaal
Wie sien die nood?

Sy kyk in die spieël
Gelukkig om haar geraamte te sien loer
Die daaglikse brood is verniel
Haar kosvrees ryg om haar soos ’n snoer

Oorkant die see is die kas leeg
Die Here word steeds bedank vir daaglikse brood
In die afwesigheid van die deeg
Die honger sit binne haar soos lood

Sy kyk in die spieël
Ongelukkig oor haar geraamte
Nog ’n onder-die-broodlyn-siel
Die noodlot het geen skaamte

Die weegskaal is nie in balans nie
Honger vir ’n vol bord kos
Honger om ’n foto aanlyn te pos


 

Werner Labuschagne

Brood is vir elke mens

Om brood te breek is
om in gebed te deel
’n lofsang vir die voedsel
vir die vlees in nood
maar ook vir ’n
gees wat streef vir
die saamwees van eet.

Brood, soos poësie, is vir elke mens
net soos die son wat laatmiddag
mag lag en in pienk gedigte ontvou
die sig en die wonder
van berge wat ons beloftes behou,
dit is vir elke mens.

Nes die land wat velde
vol vrug verseën
of die see wat alewig die
siel so saggies steur,
brood is vir elke mens.

Want hoe verskriklik die leemte
wat binne elke mens
kan skree en die
eensaamheid van vrees,
maar hoe vervuld ons kan voel
deur, met gees, te deel
en vir ewig verenig
met nederige
brood alleen.


 

Janine Greyling

Bedelseisoen heel jaar

Op die hoek van die straat staan ’n bruin seun en sy wit maat.

Hulle staan gebuk en vra vir ’n paar rand
sodat hulle kan eet vanaand.
Dis nie hulle skuld dat hulle ouers hulle met boeties agterlaat.
Hulle slaap gedurig teen die bult.
Alleen en honger totaal in onskuld.

Die son is hoog en hulle arms gebrand.
Hulle voetjies kaal op die sand.
Die hongerte raak te erg – hulle mae begin teen hulself te veg.

Op die end sal hulle steel, Al weet hulle dit is verkeerd, maar wat moet hulle hul boeties vanaand gee om te eet?

Baie van hulle staan saam en deel soortgelyke rou
Terwyl hulle die pap deel wat aan die potte vasklou.

Mense ken hulle al, sien hulle elke dag, maar daar’s soveel meer kinders wat vir kos wag.
Hulle is honger en die lyfies teer uit.
Hulle families is hulle enigste verantwoordelikheid.
Die twee maats is die oudstes maar hoort nog op laerskool.

Hulle albei te jonk vir werk, maar hulle moedhou is baie sterk.

Hulle kan nie elke dag so vir kos vra.
Ek weet Liewe Jesus sal die honger kinders deurdra.


 

Rochelle Hugo

Tevergeefs

Die geroep van hoep-hoep met somersdag
Leeubrul vars in die keel
Kokkewiet se spognessie
Giggellag groet die oggenduur

Die alom-mallemeule van Twitter en tweets en selfies
Gejaag sit die wind agterna
Paardebloem-nalatenskap
Happies brood vir die honger

As die krummels taai om die mondhoeke hang
Boonste-rak-heuningpot vergete
Wiege-wieg van tyd aantik
Vreemdelinge terugstaar in tranedal

Die perfeksieraam skeef aangehang
Digital portrait se gat
Krake van vrees op gladde vel
Die alewige drang

Tevergeefs?


