Eet my woorde: Inskrywings (12)

  • 2

Foto: Unsplash

Hier is die 12de groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Lee Matthews Kobie Rossouw Maryke Lyons Lindy Pearson
Elodiaan de Bruin Carina van der Merwe Elaine van der Merwe Fienie Wuestenenk
Ané Ehlers Danette Newton Domani Kahts Jonanda Opperman
Ronel Opperman Susanna Nell Bianca Vorster Claudi du Plessis
Elsabe Jordaan Andrea Sieberhagen Adele Gill Anne-Marie Beukes
Karina de Kock CJ van Wyk Erin de Reuck Henlie Barnard
Sonja Pienaar Corlien van Jaarsveld Jorja Troup Erika Matthee
Jannie van Loggerenberg Manda Gomes Anemarie Steyn Kevin Peter Jooste
Elle Smit Karlin Smith Daniëlle Groenewald Antoinette Smit
Tom Prinsloo Wiehan Smith Leon Hayes Vidette Zeeman

Lee Matthews

Papiermaskers

Vroegoggend sien ek hulle
Twee asblikgrouers in ’n sak
Moeg en honger is ons nuwe norm
Leë rakke en sakke, papiermaskers
Nie eers meer ’n budget om van te praat

Buite hoor ek mense raas
Asblikgrouers raak ’n gevaar
Moeg honger desperaat
Laat hulle maar vaar

Vroegoggend met ’n leë kol op my maag
Honger maar nie vir kos
Meer vir liefde ’n hart vol genade
Besef ek vanoggend elkeen is honger
Honger in ’n verskillende vorm
Hierdie wêreld van ons met sy norm
Papiermaskers. Leë rakke en sakke


 

Kobie Rossouw

Meer as

Die lewende stillewe
waarin uie horings hys,
aartappelbloeisels bo blare sweef,
soetrissies stom in toe klokke beier,
kom-pluk-my tamaties ryp-rooi verlei,
ook seldery en pietersielie
langs boontjies wat in peule bly,
terwyl vinkel groen drade span
en plat, geel hofies weef,
verder aan glippertjies wat trosse wys
en langsaan pampoen in blom,
bied meer as ’n kwas se versug en ’n gedig
wat tot wasdom kom –
"Zegen Heer wat we eten, laten we nimmer U vergeten."


 

Maryke Lyons

Paptert

Mense kan soms die pap regtig net te dik aanmaak,
sonder om ’n druppel waarheid en advies te gee wat immers ’n groot verskil kan maak.

Ja, lewe het ook ’n mengsel van gevoelens,
soos maalvleis en bacon-stukkies met nog ekstra,
net oor ’n klein lepel knoffel, sout en peper wat uit mens se mond kom.

Nou gooi ons eerder net KAAS OOR ALLES,
dat die pap en mengsel verdrink
in die lekker geure van die lewe.


 

Lindy Pearson

Voedsel my nou!

Medium biefstuk met skyfies
Garnale met vars suurlemoenskyfies
Voedsel my nou

Pap, wors en tamatie-en-uie-smoor
Pasta en maalvleis met ’n sousie getoor
Voedsel my nou

Grondboontjiebotterbroodjie
’n Ou soppie deur ’n strooitjie
Voedsel my nou

As dit goed gaan
As dit styftrek gaan
As dit net "druk deur tot môre" gaan

Voedsel my nou!


 

Elodiaan de Bruin

Ek wonder of jy weet dat jy van jou magie vergeet.
Ek wonder of jy sleg voel as jy dae lank bedel en van jou magie vergeet.
Maak die dwelms en alkohol daardie magie vol?
Môre lieg jy weer oor die leemtes in jou maag.
Hardwerkende ryers stop jy en neem die brood uit hulle kinders se mond.
Nou wonder ek
Hoe jy dit hanteer as almal "NEE" sê?
Kry jy skaam dat jy in dromme moet krap?
Waar die geldjie vandaan sal kom om vir jou iets te koop.
Ek wonder.
Ek wonder oor jou.


 

Carina van der Merwe

Warm happie

Nat, koue druppels dans oor die ruit,
haar yskoue blou oë is al wat terugkyk.
Vervolg deur gedagtes van hartseer en rou,
sout trane word afgevee in ’n vuil mou.

Klein happies warmte sny deur die koue,
kos die laaste gedagte, maar ’n vertroosting teen die houe.
Haar trane is sout teen die soet van die happie,
môre beloof sy, begin stadig, vorentoe, net een trappie.

