Hier is die 14de groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.
Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.
Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.
..........
Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.
Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:
Santjie Aucamp | Zanel Steffen | Annamarie Fourie | Allison Matroos |
Enricus Pieter van der Walt | Anna-Marie Oosthuizen | Rina Cascione | Cornelia de Vaal |
Benjamin Bock | Larisa Louw | Saskia Breedt | Yvette Vermeulen |
Carmen Hamman | Elizabeth Greef | Ebigale Wilson | Karla Blom |
Zach du Preez | Jaquelene van Wyk | Zelda Barnard | Carike Odendaal |
Hilde Kruger | Tanya Wesson | Velma Barnard | Lettie Murray |
Lizerie Eloff | Schalk van Wyk | Leonard Mckay | Tracy Frauendorf |
Ingrid Andrews | André Duif | Lize van der Westhuizen | Melanie Burgers |
Annelie Hinze | Nadi Myers | Bianca van Wyk | Danielle Visser |
Christine Human | Bianca Hiestermann | Andries de Man | Elisma van Zyl |
Santjie Aucamp
Smekende oë
Wie is so wreed,
watter hart is
só vol venyn?
Sag is die geluide
wat hulpeloos uitroep
na ’n omgee-hart
vrees en uitputting
van hongerte
lê vlak in sy oë
instink skop vinnig in
’n waaiende stert
verraai sy vertroue
oorweldigend die gesig
van dankbaarheid
vir lafenis en ’n stukkie brood
die eens verdoemende lyf
van ’n weggooidier
sal altyd teruggee
nooit onreg aandoen
net die redder van sy nood
onvoorwaardelik liefhê.
Zanel Steffen
’n Bitter verhouding
Jy wat soet is
en sout is,
smaaklik en smaakloos,
suur soms – of bitter.
Ons verhouding is bitter.
Soms suur of smaakloos.
Smaaklike soet-sout
en ’n skuldgevoel wat volg.
Sonder jou voel skoonheid
nie so ver buite bereik nie.
Hulle bring jou daagliks op
en ek bring jou op
na
die
tyd.
Verslaaf aan die gevoel
wat versadig nie bring nie.
Jy wat soet is
en sout is,
smaaklik en smaakloos,
suur soms – dalk bitter.
Ons verhouding
bly bitter.
Annamarie Fourie
Nagmaal
Teen halfdrie
stroom die mammas in,
kinders in skooldrag sleepvoet agterna,
om "net gou
’n paar goedjies te kry".
Kaas,
spek,
’n stop-in-die-oond-gereg vir vanaand.
Mmmm, o ja,
vrugtesap vir die kosblikke,
biltong.
"Is julle lus vir roomys?"
En ... ’n bottel wyn vir later alléén asemskep.
Die vrou agter die kasregister
sluk honger
aan die onwillekeurige nattigheid
tussen tong en tande en
verlang na die sagte pap en (miskien) kool
wat Gogo vir haar sal bêre.
Die bord sal onder ’n wit doek op die melkkrat wag.
Op die bed in die halfdonker lig van die maan
sal ’n slaperige kind warm teen haar aanskuif.
Sy sal met vingerpunte die wit balletjies
eerbiedig op haar tong plaas
en genoegsaam sug:
"Siyabonga."