 

Roelof Boshoff

Ons vergete mense

net sterk drank, raffery
en oë en ewige donkerte,
stank elke dag, ja elke oggend
tot die volgende oggend

niks doen en net lê
op ’n verslete matras wat vuil is
met ablusie net om die draai
in die ope veld

oral om my, brandsiek brakke, hoenders en rotte
selfs jammerte, geen werk, geen vooruitsigte
geen kos, met trots,
waardigheid in sy maai

wie wil ons tog ken en mee meng
ons die uitvaagsels,
afgeval
saamgesmelte dreg

dobbel, smokkel en rampokkery
bendes, ellendes, daggazolle, brandmaer mense
as dit reën,
net een poel water, dak wat lek

stank, walms met urienreuk
aaklig, ag tog ons is nie almal so sleg nie
stakings en afdankings
het meeste hier gebring

ek wil, ja ek wil
ek sal my droom net ’n ent weg
ek moet hier uitkom
my vrou en kind ’n beter lewe gee

as ek net vir ’n rukkie
nee ... ’n bietjie, stukwerk kry
as ons swaarkry, honger is ons lyding verby
maar nou, drome, ek wil regtig ’n beter lewe kry

weet ek, ek het God vergeet, totaal
in my skuld,
Sy wil ...


 

Sunet Smit

Toe oorvloed nog ’n gegewe was!

Wanneer hongerpyne erg raak
Jou dubbeld vou van die geknaag
Die trane op jou wange
Roep van herinneringe ver weg en vaag
Met dae vol vergane glorie
Toe oorvloed nog ’n gegewe was.

Jou emosies, jou hart en siel
Voel verworpe en leeg, behoorlik uitgedroog.
Liggaamlik en emosioneel uitgeteer
Net oor die allesoorheersende behoefte "voedsel"
Voedsel vir jou hart, siel en maag.

Nou begin jy dink aan alle en enige maniere
Om ’n wonderwerk te vermag
Uit die bietjie in jou private arsenaal
Te voed en te genees jou gemoed.
Soos ’n dorstige na water smag.

So wanneer hongerpyne knaag
Soek na enigiets om jouself uit te daag
Woorde op papier
Inspirasie
Selfs ’n wilde gier!

Met die wete jy is nie alleen,
Die kennis waarop jy kan steun
Herstel die dae vol vergane glorie
Na toe oorvloed nog ’n gegewe was!


 

Esmiralda van Deventer

Ons is wat ons eet

Eet mos net die beste,
Ons ís mos wat ons eet.
Wonder waaraan word die kosstandaarde nou juis gemeet?

Want kêrels kry nou man-tieties,
ek wonder of hul weet.
Dis daai hormoonbelaaide hoendervlerkies wat hul eet.

Lyke neem nou langer om na stof terug te keer,
want alles wat ons eet word mos so goed gepreserveer.

Jy eet gesond, ja net die mooiste groente wat jy kan kry.
Maar jy bly moeg en drink maar ’n multivitamientablet daarby.

Kies die beste "kwaliteit".
Soek Woolies se embleem.
Geneties gemanipuleerde kos in my sisteem.

As ons ons kinders sovêr moontlik net die béste kossies gee ...
Hoekom het elke tweede kind vandag dan allergieë?

Suiker maak vir kindlief hiper.
Suiker maak vir mamma vet.
Wie sal ons tog van dodelike aspartame
kom red?

Ons ís wat ons eet.
Ja dit is ons beslis!
Maar weet jy wat jy werklik eet
Is jy van als bewus?


 

Emile Myburgh

Vul my

Ek ruik jou.
Ek proe jou.
Ek dink aan jou.
Ek sal myself afsloof vir jou.
Hard werk vir jou.
Net om jou naby my te hê.

Jou geure glinster deur my huis se gange,
dit bind my gesin se belange.
As ons aan tafel ons Vader vir jou bedank.

Jy laat my glimlag, jy gee my lewe.
Jy is my toevlug as ek bewe.
Die een waarnatoe ek altyd kan gaan.

Ek begeer jou soos ’n beminde.
Ek volg jou reuk soos ’n blinde.
Ek verlustig myself in jou.
Ek lewe vir jou.

Jy's my Vrydagaand se braaitjop.
Jy's die sjokolade op my tong.
Jy's die biltong, jy's my bord sop.
Jy's die slaai, my brood,

my tjom!