Warm, blou dagbreek bring vernuwing en troos,
elke warm happie ’n bietjie minder broos.


 

Elaine van der Merwe

Vergewe my
aan ’n liggaam wat deur ’n eetversteuring gegaan het

Vergewe my
vir die pyn
wat agter toe deure plaasvind
as ek luister na wat ’n spieël sê,
jy was net ’n kind

Vergewe my
dat kos
my beste vriend en grootste vyand geword het
dat ek vir ander sê hulle is goed genoeg
maar self die teenoorgestelde glo

Vergewe my
verstand
dat jy besoedel is met gedagtes
om been en vel te wees
met geen plek vir warmte of liefde

Vergewe my,
maar vergeet nie
dat jou honger vir opinies en aanvaarding
nie die opoffering van jou liggaam
die moeite werd is nie.


 

Fienie Wuestenenk

Tant Dorie se kombuis

Hier is die lekkerste storie
Toentertyd die kombuis van tant Dorie
Botteltjies op ’n ry
In die spens altyd gekry.

Lekker reuke uit die kombuis
Sommer so deur die huis
Jy weet iets heerlik aan die braai
En dit maak jou maag draai

Maar kort voor lank iets te kry
Tant Dorie skep ’n proeseltjie by
So amper nog nie gaar
Proe so lekker en maag draai net daar

Tant Dorie is lankal nie meer
Die stofpad plaas toe is geteer
’n Nuwe myn het daar ontstaan
Weg al die lekker nou, net ’n traan

Maar tant Dorie se storie gaan aan
Want geure uit huise bring ’n traan
Vrugtebotteltjies in die spens
Ai, die ou lekker uit haar kombuis,
Dis my wens!


 

Ané Ehlers

Krummels

’n Spasie binne my, wat vir meer as jou krummels wag.
’n Hart wat kwylend klop, vir die oorblyfsels van aandag smag.

Hoe kan my hart dan smekend grom, só wanvoed en skraal.
Jou krummels wat my aan die lewe hou, is dít wat jy wil behaal?

Jy gee net genoeg en nié te veel, om my vasgebind te hou.
Los my met geen ander keuse as om jou liefde te herkou.

Sodra my bloedsuiker val en my kop begin draai, gee jy ’n bord vir my.
Gulsig geniet ek die liefde, want ek weet dis al wat ek kry.

Die spasie binne my besef: daar is meer as die krummels wat jy los.
Daar loop mense om en verby my, met oorvol borde kos.

Jou selfsug het die oorhand en my bord is diep en groot.
Ek is nou moeg vir die krummels liefde wat jy weekliks vir my stoot.


 

Danette Newton

My honger hart

My honger hart is leeg
Hy soek kos wat min kan gee
Hy soek vervulling in elke asemteug
En wil bande met elke vreemdeling smee

My honger hart wag in hoop
Hy hou asem op
Hy hou baie mense dop
Hy wag dat iemand na hom toe loop

My honger hart soek geen kos
Geen sop en brood
Geeneen wat hom net uitlos
Slegs iemand wat kan sien hy het nood

Hoekom is die mensdom so ydel
Iemand stap verby en gee my ’n Bybel
Kos het ek nie, maar tyd wel
Ek lees en Die Boek laat my honger hart swel

Lig in die donker is ons taak
Wie sal in die nag oor ons waak?
My honger hart neem alles in
En wonder steeds hoe maak mens sin

Uit hongerte, uit smart, uit leed
Ons lewensmaat lank reeds uitgemeet
Uit liefde, uit genade, uit trou
My honger hart is stil nou

Ek kyk op na die stad se geraas
My honger hart wonder vir oulaas
Ek weet waar mý hulp vandaan kom
In elke uur vertrou ek nou op Hom

Selfs al wandel ek die donker straat
My God sal my nimmer verlaat
My honger hart nou gevul
Met die Woord en Gees my nuwe spil


 

Domani Kahts

Die lewe is ’n maaltyd

Kos ... is soos die lewe
Voorbereiding is lank
Moeisaam en morsig

Met geduld is die eindproduk
Die wag werd
Net soos harde werk beloon word

Alle sorge is weggebêre
In kake wat beweeg
Tande help om te byt
Sodat die tong die soete
En salig van die lewe voortbring

Glimlagte, klik en klak van eetgerei
Voer ons weg na sorgeloosheid
Vergete is die skottelgoed
En realiteite wat wag

Daar is ook moeilike keuses
Is daar genoeg vir nog ’n skeppie
Moet ek plek maak vir poeding
Is die poeding die sous werd?