Allison Matroos
ek’s oek net mens
''Bedelry is vir baie mense ’n laaste toevlugsoord – dit word gewoonlik beskou as ’n meer aanvaarbare opsie om in hul basiese behoeftes te voorsien as om kriminele aktiwiteite soos winkeldiefstal, huisbraak, dwelmhandel en prostitusie te gebruik.'' – Stones, 2013
gisteroggend toe ek vir iemand vir ’n penny vra
toe sak die vrou vir my af sy’tie changie
ma sy kan vi my bid
terwyl sy vi my bid het ek gewonne of die gebed my maag vol ga maak
ek het lankal ophou bid
daar’s nie ees ’n dak oor my kop waartien my gebede vasslaan nie
ma dit gaan beslis nie hemel toe nie
ek’s net ’n mens
met die straat as my huis
en die givers as my family
na sy klaa gebid het, het die vrou my na ’n song van Neville D laat lyste
die song se naam is "die Here weet wat hy doen"
ek wens ek kon so seker soos Neville D wees
hy sing met confidence dat die Here wiet wat Hy doen
hy sing ook dat ek nie moet opgie nie
ek wens ek het gewiet wattie Here doen
maybe het ek dan krag gehad om aan te gaan
ek wiet nie hoe lank ek nou al vi my bekomme oor môre nie
maybe as ek ’n mossie was
het God vir my ook gesorg
toe die song klaa gespeel het, het die vrou gesê sy gaan late trugko
ek het ha nie gegloe nie
late het die wolke saamgepak
ek was al lekke uit die mag uit
die vrou het truggekom met ’n warme vis en chips parcel
en ’n dik duvet
giste aand het ek soes ’n klip geslaap
en met ’n dankbare hat wakke geskrik
want al bly ek opi straat
het ek wee besef
da is goeie mense
wattie sal hesitate om ietsie kleins te gie nie
sonne om te wiet dat dit ’n moerse verskil maak nie
Enricus Pieter van der Walt
’n Ode aan dié wat nie het nie ...
die armes is om ons ...
en elke robot het sy eie
karton-skryfpleitstukke
almal se voue uitgewerk
die honger vermaerde oë
soek ’n laatnag aalmoes
uit ’n weldoener se hand
sodat hulle onder die brug
vanaand shabbat kan hou
die keurige verdeling
van elke offergawe
word brokkie-vir-brokkie
opgebreek – uitgedeel en
is ’n stukkie hemel – ’n
porsie seën van Bo ...
al glo hy nie, want
iemand by ’n robotkruising
het hom soos ’n hond gevloek
maar môre staan hy (soos
gister) by die pilaargang van sy bestemde bidaltaar
en kyk (soos gister) in leë oë vas wat hom as ’n ergernis verdoem,
want iewers tydens ’n kerkuitreik,
het hy glasoë van compassion gesien
hongerpyne eggo onvergenoegd
toe die son rooi in sy oë sak
Anna-Marie Oosthuizen
Geflopte koek
Straat-op, straat-af
stoot hy sy trollie
gevul met bottels en blikkies.
Hy is moeg en gedaan
maar honger spoor hom aan.
Hy moet deur al die sakke grou
voor die aslorrie stilhou.
Sy gesig verhelder
in die sak kry hy ’n roomysbak,
dit is gevul met koek, varsgebakte koek
hy hou op met soek.
Netjies bind hy die sak weer toe.
Sy enigste gedagte terwyl hy aan die koek smul,
die Here het my honger gestil.
Rina Cascione
Kersaandnagereg
In ’n taxi se wag
laai sy die besems
en haar sak. Vee
oor die gesig.
Sy het ’n stukkie vleis,
die halwe kop kool
en ’n koekie seep.
Ook iets soet
vir haar kind gevat,
maar by die till
moes sy kies.
Die geld
in haar hand te min.
Maar salig die armes,
want bene dun,
oë môrelig-vol
en ’n rokkie
wat skoenlapper-wapper,
hardloop haar tegemoet:
Ma, die antie langsaan sê
as ma my vat,
kan ons by die kerk
se groot
Krismisboom
’n verniet lekker kry.
Cornelia de Vaal
Sonder vertoon
wil ek beloon ...
oorlaai,
meer inskep,
weer inskep,
omarm,
verwarm,
bederf, verwen ...
want dít is my taal;
My liefdestaal.
Benjamin Bock
Ter wille van my
In die stilte van die oggend
Lê ek wakker en tuur
Kelvinator is al half gekraak
Country Fresh drup langs die kas af
Boetie gemis
Ola-spore trappe op, pa s’n
Ek wis wat hulle wis
Diabeet, ai seg hy
seldery agter die broodblik
bruinbrood in ’n sakkie, opgerol,
verbloem
Terug na my bed
wakker
verder tuur.
Larisa Louw
Hongersnood
Ek moet jou uitvee.
Uit my elke-dag-bestaan.
Soos die laaste krummels van ’n feesmaal ...
Maar in my hart, in my are steek ek foto’s van ons weg.
’n Album uit my rou menswees.
