Eet my woorde: Inskrywings (15)

  • 1

Foto: Unsplash

Hier is die 15de groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Ans Botha Rosa Duvenhage Nicolene Smith Charlton Andrew
Caronay Fouche Arnold Muller Gina Vorster Jeanette Green
Martie Bargiacchi Jorine Viviers Estia Riekert Lumari Nortjé
Retha Nagel Carin Erasmus Samantha Angelique Bothma Marzanne Janse van Rensburg
Vanja Lagendyk Rehana Wales Laura-Li Wessels Anél Robbertse
Millicent van Wyhe George Willemse Alette van Vuuren Jolene Nell
Miné Fourie Chrisna Goosen Chanté Venter Leonora Wurz
Nadine Strydom Chanté Krits Madi Hugo Tharina Jonk
Joshua Plaat Marike van Wyk Myrtle Theart Annora Eksteen
Kathy Boshoff Ester Scholtz Lezanne Sonntag Lezelle Burger

Ans Botha

Dankgebed

verleidelik, vetgesmeer
omhels die aroma die kamertemperament
deur rookwalms gemeng met stemme
wat oorweldig belustigend smag na een aanraking

oorval hulle voete hul denke
as die uitloting aangekondig word
’n geskarrel om vir oulaas
die vetgesmeerde kunswerk in haar glorie te aanskou

gedrapeer tussen verskeidenheid belustigheid
wag sy haar beurt af
toegesmeer onder olie en seldery
mag sy haar vele talente vandag oorskry

oorvloedig bly die wynkan loop
die glase vol, die stemme luider
die aroma sterker
die lus al meer

vergete is geliefdes in tehuise
weggegooide ouers op sypaadjies
verrotte verledes op spore van gister
verdrink elke stukkie ydelheid met wyn

grasieus word sy met ’n sterk lem gesny
sy kreun onder die druk
sap sypel uit haar welgeskape boud
perfek lê sy in dun skywe op die altaarblad

lok sy almal met haar gegeurde aroma
om hulle belustigheid met geweld te neem
in hul borde saam met ander verleidelikheid te plaas
geskarrel om tog ook net ’n stukkie van haar te kry

stil, sonder rookwalms net die geskarrel van eetgerei
die geklap van kakebene
’n gekreun van smullekkerte
vergete – ’n dankgebed ...


 

Rosa Duvenhage

Die fyn lyn

Ek draf by SPAR in, my gewete pla ...
buite op die trappie sit siele wat vra
hulle oë is honger, hulle hande is bak
wat koop ’n mens, wat sit jy in die sak?

My gedagtes maak draaie by Maitha op die plaas
haar pap en marog was beter as bobaas
ouma Jamneck se pasteitjies en koeksisters en tee
vlerkies op die kole en braaivleis langs die see

Lucia Khumalo se skaapnek en pampoen
Desembervakansie se stroopsoet waatlemoen
varsgebakte brood waarop die stoom nog staan
Doornpoort se biltong met goudgeel vetjies aan ...

Ek dink aan my oupa met ’n honderd beeste in die kraal
hy het ryspap geëet voor die kanker hom kom haal
Daar is so fyn lyn tussen te veel en te min
wat om te doen en waar om te begin?

Ek kyk in verleë oë en sien my eie refleksie
ek kry skaam oor die wêreld en ons soeke na perfeksie
Ek bid woordeloos met ’n knop in my keel
Vader, maak asseblief die wêreld heel!


 

Nicolene Smith

Lasaruskind

Mevrou, mevrou net ’n ietsie
nie baie, net ’n klein bietjie
vir ’n brood of ’n coke en pie.
Stap net aan my kop weggeswaai.

In my bord swem twee klein
bruin ogies, smekend, vraend, honger
ogies vol swaarkry en pyn,
en ek het weggestap sonder enige kommer!

By die hemelpoort sit Abraham en wag
vir ’n Lasaruskind se nuwe lag
’n Feesmaal voorberei
met coke, hoenderpie en baie lekkerny.


