Eet my woorde: Inskrywings (11)

  • 3

Foto: Unsplash

Hier is die 11de groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Bianca Ehlers Estelle Schoeman Ivan Kruger Ina Kleynhans
Elmarie Stofberg Janelle Verster Natalie Harper Aletta Topham
Elna van Zyl Claryn van Niekerk Odette Labuschagne Vennessa Scholtz
Catherine Jane Janse van Rensburg Leandri Prinsloo Candice Cloete Mana Wessels
Aileen van der Zwan Antoinette Venter Nicolene Pienaar Johan van Rensburg
Hermi Baartman AJ Annandale Jean-Marié Coetzee Matilda Swanepoel
Marileen Steyn Sanet van Niekerk Chenette Combrinck Martie van den Berg
Michelle Thomas Lizelle Olivier Sandra Lategan Sharon Janse van Vuuren
Adéle Theron Marlene Erasmus Henriëtte van Wyk Melanie Lohrentz
Cara Pretorius Charlotte Beukes-Muundjua Belinda Simpson Erika de Jager

Bianca Ehlers

Klaas

In donker nagte en gedagtes
Waar angstigheid en depressie die baas is
Is daar niks om te dun in my dunderm
My leë maag kla en kerm
Smeekgebed van onder my kombers
Vir voedsel om te voed en verversings om te
ververs
Maar hulle hou my mond dan toe
Ek kan niks eet of proe
Want angstigheid en depressie is mos baas
En my skreeuende vriend se naam is klaas


 

Estelle Schoeman

Botterbroodjie by dagbreek – ’n satire

Botterbroodjie by dagbreek
Botterbroodjie in die son
’n Eier het gebreek
Dis nou in die drom

Ons piekniek langs die grootpad
Die gekookte eiers ruik af
Oral draai die walms
Van die Tupperware af

Mosbolletjie herinneringe
Mosbolletjie vergeet
Hoe het dit gebeur?
Ek het my ooreet.

Piesangslaai met kondensmelk
Kaiings gebraai vir my
Totdat ek bedroewig
Na ’n braaibroodjie vry

Tjoklit is geen antwoord
Vetrol my maag al om
Botterbroodjie by dagbreek
Botterbroodjie in die son


 

Ivan Kruger

Bier is kos.
’n sny brood in elke sluk.
Bier is kos.
Dit bring tydelike geluk.

Vodka is kos.
Aartappelsap.
Vodka is kos.
Skyfies in elke kap.

Maar die regte hongerte,
is die hongerte vir die doel van die lewe.
Daar’s hoe bloeddruk in my gemoed,
Want my emosies begin te bewe.


 

Ina Kleynhans

Tongtippietoets-lekkerte

Die kosghoeroe genaamd Nigella
smul smaaklik aan haar baklava.
Maar Jamie smaak nie kitskos
gee hom kaviaar, snoek en mebos.
Jan Braai kan maar laat staan
die gesweet is van die baan.
Shoprite Checkers se boerewors
stuit ons selde teen die bors.
Die tongtippietoets wen kant en klaar
niks kom by boerekos sowaar.
Dalk kies jy
’n bros gebakte varkvel
of mopaniewurms, kaiings en frikkadel.
Soos almal se smake verskil
skree Malema – Dis wat ek wil.
Poetoepap en braairibbetjie
met hef aan op die ou ramkietjie.

BON APPÉTIT!


 

Elmarie Stofberg

Witbrood

laas nag droom sy van
pienk polonie op witbrood
haar daaglikse dood


 

Janelle Verster

Pletterdig

Hoekom maak

’n gedig
                        uitstekend
wie't gesê
om rym te hê

Moet ek hom bou
baksteen vir baksteen
se geheime kamers
met versteekte kiste
van begraafde woordeskat
gange vol vleis vrot
of dalk biltong
delikatesse van droë perd
iewers met ’n ruiter
van sy saal gestamp of
                                afgeklim om hulp?
help
bring ’n allitereer
                            m
                          i
                        l
                      k
                    p
dat ek kan o
tot op die dak om die ritme te soek
voor ek val deur ’n metrum
van verplaaste verba


 

Natalie Harper

My ouma se plaaskombuis

Vanuit die hoek van my ouma se kombuis aanskou ek die passie waarmee my ouma bak
Sy haal naeltjies, gemmer en koljander af vanaf ’n groot rak
My ouma haal uit haar groot mengbak en die handklitser maak golwe binne die vars plaasmelk
Die geure vanaf die stoof omsingel my en gaan roep my oupa van buite af by die stoor
My ouma beweeg fluks en vining vanaf kookpot na mengbak en beskou vinnig wat in die oond rys
Haar hande fladder soos vlinders om nog sout in die pot te gooi
Kort voor lank verskyn die bakke op die tafel en die stoom vorm prentjies in die koue winterlug
My oupa se gebed is vlugtig want die heerlike reuke veroorsaak warrelwinde in ons mae
Met elke hap weet ek ek is terug in my ouma se plaaskombuis


 

Aletta Topham

Magies vol ...