En al skeur elke bladsy ’n stuk van my uit, blaai ek jou weer en weer ...
Want as die seer al is wat bly staan, dan bloei en breek ek elke dag vir jou.
Saskia Breedt
Die honger vraat
Onbevoeg en onbekwaam
vat my sonde, vat my skaam
vuil in my vloed
was my met bloed
my lig is donker, my pad is klaar
ek soek ’n Pa wat my sal dra
ek is propvol
ek is dolleeg
maak my vry van god my kos
maak my vry en maak my los
hemel hou my stukkie brood
gee my lewe, gee my dood
Yvette Vermeulen
Al my paaie loop deur jou hart
Man ...
Hulle sê die pad na jou hart
loop deur jou maag.
Nou hoe nóú gemaak?
Want van al die kamers
in die huis,
voel ek myself die minste tuis
in ons sonnige kombuis.
Tog toor ek met my woorde,
soet, suur en sout in elke dis;
goël ek voor die potte met my lyf
en jy smul en verorber al die letters wat ek vir jou skryf ...
die "ooo" en die "aaa" en moenie vergeet om "mmm" te sê
Gaan ek ooit regtig weet
hoe diep jou aptyt vir my hande lê?
Tussen die oorverskroeide crème brûlée,
sal jy klein stukkies van my soet verlange kry;
sit, my lief, val weg en eet, éét ...
met genoeg speserye,
net die regte hoeveelheid kruie,
en hipnose in my oë,
leer ek jou van jou seer vergeet.
Carmen Hamman
Snoer my mond
Snoer my mond
Vir daai wond
Diep in my siel gegrond
Kos is die lont
Van ’n bom wat brand
In my keel, hart, maagwand
waarvan net ek bewus is
Maar tog, ek bly so lus.
Ek’t ’n gesprek gehad
met ek, myself en haar
Oor wat beteken swaar
Die kilo's, masker, of self-haat?
Wat die ergste is,
weet ek steeds nie ...
Maar wat ek wel weet: daardie lus
Albei maer lyk en honger bly, wil nie verdwyn nie
534. Elizabeth Greef
Verbode vrug
My bittersoete Nastergal
hoe hard het jou hartjieblare en reinwit blomme
nie ’n blou-bloed-bul laat val
nie, eenmaal, toe jou sensuele groenbessie-jeug
sy knapsekêrel-saad begeer
het, of was jy inderdaad deur die gulsige verorbering
van jou verbode vrug (sy perverse drif), onteer
alvoor jy nog weg kon vlug?
Ag, het sy hartstog maar eerder gewag, my Nagskadu*,
gewag totdat jou giftige puberteit pikswart verkleur
dan kon jou volrype soetheid
hom dalk as minnaar keur
maar nou, in die terugdraai van tyd
was jou geluk dan net ’n illusie
daar in die kalklig waar jy so blinkoog langs hom staan
hoe het die pit oor jare heen versweer
tot ’n sinies verontregte waan
wat ’n middeljarige siel besweer?
En snags, vanwaar misbruikte kind, die mag
hom te stroop van sy monargiese praal
en is daar slegs heling te vind in die wete en krag
dat die son eerlank
oor sy trofeë-geraamtes gaan daal?
* Nagskadu: Ons inheemse nastergal, ook genoem "nagskadu" (Solanum nigrum), se blare en bessies is baie giftig as dit nog groen is.
Ebigale Wilson
Vreugdevolle feeste
’n "Honger" waaroor ons selde praat
In ’n leeftyd soms nooit besoek
Wat soos onsigbare drade deur
generasies vleg
Grootgemaak om pyn weg te steek
Te verdoof met verslawings ... soos kos
Pyn sigbaar op gesigte
Te sien in hartseer oë
Te bespeur in pynlike woorde op lippe
Kinderdae-trauma
Egskeiding
Uitdagings van verliese en verlore
Die pyn van dood
Noem dit maar op
Diep word dit weggesteek ...
Die tekens tog sigbaar
Kos kan pyn nie laat verdwyn ...