 

Charlton Andrew

Die brood van die lewe

ek het gister
saam Jesus aan die tafel gesit
ons het ᾿n buffet geniet en gepraat
oor Johannes en oor sy kruisliefde
my kop het neergebuig met ᾿n skaam glimlag,
Jesus het dit gesien en begin huil

Ek het die brood probeer eet maar Jesus antwoord,
"Ek is die brood wat lewe gee
Wie na my toe kom sal nooit weer honger word nie"

Ek het sinies ᾿n glas water gegryp
maar Jesus antwoord nog ᾿n keer,
"As jy van hierdie water drink sal jy weer dors word
maar wie egter die water drink wat ek gee
sal nooit weer dors word nie"

Jesus het nader gekom en my omarm
met Sy kruisliefde,
ek het my sondes bely
Jesus het my trane met sy hande opgevryf
en toe ek wou wegstap met my sonde
tik Jesus op my skouer en sê
"Jy kan dit alles hier vergeet by my"

Gaan wees my kind en honger nie meer nie


 

Caronay Fouche

Biekie brein change

Tant Issie word wee gehoor ...
Drie huise innie straat af
"Die melk is alwie op!"
Skreeu sy daar vannie agterdeur af

Klein boetie se glas is vol
Innie yskas is ’n lie melkboks
Die cigarettes se as waai
soes Tant Issie die brein change bymeka skrop

Ou boetie gryp ma die fietsie
en trap vi hom darrie knie ve’by die ore skiet.
"Kafee maak nou-nou toe,
net soe quarter past six!"

Ou boetie kom wee t’rug
Met ’n hele sakkie groceries:
een boksie melk,
en so klein sakkie hoenerpootjies

Die brein change was net genoeg
virrie laaste paar dae vannie maand.

Ma ai ...

Die lepel krap wee hard tenie kospotte,
want skaars die bodem is wee vol vanaand.


 

Arnold Muller

Sonnet vir kerkbasaarpoeding

Uit alle windrigtings streke en oorde
word jul aangery op stowwerige paaie
bedek met clingwrap waspapier en foelieblaaie
Uit plaaskombuis en spoggerige (vrugte)boorde

Van styfgeklopte sponse en gestolde gelatienringe
Tot jellies, souffles en meringues van alle kleure
Aarbei, karamel en suurlemoen is van die geure
Uitgesoek vir net die heiligste biduurkringe

Met ’n silwer lepel word klein skeppies geweeg
En versigtig langs elkaar op polistireen geplaas
Sjokolade, vanielje, en peperment die laaste sweeg

Uit ’n emaljebeker druppend en reeds halfpad leeg
Volg nou die goue eiervla – die toppunt ten laas
Die kroon op die mengelmoes vir almal se soete vreug


 

Gina Vorster

dieselfde

my lewe neuk uitmekaar –
nie eers humor kan iets meer doen
ek bestorm die simpatieke yskas
en verstop my bek tot groen
vandag is ek gelukkig –
die wit boks is nie leeg
ek kan vreet en vreet
tot ek nie meer kan beweeg
jy drink maar jou dop
en ek eet my koek
ons is nie veel anders –
albei na ’n high op soek
jou probleme vertoon
in jou stink asem, jou krap-loop
en myne kan almal sien
aan die bult wat bo my belt ophoop
jy word meer veroordeel –
jou kruk is leliker as myne
ek blameer eenvoudig my eetlus
maar ek misbruik kos as medisyne
wat verdrink jou siel
wat veroorsaak dat jy so suip?
daar’s ook iets wat aan my siel vreet
wat maak dat ek my aan kos vergryp
ons is stukkend en gestres
ooglopend sien mense net die helfte
maar binne-in ons siele
baklei ons al twee maar dieselfde


 

Jeanette Green

Die dieet van die laaste Bruid

My drome is gereeld gelaai
met beelde van die Bruid,
soekend vir iets om te eet,
die aarde wat einde toe draai.

In hongersnood is Suid-Afrika,
die nagte soos winter, lank,
toe ’n aardskudding die Bruid
uit haar koma laat ontwaak.

Slegs ingevoerde soja is te eet—
die Bruid allergies daarvoor.
"Sonder ietsie aan te smul, hoe
lag ek?" wil sy snikkend weet.

Langs haar siekbed sit haar Man.
Hy streel oor haar hare en fluister,
"Ek’t roomys in die vrieskas vir jou.
Het lank gelede dit so beplan."

Die wêreldregering rig slim stede op
en werp die Bruid en haar familie uit.
In wilderniskampe oorleef hulle van
gemufte brood en bruin watersop.

By so ’n kamp rus die Bruid ’n ruk.
Staan in die kosry, honger geswerf.
Na ete durf vra sy nog ’n skeppie sop.
Een sussie klap haar en gaan klik.

Om te oorleef is die Bruid daar weg.
Kort op haar hakke, haar tienerdogter.
Hul bly by ’n breë rivier, onder ’n brug—
moet stad toe vir kos, gereed om te veg.