 

Sindy van Loggerenberg

Hartseer honger

Dis einde van die jaar, als is op
Kerstyd lê voor en niks om na uit te sien
Als draai en draai so diep binne my kop
Ek probeer hard om te werk en te verdien.

Die brood, die jam, die kos raak min
Kinders, lag speel en dan kom dit, ons is honger
Vier snye brood ... ek wil die dak uitklim
Vat die brood, wys ek met my vinger

Met glimlagte eet hul te lekker
Maar swaar is my hart want dis kla
En min weet ek die tyd stap op die wekker
En binnekort gaan hulle weer vra

My hart is seer en trane lê vlak
Want iewers gaan dit slegter as hier
Toe besef ek ... ek kan nog ’n broodjie bak
En my kinders kan die dag weer duur

Seer is ’n moederhart as die kos op is
En sy moet honger bly
En vir haar kinders se magies opdis
Maar ’n mamma sal nooit haar seer bely.

Die hartseer van honger en nood
Druk mense in vreemde hoeke
En dit maak baie mense siek en dood
Al lees mens dit nie elke dag in boeke.

So sal ’n moeder haar kinders beskerm.
En aanhou en aanhou sonder kerm.


 

Luke Swanepoel

insatiable

wat issit wat my vandag ga voed?
issitie snoepie se soetgoed?
of moet ek gou corner shop toe loep,

vi i entjie of twie.
of moet ek wag vi ouma se spaghetti?
afstap darling street toe
virrie doepa van my sanghi.

oppie etenstafel wag ma se sonnagkos,
gemaak met liefde.

sal ek travel na veraf lande
en i smaak vat van hulle cuisine.
is sieke dit wat hulle meen

met food for the soul;
alles wat ôs ken assie unknown.

moet ekkie bybel oepslaan en
dik raak met die woord vannie Here?
of tel ôse stille conversation as gebede?

moet ek honge ly;
vi death innie gesig staar.
hoe moet ek maak
vi my eetlus om te bedaar?


 

Nic Groenewald

Lynvisser alla kaart

voor spys en drank
vang ons agter die eiland uit
dakspykers1
en in die buite see
af na agulhas se kant
alibamas2, groot en maer
maar snoekkuite bros in botter gebak
met ’n skeut Worcestersous
smaak lipsmaklekker – spoel af met bier
in die winter
kerriekoppe3 op die banke
uie, bruinsuiker, druiwe-asyn
laat staan in die yskas vir drie dae
en as die suid die water
koud-koud maak
so november desember
kaweljoue in die wal
in mote gesny
bak in eier en meel
bedien soet-suur beetslaai daarby
en as jy weet waar
net daar
galjoen
vet twee vingers dik
braai oor matige kole
bykos – ’n kan soetwyn
sodat hy later in jou pens kan swem
wat van gerookte makriel
en vars bakbrood met groenvyekonfyt
of elf met ’n knyp koljander
stadig gaar in die oond
maar as die pap dun raak
mas harders skelm in die rivier
en kook alikruk in ’n ysterpot
onder die ou manatokaboom
uwe Naam sy lof en dank

***

1 klein snoekies
2 groot snoeke
3 romanne


 

Dinti de Beer

woestynkombuis

vanaand sit ek vir jou, my lief
sabbatsoet pampoentjies en oorskietlam
uit my woestynkombuis voor
’n stukkie skraapmeelmalvapoeding
en die laaste lepel vla
met laaste korrels suiker
die laaste speen van melk

vanaand kan ons voel ons is ryk
want: weet jy, my lief, ons is
in die laaste tyd
skat, skatryk


 

Hannes Koekemoer

Barnabas op Fourways

In honger en gister se goiingsak geklee
het my gesig – geskree, gevloek en geskel.
My lippe kon alleen
klanke maak wat blyk na mens.
Dié skadu sou jou groet;
maar ek het reeds my woorde op my kraag
uitgereën.
In die stille stom storm
skud silwer voor my tempelhof
biddend aan die teer – "Vader, selfs Judas het geëet."