Genesing begin wanneer ons praat
Ander permissie gee om saam
met ons te loop
Seer te besoek
Genesing te omhels
Kosbare lesse te leer
Kostafels sal dan plekke word waar
ons kosbare herinneringe skep
Van vreugdevolle tye
Van wysheid deel
Groei en gesond word
Generasies sal dan die nalatenskap
van genesing aanstuur
Die wêreld positief beïnvloed
Gesonde harte en brood met ander deel ...
Karla Blom
Een mens se swaarkry
’n Wêreld VOL mense,
met leë magies in die donker nag
’n R5 in die sak om die maand te oorleef.
’n Mond vol vrot tande
Kyk deur die venster
Sien jy die familie van drie?
besig is die mamma met ’n pot en pan in haar hande, kombuis gevul met genot ...
Mense wat reeds alles het, honger vir nog
Draai jou kop weg vir my leë hande,
Daar sal beslis kos in die buurt se asblikke wees.
Dankie vir elke dag se wakker word, Liewe Here, seën ons vandag met ons daaglikse brood ...
Zach du Preez
Die sewende sonde
Die hamburger en skyfies kom uiteindelik aan.
Ek weet ek moes eintlik vir die tunaslaai gaan.
My jonkwees en slegte kinderjare gaan by my verby –
ek moes heeltyd teen my emosies stry.
"’n Eetdingetjie troos altyd" het my ma gesê:
die probleem is – ek wou altyd meer hê.
Toegewikkel in ’n vet wolkombers –
ek moet heeltyd op my tande kners.
Jonk, dronk en ongesond
almal spot jou rond en bont.
Jy hyg na asem, jy ruik na sweet –
kom ek by die huis wil ek net meer eet.
’n Swak hart en ’n gehyg na asem
om jou op so jong ouderdom toe te wasem.
Dit is nou die sewende sonde:
ek bly altyd aan kos verbonde.
Jaquelene van Wyk
Affêre met my yskas
As middernag val,
Trippel voetjies sag-sag.
Heeldag uitgesien na die fees,
Want die inhoud van jou laat my smag.
Jou stadig oopmaak, "Hello lig"
Terwyl almal snoesig slaap.
Sjokoladekoek, toebroodjie of waterlemoen?
Ek het die vryheid van keuse.
Soos die kos se smaak my lippe soen,
Word "lekker" ’n leuse.
Maag grom en kwel begin gaar,
Om te dink aan al ons tye saam.
Wat van ’n melkskommel of roomys?
Ja, dit het jy ook.
Met jou lig sal jy my alles wys,
Veral met die gevoelens wat in my stook.
Deurtjie toe en liggie af,
Met ’n fees vir een in my arms.
Bietjie rys, pampoen en hoender,
Stap ek stadig-stadig terug bed toe.
Na ons tyd van wonder,
Eet en slaap, môre is nog ’n dag.
Nog ’n dag wat ek moet wag en wag,
Weer tot middernag.
Zelda Barnard
Siele
Smagtend en honger dors ons siele na U o God.
’n Alleenstryd teen die wêreldse mag.
’n Wêreld verwyderd van God’s almag.
Verblind deur goud en silwer
weggevoer in eie selfsug.
Vetgevoer van sonde kry siele geen rus.
’n Gejaag na wins kom tot niks.
Daar word gesteel en gebreek,
alles na die wind.
Tussen mensekinders geroesemoes,
tog stoksielalleen en verlore.
Waarheen nou? Alles so donker en swaar.
Drukkend word ons versmoor.
Redding, redding vir ’n verlore wêreld
roep ons siele smagtend na verlossing.
Biddend en knielend kom ons voor U o Heer.
Jesus stem in die donker,
verlig die duisternis,
Kom na My, almal wat honger en dors het.
Kom eet van my. Ewige Brood en Wyn.
My liggaam en bloed wat
redding bring daar aan die kruis.
Ek is die Brood en Wyn, kom eet van My.
My liefde vir jou verseker ’n ewige lewe
saam met My.
Carike Odendaal
Manna
"Ek sal elke keer vir julle kos uit die Hemel laat reën."
Maar ... soos reëndruppels na ’n sewejaar-droogte, val die teëspoed op my neer.
Hard, deurdringend, uitmergelend en aanhoudend.
