
Foto: Unsplash
Hier is die 13de groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.
Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.
Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.
..........
Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.
Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:
| Anton Döckel | Elize Perrin | Madeleine Wilhelm | Krige Visser |
| Elmarie Viljoen-Massyn | Annet Crause | Elsa Barends | Talize Swart |
| Ina du Plessis | Yvonne Botha | Charlotte Pretorius | Marelee Ferreira |
| Angelika Sisson | Marietjie du Toit | Lize van Wyk | Helena Joubert |
| Julene Stanz | Callie Kühn | Lize Breed | Marchel Bantjes |
| Angelique Esterhuizen | Coen Vollgraaff | Kobus Frantz | Amanda Robinson |
| Malisa Ferreira | Tereza Haylings | Magda Engelbrecht | Theané Pieterse |
| Rochelle Oosthuizen | Becca Nel | Nadia de Sousa | Carol Symington |
| Magreth Elmine Alexander | Simoné van Loggerenberg | JL Mouette | Mada Oosthuizen |
| Karin Swanepoel | Helena le Roux | Adiél Meyer | Nico Hougaard |

Anton Döckel
Kosfees op Stellenbosch
Groen tapyte wingerd
met wit ringmure omboor
is oor heuwels en dale uitgerol
Stellenbosch glimlag ’n welkom
dis ’n soel dag en dynserig
die dorp se vulsels en stopsels
opgetooi soos versierde koeke onder gaas
Stalletjies onder seil
besoekers skouer
krapperig by toe skouers verby
oliebolle koeksisters en melktert
walms warm olie –
pannekoek en kaneelsuiker
pienk en wit bolle suikerdons
dit maak die vlieë rasend ongeduldig
om te om te sirkel vir ’n landingsplek
Spys en drank suur en soet
geure en aanbod oorkruis
soos in ’n doolhof uitgelê
in ’n raaisel vir die sintuie:
– speserye en kruie in skottels
kase en plaasbotter agter glas –
ciabatta teen boerbrood?
Keuses vir ete, kruis of munt:
Boeuf bourguignon?
kerrieafval, breyani en naan?
dis rys, rys en rys –
Slaphakskeentjies en skenkels
onderstreep met ’n glas wyn sal dit wees.
Sal my eetlus dit kan be-kos-tig
of koop ek dit op die skuldboek
want die hongeriges
kyk mos jou kos uit jou mond
Elize Perrin
Groot dae drome
Onbeskaamd koggel die kalkoen my
vanuit die supermark se strooibiljet –
Uitnodiging aanvaar, knik my kop
met oë wat reeds gly oor die koue pampoensop
en gulsig by die kaaskoek stop
Keuse vir ’n slaai bly my ontwyk
tussen aartappel, bone en songeel butternut –
Penniepoeding is dié jaar ’n moet
met genoeg brandewyn en kaneel wat mekaar groet
om lus se laaste holte te voed
Gemmerbier en ’n glasie vonkelwyn
borrel saam in die vreugdedae –
’n bietjie nostalgie en heildronkwater
bou saam aan onthou van vele maters
se jonkwees ... vir later
Versadig aan groot dae se drome
skuif ek die special-blaai
onder die bleek hoendervlerk;
en les my dors met wyn
wat in water verander het
Madeleine Wilhelm
Kersfeesete weg
Dit is amper Kersfees
En ons bly in ’n huis
Dit is nie ons eie
Maar ons voel sommer tuis
Kersfees is so spesiaal
Mens moet tog moeite doen
Maar hoe kan mens jou siel
Dan ook nou so versoen
Vrieskas, yskas, koskas
Word werklik fyn gekam
Ek moet iets kan optower
Dit laat my sommer lam
Eisbein, lamsboud, hoenderstukke
Vrugteslaai en nagereg
’n Pasta en ’n mengelslaai
Dit klink vir my maar reg
Met die vleis in die oond
En ’n mes in die hand
Is my doel slegs een ding
Beste ete in die land
Die hele huis ruik heerlik
Die kos is amper reg
Nou nog net die tafel dek
Elkeen kry sy plek
Met kosbakke uitgestal
En kerse aangesteek
Is ons reg vir Oukersaand
My mense gaan dit weet
Almal kom sit rustig aan
Ons sê ’n dankgebed
En almal eet te heerlik saam
My doel bereik, ek het!
Krige Visser
Die danklied van drinkers en eters
’n Lied wat roep na note
(met apologie aan, en respek vir, wyle mnr Leonard Cohen)
Die god van drank en ook die heer van spys
Sou om die tafel reik na die aller-ewige gereg
En so sou hul resepte van gebrou en van gebak rys
Tot malse en oordadige skeppings
Van als té goed én dikwels bloot net sleg
En sing blye wesens
Hosanna Hosanna Hosanna Hosanna
Hosanna
Die god van drank en ook die heer van spys
Sou sonder ophou bly skink uit die bottel van vergifnis
Wel al wetende dat die oormaat van drank en ryke spys
Lei tot verlore liefde se verdriet
En selde klaar kom as volmaakte dis
So sing hul saam die lied
Hosanna Hosanna Hosanna Hosanna
Hosanna
Die god van drank en ook die heer van spys
Sou saam wou vervolmaak die ewige-lewe-elikser
Oortuig dat alchemie van goddelike drank op ys
Ons twee vir ewig aan mekaar sou bind
Min wetend die lyf is net uiterster
En sing hul soos die kind
Hosanna Hosanna Hosanna Hosanna
Hosanna
Die god van drank en ook die heer van spys
Sou die lewende gees en bene in eenheid saam kon snoer
Tot waar hul weer moet omhels in die volmaakte paradys
Want ons is onlosmaaklik ’n ketting
Wat die smaak na lus, drang en honger voer
Met die lied as redding
Hosanna Hosanna Hosanna Hosanna
Hosanna
Elmarie Viljoen-Massyn
Stof, nadenke
Diep in die yskas ontdek ek weer
’n kosblik. Die inhoud, vergete, is nou
gryserige newelagtighede
te lank laat week in eie vog
te ver gebêre in die skemer van
versteek wees
waar gedagtes onder deksels
nooit ophou broei nie.
