
Foto: Unsplash
Hier is die 10de groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.
Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.
Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.
..........
Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.
Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:
Bester Meyer | Jos Cloete | Amber Nicolle Visagé | Marietjie Venter |
Hermien van der Poel | Gerrie Keen | Shaun-neil du Bruyn | Juanita van der Westhuizen |
Rouxnique Vermeulen | Liezel van der Merwe | Hester van Rensburg | Nicci Barnard |
Nicoline Lingenfelder | Annelize Cloete | Christo Visser | Annalene Kinghorn |
Sanri Bouman | Annie Farao | Helen Liebenberg | Axliane Meyer |
Marleze Cloete | Hennie du Toit | Inandi Smit | Michael Abrahams |
Suzaan Hester Erasmus | Georina Westraadt | Leo Hoekstra | Pedro Koetzee |
Irma Steffens | Marthie Botha | Werner Steyn | Margaret Cordier |
Raymond Rympies Evertse | Jacqueline Brits | Jeannie Nieuwoudt | Quzette Bosman |
Lara Badenhorst | Luandi Uys | Kobus Grobler | Dayne Nel |
Bester Meyer
26 Desember 2021
Freedom is meaningless if people cannot put food in their stomachs – Nelson Mandela
In die kombuis van ’n vakansiehuis
maak Man Oosterse groentegereg en rys.
In motorhuis van huis sit Russel Mabaso
tuinier en opsigter voor televisie
en kyk hoe Tutu gehuldig word –
Man en Mabaso en Tutu
– selfs hulle vriend die Dalai Lama –
almal reisigers van die wind
soekers wat dalk nooit sal vind:
ter aarde bestel
om te eet te drink te vrolik wees
want môre stap ons soos
opregte vry-hede
die stembus tegemoet
waar die rye lank is
en dit nét mense soos Man en Goethe is
wat ’n volgemagtigde verteenwoordiger
sal kan bekostig
om namens hul
in die ry te wag vir kruisiemaakslag
Man lag in sy mou as die gemeenskap hom
en ouens soos Goethe geleerdes noem
en wens hy kon eerder
in die motorhuis van dié huisie by die see bly
elke dag môre in die see se branders baljaar
en soos die Dalai Lama op die strand in zazen sit.
Vir nou, egter, staan hy in die kombuis
en maak soos ’n barmhartige Samaritaan
vir hom en Mabaso
– Zoeloe van Izingolweni se geweste –
’n Oosterse groentegereg ter herdenking van Tutu se lewe
Man skep die gereg vir hom in ’n vakansie-hou-bakkie;
vir Mabaso in ’n blikbord soos sy ouma hom geleer het
en kry grootkop oor sy daad van medemenslikheid.
In die motorhuis staan Mabaso en sny aartappelskywe
uit ’n sak aartappels wat Man vir hom
en sy familie as Kersgeskenk uitgeloof het
Man voel in die gesig gevat toe hy Mabaso se blikbord
in motorhuis kom neersit, om verlief te neem
dat Mabaso – vir nou – eerder wil smul
aan doodgewone slaptjips
Man gaan sit voor rekenaar
en verwerk Tutu se dood, Mabaso se nood
maar ook die nood van die bakhandkinders
wat hy op sy reise van Port St Johns tot McLeod Ganj ontmoet het.
Hy wens dat hy ’n lys kon maak soos Oskar Schindler
en in stede van Joodse name
die name
met Zoeloe, Khosa
selfs Indiese hande vervang
en in stede van ’n belofte
op moontlike immuniteit teen mense soos Goethe
aan elkeen op die lys
’n sak aartappels uit kan loof
en te weet
dat dié wat nie op die lys is nie
weldra – per trein – verplaas sal word
na die arms van hierdie neo-liberalistiese nag
om gedienstig gedwee op net nóg ’n stemdag te wag
Jos Cloete
Smullekker tjoppie!
Skryf is my kos – dit maak Jos se gedagtes los!
Skryf, Jos oor kos – kostelike, kosbaar Afrikaans!
Kosmos kos mos niks!
Kos kos mos altyd te veel – so word verbeel!
Nammies jammies – die lekker skaaptjoppies!
Die mooi begeerlik verpakte vleisies, met watertandlekker vetjies!
Oom Timmie het ons verlos van die skyneuwel van vetjies en vleis se geraai!
Dankie tog – maar ai tog, ek sou kon doen met nog ’n halfmiljoen!
Kyk die prys van vleis – was dit dan stoetramme?
Die boer loop verstom verby – as ek dit maar net kon kry,
sou my bankbestuurder my prys en ophou preek!
My vriend –
Vat net die tjoppies en loop – braai, jou vrou is dit wragtig werd,
dalk maak sy nog ’n tert, soos net jy daarvan hou, vir poeding.
Kou te veel aan die prys van kos, laat jou die gesondste, lekkerste, los, glo vir Jos!
Los die kitskos en die goedkoop goedjies – koop duursaam en min!
Te veel bekostigbare kos eet, kos jou weer die onbekostigbare vetrolletjies!
Te veel kos maak net die skaal boos en nors!
My vriend –
Eet min en lekker gesond soos oom Timmie sê!
Eet om te lewe, eet met ’n lekker hart!
Eet jou vleiskos, los gemorskos,
Eet my woorde – sê Jos!