My oë slaan op na jou skaamte, in vrede, sien jy my nie
Ek hoop jy sien –
die kind wat in ’n flentersak wegkruip
‘k hoop jy sien –
die hart wat in laslappieskoene stap
‘k hoop jy sien –
die oë wat monsters geword het onder die son
Meer en mees – ‘k hoop ek jy sien – die bidkoppie leeg van verraaiersmunte

En nie my nie.

Mens, net soos jy hoop
Hoop ek – dat die Here van die Kinderbybel
My sal sien. Ja, dalk sal Hy.
Dalk red Hy weer Barnabas op die kruis,
Op Fourways
Dalk sien hy nog die kind in die flentersak.

Soos kindergediggies en outydse fabels,
herhaal ek met munte
"Neem eet, gedenk en glo ..." ... nog.
"kom hulle wat honger is" ... nog.
"kom hulle wat dors is" ... nog.
So offer ons die woord op vir straat:
Mag die antie in die grys manna bring
Mag die broer in goud kwartels bring
Mag dit reën my sy kake spaar en die son sy byt
Mag genade ons voed
Selfs vir die honger
Selfs vir Judas
Selfs vir Barnabas
Selfs vir my.


 

Marita Pieterse

Sjef
Vir Mynhardt Joubert

Ek sit by jou tafel
Skryf vir jou ’n vers;
Wil dit vir jou aandra soos ’n brandende kers

Die pampoenpoffertjies wat jy so mildelik deel
Word ronde sonnetjies hoop
Wat dryf in goue olie
Agterna dieplê in stroop
Met geure van lemoen
Wat soen-soen langs my lippe loop.

Jou duur spyskaart word in sierletters geskryf
Maar niemand weet hoe jou vetkoek en bouillabaisse-sop koue en honger mae verdryf

Vir vreugde sprinkel jy vleis en vis
Met pienk peppercorns en Maldon-sout
Maar vir laaste probeer jy vir elkeen sê:

Hoe spesiaal elkeen is
Met elke dis ...
En hoe diep jou liefde vir elkeen lê!


 

Mckayla Kock

Oorskietbene

Borde klingel in die kombuis.
My neus flikker van die geruik van kos
in die huis
Ek moet my myself kalmeer.
Want vandag is maar net weer ’n dag sonder ’n bord kos.
Vandat Mammie by Liewe Jesus is, eet ek antie se oorskietbene.


 

Willemien Burger

Tweesoortige honger

Sy draf weer langs die pad vanmôre,
in duur skoeisel en styfgespande broek.
Nes gister en die dag daarvoor.
Op brokkelrige bene beur sy kragloos voort.
Haar liggaam uitgeteer,
net
vel en been.
Knaend roep haar hongerpyne.
Elk honger sel durf dit uitbasuin!
Maar tevergeefs – daar's geen geluk.
Want tuis wag
net
’n appel, eensaam op ’n groot wit bord.

By die laaste pylvak van haar marteltog
verskyn hy bukkend by die asblik.
Albei hande soekend na genadebrood.
In klere vuil, verslete, leef hy.
Sy liggaam uitgeteer,
net
vel en been.
Knaend roep sy hongerpyne.
Vanwaar die daaglikse brood vandag vandaan?
En dan, sowaar, geluk!
Want in sy vuis
net
’n eensame appel, bruin verrot.


 

Zerildi Pieterse

Mengelmoes-moerbei-bui

My maag is oorvol want my gekneusde hart loop oor
Ek sit met soveel borde, bakke en bekers vuil en vol
Almal doen ek dink, almal het iets of iemand verloor

Ek sien my seën deur ’n bril van baie seer
Die snikke kom, die trane rol en ek is iewers tussenin
Die skottelgoed hoop op en ek is buite beheer

Nog ’n bak skaamte was opgedis aan my vandag
langs hom staan ’n beker vol trane om my dors te les
Gister se slaai van vergeet, vergeef en vergewe lê ook en wag