"Jesus het die vissies en brood vermeerder ..." die stille gemurmureer van my moeder
Ai my Meester ek eer U meer en meer ... stuur tog ’n uitkoms grote Voeder van die gees
Singend, erend, krap sy deur die leë kaste, skud sy die leë meelsakke
op soek na iets om te stil die hongerte van die vlees

Haar huis mag dalk ’n tekort aan kos hê, maar ’n tekort aan liefde?
Nee, nogmaals nee, dis die liefde wat maak dat sy trots oorboord gooi
Ou wit dierebene bymekaarmaak, sakke vol, geduldig wag vir die oom met die proestende wit lorrie
Vyftig rand!
Haar hart sing, want vanaand glimlag almal blinkbek om die tafel, magies vol ... Glory!
Geloof hou ons gestand!


 

Elna van Zyl

Kos

Vasgevang tussen yskoue mure
hou yskoue kamera-oë my dop.
Geen beweging word bespeur –
my ingewande is slim geleer.

Skuldgevoel laat my rug op hul draai.
Koubewegings laat mure om my tuimel
wanneer bewende hande ’n uitgedroogde korsie
tussen vasgeklemde kake probeer verorber!

Speeksel versag die growwigheid,
fyngemaal tussen voortand en kiestand.
Impuls om die broeisel te sluk,
gee slukderm net een ruk ...

Wit porselein jy is gemaak
wanneer die nood té intens begin raak.
Geen kamera-oë kan meer vertel,
vasgevang tussen hierdie mure van hel!

Elke braaksel, elke beweging
bring vir liggaam en siel verligting!
So nodig om liggaam op te bou
wanneer jou naastes se verwytende oë na jou staar.

Wat is lewe?
Wat is dood?
Vasgevang in ’n stukkie brood!
Wat verwag jy van my om dit te verwoord?
Elke draaiing van my ingewande
is die oorsaak tussen mond en maag.
Ek is siek om keuses te maak!
Ek is siek om te eet en te braak!

Vat weg my siek!
Vat weg my pyn!
Vat weg die braak
en die verwyte wat my laat kwyn!

Hierdie seer ken geen kleur –
rykdom en armoede ontmoet elke keer.
Ons almal streef
om net te kan leef ...

Eendag sal ek die aroma van geure –
kerrie, bobotie, anys en kaneel –
saam geniet aan ’n gedekte tafel,
sonder asyn, sonder verwyte
met die skink van ’n glasie wyn!


 

Claryn van Niekerk

Kos versadig nie die hart nie

My woorde verdwyn in stiltes van môre
En my pyn word verslinder in die duisternis

Is brood tog genoeg vir ons hongersnood
Genesing vir die grommende mae word vermis

Van gister se trane wat bly lê in die sloot
Handjies in bakkies of sakkies om die arm
Voedsel is meer as net ’n maaltyd

Maar vir die gebroke siele langs die pad
Is liefde eerste op hulle Kerslysies

Kos versorg en kos versadig
Liefde hou vas wat die lewe bederf


 

Odette Labuschagne

Kleure en geure

Kos in my ma se huis is iets om te beleef
Almal omsingel die tafel en daar word geleef
Die kleure en geure prikkel jou sintuie
Niks word verloor met die hemelse kruie

Die slaai is altyd kleurvol en mooi
Alles word met liefde bymekaargegooi
Kraakvars bestanddele, soet, suur en lekker
’n Tweede skep wat my giggel wekker

Die lamsboud getroetel en met liefde gesmeer
Wat rustig in die oond wag vir ons om dit te probeer
Gestop met knoffel, en met sout en peper bedek
Val uitmekaar en ons veg vir die been se gekou en gelek

Soetwortels, gebakte aartappels, rys en ’n hemelse sous
Al die bykosse laat krul ons tone in ons kous
Daar word geëet om my ma se vol gedekte tafel
Almal praat, lag en voel die liefde daar ontrafel

Die Jan Ellis-poeding is die cherry op die koek
Oorstroom met vla, wat meer word daar gesoek
Daai soet, botterige lekker bederf
Vir altyd in ons harte gekerf

My ma se kos was met liefde voorberei
Elke keer nuwe herinneringe, nooit gestry
Tye en dinge het met tyd so verander
Ek mis my ma, haar kos, wat sal ek daarsonder.


