Eergister se Nuwejaarsdag, 1955

  • 0

Foto: Canva.com

Tussen die beet en geelwortels sit ek by die kafeetafeltjie met ’n koeldrank. Dis Nuwejaarsdag. Erna-hulle het gaan piekniek hou en swem by die meer. Hermina-hulle het gaan tennis speel. Nie een van my vriendinne het my saamgenooi nie.

Soos gewoonlik gaan my ma-hulle Germiston toe vir die Nuwejaarsdag-viering by oom Duppie en aunt Ellie. My ma-hulle is al weg hier teen negeuur. Hierdie jaar wou ek nie saam nie.

Ek is ’n groot meisie wat nou matriek toe gaan. Ek het nie meer lus om saam met die seuns met Johannes se elektriese karretjies te speel nie. Om by die grootmense te sit en tande tel is inniglik vervelig. Van die vorige jare het ek saamgegaan en in my verveeldheid het ek selfs met my neus in oom Duppie se vliegkaarte gesit. Die lughawens op die kaarte was swart stippels waar om fyn strepies soos grashalmpies in ’n sirkel gestrooi was. Onwetend dat die spikkel in die middel ’n lughawe is en die grashalmpies die verskeie rigtings waarmee vliegtuie die lughawe kon binnevlieg is.

“Jy moet saamgaan, Meis, ek hou niks daarvan dat jy alleen hier agterbly nie,” het my ma gesê en na my in die spieël gekyk terwyl sy die kam deur haar kroesies gesukkel het. Sy het spesiaal vir Nuwejaar haar hare by ou miesies Nel, wat hare in haar kombuis doen, laat perm.

Ek was ook al daar, want my ma dink noudat ek ’n groot meisie is moet ek ook my hare laat perm. Ek hou niks daarvan nie. Niks, niks, niks om hierdie kroesies op my reguit blonde hare te sit nie. Gelukkig het my ma my dit nie hierdie jaar aangedoen nie. 

“Ek het Erna beloof ek gaan saam met hulle piekniek hou,” het ek gelieg.

“Wie kom jou haal?” het sy gevra en nog vir oulaas in die gebarste spieël gekyk. Die lamp het een aand te na aan die spieël gestaan en die spieël laat bars.

“Koos en Erna,” bly ek lieg. 

 Ek wou nie hê my ma moet weet dat niemand my genooi het nie. 

 “Wat gaan jy aantrek?”

“Hierdie,” het ek gesê en in die rondte gedraai met my nuwe wit sonrok met die pienk kolle op. Dis ’n baie mooi rok wat my ma by ou miesies Read laat maak het. Dit het pienk skouerbandjies en by die soom is daar dieselfde pienk materiaal omgesoom.

“Ek weet darem nie of daardie rok te mooi is vir ’n piekniek nie. Netnou bemors jy dit met modder of waatlemoensap. Hoekom trek jy nie een van jou ou rompies met ’n donker bloesie daarby aan nie?”

“Aag nee, Mamma, dis dan Nuwejaar en ek wil mooi lyk. Buitendien, Albert en sy sussies gaan ook daar wees en Ma weet tant Anna trek haar dogters altyd so mooi aan,” het ek aanhou lieg. 

“Nou ja my kind, wees net versigtig en moet tog nie braaivleisvet op jou pragtige nuwe sonrok mors nie, hoor.”

Ek het in die agterdeur gaan staan. My pa het verbygekom met die koekblik met die sjokoladekoek in wat my ma altyd vir Nuwejaar in Germiston bak, dit na die kar toe gedra en vir die boeties, wat al bitter ongeduldig in die kar gesit het, gesê: 

“Julle maters moet gou eers lavetrie toe, julle weet tant Ellie hou nie daarvan dat julle heeldag haar binne-lavetrie se ketting trek nie.”

Ons het op daardie stofgat nie elektrisiteit of binne-spoeltoilette nie. Dis hoekom my boeties en ek altyd so opgewonde is om stad toe te gaan om ligte aan en af te knip, die spoel-lavetrie se ketting te trek en om die deksel bo die lavetrie se sitplek op te assineer. Selfs trappe was vir ons ’n avontuur om nie eers van hysbakke te praat nie. Die mense sê ons sal nou in hierdie jaar van 1955 krag hier kry, maar my pa sê dit wil hy eers sien.

My pa het die koekblik versigtig in die rak voor die kar se agterste venster gesit. 

“Toe-toe, spring nou gou agtertoe,” sê hy. “Pasop vir die bye, lyk my hulle begin weer nesmaak tussen die bakstene,” het my pa agterna geroep.

My pa het sy hoed opgesit net toe my ma op haar nuwe sandale met die fyn bandjies om die enkels by die agerdeur uitgeswiep kom.

Die seuns het aangehardloop gekom, maar my ma het hulle gekeer.

“Was gou julle hande sommer hier by die kraan, julle kan nie net so ry nie.”