Die dogter smeek vir ’n lekkerny en bly
skuilend terwyl die Bruid gaan verspied.
Masjien-mans marsjeer, een val haar aan.
Sy wen met bonatuurlike krag wat sy kry.

Van Bo word die masjien-mans weerhou,
terwyl die Bruid met haar vindsel vlug.
Sy gee die eier vir haar kind en sing,
"Ons eet hierdie om Hoop te onthou."

Saggies open die Bruidegom ’n deur
van die parlement-hof-kerk-gebou
waar die wêreldregering vergader.
Daar vaar die Bruid in en versteur

die kwade dade van die een persent.
Sy duik agter die kateder in en bring,
vir almal om te sien, ’n buffelhart uit.
Dié hart, dink hul, gee mag tot die end.

Tog, wie die Bruid is, ontgaan die spul
en so maak hul haar deel van hul span.
Die regeringsgesant oor haar aangestel
sal saam met haar aan droëwors smul.

Die hele nag woed die oorlewingstryd,
dan kom die son op, die sewende dag.
By die agterdeur uit strompel die Dief,
met sy eie mes gewond, deur die Bruid.

Voor haar oë verander haar woning in
’n vrugbare plaas met ’n lemoenboord.
In ’n stal rus daar haar eie wit perd en
die Bruidegom kroon die Bruid koningin.

Helder oordag laat ’n Stem my verstaan,
"Die Bruid moet melk, brood, vleis, eiers
en lemoene verwerk, dan veilig bewaar.
Ek sal, deur dié dieet, ’n weg vir haar baan."


 

Martie Bargiacchi

Nóg asseblief

Ek voed my tot ’n mosvarkie.
Agtpotige geskommel na ’n feesgedekte ruimte.
Sorg dat ander my borde met berge laai
die beker oorkantel vol oseaan.
Voete netjies gewas met vulkaniese modder
hoof druppend met radiasie gesalf.
My mond in verhongering gebuig vir ’n toemond kou
die skare juig: "Daar eet sy nou!"

Al skommel-skommel mosvarkie
net ek sal weet hoe lank ek kan kou.


 

Jorine Viviers

Rasend

Dis weer Maandag, almal staan op aandag
Gister was dit kerk, maar vandag moet ons weer werk
Die kinders baklei, ek sit maar my emosies opsy
Wat eet ons vanaand? Dit moet iets anders wees as gisteraand.
En ek kan nie regtig kosmaak nie, maar dit is asof dit niemand in die huis eers traak nie,
want vanaand moet almal weer eet, dit is al wat ek weet.
Ek maak heeldag planne en wonder oor al die vuil panne.
Sal ek mince ontdooi en sommer kaas oorgooi?
of dalk French toast met stroop of ’n sous om dit in te doop, ag ek wens ek kon sommer net iets gaan koop!
Maar as die dag verby is, is almal rasend honger en dan begin ek wonder, wat eet ons nou weer môre!
Ag dit hou nooit op in hierdie ma se kop ek kook sommer ’n pot sop!


 

Estia Riekert

Leë maag, leë hart

oë vol trane
maag wat aanhoudend pyn
krap hy in die asblik
daar is net niks
wat hom versadig

nog ’n dag sonder kos
of iets om te drink
stap die boemelaar
straat af
hoopvol bly hy egter

strompelend loop hy in die straat af
verby restaurante
mense trommeldik geëet en gedrink
hulle sien hom nie raak nie
boemelaar met ’n leë hart en maag

ken jy die pyn van honger slaap
van asblikke krap
en met trane slaap
ons moet so dankbaar wees –
hy smag na wat jy het mens.


 

Lumari Nortjé

Honger vir onskuld

Sy gaan lê vir die soveelste keer met ’n kol op haar maag
Sy hoop die jogurt van vanoggend was voldoende as ’n laag
Haar seuntjie se oë glinster terwyl hy smul aan die donasie wat sy kon kry
As hy maar net kon besef hoeveel mense sy daarvoor moes vry
Die onskuld is iets wat sy hom nie te vroeg van wil ontneem
Sy hoop en bid net dat die Here hom altyd met ’n vol maag sal seën
Talle ander moet ook met die pyne stoei
"Honger" is iets wat families kan uitroei
Sy sluit haar oë en bekommer haar oor môre
Hoe gaan sy weer vir daai glinster in sy oë sôre


 

Retha Nagel

Brood van die lewe

Die Brood is in Bethlehem afgelewer
vir die nood van die mensdom.

Die Brood van die lewe
bied hoop aan ’n verlore siel
en gee lewe en verkwikking
aan die honger hart.