Met die regte besluit
Is dit mae vol, oë vol, oë toe
Die keuse was opgeweeg
Ontspanning tot die volgende maaltyd

Tussen maaltye is die realiteit weer daar
Realiteit wys sy angel
Ons druk weer deur
Probeer die resep noukeurig volg

Die eindresultaat is onbeskryflik
Die dwelm wat ons laat terugkom
Kos, die lewegewende bron
Die sameroeper vir harmonie

Kom laat ons eet.


 

Jonanda Opperman

Vervulling van ’n maaltyd

Helaas, die werksdag se einde breek aan.
Ek gly deur die spitsverkeer van baan na baan.
My gedagtes verdwaal na die roetine van kook.
My gedekte tafel wat kreun na my gespook.

Wat sal my spyskaart vanaand toelaat?
Hoe gaan ek my vernuf met ’n maaltyd laat praat?
’n Vinnige skandering van vrieskas en spens.
Dan volg die woeker en werskaf intens.

Ryk geure vul elke kamer van die huis.
Ek betower my mense met reuke uit die kombuis.
Elke dis word met sorg en liefde voorberei.
Die resultate sal glimlagte op hul gesigte versprei.

Ons sit aan en dank God dat Hy ons seën.
Vir die ryke oorvloed wat oor ons kom reën.
Vir die voorreg van aansit saam met ons gesin.
En dan kan die weglê aan smulkos begin.

Vir ’n oomblik word daar verwoed oor kosbakke baklei.
"Stuur tog die aartappels af met die ry."
"Bêre asseblief vir my ook nog vleis."
"Ek soek nie die boontjies nie – stuur weer die rys."

Daar daal ’n stilte oor die eetkamer neer.
Die vervulling van ’n maaltyd het so pas gebeur.
En tussen die gekou, ’n paar grappies en een wat kla,
Kom die jongste se woorde: "Is daar vanaand poeding, Ma?"


 

Ronel Opperman

Honger hart

Die aarde lag deur haar gebarste gesig en
Swanger wolke skuif dreigend nader
Here, ons spens is leeg
Hier in die Namib
Waar hoopvolle siele
Bakhand staan
om genadedruppels op te vang

ons is honger
ons is moeg
die trekker staan,
niks om te ploeg

ons probeer verstaan
hoe om regop te BLY staan
maar tot die bankrot wind
het die plaas verlaat

Die veld is honger
Die kos is min
Die hoe-nou-gemaak-planne,
weg saam met daai wind

Wat sal ons eet
Wat sal ons drink
Die genadebeker is oor ons uitgeskink
Net soos die wilde voëls in die bos
Sorg Hy ook vir Sy kinders vir kos.
Stuur ons net so bietjie reën,
Genadekos vir die grond tot seën


 

Susanna Nell

Gesond

Gesond eet lei tot gesonde opelyf,
Gesonde opelyf lei weer tot ’n gesonde leefstyl,

Gesonde leefstyl lei weer tot wat in samelewing?

Minder vet, meer vet, stysel, nie stysel.
Vrugte, groente? Sjokolade, gaskoeldranke?
Genade tog help! Ek wil net eet.


 

Bianca Vorster

my maag gor
ek is aan die knor
al die geure laat my bewe
verslaaf is ek aan die alewige gegor
tussen opgee en toegee is ek vas
vir altyd en ewig vasgevang


 

Claudi du Plessis

Ouma se sement – generasiegom

Die nostalgie van my ouma se kombuis
laat liefde en passie vir kos in my are bruis.
Vir altyd en ewig ’n indruk gelos.
’n Formidabele vrou van fors!

Die reuk van naeltjies, neutmuskaat en gemmer
laat my terugverlang na ouma Baba se koekieblikemmer.
Altyd tot die rand toe vol gevul
vir ieder en elk om aan te smul.

Pap en kaiings, lewerkoekies en afval ...
miskien nie almal se smaak maar ons was daaroor mal!
Moes altyd net eers in die ry staan vir ’n eetlepel asyn ...
om te keer teen die ergste goormaag en maagpyn.

Varsgebakte brood en tuisgemaakte vyekonfyt
met natúúrlik plaasbotter so dik dat jy jou tande daarin wegbyt.
So soet en vol liefde,
nes my ouma, nêrens anders te vinde.

Kersfees was eensydig met koekstruif en gemmerbier.
Die hele familie altyd saam om dit te vier.
Skaapboud, groenboontjies en gekapte komkommerslaai.
Moet nie die gebakte aartappels vergeet ... saam laat alles jou tong tiekiedraai

Want op die maat van liefde en herinneringe
dans die geur van kos tussen familie en "vrinne".
Dis dié samesyn van geliefdes om tafel ...
die gom wat generasies vashou en keer teen uitrafel.