Amber Nicolle Visagé
tien jaar
op die ouderdom van twee
was daar niks wat ek lank begeer
op die ouderdom van twaalf
was ek reeds te vêr verslaaf
aan mense se menings en
het ek hulle opinies geleen en
verruil vir validasie
het ek geglo en gesweer en
probeer om alles vir almal te wees
Tevergeefs.
twaalf was
te vroeg
om te verstaan
twaalf is te vroeg
om te verstaan
dat tyd nie alles regmaak
dat wonde mense suur maak
dat mense mekaar seermaak
dat die wêreld eintlik sin maak.
oor so goeie tien jaar.
vandag het ek die sleutel tot sukses
vandag besit ek die geheime resep
vandag weet ek om myself te bevredig
moet ek meer verstaan en minder verdedig
vandag weet ek 10 jaar gelede was ek net so seker oor my gevoelens en menings
dalk is twee en twintig ook te vroeg
om te verstaan
dat alles altyd sin sal maak
Oor so goeie tien jaar.
Marietjie Venter
Honger
Vasgevang in ’n wêreld vol ultimatums, perfeksie, honger, dors en gruwelike trots, lê die trane van ’n dogtertjie soos dou op die grond.
Soveel hoekoms en waaroms op papier saamgevat maar nêrens gee dit uitkoms vir die honger wat knaag.
Jy sê God sorg vir jou en vir my, en tog sit die leë kol, uitgeteer staan sy met handjies uitgesteek vraend bedelend na haar volgende stukkie kos.
Oë wat skroei haar siel deurboor wat het die kind om te verloor. Gebede, trane, verlange en hoop dit is haar kos haar anker haar droom.
God van Israel Jacob en Josef vul my versterk my, dra my o Here help my. Smekend, hopend op die ashoop net ’n gebed maar dis net die Here wat my nou kan red.
Armoede verswelg, verteer, verarm mens o Heer, vul die hongerpyne voed die siel die donker kommer verdryf nie die honger.
Knielend, vraend, biddend staan sy die arm honger dogtertjie voor my.
Hermien van der Poel
My droomwêreld
Ek kan die dag nog goed onthou
Boet en vriende lag vir my maag
Ek was maar vyf
Watervaltrane wat nie wil stop
Vet en lelik
Dis my enigste definisie
Al wat lekker was
Is skielik ’n straf
Met dit, kan ek nie,
Sonder dit, ook nie.
Is ek meer as die vel aan my lyf
Meer as die konstante baklei
Moet ek of moet ek nie?
Eet net minder
Oefen net meer
Is dit?
wat my lewe regeer ...
Die spieël
Reflekteer nou nog
Net my lelik
Dis al
Nie glimlag, gesig, hare of oë
Kan my laat glo
In innerlike skoon
Selfbewus oor elke krummel
Skuldgevoel diep binne
Knop in die keel vir
Depressie
Anoreksie en
Net ’n bietjie
Vetsuggie
Waar sal dit stop?
Maar geen genade is daar
Vir siele soos ons en
Blindelings struikel ons voort
Ek wil net weet,
Is ek meer as
Wat ek
Eet?
Of lewe ek maar weer in my droomwêreld?
Gerrie Keen
’n Hand wat gee
Soveel mense het nooit swaargekry
en sal eerder by ’n bedelaar verbyry
sonder om eens ag te slaan
op die emosies wat op sy gesig staan
met ’n beursie styf toegemaak
oë toegesluit vir sy saak
hart gesluit vir sy seer
hy kan mos op ’n ander gaan teer
"Vader," smeek hy in sy gebed,
"Wat is dit wat die mense so verander het?
Het niemand meer ’n meegevoel
lewe almal nou so sonder doel?
Waar het alles verkeerd gegaan
het hulle ooit die boodskap verstaan
Om U te dien moet ons na mekaar omsien
om so ’n plek by U te verdien"
’n Klein handjie vat aan sy soom
"Hier is iets om te eet, Oom.
Dit is nie baie, dis al wat ek het
die Vader het geluister na oom se gebed"
"Nee, my kind, jou hart is rein
jou gebaar is groot, selfs al is jy klein
luister nou na wat ek wil sê
en vertel vir almal wat ek wil hê"
"Tweeduisend jaar terug was Ek ook hier
My Vader het My nou weer hierheen gestuur
om die mense se harte aan te raak
sodat hulle, in plaas van oorlog, vrede kan maak
om hulle te leer om mekaar se laste te dra
om barmhartigheid te toon sonder dat iemand daarvoor hoef te vra
My Vader wou sy oordeel oor die mensdom vel
Hy het hulle verdoem tot in die hel
maar deur jou kleine gebaar
het jy die ganse mensdom van uitwissing gespaar"
"My Vader het gesien wat die mense doen
vir hulle was daar geensins iets te versoen
hulle kyk neer op mekaar
nie eers die bedelaar word gespaar
maar My Vader het My versoek gehoor
Ek het gesê daar is nog goeie mense oor
gee My nog een kans om aan U te bewys
U het My nie verniet laat sterf op die kruis"
"Jy sal nou een van My engele wees
en die wêreld help genees
hulle leer om aan mekaar erbarming te toon
om hulle te wys dat Ek in hulle woon
dat naasteliefde nog bestaan
en dat niemand hoef te vergaan
en dat hulle dit reg kan kry
dat geen een van My kinders ooit weer honger hoef te ly"
Shaun-neil du Bruyn
Die haker se voedselkwessies
Wie weet hoeveel ’n haker kan verorber?
Wie weet watter magdom van kos ’n haker in sy mag in kan vorder?
Hoeveel keer was hy/sy al met ’n hoenderboudjie in die hand gestop?