Ek eet maar langtand aan my trots en eiewaan
Die vurk van teregwysing steek my dwars in die krop
Die mes van selfkastyding en kritiek word nie skoon onder die kraan

Ons soek woorde, wat ons siel moet vul, om gulsig te vreet
Iewers moet daar lekker poeding-mooi wyshede in ’n yskas wees
Maar meeste seëninge is ysblokkies in yshokkies vergeet

Ons deel mildelik sjampanjewense uit elke Nuwejaar
Skeppies kaviaar van hoop en oesters van wyshede
Net om aan die einde gal te braak oor die onvervulde, die slegte, die klaar

Ek is al vroeg hopeloos te moeg om môre se spyskaart te lees
Of om die bordjie geluk van vandag uit te lek
Soms voel ek ek moet maar blindelings op nonsens fees

Ons moet ons mae en harte vul met goeie goed wat heel
Maar ons koop kruideniersware by plekke wat vuil en ongesond is
Maak disse op en bedien aan onsself en almal dit wat rof is op die keel

Drink uit die fontein van waarheid bietjie vandag
Eet van die boom van goed en vul jouself op met vrugte van die gees
Kry ’n nuwe manier om jou voedsel te soek en hou aan verwag

Maar môre vang ek myself weer knibbel aan ’n verlore droom
Nog ’n pakkie beskuitjies gedoop in pyn met kersies van onthou
En soms gee ek myself oor aan die ongesonde ek-gee-nie-om-nie room

Wag, laat ek gaan skottelgoed was want dit hoop op
Ek het die bakke en borde en bekers nodig vir nog wat die lewe uitdeel
Sal vanaand purgasie drink vir die vol maag, vol hart en vol kop


 

Zelna de Klerk

Keurig met liefde

U berei die tafel voor my aangesig
                fyn linne, silver gelouter, duur gekoop,

teenoor my teëstanders
                honger oë, jaloerse oë, onversadigbaar

U maak my hoof vet met olie
                geseënd, gesalf, versadig

my beker loop oor
                gepars tot die laaste druppel bloed

en ek sal in die huis van die Here bly
                waar my plek gedek is.


 

Jana Hurter

K’os kyk na stereotipes

Sarí-Louise, in haar pa se strôndhuis
met ’n uitsig oor die krônshônge1 van KwaZulu se kus,
word bedien met bubbles en "soosh". Sy byt
amper haar perfekte akrielnael wat honger wag vir die diamant
waarna haar Pinterest-hart begeer.

Marshelino se ouma skel
nes hy vir sy pelle sê: "K’os gat ry ’n draai."
Haar Sondagmiddagete is nou net gereed
en met ’n dringende hart wil sy met hulle praat oor ’n ordentlike bord kos,
maar dit smaak hulle ken nie regte honger.

Amina se oë is liefs op haar gelapte skoot,
as op elke dag se familie-kerrie.
Haar siel smag na die geure van Hollywood se loopplanke.
Pa het geen idee dat sy 8 000 kos2 vêr wil wees.
Saam eet hulle net hier.
Elke dag
Hierdie
Net hier

Voordat Zinthle die geskraapte hap vat,
kyk hy op en worstel verder
met die eed wat hy aan homself aflê.
Nooit in sy lewe gaan iemand waarvoor hy lief is,
saam met die vlieë eet.
Dit sal sy hart en siel kos, maar hoop les net een Honger.

Sommige gee nie om wat hulle eet – hulle honger vir wat dit kos.
Sommige ken nie die honger vir kos.
Sommige is honger vir sóveel meer.
Sommige veg teen die knaende honger.
honger. Honger.