Annet Crause
Genadebrood
langs die kronkelpad na Green Pastures
sien ek sy klein lyfie hoopvol opkom
toe ek stop, sy donker ogies waterig vasgenael op die verseëlde broodjie-"squares" en water wat ek na hom uithou ...
dis toe
dat dit koeëlvas in my hart kom tref;
dís genadebrood
wat ék het, om te kan gee!
Elsa Barends
Wie sal ooit kan verstaan
Waar het dit tog begin ...
Wanneer het dit ontstaan ...
Hierdie gevoel van hartstog,
vervulling,
En genot,
’n Gevoel wat net kos kan bied.
Was dit die keer toe ek ’n luisterende oor nodig gehad het,
En kos het dit vir my gebied.
Óf die keer toe ek emosioneel lig wou voel,
En kos kon my vir ’n oomblik laat vergeet van die storms wat binne my hart woed.
Dálk die eensaam aande,
Toe dit die beste geselskap ooit vir my kon bied.
Nostalgies voel ek nou ...
En verlang na die goeie ou dae.
Die dae van warm roosterbrood en botter
Op ’n vroeë koel herfsoggend.
Die koue wintersaande
Toe Ouma se souskluitjies ons kon verhit van binne na buite.
Ag ... hoe geesvervullend was dit tog.
Wie sal dan ooit kan begryp ...
Wie sal dan ooit kan verstaan ...
Hoe ver, hoe hoog, hoe wyd en hoe diep
My liefde vir kos strek.
Want tog besef ek nou
Dat kos altyd daar was.
Dat dit altyd hierdie pad saam met my gestap het.
Soms was dit ’n pad van eensaamheid,
geluk,
hartseer,
vreugde,
soms was dit ’n pad van onvergeetlike oomblikke.
Dit was altyd presies wat ek wou gehad het.
Dit het die vervulling gebied, op die spesifieke oomblik.
Altyd op die regte tyd.
Presies wat ek wou gehad het, en wat ek nog altyd nodig gehad het.
Hoe geesvervullend is dit tog.
Ja, hier waar ek sit besef ek ...
Kos het ek lief.
Daar is ’n passie wat diep binne my hart brand.
’n Liefde wat slegs ek kan verstaan.
Want wié sou tog verstaan ...
Die genot, asook die vervulling wat kos vir my bied.
Talize Swart
Ons eie koskombinasie
Jou lippe was sappige litchi's wat my elke oggend gegroet het
Terwyl my moeë bloubessie-oë skaars verder kon sien as die bed
Die omelette en plaatkoekies waarmee ek bederf is, was oënskynlik ’n voorlooper van ’n gelukkige end
Al was die enigste rykdom in ons beursie – ’n paar sent
Ons het op ’n tyd mekaar so mooi voltooi, soos ’n melktertvulsel en sy kors
My probleme was altyd ligter as ek gelê het op jou bors
Die biltongpot wat jy naweke gemaak het bring die reuk van gelukkiger tye terug
Toe ons saam aan ’n tafel gesit het, wyn gedrink het en gepeusel het aan ’n vrug
Jou ma se boerekos op ’n Sondagmiddag bring herinnering van vertroosting en moed vir ’n nuwe week
Ek was altyd te bang dat my gekookte ete nie so lekker soos hare smaak nie, al het jy my gesmeek
Die laatnag roomys uit die bak eet, was troos-kilojoules wat ons moed gegee het vir die moeilike tye
Sodat ons daarna net weer kan kla kerm en keer vir die bure se oordonderende reuk van vye
Die werklikheid is dat suur druiwe ons vrugtebakkie oorgeneem het ...
Ina du Plessis
Trooskos
As Afrikane lekker wil kuier, so word wêreldwyd gesê,
moet hul kreunende tafels kos om hul hê.
Koeksisters, kerrieafval, braaivleis en putu-pap,
met koffie, gemmerbier en wyn om die lippe te nat.
Dit lag en gesels, skerts en soek skoor,
dié geraas word stráátblokke ver gehoor.
Maar is óns mense se honger werklik na kos en drank?
Of na die estetiese ver bo menslike verstand ...
Terwyl die politikus, onderwyser en dominee hul versadig eet,
tydelik hul sorge, pligte én waardes vergeet –
Is dit die hongeres, bedelaars om brood
wat hul bietjie vir bietjie versadig met woord.
’n Man het self gesê:
"Dat eenvoudiges die sleutels tot die Koninkryk sou hê"
Kaas, botter en konfyt –
droog en verhard;
twee kante van ’n sny brood;
Ons land se mense vergaan
in hul soeke na geluk, troos en redding –
Afrika se hongersnood ...
Yvonne Botha
Super swart kolk
Massief het dit ontstaan in die heelal
Woedend en gulsig, als wentelend verorber.
Weerspieël in
Donker kol op die siel.
Ongebreidelde hongerte, als vretend.
Verteer in vloed van gastronomiese vloeistof.
Leemte gevul met kos,
vervang die woorde van sielsvoeding.
Spyskaart van keurigste woorde om te smul.
Fyntjies teug aan
wyn, diep robynrooi.
Warmte en samesyn.
Hoofete, tong klappend, vetgesmeerde geswolle lippe,
sonder proe.
oorweldigend en alsomhelsend.
Nagereg versmoor met ’n soet omhulsel, die
pyn omvou.
Die swart kolk verskans in donker gewaad.
Massief, en skreeuend.
Pyn.
Charlotte Pretorius
Lemoensproei
Lemoengeur kielie my neusvleuels
Oranje sproei teen my wang
Tande breek die soet selle
Ontploffing van geur in my mond.
Vrugteboom vol sonskyn
God se oorvloed aan die mens
Tog slaap menigte vanaand
Met ’n leë honger maag ...
Vrugtige vitamien C
Nie beskore vir elkeen
God se genade strek wyd
Tog bly dit menigtes ontwyk
Kindertjies met groot oë en honger magies
Smag na uitkoms en genade
Oranje vrugte vol seën
Vry uit die Vaderhand.
Marelee Ferreira
Brood verdoof
Wanneer ek my oë snags sluit
Hoor ek die rumoer in die straat
Van voertuie wat resies jaag
En ’n duisend stemme wat pleit
Die kind op die straat pleit
Die onwillige gehoor
vir ’n stukkie brood
Wat die pyn in sy binneste sal doof.
