Een mens maak ’n verskil! Pseudo-sinchronisiteit: onderlinge verwantskap of blote toeval?

  • 1

 

Foto: https://pixabay.com/vectors/charity-help-poor-sad-people-1299988/

Three psychological factors are thought to facilitate bystander apathy: the feeling of having less responsibility when more bystanders are present (diffusion of responsibility), the fear of unfavourable public judgment when helping (evaluation apprehension), and the belief that because no one else is helping, the situation is not actually an emergency (pluralistic ignorance). (Hortensius en De Gelder 2018:249)

Sinchronisiteit

Die konsep sinchronisiteit is gedurende die vroeë 1930’s deur die psigoanalis Carl Jung op grond van sy ervaring in die kliniese praktyk geformuleer. Dit verwys na verskillende gebeurtenisse of ervarings wat ’n persoon deurmaak en wat oënskynlik met mekaar verband hou, terwyl geen grondige oorsaaklikheid of enige assosiasie aantoonbaar is nie. ’n Persoon droom byvoorbeeld dat hy ’n passasier is in ’n vliegtuig wat ’n noodlanding uitvoer en kort daarna sit hy as ’n gas tydens ’n formele funksie aan tafel langs ’n vegvlieënier wat hy nog nooit voorheen ontmoet het nie.

............
’n Persoon droom byvoorbeeld dat hy ’n passasier is in ’n vliegtuig wat ’n noodlanding uitvoer en kort daarna sit hy as ’n gas tydens ’n formele funksie aan tafel langs ’n vegvlieënier wat hy nog nooit voorheen ontmoet het nie.
..............

Die twee gebeurtenisse (droom en werklikheid) is totaal onafhanklik van mekaar en gebeur heeltemal toevallig, maar oorsaaklikheid of assosiasie tussen die gebeurtenisse word op ’n doelbewuste en subjektiewe wyse deur die betrokkene geïnterpreteer. Sinchronisiteit bevorder dus die koppeling van subjektiewe betekenis aan gebeurtenisse.

Binne die konteks van analitiese psigoterapie¹ word sinchronisiteit as ’n nuttige veranderlike in die terapeutiese proses beskou en in die kliniese praktyk aangewend. In ’n onlangse aanlynstudie wat 226 geregistreerde Britse sielkundiges ingesluit het, het 44% van die groep aangedui dat sinchronisiteit wel gedurende die terapeutiese proses van toepassing is. 67% was oortuig daarvan dat sinchronisiteit wel ’n bydrae tot die positiewe uitkoms van analitiese-psigoterapie-sessies lewer, veral as daar ’n keerpunt in die terapeutiese proses opduik; oordrag- en kontra-oordrag-kwessies ter sprake kom; of die kollektiewe onbewuste en die uitdrukking van onbewuste inhoude hanteer word.

.........
Vir die doeleindes van bogenoemde studie (Roxburgh, Ridgeway en Roe 2016) word sinchronisiteit operasioneel omskryf as betekenisvolle konneksies tussen innerlike gebeurtenisse (drome, denke en emosies) en een of meer eksterne gebeurtenisse wat gelyktydig of op ’n toekomstige tydstip gelyktydig plaasvind.
.............

Vir die doeleindes van bogenoemde studie (Roxburgh, Ridgeway en Roe 2016) word sinchronisiteit operasioneel omskryf as betekenisvolle konneksies tussen innerlike gebeurtenisse (drome, denke en emosies) en een of meer eksterne gebeurtenisse wat gelyktydig of op ’n toekomstige tydstip gelyktydig plaasvind.

Sinchronisiteit word ook in sekere kringe vanuit ’n wyer perspektief (wat wyer as die psigoanalitiese strek) beskou. Iemand kan byvoorbeeld ’n bewustheid ontwikkel van die logiese orde of dieper betekenis van sy/haar persoonlike lewensgebeurtenisse. Alledaagse gebeurtenisse pas hiervolgens doelmatig in by ’n groter geheel en speel ’n betekenisvolle rol in die ervaring van sin en betekenis in die lewe.