 

Vennessa Scholtz

Die soektog

Ek soek na jou in die donker uur
In elke hoek, agter elke muur
Sonder jou is dit leeg
Hier in die huis
Wel, eintlik net
hier in die kombuis

Ek soek hier en daar,
Laag en hoog.
Soos die tyd aanstap,
sak my gemoed, my mond is droog

Jy is net weg, sonder ’n woord
of nota
Ek moet nou wonder
Of jy deel was van my kwota
Ek kry sommer so ’n hol gevoel op my maag
Sonder jou,
is my bloedsuiker laag

Soos ’n vrou met ’n geheim,
het jy vir my geloer
Na my kinderdae,
het jy my teruggevoer

Ek onthou nog goed,
die eerste keer wat ek jou sien
Dadelik het ek geweet,
Dat ons mekaar verdien
Die lewe het sy suur en soet
Jy het meer as net my siel gevoed

Sekondes tik verby
Dit voel soos ’n vuur,
My asem jaag
My bors en maag brand soos vuur

Ek bring jou tot herinnering
Asof dit sekondes laas was
Ek sien jou in my geestesoog,
Daar op die kas

Ek roep na die hemel,
Ek skreeu vir my grootjie
Wie sou dit aan my kon doen?
My op dreef sit in die eensame bootjie,
Al wat ek nou kan vra,
Wie sou jou wegvat, my kaasbroodjie?

Niks in die lewe is verseker,
Ek weet dit mos
Ek was lief vir jou,
Al was jy net kos.

Wag dat ek die vraat
Uitlig en summier vang
Ek's so befoeterd, om te kalmeer,
Sing ek sommer ’n gesang
Was ek nou daai dief
Was ek nou baie bang

Om net so ’n ander se middagete
Te vat asof jy dit verdien
So maklik en slinks
Ek het die skelm nie eers gesien

Nou sit ek hier in sak en as
En vee krummels van my mond,
Met dit val daar
’n stukkie tamatie op die grond

Tot my skaamte
Laat sak ek my kop
My brein kan dit nie verwerk,
Ek is gefop
ek besef net daar
Ek het self die broodjie geëet, sommer als op.


 

Catherine Jane Janse van Rensburg

Eva se maan

Is ek maar ’n sekelmaan
Bulimiese skelet wat wieg in die dam
Soos visse deur my hol lyf gly

Omdat ek die vrug van vrouwees wou pluk
En met Adam wou deel

Halwe vrou, halwe mens
Wat met my lenterok als toevou
My vrae wegsteek
Vervloek

God is ek dan ’n sekelmaan
Uit die tuin gejaag met my blaarjas
Om klippe en kakkerlakke te kou

Om lusteloosheid te voed

Ek kniel my skewe lyf
Dat die son sy plek kan vat
En helder oor my maanlyk skyn

God is ek ...
Wie is ek
Kan die halfmaan ook volmaan wees
En skyn
Die slang wat my opeet
Se stert skroei

’n Bal lig oor die dam rol
Dat visse oor my vol maag spring
En juig:
Ek is Eva se maan


 

Leandri Prinsloo

’n Alewige stryd

Dae gaan verby en die weke stap aan,
vir kosmaak is ek hopeloos té gedaan.
Met mae wat grom en kinders wat gil,
waar kan ek idees kry om die honger kolle te vul?

Roetine is ’n vereiste in ons huis,
maar in die kombuis is dinge nie altyd pluis.
Daar is té min tyd en té min kreatiwiteit,
dan nog die kinders wat vir iets te ete pleit.

Kok-speel is nie maklik nie,
ek durf ook nie die dieet vergeet nie.
Take-aways is mos altyd vinniger,
maar dit maak my lyf net al hoe stewiger.

Wie ook al gesê het kosmaak is maklik,
weet duidelik nie ek in ’n kombuis is gevaarlik.
Van spyskaart uitwerk tot inkopies doen,
en dan nog vir Kersfees ’n hele kalkoen!

Kul jou hier en kul jou daar,
hierdie sjef se idees is klaar.


 

Candice Cloete

Uitgevriet

Daar is ’n bet onder die cashiers
of jy die kersietamaties sal los.
Die spel begin
die kosprys-gladiators vergader: Eerste rondte

Die antie met die vierbeenkierie
wie sweef in afwagting
monitor die halfprys-stickers
die kleur is in kompetisie met dié van die soet oorryp rosatjies –
die bonus prys.

Met die spoed en grace van ’n gesoute jagter
maak jy jou mandjie vol.
Jy konsentreer, jy’t die gesig van ’n kraai
Die oorblywende item: daai eksotiese vrug,
wat al drie weke wag vir eksotiese smaak

die antie knip haar oë, sy twyfel.
Was daar regtag so min kos afgemerk?
Sy kyk nuuskierig in jou trollie
sy brom: jy het die morele kompas van ’n tamatie.

Die pepersous is net-net buite jou bereik
jy strek en gryp tot die ander ook afval.
Die klank weerklank in kompetisie met
mense wat hande klap
jou gewoonweg tjoepstil gewete sê:
iemand anders se probleem.