Die stukkie brood se gerief verdwyn
– vinnig en hopeloos te gou
Niemand wil meer gee nie
En die kind sien geen ander keuse nie ...
Nooit het hy gedink hy sal sy besluit so verwyt
Om daardie nag by oom Fanie
Se kombuis rond te sluip
En wragtig – ’n hele rol varsgebakte brood te gryp!
Oom Fanie was nog wakker
En het die hele toneel van ’n donker hoekie in die kamer dopgehou
Hy't seker nie ’n hart!
Want die volgende oggend is die seun toegesluit.
Is daar dan werklik geen liefde meer?
Geen hoop vir die kind wat smag
Na verdowing vir die pyn in sy maag?
Sal die wêreld ooit hom bekeer?
Angelika Sisson
Uitgehongerde glaswesens
Die verkeerslig slaan rooi
My hart sink tot binne-in my skoene,
Nou sal ek in jou deurborende, smekende oë moet vaskyk.
Dekades terug was ek ’n wegloopkind,
maar ek het gevoel soos ’n weggooikind.
Mense kyk dwarsdeur jou as jy koud, honger en verlore op die strate ronddrentel.
Hulle vergeet dat jy ook vlees en bloed is.
Jy smag na erkenning van jou menswees.
Jy wil so graag hê dat iemand in jou oë moet kyk met sagtheid en erkenning.
Jou maag is leeg, maar jou siel skree ook vir ’n krummel ontferming.
Skaamte is jou enigste kombers om die koue realiteit van verlatenheid te bekamp.
’n Krieseltjie kos sal jou maag volmaak
maar jou gevoel van aanvaarding bly afwesig,
die pyn van jou weggooibaarheid deurboor jou moeë hart.
Sluk dus jou ongemak en kyk hulle in die oë en dan sal hulle van glaswesens weer na mens terugkeer.
Al gee jy nie ’n sent of ’n brood nie,
Gee hul ten minste hul menswaardigheid terug.
Wie weet?
Môre kan dit dalk jy wees wat op die straathoek staan en bedel.
Dit kan dalk jy wees wat net raakgesien wil word.
Marietjie du Toit
So sal ek my kinders voed
Hoe gaan ek my kinders voed
In hierdie dorre Boesmanland
Waar almal heeltyd sê: Hou moed!
Reën sal kom uit die Gewer se hand
Die boesmangras het lank reeds verdor
Van skaap en bok is niks meer oor
Maar wat help dit as boer net mor
Oor droë veld en leë stoor
Op my knieë daal ek neer
Ek wil my hart uitstort
Teenoor my Skepper Heer
Ek kry weer moed
Sy Woord is kos
So sal ek my kinders voed.
Lize van Wyk
uit(gesond)er
ek het myself met die ure verbind
in ’n kamer vol deure waar ek die waarheid vind
ek staar af na die bodem van die glas
sou jy vir eens my siel kon skoonwas
my hart het tussen sluise gaan verdwaal
iewers onder die duister sekelmaan
ek het jou begrawe onder die denne
nóú sit ek met ’n spieël vol skreeuende stemme
naakte woorde breek voor jou neer
sóú ek die winters tog kon keer
die bose voed my met nog ’n roekelose leuen
jy sal aanhou tot ek ophou kreun
antwoorde het my verlaat op die klippiespad
en nóú vind ek myself in die skaamtelose stad
sou jy eendag besluit om op te hou
of was ek egter altyd ’n enkele fout
Helena Joubert
Vreet net
Ek rúk die yskas oop.
Wat sal dit wees –
die koek of die kool?
Ek verslind die koek
met gulsige happe.
Wat nóg?
Ek slurp die koffie met die dik room op.
Die gevoel bly.
Nóg, nóg! Ek kry nie genoeg!
"Ek kort, ek bly leeg!" roep my benoude siel.
"Brood asseblief. Brood van die Lewe ...
Ek het dors! Water, water, lewende water."
"Ek is sterwend!" roep my arm gees.
"Ek kán nie sterf sonder my Skepper nie.
Ek smág na die Rots van die Eeue ..."
Nie nóú nie, snork my spekvet lyf en vreet verder.
Julene Stanz
Husse met lang ore
Husse met lang ore ...
Husse met kort ore ...
Husse met enige ore ...
Kan die hongerpyne stil
van die oë en hande op die strate
wat vra ...
Vra sonder woorde of stem ...
Wat eet ons vanaand, Ma ...?
Totdat die son sy kop lig
vir nog ’n dag se oorlewingstryd.
Magies vol ogies toe ...
Callie Kühn
Te krye te gee
Elke dag begin met "wat gaan ons eet?"
Dis iets wat elkeen vroeër of later vandag wil weet!
Een smag na ’n broodjie, dit sal van honger bevry
Ander smag na kaviaar, vleis en perlemoen daarby
Daar is ’n honger van die vlees wat versadig met kos
’n Honger in die gees wat sommige net so los
Is daar nog ’n honger, ’n honger na God's Woord?
Of is daar net honger na kos van enige soort!
Kos gee nie lewe, dit laat jou net bestaan
Einde van die dag sal maag en kos albei vergaan
Die vlees kan jy versadig met dit wat jy kan sien
Die gees word net gevoed deur die een wat jy dien
’n Honger in die gees nooit gestil gaan tot in ewigheid
’n Honger in die vlees gestil van tyd tot tyd
Honger nie net na kos, ook dinge meer en meer
En soms om die honger te stil maak die mens, ai so seer
Jesus Christus is die brood van die lewe, geeshonger stil
Net in Hom kan jy versadig word en wandel in Sy wil
Nooit weer geeshonger as jy versadig in Sy Woord
Glad nie meer honger na wêreldse goed van enige soort
Almal was al honger, al was dit nie na kos
Om een of ander te hê, of miskien te los
Wie ons ook al is en wat ons ook al doen
Eet moet ons eet en met daardie gedagte versoen
Lize Breed
Smagting
Dit is niks nuuts nie.
Dit is al deel van jou daaglikse
Ons het dit jy is honger
Dis al wat ons hoor
Jy klink soos ’n plaat wat vashaak
Honger, honger, honger
Vir wat?
