
Foto: Canva.com
Eerste lentereën (in die Hoëveld)
ek hou van September in die Hoëveld
die belofte van die eerste lentereëns
na Augustus se winde stofverwaai
pandemonium in die natuur kon saai
’n soete vooruitsig na die vars reuk
van reën wat jou neusvleuels kielie
die lug wat langer aan skemer hou
grys getint in vroegoggend se grou
hoendervleis wat tart oor jou vel
in ’n rilling van genoegdoening
as reëndruppels die grond natgooi
en jy droom van tuinstewels in rooi
sou in jou swerwe deur die wêreld
jy dan nie ook soos Van den Heever
weer terugverlang na die grys in blou
belofte wat die oop Hoëveld lug inhou