Dieselfde gewete wat jou ook toelaat
om ’n boemelaar direk in die oog te kyk en te lieg
verbied jou om die tweede rondte uit te sit.

Jy vat ’n ketel van die rak af
die vroutjie langs jou smile want sy weet –
dis cheap maar onprakties
sy kyk na die rooi stickers in die res van jou trollie,
en kies stilte.

Tel op, sit neer
tel op, sit neer
totdat elke avokado die letsel en stempel dra
vir volgende week se sale.

Die skare vergader om jou
gesamentlik verdwaas: wat doen een mens met ses sakkies beet?
Die supervisor probeer jou oog vermy.
Laas week se interaksie met jou het haar bonus gekos
en 10 minute van haar lewe
jy vra iets, sy laat jou wag ...

Jy kla oor ’n tienrand-komkommer.
Die mense agter jou in die lyn gee op.
Jy kry ’n vuil kyk van die sekuriteitswag,
die ander deelnemer van rondte twee
wie vrede moes maak met die halfbrood en Sprite.

Daar is baie min viennas in die pakkie
die cashier wonder: wie kyk en wie eet?
Het jy ’n groot familie, of is jy net uitgevriet?


 

Mana Wessels

Etenstyd

Ek dek my tafel met silwer en ’n linnedoek
ek vra my Heer om aan te sit
en my te seën
om weg te neem wat blok en keer
dat ek my oorvloed weg sal gee
elke dag
meer en meer


 

Aileen van der Zwan

Jou stoel is leeg

Om ’n passie te hê beteken dat jy onvoorwaardelike liefde moet toon
’n Begeerte om die wêreld se dors te les,
Ek was elke dag met ’n krummel pap en tee beloon.
Die heelal is afhanklik van voeding en hoop.
Jou pos staan leeg, jou lewe wag vir die mes.

Die mes van ons lewe moet diep binne sny.
Die begeerte om daagliks te veg vir jou volgende vertroosting.
Jy, ja, jy! Jy gaan nog lank moet veg vir môre se bord.
Jou plek by die tafel is leeg, jy rus in vrede.
Honger, maar in vrede.
Jou beendere was lig gewees.

Jou vriende het bygedra tot ons genot,
Vir net so lank.
Die trane het opgedroog, net soos my kaste.

Jy het nie geweet wat om vir ons te sê nie,
Jy was net te bang om te praat.
Ek wens, o, ek wens dat jy net iets wou woord.
Woorde wat ons almal sou kon laat bekommer het.
Woorde wat ons almal sou kon laat saamwerk.


 

Antoinette Venter

Die dissipels het vergeet

"Jesus het die vyf brode en twee visse geneem,
opgekyk na die hemel en God se seën daarop gevra.
Hy het toe aangehou om die brood in stukke te breek
en dit saam met die vis aan sy dissipels gegee om aan
die mense te gee" (Lukas 9:16 NLV).

fees van die gesalfdes
offervure knetter honend hemelhoog
boepenspotte lensiesop
halleluja! halleluja!
ringbelaaide hande in ’n bedeboog
Mammon, o my grote god
die gemeste kalf is uit die put
halleluja! halleluja!
vetblink lippe
plunder die spens
fees van die uitverkorenes 

in die skadu van die vuur se koue as
krap ’n verstotene in ’n roetbevlekte pot
niks om vir ’n hand vol lensies te verruil
tong se vlam verjaag ’n honger hart
skop die vrou en kind tot in die put
al verlossing is die dood
nêrens is geseënde brood
naakte hande in ’n bedeboog
oë gerig op laaste hoop
o my God, u dissipels het vergeet
wanneer stuur u weer u seun?
ons ongesalfdes moet ook eet


 

Nicolene Pienaar

Deur die venster

Asem in dan weer uit.
nou is ek spyt
met my maag wat grom
sien ek nog kos aankom

Al die geure van die kos.
maak my honger mos
gerookte vark, beestong en stert
en eenkant ’n verlate yskastert

Ek ruik nog ’n keer.
en vat ’n happie van elke geur
hoenderboudjies en vlerkies,
stampmielies en ertjies.

Soos ek deur die venster loer.
Myself ’n stukkie droë brood voer
vergete en verlate
staan ek in die strate

Met my stukkie ou brood.
veg ons die dood
van ’n tekort aan kos
is ek honger mos

Met hulle borde vol.
staan ek buite met ’n honger kol
knyp my oë toe gou
voor ek my oë uit grou.

Ek wens ek was daar.
die lewe hier is te swaar
sonder daai lekker kos
bly ek honger mos

As ek maar net daai kant kon wees.
Dan sou ek nie die dood hoef te vrees
kos vir dae aaneen
Wat ’n reuse seën ... (Sela.)

Ek maak maar my oë weer oop.
En sien ’n kind se bord opgehoop
en hy weier om te eet
jy kan maar dít vergeet.