Hoop en uitkoms is verniet gegee
dis betaal deur God’s genade.

Brood en hoop is nou my erfdeel,
en in dankbaarheid juig my lewe
vir die uitkoms uit die varkhok
van wanhoop en verder,
vir die fees in my hart
wat gebied is deur die genadebrood
uit Bethlehem – krip.


 

Carin Erasmus

Konfessies van ’n kombuistafel

soveel
potensiële tragedies
is al aptytlik afgeweer
in die oorlog van die tande
knabbelend aan korsies
botterblink van gouestroop
geartikuleer deur
mes en vurk artillerie
want eet laat vergeet

kolossale Sondagmaal
fermenteer in roesrooi wyn
taktuele momente
van vet vlesige vye
sonder kontaminasie
rooi flikker jong granaatkraak
gekneus en gedruk, aromeer
pomelo se bitter bloed

wurgend aan die
sondes van die vaders
laat ons bevoel bevat
beruik beproe en pluk
in die land van
aljander-aljander
drup sojamelk
en heuning


 

Samantha Angelique Bothma

Marionet

Prettig dans jy rond met sy kloue aan jou hoof.
Hy vertoon jou vir die skare, maar aan hulle is jy verdoof.
Opgestring – sal jy rondspring en hom verdedig.
oorgeplante gedagtes (Jy IS sy besitting)
Sien jy dat hy jou beledig?

Uitgedroogde houtpop – uitgehonger en verniel
Jou voorkoms blinkgevryf, maar ek sien die splinters van jou siel.
Die geraamte van jou desperaatheid wys, jou persoonlikheid het verdwyn
Jy was gewaarsku oor die manipulasie!
Tog val jy neer en oorhandig jou toutjies aan die strale wat hy skyn.

Die graf is gegrawe
nou is jy en jou kind slawe!
Termiete vreet aan jou kis en jy sluk hard –
EET MY WOORDE!
Vanaand trek hy weer aan die koorde.


 

Marzanne Janse van Rensburg

Slaptjips, bunny chow, boerewors
Brannas en Coke vir erge dors
Kerrie en rys of braaivleis
Niks pap vir die Valies – bly maar tuis

Samosas, bobotie, KFC
Alles wat mal is op jou gatsby
Van lekker eet, kom lekker slaap
Só doen ons dit in die Kaap!


 

Vanja Lagendyk

Pitaya

Soet
ma' hard geskil.
Ik is ha stroopwafel
en sij mij appeltaart

Saam vat os ’n rooi-appel-hap
(want dis nie die verboede vrug)
’n gesteele soen va suikersap
gee sij vi mij een trug

want deurie bloubessie-wingerre
wil sij mos vi mij loer
en net da deurie vlinderre
ga mij maniere in sij moer

Yessir vi mij ’n milksjyk
en vi ha ’n roemys en
’n tjerrie oppie top

vi dai lekke smail
izzit mos leeg
in mij
kop


 

Rehana Wales

Gatvol – verlate strate

Ek loop deur die woonbuurt, ene genoem Gatvol
Sinkhuisies sonder vensters, klere oor drade, mense uit hul natte
Maer, vriendelik, tande en ’n gewaai
Mense hier gee nie om van protokol, hier in die verlate strate
Klein diep honger oë staar diep in jou siel
Ouers met diep kake, reg om te vra
Hier is Covid nie ter sprake, honger is die oorsaak hier van baie dade
In die verlate strate van Gatvol roep die stilte van baie honger geraamtes
Eendag Here, wanneer Here, sal die vertroosting kom in die verlate strate


 

Laura-Li Wessels

Die geelpitkenner

Die sweterige, vuil palm vou die geel pitte toe.
Hy plaas hulle in rye onder die grond.
Hulle woon daar.
Dit is hulle tuiste,
Hulle veilige vesting.

Dié hand hou hulle aan die lewe.
Hy laat hulle groei.
Hy wil hê hulle moet hul volle potensiaal bereik.
Hulle word dors; hy bid dat die sluise van die hemel sal open.
Hulle word honger; hy stuur sy groot masjiene om hul van voedsel te voorsien.
Hulle groei.
Dankie tog hulle groei, want nou kan jy ook groei;
In lengte en in breedte.

Die harde, vuil hand is die hand wat jou voer.
Dit is die hand van ’n mielieboer.


