
Die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek nooi u hartlik uit om referaat- en paneelvoorstelle vir ons 12de internasionale kongres in te dien. Die kongres vind van Dinsdag 29 Junie tot Donderdag 1 Julie 2027 te Stellenbosch plaas.
Die fokus van die kongres val op beweging en bewegings in die Neerlandistiek. Ons wil ondersoek na verskuiwings en verandering uitlig: van mense oor grense en binne bepaalde geografiese gebiede en die talige veranderinge en aanpassings wat dikwels daarmee gepaardgaan; in studievelde; wysigings in navorsingsmetodologie; die smee van nuwe samewerkingsooreenkomste en verstellings aan bestaande netwerke en werkswyses.
Kortom, alles wat stagnering teenwerk.
Voorgestelde velde en subtemas sluit in die vergelykende taal- en letterkunde, kontrastiewe taalkunde; sosiolinguistiek, historiese taalkunde, vertaalkunde, literêre geskiedskrywing, postkoloniale studies, migrante- en migrasiestudies, (de)kolonialisering, transnasionalisme en die digitale humaniora.
Ons nooi u hartlik uit om aan hierdie kongres deel te neem. Stuur alle voorstelle vir bydraes teen Sondag 31 Januarie 2027 per e-pos aan SAVNKongres2027@gmail.com.
Referaatvoorstelle
Referaatvoorstelle moet bestaan uit:
- ’n abstrak van 250 tot 300 woorde (bronnelys uitgesluit)
- ’n kort biografie van hoogstens 50 woorde.
Paneelvoorstelle
Panele kan deur een of meer instelling(s), organisasie(s) of netwerk(e) aangebied word en skep ’n geleentheid om ervarings te deel, oor bestaande projekte se werksaamhede te reflekteer en nuwe samewerking of projekte aan ’n groter gehoor bekend te stel. Paneelvoorstelle moet bestaan uit:
- ’n paneeltitel
- ’n beskrywing van die paneel van hoogstens 200 woorde
- die naam en affiliasie van die paneelsameroeper
- die name en affiliasies van die deelnemers (waar reeds bekend)
Belangrike datums
|
31 Januarie 2027 |
Sluitingsdatum vir referaat- en paneelvoorstelle |
|
26 Februarie 2027 |
Uitsluitsel oor aanvaarding van referaat- en paneelvoorstelle |
|
1 Junie 2027 |
Laaste dag vir kongresinskrywings |
|
29 Junie tot 1 Julie 2027 |
Twaalfde internasionale SAVN-kongres |
Ter afsluiting lig ons uit dat ’n spesiale uitgawe van Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans aan die kongres gekoppel word. Die bedoeling is dat ’n referaat wat by die kongres gelewer word, ’n voorfinale weergawe van die uiteindelike artikel verteenwoordig.
Vriendelike groete
Prof Alwyn Roux (Voorsitter: SAVN)
Me Lenelle Foster (Sameroeper: reëlingskomitee)

