Eet my woorde: Inskrywings (1)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die eerste groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Carinus Lemmer Sidney Gilroy Stef Cupido Franco Colin
Neo Mehlomakulu Jak J Brits Charney Kruger Maryna de Wet
Lammarié van der Westhuizen Hermina Booysen Geraldene Adendorff Lenel Oosthuizen
Grant Jefthas Elza Smal Caitlin Bock Werner Pretorius
Anze Bezuidenhout Bradley Arendse Kitso Makatong Esparanza Diergaardt
Zarené Jonker Shane Bobbert Melany Pietersen FC Pelser
Carike Noeth Simoné Visser Adri Dreyer Lizanne de Villiers
Elzette Boucher Simone van Graan Claressa van Vuuren Antoinette Lourens
Hazel Bruiners Marissa Enslin Marianne Viljoen Schenda van Eeden
Laurissa Hammond Ilze Gous Jacques Keulder Dean Richard Olivier

Carinus Lemmer

Kos
kos


 

Sidney Gilroy

Een laaste maal

Ek wil so graag
vir oulaas
’n landlynoproep beantwoord en in die gesprek versink
terwyl ek my groot, plastiese oorbel oordenkend
rondom my vinger tol
sal ek in my gedagtes die gehamerde vleis
in wye skywe begin rol
daarna oorstap na die likeurkraffie op die rak
om daar peinsend
vir die muur te staar
die geur van boud, boontjies, ekstrak
gebakte ertappels in olie bruingaar
stowevrugte, geelpampoen en vla
resepte gevolg vir meer as honderd jaar
fyn gepak, geweeg, gesnaar
die borde almal leeg
die ete klaar


 

Stef Cupido

Tevrede

’n brood op die tafel
meel in die trommel
koffie in die katotjie
patats in die as
tabakkrummels in my pyp
’n riksdaalder in my flenterbaadjie

dorp toe
my goodfor betaal ek af
huis toe
’n skewe katel
onpaar skoene
’n gat in die dak

maar daar’s ’n brood op die tafel
meel in die trommel
koffie in die katotjie
patats in die as
nog krummels in my pyp
en ’n pennie in my flenterbaadjie oor

ek is tevrede


 

Franco Colin

Anorexia nervosa

die spieëlbeeld lieg
haar bolvorm in die diepte
het Botero gegiet
die graat voor die kwik se skyn
het Giacometti geskryn
moedersmelk was vergif
vrees garneer nou elke dis
sy bly dié weier totdat on-
versadigbare leuens verrot
en ’n skedelgryns finaal verskyn

haar eie lyf is die laaste maal


 

Neo Mehlomakulu

Speeltyd

kleintyd was ons maar altyd honger
veral vakansiedae
daardie soort honger
wat jou lippe asvaal maak
en jou heeldag in die huis hou
cause jy't nie plak gehad vir speel nie
maar dan sal jou ma jou vinnig
met twee snye wurgbrood
uit die huis uit jaag
en agterna skree:
"jy ken net van vriet
en fokkol doen nie!"


 

Jak J Brits

Avondmaal

die lewe is ’n hysbak
met vloere eng én groot
doer onder hoop die kunstenaar
op ’n brokkie kaas en brood

bo-aan verteer die korporatiewes
met morsels op die kraag
onbewus van die digter-dromer
wat skep op leë maag

lank lewe die honger roemrykes
wie versadig die kunste besoek
’n geleentheid vir pret en selfies
terwyl die skeppers kunstig moet kroek

ná afloop in die foyer
klink kristalglase gulsig vol
kreatiewes in kleedkamers deel dooswyn
moeg-dankbaar vir hul rol

vloer op vaar die Boonstes
onder dwaal die Lieplappers rond
soek lighoofdig na oorblyfsels
eet hul avondmaal op die grond


 

Charney Kruger

Majoor

Sy verklap haar geheime deur maer snye brood
te verbloem met dik tamatieskywe
wat op negentig vertel van die tye toe sy self
botter moes maak maar dit nooit self kon proe nie

Volroomkaas plaas sy tot op elke hoek se draai
en maak op vir die paaie wat sy leë-hand moes loop
Haar dowwe oë sal nooit weer kan verhelder nie
want haar gedagtes het stil gaan staan in ’n dorre tyd

Sy vertel hoe kort en bittersoet die lewe werklik is
terwyl sy laastens suiker oor die kaas begin strooi
Fyn-vasgevat tussen kronkelvingers wat té veel keer
honger mense moes voel wegkwyn

"Eet, Matrone" beveel sy met slégs ’n skyfie uitgereik
"Die nag is lank en die suiker min, die soldate kom"
Ek maak soos sy beveel en sê ek is gereed waarna
ek haar ’n wangsoen gee, in die bed klim en haar groet;