Hoeveel keer moes hulle hul gevoelens daaroor binne opkrop?
Hulle word wakker met ’n vreeslike honger.
Niks is onduidelik, als is konkreet.
Hulle word wakker met ’n oorverdowende hart en blasende longe.
Geen bord kos gaan hul van die honger laat vergeet.
Elke posisie het hul eie kenmerke.
Elke posisie het hul eienskappe, maar ’n haker s’n is definitief sy pens se rekmerke.
Geen slot, senter, stut of flank
sal die honger haker kan stop wat jaag agter die yskasklank.
Nie te meer
vir hom sal jy nie kan keer.
Die trok haas na die koelkas vir die honderdste keer.
Soms word hul selfbeheer gehinder.
Soms is hul gesê "eet minder!"
Die haker probeer maar net die seisoen oorleef.
Ons is eintlik net lief vir die haker wie se vetterige vingers in ons besorgde hartjies in weef.
Juanita van der Westhuizen
Verterende soeke
moederliefde
koesterkos
proe soos
kerrie op ’n koue dag
geestelike wanvoeding
vreet aan die siel
soekend na vervulling
hoenderpastei
berei met liefde
en ’n skeutjie
vertroosting
soete verleiding
fluweelsagte poeding
en warm vla
emosionele oorvreter
onblusbare honger
hunkerend na sielskos
Rouxnique Vermeulen
Anoreksie
Jy het my gekies
Jou voedsel weggestoor
Om jou honger te smoor
Net een kilo verloor
Jy het my gekies
Vir ’n liggaam so skraal
Sal enige prys betaal
Solank die nommer op die skaal net daal
Jy het my gekies
Om jou sleutelbeen te wys
Jou perfeksie te lys
Dat hulle jou prys
Jy het my gekies
Teen wins of verlies
Jou verander, stelselmaties
Jou refleksie vries
Jy het my gekies
Dit was jou keuse
Gemaak deur vrese
My naam jou leuse
Jy het my gekies
Ek is deel van jou
Met leuens toegevou
’n Maandag so blou
Jy is deel van my
En ek van jou
My naam is Anoreksie
Liezel van der Merwe
Gee ons ons daaglikse brood ...
Here ...
Wat het U bedoel?
Coke, brownies en dagga
Of wat van hierdie honger-hart-gevoel ...
Glo ek te min ...
Bid ek te min ...
Eet ek te min ...
Here, wat doen ek te min?
want hierdie honger hart word net nie gevoed nie
en Here ek het nie meer moed nie
Gee ons ons daaglikse brood, Here,
laat ek van U eet
woord
vir
woord
Hester van Rensburg
Alles wat mooi is
My bord is ’n gevulde palet
En ek die skildery
Binnekort gaan dit alles deel word van my:
Helder geel-oranje, rooi en dowwe groen
Met so bietjie Titanium Buff en wit
En as alles op is, skraap ek dit mooi skoon
En teken dan daaronder
Want dis deur myself gedoen ...
Nicci Barnard
Kos vir ons liggame
Kos, ’n voedsel, als wat ons eet.
Dit kom in baie vorme, soos wat jy weet;
Vleise en groente en allerhande pappe,
Vrugte en lekkers en gesonde sappe.
Kos is nodig vir lewe op aarde,
Dis gegroei in die grond vir jare en jare.
Diere word geslag vir hulle vleis en vel
Net sodat ons dit kan geniet met ’n pel.
En nou, as jy dit hoor,
Klink dit naar en mal
Maar as jy hoor wat in ’n fabriek gemaak is,
Sal jy skoon van jou stoel af val.
Duisende tjips en swieties en lekkers
Is gemaak met chemikalieë deur moeë werkers.
Nou dink jy vir jouself;
"Is dit rêrig wat ek eet?"
Wel ja, hierdie's als in ons daaglikse dieet.
Ons moet begin om beter na ons liggame kyk
Dit maak mos saak hoe hulle lyk.
Hulle is net so delikaat en fyn,
Miskien, eendag, eet ons oor die lyn.
Nicoline Lingenfelder
Honger
Die koue het tande vanaand. ’n Man lê buite, dis koud en reën.
Honger verteer sy liggaam, maak die vleis maar min om sy bene.
Geen genade word aan hom verleen. Geen huis, bed of matras aan hom geleen.
Die lewe is gemeen. ’n Sementtrap sy kussing. Sy teerbladmatras verteer sy liggaam.
Sy drome vir sy lewe lê veras in sy verlede.
Met ’n leë maag wat benoud na hom roep, kerm.
Hy druk sy maag net meer ferm vas. Die honger skree teen sy siel. Hy bid
"Liewe Heer, help my die honger kalmeer." Hy trek sy oor toe,
maak sy oë toe en probeer vergeet. Die lewe het hom verneuk.
Die berge lê wit van die sneeu. Ek glo sy kombers is reeds deurweek.
Sy verslete klere sit klam aan sy menswees vas. Honger, koud, uitgelewer.
Iemand sit ’n koppie sop en broodjie by sy kop neer.
Hy lig sy kop verbaas, dis soos manna uit die hemel.
Hy verslind die brood en sluk groot monde sop af, kou skaars.
Stilte kom in sy derms. Hul kerm nie meer. Hy kry krag vir die nag.
Vanaand was daar manna, maar môre onthou sy maag weer die honger.
Annelize Cloete
Anoreksie is sinoniem aan jou.
Stil,
Dis wat dit is in die vertrek.
My droë lippe skuur teen die koffiebeker
terwyl ek in gedagte die donker druppels teen die rand aflek.