 

Elsabe Jordaan

Smoorsnoek en wurgpatats

Die snoek is gesout
Daarom het dit in die water gelê oornag
Die kinders is maar plaerig en stout
Maar soos altyd kan ouma die proses vermag

"Kook snoek tot sag," dit neem sommer ’n hele paar ure lank.
Dan is dit die proses om al die grate uit te haal,
en die uie te sny op die plank.
Nie te dik, maar in ringe, is deel van hierdie verhaal ...
Saam met die uie, word blokkies aartappel gebraai, goudbruin, al te fraai
Dan stadig gekook tot sag
Snoek gevlok, word saam met die mengsel gebraai,
botter kan werk, maar kookolie is al wat oor is vandag.

Die patats was vir ure in die oond, deurtrek met botter in ’n foeliekombers
Ouma roep: "Kom kinders, kos is reg, kom steek aan die kers"
In die agtergrond sing David Kramer op die draadloos ... "Ek is ’n Weskusklong"
En klein Piet skree: "Ouma, dis my song!"


 

Andrea Sieberhagen

Ontbyt

Koffie en beskuit
maak vír jou
jou vroegoggend-besluit:
Hoe begroet jy hierdie nuwe dag
wat op jou voorstoep vir jou wag?

Geel, geel eier val in jou pan.
Sonskyngeel wat skreeu jy kan
verby die grougrys wolke kyk
en met die geel die grys uitstryk.

Hoor die stukkies spek daar braai
terwyl los gedagtes oral draai.
Skraap tog alles bymekaar
dat jou gemoed bedaar.

Ruik die roosterbrood.
Weet waar jy behoort
as die warm, veilige gevoel
onkeerbaar oor jou spoel.

Eet stadig jou ontbyt.
Hierdie is die vroeë oggendtyd
om stil en stadig te besin
voor jy jou dag begin.


 

Adele Gill

Daar lê jy.
Al stokkerig en dood.
Wat maak jou so spesiaal?
Jou houtlyf vertel ’n lang verhaal.
Soms word jy afgeskeep,
maar jy moet dit weet.
Dat jy wel jou plek hier het.
In die kombuis se onderste laai.
Jy dink ons het jou vervang,
maar ons hou daarvan,
om jou te gebruik as ons sukkel
met daardie brood se deeg.
Ons sal nie ’n ander manier oorweeg.
Houtlepel, jy sal maar altyd hier bly.
Getrou en oud sal ons jou in die onderste laai kry.


 

Anne-Marie Beukes

Dankie, Liewe Heer

Daar is altyd iets
Al dink ons dalk dis nietig
En wil ons anders hê
Om dankie voor te sê.

’n Nuwe dag begin vir my
En ek kry nog ’n kans ... vir kyk
My liggaam het soms pyne
Maar ek kan stap vir myle.

My goedjies is nie baie duur smaak
Maar nogtans voel ek genoegsaam
Wat ek het en wie ek is, is net genade
Van Vader in die hemel geleen.

Mens kan sterf van honger
En alles weet van brood
Of geestelik morsdood wees.
Maar ek sal nie een dag vrees
Want Jesus sorg vir hierdie wees.

Daar is altyd iets
Iets om dankie voor te sê ...
Die lyding van die teenwoordige
Weeg niks teen die oneindige ewigheid ...

Met hierdie woorde sê ek net
DANKIE, LIEWE HEER!
Vir daaglikse brood, elke dag
En nimmereindigende lewe wat wag.


 

Karina de Kock

Papiertong

’n Tafel gedek met die lieflikste kos.
Jou neus soek na die reuke van die disse opgedos.
Net ’n leë gevoel bly hang. Jou koker word ’n tonnel vol reuklose wind.
Jou brein probeer tevergeefs die bekende reuke by jou neus uitbring
maar dis net die nagevolge van die virus wat bly dring.
Jy dink miskien sal jou smaakknoppies ’n beter werk verrig.
Vol moed bring jy die kos na jou mond.
Jou mond begin water ongesond
net om uit te vind jy ly aan papiertong ...


 

CJ van Wyk

Die Laaste Maal(tyd)

Daar is dinge in die lewe wat mens niks kos,
soos bedagsaamheid bedags en samesyn snags.
Daar is níks so lekker soos ’n gebalanseerde bord kos,
soos bobotie met geelrys en daardie rosyntjies onverwags.