"Lekker slaap, Ouma"


 

Maryna de Wet

Die feesmaal

ek kon vandag kies uit verskeie wyne
op my bord is daar geelrys en rosyne
varknek, tong, hoenderdy en lamsboud
op dié bord is daar geen fout; niks is koud

my nagereg is malvapoeding
gaan net oor lekker, nie oor voeding
word bedien met room of goudgeel vla
wie sal dan oor só ’n lewe kan kla

net hier oorkant die berg
uit my gesig verdwerg
hou hul die hand uit na die konkavuur
moet maar vandag se honger verduur

ons lig ons glasies, klink die glas
leef ’n lewe wat ons so pas


 

Lammarié van der Westhuizen

Mevrou Rol

Wanneer mevrou Rol
met kos begin lol,
vrees die dorp bewend
vir die vark in die pot – lewend.

Mevrou Rol is tog so lief vir eet
en heel duidelik as sy haar klere meet.
Altyd aan die kou
en op haar skouer ’n makou.

Terwyl mevrou Rol haar dinee nuttig
eet die makou die verlore pitte vlugtig.
Bang is hy vir mevrou Rol
dat sy dit sal eet, al is haar maag vol!

Haar lywige bed is buitengewoon groot
met ’n kussing in die vorm van ’n brood.
Tog te bang dat sy nie van kos sal droom,
sit sy oorskiet in die kombers se soom.

Na veertig jaar is dit klaarpraat
met haar en haar makou-maat.
Vroegoggend is sy oorlede in
haar spens met kos so min.

Die makou lê op die kombuistafel
sy vere, alles uitgerafel.
Van jare se onderdrukte spanning vir kos
is hy uiteindelik sagkens los.


 

Hermina Booysen

As my woorde die pad na my brein kon vind,
Sou my brein dan hoor? Luister? Reageer?

Almal oor sestig, en Engels, skuil
hier agter hul maskers,
Vryf hul hande saam met skerpgegeurde ontsmetmiddels,
Meet met hul oë die sesvoet-afstand wat hul veilig sal hou.

Ek roer my alleenwoorde deur die sop wat prut op die stoof,
Knie my Afrikaanse gedagtes in die deeg om later te bak,
Terwyl die aanhoudende reën buite ook die mense weghou,
Wat dalk nog sou wou inloer.

En ek weet verseker
My woorde ken die pad na my maag
Waar hulle sal vertroos,
En die alleen meer draagsaam sal maak.


 

Geraldene Adendorff

Op hulle se tone hou

"Die vis by die hawe is al weer so klein"
Ouma Koekie frons kwaai
Vir die visserman hier op die baai.
"Gmpf ... Ek seg jou, meneer, môre soê ek nie weer ’n vissie so fyn."

Drentel verder met ouma se mandjie op haar heup.
Staan voor die bakkery se stalletjie met brood.
Ouma Koekie weeg hul met die oog op soek na die regte soort.
"Gmpf ... Ek seg vir jou, Lena, môre soê ek nie weer ’n brood wat sommer so pap net word in my se greep."

Effe skaam loop ek maar weer verder saam ouma deur die straat.
Ons staan stil voor die sjebien en my se oë rek.
O gatta ... Hier gaan ouma moleste maak by Oom Blerk
"Ou Bok ..." Ouma neem sommer ’n sluk so uit die bruin papierbottel en ril so met die afsluk.
"Môre soê ek hom so dat ek my se hoofpyn kan hoor praat"

Ouma knipoog vir my en sê: "My tjint ... As jy hulle nie op hulle se tone hou nie,
dan betaal ons oormôre sommer klomp geld vir niks. Maar laat ek jou nou seg, daar is niks fout met die vis, brood of die doppie hier op onse ou kleurlingdorpie"


 

Lenel Oosthuizen

Watertand

1 pond suiker (450 g)
1 koppie room (250 ml)
1 lepel neutmuskaat (5 ml)
1 dessertlepel wonderpeper (15 ml)
2 knippies sout (na smaak)

Metode: Meng alle droë bestanddele in ’n mengbak

Wysvinger gly stadig oor ster-resep
geheim van ouma oorgeskakel na metrieke stelsel
lepel, pond en koppie nou nie meer vanpas
smaak kwansuis beter in gram en milliliter

Mengsel vorder fluks sien in geestesoog
eindproduk soos net ouma kon
pan gespuit en nie gesmeer
oond in Celsius afwagtend vir die pan

Mengsel in pan lyk soos ’n wenner
kombuis gevul met wondergeure
baksel neem vorm aan
rys die spul soos ’n wonderwerk

Proe die liefde in elke sny
watertandlekkerte in elke stuk
nou kan ek ook sê pond of gram maak nie saak
volg net die watertandresep


