Een honderd sonnette van die liefde: XVII – Ek is nie lief vir jou asof jy ’n roos is nie

  • 5

Ek is nie lief vir jou asof jy ’n woestynroos is, topaas,
of pyl van angeliere wat vuur voortplant nie:
ek het jou lief soos mens sekere duistere dinge liefhet,
in die geheim, tussen die skaduwee en die siel.

Ek het jou lief soos ’n plant wat nie in blom is nie, maar binne
hom versteek die lig dra van daardie blomme,
en danksy jou liefde lewe verdonker in my liggaam
die digte geur wat opgestyg het uit die grond.

Ek het jou lief sonder om te weet hoe, nóg wanneer, nóg van waar af,
ek het jou heel direk lief sonder hindernis of hoogmoed:
dis hoe ek jou liefhet, want ek ken nie ’n ander manier van liefhê,
as net hierdie wyse waarop ek nie is nie, nog jy,
so nou verbonde dat jou hand op my bors myne is,
so nou verbonde dat jou oë toegaan met my slaperigheid.

("No te amo como si fueras rosa" deur Pablo Neruda uit Cien sonetas de amor, 1960. Vertaal deur Waldemar Gouws.)  

 

  • 5

Kommentaar

  • Ek hou van hierdie vertaling en dink dit is hoofsaaklik geslaagd. Aan die einde van die gedig is daar egter 'n paar dingetjies wat my laat dink dat mens mens ander vertalings kan oorweeg. Die Spaanse woord "cerca" beteken eenvoudig "naby".   "nou verbonde" klink effens "tegnies". In hierdie liefdesgedig werk eenvoudige, onopgesmukte woorde beter as "deftiger" keuses.   Mens kan 'n vertaling oorweeg soos: "so na aan my dat jou hand op my bors myne is"   Die laaste reël:   Die bestaande vertaling gee " con mi sueño." weer as "met my slaperigheid".   Die woord "slaperigheid" voel nie reg in hierdie passievolle liefdesgedig nie. Die woord het konnotasies van luierigheid en ontspanning wat nie goed pas in die gedig nie.   Die Spaanse worod "sueño" word gewoon "slaap" in Afrikaans.   Mens kan dus die volgende vertaling oorweeg vir hierdie reël: "so na aan my dat jou oë toegaan wanneer ek begin slaap."          

  • Waldemar Gouws

    Dankie vir jou kommentaar, De Waal.  My vertaling is die simptoom van my siening. Neruda se gedig kom uit betragting en besef - 'n ryk, klein samevatting van die liefdestoestand - dus nie 'n "passievolle liefdesgedig" nie.

  • De Waal Venter

    Hallo Waldemar. Ek dink jou beskrywing van die gedig as "'n ryk, klein samevatting van die liefdestoestand" is baie raak. Dit tipeer die gedig uitstekend. Ek kan sien hoe hierdie siening van die gedig jou taalgebruik gemotiveer het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top