Die see lê vandag weer doodstil voor my oë,
bedrieglik teenoor die misnoeë wat in my hart kom nesmaak het.
Die Ouma-beskuit lê en terg in die piering,
hoe ironies dat hulle nie werklik vertroosting kan bring
vir hierdie hart in my borskas wat in stukke geruk is,
soos broodkrummels wat vir die voëltjies gestrooi word.
My kop is vol golwe van emosie net soos ’n dreigende storm in die diepste see,
maar hier buite in die werklikheid is dit
Stil.
Die beker is nou yskoud in my hande,
iewers het ek tyd verloor in my hartgebroke gedagtes.
Miskien kan die mikrogolf die saak red.
Ek ruk regop, sleepvoet na die kombuis,
bliep, 30 sekondes.
Waar is jy nou,
noudat jy net weg is,
Dood, vermoor, begrawe.
Die reuk van koffie hang in die lug,
proe-proe of dit warm is.
Dit smaak nie reg nie, dit smaak dan nou so kits.
Terug op die rusbank kyk ek na die simpel piering beskuit,
dis dan waar my lewe nou kom draai het, hier voor hierdie besluit,
Die wêreld daar buite loop oor van honger mense
en ek gooi die koffie in die drein af, en verwens die gebak hier voor my.
My maag smag na kos,
my siel smag net na jou.
Dis dan waar die stilte my nou het
in ’n wêreld waar jy nog by die voordeur gaan instap
jou peppermint reuk die huis gaan vul, en jy my op my tone hou, want jy soek
Kos.
Die mensdom vergaan van die hongersnood
Maar hier in my sitkamer met die mooiste see-uitsig sit ek in dieper nood.
’n Behoefte aan jou soos ’n tiener met anoreksie
behoefte het aan dood, lewe, wie weet wat, kos?
Wanneer laas het ek iets geëet?
Wie weet.
Die storm in my kop wil my nie in vrede laat nie.
Die hongerpyne in my maag maak nie saak nie.
As ek ook nooit weer iets eet nie is dit nog te gou,
want al waarna my siel smag is net na jou.
Nou sit ek hier, uitgeteer, verhonger, verwaarloos,
want vandat jy weg is, is anoreksie sinoniem aan jou.
Ek wens jy was hier, ek sou die wêreld laat omkom van honger as ek jou net weer kon vashou,
maar nou
is daar net ’n realiteit sonder jou.
Ek staar voor my uit.
My maag soek iets te ete,
my siel soek net na jou
En om my is alles
doodstil.
Christo Visser
Versadig
Kom nader my lief,
kom proe die appelkoosbloeisels
van my enjambement, suiwer
die soutsmaak van my alliterasie en
die heuninggeur van my assonansie.
Raak liggies aan
die brosheid van al te broos
woorde oor my blanko blad,
soos krummels op ’n broodbord,
soos rasperkrulle lê hul hier rond.
Ruik die kraakvars
geur van perskesap en
pypkaneel in die reëls en sinne
wat, eensklaps uit die lug gegaps,
ek met jou hier deel.
Sien die anyssaad
soos elke mosbolletjie-strofe
goudbedek oprys, botterblink
en veersag, ’n geur wat rym
bring aan hierdie vryversdag.
Kom sit nou aan geliefde,
by dié feesmaal van woorde,
vul jouself met die gedigtedis
en drink die lafenis van
my goed beleë, wynrooi woorde.
Annalene Kinghorn
s(krap)s
krap krap
in my buitedrom
soek soek
na ’n korsie
hoe lank nog
kan ek
bekostig
be kos tig
om die plat
du jour
by spierwit tafels
te nuttig
hoe lank nog
of die krap krap
skop skop my
in die maag
Sanri Bouman
Brood van die lewe
"Het Miesies vir my ’n brood se sente?
Die Jirre sal dit vir mevrou teruggee met rente"
Vir die soveelste keer
Is daar nóg een wat my hulp vra weer ...
Ek was al ergerlik met hulle, soms kwaai
Al gedink: stuur hulle tog net in hulle maai!
Maar hoe min sal ons weet ...
Hoe die honger hulle van binne vreet.
Kinders wat vra met waterige oë
Hoe verduidelik mens vir hul om te bly glo?
Hoeveel van die SASSA kan hul werklik sien?
Honger is nie iets wat ’n kind verdien.
Party vra net "polony en ’n halwe brood"
Hulle drom almal saam by die winkel – klein en groot.
Ek het al ophou ergerlik raak:
Kinders se welstand is iets wat almal traak.
Die koskaste by die huis het lankal leeg geraak.
Mommy het die naweek die laaste pak cheap wors gaargemaak
Melk en suiker is ’n luxury
Daar’s ook nie meer airtime en koopkrag nie.
Hoe sê jy vir hulle om moed te hou?
As hul die halwe brood in hul arms toevou.
Iemand waarsku my: Mevrou, moenie gee
Môre "skarrel" hul hier net weer.
Maar honger vra nie ’n kleur of ouderdom –
Dis iets wat weer en weer terugkom
Mense wat het sal nie vra.
Dié wat niks het sal nooit kla.
Nes die groceries raak die planne op
Oor hoe om die hongerpyne te laat stop.
Maar dis ’n "sosio-ekonomiese probleem".
Sommige is selfs van hul familie vervreem.
Miskien is geloof juis om te lewe van dag tot dag.
Om – soos hul – op die Vader te vertrou
Vir hul daaglikse halwe brood wat hul toevou
Staande te bly deur Sy genade en krag.