Skielik staan ek en snik,
want ek weet daai gaan na die asblik.
Wel vandag is ek geseënd mos,
want ek kry sy bord kos


 

Johan van Rensburg

Sou mý huis só kon proe ...

Sou mý huis kon proe
Soos my ouma s’n!
Koester klamme beskuit
Snoesig in doeke gewin.

Beskermend omarm
die geur van kaneel,
veilig en geborge –
waar alle séér weer kan héél ...

Ons hulp het verrys
Uit die reuk van skaapboud en rys
Gesondheid gegun
Uit die méér – nie die min ...

Melktert en souskluitjies
En môre wás ons beter!
Toe meng die soet en die bitter ...
Toe word asyn die eter ...

Mý huis proe na kilojoulebeheer.
Vetvrye lae GI en ’n kiemvrye kombuis.
Waar kom ons hulp nou vandaan?
Van die ghoeroes wat ons tot gesond eet maan ...

As my huis maar kon proe
Soos my ouma s’n
Sou doktersonkostes en dieetprogramme
My siel nooit kon oorwin.


 

Hermi Baartman

Boerekos vir Boetie

toe Boetie uit die Ooste terugkeer
neem hy hom voor
hy sit nie sy mond aan noedels en vlermuis weer
sy ma sal vir hom sy gunsteling kos optoor

dit is poetoepap en kaiings vir ontbyt
’n wekkertjie vir sy billike aptyt
in die swartpot gesels die skenkels en rooiwyn
kapokaartappels maak sy met botter fyn

pampoenkoekies swem dekadent in kaneelstroop
babaworteltjies word in lemoensap gedoop
daar is boontjies, ertjies en geelrys
jelliekomkommer en beet-roomvorm voeg sy by die spys

die malvapoeding, net effe lou
tipsytert maak sy nou-nou
vir vieruur is daar melktert
met skilferkors ’n VLV-prys werd

aandete berei Ma lewerskilpadjies in netvet
gevolg deur murgsagte afvalpot
pensies, kop en pootjies, die lot
die lekker huiskos sal hom darem laat vergeet
van al die volksvreemde goed
wat hy oorsee moes eet


 

AJ Annandale

Beetaardigheid

Dit was ’n Maandag.
’n Aardige dag,
Toe die juffrou met die wit rok,
in my rigting mik met daardie rok.

Dit was verseker nie kos.
Daardie lepel rooi beet wat na my toe mik.
Sy mik in my rigting met die sogenaamde kos.
Wat ’n fout om in my rigting te mik!

Ek voel hoe die glibberige rooi sensasie speel.
Hier in my mond die tassensasies oorvleuel.
Ek trek my kuwe na binne.
Na die diep riwwe, na binne.

Dis tóé dat die rooi massa uitspoel.
Reg oor die juffrou wat woel.
Die juffrou se wit rok wat spoel.
En ek dink, juffrou moenie so woel ...


 

Jean-Marié Coetzee

Lus na die verlede

Die soet smaak –
heimwee,
               herinneringe en drome
saam gevleg,
bekende gesigte –
                              gesellig
om ’n kombuistafel,
gedek met geure en reuke
                             geberg in óú kamers
van die geheue,
’n hongerdrang –
                gevul met verlange
na ’n tyd wat was,
                             wil-wil weer wees:
lê versper in ’n nou
    met hongerpyne,
                               gestil
             ten spyte van
                                leë kamers.

Verlange en weemoed:
dít wat die ewigdurende dors les,
is geberg
                in ’n droomfles,
hartkamers vol vreugdes –
             ten spyte van
                                 armoede en ’n leë nes.


 

Matilda Swanepoel

Vraatverraad

Jou verraad sny diep.
Diep hier deur die bodem van my blikmetaal-maag.
Soos klinkende metaal.
Niks liefde nie.
Dit maak my naar.
Wanneer smul jy klaar!

Jou verraad ruk my wese.
Die bietjie wat nog kan voel.
Daar waar jy aan jou koffie en burger sonder moeite sit en smoel.
My blik gewonde binnegoed herkou vanoggend se droë pap met suur melk.
Suur is iets wat my emosies goed verdelg. Suur want vir gewone kos is daar nooit genoeg geld.

Jou verraad vreet my versigtig op.
Jy kom nie eers agter ek hou jou dop.
Dalk sien jy my maar is al so gewoond.
Dis mos normaal.
Dis die wêreld wat ons in woon.

Jou vraatverraad.
My gebrekkige gewaad.
Dis ’n brousel wat gal in my mond agterlaat.
Wanneer smul jy klaar.
Jou vraat.


 

Marileen Steyn

Die eerste maaltyd

Geen twaalf
Net twee
Klinies wit
Half geklee

Honger hande
Harde huil
Sagte trane
Skaamte skuil

Rou vrees
Niks roer
Niks help
Bloot rumoer

Sonder maal
Verloënaar gevind
Hart gebreek
Vat weg my kind!