Ek probeer onthou, wanneer het ek ’n spieël gebreek?
Waar is my manna, Liewe Heer? Het U vergeet van my hier in die woestyn?
Ek is so honger, uitgeteer vir deurbraak.
Ek smag om die honger te stil, honger na U wysheid, U leiding, U aanraking.
Waar is my manna, Liewe Heer?
Ek voed my siel met U woord. Na elke terugslag staan ek op,
skud my af soos ’n natgereënde dier in die wildernis.
Maar waar is my manna, Liewe Heer?
Elke tree vorentoe word moeiliker, ek is moedeloos maar nog nie hopeloos!
Al beweeg ek soos ’n trapsoetjies, vorentoe is nie agtertoe.
Ek soek my manna, Liewe Heer, my daaglikse brood.
Waar is my manna, Liewe Heer?
Moenie van my vergeet ...
Hilde Kruger
’n Versetresep
Tans sit ons vasgebrand teen ons eie wil.
Dis dae soos dié waar ons van die honger wil gil.
Vryheid word fyngekap en jou geduld word geroer.
Moedeloos wonder jy wat ons vir môre se kinders gaan voer.
Hoop word verpoeier en plase word droog.
Jy sukkel om te glo, want selfs die Hemel lyk hoog.
Nóg ’n pond vleis en jou skuld word gewater.
Spaarsamig bêre jy jou trane vir later.
Eensaamheid word gerasper en selfsug word geskil.
Vraatsugtig kyk jy toe hoe mense se menings verskil.
Woede borrel oor en die haat dik aan.
Dis hier waar jy wonder of jy voor jou eie pot moet staan.
Veglustig wag jy dit uit met ’n gewete wat kraak.
Hartseer weet jy dat selfs sout jou sal los met ’n vreemde smaak.
Die tyd haal in.
Skaam wonder jy wat jy vir die tafel gaan bring.
Leuens word gebotter en die tafel is gedek.
Stil luister jy na elke koue gesprek.
Jy slurp aan die woorde, maar die toekoms lyk vrot.
Honger sit jy steeds in ’n land diep in die sop.
Tanya Wesson
Spyt se spyskaart
Spyt eet uit borde
gemaak van porseleindrome.
Net dié met tande kan daardeur byt;
deur die spyskaart van spyt.
Gereg vir gereg dis spyt dit op
’n wit tafeldoek van nie-my-skuld.
Op die vurk ’n happie verlede,
wat herkou word in die hede.
Altyd te laat; die kos is koud.
Soete wraak stol in die mond.
Skindervleis nog taai en rou
bedruip met ’n sous van ek-sou.
Nagereg is bitter en nie soet.
Tuisgemaakte oordeel die rooi kersie.
Laaste happie en alles is nou in,
maar spyt het spytkaart weer voor begin.
Velma Barnard
Taalmaaltyd
die taalruim in my brein
bot in konsonante konstellasies
wat hyg met honger hunkering
na a, e, i, o, u en y
om leemtes sinvol te voltooi
hoopvol om kennis oor te dra
aan elke gretige oog
wat aan die alfabet soog
en stil geslote melankolies staan
voor belangeloses se blik
ses en twintig letterstene ter voeding
wat wag om te rol oor tong
oopbek in ons taalkoffer
nuwe saad te stort
want groei vloei uit wat ons nuttig
en word aan balans gemeet
aanvaar dan my uitnodiging
– om my woorde te eet
Lettie Murray
die uurglas
jou eerste tree
op pad na ’n óéroue wêreld
– waarin asië selfs vandag al troeteldiere kloon
wieg jy eers
’n slaap
aan moedernaelstring
jy wegbreek
in ’n sytak waar seisoene jou uitstoot
met ringjare bekroon
moontlik
tot ’n stérk tsitsikamma-boom
voeding die doenwoord
liefde die norm
maar só dikwels noustrop
hetsy
taalstryd tót sosiale dors
teen ontberings
en dus die innerlike verdor
die baslaag versmoor ...
Lizerie Eloff
Voed en voed op
Onthou die armes,
verwelkom die vreemdeling,
dien die minderbevoorregtes
en voed die hongeres ...