Diesulkes het reeds die Brood van die Lewe ontdek
En van die Fontein van Lewende Water verniet gedrink
Eendag dek Vader vir hul ’n feesmaalplek
Daar waar strate van goud sal blink
Ook vir jou met die goeie hart:
Wat empatie het met ander se smart
Sal Hy ’n ereplek voorberei,
Hy sal sê: omdat jy vir jou naaste gegee het soos aan My.
Laat ons dan nooit moeg
word om goed te doen in lief en leed
Laat ons dan dink aan dié wat wroeg
Laat ons hulle nimmer vergeet
Hy beloof ons: Met ’n oop hand sal ons altyd hê ... Genoeg.
Annie Farao
Bedelaarskind
Op winkel se stoep
Jou wese gevorm deur storm en wind
Bedelaarskind, vuil en verflenter
Staan jy daar
Wonder jy soms oor die lewe se swaar
Van dag tot dag
Net ’n stukkie brood mevrou
Die rympie wat meesal teleurstel
Maar nooit nie verflou
Wat van winter se kou
wat naderkruip
Vuil, verflenterde baadjie
Stywer om vermaerde lyfie gevou
Bedelaarskind
Hoe het jy hier beland
Bedelaarskind
Verwaai deur die wind
Wat hoop jy om hier
Op winkelstoep te vind
Helen Liebenberg
Hol kol in my siel
Stop die mond, stop die praat
Vul die gate wat jou siel agterlaat
Sonder om te wonder, sukkel om jouself te vind.
In ’n doolhof ... ’n gevoel van leemte nooit verbind
Ek is moeg gepraat, oor dinge wat ek haat
Dis maklik om te prop om die gate toe te stop
Vatterige hande en vingers met trommels,
word burgers en melkskommels.
Oom met ’n snor en geel tande wat lag,
verander in pizza en lasagne wat wag
So verdwyn die pyn met 7 glase wyn
Jare se skelm kyke en vergrype
Word ’n leeftyd se vet met verwyte.
Wens ek kon dit keer; netnou gebeur dit weer met my.
Vet is gelyk aan lelik, so sê my kop vir my
Dalk hou hul eendag net verby
Ek eet myself vol, weg is die hol kol
Tot ’n halfuur later, dan word ek kwater
Sal die siklus ooit stop ... of was dit net in my denke soos die eerste pannekoekflop.
Axliane Meyer
Wat eet ons gees
God voed elke dag ons gees
Manna uit die Woord gegee
Brood gebreek
Om ons te red en te genees
Soos heuning op jou tong
Is die evangelie in jou mond
Soos uitgeparste druiwekorrels
Het bloedsweet van sy voorkop afgetap
Granaatrooi het sy bloed gevloei
Soos neute gekraak en gebreek
Is Sy liggaam vir jou en my
Brood en vis het Hy vermeerder
Hoop te gee keer op keer
Hy het sy skure vol kos gepak
Om ons gees te voed dag na dag
Marleze Cloete
Die manna in die leefstyl
Die sonsopkoms vroegoggend lei die koeie na die stal, nie ’n wroeging nie maar ’n leefstyl.
Die stoom van die kaaspot styg na die dak en die reuk van warm melk hang soos soet nostalgie in die lug.
’n Maand of twee loop verby en die liefde-arbeid van kaas maak staan soos ’n Kersfeesgeskenk en wag, dis tyd vir proe.
Soos manna uit die hemel, dit is vervullend. Vervullend nie net in die eet nie, maar vervullend vir die siel dit is die liefde van die saak.
Hennie du Toit
Ek vra net ’n stukkie brood
Asseblief meneer, help my tog met ’n stukkie kos,
al is dit dan ook net ’n droë broodkorsie.
Of as jy jou so ’n paar stukkies chips kan oorlos
sal dit vir my genoeg wees vir ’n porsie.
Ek het iets oor my lippe gehad, drie dae laas
maar ek dood eerder voordat ek iets steel.
Ek sal enigiets vir jou doen, selfs sê "baas",
as jy maar net jou broodkorsie met my deel.
Ek soek nie geld nie, net iets om te eet,
want die hongerpyne knaag aan my.
As jy vanaand asdrom uitgooi, moenie my vergeet.
As ek mag, sal ek jou afval daarin kry.
Maar die ryk man jaag die bedelaar weg.
Voordat ek vir jou iets gee,
gooi ek dit eerder weg,
al staan jy ook op jou knieë,
want as jy sleg is, is jy sleg.
...
Maande later verloor die ryk man sy werk.
Ouderdom en nasionaliteit tel teen hom.
Hy moet vir kos gaan aanklop by die kerk.
Hoe verlang hy nou na sy weggooikos in die asdrom.
My vriend,
honger is ’n werklikheid,
ras of ouderdom ten spyt.
So help vandag waar jy kan,
want môre is jy dalk ook die ontvanger daarvan.
Inandi Smit
Varkvet
Voorheen; verdrink in voorspoed
verswelg in die net van verbruikerswese
Bereid om te versmoor vir vark, vet, volk en
Vaderland
moederaarde hang aan die galgtou.
Kan jy haar hoor skree?
Verdoof
Michael Abrahams
Somaliland se sand
Die grys Somaliland se sand kners saggies tussen hulle opgehoopte blinkswart tone.
Met geboë skouertjies en magies wat grom en brom trotseer die drietjies aan.
"Nog net tot daai koppie," word daar gefluister.