 

Grant Jefthas

Vreetsaam

My oorle Ouma het gesê
mens kan net een
duiwel dien
sy was depressief
het drank gekies
ek het jou verloor
en kos gekies
dit was gerieflik
Uber Eats, Mr D
M, L, XL, XXL, XXXL
dis nou al ses jaar
dat ek sukkel om
op te staan
te stap
te dans
te lewe

Dis makliker
om te ooreet
as wat dit is
om jou pyn
te erken


 

Elza Smal

Ek skep vir ons uit ’n hart vol woorde.
’n Dis, geurig gekrui met taal
versier met kommas, punte en spasies
Tog noem jy my losbandig
terwyl ons liefde Genesis uit woord en sin
Jy uitlokkend die produkte van Eden uitstal
en in komplimente betaal vir elke glinster in jou oog

Jy wat gulsig jou honger kom versadig by my gedekte tafel
Dan dorstig drink uit my fontein van soete nektar
en elke druppel van jou ken afvee.

Jou gewete, Kain ons Eros-liefde
en jy vlug oor droë woestyne heen
waar rots en klip jou kussing word
jy dwalend soek na lafenis vir jou siel
By oases les jy jou dors voor jy nogmaals
vertrek op soek na jou Kanaan.

Jy bou vir jou ’n goue kalf aan die voet van ’n berg
En kry vlerke van ’n arend terwyl aasvoëls op jou wag
Jy sus jou gewete met woorde op ’n klip
en sing Sionsgesange uit volle bors.
Terwyl op ’n gedekte tafel in Eden
jou hart bloeiend kors

Jou wysheid ken geen einde as jy Spreuke herleef
want jy is kunstenaar waar grense perk.
Jou skatkamers word nog voller gestop, elke woord getel.
Jou Klaaglied eggo stil tot in jou eie hel.

In ballingskap keer jy jou rug op alles wat was
En tel die engelveer versigtig op.
en oordink die soete woorde wat oorloop
op ’n gedekte tafel in die tuin van goed en kwaad
Jy, banneling van jou eie hart.

Ek lê snags op groen weivelde en dink my tot in Hooglied
Die Hooglied wat jy geskep het tussen die spasies van sinne sonder punte
Daar waar jy teen hemele skreeu
Geloof, hoop en liefde
en jy my hart in die naam van Openbaring uitruk
en tussen jou vingers polsend laat verkrummel tot niks
Jy, die hoeder van my ewigheid.

Ek dek steeds ’n tafel
in ons tuin van Eden
Versier met hoop en liefde
In laatnagure verslind ek my woorde
alleen
by ’n tafel gedek vir twee.


 

Caitlin Bock

Permanente regstelling

Worsrolletjies, aartappelskyfies en hoenderpastei
Ja, dit eet sy graag!

Botterskorsies, olywe en druiwe
Ja, dié eet sy ook

Van garnale tot melktert en roomys met vrugte
Ja, dit eet sy alles,

Maar steeds kleef die ewigdurende verlange na ietsie meer as net dit wat die maag vul.

Die gevoel van klein engeltjies op haar tong wanneer sy ’n happie neem van ouma se varsgebakte oondbroodjies

Die wonderlike samesmelting van die warm broodjie met vars room.

Die gevoel van verligting en tydelike ontsnapping wat haar vul sodra die eerste sjokoladeblokkie in haar keel afgly

Tog duur dit net vir ’n oomblik, en bly dit net dit – tydelik.

Hoe smag sy nie na permanente vryheid, maar moet elke keer die bitter pil van tydelike vryheid sluk,

wat klaar raak sodra haar tande ophou kou.

Dan word alles stil, en dit word alles net ’n verlore herinnering.

Na alles bly lekkerte tog net ’n vingerlengte lank.

As sy net geweet het van die ewigdurende, oorweldigende, oorlopende liefde van Jesus!

Dan sou die hartseer en verlange wat wegkruip agter haar glimlag tog nie meer te siene wees in die vensters van haar oë.

As sy tog net geweet het dat dit wat haar leemte gaan vul, in die vorm van Jesus kom.

As sy net geweet het dat Jesus die brood van lewe is!

Dan sou haar tande ophou kou, en haar verlange sou verruil word met die bevrediging van Jesus.


 

Werner Pretorius

Neem hierdie brood

Neem hierdie brood en eet My woorde.
Neem hierdie wyn, sag op jou siel nes Dawid se akkoorde.
Die mens lewe nie op brood alleen.
So sê Jesus al kon Hy brood maak van ’n steen.
Klou vas aan elke belofte, elke gebod.
Daar is hoop en voeding in elke woord van God.

