
“Een en een maak twee” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Een en een maak twee
Die naggeluide word harder as sy die balkondeur oopskuif. Sy gaan sit kruisbeen op die dek se vloer en kyk na die volmaan wat volmaak rond aan die Laeveld se horison hang. Die veraf silhoeët van die Wolkbergkranse sigbaar agter die gespikkelde liggies van die vallei se plase wat onderkant hul huis lê. Die blare van ’n uitheemse luiperdboom wieg rustig in die aandwindjie. Die muskiete kan haar maar vreet, want sy is nou té besig om haar dankbaarheidslysie af te rammel om dié nuwe bekommernis te verdring. Hoe kan mens se kinders só ’n rol in ’n ma se hart en geestesgesondheid speel, steeds 37 jaar na geboorte?
Daar was ’n tyd toe haar keel toegetrek het as iets haar só jaag, haar hart timmerend in haar borskas, die asemgejaag tot sy wil omval van benoudheid. Hiperventilasie noem die slim mense dit. Al wat destyds gewerk het, was om kaalpoot buite op die gras te gaan loop, om haar aandag af te trek van haar asemhaling, om net haarself te ground, of dit nou middernag of dagbreek was. Sy het intussen ook geleer van ’n rekkie om die pols, koue lappie in die nek. Enige iets wat die liggaam weer terugbring na die aarde toe.
Middelkind: “I was the classic middle child in some ways, the one who could have been a priest in an alternate universe.” – Chiwetel Ejiofor
Agt jaar lank het hy net opgehou om sorgvry te leef – die beste professor wat al van kleinsaf klippe en potskerwe versamel het. Die sagte dierefluisteraar, die dinosouruskenner. Die breëbekkieglimlag het ná sy honneursjaar in Geologie plek gemaak vir ’n afgeremde en onvergenoegde uitdrukking. Altyd ’n frons en hartseer groen oë. Meedoënlose pogings om sy meestersgraad te voltooi. Sy, die ma, het alles probeer om vas te stel wat die probleem is: hom geneem vir behandeling teen depressie en hom saam op bergklimuitstappies laat kom om rotse te identifiseer. Sy koop selfhelpboeke en stel ’n terapeut voor. Dit was ’n tydperk van moedeloosheid en donkerte in hul lewens, van hulpeloos toekyk hoe haar kind sukkel om rigting en vrede te kry. Een Maandagoggend, vroeg in sy agt en twintigste jaar, net na sewe toe sy nog die slaap uit haar oë vee, bel hy haar waar sy ’n kunswerkswinkel bywoon ver van die huis. “Ma, ek het iets om vir Ma te vertel. Ma, ek is gay. Ek is jammer, Ma. Sal Ma asseblief vir Pa vertel? Ek … ek … kan nie. ” Sy woorde hortend en sag deur sy snikke. Sy onthou nog hoe sy yskoud geraak het. Hoe die lewe ook vir haar ’n oomblik gaan stil staan het. Net nie dít nie! Hoe is dit moontlik? Hoe gebeur so iets? Google! What is the cause of homosexuality? Are the parents at fault? I have a gay son. What now …?
Twee naby vriendinne gesels met haar oor hul gay seuns. Maar hulle het van die begin af gay gelyk? Dink sy stom. Een deel ’n mooi skryfstuk van ’n pa oor sy gay seun se rol in hul gesin – beweer dat dit ’n sagtheid in hul lewe ingebring het. Een ma vertel weer dat haar 15-jarige net dit aan haar genoem het dat niks wat sy kan sê of doen, hom sal verander nie. Al wat sy kan onthou en ervaar het van gaywees in die tagtigs toe sy student was, was hoe moeilik dit was vir haar gay vriend daardie tyd – die huilsessies, die eensaamheid, die skewe kyke, die uitsluip na gayklubs, die slapelose laatnagkoffies, die wete dat hy “anders” is en dat niemand tog net moet uitvind nie.
’n Naguiltjie gee sy bekende Laeveldgroet. Die windjie roer die blare van die bamboespalm onder in die tuin. Sy was twee weke lank in skok. Het snags wakker gelê en gewonder hoe sy hierdie situasie gaan hanteer. Hoe kon dit nou een van háár drie seuns tref? Sy wéét hoe moeilik is die pad na selfaanvaarding! Hoe moeilik is aanvaarding deur veral die klein boeregemeenskap waar hul woon en werk. Die moffiegrappies rondom die braaivleisvuur. Met bewing in haar maag, onthou sy die pragtige jong gay paartjie wat so ’n klompie jaar terug in die Kaap gemartel en vermoor is. Die homofobie wat nog heers in sommige gemeenskappe.
In haar kussing het sy snags geween oor verlore kleinkinders. Hoe selfsugtig! Na sy bekentenis, het hy rustiger begin raak, toekomsplanne begin maak, uit die huis getrek en rigting in sy lewe gekry.