Vier soorte interkonnektiwiteit word in die Boeddhistiese kultuur onderskei, wat met sinkronisiteit verband hou. Volgens Sitong is daar interkonnektiwiteit tussen nasies (as onderbou vir vrede); tussen die geslagte; tussen superioriteit en inferioriteit; asook tussen die individu en sy medemens (Hung-yok 2009). Indien interkonnektiwiteit geblokkeer word, ontstaan kommunikasieprobleme tussen individue, groepe en nasies.

Jung het later in sy loopbaan saam met die kwantumfisikus Wolfgang Pauli gewerk. Hul idees het verder begin strek as die sielkunde en fisika en uiteindelik gegrens aan die filosofie van die natuur. Sinkronisiteit is van ’n empiriese konsep getransformeer tot ’n verklarende interpreteerbare beginsel wat tesame met kousaliteit (teoreties gesproke) tot ’n meer “volledige” wêreldbeskouing lei.

Twee gebeurtenisse

Gedurende Maart 1979 het ek en my vrou Hermanus besoek. Sy was op daardie stadium hoogswanger met ons eersteling. Ons het besluit om in ’n gewilde verblyfplek tuis te gaan. Dit is ’n geskiedkundige gebou wat uit 1800’s dateer. Dit is op die kuslyn geleë met ’n pragtige uitsig oor die see.

............
Dit was ’n warm en bedompige laatsomeraand toe ons vir aandete in die eetsaal aangesit het. Ek het vir ’n oomblik opgestaan om iets by die buffet-tafel in te skep en toe ek weer by ons tafel terugkom, het my vrou in die niet verdwyn.
.............

Dit was ’n warm en bedompige laatsomeraand toe ons vir aandete in die eetsaal aangesit het. Ek het vir ’n oomblik opgestaan om iets by die buffet-tafel in te skep en toe ek weer by ons tafel terugkom, het my vrou in die niet verdwyn. Ek het vinnig rondgekyk, maar haar nie gewaar nie. Toe ek afkyk, sien ek twee bene (netjies langs mekaar geplaas) onder ons tafel uitsteek. Sy het lighoofdig geraak as gevolg van lae bloeddruk en die swangerskap en gevolglik onder die tafel ingeval. Ons het met behulp van die kelner aan diens haar versigtig onder die tafel uitgehaal. Sy het wonderbaarlik geen liggaamsdele gekraak, gebreek of ernstig gekneus nie. Na ’n glas koue yswater, verdere ondersteuning deur die kelner, ’n kort rusperiode en inaseming van vars seelug was sy weer perdfris en kon ons weer die ete hervat.

Gedurende Mei 2022 besoek ons Hermanus weer en ons maak, op grond van nostalgiese oorwegings, na 43 jaar van presies dieselfde akkommodasie gebruik. Na ontbyt die oggend vertrek ons. Die twee trappies van die gebou by die voordeur is met presies dieselfde sierstene geplavei as die sypaadjie. Die oppervlakte van trappies smelt gevolglik visueel saam met die oppervlakte van die sypaadjie, met ander woorde die dieptewaarneming van ’n persoon word verwring, veral as hy ’n halfmaanvormige leesbril op het, wat na regte afgehaal moes wees. Die gevolg was dat ek met mag en mening op die sypaadjie neerslaan, en tydens die vallery onder ’n motor inrol wat in die straat voor die gebou se voordeur geparkeer staan. My bene steek (minder netjies geplaas) onder die motor uit. ’n Fisioterapeut (wat op pad terug is vanaf die hospitaal na haar praktyk) sien die vallery. Sy parkeer onmiddellik haar motor op die aangrensende parkeerplek. Sy kom vinnig nader en vra beleefd: “Het Oom geval, of werk Oom aan die motor?” Nadat ek verduidelik wat gebeur het, het sy volledige voorkomende wenke gegee oor die kneusing aan my regterheup indien ’n swelling sou verskyn of die kneusing blou sou verkleur.

