Eerste slukkie: Jan Braai se Braaibroodjies en burgers

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.

Oor die boek

Jan Braai: Braaibroodjies en burgers
Jan Braai
Humann & Rousseau
ISBN: 9780798181488

Wie sou kon raai dat Jan en sy boeke wêreldbekend sou word vir braai! Die braaikoning is terug met ’n splinternuwe boek en dié keer ondergaan die nederige braaibroodjie ’n gedaantewisseling of twee. Vind liplekker hoender-, beesvleis-, vegetariese en veganistiese braaibroodjie- en burgerresepte wat jou gesin sal laat terugkom vir nog! En moenie dink Jan het van die suikertande vergeet nie, die boek bevat alles van soet tot sout, alles oor die vuur – dis mos nou lekker!

Oor die skrywer

 

Jan Scannell – beter bekend as Jan Braai – is ’n Suid-Afrikaanse instelling so eie aan ons land as sy groot passie, vleis en vleisbraai. Jan het Nasionale Braaidag eiehandig ’n jaarlikse kuier- en kosfees gemaak deur Erfenisdag nie-amptelik te herdoop tot Braaidag. Die een aktiwiteit wat alle Suid-Afrikaners saambind is immers om kos oor oop vure te kook.

Watter lekkerder manier is daar om samesyn te vier as met braai ... Sy TV-reeks, Braai vir erfenis, is te siene op kykNET.

Vir meer inligting oor Jan Braai besoek gerus braai.com.

Uittreksel en resep

DIE SUPERMODEL

Vir die voorblad van die boek het ons ’n supermodel nodig gehad. Nou, anders as met glanstydskrifte in die dae toe skoonheids- en modetydskrifte nog bestaan het, kan jy nie sommer net ’n paar braaibroodjie-agente bel en hoor wie beskikbaar is nie. Die mooiste en glansrykste braaibroodjies in die wêreld is almal in die boek wat jy in jou hande het en dis die einste “katalogus van modelle” waarvoor ons ’n voorblad moes skep. Toe besluit ek en my kollegas (ons verwys na onsself in die derde persoon as “Jan Braai en die Ontspan”) om ons eie supermodel te skep wat op die voorblad kan pronk. Hier is sy.

WAT JY NODIG HET

(vir 6 braaibroodjies)

12 snye brood
botter of olyfolie
1 rooi-ui (gesny)
1 groen soetrissie (gesny)
1 geel soetrissie (gesny)
2 skywe (omtrent 150 g)
feta-kaas (gekrummel)
240 g Cheddar-kaas (gesny of gerasper)
3 groot rooi tamaties (gesny)
sout en peper
1 sopie pietersielie (fyngekap)

LAAT WAAI!

  1. Bou die braaibroodjies: Smeer botter of olyfolie aan een kant van elke sny brood (dis die kant wat buitentoe sal kyk wanneer jy die braaibroodjie aanmekaar gesit het). Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer, smeer roomkaas oor en verdeel die rooi-uie, soetrissie, fetakaas, Cheddar-kaas en tamaties eweredig tussen hulle. Maal sout en swartpeper oor en strooi die pietersielie oor. Bedek met die oorblywende snye brood – botterkante na bo.
  1. Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. As jy nie een het nie, koop een – verkieslik ’n verstelbare rooster sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik hoog bo die kole wees. Jou doelwit is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster telkens oop-en-toemaak ná die eerste paar kere se omdraai.
  1. Sodra die braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Ek glo die regte manier om ’n braaibroodjie te sny, is diagonaal, en die regte tyd om dit te eet, is onmiddellik.
  • 0
Top