Verstaan ons verkeerd
Is die kos dan nie vullend
Wat ek hoor steeds honger
Jou wêreld is dan vol
Maar steeds is jy nie versadig nie
Wat is dit wat jou sal aanvul
Jy sê alles proe net
Bitter
Maar wat is dit nou eintlik
Is dit die smagting na
Die liefde
Sal dit jou vervul.
Marchel Bantjes
Krummels
Raak die een wat bakhand krummels in sy hand opvang, vinnig met sy tong oplek, krummel aan sy wang wat hang, se honger stil?
Raak die een wat aan tafel sit, met messe, vurke, bord vol kos, wat vergeet het om te bid, se honger stil?
Angelique Esterhuizen
"Hulle" is honger
Jy is ryk, maar jy is honger
Jy het kos, maar jy is honger
Jou honger is anders
Jy is honger vir onophoubare rykdom, maar jy weier om vir "hulle" te gee
Jy is honger vir onbeskryflike lewensverhale, maar kyk ander kant toe as "hulle" na jou staar
Jy is honger vir ’n verskil maar jy kyk neer op "hulle"
Jou hongerte voel onoplosbaar
"Jy" is honger, maar dis net jy.
Sy wat daar voor die sentrum sit, sy is honger, maar sy vra vir kos vir haar kind
Hy wat daar met sy sleeptrollie loop, hy is honger, maar hy loop met vullis om vir sy familie te sorg
"Hulle" is honger, maar dis anders
Sy verkoop koerante, want nie net sy is honger nie, haar bure se kind is ook honger.
Hy is honger, maar hy werk in jou tuin om laasweek se ou brood te mag eet.
Sy is honger, maar sy moet die kos wat reuk trek weggooi want dit was te goed vir haar.
"Hulle" is honger, maar hulle doen meer
"Hulle" is honger, maar vir kos.
Coen Vollgraaff
piesang-hamper
kom ek knaag aan jou ...
inlepel jou aas wat
uitgestrooi lê
op my
eetkamertafel ...
want my aptyt
maak ’n verskil ...
dis meer as net
’n begeerte
dis ’n
’n drang
na die binnekant
van jou skil.
jy is ’n ander soort
van nam-nam
in my resepteboek
se cuisine.
as ’n traktasie
sal jy deug
waar koningstafels
swig van keurkos
en patats.
en tussen vrugte
en my platpens
en jy,
skrei daar
oor my peusel-proe
net die paradys
se vy.
Kobus Frantz
Sopkombuislyn
Die pot is leeg, kind.
Kom môre weer, vroeër hoor.
Die soplyn wag nie,
môre is die pot weer vol.
Jou kwaad ruk soos donderweer.
Amanda Robinson
Lewensaar
Die lewensaar vir mens en dier
is KOS my vriend, dit gee plesier!
Feesmaal op die tafel:
Avokado tot koejawel.
Varsgebakte brood
geurig uit die oond.
Hoender à la king,
beesfilet met "bling".
Groente onbeperk
om jou kragte te versterk.
As die saad sy wortel skiet
in Moeder Aarde se grondgebied,
is die pad na groei soms kronkelend swaar
en ook dikwels met gevaar:
– Droogte
– Vloede
– Siektes
– Swermende spesies
– Aardverwarming
En dan? Groot verarming!
KOS is mens en dier se lewensaar
wat genot en vreugde baar.
Maar jý o mens, leef tog matig!
Kleiner porsies, gou versadig!
Dink aan hul wat honger ly
terwyl die lewensaar verby hul gly.
Malisa Ferreira
brood van die ewige lewe
Van kleins af bid ek
"Liewe Jesus, dankie vir die kos op die tafel
En seën die hande wat dit voorberei het"
’n kinder-dankie sonder begrip
’n rympie, ’n ritueel
Dis my beurt om te bid
Ouer vandag, tog steeds klein
Voel Jesus nie altyd lief nie
Hande nie altyd geseënd nie
Ek sê nogmaals dankie vir die kos op die tafel
Nóg kinder-dankie, nóg min begrip
Net nog ’n beurt om te bid
Ek bid nog so vir die kos op die tafel
Toe grootmens-gebede voor my kindwees ontrafel
"Voed so ook ons siele met die brood van die ewige lewe"
Het ek nog altyd meer as wat ek voorgee in gebed?
Die kos op die tafel is meer as net die kos wat ek skep
Tereza Haylings
My siel soek kos
Die honger kners sy tande,
Hy wil my byt.
Al kouend en knallend,
Met klaagliedere, skreeu en kryt.
Ek kyk op na die Hemel,
Want daarvandaan my hulp.
My honger begin al wyk,
Want Jesus vou my toe soos ’n tulp.
Hy hou my vas in Sy hande,
En koester my sag in Sy arms.
Ek weet ek is veilig,
In Sy lof en Sy psalms.
My honger leef nie in my maag,
Maar eerder in my siel.
Ek kort godsdiens in my lewe,
Dit laat draai die wiel.
Die son skyn, die maan wink,
Die krieke sing, die hase spring.
Alles in my raak rustig en stil,
Soos net Sy liefde kan bring.
Die dood kan maar kom,
Ek is nie meer bang.
My rus en my veiligheid,
Is in die Bybel vasgevang!
Magda Engelbrecht
Sielskos
Honger, so algemeen maklik,
eet en die versadigingspunt bereik
Hoe gemaak as kos jou nie vervul
as die illusie breek en
jy jouself verneuk.
Tydelike genot
’n oomblik van tevredenheid
gevolg deur die leemte van weet
dis my siel wat wil eet.
Musiek, brood of die groter woord,
TV, sex, drugs, rock ’n roll
elkeen eis sy eie tol
maar wat maak jou siel vol.
Kies jou bord
weeg die prys wat jy betaal en
besluit of dit jou weer faal of vervul.