Bystander-effek

Die versoeking bestaan natuurlik nou om sinchronisiteit in hierdie twee afsonderlike val-insidente in te lees. Dit sou egter onverantwoordelik wees of op pseudo-sinchronisering neerkom omdat twee verskillende persone by ooreenstemmende gebeurtenisse betrokke was, terwyl sinchronisiteit verwys na dieselfde individu wat simboliese betekenis koppel aan twee verskillende, outentieke persoonlike gebeurtenisse. Hierdie vallery kan dus aan slegs blote toeval toegeskryf word sonder dat enige simboliese betekenis afleibaar is.

..........
Die rol wat die bystander-effek hier speel, is egter relevant en betekenisvol. Dit beteken dat wanneer ’n krisis ontstaan, die kanse statisties groter is dat ’n enkele bystander onmiddellik hulp sal verleen as wanneer meer as een bystander betrokke is.
............

Die rol wat die bystander-effek hier speel, is egter relevant en betekenisvol. Dit beteken dat wanneer ’n krisis ontstaan, die kanse statisties groter is dat ’n enkele bystander onmiddellik hulp sal verleen as wanneer meer as een bystander betrokke is. Wanneer meer as een bystander op die toneel is, vind diffusie van verantwoordelikheid plaas. Hoe meer bystanders betrokke is, hoe groter is die kanse dat die individue nie sal hulp verleen nie, omdat hulle oortuig is dat iemand anders in die groep sal ingryp.

Persoonlikheidseienskappe en waardes (soos altruïsme versus selfsugtigheid) kan egter die wyse waarop bystanders as enkelinge of in groepsverband reageer, verder kompliseer (Campos-Mercade 2021).

In hierdie geval was daar net een kelner en een fisioterapeut as bystanders betrokke en het hulle sonder om te aarsel en sonder selfsug vinnig en altruïsties op ’n effektiewe wyse hulp tydens die krisisse verleen. Geen diffusie van verantwoordelikheid het plaasgevind nie. Opregte demonstrasie van menslike waardes soos toegeneentheid, betrokkenheid en medemenslikheid is gedemonstreer.

Die onderlinge verwantskap tussen hierdie twee afsonderlike gebeurtenisse is dus nie in ware sinchronisiteit te vinde nie. Oënskynlik lyk dit asof die “ratte van die twee gebeurtenisse glad en positief inkam by mekaar” (Botha ea 2013:404), maar die eintlike betekenis is in die bystander-effek geleë. As bystanders was hulle betrokke by ’n situasie wat hulpverlening genoodsaak het en gesonde lewenswaardes het op ’n spontane wyse in hul gedrag na vore gekom.

Eindnota

¹ Belangstellende lesers kan meer lees oor die betekenis van die psigoanalitiese terminologie by die volgende skakel: https://apsa.org/content/psychoanalytic-terms-concepts-defined.

Bibliografie

Botha, WF, FJ Lombard, GJ van Wyk, L Rademeyer, A Cloete en H Fourie-Blair. 2013. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Deel 10. Stellenbosch: Buro van die WAT.

Campos-Mercade, P. 2021. The volunteer’s dilemma explains the bystander effect. Journal of Economic Behavior & Organization, 186:646–61.

Hortensius, R en B de Gelder. 2018. From empathy to apathy: The bystander effect revisited. Current Directions in Psychological Science, 27(4):249–56.

Hung-yok, I. 2009. The power of interconnectivity: Tan Sitong’s invention of historical agency in late Qing China. Journal of Global Buddhism, 10:323. link.gale.com/apps/doc/A358999118/AONE?u=27uos&sid=bookmark-AONE&xid=dd48456e (15 Junie 2022 geraadpleeg).

Kime, P. 2019. Synchronicity and meaning. Journal of Analytical Psychology, 64(5):780–97.

Payne-Towler, C. 2020. Synchronicity and psyche. Jung Journal, 14(2):64–90.

Roxburgh, EC, S Ridgeway en CA Roe. 2016. Synchronicity in the therapeutic setting: A survey of practitioners. Counselling and Psychotherapy Research, 16(1):44–53.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top