Broer en suster, ek was self al daar.
Ek ken die lyding, ek weet dis swaar.
Die kos raak min, die geduld is klaar.
Ek het al gehoor van vet jare, maar myne was almal maer.
Wees gerus, Sy juk is lig, Hy voorsien en bewaar.
Eet sy woorde want die Woord is waar.

Neem hierdie brood en eet My woorde.
Neem hierdie wyn en dra die vrug van verlossing se boorde.
Van hongersnood en droogte tot oorvloed in elke uur.
Hy bring hoop en vreugde, dagbreek is hier.
Daar is groen weivelde en stil waters wat wag.
Sy soete genade is genoeg vir vandag.


 

Anze Bezuidenhout

ongestilde wonde

soekende oë
grou deur leë koskaste
’n gegrom
van verre verlede
se onthou
ag Here
hoe aanskou mens
dié miserabele gesig?

onder die klaaglied
van ’n pou
is net krummels
nog behou
my geknakte knieë
het bene gebreek;
is ek bloeiend
neergevel

maar
wie weet –
dalk sal daar tog genadebloeisels
uit hierdie wonde groei
(moontlik ’n droë
stukkie brood?)
en miskien
sál die somer
weer sy koester bring
’n glimlag
deur my wese laat kring
nood
uit my gedagtes
wring


 

Bradley Arendse

’n Brood se nood

ek sal eerder dood
voor ek sal vra vir n stukkie brood
ek sal binne huil
as om by ’n ander se voete te gaan skuil
my skoene stukkend en klere vuil

skaam

ek sal eerder my trane wegvee
as om te vra waar ek weet die antwoord is nee
klop en klop
oop gordyn met ’n slot aan die deur

ek sal my gesig skoonwas
my gevoelens oppak en wegbêre in ’n kas
as ek vra vir ’n stukkie kos
moet ek hoor loop hier weg want jy bly ’n las

ek sal my hande af werk
ek is trots
ek is sterk en ja daar is nood maar
diegene wat jy voor vra
dis hulle wat jou verstoot en jou naam begrawe in ’n sloot

dus

ek sal eerder dood
voor ek sal vra vir ’n stukkie brood


 

Kitso Makatong

Kan vandag of in ’n miljoen jaar wees

"Ek is honger" sny die diepste wond in jou hart
Mense in meer as honderde lande word deur honger getref
En hoe lank sal hulle verduur om deur honger getref te word?
Om huis toe te kom na geen aroma van opgestopte beesvleisvulsel of seekospaella
Maar in plaas daarvan om huis toe te kom
Na kos wat nie voedingstowwe genoeg het om my energie vir môre te gee nie
Hoe lank sal hulle honger ly?
Wanneer sal die oplossing vir honger styg?
Kan vandag of in ’n miljoen jaar wees
Gemiddeld kan ’n mens 8–21 dae sonder voedsame kos bly voordat hy sterf
Honger verminder die aantal van dokters, ingenieurs, onderwysers, aktuarisse
Wat ons in die toekoms kan hê


 

Esparanza Diergaardt

’n Deur is baie belangrik, veral die een in die kombuis
nee, ek praat van die yskas, nie die een wat jy aan dink van ’n huis
Alle sintuie word geprikkel wanneer jou hand hierdie deur oopmaak
want dis die begin van ’n eetfees van vroeg, dalk tot laat.
Jou oë let al die kleure op en reuksintuig begin speel lekker saam
Jy hap sommer ’n stuk kaas, trek die groentelaai uit en vergeet van die verslanking-shake langsaan.

Idees begin te vorm oor smaaklike disse, jy moet net begin besluit
Jy gryp die foon om te google en die resepteboek val oop by beskuit
"Te common en boring," sê jou kop terwyl jy frons
en jy blaai bietjie vêrder en stop summier by ’n vrugtepons
Google verander in ’n selfoonnommer en jy onthou ’n blou bottel – die dry gin
Jou vingers begin tik want daai bottel is jou vriendin se gunsteling.

Die groot blik canned fruit op die yskas se boonste rak loer en glimlag vir jou
vriendin Stella antwoord en offer om Sprite en sodawater te bring ... sommer gou
Die ysblokkies vorm deel van die resep en jy chop sommer nog pynappel in
Dan besef jy daar is fruit punch-sap maar ai, die gin is bietjie min.
Dalk ’n eenvoudige kaasbord, smyt net saam die olywe, vye en konfyt
Crackers, tuna, chorizo en druiwe is die heerlikste ontbyt.

Die deur se klokkie "triieeeng" en jou hart bokspring want nou begin die pret
Geen kind of man of hondegeblaf – dis mos soms wat vroue nodig het.
Heel impressed kom sy binne en voeg dadelik die Sprite en sodawater by
Twee glase staan klaar gereed, bordjies, servette en kaasbord in ’n ry.
En dan begin die klets, die musiek, foto-albums, albei dames alte vroom
Die heerlikste kuierkletsdis. "Atiesjoe!"
VERDOMP! Dit was net ’n droom.