 

Sanet van Niekerk

Boetie boet, jy proe die soet.
Al wag jy nog agter die muur omdat jy moet.
Nie meer lank nie, glo jy nou, sal hulle kom, die asblik ’n diepe blou.

Die appels, brood en stukkie koek,
vir hulle net iets wat hul nie soek,
maar tuis weet jy is hulle moeg en
desperaat na iets wat net kan voed.

Die hongerpyne ’n rukkie stil,
en môre weer, nie omdat jy wil,
sal jy weer waghou, baie stil.
Totdat die asblik jou begroet, ’n oase van iets stink, iets souts en soet.

Boetie boet, jy proe net soet!


 

Chenette Combrinck

Hongersnood van die hart

So selfsugtig soos wat dit kan wees,
Is die enigste hongerte van die mens nie bloed en vlees.

As kind,
Kon ek nooit die beskrywing of bewoording vir die term vind.

’n Hongersnood van die hart
Is meer as die kos wat jy vanuit jou yskas kan vat.

Die gevoel van koestering, veiligheid en sekuriteit
Was saans so broodnodig dat ek snags gesit en snik het langs my ruit.

Die hongersnood van die hart
Is ’n hongerte wat ek gedink het nooit sou genees
Maar tog in die donkerste van dae was ek ’n paar jaar terug gered vanaf my vrees

Daar is soms dae van die verlede wat deur die krake kom,
so erg dat ek sommer net die klipharde gedagtes vermom.

Party is soms moeiliker as ander
So en so dat ek wens ek kon verander.

Maar was dit nie vir hom,
Ja jy
Wat my deur daardie dae kon kry,
Het ek nog nooit gevoel dat ek meer as welkom is om te bly.

’n Hongersnood van die hart
Is ’n hongerte wat jy dink jy nie maklik van sal kan herstel.
Mag dié gevoed word wat nie die hongersnood van hulle harte kan verduidelik of vertel.


 

Martie van den Berg

Pa is afgelê covid
Moedeloos
Geld is skaars
Koskas leeg
Broodgeld vir môre krap in die koskas
Meel maar geen eiers dankie tog hier is sout
Middagete moet klaar
Potjie op stoof roer en roer trane brand die oë proe sout op die tong
Bloublokkie-tafeldoek op tafel
Wit papborde.
Halwe oop blik gouestroop se soet reuk.
Kos is op die tafel roep Ma se gebroke stem.
Dankie Heer vir wat ons eet.
Laat ons nimmer U vergeet. Amen


 

Michelle Thomas

Opskeptyd – hoe mis ek jou
Opgedra aan my liefste man, Patrick

Vier borde ... elke aand vir twaalf jaar
Vier mense, vier siele verweef vol liefde
Om ’n tafel gesetel of voorie TV bymekaar
Dat jý egter sou wegval kon niemand voorsien

Ek ken niemand wat so smaaklik kon smul
Jy was tevrede met enigiets wat jou maag sou vul
Ek sien jou nog so voor die wasbak staan, kaal bolyf
Pure lekkerte oor jou hele gesig geskryf
Vooroor gebuk, suigend aan ’n mangopit
Geel, sappige sous wat langs jou mondhoeke afdrup

Hoe mis ek jou tergende, laggende oë
As ek skel oor ’n kerriekol met misnoeë
Dit het jou min geskeel
Met skoonma was dit klaar gereël
Kerrie sou sy kook met ’n lang sous
Spesiaal vir jou ... nes jy daarvan hou

Uitsoekerig was jy geensins
"Jy kan my enige dag vis gee!"
Gebakte snoek, gebraaide snoek, snoekbiltong
Maar volgraan "wraps" was vir jou ’n
onding!

Ek mis jou hande ... groot en sterk
Hande wat om my lyf slaan
Om dankie te sê vir ’n lekker maal
Kos op ons tafel uit jou hande, grof gewerk

My man ... aan die begin sonder jou
Die seer nog so ondraaglik rou
Saans aan tafel gewurg aan die kos
En afgesluk met trane vol sout
Wyl jou oë uit ’n foto na my staar en vra wat's fout?

Vier borde word nog steeds uitgepak
Want my oudste het ook huis toe gekom
Ek kook kos om jou te onthou
Met ’n liefde ... wat nie kan verflou


 

Lizelle Olivier

Harte wat smag

In die oggend met sonsopkoms
Staar ek na die hemel met ’n frons

En ek wonder hoeveel mens en kind daar buite
Sit en staar met oë vol trane deur vensterruite

Is dit die gesmag en honger na ’n vredevolle lewe?
Sal God ooit die mens kan vergewe?