 

Anél Robbertse

Honger is niemand se maat
Vir grommende mae is daar net een raad
Eet!
Wat eet jy as jou kaste leeg terugstaar?
Hoe vergeet jy, as jou maag kla-kla sy leegheid verklaar?
Daar is huise waar die oorvloed mense verveel
en dan is daar huise waar almal in ’n tekort moet deel
Wees dankbaar vir wat jy het en deel ook uit
want gebed alleen het nog nooit ’n leë maag gestuit


 

Millicent van Wyhe

Hoenderlewertjies-sousie-resep

Laat jou bakkie hoenderlewertjies ontvries.
In die water, of onder die son, jy kan kies.
Gooi hul dan in ’n bak water en laat hul rustig lê tot later.
Kap nou jou uitjie fyn, maar maak seker dat sy nie verdwyn.
Lem ook vars knoffel fyn vir smaak, twee tamaties in blokkies,
en strooi ’n eetlepel suiker oor, net genoeg om effe soet te raak.
Maak seker jou olie voel die hitte, nie te warm, net genoeg liefde.
Nou bruis jou uie, met ’n Knorr-hoenderblokkie,
totdat hul so blink, bruin skyn in jou potjie.
Betower haar met die knoffel, en bedek hul saam onder ’n deksel.
Na 5 minute, lê jou lewertjies saggies neer, op die bed van die uie-en-knoffel-geur.
Sout en peper net genoeg, en nou ’n glas wyn, o wag, is te vroeg.
Sodra jou lewetjies kleur kry, voeg dan jou effe soet tamaties by.
En terwyl alles so saam dans op jou gesang, een laaste geheim, voeg by ’n klont blatjang.


 

George Willemse

Suid-Afrika, jou kinders sterf

Suid-Afrika, jou kinders sterf
Van hulle ken nie eens die woord "bederf"
Van bakboord na stuurboord moet hul gaan
Dit is op jou straathoeke, Suid-Afrika, wat jou kinders honger staan.

By die verkeerslig vra hul slegs net vir ’n snytjie brood
Maar vir die man in die kar is jou kind wat vra morsdood
Suid-Afrika, jou God het baie gevoed met baie min
Hoe sal ons ooit die stryd teen hongersnood kan oorwin?

Suid-Afrika, dit is tyd dat jy na jou kinders moet begin kyk
’n Leë maag maak jou kinders dood, en die geldgieriges word ryk
So, staan op vir jou kinders, en begin hulle te werf
Want Suid-Afrika, jou kinders is besig om van hongerte te sterf.


 

Alette van Vuuren

Dekadenter kry jy nie

Daar's romerige skuim
wat sag en dromerig bo-oor die koffiekoppie se lip hang.

Die fyn porselein is met donker, bitter poeier besprinkel
en in die middel ’n driehoek swaar, ryk sjokolade, gebak tot perfeksie.

Dekadenter kry jy nie


 

Jolene Nell

Kulinêre Simfonie

Seën Here
die voedsel voorgesit
Amen

amen
vir ’n simfonie
– ’n korsie brood

gekrimpte maag
sal nie oordaad duld

godswoord sal voed
– my enigste voorspoed

Seën Here
die fees
in asdrom gevind

Amen


 

Miné Fourie

hongernood

my mond water
my kiewe kriewel
elke keer as jy so glimlag
doen my hart ’n wawiel

ek het opgehou eet
opgehou drink
want ek dink jy sal my raaksien
as my tande ’n bietjie meer blink

maar ek raak honger
ek word lus
nie vir tannie Alta se slaptjips nie
maar vir jou blou oë en jou rooi mus

daar is kinders in Afrika
wat vanaand honger moet gaan slaap
en hier kies ek
om die keuse self te maak

hier pleit ek nou
met die stemmetjies in my kop
sien my tog net raak
ek wil tog net pas in daardie rok


 

Chrisna Goosen

Vir genoeg!

17 dae later en ek is amper daar.
Daar waar ek blykbaar die gewoonte verbreek. My gedagtes – afhanklik van elke grieseltjie wat jy na my kant toe gooi! Disrespekvol. Dislojaal. Dreigend.

Sonder jou teenwoordigheid is ek mos niks!? Jou afwesigheid – ’n absolute marteling. Klim in my mond in. Alles van jou! Daar kan ek jou elke dag lustig herkou.

Moet asseblief my nie versaak nie! Ek skreeu kliphard! Jou ore is so toe soos jou hand! Gee my net ’n drukkie! Ek is dors, vir nog! ’n Rukkie saam met jou ...

Outomatiese verstandhouding, in liefde en in vrees. Hoe kan ek dit uitstaan om sonder jou te wees!? My Bybel te lees!?