 

Zarené Jonker

Verslind

Daar was ’n verskriklike, onstilbare hongerte binne haar
Dit was onsigbaar
Of hulle was blind.

Soms was dit so knaend dat sy met haar oë geskree het.
Haar siel was vasgebind.
Ja, hulle was blind.

Die avonture wat tevergeefs op haar gewag het,
Wat haar maag laat grom het,
Het haar oplaas van binne af verslind.


 

Shane Bobbert

Verbrande oond van gevoe(d)lens

My gevoelens is soos kos
Wat in die oond gebrand het,
’n intieme mengsel van teleurstelling en as,
wat deur die loop van tyd
’n geraamte sal word in my verlede se kas.

So donker soos aand,
Nie eers geskok of verward,
Die gebrande kos het oorvloei
Soos die gebrokenheid van my hart.

Die rook en reuk
Wat deur die huis walm
Is oordonderend soos ’n vloed,
Maar in die storm is ek kalm.

My vensters is toe
En die deur is gesluit
Om te red is te laat,
Want ek is klaar uit tyd.


 

Melany Pietersen

Laggende hartseer

Ek verorber ek glimlag
Ek is hartseer ek kou en kou
Elke dag elke nag
Dit proe lekker my pens is vol
Ek huil ek lag ’n oomblik is my hart dag
Ek smag na ander troos my hart is broos
Ek verorber die laggende hartseer
Ek kou en kou dit troos al weer


 

FC Pelser

Resep

Ek skryf jou op in my hart se resepteboek
(iewers tussen my ouma se druiwekonfyt en my ma se vrugtekoek)
sodat ek op dae wat ek jou mis kan smul aan die soet smaak van jou siel,
sodat ek soms in die stilte weer en weer verlore kan raak
in die herinneringe van wie ons is


 

Carike Noeth

Die parking lot by Spar

Die parking lot by Spar is nogal besig
Gegewe die president se waarskuwing dat ons nou in ’n state of disaster is
Eintlik nogal ’n vreemde verskynsel

Oorkant die straat lag die mense oor die waairus se grappies
"Want as ons nie lag nie gaan ons seker huil," sê die een shopper gou

Langsaan sit die man in sy Datsun-bakkie en vis en chips eet
Dit laat hom vir ’n oomblik vergeet van die chaos in die winkel en wêreld agter hom

Die rooi Spar-trollie se handvatsel is al blink gevryf met die skoonmaaklappie
Hierdie keer vryf ons eerder twee keer
Net om veilig te wees, you know

Dis net toiletpapier en blikkieskos en ekstra kos
Want die rakke word leeg en hoe leër dit word, hoe groter die paniek

Die tannie stap sommer met ’n ekstravinnige stappie na haar Corolla toe
Netnou steel iemand haar toiletpapier van haar trollie af

En intussen sit die armstes en wonder vanwaar môre se brood gaan kom
Vir die vele kinders wat môre nie meer skool toe kan gaan nie – waar gaan hulle een daaglikse ete vandaan kom
Oor die seep en lopende water wat ontbreek om hande te was
Of die spasie om in afsondering te bly met die eerste winterkuggie

Al hierdie worries wat meer is as net dit
Want dis die realiteit van die meeste in Afrika wat nie geld het om by Spar te shop nie – nie geld het om te baklei oor toiletpapier nie

Maar hier sit ek en die man in die Datsun-bakkie met sy vis en chips in die parking lot van die Spar

Ja, mnr President, dis inderdaad ’n disaster ...
’n Disaster dat net sómmiges basics kan bekostig en ander hoop in vain


 

Simoné Visser

Spaghetti bolognese

Vanaand is dit weer spaghetti bolognese
– meer sous as vleis
mae grom van verleentheid
op 7de Laan vier hul al weer ’n doodgewone geleentheid

’n enkelma
twee kinders wat nóg kos vra
jogurtbakkies om die leë plekkies te vul
en Bybelstories om die dankbaarheid te instil

Dankie Liewe Jesus vir die kos,
Amen

Vandag is nog twee mense aan swine flu dood
buite jaag die ambulanse na ’n onbekende nood
en môre is dit weer spaghetti bolognese
in ’n snackwich-masjien met bietjie kaas op brood

die huisie is klein, maar die honger is groot


 

Adri Dreyer

Skreeuhonger

weet jy hoe dit is wanneer honger knaag
dan sal ek alles vir my kinders waag
as jy my in die nag op die hoek sien staan
pink dan eerder namens my ’n traan
as om my te vervloek in die verbygaan

die lewe is onregverdig hard rof en seer
moenie my veroordeel of probeer keer
gaan klim jy ooit in ’n bed sonder kos?
wonder jy ook waar het jy jou lewe opgemors?