"Dan is ons daar, dan is ons daar" Die son steek sterk en die honger knaag kwaai.
Uiteindelik bereik die drie hul huis vanaf die dorp so ver. Al nader tot die gehuggie. Die geur van die kos val die koel lug aan.
Tafels is gedek, met geel pampoen en skorsies groen.
Dis dadels en neute en piesangs en roomys, gedoop in ’n sousie soos net mamma dit kan doen.
Ons was die knopperige hande gou want die gegrom dreig soos ’n vaal wolk wat wil-wil bars oor ons binnegoed.
In stilte is ons nou aan tafel, die pyn van honger het plotseling verdwyn.
Ons hap aan die warm tuisgebakte knoffelbrood, besaai met sesamsaadjies, volgeprop met stroopsoet rosyne en sultanas.
Vir nagereg word yskoue vars gespeende bokmelk voorgesit.
"Dis nou hoe mamma haar dank betuig"
Drietjies wat elke maand die pad aandurf om goedjies te koop sodat daar genoeg kan wees ... vir ieder en elk.
Asook die vreemdeling.
"Aah, dis hoe jy dit doen as jy Somaliland kom kuier en aan tafel sit.
Met kraakvars uie gebak in olyfolie en ’n titseltjie witwyn sodat die tong bollemakiesies maak na hartelus.
Na dit ... die hoofgereg!"
Suzaan Hester Erasmus
My eerste liefde, my langste verhouding
Wat is die definisie van ’n gesonde verhouding?
Iemand wat jou bystaan, jou troos, vir jou vreugde bring?
Dis dan hoe ek oor jou voel, dis dan presies wat ek van jou af kry!
Daar is ’n verstaan van my moods in elke een van jou sny, sny, sny.
Wit, bruin of met sade bedek
Met elke hap kan ek my hart oopvlek
Goeie nuus wil ek dadelik met jou deel
Ek geniet jou veral wanneer ek myself voor die TV verveel
Jy daag selfs op by ’n samekoms vir die dood
Natuurlik praat ek van jou ... my liefste, my langste ... my brood
Hoe kan dit ’n verslawing én ’n gesonde verhouding wees?
Jy maak my dan gelukkig, saam met jou vier ek fees!
Met botter, met sous, sommer net so kaal
Jy is die hero, jy kom tot my redding in elke verhaal
Ek het my draai na jou al probeer keer,
Maar dan smag ek na jou comfort met my elke seer
Jy voldoen dan aan alles wat ’n goeie verhouding smag
Maar diep binne my weet ek ... ek gee vir jou te veel krag
Emosionele eter, dit noem hulle my
Want ek gryp na brood om my pyn te vermy
Met elke hap kan ek verbeel dat my probleme verdwyn
Met elke hap word my maag groter, my emosionele kapasiteit ... klein
My eerste liefde, my langste nog, sal ek moet erken?
Dat jy my eintlik seermaak, al voel dit of ek wen.
Die opgewondenheid wat jy bring!
Elke keer wat jy uit die toaster spring!
Jy bring net als wat mooi is, nóóit óóit vrees!
Hoe kan dit dan ’n gesonde verhouding én ’n verslawing wees?
Georina Westraadt
Ouma is in kaneel
Smake, geure, kleure en teksture:
die kuns van saamvoeg en opdis tot ’n smaaksimfonie,
deur die jare verfyn tot ’n unieke vaardigheid
in die voorsit van disse wat nie net voed nie,
maar elke honger kind, gas of familielid kon wegvoer en versadig laat opstaan
dankbaar vir die heerlike ete, maar ook die samesyn.
In die verlede was daar eers ’n tafelgebed,
was dank uitgespreek oor die kos en seën op die hande wat dit voorberei het.
Daar was gedink aan dié wat minderbevoorreg is.
Nou val almal net weg,
Geselsend, met hier en daar ’n sydelingse loer na ’n selfoon
deur ’n jonge wat bang is om iets te mis.
Kou hulle ooit die kos?
Proe hulle ooit?
Is hulle bewus van die geure en sien hulle die kleure en teksture op die gelaaide borde?
Later, almal versadig
word die borde afgedek.
Gelukkig het Ma ’n masjien wat kan was.
Toe sy ten einde alleen agterbly
die borde uitvee, wegpak en opruim,
is herinneringe al wat oorbly op haar leë bord.
Leo Hoekstra
Ek soek nog
Ek ... wie is ek
wat hier sit op my grysgroen bank?
My vingers voel-voel in die bak
wat op my skoot vir my staar
met leemte en verdriet ... kaal
sonder enigiets om dit op te vul
Ek soek nog!
Nog ’n happie om my hart se snare te herstel
Nog ’n glimmer van hoop wat in my mond gekou word ...
Nog ...
Nog ... kos.
Die enigste middel wat my lewe koester
Die bak se leemte smeek na ... nog
Nog peuselhappies om dit op te vul
Nog morfien
Nog ... van my eie persoonlike dwelmmiddel
Ek moet op my voete kom:
Figuurlik ... Letterlik
Maar die letterlike sal net lei na
nog ... ’n tree na die doodloopstraat
My voete sal my dra na die kombuis
na ’n wye verskeidenheid van middels –
skyfies, sjokolade ... dwelms
Dis wat dit is:
Nog ... en nog dwelms
Ek soek nog!