Theané Pieterse
Mosterd na die maal
Jy lees my soos ’n boek
Eet my woorde op soos soetkoek
Verdwaal in my oë terwyl jy hardloop deur my gedagtes elke minuut van elke dag
Mosterd na die maal staan ek voor jou met my woorde kaal
Die môrestond het goud in die mond en ek onthou jou in daardie oomblik
My eie stukkie goud
Dalk moet ek maar die aftog blaas
My blus is immers uit
Ek lei myself tog so maklik om die bos met hoop en drome
Ek het jou op heterdaad betrap
Dief van my hart
Die son trek water soos die môrebries plek maak vir die hitte van die dag
Dalk moet ek die strydbyl begrawe
Dan wen ek
En verloor teen myself
Rochelle Oosthuizen
Die hol kol op my maag
Verlate staar ek deur die ruit
Na die trietserige reën wat die beklemming in my hart bevestig.
’n lewensveranderende besluit
’n onvoorspelbare uitkoms wat my terugstaar in die gesig.
Reik uit na die warm koppie tee, die bros stukkie beskuit,
Miskien sal dit die koue in my opwarm
’n lewensveranderende besluit
Diep verlate krete wat binne my weergalm.
Die honger, die dors, na ’n moontlike uitkoms
Uitgeteer soos ’n verlore straatkind,
Opgebruik ...
Soos botter gesmeer oor ’n warm stuk roosterbrood
Smelt my knieë onder my weg
Die teepot se gefluit, die beloning na die gewag
’n belofte van ’n soete hernuwing
Die lewensveranderende besluit eindig my diepe smag
Geen meer geteem of klaagliedere wat ek hoef te besing
Versadig en tevrede
Betree ek die nuwe uitdaging
Uitgesprei soos ’n opwindende nuwe spyskaart vind ek rede
Vanuit die uitmergelende honger wat in my sing.
Becca Nel
Honger vir geregtigheid
Wie is te blameer
vir die trane,
die pyn en die hartseer?
’n Brandende ambisie in haar oë,
en ’n tong wat klap asof sy vir niks bang is nie.
so mooi poppie, toegedraai in ’n heldergeel anka.
amper asof sy ’n geskenk is vir ons aarde
Die geel op haar rok is soos die herkennende glimlag van die son.
Onder al die lap,
is ’n skraal lyfie
met vel wat smag na water.
En op haar tong is haar naam geskryf
en ingesluk
almal noem haar maar Thandi.
Dit maak eintlik dat haar oë nie meer skitter nie –
Haar lippe bly geseël
anders is haar optrede miskien net
Krimineel.
Haar hart is goed
sy wag om te werk
sodat sy skelms kan jag.
Beter toekoms waarvoor sy smag.
Haar hartklop is so hard deur haar bors
sy verloor amper balans,
haar glimlag is amper te groot
en die kleintjie in haar maag beginne dans.
Sy word ingelaat,
hierdie is nou haar kans,
maar voor haar wag ’n voorbarige persoonlikheid, sleg!
Sy hawiksneus steek sy verskrikte oë weg.
Sy voel haar maag, wat sy nog nie aan gewoond geraak het nie
En hy steek sy linkerhand weg
asof mens net gou-gou jou huwelik onder jou werksdokumente kan bêre.
Dit is nou al ses-uur
die glimlag van die son lê nou agter die berge
En hier staan hy
Meneer van der Merwe
met bloed op sy hande
en droogte op sy wange,
Geen berou.
Die aarde is nou haar kombers
Diep gegrou,
Die kleur van die grond gaan mooi met haar vel gepaard
Die son het gesak en
Sy het honger vanaand gaan slaap.
Nadia de Sousa
Voedsel vir die siel
Gee ’n soen dieselfde voedingswaarde as ’n vrug?
Ek eet nou al weer omdat ek mis,
Die chocolate gee ’n drukkie en die wyn laat my vergeet vir nog so ’n rukkie
en so word die yskas my sielkundige vir die nag.
Die bitter pomelo lê in die oggendlug en wag.
Sal dit gee die broodnodige krag, wat die onse Vader belowe vir hierdie nuwe dag.
Die diep donker spens sal nooit die gat kan vul in ons as mens.
Sal die hartseer dan ooit kan genees,
en tot dan, gee ek my maar oor aan die "chocolate mousse" en wees
"Dra die vrugte van die gees" lees Galasiërs, dalk hier lê my pad tot genees
Carol Symington
Kinders van Suid-Afrika
Niemand is so onkundig
soos die een wat nie wil hoor,
Staatstoelae is nie genoeg
om kinders groot te maak.
Dog drie of selfs vyf
honger mae om te voed –
Die glasige oë van ’n honger kind,
wat jou duidelik niks traak.
Die tekens van wanvoeding bloeiende letsels
op ’n vel wat nog in die son moes speel.
Selfs die Afrikason is nie so hard –
soos die eie moeder, nou duidelik verward.
Hoe het dít dan gebeur
dat ek nou ook hierdie toelaag verbeur –
een sterwende kind
nog twee nuwes vir wie ek êrens
kos moet vind.
Magreth Elmine Alexander
Sonder masker ... sonder kos
Gister se skottelgoed
in die kombuis
’n tafel waar eens soveel
lag was en stories,
staan stil en verlate,
getuig van kinderstemme
wat eens daar gesels het.
Sonder masker staan ek hier
kyk na leë kaste sonder kos
en besef
min weet hoe dit voel
om niks te hê ...
om alles te verloor ...
en die stille wete jy
is alleen ...
Wat kook ek vanaand?
Wat gee ek die kinders môre?
Ek bid by ’n gebreekte tafel
Heer, voorsien tog asseblief.
Ek dink aan soveel nagte
en besef om honger te wees ...
het jy geen trots nie
dit stroop jou van valse maskerades ...
en steeds bly die besef
dat ek hierdie masker sal moet afskeur
al bloei dit ook ...