hongerpyne wat aan my kinders se mae knaag
dis vir hulle wat ek daal ... so bitter laag
my psige smeek om my eie ek te wees
geen meer spasie vir ’n rein gees

my kinders ween hulle is honger en vaak
en ek straatvrou staan op die hoek en waak
hoopvol wagtend vir my volgende taak
prostituut hoer straatvrou ...
ek het soos jy ook eens lugkastele gebou
so bespiegel en wonder hoe het jy joune behou


 

Lizanne de Villiers

Hokus-pokus, dis Krismis!

Daar is drie dinge wat ek onthou van Krismis in die berghuis,
die baklei, die ongemak, die kos.
Kom Krismistyd mag ons nie praat oor die baklei en die ongemak,
so welkom by die verhaal van die kos ...

Aartappels. Goudbruin gebraai.
Vol koolhidrate en spyt.
Bedien saam met onvergenoegdheid en bitter woorde.
Vir die beste resultate, sprinkel een bitsige opmerking oor.

Skaapboud. Vetdruppend, gestop met knoffel en roosmaryn.
Met komplimente van ou skape uit die sloot gegrawe.
Byt op jou tong voor elke happie.
Deel ’n foto van die gelukkige gesin, want geluk is net veldiep.

Pampoentert, suikersoet en romerig.
Voeg twee koppies verwyte by die mengsel en klits deeglik.
Moenie aan die warm emosionele manipulasie-stroop raak nie –
jy mag dalk net jou vingers verbrand.

Trifle. Soete lae van jellie, koek en vla.
Die soet-proppie ná die feesmaal.
Die ongemaklike gevoel van oorversadig komplimenteer die ongemaklike stilte
soos die droë rolkoek afgewurg word.

Die wonderlikste tyd van die jaar – Krismis!
Vol verligting wanneer die son sak
en voor jy kan sê hokus-pokus,
hoor jy weer die klanke van Michael Bublé in Checkers ...


 

Elzette Boucher

Ode aan die Afrikaanse kok

Afrikaans is ’n lekker taal, ’n smullekker taal ...
Waarom dan die kolonisasie in die kombuis?

Ons proes en prewel
met teatrale terme,
waar ons voorheen bloot
kon proe en aanprys

Want ons wil grênd wees
met groteske geleende goeters,
soos "groenpeper",
pleks van "soetrissie"

Maar ons taal is dan juis
’n kombuistaal, ’n feesmaal!

Soortname wat beskryf
Verba wat woeker
Woorde met persoonlikheid
Klanke van bekoorlikheid

Hoe kostelik die sampioen as kampernoelie,
koddig grasui as bieslook,
’n soe-soe is ’n botterskorsie,
en pompelmoes ’n jaarlemoen ook

Wat van die astrante agurkie,
saaklike asyn,
oulike appelliefie,
verleidelike vonkelwyn,
wulpse kaalgatperske,
amper vulgêre vy,
bombastiese bamboes,
en bedenklike beskuit?

Al is al hierdie woorde dan tog watertand,
sal hulle hul mond moet sluit?
Tjoepstil soos gebreekte stukke eetservies,
verouderde resepte en verlore koekvurkies ...

Biltong sal ons nog bybly
en seker rooibostee
Dalk ook bobotie en begrafnisrys,
maar wat van osbloed en droesem?
O, wee ...

Ode aan die Afrikaanse kok
Die beminde bakker,
besielde brouer,
en bekoorlike bedienaar

Ode aan die Afrikaanse kok
Wat die aarbei applous,
ertjie eer,
kolwyntjie koester,
lensie loof,
en malvalekker merkwaardig ag

Ode aan die Afrikaanse kok
Wat die piesang prys,
rabarber roem,
allegaartjie aanbid,
en ander aptytwekkende terme toepas

Ode aan die Afrikaanse kok
Wat nog praat van spek en fillet
Wat weier om te mash en chutney
En ’n konfoor in die kombuis het

Ode aan die Afrikaanse kok
Wat weet niks skeet met skeut
Wat besef niks kort by gort
Hulself verlustig in die taal
en ’n kranige koskenner word

Ode aan die Afrikaanse kok
wat die klitser kwyt raak
op aweregse erfenis-ekspedisie,
atjar en afval op die spyskaart

Afrikaans kan nie die kulinêre toe-eien nie,
maar hoekom moet ons swyg?
Met kwalike kennis van kaiing en kastaiing
kaboemielies en neutmuskaat ...