Nog ’n happie
en nog een
en nog een
totdat my oë toeval
en die realiteit wegvaar
Nog en nog ... soebat ek
Ek het altyd nog nodig
van my eie persoonlike ontsnappingsmiddel
Pedro Koetzee
Mieliepap
Hulle is okay
Hulle het darem iets om te eet
Hulle het mos darem pap
Dis ook maar al wat hulle nodig het
Los hulle maar, hulle is okay
Irma Steffens
Herinneringe
Ek stap in die winkel, van rak tot rak
Kyk na kossoorte hoog opgepak
Kleurvolle verpakkings vol geure en smaak
Ek sien in alles herinneringe aan mense
Wat deel van my lewe uitmaak
Groente verplaas my na my pa se tuin
Waar aartappels, wortels, patats, boontjies en beet
O ja, en moenie die uie en ertjies vergeet
Met liefde geplant, en welig gegroei
Sy trots was, hom met vreugde laat gloei
Blikke vol vars koekies en beskuit
Laat herinneringe aan my ma voortleef
Gesondheids-, karringmelk-, anysbeskuit
Koffiekoekies, klapper- en sjokolade- smelt sag in jou mond
Hoe drup my lus nou sommer tot op die grond
Tuisgebakte brood soos net Ouma kon maak
Dik gesmeer met plaasbotter, dalk ook konfyt
Die harde korsie se kraak
Wanneer jy jou oë vir ’n oomblik toemaak
Jou tande daarin slaan, ’n stukkie afbyt
Vars vrugte uit Oupa se boord
Koejawels, lemoene, ’n perske of twee
Altyd iets lekker om vir ander te gee
Geld was min, tye was swaar
Maar met vars vrugte was Oupa altyd daar
Dan is daar trifle met Kerstyd gemaak
Spesiaal vir Pieter, wat val in sy smaak
Net genoeg vla, jellie en room
Perfek gestol in lae van kleure en prag
Wat op die tafel vir my vriend se lepel staan en wag
Deur net te kyk na die kos in my bord
Kan ek aan iemand spesiaal herinner word
Iemand wat was, maar in herinnering steeds bly
Iemand vir wie ek lief was
Iemand soos jy
Marthie Botha
Genadebredieresep
"Mamma, ek is honger ..."
Hoor sy vir die hoeveelste keer.
Die Vader weet, sy kan nie meer.
Ken jy die krag van gebed?
Sê die wat gewoonlik baie het.
Maar vanaand gaan sy bid tot God haar hoor.
Sy het tog niks om te verloor.
Voor die leë borde laat sy haar twee kinders sit.
Voor ons eet moet ons tog bid.
"Liewe Heer, ons sal u nooit vergeet."
"Maar mamma, hier is niks om te eet!"
’n Klop aan die deur duidelik, tog sag.
Moet sy huil of moet sy lag?
Oorskietbredie ... wat maak dit saak!
Hulle gaan met vol magies aan die slaap raak.
En daar is nog genoeg vir ontbyt.
Dankie Heer, U sorg altyd.
Werner Steyn
Die volgende happie
Selfs al weet ek
jy's sleg vir my
Wil ek in elk geval
hier saam jou bly
Selfs al weet ek
jy maak my seer
Sien ek altyd
kans vir meer
Ek eet en eet
en eet net nog
Ek haat jou,
maar dink ook tog
"Dit kan die volgende happie wees
wat die leemte vul, hier in my gees."
Margaret Cordier
Boeke is brood
Met erkenning aan Elize Botha
gis
en gemaalde korrels
meng
word ingekniede woorde
rys op
wag
voor die bakker
helaas die woordbrood
gepan
in ’n vuurvlam sit
die geur wat hang
wakker my honger aan
wanneer goudgebak
die boek gekors
my honger stil
Raymond Rympies Evertse
Op ’n skarrel
Ek sien en hoor van soggens tot snags
Haweloses, hulpbehoewendes, op ’n skarrel.
’n geskarrel na hoop om ’n maag te vul
’n skreeuende maag van honger en ’n dors te stil.
Ek sien die karretjiesmense, stoot vir
’n lewe
Van die een straat na ’n ander met hoop,
Hoop op om af te kom op ’n stukkie geluk
Uit een of ander se gemorsblik.
Soekend, krappend na ’n stukkie oorskiet
Soekend na enigiets waardevol.
Waardelose gemors van iémand anders,
Goud werd vir hom of haar, op ’n skarrel.
Skarrel vir oorlewing.
Dankie pa ... die ou stuk metaal,
is ’n stukkie weer, vir die kragboksie.
Ek sien ’n rolstoel elke dag.
Sy passasier in die middel van druk verkeer ...
met sy vierwielaangedrewe "wa" op ’n skarrel
Swart gebrand van die genadelose Afrikason
Op ’n skarrel, met sy blikkie in die hand
Sê niks ... sy verbitterde, hartseer, moedelose gesig sê alles, op ’n skarrel.
Om ’n honger of ’n dors te stil
Op elke kruising, sien ek hulle
’n jonge man, op die middelstreep
Op sy knieë in ’n biddende posisie.
Skaamteloos, en ’n uitroepkreet op sy gesig,
Met sy trots in sy sak, weggesteek.
Smekend, sy lyftaal praat,
Here, sê vir hulle ek is op ’n skarrel.
’n geskarrel om oorlewing ...
Orals skarrel hulle ... wyd en syd
Hul behoeftes, geskrewe op ’n ou stuk karton.
Hangend om die nek, of hande uitgestrek
Wagtend op ’n rooi verkeerslig ...
Sê niks, die oë sê alles, pleitend.
Van die een motor na ’n ander ...
"Ek is op ’n skarrel ... vir spyse en dranke.