Here, hou my mond toe en bewaar my hart! Moenie my gedagtes verlaat nie, God! Asseblief! Vervang hierdie honger, hierdie haat, AL die verwyte!

Idioot! Dom! Astrant! Jy weet hierdie spinnekop gaan jou net onder jou linker skouer opvreet! Vat nog ’n happie! "Lief vir jou." Ek weet!

Nog ’n dag, nog ’n geleentheid om myself te spaar. Ek wil nie meer so voel nie! Jy maak my naar! Miskien moet ek met chopsticks jou met ’n knippie sout opvat.


 

Chanté Venter

M&M's

Ek het verdwaal in die strate
Tussen kindwees en nou.
Ek het meer as net rigting verloor ...
Veel meer as wat ek wou.

Ek het myself opgeoffer
Om te probeer oorleef.
In die chaos van die lewe verdrink
Om te probeer na vrede streef.

En die enigste konstante
Was ’n geel pakkie vol geluk,
Verskillende kleure wat my siel vertroos
As die lewe se storms daaraan ruk.

En dit is net jy en daardie geel pakkie
Wat my soos myself laat voel,
Wat my stukkies soos ’n legkaart heg,
Wat verstaan wat ek bedoel.

Kinderlike opgewondenheid vat oor
Soos ek die pakkie oopskeur.
En ek weet dat alles okay gaan wees
En soos dit moet, sal gebeur.

Soms voel ek nog soos ’n vreemdeling,
Soms raak die lewe te veel.
Maar met jou, en NET met jou ...
Sal ek my M&M's deel.


 

Leonora Wurz

laaste maal

blou wapper die plastieksakke
tagtig sente wat lekkernye dra
aan die doringdrade

benerige hande maak die bliktrommel oop
op die bodem nog ’n koppie mieliemeel

blou wapper die plastieksakke
tagtig sente wat lekkernye dra
aan die doringdrade


 

Nadine Strydom

Sielsnood

Daai sagte wind wat waai,
Die donkerte wat jou aangluur.
In die stilte – harte verraai,
So ook word keuses duur.

Siele wat smag na vreugde
Hier word alles eind'lik stil
Waar mens ronddobber in leegte
Die geraas word eensklaps skril.

Hande vat-vat na bakke vol
Van waar liefde en geluk blom
Maar dan begin die bloed stol
Die besef wat dringend kom.

Die siel se kos raak ook op
Die hart raak moeg en swaar
Mens wil nie verder – harte stop
En die siel sukkel alleen daar.

As jy voel jou hart is klaar,
En die kos is alles weg,
volg die pad van jou siel
Red jouself vanuit die sleg.

Moenie bly uit selfverwyt.
Die pad staan hoog en troon,
Maar Prinses, skep jou nuwe tyd
Prinses, maak reg jou kroon.


 

Chanté Krits

Gee hom vriendelike oë
en ’n skaterlag-glimlag
Gee hom sagte hande wat hou van regmaak
dit wat gebreek is,
Want genade alleen weet
my siel het dit nodig.

Klee hom met goedhartigheid en nederigheid, sodat die eenvoud van ’n sonsopkoms
hom kinderlik opgewonde sal maak
– Soos vir my

Mag sy hart so mooi wees
soos ’n Afrika-bloekomboom,
’n goeie bottel rooiwyn,
’n Theuns Jordaan-liriek

Laat ons probleme opgelos word tussen die papierdun blaaie van my sakpas Bybel
Maak hom geduldig, asseblief
Om kwaad vir verstaan te ruil

Maar bowenal, mag hy kosmaak, soos my pa. Want liefde is ’n Sondagmiddagpotjie en ’n warm kaggelvuur.

Gee my tog net ’n man soos my pa


 

Madi Hugo

Sy’s maer
Plankdun soos ’n rietjie in die wind
Wat eers atleties en gespierd was
is verwoes en uitgehonger
om in te pas?
Sy’s dan net maar nog ’n kind ...

Sy’s vet
Haar wange bol en haar hart hol
Sy eet om te vergeet
van al die dinge wat net sy van weet?
Alles verdraai met dit waaraan sy haarself meet ...
Die dinge wat met jou hart kan lol

Sy’s dan te maer en dan te vet
Hierteen hoort ’n wet?
Die skerms wat verlei
Filters wat onmenslik mooi kan vlei
Hoe ding jy daarmee mee
As jy jou hart vir tienerwees gee?

Sy’s dan te maer en dan te vet
Hierteen hoort ’n wet ...
Of dalk net my gebed.