In ’n stukkende wêreld so hard ...
Die kleur in my binneste is swart ...

Is dit die honger van ’n kindermagie wat grom?
Hoe kan mens die lewe in een woord opsom?

Armoede ... of geweld ...
Is die antwoord dalk ’n tekort aan geld?

En ek bid ...
God gee tog vir elke mens vandag ’n ietsie op sy bord
Want wat gaan tog van elke kind en mens word

Of dit nou ’n honger na bord kos of ’n vredevolle huis
Asseblief Heer neem elkeen se kruis


 

Sandra Lategan

Verbode oorvloed

hy druk die roosterbrood styf teen sy neus
teug die reuk diep in
voel die speeksel bruis en trane op sy wang
hoor al die kraak knars tussen sy tande
die versoeking is groot
maar die pynmonster lag vir hom
want ’n rooiwarm vuurbal gaan vreet
aan sy ingewande
sal hy dit waag en die monster uitdaag
verbode vir jou sê die monster
hy laat die roosterbrood val


 

Sharon Janse van Vuuren

Honger

Geen mense wat nog nooit honger gely het nie.
Sal verstaan wat honger ly is nie.
’n Knaende gevoel in jou diepste, diepste maag.
Wat aanhou en aanhou.
’n Gevoel van smag na iets wat nie bestaan nie.
’n Smag wat nie bevredig kan word nie.
’n Gevoel van jou maag wat jou maag eet.
’n Gevoel wat diep in jou diepste eet.
’n Diepste wat geen diepte kan voed nie.
’n Pyn wat nie gevoed kan word nie.
’n Gevoel wat so diep lê dat jy self nie weet wat jy daarmee moet maak nie.
’n Diep lê, knaende verlange na net ’n krummel, ’n krummel van ’n krummel.
’n Krummel wat net jou knaende hongerte kan demp.
’n Hongerte wat niemand ken as hulle dit nog nooit gehad het nie.
Dis wat ’n hongerte is.
’n Diep, diep gevoel van niks.
’n Leë leeg wat net nie gevoed kan word nie.


 

Adéle Theron

My liefste Ouma ...

Hy probeer nog keer, maar
tee drup uit haar mond
en die eier streep
skeef teen haar swak lippie

Sy kyk na hom,
haar trots, hierdie kleinseun
met haar groen oë

Hy vang haar traan
tussen sy vingers vas
en vee die strepie geel
saggies daarmee af


 

Marlene Erasmus

onthou se smaak

as ek loop op gister se spoor
wil ek myself in onthou verloor
kerriekos met appelkooskonfyt
om nie te praat van mosbeskuit

Sondae was dit gebraaide boud
aartappels bruin, kraaklekker sout
groenboontjies met stukkies spek
wat wou maak dat jy die bord uitlek

tamatiebredie soos Leipoldt sou
wat jou in vrede kom toevou
dan nog souskluitjies en melkkos
so kuier-kuier raak die tonge los

geelrys wat op ou kolestofie prut
wyl ouvrou-onder-die-kombers dut
geure van koljander en neutmuskaat
versigtig afgemeet in presiese maat

daar is geen hartseer so groot
as dié met geen begrip van nood
van talle wat regte honger ken
in stryd om asgatgrawery te wen

daar is ’n groter seer wat kos nie troos
as jy smagtend eensaam en broos
die leemtes vul met nog ’n stuk roomkoek
terwyl jy eintlik net na aanvaarding soek


 

Henriëtte van Wyk

voedsel vir ’n menigte

"There are people in the world so hungry, that God cannot appear to them except in the form of bread." – Mahatma Gandhi

’n boom se vrugte is goed om te eet
loflik op die oë –
begeerlik selfs oor wat dit kan gee

vandaar die verleidelikheid van die paradysboom
toe die middelpunt van sin en betekenis
in die middel van die tuin     knarsend
versluier geraak het in die brood van sweet en barensnood

is daar meteens    in die stond van ’n hap
vir ewig en ewig
’n grommende honger en brullende lus na meer
oopgebyt     verorber     verslind     gesmak    

op elke hoë berg en onder elke groen boom
het die bewoners van die aarde dronk geword –
die oes van Babilon onuitputlik     onweerstaanbaar
die bodem van hul leegte verswelgend dors na nóg

Sy het haar fyn uitgestal, die listige brouer van ontrou –
kaneel en speserye, wyn en olyfolie, koring en meel
konings, sakemanne, seemanne en ook alleman
het gedril in die valse saligheid van eie oordaad

tot daar sewe donderslae dreun en ’n stem uitroep:
"Eet en verteer die boekie uit die hand van die sterke –
sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die land!"
Elke volk en nasie     koninkryk en monargie     moet dit op die tong lê

’n boom se vrugte is goed om te eet
loflik op die oë
dog    die blaaie van die boekie is heuningsoet
begeerlik selfs     oor wat dit die menigte versadigend gee


 

Melanie Lohrentz

Die bure

Dis vyfuur en ek is moeg.
Ek het heeldag hard geswoeg.
Die rusbank bring effe vrede
wanneer ek hom inploeg.