Dié wat kos het dieet
die res het nie kos om te eet.
Moenie vergeet, van liefde en leed.
Werp jou brood op die water,
die brood gaan muf as jy dit hou vir later.
Sien om na mekaar,
dis ons goedheid wat ons moet bewaar ...
"Wat eet ons vanaand?" roep ’n stem soos ons middagete-tafel afdek,
lek eers die krummels om jou bek,
voor jy vra vir nog,
vir meer.
Wanneer gaan die mensdom leer ...
"Eet ons vanaand?" verander die woorde en die mond
en die gemoed ...
Spreuke sê die vrate word beboet:
"Moet jou nie ophou met vrate nie, die vraat word arm ..."
Ek hoop die waarskuwing druis soos ’n alarm
en hou jou wakker wanneer jy volpens oë toemaak
en jou vol pens groter raak.
Vraatsugtigheid: ’n sonde wat Christene ignoreer,
maar rook en drink word vinnig as sonde geëtiketteer.
Spreuke 23:2 vermaan "bedwing jou as jy ’n groot eetlus het, daar is ander wat daardie stukkie brood broodnodig het."
Onthou die armes,
verwelkom die vreemdeling,
dien die minderbevoorregtes
en voed die hongeres ...
Voed en opgevoed.
Schalk van Wyk
Lallie se geskenk
vroeg opstaan en gelapte skoene aantrek,
soek ek deur die rakke:
dis inkopiedag
alles uitstal vir die wêreld om te sien
pakkies toegedraai in swart en wit –
skarrel ek deur die afgeskryfde items
voor die bestuurder my wegjaag:
vinnig stap ek tot by die volgende uitstalling
op soek na items op my verlore inkopielys
en om die draai hoor ek die gerammel
van manne wat kolleksies kom neem
as hulle eers kom is die winskopies verby
maar vir nou is daar darem iets om te verkoop
voor ek haar honger kan stil
hande saamgevou bid ek tot my God
seën dit wat ons het om te eet vandag
want môre sal vir homself sorg
pappa mag ek nog ’n snytjie kry
vra die fyn stem van die geraamte voor my
eet, my kind, eet
met my vuil hande nog saamgevou
(môre is dit my beurt)
vandag is jou verjaardag
eet, my kind, eet
Leonard Mckay
Sondagbord
Elke huis het sy kruis
Is die woorde wat kom uit die ouetehuis
Die week kan asvaal deurgaan
Solank die naweekbord kleurvol staan
Maandag- tot Vrydagmiddag is dit brood
Wat duidelik uitwys hoe groot is die nood
Soms word ’n ete gemis
en ’n glas water bedek dit gerus
Môre gaan die son weer skyn
En so die hongerkrampe laat verdwyn
Want talle kosgeure laat kinders gou vergeet
Van gisteraand se honger leed
Die naweekplan word gou beraam
Dan kom almal Sondag om die tafel saam
Die pampoen, wortels en beet
Maak kinders gou van die swaar week vergeet
Want die Sondagbord gee vaal gesiggies kleur
En laat hul die sous en aartappels waardeer
Geliefd is pa en ma
Want dis al wat kinders Sondag vra
’n Voorbereide vol bord
Al is dit ook net vleis en gort
Tracy Frauendorf
Donker krakende kake
Stilweg het jy hier aan my kom smul:
Die ware ek, oor tyd in vet omhul.
Omhul maar nie omhels;
Vet is nie ’n knus pels.
Depressie knaag aan my,
maar ek hap terug.
Weg het ek verdwyn agter ’n morbiede obesiteit-gordyn.
Hartseer en diep honger
gate wat ek met kos wou vul.
Soet, ryk, romerig en opgetower.
Al groter die porsies wat my van my gesondheid berowe.
Ek word wakker uit my depressiewe waas
Die spieëlbeeld wat na my terugkyk laat my verbaas.
Geskok:
Ek skree en vra: Hoekom!?
Met gekneusde ego en brose selfbeeld wend ek my na die yskas weer.
Stil met vol kieste.
Later die spyt en verwyt
Hoekom kon ek myself nie keer?