 

Tharina Jonk

Feesmaal

ek het in koningsklatergoud
aangesit aan swaar gelaaide tafels
van fynproewer-dekadente disse
geteug aan die raarste wyn
uitgegiet in dun gesnyde kristalglas
kaviaar en oester
gly glad in my keel af
saam gekwetter met die
pronkerige uitgesoektes
ek eet en eet
drink die droesem
proe die gal
my liggaam uitgehonger
my maag leeg
my siel dor
ek
L
E
E
F
nie


 

Joshua Plaat

Straatkinders

Hier gelos op die lang pad
Ouers is half sat
Geen bad om te was
Geen klerekas
Ons gaan nêrens sonder ’n tas
Vertrou en hou vas

Ek is so honger
Ek lyk al soos Hilda de Kock
Ek is so maer soos ’n stok
Ma was swanger en dwelms verbruik
Nou is ek heeltemal befok
Slaap buite sonder ’n dak oor my kop
Reën so nat
Ek's op my poste soos ’n nagkat
Bang ek word bevoel in my gat!

Aansoek gaan doen by die welsynhuis
"Jammer, niks space"
Weer terug straat toe
Hou maar moed en kyk op vorentoe ...


 

Marike van Wyk

Bederf-euwel

Soos fluweel die room op my tong.
So vroom daai knippie sout.

Die sensoriese genot tot oorlopens toe vol.
Nes daai rok wat ek stuk-stuk aanwúrg.

Die murg.
               Die spek.
                           Die hangende reuke ...

Hoe genees ek my van die knyp-knyp, intrek-geneuk?

Bederf myself met euwel-soet,
                         met vurk genut en lepels skud.

Maandag groet ek jou weer soet en maak net plek vir water-wel.


 

Myrtle Theart

Oorskiet

Een se oorskietbrood
red ’n ander van die dood
As benerige hande in dromme grawe
om die innerlike te lawe
Oorskiet gaan van die hand na die tand
wat die hongeriges se vreugdevure laat brand
Die eeue-oue ritueel word keer op keer voltooi
as versadiges hul oorskiet weggooi


 

Annora Eksteen

Indrukke toe tot dan: daarom

wat het ek as klein dogtertjie geëet
kruipend deur hoenderpoothuise
my bolip dik bebloed geswel
ek het mos net geval

getroud, welaf, gee ek en ek gee: tiramisu
en koekstruif, begrafnisbredies met lamsvleis
by sus en so se wonings eet ons koue vichyssoise
so honger vir Kuns ter wille van ’n rivierstroom, wat vloei
al saam met die reënboog aan   tot sy uitmond in die oseaan

altyd agteroorgebuig om almal

(in die aarde in is ek vermorsel)

die Diep. my psige te staatskliniek
al daai baie      gedehidreer, uitgehonger
kragteloos, sluk ek (dankie) Helen Joseph se
taai hartslag, waar vroue vir my Kaapse vrugte gee
Durban-kerriesampioene: "Never again, you hear! To Bible
support. Go!" knik, dink: daar is (beslis) (gevaarliker?) metodes

in Lyttelton NG is oupa se penis opgedis en ingedra afgeblaas en weggedra

      (iewers het ek ure moes sit met die ou vrou se gekookte boontjies
      na ’n Sondagdiens haar Sondagdiens ek kon dit nie eet ek kon nie)

ek is nou die weggooibrak wat boggerol korsies of hondebeen verwag
ek is nou die kind vol smart wat hurkend ’n halfvrot graad-nul-appel hap
ou tuna en rys uit my dooie kombuis maak my naar op straat, my broek
bruin gevloei, my voete brand         alles verkoop vir die Pêrel se Perle
gebraaide hoender gebraaide aartappelskywe     ek dra desperaat my
depressie in die oë van die droë pap oggend my bene swart ysterhout,
ek val      my olie-stokvis-maag op die gruis, in ’n wyn-opbring-gaswolk
hoor ek my kinders van ver    Mamma!    ignoreer ...    weer      Annora!