Simoné van Loggerenberg
Anna
Ek het ’n meisie ontmoet
Haar naam was Anna
Sy het my haar diepste geheime vertel
Sy het iemand nodig gehad om te luister
Sy wou hê ek moes haar vriendin wees
want niemand gee oor haar om
Sy het aanvanklik gelyk soos ’n model
Maar ek het gewonder wat is haar motief
Sy het geweet net hoe om my te laat glimlag
Sy was tog so selfversekerd
Ek het vir Anna ontmoet deur ’n tydskrif
Die geheime outeur van ’n dieet
wat in die skoonheidsseksie pronk
Ek het vir Anna ontmoet in die skool
Ek moes eerder by haar sit
as om ander vriende te probeer maak
Ek het vir Anna ontmoet in die kerk
’n vrou wat altyd oor haar skouer na my skuldige gewete
en my leë bord
kyk
En my laat voel of ek alles verkeerd doen
Net sy weet hoe maak mens alles reg
Alles was met my fout
Anna was my reddaar
het ek geglo
Sy was ’n besturing
Sy was ’n engel
Anna weet alles
Alles van kos
Hoe om net min genoeg te eet om te oorleef
Hoe om net te veel te eet om skuldig te voel
Al is dit bitter niks
Hoe om nee te sê vir alles
Al skreeu jou naar maag "JA!"
Hoe om weg te kyk as almal sjokolade en soetgoed verorber
Hoe om jouself te kry by die punt
waar jy jouself oortuig dat dit jou glad nie pla nie
Maar koek en tert en pizza en pasteie en pannekoek en roomys en nagereg en uiteet en
milkshakes
en kookkos en gebraaide hoender en braaivleis en vetkoek en brood en muffins en
muesli en pasta en suiwel en suiker en allerhande lekkernye
en alles wat verbode is
is al waaraan jy kan dink
Jy droom letterlik in die nag oor die dag wat jy ...
Nee!
Anna sal jou hoor dan begin die heimwee
En die uitskel en die treurmare oor jou "gesondheid" en jou
maerwees
Maar al wat kom van die hol kol op jou maag en jou papierdun middel
is ’n gevoel van uiters
swaar wees
Anna was so vriendelik
Anna was so slim
Anna het alles geweet
Alles van te veel en te min
Anna was nogal bleek
Sy het van diëte en roetines gehou
Nogtans wou ek regtig haar vriendin wees
so ek't haar ondersteun
Eers was Anna baie behulpsaam
Sy het my alles geleer wat sy weet
En behoede my as ek dit ooit vergeet
By elke maaltyd was daar reëls
Op die skaal was die nommer nooit te laag
Anna het my al haar toertjies gewys
En verskriklike goed vir my gesê oor myself
as ek daardie manewales nie ook uithaal
Ek het gou begin agterkom dat Anna
nie regtig was wie ek gedink het nie
Ek het begin doen wat sy sê en wanneer
Sy het my geleer van haar diëte, oor hoe kos sleg is vir jou
Oor hoe sy haar maag so papierdun kry en haar wange so uitgehol
Hoe sy roetines en obsessies het en baie kere flou val
Sy het die hele tyd oor kalorieë gekla
En sy het die heeltyd oor kos en eetplanne en haar gewig gemaan
Ek het begin dink ons moenie meer vriende wees nie
Dit het my begin pla
Maar sy het ’n geweer en ’n skaal gaan haal
Sy het gesê as ek haar los
Sal sy my doodmaak
Toe het sy my gemaak in haar beeld
Sy het my klere met tente vervang
’n nuwe mode het sy gesê
Dit was in my beste belang
Sy het my naels vir my gedoen, hulle potblou geverf
Sy het my hare gedoen en baie daarvan laat uitval
Sy het my wangbene met hol skadu ingekleur om te lyk soos sy
En my uit die son gehou
deur my plat te slaan as ek net probeer opstaan
Sodat ek binne moet lê en kyk hoe die wêreld
verby my gaan
Niks het meer sin gemaak
Net Anna
Net kos
As ek eet voel ek ongelooflik baie sleg
As ek nie eet nie voel alles net reg
want Anna het gesê,
"As ek wil mooi wees
dan
is kos die vyand ..."
Nie sy nie
Sy wou net help
Maar
Anna was baie vreemd
Anna wou gehad het ek moes alles van myself vir haar gee
Anna eet jou siel
Anna eet jou geluk
Anna eet jou menswees
Anna sit om my nek soos ’n juk
Anna was my afgod
My rolmodel
Ek wou ook soos Anna wees
Gewens ek kan heeltemal ophou kos nodig hê
Dan sou alles perfek wees
Ek sou gered wees
Ek sou populêr wees
Ek sou bemin wees
Ja, almal was jaloers op hoe ek lyk
Maar niemand het geweet
Hoe Anna my manipuleer
Eers steel sy al my toebroodjies pouse
Dan hou sy my teen haar bors
Ja, Anna help jou as jy hartseer is
Anna troos jou as jy huil
Sy het my probleme laat verdwyn
Sy het my geleer hoe om te ontspan
Maar ek't begin agterkom
Anna was ... anders
Sy het baie goed gejok
Maar ek het nooit haar leuens uitgewys nie
Want ek was bang as ek doen sal sy my haat
Anna leer jou hoe om reg te oefen
Tot jy flou word
Anna leer jou hoe om te meet en
te weet hoeveel kalorieë is in elke krummel
Wat om te vermy
want anders gaan jy ’n bus word
"Probeer om nie te eet nie
of eet dan net heeltemal te min ..."
Dis haar gunsteling sêding
Hoe meer Anna jou goed laat voel oor jou uithouvermoë
Hoe meer sê Anna vir jou hoe pateties jy eintlik is
Anna sal in een asemteug vir jou glimlag, met jou grappies maak
Maar in die volgende sal sy vir jou kyk as jy staan voor die spieël
En jou dreig met woorde
Wat jou hart verniel
Dan sal sy weer alles beter maak
Dit was nie lank nie
Of ek was die een wat haar nodig gehad het
Sy't gesê sy sal nooit weggaan nie
Teen die boelies by die skool
is jou nuwe lyf Anna se beste wraak
Eendag, ewe skielik, het sy haar ware kleure begin wys
Ons het oor baie min eintlik saamgestem na ’n ruk
Tog het ek besluit om maar net te gaan met wat ook al sy sê
Want sy was vêr te interessant om op te offer
Sy het my begin irriteer en my moedeloos laat voel
’n diep depressie het oor my geval
Elke dag het ’n kompetisie tussen my en Anna geword
"Is ek al maer genoeg?" was die vraag
Toe my ander vriende my begin uitlos
was Anna die een in beheer
Maar eendag het ek besef iets is baie verkeerd
Iets was fout met Anna
Ek was so bang vir hierdie vriendin
Sy was nie meer welkom nie
Maar wat moes ek doen
As Anna jou eers het – hierdie is ’n waarskuwing – sal sy jou nie maklik laat gaan
Sy haat jou
Sy soek jou dood
Sy wil hê jy moet so bang wees dat jy eerder wil sterf
Maar selfs voor jy kan is jy klaar binne ’n bietjie dood
Eendag het ek in die spieël gestaar
En besef dat die vrees vir Anna begin minder raak
Was Anna ooit regtig?