Op ’n skarrel na hoop."
Jacqueline Brits
Herinnering
Die wrakke van herinnering
Lê wit gebleik in die oggendson
En onderdruk die verlange
Na ’n ou, bekende pyn
Ek breek die onthou in klein stukkies af
Doop hulle in my suikersoet oggendkoffie
Die bitterheid van koeëlwondwoorde
Sagter en makliker om te sluk
Ek eet my versadig aan selfbejammering
Sprei my piekniekkombers by God se voete oop
Pak die verwyt saam met Short Story Biscuits
En ’n tikseltjie trane in my wyn
Wanneer die feesmaal in my maag begin pyn
Kry my hart kans om te rus
Ek raak gemaklik tussen die blou kolle op my lyf
En sluk ’n paar poedingpille af
Jeannie Nieuwoudt
Ek is klein
Met groot ogies sit ek en staar
wraggies kyk al die kinders daar
Op die kassie sien ek hul
geen tekorte soos hul smul
My mondjie water as ek sien
dat net hul die lekker kosse verdien
In my ogies is ’n traan
Ek is klein maar ek verstaan
Arm het ons geword
maar voorheen was ons gesort
Hongerte begin te knaag
diep binne-in my maag
Opgewonde spring ek op
nou sommer op gallop
Ek kry ’n snytjie brood van die kas
Vir my is dit van pas
En ek bid: Dankie Heer al is ek klein
vir my kossies en my brein, amen.
Quzette Bosman
Elke jaar se voorneme
Hoe vergeet jy van jou vet
en die lewe wat jy het
Hoe bly jy kou
aan wat jou koud hou
seker maar ’n ou hoop
wat in jou hart rondloop
Op ’n bu-vet rondomtalie
Lara Badenhorst
’n leë holte
in die oggend hoor ek die gedreun van
’n leë holte
in die aand is hy skaars stilgemaak
met mietmeel, suur melk
en liggies oorgesprinkel – masonja
laatmiddag smag ek na ouma martie se melktert
die laaste geel botterkoekie onder in haar koekblik kruip weg in my geheue
soos die son agter die heuwel
verdwyn
die geskroeide stukkie brood op my stokstofie neem die maan se plek in ...
die nag is honger
middernag is honger
donder
Ek is honger.
Luandi Uys
Twee kante van hongerte
Twee kinders, wêrelde geskei;
een met ’n bord vol kos en die ander
wat aan hongerte ly.
Een gaan slaap, spekvet en gesond,
maar die ander een sukkel want die gevoel van hongerte
dwaal nog in sy maag rond.
Een staan op, eet ontbyt en pak die nuwe dag aan.
Een staan op, geen energie;
moeg en gedaan.
Een lewe met die wete dat, indien hy sou vra sou
hulle vir hom gee.
Maar die ander een weet dat indien hy sou vra: "Is daar kos?"
sal hulle hom beantwoord: "Ek is jammer, nee."
Twee kinders, wêrelde geskei;
een met ’n bord vol kos en die ander
wat aan hongerte ly.
Kobus Grobler
Tafelgebed
Aan tafel van spys en drank
loer vandag ’n kleinkind op my plek
met rooi papierkroon op sy kop
na ’n Kersfeesklapper langs sy bord gedek.
Oor tafel, bord en wit servet
swaai my vrou se lepel septer
terwyl sy herinneringe skep
van Karoolam en soetpatat.
Om tafel kring kinders vir gebed
hande vind mekaar en herken
die woorde wat my mond sou bid.
Eet vandag my woorde en bly tog weet:
dis ek, jul vader hier wat vra vir seën
en laat ons hom nimmer vergeet.
Dayne Nel
Ek het nog altyd van begrafniskos gehou
Ek het nog altyd van begrafniskos gehou.
Ek dink nou aan Oupa se biltongtoebroodjies en marshmallowtert,
Oom Jack se lamingtons en kaasskons,
Maar ek was te jonk om Ouma Dulcie se spyskaart te onthou.
Ek het nog altyd van begrafniskos gehou.
Mense bring die vreemdste goed.
Gewoonlik is daar hertzoggies en worsrolletjies,
gevulde eiers en hoendervlerkies.
As jy gelukkig is dalk ’n koppie sop,
of selfs vrugtekoek – in Maart.
In die ou dae moes dit ’n feesmaal gewees het.
Geen kroek met Today Pies of Ouma Rooi se koeksisters
(wat een of ander vrou gou by Checkers gekoop het) nie.
Die catering was nie ’n afgerammelde saak, ’n second thought nie.
Die ander dag was ek by ’n diens,
waar vyf mense dieselfde Smiling Oven-melkterte gebring het.
Natuurlik het die familie nie agtergekom nie,
Maar ek het.
Terwyl ek in die kerk my trane afvee,
dink ek reeds aan die koek in die saal.
Dit help.
Ek hou nog steeds van begrafniskos ... as daar is.
Dis wel net moeiliker as jy low-carb eet.
Min mense bring crudité en kombucha na ’n roudiens toe.
Dis nie juis trooskos nie.
En, hoe vreemd as jy nie mag kuier na die diens nie.
Waar gaan mens dan?
Die huis is eensaam, die winkels lawaai.
’n Spur-burger pleks van ’n kaasbord met pampoenkoekies.
Ek oorreed myself dat ek van begrafniskos hou,
maar die waarheid is,
die begeerte van vyf nuwe minute saam jou,
die grootste feesmaal op aarde sou wees.
Aangebied in samewerking met die