"Vader seën die hande wat die voedsel voorberei het,"
maar wat van die monde wat dit eet?
Word net dié wat bydra werklik gered?
Kuiergaste gaan moet hande was terwyl die gasheer hulle welkom heet.

Verskillende filosofieë rondom die etenstafel word bespreek.
"As dit pap reën, moet jy skep," sê die gulsige gasheer;
"Jy is wat jy eet," sê Ouma wat preek
en kinders wat kla, "Ag nee, ertjies al weer."

Steeds is daar ondankbaarheid wat in die wêreld rus
en snedige "sies"e die etenstafel in ridder.
Onthou: wanneer die muis dik is,
proe die meel bitter.

Pens en pootjies in die lug
hou die bevoorregtes aan met sug
en om die mindere te oorbluf
onder hul grootsheid hoe ook al oorgewig.

Wanneer hongerte jou oordeel laat verkrummel
sal jy rondkruip tussen voete vir ’n krummel
van enigiets wat lyk na die waarheid
en smul aan ’n bedekte naarheid.

’n Gebalanseerde lewe is die resep tot geluk:
Een oop hand wat gee en een wat ontvang.
Wat jy in die wêreld inploeg, sal jy die vrugte van pluk –
dít, my gaste, is van kardinale belang.


 

Erin de Reuck

Diabetes

Diabetes.
Die woord alleen laat verloor my my eetlus.
Die lewe is te lekker, alles is soet en oorlaai met suiker.
Na elke hap wat ek vat word ek ’n par vetrolletjies ryker.
More sal ek ophou, vandag is my laaste dag.
Maar ek kan nie help om na ’n soet ding te smag.
"A moment on the lips is a lifetime on the hips"
Ja my ma, jy het my waarsku.
Vandag het ek diabetes en dis is grootliks deur my eetlus.


 

Henlie Barnard

Droomvlug van my lus

Vier neefs laat my na Neil Diamond verlang.
Soggy pretzels my lus op loop laat gaan.
lus het sy eie koers geneem
Sutherland se Ou Meule, die reuk van pizza
die kraak van varsgebakte kors
Knersvlakte se staar na niks, proe van koue wors, en eiers
Noupoort, daar sal lus altyd uithang
vriendinne se tuisgebak
Karootjops wat lus onbeheers laat vergryp.
Ons swerf saam na Houtbaai se vis en slaptjips
daar waar die see ons voete streel
Pringlebaai se brandwarm kerrie
die geel nog op my Sondagrok.
Lambertsbaai se kreef laat lus my my maniere vergeet.
Verbeelding en lus neem my na ver plekke.
Maar elke keer stop ek weer by ma se huis,
vir appelkoostoebroodjies en tee
vir Sondaghoender, en dopperkos.
Ma, maar Fonteinstraat 47 is leeg
want jy, Ma, bak soetvetkoekies in die hemel.


 

Sonja Pienaar

Desember 2008

Die son brand die hel
uit die aarde uit
terwyl mense hulle
stink kleurvolle klappers
rokerig deur die lug strooi
en die vlieë pak om alles en almal saam.
Die Suidpool smelt.
’n Man skop sy boelhond
tot sy rug kromtrek.
In Gweru se strate skop die gesiglose, genadelose polisie
net nog ’n weerlose
man dood en niemand
doen niks nie.
En ek sit knuppeldik
gevreet soos ’n
vetgestopte olifant
na Kersete
op my stoep en huil
en van drank het ek vir eers nou genoeg gehad.
Wolf soek gillend smekend
na haar kattekind
die gange rond.
Tokkelossie ons prinsessie
wat van nou af op ’n
plaas woon.
Ten minste het die
Straatloper vir die eerste
keer vanjaar ’n vol bord kos
iewers vandaan gekry.


 

Corlien van Jaarsveld

Ek lief jou, ek haat jou

Ek lief jou so
Ek haat jou so
Jy kom altyd weer
My te frustreer
Jy knaag en kerm
Maar ek bly ferm
Totdat jy wen
En moet ek weer erken
Jy’s net te veel
Jy laat my steel.

Jy proe so soet
So sag, so goed
Maar jou byt is bitter
Wanneer die skaal skitter.
Die naald so ver na regs
Nou voel ek sleg.
En nou kerm jy nog meer
Wie sal my keer?
Ek dink verwoed
Aan ander goed
Maar jy wen al weer
En nou eet ek jou met seer.
Ek haat jou so
Ek lief jou so.


 

Jorja Troup

Sal Ons Probeer?