Ek hoor ’n pot wat klinkel, iewers in ’n kas,
Maar dink aan die wasgoed wat ek nog moet was.
Om ma en vrou in hierdie tye te wees,
is ook maar ’n verskriklike las.

Daar is ’n reuk wat in die lug hang,
dit trek al die pad deur die lang gang.
In die kombuis ruik ek dit sterker,
’n Ui wat braai is wat my neusholte vang.

My neus steek ek by die agterdeur uit,
en ek loer deur die woonstel langs myne se vensterruit.
Daar sien ek ’n vleisie in ’n pan,
so lekker randjie vet wat braai en fluit.

Ek draai terug en staar na die halwe bruinbrood op my kombuiskas
en ek wonder of daar ’n bietjie jêm is in die warm yskas
vir my om op ’n snytjie te smeer,
terwyl ek wens dat ek so gelukkig soos my buurman was.


 

Cara Pretorius

Belowe my die

Jy se jammer jy kanie vir my gee wat ek wil hê nie
Mar ek het meer as meeste
Jy probeer alis om vir my te gee wat ek nodig het
En ek sê altyd ek het ’n dak oor my kop en kos in my maag, dankie

Jy is lief vir my
Tenkoste van jouself
Jy sit my eerste
Jy din die minste van jouself

So belowe my die
Dink meer aan jouself
Moenie lat iemand jou gebruik nie
Wees lief vir jouself
Ek weet dat ek is wie ek is asgevolg van jou


 

Charlotte Beukes-Muundjua

monoloog
(vir my stom eksman)

laat my toe
om met my krom vingers
vir jou neut-vars woorde skil

rus-rus rasper
versnipper of kerf
nes jy verkies
dan subtiel geur met leestekens
(jou geliefde kommapunt sorgvuldig geknoop
in bouquet garni)
soos jy verwag

met uitgebleikte Valentynsvoorskoot
wens ek jou vir oulaas bederf
met sop
wat langsaam prut
kragtig, organies
soos jy steeds verkies

nog een probeerslag
’n skoon sop
aperitief
vir jou woord-anoreksie


 

Belinda Simpson

Pasta op die tafel

Macaroni en kaas met soppoeier-smaak.
Word in een groot pot op die stoof gemaak.
Foeter bestanddele saam en noem dit ’n ete vir vanaand.
Die saamgeperste ete word in blokke gesny en op ’n ronde bord bedien.
Steek jou vurk in die middel en voor jy hap spat dit oor die tafelblad.

Spaghetti bolognese word in elke taal dieselfde geskryf.
Lang slap wurms gedoop in uie-en-tamatie-smoor met ’n blerts maalvleis om die ete te kleur.
Kry jy dit in jou mond is jou kieste volrond.
Rol die spul op jou vurk en voor jy hap is dit kaplaks op die tafelblad.

Noedelslaai met skulpies of gedraaide skroewe en ’n hoop bestanddele.
Die slaai is vullender as die ete.
Kerrie, uie en tamatiesous klink soos ’n ete op sy eie.
Die enigste verskil jy mag hom met ’n lepel eet, want daar is mayonnaise in.
Die slaai bly in die mond en die sous loop oor die mond.

Pasta vanaand is die algemene naam.
Al is daar fancy name soos fettuccine of rigatoni en nog baie meer wat ek nie kan spel of skryf nie.
Pasta is vullend vir die maag en bekostigbaar vir die maand.
Die algemene naam bly pasta op die tafel.


 

Erika de Jager

Ek sink

Met elke hap kos, koek,
brood wat ek vat
haat ek myself al meer:
vet, lelik, onversorg,
vel grof, beenhare ongeskeer

Dis of alle omgee,
alle trots uit my gestel is
net met die yskas, koskas, broodblik
het ek ’n eensydige verbintenis

Die skottelgoed is nie gewas,
my bed onopgemaak,
niks skoolwerk is gedoen nie:
en wat maak dit tog saak?

Daar is niemand wat dit raaksien,
vir wie dit pla,
niemand wat kwaad is of enige vrae daaroor vra

Dis net ek
alleen,
so alleen
met net die tv wat praat
aaneen ... aaneen ...
Terwyl ek daarna staar
sonder om te hoor
weet ek ek is besig om dieper te sink
om die stryd heeltemal te verloor ...


 

Aangebied in samewerking met die

  • 3

Kommentaar

    • Goeiemôre Corne,

      Dankie vir jou navraag.

      Ons plaas inskrywings in groepe van 40 in die volgorde waarin ons dit ontvang het. Daar gaan nog groepe verskyn.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top