LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
_____________________________________________________________________________
Debbie Loots
Debbie Loots is in Polokwane, Limpopo, gebore. Sy het ’n honneursgraad in skonekunste by Michaelis verwerf voor sy ’n meestersgraad in skeppende skryfkunde aan die UK voltooi het. Debbie bly in Kaapstad en werk in die joernalistiek. Haar debuutroman, Split, het in 2016 die ATKV Woordveertjie Prosaprys verower.
_____________________________________________________________________________
Opsomming
Die boek van gelukkige eindes
Debbie Loots
Uitgewer: Quellerie
ISBN: 9780795802034
Chris,’n bekende Kaapse sielkundige, se voorspelbare lewe word skielik van alle kante bedreig.’n Vrou met wie hy lank terug ’n vlietende verhouding gehad het duik skielik weer op met ’n onstellende ultimatum, sy pasiënte raak by die dag moeiliker, en sy dirty little secret neem ’n onheilspellende wending. Boonop val sy gay eksvrou hom heeltyd lastig met haar seksuele probleme, en herinner sy skoolvriend se skynbaar sorgelose lewe hom aan sy verlore jeug. Is Bella, sy plat-op-die-aarde Portugese vrou met haar voorliefde vir YouTubevideos, uiteindelik al mens op wie hy kan staatmaak? Die
boek van gelukkige eindes is ’n genuanseerde, ironiese blik op seks, intieme verhoudings en eksistensiële krisisse, vertel uit die oogpunt van verskeie karakters.
___________________________________________________
Uittreksel
Chris
Hy staan altyd eers stil, neem alles in voor hy sy sleutels optel, sy sagte leersak en baadjie van die kapstok in die hoek afhaal en die deur agter hom toetrek, dan die gang af stap na die hysbak wat hom vier vloere na onder neem, na waar sy kar geparkeer is.
Hy kyk om hom rond in die eenslaapkamerwoonstel in Soutrivier wat hy sowat ses jaar gelede as ’n belegging gekoop het. Dit het aan ’n pasiënt behoort, ’n ontwikkelaar wat sy vingers verbrand het en hom kom sien het nadat sy vrou genoeg van hulle onsekere finansiële lewe gehad het, van sy drinkgewoontes. En toe, so ’n jaar daarna, besluit Chris om sy praktyk van die huis af na die woonstel toe te skuif. Dit was net ná hy en Connie geskei is; tyd vir ’n verandering.
Die woonstel het ’n uitsig oor die hawe en die stad van die sitkamervenster af, silhoeëtte van passasierskepe en seiljagmaste op die see, ’n ry rooi-en-wit gestreepte hyskrane wat soos speelgoedkameelperde lyk, die Hottentots-Hollandberge in die verte. Naderby staan lendelam skakelhuisies langs die parkie oorkant die straat, waar ’n handjie vol families geslagte lank al woon en nou saamstaan om gentrifikasie te beveg. Aan die agterkant van die woonstel, waar die kombuis- en badkamervensters oor die stoep oopmaak, is Tafelberg. Hy hou die vensters dié kant meestal toe om die reuke uit te hou van die rioolpype wat gereeld verstop.
Die trek van die huis af hiernatoe het hom pasiënte gekos, een van Constantia en twee van Bishopscourt. Rykmansvroue wie se vooropgestelde idees oor Soutrivier as sogenaamde gangster’s paradise hulle kleinkoppie laat trek het, selfs al is hy een van Kaapstad se mees vooraanstaande en gesogste sielkundiges. Maar hy het nuwe pasiënte gewerf. Stedelinge: ’n paar soekende kreatiewe siele, ’n jong IT-spesialis wat ’n uiters suksesvolle startup in Woodstock bedryf, ’n vrou wat vir ’n advertensieagentskap werk en aan angsaanvalle ly. Interessante mense. Nuwe soorte uitdagings.
Toe die koop deur is, het hy die woonstel se kombuis en badkamer vervang, die vloere laat skuur, die plek uitgeverf. En eers ná hy ingetrek het, het die slaapkamer hom begin pla; amper oorbodig gevoel. Die ekstra spasie. Hy’t nie geweet wat om daarmee te maak nie, nie meubels daarvoor gehad nie. Hy het die deur permanent toegetrek gehou wanneer hy pasiënte in die hoofvertrek behandel het.
Vandag kan hy sy praktyk nie sonder die kamer voorstel nie, al bly die deur altyd toe wanneer hy werk. Caitlin noem dit hulle “dirty little secret” wanneer sy Donderdae by die halfoop voordeur inloop sonder om te klop.
Hy trek sy baadjie aan, gooi sy sak oor sy skouer. Maak die groot moderne metaalraamvensters, wat van onder af losknip en na buite oopswaai, toe. Dit voel soms asof hy in ’n loft in New York is, in een van Woody Allen se flieks, as hy so oor die stad uitkyk en dink aan sy lewe. Dit laat hom tevrede voel.