Depressie en seer wat aan my binneste knaag, my reaksie is om terug te hap.
Laat die skaal kreun, onttrek van sosiale lewe en gaan nêrens heen.
My klere raak knap, maar kos vra nie vrae nie.
Kos omhul my.
Depressie knaag aan my maar ek hap terug.
Ek smul eensaam voort
Kos en ek, ek en kos
soos dit hoort ...
Depressie het geknaag aan my;
met hongerige kake het ek met tande my eie graf gegrawe ...
Ingrid Andrews
Onder in die vrugtemandjie
Die lewe is ’n oopgebreekte granaat
Kontrasterend in sy simboliek
Die diepste rooi-pers
wat drup in afwagting ... om geleef te word.
Maar mense stik aan besoedelde lug en vloek oor die stadige verkeer
Hulle wens hul dae om in
hoogbetaalde poste
En drink te veel
En droom te min.
Aphrodite het seker nooit ’n kans gestaan nie, want hulle eet uit goue borde
In stilte
En onder in die vrugtemandjie vrot die granaat.
André Duif
Blouoogkind
Blouoogkind van vergange dae
het klein opgekyk na haar.
altyd singend bly aan die roer
koffiepot stomend aan die prut
klits-lek by Oma Mien
die lekkerste lek
Slagroom soet en lig
vir ewig in my ingeprent
gedagtes en onthou van
vergange dae
verlange so eg
na die nostalgie van vanielje,
mokka en beslag
Wat ek sal gee,
om nog een keer weer
daardie kombuis te betree,
die blouoogkind van vergange dae,
het ek tóé maar geweet
het ek nooit vergeet
Oma Mien,
jou blouoogkind
Sondagkos, koek, en mooi onthou
kom van jou
nog mokka, koffie, en beslag,
soggens rondom tien.
Lize van der Westhuizen
Dis op die tafel
Met die aankoms van die gereg
het die dis vir my gelyk soos ’n groot geveg.
Om te proe, te geniet en uiteindelik klaar te kry
was vir my dié groot stry.
Alhoewel,
My eerste happie-ontmoeting was gevul met skok
alles te danke aan die briljante kok!
Die aromageur was reeds daar,
Maar dit het tyd laat staan om na die oorvol interessante dis te staar.
Na tyd ...
Het ek wel besef dat die "manjifieke" bord
net normale kos is, op ’n bord, gesort.
Met verdere inspeksie was daar meer aan my openbaar
en die sluk van die smaak op my tong werklik swaar.
Soos die vars, kraak en soet-sout gehalte van elke porsie.
Selfs ’n droë broodkorsie.
Het ek werklik majestueuse verdien?
Ek is eintlik net gewoond aan goedkoop kos, jy sien.
Opwinding het my oorweldig en weggeneem vir die oomblik.
Is alles reg? Ek het kop geknik.
Die laaste van die min
Was die voltooiing van my sin.
Die dis op die tafel, vol kos het my gemaak-gebreek.
Ek sal die ervaring ook nooit versteek,
Jy was my dis en soos kos het alle lekker dinge ’n einde.
Melanie Burgers
Dek
Daar was geen wit gestyfde tafeldoek
Nóg silwer kandelaar met romantiese rooi kers
Geen blinkgevryfde eetgerei
Nóg porseleinbord
Geen wit opgevoude lapservet
Vir jou blinkvet mond
Maar tog
Het jy kom eet
Jou honger van benede jou maag kom stil
En mý honger agtergelaat
Op hierdie ongedekte tafel
Annelie Hinze
Opgeëet en uitgespoeg
Hoe eet mens ’n olifant?
Stukkie vir stukkie
En soos die reus-tant
Is ’n ma ook verstukkie
Leef voluit! word geskreeu
Maar ek is uitgetap op energie
Gee jou alles! word geskreeu
Maar wat as daar niks oor is nie?
Hoe durf jy so praat!
Wees dankbaar!
Daar is so baie wat nie kan baar.
Jou kind is werd meer as karaat.
Ou wêreld, ek is nie blind.
My wese draai om hierdie kind.
Maar sy wese het my op verslind.