Van my posisie agter die tafel,
sien ek mense se lewens uitrafel.
Met die sop en brood voor my,
lees ek die stories wat ander vermy.

Die blondekop dogtertjie
met oë vol trane.
Die werklose man,
nou sonder hawe.
Die vuisvose vrou
pyn nakend gevlek.
Die brandsiek bedelaar
op die vloer uitgestrek.

Al hierdie mense, verledes verduister,
Sal Ons Probeer hierdie rowe toepleister?


 

Erika Matthee

Proesensasie

Wat is nou lekkerder as kos?
Daai soetsuursousie wat ons net nie kan los
Met ’n gebraaide ribbetjie op die vuur
Sjoe, my mond water en dit neem ’n uur

Lekkertand verby koeksisters,
My ouma se hertzoggies,
My ma se pampoenkoekies,
O ja, dit alles maak my dag ’n plesier!

Kyk nou, daar is al my proesmake nou wakker
Wat gaan ek maak om dit te verander?
Ek kan mos nie aanhou so eet
Maar tog is dit lekker om te weet
My proesensasie is nie op ’n dieet

Môre eet ek lamsboud
Saam met gestolde wortelslaai, yskoud
Gebakte aartappels tog so lekker
Ai, my proesensasie word al hoe sterker


 

Jannie van Loggerenberg

Honger en dors

wêreldwyd is honger dors
die arm man eet asblikkos
die skadu van honger lê en loer
onder die park se bankie op die vloer

mense kom en mense gaan
maar honger en dors bly maar staan
op die ashoop bly die man
wat al jare lank net bestaan

niks om te eet en niks om te skink
dalk is dit beter om sy sorge weg te drink
honger en dors, honger en dors
vir lank is jul twee besig om met mens te mors


 

Manda Gomes

Padkos

Padkos vir my siel,
vir jou gaan ek nie verder laat honger ly en verniel.
Verlustigende hart wat al so lank ly aan ’n opwindende avontuur ...
Hierdie vier mure kan my ook sekerlik nie verder verduur ...
Ek voel gelukkig ’n veer,
want ek en my eie vierwiel-bromponie is uiteindelik in beheer.
Bewaarheid is my grootste wens,
hoe vervullend vir enige honger siel-pens?
Net toe jy jou verskyning maak,
net daar toe maak niks meer verder saak.
Ek is weer vry, en kan selfs tuin natmaak en verskillende groentesade plant.
Ek kan die vrugbare grond streel en vasgryp in my eie hand ...
My vierwiel-Ferrari,
vir jou vat ek nie net vir koek en tee by die bure,
Jy's my padkos en mag my hart en siel maar voed vir baie lange ure.
Ek is nie meer vasgevang en gebind ...
So baie dankie vir die heerlikste reis my liefste meisiekind ...
Vader, dankie vir die heerlikste padkos.


 

Anemarie Steyn

My matrikulant-kind ...

Ek weet jy is nie meer kind nie ...
Vir my sal jy altyd my kind bly ...
Ek wens ek was daar toe jy vir die tweede keer op jou terme jou laaste skooljaar aanpak.

Ek wens ek kon jou kosblik pak met liefde of jou das regmaak of net miskien vir jou fluister
"... Patat, jy kan dit doen. Mamma is hier en ek is so lief vir jou, trots op jou ..."

Maar nou besef ek eers watse honger tierwelpies ek grootgemaak het!
Hul is nie bang om te gaan soek vir dit wat hul voor honger is nie.

Is dit verkeerd as ek nie weet of ek trots of hartseer moet voel nie?
In die volgende leeftyd sal ek my bes probeer om seker net dieselfde te doen,
Tiere groot te maak sodat hul ook ongeag die kans het om te kan oorleef!


 

Kevin Peter Jooste

Ouma se Sondagtafel

Vrydagaande was woes by
Ouma se blou huis
My ooms en
neefs was dik met oom Tas
gewyn
En hulle kon net praat met hul
vuis
Saterdae het die wyn voort
gevloei
Een of die hele happy lot het toe
al ’n paar keer gebloei

Sondae was die werf egter
doodstil
As ouma begin het om groente te
skil
Dan sou die simfonie van
patat pypkaneel en suiker se geur
op jou tong kom dans
Die geure van gebraaide
aartappels met vars tiemie draai
jou in die rondte jy moet pasop of
jy verloor jou balans

Terwyl jy in nog in vervoering is
met die aromas kom die gebruis
van die gebraaide hoender wat
prut-prut in knoffelbotter en dit lig
jou
op en jy sweef
Die reuk van die malva kom dwaal
onder jou neus en met die soet en
die lekker besef jy meteens elke
een van jou sintuie leef
Dan kom die pampoenkoekies en
Heuning se melodie van geure en
meng met die res dit ontvoer jou
Na ouma se kombuis
Vrede vrede om ouma se
Sondagtafel geweld en swaarkry
vergete daar was almal tuis.