Was Anna ooit daar?
Anna was in my kop ...
Of dit, of Anna was dood, of sy het spoorloos verdwyn
Maar
Ek het in die spieël gestaar
Dit was nie Anna in die spieël nie
Ek het mooi gekyk en Anna gesien vir wie sy werklik is
Anna was nie daar nie
Anna was nie die bleek sieklike maer
meisie wat skaars meer lag
skaars meer huil
skaars meer iets in haar lyf in kry
met ’n uitgeteerde siel
nie
Anna het nie my eetvermoë gekwes
Anna het nie my gedwing om my lyf elke dag te inspekteer vir enige ekstra vet
Anna het nie my obsessie gedryf
Anna het nie my lewe gesteel
nie
Iets was skielik, onherroeplik, baie verkeerd
Hoe kon dit wees ...?
Dit was nie Anna se hartseer, uitgehongerde gesig wat vir my terugstaar nie
Ek het nader gekyk
My liggaam, my gesig ondersoek
Die maer gesig
Die ribbes wat uitsteek
Die dun beentjies
Ja nee, wat ’n model!
Ek het gekyk en gekyk en iets vreemd gevoel
Ek het skielik geweet
Anna was regtig
Sy het daar gestaan
Haar uitdrukking koud en dood
Maar tog so hartseer
Sy het soos ’n lyk voorgekom
Hoekom het sy teruggekom?
Ek't gewag vir die skoot om af te gaan
Maar sy het nie beweeg nie
Sy het haar oë geknip
Ek het geweet sy wou my lewe steel
Maar
Ek't besef die kosgeweer is in my eie hand
Maar dit het net een kyk gevat en ek het geweet
Hoe onmoontlik ook al dit sy
Daardie dag het die spieël dit onmiskenbaar aangedui
En ek kon dit amper nie glo nie
Want,
Anna was dan ek
en ek was sy
JL Mouette
eetsaal
een dwaal grootoog, verward en verskrik soos ’n uil
deur die eetsaal, ’n bordjie krummels in die hand
sy deel haar laste en menings met al wie luister, terwyl
trane huiwer, vlak, op haar stukkende bril se rand
’n rooi-krulkop-tiener huppel lastig van bank na bank
met ’n kunswerk, smekend vir goedkeuring
deel haar inspirasie, maak haar woorde groot en lank
haar pseudokennis bewys sy is net nόg ’n leerling
nόg een is hoopvol blymoedig, oë op God gerig
luister net na gospel, lees met graagte die Bybel
wat soek sy hier, wonder ek, sy is dan so rustig
in dié plek waar elkeen anders vlug vir sy duiwel
’n ander loop nou al ’n week in pajamas rond
eet oopmond, traag, terwyl sy in die niet instaar
pleisters op haar polse bedek ’n selfgemaakte wond
bloot ’n kind, maar haar lewenskeuse weeg te swaar
ek vermy die praters – my kop raas reeds genoeg –
en die zombies in hul onrusbarende geswyg
almal hier is όpgedink, όpgedrink en opgeswoeg
half dood, vertrap, kranksinnig, afgeleef en gebuig
Mada Oosthuizen
Ouma se toast
Ek kom kuier die naweek in my tuisdorp.
Stop eers by Ouma en Oupa
en drink soet Cremora-Ricoffy,
terwyl ons gesels oor al die skindernuus in die dorp.
Ouma vra of ek iets wil eet.
"Kan ek dalk ’n toasted Marmite-broodjie kry, asseblief Ouma?"
"Doodreg, Oupa gaan gou ry
om net vir ons brood te kry."
Na ’n lang ruk bring Oupa die brood en sit dit in die ou toaster.
Ons gesels oor die familie, die bure, die hond,
die koue, die blomme, die kas wat Oupa moet verf.
Meteens sien ons rook uit die toaster trek.
Die swart gebrande brood word uitgehaal, maar dié wat volg, lyk maar net so erg.
Ons sit toe buite op ’n koue sonskyn-wintersdag.
Smeer die botter en marmite dik op die brood en eet die gebrand weg.
Sluk die bitter af met Cremora-Ricoffy.
En vir die laaste bietjie brand, eet ek vrugte, sommer twee appels op ’n slag,
terwyl ons die hele affêre weglag.
Na die naweek keer ek terug na my woonstel in Potch.
Ek eet doodgewone studentekos.
Die koffie is bitter, soos ek daarvan hou.
Vleis word gebraai, brood word gebak,
maar tussen die gesels,
lê die stilte en verlange soos die stof op my leë kombuisrak.
Ek mis die reuk van blomme as ek in die huis instap,
die vetkoek, die visvingers, die roomys met neute in.
Haar vol koekblik, die Crackerbread in die kas, en die vrugte op die tafel.
Ek mis die gesels terwyl ons wag vir die brood om te brand.
Die RSG-omroepers wat haar geselskap hou, die musiek waarna hy luister.
Die Cremora-Ricoffy-smaak en ook daardie verdomde toaster.
Dit is vakansie en ek gaan huis toe.
Daar word eers gestop by Ouma en Oupa.
Ek stap in die huis, met die lug gevul in ’n sagte lente-Vrystaat-aroma.
Sy vra vir my: "Wat eet ons vandag?"
Ek glimlag. "Gebrande toast en soet Cremora-Ricoffy sal lekker wees.
Dankie, Ouma"
Karin Swanepoel
Vir spys en drank gee ons U dank ons loof U naam o Heer
Arm man se kos of ryk man se speelplek.
Kwessie van smaak versus beskikbare geld rek.
Bepalende faktor wat land in die bord?
Hoeveel monde in getal;
Hoeveel voedingswaarde, is bepaal,
Hoeveel kwaliteit of kwantiteit sal dit kan behaal.