Kom ons leer weer wat is alsembrandewyn
en word ’n letterlike vraat

Kom ons kook weer ’n hutspot
vol kultuur, kleur, geur en taal
en kom ons smul weer,
smul weer in Afrikaans


 

Simone van Graan

Gulsig

Ek verslind elke woord wat ek lees.
Ek vergeet soms om sekere woorde uit te syfer,
Soms maak die woorde my angsbevange wat my gevange hou
in,
"Ek moet NOU."
Al hierdie woorde insluk, een vir een.
Jy weet, woorde soos;
Koninginpoeding, roomys met turksvystroop, sjokoladekaaskoek bedek met sjokoladeballe,
En natuurlik aarbeie in sjokoladefonteine met ’n glasie Merlot in die linkerhand.
Verslind hulle almal meteens!
Maar wag!
Syfer maar bietjie die sjokolade
Syfer maar bietjie die Merlot
Maar ag tog!
Die prentjie in die spieël wat ek sien raak net groter.


 

Claressa van Vuuren

Smulpaap

Gulsige gesluk,
vye stroopsoet,
hap van die kaas,
Proe van die wyn.

Die tafel kreun,
die geure walm
Aarbeie gloei klam
Tafelpote moet steun!

Mengelmoes geure
Granate bars smaragrooi
Vingers gevlek
Kwaskleure van smulgoed

Goedrond geproe
ten slotte: sjoklikeur
Soete verleiding
Smulpaap oorrompel, dweepmoeg ...


 

Antoinette Lourens

floubroodjie-redding

ek is honger, honger
soos ’n lastige brommer
die boemelaar bly sing
asof dit kos gaan bring

hy uiter hardop ’n lang sug
sy gedagtes hang in die lug
die man is vrek honger
sy gesig lyk skoon somber

die ashoop is sy woning
woon glad nie soos ’n koning
droom van spek, eiers en wors
maag grom hardop, onder sy bors

hy snuffel deur die ashoop
sonder geld kan hy niks koop
sweet tap hom later af
smagtend na brood en lemoensap

onder ’n groot ou koelteboom
gaan lê hy later en droom
hy droom van ’n Kersmaal
die ashoop word ’n kossaal

daar is kos te kies en te keur
almal se gemoed word opgebeur
die man ooreet hom later
iemand skerts, en hy skater

die kos lyk so verleidelik
deur die gesmul besef hy dit is tydelik
môre is dit terug na normaal
weereens het die lewe hom gefaal

boemelaar skrik wakker
hy voel nou regtig swakker
geen kat met ’n piering room
die feesmaal, slegs ’n nare droom

die man strompel stadig weg
samelewing dink hy is sleg
hy soek net melk en brood
voor hy sy kop neerlê, as dood

die vlammetjie van hoop flikker
sy oë begin nou skitter
floubroodjies is altyd ’n seën
dit gaan boonop reën

tandloos glimlag hy vir haar
engel, wat ’n lieflike gebaar
God het hul nie vergeet
dit sal hy altyd weet

sy woorde is te min
iemand anders voltooi sy sin
die engel glimlag breed
trooswoorde kan jy immers nie eet


 

Hazel Bruiners

mamma se geheim

as sy eers begin met "jy sal jou woorde nog sluk"
wurg ek alreeds die laaste van wat nog oor was
in my mond natuurlik

sal ek dan nou ooit onthou hoe daai laaste stukkie brood
met swart koffie sou smaak

net mamma ken die geheim hoe om ’n bakbroodjie
wat sy met haar eie arteritis-hande met soveel liefde geknie, gebak
en gesny het met
koffie ja swart koffie ... moerkoffie
met ekstra suiker vir somme ma net
asof om te vergoed vir die koffie en brood maal
om die koningsmaal
in ’n wrang smaak te laat ontaard

en dit
net omdat ek
onderlangs gesê het
al weer koffie en brood

ek sou dit nog altyd as die lekkerste kos kon beskou


 

Marissa Enslin

Njammie

Njammie lekker kos
Altyd honger en lus
Haal uit die potte
en kook die kos

Sit aan tafel
Sit saam om bakke vol kos
Dit lyk so lekker
Mond water vir kos op tafel

Klaar geëet
Magie vol van al die eet
Tot die volgende keer
En weer eet soos elke keer


 

Marianne Viljoen

Genadebrood

Woorde rol oor sy tong
soos branders wat klots teen ’n rots.
Stukkend gebreek, hartseer gesmeek,
maar steeds rol sy woorde onbeheersd:

Ek is honger, mevrou. Ek bly honger.
Hy steek sy hande uit, klop aan my ruit.
Ek sien die bleek, ek hoor sy kreet.
Onversadig staan hy daar.

