Eerste slukkie: Annelien Pienaar se Vleis

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.

Oor die boek

Vleis
Annelien Pienaar
Human & Rousseau
ISBN: 9780798179355

Suid-Afrikaners is nou maar eenmaal gaande oor vleis. Dis onontbeerlik op enige feestafel, en vir die meeste van ons is selfs ’n gewone weeksaandete nie volledig daarsonder nie. Nie net is dit heerlik en vullend nie, dis ook propvol voedingstowwe wat goed is vir ons. 

Vleis: Die omvattende gids is ’n moderne ensiklopedie wat ’n ereplek verdien in die kombuis van almal wat graag vleis eet en gaarmaak. Afgesien van resepte vir smullekker vleisgeregte vir elke okkasie bevat dit hope inligting oor die beste manier om die verskillende snitte en soorte vleis te berei, hoe om vleis te vries of tot perfeksie te verouder, tesame met ’n hordes wenke om geur en sappigheid te verseker – alles sonder preserveer- en ander kunsmatige bymiddels. Die voedselwetenskaplike en gewilde kosskrywer Annelien Pienaar se passie vir goeie, volhoubare vleis word weerspieël op elke bladsy van hierdie boek. 

Oor die skrywer

Annelien Pienaar is ’n voedselkonsultant, ’n boer en ’n ma.

Besoek haar webtuiste vir nog inligting

Uittreksel en resep

Varkfilet met ’n pruimedant-en-olyfsous

Lewer 6 porsies

Heerlike, sappige skywe varkfi let met ’n geurige sous van pruimedante en groen olywe – is dit nou nie ’n dekadente bederf vir gaste nie? Varkfi let is oor die algemeen ’n bekostigbare vleissnit. 

1,5 kg varkfi lette, netjies afgerand
10 ml (2 t) gerooktepaprika-sout (bl 244)
250 ml (1 k) chardonnaywyn
75 g (½ k) pruimedante
80 ml (⅓ k) muscovado- of demerara-suiker 
65 ml (¼ k) kappertjiesaad
125 ml (½ k) groen olywe
65 ml (¼ k) rooiwynasyn
5 knoff eltoontjies, fyngedruk
2 takkies tiemie
65 ml (¼ k) olyfolie, plus 15 ml (1 e) ekstra

  1. Strooi die paprikasout oor die fi let en vryf dit goed in. Hou eenkant.
  2. Meng die wyn, pruimedante, suiker, kappertjiesaad, olywe, asyn, knoffel, tiemie en 65 ml olyfolie. Giet die mengsel in ’n toeknypsakkie wat groot genoeg is om ook die vleis te akkommodeer.
  3. Voeg die fi lette by die sakkie en druk soveel lug moontlik uit voordat jy dit seël. Plaas die sakkie in ’n diep bak en verkoel vir 12 uur.
  4. Dreineer die marinade in ’n klein kastrol en laat dit prut totdat dit met die helfte verminder het. Verwerk die marinade tot ’n puree en meng dit dan met die ekstra 15 ml olyfolie om as ’n bedruipsous te gebruik wanneer jy die vleis gaarmaak.
  5. Rooster nou die fi lette oor die kole terwyl jy dit af en toe met die olyfolie-en-marinademengsel bedruip. Of seël die vleis vinnig in ’n verhitte gietysterpan, plaas dit dan in ’n oondskottel en bak vir 25 minute in ’n voorverhitte oond by 220 °C terwyl jy dit af en toe bedruip.
  6. Sny die vleis oop en kyk vir gaarheid – dit moet net-net nie meer pienk wees nie. Laat rus die vleis vir 10 minute voordat jy dit voorsny.
  7. Sit die vleisskywe voor op ’n bed van oondgeroosterde groente met die puree mildelik bo-oor gegiet. Geur na smaak met sout en peper.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top