 

Elle Smit

Kinderhuiskos

Ai siestog, shamepies, dink almal
So sal die gedagtes deur hulle koppe rammel.

Ek wonder wat eet die bloedjies vanaand
Seker maar pap en sous nes gisteraand

Hulle loer net skrams na ons soos hulle verbyry
Net ’n vlugtende gedagte wat hulle probeer wegkry

Ek wonder soms of hulle waarlik verstaan
Dat die kos in die kinderhuis my lewe raam

Kos is soveel meer as net pap en sous
Elke dag as kind in die kinderhuis voel dit of my ouers my flous

Al is daar party aande ook ’n stukkie wors
Maak dit nie die gat vol wat so seer brand in my bors

Party dae is kos net kos, en maak dit net my maag vol
Maar meeste van die tyd is dit my enigste troos wat keer dat die trane oor my wange rol

Dankbaar sal ek bly vir die stukkie brood
Want die kinderhuis het my gehelp in my nood

Wanneer ek in my bed lê saans,
Besef ek die kinderhuis gee my ’n tweede kans


 

Karlin Smith

’n Mosbolletjie onder die Melkweg

1 Januarie 2022
Die dag breek en die lug is koel en kalm
My eerste slukkie koffie kroon my lippe
en doop my siel in saligheid
Ek breek ’n mosbolletjie onder die Melkweg,
soos nog ’n jaar afgebreek van my lewenstaak
Dit proe na anys en hoop
Manna vir my mond
Hierdie mond wat netnou weer agter ’n masker moet skuil
Maar vir nou, in hierdie oomblik,
Vind ek my heil

In die aand is my toebroodjie en soet tee by die kers
my koester-kombers
Voor ek die dag vir die nag verruil
en ek môre weer agter my masker moet skuil
Maar vir nou, vir nou sal ek my laaste teetjie sluk
en dankie Vader sê,
voor ek die kers uitblaas
en my kop neerlê

Dan sal ek my ouma se woorde onthou:
"Sif altyd ’n bietjie sonskyn saam met jou meel,
en ’n knypie kaneel
Roer jou sorge weg,
en sit jou teekoppies reg
Want môre,
môre gaan ons weer verder,
My kind"


 

Daniëlle Groenewald

die Tolk van die siel

Kos het ’n impak op mense
almal eet maar min besef die noodsaaklikheid
van voorbereiding
lees die Resep
ken Hom goed
dan sal jy nie net eet nie
maar inneem en versadig word

ons moet van voor af leer
dat ons bestanddele
van die begin af
versigtig
uitgesoek en gekies moet word
die bestanddele bepaal die dis

van dié
is Sout die belangrikste
Sout is die fondasie van enige dis
Sout wil geproe word
moet geproe word

dit is ’n bestanddeel wat
diep deur die siel
perkoleer om deur die dis te verskyn
en om aan almal wat dit proe
te verander
van binne af na buite

Kos het ’n impak op mense
almal eet iewers van jou dis
maak seker dat hulle
genoeg Sout proe
sodat Hy ook ’n verskil
in dié wat proe
se siel kan maak


 

Antoinette Smit

’n Appel ’n dag
’n ware gebeurtenis

As jy nie wil luister moet jy maar voel
lesings op veldskool het régtig ’n doel
Lag en babbel gerus maar voort
in graad 9 dink jy mos dis hoe dit hoort

Toe ek myself weer kom kry
staan ek alleen, die bus het weggery
Met ’n bottel water in my sak, ’n broodjie en ’n appel in my hand
is ek omsingel deur ’n pragtige see en woestynland

Na ’n paar happies beland my broodjie in die sand
ek gooi die appel in my rugsak, my enigste proviand
Vat dan ’n slukkie water, dis al wat ek het om te drink
lees my kompas en begin stap, die son se strale blink

Teen skemer word ek oorrompel deur angs en vrees
ek het my kompas verkeerd gelees!
My hart klop al hoe vinniger en die trane begin rol
my maag begin te knor en voel ekstra hol

Ek huil oor my broodjie in die sand
Ek huil oor die droë rivierloop se rand
Ek huil oor die wilde diere wat my gaan vang
Ek huil want ek was nog nooit in my lewe so bang