Beth of Bettie, Anna of Anne,
Voorskoot aan;
Die liefde vir kos koop, maak, garneer en bedien.
Om die aansitter se uitgehongerde gemoed te hervorm,
Dis heeldag se werk, behae vind in "kook soos ’n storm".
Ryk man se Noritake wat poog om voedsel se hitte lank te behou;
Engelse silwer skitter,
Gelawe met yskoue vloeistof in kristal, swaar glas, nou;
Word hompe vleis in verskeidenheid bitter.
Helderkleur-groente gepas.
Laaste maaltydgang is soet verby
Nagereg so liplekker-soet as wat jy kan kry.
Erdebord wat arm man pap, hitte vinnig gelei,
Lepel wat sheba of chakalaka daaroor versprei.
Dors geles met swart, soet beker, poeierkoffie,
Nagereg se homp stuk brood, konfyt, miskien ’n toffie.
Tog snork arm man en ryk man vanaand so ewe saam.
Harde bene gekou in sweet van hul aangesig;
In daaglikse brood voorsien, werk hul ook saam.
Albei moet daagliks aansit en energie aanvul;
Of selfs wanneer hul wil.
Ruik, proe, kou, sluk.
Kalorieë tel en vitamiene behou.
Dit kan nie eenmalig ingeneem word nie; daagliks; gereeld.
Eet, slaap herhaal en kou ...
Helena le Roux
’n Plan
Sal daar uit hierdie chaos
Oplossings vir ons kom
’n Vlam slaan in my op
My plan staan geil in die blom
Tyd is geld en my tuin floreer
Ons pluk en elkeen kan kies
Almal word gevoed
Ek bottel, bêre en vries
Met my as generaal
Ontplof die agterplaas in groen
Almal woel soos miere in ’n span
Die inperking gee elkeen iets om te doen
Vleis word in klein pakkies gemaak
Uit die oond kom brood
Die plan werk en ons oes tamaties, spinasie en boontjies
En so bly ons weg uit die kake van die virusdood
Adiél Meyer
Middernag-krummels
Met my hart kloppend in my keel,
wagtend vir sy diep asemhaling na nog ’n laat nag,
draai ek om en kyk na sy nou slapende gesig;
Wie het jy geword?
Die knoop in my maag laat my hunker na iets
waarvoor ek nie ’n naam het nie.
In die donkerste van die nag sluip ek die gang af,
soekend na iets om die hol kol iewers in my liggaam te vul.
Laag op laag bou ek ’n middernagtoebroodjie;
elke laag iets heerlik en reg – egte botter en gerasperde kaas
en vars tamatie en koue vleis en ’n kraakvars slaaiblaar,
want slaai is gesond.
En mayonnaise vir ekstra smaak.
Met my bewende hande bring ek die lekkerste lekker
stadig na my mond en byt daarin.
Is ek siek, hoekom proe ek niks?
Ek sluk.
Alles steek vas in my keel bo die knop wat nie wil weggaan nie.
My hande bewe die middernagtoebroodjie terug na die bord
waar dit bederf word deur ’n sout nattigheid wat iewers vanuit
die donker daarop val.
Die hol kol in my lyf word groter, maar ek kry niks om dit te vul nie.
Ek los die toebroodjie en sy krummels net so op die bord.
Sy kos los ek in die louoond.
Die terugtog kamer toe voel soos ’n tydlose ewigheid.
Die Bybel op my bedkassie vang my oog.
Dalk vind ek iets daarin wat hierdie kettings om my bors
sal losmaak sodat ek vry kan asemhaal?
Of krummels voedsel vir my siel?
In die flou liggie van my selfoon se skerm sien ek dit:
"Vader, vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie."
Ek draai na die oorbekende vreemdeling langs my,
slapend in ’n realm waarin niks verkeerd is nie.
Vergewe, sewentig maal sewe ...
Nico Hougaard
Figuur
So baie vakansiedae, soveel lekkernye
So baie ... min ontspanning ... hoe is dit lekker tye?
My figuur.
Hou by die plan.
Nie te veel ontspan.
’n Braai was iets spesiaals toe ek klein was,
nou is dit ’n klug, ’n kaggel vol as
is beter as die smeltkroes van
familiesaamkoms ... sonder baklei?
Familiekuier sonder trane oor die kontrei?
Tog is dit broodnodig ...
Om saam met hartsmense te wees sonder ’n masker
is so raar soos ... afval.
Hoe het dit van alle dinge ’n besonderse dis geword?
Hoekom tong met Kersfees?
Antie nie genoeg gevry op skool nie?
Tong uitsteek sê hulle mos ...
"Smiley"? Lyk g’n of daai skaap gelukkig is ...
Al weer beestong? Jinne, toegegooi met mosterdsous miskien
Skilpadjies? Hoekom poeierige skaap bo ’n tjoppie?
"Gizzard"? Nee dankie, eerder ’n "dessert"
Ek dink reeds, hierdie Kersfees sal ek maar sê:
"Nee dankie, ek kyk na my figuur"
en saggies onder my liplappa fluister:
"Al daai goed bied my geen plesier ..."
Stilletjies ’n sjokolade smul ...
Die neefs en niggies is op pad!
Bêre en maak spore, hul honger
is soos die see!
KONTAK! KONTAK VOOR! ... NEE!
Hul het die koekies ontdek!
’n Wins vir die figuur, al is dit ’n verlies ...
Een veldslag wen egter nie ’n oorlog nie!
So hard gewerk aan my "corpore sano",
als verniet met die huidige vakansietempo.
Sekerlik beperk grendeltyd die beskikbare drank?
Moenie jy komkommer nie ou seun, Oom Johan te dank!
Daar is meer as genoeg ... hoe sê hy? Proviand!
Almal praat altyd van ’n drankprobleem,
maar niemand praat van die groot dors ...
Ai, weereens bly daai figuur in die slag.
Bloedrivier? Geloftefees ... is ons nou eers daar?
Nog ’n lang vakansie wat voorlê ...
My figuur is klaar
in die spervuur
van verandering.
Dis nou maar so ... teken op die stippellyn die vredesverdrag
Rond is ook ’n figuur
Aangebied in samewerking met die
![]()