***

1 Afrikaanse aksent van noorde van Suid Afrika.
2 "The definition of a kos is an Indian unit of measure that is between 1.5 and 3 miles." (https://www.dictionary.com/browse/kos)


 

Lanel Coulter-Roos

Aga-liefde

kole krap, vuur stook
kleintyd-kos-kilojoules
in liefde gemeet
espressogrootte het nie bestaan
lactose free sou hartlikheid laat skif
werfeiers bult ’n gebleikte blompatroonvoorskoot
"kale" maak varktjoppies groot
gebreekte-handvatsel-pot
karamelliseer raw vegan met ekstra botter en soet
kleintyd-kos op ouma se Aga-stoof:
voedsaam vir die hart se onthou


 

Minzé Saayman

Wapen

Larinks vasgevang tot reuke
Die klein handjies smaak van snood
Talm om die vuur
Terwyl sy baarder hom saggies tot slaap lil
Purperrooi merke om sy ribbekassie vasgekleef
’n Hygende asem met elke treur

Tragiese kontoerlyne op die paaie vervul die ouer gardes
Daar waar geel velde vol koring eens was
"God stop die brande"
Eindelose gebede
"Die mans, Mammie" uiter dogtertjies op soek na snoodsoplossing
Porsies verdeel
Sielskos verniel
Knie kreperend vergeel
Oneindeloos

"Hoor hy ons?" vra hy saggies
Treurlike toonlere
Weergalm
Firdos Vierkant vlamme terwyl Saddam Hussein verval

Mos aangekleef soos water bloed vertap van sy kleertjies
So by so, versameling van voering
’n Blikkie sardientjies
Week-oue suurdeegrolletjies
Ou Oasis-bottels met uitgedroogde, moddervuil H2O
Langs offerande van Hussein aan soldate wat genade toon van bo

Die Pentagon-amptenare belowe elke keer
Van geen vergelyking smag na elke geur
Maar ons sit hier steeds verrinneweer
Terwyl duiweltjies langs hul kogleas flankeer
Beghad bedreigers
Vervloek satan
Want selfs hongersnood in oorlog kan tel as ’n wapen!


 

Obedine Tsuses

’n Stukkie brood en ’n hand vol mieliemeel

’n Stukkie brood
anders is ons môreoggend baie honger,
’n hand vol mieliemeel
anders is ons mae deur die aand leeg.

Vat dit tog weg

Die vrees van leë koskaste;
van seer kele,
van die laaste happie kos afsluk en benoud rondkyk vir die volgende.

Sal daar môre wees,
iets om te eet,
’n pot wat kook op die stoof
of hoop ek tevergeefs?

Laat daar iets wees,
Here laat daar asseblief iets wees ...

Bid ek deur die dag,
smeek ek in ’n fluister heel nag.

Kan ons ook eet
tot ons versadig is
en rustig gaan slaap
omdat daar nog is?

Ek kyk na Pappa
maar hy vermy my oë;
ek dink hy is ook raadop,
weet self nie waar ons volgende maaltyd vanaf sal kom.

Mamma probeer sterk wees vir ons kinders,
moed inpraat waar dit min is,
verskillende resepte opnoem, beloftes van wat sy vir ons sal voorberei wanneer die kos kom.

Ek kan dit nou al sien;
Hoe mamma vir my en ousus sê om die tafel te dek,

en ruik die heerlike geur soos dit die kombuis vul,
dan gaan speel ek en ousus nog eers
want Mamma sal ons roep wanneer dit etenstyd is.

En tog is daar nou niks

Geen bestanddele wat Mamma uithaal om aandete te maak nie; geen vrugte om aan te peusel terwyl ons vir die kos wag nie,
ook geen nagereg waarna ons kan uitsien nie ...

nee daar is niks nie.

Vanaand lyk soos gisteraand. Elkeen kry hulself reg
want ons sal weer moet honger gaan slaap.

Weer ’n gebed fluister,
oë toeknyp en hoop God het geluister.

So lê ons in stilte,
uitgeput van heeldag se verbeelding.

Maar met al die restaurant-etes en buitensporige resepte waaraan ons kon dink,
smag ons almal na net ’n stukkie brood
en ’n hand vol mieliemeel om tog net hierdie hongerte te stil.


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top