Eers ons nooddienste

  • 0

"Almagtige Vader, soos U Seun Jesus siekes gesond gemaak het en rus gebring het vir die vermoeides, gee krag en moed vir die manne en vroue van die nooddienste regoor die aarde. Vul hulle met liefde en teenwoordigheid van U Gees in die oog van gevaar, droefheid, pyn en angs, sodat hulle sal voortgaan om lewe en hoop te vind te midde van geweld en verwoesting. Ons vra dit in die naam van Christus. Amen"(vertaling)

Polisielede, ambulanspersoneel, paramedici en brandweerpersoneel word hierdie tyd van die jaar net soveel meer beproef. Die vakansiegees pak hulle op ‘n ander manier: fyngesny paraat vir gebeurlikhede wat soms aan onsinnig grens, maar nietemin gebeur. Hulle absorbeer dit wat ons gewone mense soms in ‘n leeftyd nie sien of ervaar nie.

Wat ons vergeet is dat hulle ook gewone mense is. Die uniforms is net vir onderskeiding; dit verander niks aan hulle innerlike nie. Hulle mag wel opgelei word om hulself emosioneel van die omstandighede te distansieer, maar wys my ‘n ouer, wie totaal gevoelloos kan staan teenoor ‘n erg getraumatiseerde kind of ‘n baba wat iewers in ‘n motorwrak of ‘n brandende huis huil. Die verskil tussen noodwerkers en die publiek wie hulle dien. Terwyl lg histeries raak of apaties hande voor die gesig sal staar, slaan noodwerkers onmiddellik outomaties oorslaan in die oorlewing-rat en fokus net op veiligheid en redding.

In elke noodsituasie is daar ‘n lid van die nooddienste in beheer van die toneel met die opdrag en verantwoordelikheid om die toneel te beveilig, beide vir die slagoffers en die publiek. Iemand wie wel hulp wil aanbied, of ‘n vermoede het dat ‘n familielid dalk betrokke mag wees, se eerste vraag moet dus wees: “Wie is in beheer?” en hom by die betrokke beampte gaan identifiseer. Sou die beampte die persoon op die toneel toelaat, aanvaar hy ook vir hierdie persoon verantwoordelikheid en staan sodanige vrywilliger ook onder instruksie van die beampte in beheer. Enigiemand wie hierdie reël verontagsaam, verhinder die nooddienste om hul werk na behore te kan doen en nog erger, kan die verlies van ‘n lewe tot gevolg hê.

Enigeen wat ‘n afgesperde gebied binnegaan sonder toestemming, doen dit dus op eie risiko en plaas sy eie veiligheid op die spel. Moenie rooi keëls, rooi en wit chevron band, of enige ander versperring wat gebruik word, ignoreer nie.

Wanneer ‘n stop-/ry-situasie op ‘n roete ingestel word as gevolg van ‘n brand, wees geduldig met die besluite van die verkeersmanne by die beheerpunte nie. Dit mag redelik skoon lyk van waar jy in jou voertuig sit, maar verder mag ‘n tipe plantegroei digte rook oor die ryvlak veroorsaak waarvan jy nie bewus is nie; menigte motoriste en/of voertuig insittendes, veral kinders, het al so in die hospitaal beland. Tussen die stoppunte is daar ‘n brandweerman met ‘n masker wat die situasie deurgaans monitor en terugvoer na die beamptes by die punte. Geen afspraak of werk is belangriker as jou eie lewe nie en geen kaartjie sal teen jou uitgereik word as jy daar jou selfoon gebruik om die situasie deur te gee aan wie aan die anderkant op jou wag nie.

Selfs op sy eie plaas moet ‘n boer maar terugstaan en hom hou by die besluite van die persoon in beheer van ‘n brandarea. Moenie instruksies, veral met die oog op parkering, verontagsaam nie. Hou kinders - en diere - by die huis; dis eenvoudig net nie ‘n geskikte plek vir hulle om te wees nie, om baie praktiese redes.

Respekteer die blou manne van die verkeersafdeling wanneer jy oortree het. Reëls is reëls en dit geld vir almal. Dit gebeur soos klokslag dat iemand afgetrek word en ‘n aansienlike boete kry vir dit of dat terwyl daar net voor hom ‘n wrak wat probeer om voertuig te wees, by die verkeersman verby is, sonder enige gevolge. Dit help nie om daar langs die pad te redekawel nie. Neem die beampte se besonderhede en ‘n magsnommer en gaan verduidelik dit skriftelik daar waar dit saakmaak. Dit help natuurlik altyd om ‘n foto te hê (van die sg. wrak) asook om die presiese adres en tyd in te sluit.

Dieselfde respek kom die SAPD toe. As die polisie die bure se klag oor jou oorverdowende musiek drie-uur in die nag ondersoek en jy snou hulle met: ”Aag, f.. hulle man, onsh hou party, onsh ish net ienkeer ‘n jaar hier ...” mag jy dalk net die res van die nag op ‘n ander plek probeer ‘shlaap’ weens dwarsboming van die gereg. As jy dit moeilik vind om bedagsaam te wees, wees dan net slim genoeg om saam te werk en liewer dikbek bed toe te gaan in jou eie huis. So bly jou rekord skoon.

Dit sal die vakansie vir ons almal net aangenamer maak as ons binne die perke bly, ‘n woordjie van dank tenoor hierdie mense uitspreek en vir hulle bid, want iewers gaan op Kersdag ‘n bord kos in die mikrogolf wag, reg om warmgemaak te word en alleen langs ‘n tafel geëet te word.

Suikerbrood en suurvye

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top