Eerste slukkie: Renaldo Schwarp se Skeef

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Oor die boek

Titel: Skeef
Skrywer: Renaldo Schwarp
ISBN: 978 0 6396 0425 1
Uitgewer: LAPA

In Skeef deel mediapersoonlikheid Renaldo Schwarp op sy kenmerkend spitvondige manier praktiese advies en verhale oor alle aspekte van gay-wees. Uitkom, boelies, liefdesverhoudings, skooldae, universiteitsjare, ouers, verteenwoordiging, seksualiteit, geloof – geen onderwerp is taboe nie. Schwarp fokus op die leefwêreld van LGBTIQ+-Suid-Afrikaners, plaas dit teen internasionale en historiese kontekste en bied ’n woordeskat aan die leser om mee te werk.

Schwarp vertel sy eie storie. Hy klop ook aan by bekendes soos Rian van Heerden, Marc Lottering, Charl-Johan Lingenfelder, Boer Damian en Joe Foster om ’n genuanseerde beeld van eietydse gay-wees te skets. In ’n onthutsend eerlike hoofstuk vertel sy ma, Verenia, van die uitdagings van gaykindgrootmaak. Die raakvatters agter die gewilde Mannetjies-vrou-podsending verwelkom jou ook in die voorkamer van die lesbiër.

Selfs al is dinge soms moeiliker vir LGBTIQ-mense, dra Skeef ’n boodskap van hoop oor vir gay mense, hul ouers en bondgenote. Selfaanvaarding, outentisiteit, gesonde verhoudings en geluk is gays beskore – hierdie boek vertel hoe.


Oor die skrywer

Renaldo Schwarp is ’n radio-omroeper, mediapersoonlikheid en digitalemediaspesialis wat in Bloemfontein woon. Sy dokumentêre reeks, Skeef, het groot welslae by filmfeeste plaaslik en internasionaal behaal en is ook op ShowMax uitgesaai.


Uittreksel

Ek sou ’n boek kon skryf oor stories van LGBTIQ+­mense wat vanweë hul seksuele oriëntasie en genderidentiteit aangerand of vermoor is. Ek vind dit wel meer waardevol om dié boek in te klee met stories van LGBTIQ+-mense wat ons veerkragtigheid as gemeenskap wys. Ek hoop dat hierdie mense se sigbaarheid ander sal inspireer om kasdeure oop te skop. Makliker gesê as gedaan, ek weet. Veral as ons kyk na hoe dit vir Adnaan en Lindo uitgedraai het. Aan die einde van 2016 het ek by die Kaapse geselsradiostasie, CapeTalk, aangemeld. Hoekom geselsradio? Ek was jonk en redelik groen in die mediabedryf en CapeTalk was die enigste kommersiële radiostasie wat my ’n tydgleuf kon gee – ’n groot geleentheid vir ’n 25­jarige wat naam vir homself in die industrie wou maak.

Dit was die graveyard shift, maar my speelveld. En glo my, ek het behoorlik gespeel. Van politiek en mode tot misdaad. Geen onderwerp was buite my visier nie. Ek het selfs geleer hoekom sekere vrouens orgasms fake (dankie, Doctor Eve!). Jy kom weg met allerhande dinge wanneer jy tussen elf saans en twee in die oggend aanbied.

Die aantrekkingskrag van geselsradio lê daarin dat jy as aanbieder geen buffer tussen jou en jou onderwerp het nie. Geen musiek of medeaanbieders nie. Dis net jy, jou onderwerp en, as jy gelukkig is, ’n gas wat inge­stem het om daardie tyd ’n onderhoud te doen. Vir enige pasgegradueerde Dramastudent met sterre in sy oë, sou hierdie ’n uitdagende taak wees.

Dit is ook hier waar ek werklik die belangrikheid van verteenwoordiging begin begryp het. Ek het ook geleer hoe om te luister met die doel om te verstaan, in plaas van om net te reageer – ’n vaardigheid wat jy baie vinnig moet aanleer wanneer jy in dié medium werk.

Deur CapeTalk het ek Adnan Al Mouselli ontmoet. Hy het vir my ’n Instagram­boodskap gestuur. Oulike outjie. Nee, nie oulik nie – aan­ treklik. Selfs mooier as die CrossFit-junkie.

Adnan se speedo-strandfoto’s en noukeurig gekose hashtags verraai min van ’n storie wat nie aan een van die betekenisonderskeidings van “prentjiemooi” voldoen nie. Hy is ’n Siriese uitgewekene wat moes vlug omdat gay­wees daar onwettig is. ’n Verlede waarvan jy nie bewus is as jy na sy smeulende Instagram-foto’s loer nie en beslis nie waaraan my wellustige 25-jarige brein gedink het toe ek sy eerste boodskap lees nie.

I am from Damascus, Syria. After a couple of years of war, I decided to flee my country as the situation was getting dangerous and especially for gay people like me. The government has been targeting LGBTI people in Syria for many years and as war has progressed, it got more dangerous to live in Syria.