hulle lig my, lig my, lig my op
ek vind weer werk, gesond
met slaai, op, op, op en op

net om: welkom-welkom, rol die buswiele op pad na Strontstraat, daar,
onder die rooi son tel ek koek op deur ’n grade one gedrop    ek eet dit 
en probeer nie meer wegkyk van hoender bosdwergvrouxe-handjies
’n vark se kop

maar saans voer ek wortels vir hasies wat in groen gras
hop, bo my, op my plafon net soos my pa voor hy stil
(weer kind terug by sy ouma Lena se perskiewyn
digby Skuilhoek naby Volksrust, op Driefontein)

ek steel bevrore wors uit daai man se huis my werk vir ’n biljoen jaar
in Antarktika begrawe bevries beblok pasop!
moenie die boere bouleversé

deur besete hingste op die verreg gek behoorlik aan die bek
geruk jaag ons, die hoewe spat! ek val nie af, kom wind!
waai woes! ons vlieg, gee suiker vir die gereddes
gee reuse rooi appels vir al daardie besondere

ek is nou Heming wat sy pad oop stap, huîtres portugaises gly in my keel
ek kan nou sinne-vol sit onder die suidson met die geel room
van ’n lesbiese land, ek is wat ek mis:
’n vol hond wat vrolik op die strande draf

ek het ’n weskuskampvuur sien gloei, ’n ketel wat kook in opwaairook
gerooster in suurlemoensee, druppend op die sand
’n vet galjoen

sterk speel sy kitaar en ek sing van korrels hexdruiwe in haar glimlag mond
so ryp so rond so soet so gesond en ons soen as die skepe beweeg
gelaai met Jasus lalandii en sardyne, ook, dankie tog vir die
Bolandse adellike wyne ...     sonsing die duine

uit die son het ryp perskes gekom
uit die son het ryp stemme gekom

sonrose, sonheuning
sonneblomme sing

ons is wat ons is
en daaroor
skryf ons

poësie


 

Kathy Boshoff

’n Leë kosblik

Die skoolklok lui, lui, lui ...
My hart klop vinniger en kruip
weg agter my skoolhemp se sak.
Ek mik vir die groot akkerboom,
daar waar dit veilig is, weg van starende oë.
’n Kosblik met twee snye ou droë brood,
red my van die honger.
My  siel is vasgevang  tussen die leë ruimtes van die broodkrummels.
Ek kyk om my rond en vrees kom hang aan my skoolrok se soom.
Niemand mag weet!
My woorde kruip stadig op teen my keel,
word dik in my mond en soek ’n
oor om op te land.
My hart het sy stem verloor en sy tong
binnewaarts gekeer, ’n hongersnood van woorde.
Die klok lui.
Hoe lank nog die voorgee,
My kosblik is leeg
En die hongerpyne trap spore in my voorgee


 

Ester Scholtz

Te veel of te min

Dis Januarie en tyd vir dieet en minder eet en vreet
Sommiges staan tou vir kospakkies en ander staan tou vir gimpakkies
Dis die lewe, dis die lot
Ons is verslae of verspot
Daar is nie ’n happy medium nie behalwe as jy ’n unhappy large was
Ag wat praat ek, die lewe maak niks sin nie
Of jy baie het of min nie


 

Lezanne Sonntag

Blikkies

Druk my in ’n blik
Van waar af kom jy?
Op die rak sit jy lankal
lankal verby.

Nooit ooit verval jy voor
jou druktyd verby
Geslote agter deure
Donker blik jy vir my.

Opmaker begewe
snye diep in my hand!
Blink bliksemse skewe
werk gedoen aan my kant

Ek koop jou vir eendag
as ek kom tot die rand
Wat uithardloop maandeinde
Reik ek blink blikkies se kant


 

Lezelle Burger

Liefde "kos" mos niks ...

Kos is so belangrik
Kos is tog so duur ...
Beskikbaar en bekostigbaar
Voorwaar nie!

Toe staan hulle
Pragtig, regop, elegant ...
Rye en rye kosmosblomme
En hulle skreeu met helder
Pienk blomme
Liefde kos mos niks!

En sowaar, tref dit my
net daar ... dat liefde
gratis is, vir dié wat wil
gee en dié wat wil ontvang.
Liefde vul ’n holte in die hart
’n seer, ’n verlang
maak heel en vervang.

En almal kan dit bekostig
gee, neem en ontvang.
dit vul die gees, dit maak
vry, dit troos, dit lag,
dit omhels en dra
dis ’n kos wat voed sonder
om iets in te boet, dit maak
vol ... ongesiens, ongevraag
sonder om te weet
hoeveel van jou liefde vul.

’n Godgegewe gawe
’n bord dalk leeg
maar ’n hart wel vol ...
dis in ons gelê
om uit te deel
aan elkeen op straat.
Dalk ’n glimlag,
dalk ’n druk, dalk ’n afbuk
en oppluk, ’n help by die trap
’n stap oor die straat
’n groet "môre my maat"!

Solank ons sal onthou ...
Liefde kos mos niks!


 

Aangebied in samewerking met die

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top