Hy sien die kar toe hy uit die parkeerarea die straat inry. ’n Oranje Ford Cortina. Dit lui ’n klokkie. Hy dink seker aan sy pa se kar. Die een uit sy kinderdae. Hy frons. Probeer deur die donker ruit sien wie bestuur. Sy pa s’n was blou, met ’n afslaandak. Sy ma het die beige stasiewa gehad. Sy pa was heilig op sy kar, hulle moes altyd eers bad en skoon aantrek, skoene politoer, voor hulle kon inklim. En hy het hulle nooit skool toe gevat in die Cortina nie, dit was die ou stasiewa se taak, sy ma s’n, met ander woorde. Die Cortina is die kar waarmee sy pa werk toe gery het, en waarin hy hulle op Sondae iewers heen gevat het. Soos Hartbeespoortdam toe om op die brug te stop, uit te klim en in stilte te kyk na die dik strome water wat uit die sluise spuit.
Hy draai links in die straat op, huis toe. Die teenoorgestelde rigting as dié waarin die oranje Cortina stadig gery het.
By die huis gaan sit hy met ’n bier buite op die ou rottangstoel. Sy dogter, Ramona, klim uit die swembad, kind op die heup.
Sy is lank en maer, nes hy. Sy gaan gym toe. Pilates en joga en ’n bietjie cardio drie keer ’n week is al wat nodig is, vertel sy hom, om vir die res van jou lewe gesond en sterk te bly. En gewigte optel vir beendigtheid. ’n Mens kan nooit te vroeg begin nie. Sy het gelees daaroor. Gegoogle. Hy is trots op haar. Sy lyk goed vir ’n ma van ’n kleuter. Enkelma, moet hy bysê. Maar dit is ’n ander storie.
Wat doen hy vir oefening? Nie veel nie. Hy hou nie van gym nie. Van die reuk nie. Die droë saunas en nat stoomkamers laat hom gril, die chloor van ’n openbare swembad. Die gevoel op jou vel. Hy hou ook nie van buitelugsport nie. Die nuwe fietsrytendens staan hom nie aan nie – die groepmentaliteit wat dit onder die mans ontketen, die testosteroon, die duur fietse. Die kompetisie, en die natuurlike regressie na ’n staat van pre-adolessensie herinner hom aan Trompie en die Boksombende. Mense wat adrenaliensport beoefen, het gewoonlik uiterste lewensbeskouings en gedrag, en dit sien hy as tekens van die primitiewe. Mense in ’n onderontwikkelde staat van kontemporêre menswees.
Stap, ja, en swem in die see. Dis al. Dit is beskaafd.
Hy onderhou Ramona. Betaal haar woonstel se huur, haar gymlidmaatskap, haar jogaklasse. Hy probeer nie dink aan al die toegewings wat hy maak nie, hy hou nie daarvan nie, die besef dat hy soos alle mense swak is as dit by sy eie vlees en bloed kom. Sy ego.
Connie koop vir Ramona kos en ander benodighede. Die kind sukkel om werk te kry, sukkel om rigting te kry. Hy blameer deels vir Connie, hy het haar gesê Ramona is op ’n sensitiewe stadium toe sy destyds aankondig sy wil skei. Ramona was toe agttien, net uit die rehabilitasiesentrum, maar Connie was verbete, en toe hy voorstel hulle probeer eers weer, gaan sien ’n huweliksberader, het sy na hom gekyk asof hy ’n vreemdeling is, iemand wat sy lankal geweeg en te lig bevind het. Ramona het kort daarna weer begin dwelms gebruik.
Ramona buk af om hom te soen. Haar nat hare klap teen sy wang toe sy die kind skuif om by hom uit te kom. Hy deins weg van die skielike koue op sy warm vel.
“Sê hallo vir Oupa, Poinsettia.”
Hy vergeet heeltyd die kleintjie se naam.
“Wat hoor Pa van Nina?”
Sy oudste. Verloof. Die stabiele een van die twee. Derdejaarmediese student. Bly in die noordelike voorstede saam met Johan, ’n internis.
“Hulle kom dalk die naweek,” sê hy. “Jy ook?”
“Jip. Daai twee werk hulleself ook dood, kan nooit aan niks commit nie. Dink Pa hulle gaan ooit trou?”
Ek hoop nie so nie, wil hy sê. Hy kan nie help om te dink dat Nina die geld wat hy vir haar mediese studies opdok, in die water gaan gooi nie. Dat sy ook eendag, soos meeste vroue, kinders gaan hê wat haar lewe gaan opvreet. Dat sy deeltyds sal moet werk, as sy die krag gaan hê. Locum. Agter ander dokters wat met vakansie gaan aanskarrel, sodat sy vrou en ma kan speel.
“Wie weet,” sê hy en glimlag vir die kleintjie. Hy probeer sy gesig trek soos hy vaagweg onthou sirkusnarre gemaak het toe hy ’n kind was. Poinsettia steek skielik haar tong uit en hy skrik toe sy kliphard naby sy oor begin skree.
“Sies Poinsettia, jy’s lelik met Oupa!” sê Ramona en swaai die kind oor op haar ander heup. Sy loop die huis in.
Oupa. Wat ’n gedagte.