Almal het ingeklim. Ek het hulle agterna gekyk toe hulle by die hek uitgery het.

My pa het nog vir oulaas deur die venster geskree: “Sluit tog al die deure hoor, my kind.” 

Ek draai om en maak die deur toe.

Ek is alleen. Terug in my kamer gaan ek op my bed sit. Boeke lê op my bedkassie langs die swart gerookte paraffienlamp. Ek het nog gisteraand ’n boek deurgeworstel. Ek het van lees gehou, maar ek sukkel om op die woorde te fokus, al kyk ek ook hoe naby. Ek sal ’n nuwe bril moet kry wat ook weer ’n spul geld sal kos. Vir lees het ek ook nie nou lus nie. Ek gaan voor die spieël staan. Ek sit my oorbelle aan. Dit lyk soos kant blomme met ’n blinkertjie in die middel. Ek trek my wit sandale aan en sit my lipstiffie, wat presies dieselfde kleur as my rok se skouerbandjies is, versigtig aan. My hare hang lossies om my gesig en al moet ek dit self sê, ek lyk vir myself mooi. Dis net die bril.

“Ag liewe Here, hoekom moet ek tog die blêrrie bril dra?” dink ek.

Ek wil so graag hê iemand moet my vandag sien en dink ek is mooi, al sê die mense “boys don’t make passes at girls who wear glasses”.

Ek is seker iemand sal vandag kafee toe kom, maar dit is nog te vroeg vir my om kafee toe te gaan. Ek dwaal verveeld van die eetkamer tot die sitkamer rond, dan gaan ek voor die klavier sit en speel die enigste stuk wat ek uit my kop ken, Minuet in G. Dit het die laaste tyd al hoe moeiliker vir my geword om bladlees te doen. Ek moes al hoe nader aan my musiekboek kyk, wat dit ongemaklik maak om te speel. Oor en oor speel ek Minuet in G. Oor en oor en oor. Eindelik staan ek op en voel aan die sitplek van my rok of ek dit nie verkreukeld gesit het nie. Ek stryk my rok glad en drentel in die gang af.

Ons radio se batterye is pap en nou kan ek nie eers radio luister nie. Dalk as ek by ons partylyn inluister, sal daar iemand op die lyn wees. Sê nou Sarel of Marie praat ... ek sal sommer sê: “Ekskuus, ek het nie geweet die lyn is besig nie.” Hulle sal my stem herken en dan as hulle uitvind ek is by die huis, sal hulle my kom haal of so iets. Ek tel die foon, wat teen die gangmuur hang, op. Niemand is op die lyn nie. “Hallo, hallo,” sê ek ingeval iemand anders ook inluister. Daar is net ’n gesuis. Ek wonder of dit is hoe eensaamheid klink. 

Ek gaan kyk op die horlosie wat in die kombuisvenster staan. Ek kan hierdie syfers mooi sien, want die wit syfers staan uit op die swart agtergrond. Vlieë gons op die vensterbank in hulle laaste stuiptrekkings, want my ma het nog vanoggend met vlieëgif gespuit.

Dis al wat ek hoor. Die horlosie se tik en die vrekkende vlieë. Af en toe kraak die sinkdak. Ek voel bang. Wat as ’n skelm of dief of moordenaar nou hier inbreek en my keel afsny? Maar ek het mos mooi in my gebedjie vir die Here gevra om my teen moordenaars en rowers te bewaar. In die kerk word ons mos geleer om God te vertrou, maar ek is nogtans bang. Weer kyk ek na die horlosie met die hoop dat die wysers al vêr aangeskuif het. Dis net ’n paar minute wat verbygegaan het.

Terug in my kamer vat ek my handsakkie en loop deur toe. Dalk as ek baie stadig kafee toe stap, sal dit ’n goeie tyd wees om te gaan koeldrank drink. 

Ek sluit die agterdeur en sit die sleutel in my handsakkie. By die hek kyk ek rond. Ek sien niemand nie. Dis doodstil op die werf. Bo in die bloekombome koer ’n tortelduif. Ek stap straat toe. Ek hou in die middel van die pad waar die grond hard is, sodat die poeiersand aan die kant van die pad nie my sandale bemors nie. Al is dit nog vroeg, steek die son soos pyltjies op my kaal skouers. Sê nou die twee Marais-seuns kom nou hier in hulle bakkie verbygery en laai my op omdat ek so mooi lyk … Sê nou hulle vra my om saam met hulle iets vir Nuwejaar te doen?

By die poskantoor roer daar niks. Niemand is eers in die tiekieboks om familie vir Nuwejaar te bel nie.