Net ’n stukkie brood, mevrou.
Vir die ewige, brandende hongerpyn.
Asseblief, asseblief toggie, mevrou.
Ek voel so hulpeloos, my hart voel rou:
Almal in die wêreld bly honger, Heer –
Na U Woord wat heel, U liefde wat streel.
So kom ons bedel, dag vir dag, ons het altyd tekort –
skenk ons tog maar U genadebrood. 


 

Schenda van Eeden

Honger en dors,
Geen water of kos.
Alleen in my lyding,
Sonder einde of bevryding.

Mis wêreld om my,
Doelloos en leeg.
Tralies keer my,
’n Smal donker steeg.

Altyd teenwoordig,
Nooit weg nie.
Altyd oorbodig,
Nooit reg nie.

Honger en dors,
Alles gelyk.
Pyne teenwoordig,
Tyd is geyk.

Geluide vreemd,
En stemme min.
Vreemdes bejeën,
Met minagting.

Wie is dit die,
Wat ronddwaal en vra?
Ek kry nie my pad nie,
Sal jy my kan dra?

Mis wêreld om my ...
Doelloos ...
En l-e-e-g ...
Tra-lies ...
Keer my ...
’n Smal donker s-t-e-e-g ...


 

Laurissa Hammond

Die Here voorsien

Groot ogies staar na my met hoop.
Met HONGERTE.
Die Here sal voorsien hy het nog altyd.
Ek krap in my beursie en alle geheime plekkie waar geld kan wegkruip.
Geen hoop. Geen geld.
Ek loop angstig in die reën na die winkel.
Ek neem net ’n brood.
Asseblief meneer.
Dis vir my kind.
Ek kan sonder kos gaan.
Hy laai nog ekstra kos in die sakkie.
Meneer ...?
Die Here sal voorsien.
HOOP het vir my gekom in die vorm ’n gawe man.
Die HERE het aan my verskyn in die vorm van net ’n eenvoudige brood.


 

Ilze Gous

Die etenstafel

Met goue servette en frilletjies mooi gedek
Sit familie om die tafel en wag om te skep
Van blink stroopribbetjies met vette wat kraak
Tot doeksag brode om enige man honger te maak

Eerste val tant Mooihaar die baksel in
Met krulletjies en kuiwe, dis ’n uitgevatte ding
Volgende in die ry is oom Joos van der Suyn
Dié skep so woes, hy ry mos net trein

My mond water al, maar ek stil nog my lus
Vandag moet ek maar my hongerte blus
Gaste kry voorkeur, sê Emsie se boek
As hul tog net weet ek hou plek vir die koek


 

Jacques Keulder

Eet die Woord

Ek is doodhonger na die evangeliewoord
Hongerpyne tref my vanuit elke oord
Na elke bladsy verlang my mensesiel
God's woorde vervul so my digtersiel

Vanuit die daaglikse goue môrestond
Vul God se Woord my denke my mond
Selfs tot in die mooie geel skemeraand
Hou Sy Woord my totaal onverwaand

Kom na die Woord en eet die Woord
My hongerhart se verhoudingsantwoord
Vat een groot happie of meer elke dag
So vul ek my leë lewe met God se prag

Nooit is ek met te min voedsel tevrede
Ek weet die hoofgereg gaan my tref bo alle rede
Ek is verslaaf aan die vervullende Bybelwoord
My brood en botter my lewensantwoord


 

Dean Richard Olivier

Sonneblomlippe

Soos water breek jy ’n pakkie kerrie-spice in die pot
Jou geel vingers skenk geboorte aan sout en peper
En my honger vra "hoe ver nog?"
Jy maak koeksisters met jou hare soos jy met skaam vingers deur dit vleg.
"kosmaak is soos liefde maak. Passievol, stadig en intiem" soos die reuk van Bo-Kaap in die lug hang.

"kom proe" sluk jou stem.
Jou lepel dra the last supper na my mond.
Ek sal jou proe en net hier sterf,
Ek sal jou kos proe en aan tafel my hongerte begrawe.
Tekstuur, geskiedenis, kultuur, soet en suur vul my mond
en met ’n sluk ploeg jou kos die binneste van my maag, hart en vlees.
Jou liefde vir kosmaak voed my, sorg my, genees my en vul my.

Met ’n mond vol kos sit ek aan tafel
"is dit lekker?" vra jou stem kouend.
Geen woorde kan beskryf hoe Bybels jou kookhande is.
Elke skep is ’n reis na geskiedenis.
Jou oumagrootjie se geelkerrieresep verf sonneblomme oor my lippe.
Dis ons eerste date, eerste bord en eerste kerrievlek op my hemp.
Kos het ’n manier om mense verlief te maak op mekaar.
Nege lepels later is selfs die gedig swanger met hongerte ...
 soos  die      ge-dig
 Ho-mself ...    woord vir      woord ... op   
... eet ...


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top