Hy skryf verder dat hy aansoek gedoen het om ’n besoekersvisum vir Suid-Afrika en dat hy hierheen gevlug het met nét sy klere.

I had no money on me or any plan, I just knew I had to leave. The reason I chose South Afirica was because LGBTIs had rights here. There are more details to this experience that have truly been traumatizing. A lot of people dont know what is happening with refiugees in South Afirica. Id like to shed a light on that as more people should be aware that refiugees, and specially LGBTI refugees, should have more rights and receive more attention.

 Vanselfsprekend het ek en my vervaardiger ’n onderhoud toegestaan. Maar die CNN-berigte wat ek ter voorbereiding gelees het, het my nie op die details van sy kinderdae voorberei nie.

Soos dit enige gesoute geselsradio-omroeper betaam, gun ek Adnan aan die begin van die onderhoud die kans om ’n bietjie meer te vertel oor die politieke klimaat tydens sy kinderdae.

“Ek het altyd geweet ek is gay.” Sy stem bewe.

Hy is in 1993 in Damaskus gebore. Hy beskryf sy kinderdae as eensaam en vol ontwrigting. Hy het nie regtig vriende gehad nie.

“As jy van ’n jong ouderdom af weet jy is gay, voel jy altyd anders en uitgesluit van die samelewing. Dit maak dit soveel erger as jou lewe daarvan afhang.”

Die atmosfeer in die ateljee word somber deur die loop van Adnan se vertelling. As die regering uitvind jy is gay, kry jy ’n minimum van drie jaar tronkstraf. As jou gemeenskap uitvind, word jy tot die dood toe gemartel. Hy het geen ander keuse gehad as om dit wat hy “huis” genoem het, agter te laat nie.

Dit was hierdie einste onderhoud wat my uitkyk op seksualiteit heeltemal op sy kop gekeer het.

As jy my universiteitsvriende vra, sal hulle jou vertel dat ek ’n redelik arrogante kuiergat was. Selfbehep en ietwat oningelig – veral oor LGBTIQ+­ kwessies. Ek het my so lank moontlik daarvan gedistansieer. ’n Sielkundige sal dit dalk toeskryf aan my huiwering om my eie seksualiteit ten volle te aanvaar. Ek dink dit was bloot pure arrogansie en selfhaat. My seksualiteit kon ek in ’n netjies verpakte boksie plaas en dit slegs uithaal wanneer ek wou – met my eie T’s en C’s.

Ek het die eerste keer ’n Pride­optog bygewoon ’n paar maande na my onderhoud met Adnan. ’n Storie soos syne kan jou perspektief oor Pride heeltemal verander. Iets wat ek voorheen as te out there en onnodig beskou het, word ’n daad van solidariteit en community.

Cape Town Pride 2017 was nogal ’n groot makietie. Die tema, heel gepas vir my, was “I am what I am” – à la La Cage aux Folles. Dit was nes die video’s wat ek skelmpies op hoërskool op YouTube gekyk het: fopdossers, sequence en speedo’s in al die kleure van die reënboog.

Twee vriende het my die aand vooraf oorreed om die geleentheid by te woon. Ek onthou hoe ek in my daaglikse oggendoproep na my ma ’n wit leuen vertel het.

“Ek moet daarheen gaan vir werk,” het ek my verontskuldig.

Teen hierdie tyd was ek en my vriende druk besig om voor te berei vir die groot pienk partytjie – tutu’s, eyeliner en ’n stewige dosis glitter. Ek het selfs al my beenhare geskeer. Soos almal weet, lyk pienk tutu’s soveel beter sonder beenhare.

Een van die hoofredes hoekom ek nog nooit ’n optog bygewoon het nie, was die vrees dat my ouers my op die seweuur-nuus sou sien. Family guilt is ’n lelike ding, maar sou daardie dag tweede viool speel. Met my glitter­ beplakte bene en T-hemp met die woord “slay” daarop, vaar ek en my vriende die strate van Groenpunt binne.

Dalk was dit die vyftien sletsappies wat ek afgesluk het, maar geluksaligheid neem oor wanneer jy in ’n ruimte is waar jy heeltemal jouself kan wees, sonder judgement of vertwyfeling. En dit is wat daardie Saterdag met my gebeur het.

Elke mens heg ’n eie betekenis aan Pride. Vir my bied dit nie net die kans om in die strate te ontmoet, geklee in sequence­uitrustings nie. Dit is ’n oomblik van verwesenliking, waartydens ons kan erken hoe ver die LGBTIQ+-gemeenskap gevorder het. Vordering wat te danke is aan almal wat ons vooraf- gegaan en geveg het vir ons plekkie in die son. En dit was ’n geveg. Dis steeds.

  • 1

Kommentaar

  • Annora Eksteen

    Oulike en eerlike skrywe!

    Pride is regtig lekker - nie net vir gay mense nie, maar ook hulle vriende, en ag, ek het altyd sirkusse geniet en nou word dit verbied.

    Vrolikvol vrede en aanvaarding, en dit gee ook entrepreneurs kans om hul ware en kos by die stalletjies te verkoop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top