Voor ou miesies Walters se klerewinkel gaan ek staan. Soms is daar nogal mooi rokke in haar venster, maar nie vandag nie. Sy het ’n uitverkoping vir Kersfees gehad en al die mooi rokke is seker uitverkoop. My ma koop nooit klaargemaakte klere nie. Alles word vir ons gemaak by ou miesies Read met die een been. My ma sê sy is jammer vir haar, want sy het nie ’n man nie, net twee nikswerd seuns. Sy kan die geldjies gebruik. Dis sy wat my sonrok gemaak het. Dalk sien een van haar seuns my, maar ek mag nie iets met hulle te doen hê nie, want die mense sê hulle is wild met meisies.

Tot die fish and chips-plek is vandag toe. Ek hou duimvas dat die kafee darem oop sal wees. Dit sal nooit toemaak nie, want die boere kom hulle koerante haal en vir oulaas nog ’n brood of polonie of koeldrank vir hulle piekniek koop.

Tot my verligting staan die deur oop. Ek stap binne. Tannie van Wyk staan agter die toonbank en lees koerant.

Niemand is in die kafee nie. “Aitsa, vir watter kêrel lyk jy so mooi vandag?” Sy loer oor haar bril na my.

“Niemand nie, Tannie, ek kom net ’n koeldrank drink.” Ek voel skaam. Ek het nog nooit by die tafeltjies agter in die kafee tussen die groente gaan sit nie.

Ek loop tussen die kassies tamaties deur na die twee plastiektafeltjies toe, trek ’n stoel uit en gaan sit tussen die beet en geelwortels.

Tannie van Wyk kom agter die toonbank uit.

“Wat sal dit wees?” vra sy. Dit lyk of sy vir my wil lag omdat ek so ewe alleen by die tafeltjie sit en wag om bedien te word. Ek bestel ’n aarbei-koeldrank en kyk deur die vuil venster na die stofstraat waar niemand loop of ry nie.

Tannie Van bring die koeldrank in ’n glas op ’n wit piering met ’n strooitjie daarin.

“Dis ’n sixpence.”

Ek haal die geld uit my wit plastiekhandsak en sit dit ewe grand op die tafeltjie neer. Sy stap weg en ek kyk haar agterna. Ek dink dat my ma altyd sê, as iemand groot boude het, is dit beter om nie wit aan te trek nie. Maar vandag het tannie Van nie net ’n wit romp aan nie, maar ook ’n wit-en-swart strepie-bloes wat haar van agter baie breed laat lyk. Ek wonder wat my ma daarvan sal sê. My ma en pa wat seker nou al hulle Nuwejaarsdrankies drink. Die boeties wat óf die binnetoilette se ketting trek, óf met Johannes se elektriese karretjies speel.

Sê nou, dink ek weer, sê nou Koos en Erna kom nou hulle koerant haal of selfs Ben kom vir sy ma ’n brood koop en hulle sien my en nooi my ook om saam met die jongklomp te kom jol. Ek weet ek kan nie goed genoeg sien om tennis te speel nie, maar ek kan swem of saam met almal piekniek hou.

Stadig suig ek aan die strooitjie. So stadig soos die tik van ’n horlosie, want iemand sal sekerlik nou-nou kafee toe kom, al is dit ook die Osterling-kinders met hulle snotneuse. Ek weet hulle sal my sien, want hulle is regte agies en kyk my altyd aan.

Ek kyk na die borreltjies aan die kant van die glas en roer die strooitjie baie stadig rond. Dis warm in die kafee. Ek wag en luister, steeds kom daar niemand nie. Tannie Van sug.

“Ek gaan maar sluit en die closed-bordjie buite opsit,” sê sy.

Ek staan op en skuur verby die beet en geelwortels voordeur toe.

“Heppie heppie Nuwejaar,” sê ek toe ek uitstap. Ek wil huil. 

Ek loop oor die stoep en trap in die poeiersand aan die kant van die straat, dit skuif in my sandale in. Dit maak nie meer saak nie. Niemand het kafee toe gekom nie. Niemand sal my sien nie. Niemand sal my uitnooi nie. 

Soos ek terug loop, probeer ek die sand uit my sandale skud. Ek buk af om die sand tussen my tone uit te vee en toe ek opkyk, sien ek ’n figuur vêr voor my beweeg. Soos ek nader kom, sien ek dis iemand, omtrent reg oorkant ons hekkie. Ek voel opgewonde, dalk is dit een van die Marais-seuns. Dalk het hulle agtergekom ek is nie by die piekniek nie en kom hy my nooi. Hoe nader ek kom, hoe beter kan ek sien. Dis ’n swart man. Dis ou Maljan. Ek is bang vir hom.

Hy bly in die stoor agter ou miesies Epstein se winkel. Hy dra streepsakklere en motorbandsandale. Die mense sê as ou miesies Epstein haar nie oor hom ontferm het nie, sou hy lankal van honger of ’n messteek omgekom het. Hy skop-skop in die stof. Hy lag tandloos vir my. 

Dis net ek en ou Maljan wat vandag alleen is. Hy, wat geen kind of kraai het nie, en die mense sê hy is heeltemal kens. En die mense sê ek is ’n blinde mol. Net ons twee, op Nuwejaarsdag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top