Gaan ek dit ooit oorleef en weer my familie sien?
dink die juffrou regtig ek het dit verdien!
Ek wonder hoe lank kan een appel my hou
hoeveel water het mens nodig om stamina te bou

Ek vat nog ’n klein slukkie water
besluit om die appel te bêre vir later
My maag skree eet hom nou!
my verstand sê nee, jy moet nog uithou

Ek grawe ’n holtetjie met my hande in die sand
alleen in die woestyn slaap is vanaand my voorland,
maar wie kan nou slaap as jy so baie huil
die hongerpyne word deur ’n gesnik en trane verruil

Met sonsopkoms begin ek weer stap
wonder of ek nou ’n happie van die appel moet vat ...
Ek verbeel my dat nog ’n slukkie water die honger sal stil
jou brein is magtig en het sy eie oorlewingswil

Uiteindelik het ek my weg tot by mense gevind
hulle was geskok oor die lot van die verdwaalde kind
En die appel wat my van hongersnood moes red
was nog steeds in my rugsak, wys jou nou net!


 

Tom Prinsloo

Vissermansgebed

jirre
ek kannie met djou baklei
djy is groter as die wye sie
ek los nou my kwaatgeit
wat soos sout en sand
aan my moegheit sit.

maar houtbaai is onsse plek
hulle het onsse vis loep vat
hoe kan die goewerment nou sê
ons hettie die liksensie nie
dis onsse vis en onsse sie
hulle kan soek hulle eie snoek

u allerhoogste
kwaadgeit het my vasgehoek
dis waarom ek hom gemoerit
ik wiet dis nie respekte
onsse mense is anners nou
as ons grootpaens en maens
onsse kinners is honger
hulle loep kaalgat rond
bedel sonner vis innie strate
vrouens bly wag in die kaai
nou word onsse mense
oppie vreemde boete gelaai

onsse grote kroon ik vra
ons sal los die wyn
ennie perlemoen
laat onsse eie skeite
weer uitseil
in onsse grote sie

u het gevat twee vissies
enne vyf broodjies
ik gee nou die galjoen
apoels die roosterkoek
gee terug onsse vis ennie sie
en seën ons almal hie


 

Wiehan Smith

Met opskeplepel, met opskepbak

Jy herinner my aan Sondagmiddag-malvapoeding
Toegevleg onder lae van Ultramel-vla
Sappig soet en warm op my tong

Met die reuk van bobotie wat nog in die deurkosyn talm
Steeds na ’n maag-vol-maaltyd
Honger my hart na jou smaak

Jou woorde, soos fyngedrukte boontjies,
Smaaklike gesprekke by die tafels
Met spatel in jou hand
En sjokolade aan jou lippe
Fluister jy vir my:
"Honger is jy, honger is ek,"

Antwoord ek:
Met opskeplepel, met opskepbak
– My lief


 

Leon Hayes

Ek sien jou my basie,
maar jy sien my nie.
Ek vra vir ’n broodjie,
jy maak of jy my nie hoor nie.

My magie is seer,
boetie moet elke aand vir Daddy keer.
Mammie raak weg in die bottel,
elke aand terwyl Daddy weer gaan dobbel.

Madam spaar tog vir my ’n randjie,
dis vir my sussie Antjie.
Haar klein ribbetjies steek uit,
maar tog word ons uitgebyt.

Hoe hard moet ek skree voordat julle my hoor!
Een van die dae sing ek saam met die engelekoor.


 

Vidette Zeeman

Hoe om ’n sagte eier te kook

My ma verkies haar eiers
’n knippie verby morsdood
’n onaardse skakering van grys-groen
Soos ’n ou kneusplek

Vir my is die beste deel
Die geel wat uitsypel
Soos sonskyn
Soos ’n geheim

Die geheim het te doen met tyd
En temperatuur
En tegniek

Baie soos hoe jy ’n hart kan laat kook
Kan laat rys
Kan oopkraak
Of vergruis
Afhangende van jou aanslag

As jy hom te lank los
Word jou eier of jou hart
Hard

As jy hom laat val
Loop hy leeg lank voor jy reg was

Miskien moet ons die takie maar eerder los
Vir iemand wat nie weet hoe moeilik
groen kneusings afsluk nie


 

Aangebied in samewerking met die

  • 2

Kommentaar

    • Hallo Sanet. Ja, dit gaan tot by groep 21. Die res van die groepe gaan almal vandag nog gepubliseer word. Groete, Liné

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top