Nadi Myers
Kospryse
Kospryse styg
Die middelklas begin swyg
Waar kom die kos vandaan
Terwyl kindertjies van honger
vergaan
Sent vir sent word getel
Keer of twee omgekeer
selfs weer
Die rykes begin ook swoeg
en sweet
Sente omdraai
Luukshede uitsny
Restaurante vermy
Wat word van die mens
Kinders gaan slaap
Gaap-gaap
Met ’n wens
’n vol pens
Bianca van Wyk
Honger vir liefde en aandag
Honger is groot vir liefde en praat
Baie is honger vir omgee en geluk
Soms werk die lewe so onregverdig
Mens se geluk en omgee word net so geruk van jou af maar ál wat jy kort is geluk en vreugde en jou honger is weg
Danielle Visser
Lang pad na die Transvaal
Opstaan! Opstaan!
Dis vyfuur.
Ek spring uit my bed.
Aangetrek.
Ek is reg.
Dertien uur uit ’n venster tuur.
Vakansie! Vakansie!
Ons ry. Weg.
Skaars is ons op die N1.
"Mamma?"
"Kan ons stop vir padkos?"
Christine Human
Smagting
’n Pyn in hul hart
’n breek in kindertjies se siel
Vanaand geen brood vir
die arme geeste
in vorm van kinders
Tjanke word in die donker nagte gehoor
skreeuende mae vul die stilte van die dag
Geld is verlore op pad huis toe
drank smaak beter as kos
na ’n harde dag
Kinders maak staat op die skool
maar die skool vernietig die laaste
van hul siel
Smagting na aanvaarding
en ’n gevulde maag
lei tot verkeerde
besluite net vir
’n stukkie
brood.
Bianca Hiestermann
Die belofte
Dit voel asof die kamer kleiner word
en die mure al hoe groter,
Groter en groter
tot dit al is wat ek sien
Ek wag
Die bont muurpapier spot my
asof dit vra hoe ek na al hierdie tyd
nog nie gewoond is nie
Ek's ’n mier in die oseaan van smart
klein en onbeduidend
met gedagtes wat dryf en skitter op die oppervlakte
Ek probeer terugbaklei maar tevergeefs
Ek sien jou gesig
Jou glimlag
Die sprankel in jou oë as jy terg
Jou uitgestrekte hande
en die ring
– die belofte van vir ewig en vir altyd
Die woede bou en ontvlam en ek word weggedra
deur golwe gemaak van trane
Uiteindelik onderbreek die honger
en my maag kramp
Ek druk my oë toe en fokus
op elke senuwee wat brand
My mond water en skree
Alles in my ’n woelende geveg
Ek bedaar, my gesig kalm
Die prentjie van diep konsentrasie
Jy dink seker ek's mal
maar die ding is
Ek voel eerder die pyn in my maag
as die pyn
in my
hart
Andries de Man
Honger
Terwyl ek smeer aan ’n roosterbroodjie,
Verbruin in ’n klein oondjie,
Dink ek aan mense sonder kos,
Wat huil oor geen pap in ’n pot.
Magies wat boepens swel, en
Geen voedsel wat die hongerte verdelg.
Ek vat ’n hap en dink,
My bevoorregtheid begin insink.
Ek smeer toe nog ’n snytjie,
Gedagtes zoem soos klomp bytjies.
Gee ’n sukkelaar ’n bord kos,
Dan maak God jou bord vol.
Ek kyk na die piekanien wat bedel hier buite,
Sy verslete trui lyk soos gebreekte ruite.
Terwyl piekanien eet aan ’n paar snye toast
Weet ek God het hiervan gehou ...
Elisma van Zyl
Manna
Voor die goue hek
lê haar Manna uitgestrek;
kreukelvingers volg driftig
die kurwes van sy lyf
haar hande ken ’n vonds
van jare se kosgebrek
sy drink gretig
uit sy bitter fontein
word versadig
deur sy vermufte spyse
sy kniel voor die hek
sê dankie vir manna
uit die swartsak
geskenk
Agter die goue hek
word hande gevat
"seën Heer die kos
en wees met hulle
wat honger is"
Aangebied in samewerking met die
Kommentaar
Manna deur Elizma van Zyl