Dit was nie alles gladde paaie nie. Hy moes tyd gegun word om homself as mens, as ’n anders-seksuele wese, te leer ken en aanvaar. Ver weg van sy ouers af. Daar is hierdie wanpersepsie dat losbandigheid heers onder alle gay mense. Dit, het sy mettertyd uitgevind, is nie waar nie. Meeste gay mense soek, nes heteroseksuele mense, ’n sielsgenoot. ’n Pasmaat. Iemand met wie jy kan gaan inkopies doen, huis opsit, bergklim, braai en wat jou ondersteun as jy siek is. En twee jaar gelede het middelboet ’n rustige lewensmaat ontmoet wat ook in háár hart gekruip het. Dit klink soos ’n sprokie met ’n mooi einde.
Sy haal diep asem. Vier tellings in … hou in vir vier tellings en asem vir vier tellings uit. “Box breathing.” Dit kalmeer die senustelsel. Sy gaan haal die muskietroom in die slaapkamer en smeer haarself lekker dik. Nee wat, sy is nie ’n muskietteef se bloedskenker nie! Dis rustig en kalmerend om net na die krieke en skuimpaddatjies te luister.
Haar drie seuns is haar asem. Haar hoofrede om soggens wakker te word. Die op- en afdraendes van die lewe word bepaal deur jou kinders se geluk. Vyf jaar het verloop sedert middelboet se uit die kas klim. Alles was rustig. Hanteerbaar. Werk, rus, skilder. Kuier. Werk.
Iets skarrel in die bossies buite die erf. Dis seker ’n muskeljaatkat of dalk die fisant wat verskuif in ’n boom. Kan ook die bosuil wees wat aandete soek.
Ouboet: “The moment that changed me for ever was the moment my first child was born. I was happy, filled with hope, and thought. Now I understand the whole point of work, of life, of love.” – Paul Theroux
Jul weet mos hoe ’n ma vrou kan soek vir haar oujongkêrel oudste seun? Wel, nou nie openlik nie. So half agteraf, maar ook deur slim te skimp, eers tergend, dan meer ernstig, want dis immers die een wat eerste kan trou, liefde kan smaak, geborge kan voel in ’n verhouding en geborgenheid gee.
Sy lê op die naat van haar rug en kyk vir die sterre. Sy was só bewus van haar oudste se eensame lewe op die plaas waar hy finansiële bestuurder was. Daar was verhoudings met mooi meisies. Selfs ’n verbreekte verlowing en net ’n ma weet van die hartseer wat al lank tuisgemaak het in haar seun se groot, donker oë. Hy staan veertig se kant toe. Aantreklik en slim en fiks. “Ma, ek is eensaam. Ek is moeg vir alleenwees. Maar ek is moeg van probeer.” En dan kom hy vroeër terug van ’n alleen vakansie. Introvert wat hy is, vind hy dit moeilik om ’n gesprek aan te knoop. Om sinnelose ligsinnige praatjies te maak. Vrouens het met hom gemors, hom vertrap en agtergelaat sonder ’n sweempie van skuldgevoel. Dan gee sy maar drukkies. Troos met: “Ag, Ouboet, alles sal regkom, iewers is die regte vrou vir jou.” Maar hy het die afgelope twee jaar opgehou om te kom kuier. Het altyd “planne” en vermy familiebyeenkomste. Sit alleen en eenkant met sy foon. Sy het hom laat begaan en hom die vryheid gegun om sy eie tyd en naweke te spandeer soos hy wou.
En toe kom die: “Hi, Ma, ek het iets wat ek Ma moet vertel. Sal Ma asseblief vir Pa vertel, want ek kan hom nie in die oë kyk nie.” Die WhatsApp-boodskap wat haar wéér in haar spore stuit. Hierdie keer was dit net erger. Sy was stom. Hy het liefde gevind. In die arms van ’n ander man. Hul woon al ’n jaar saam. Liewe Here! Hoe verwerk mens die feit dat jy twéé gay seuns in die wêreld gebring het? Jy loop in die veld in en jy huil. Nee, jy gil! Vra vrae aan die bome en die grasse en die bosse. En aan God. Jy ly aan ontkenning. Jy wonder oor baie goed: Wat het ons verkeerd gedoen? Is dit die manier waarop ons kinders grootgemaak het? Dalk iets in ons verhouding? Wil die Here my straf? Hoe vertel ek die familie? Hoe hanteer ek ’n familiebyeenkoms? Wat sê ek vir die dominee? Wie is die persoon wat “actually die eerste persoon is wat vir my omgee” vir jou oudste seun? Jy probeer hom oortuig dat daar iewers nog ’n oulike meisie is wat vir hom gemaak is. “Ma, hou nou op. Asseblief, dit help nie.” Jy reël ’n formele kuierafspraak met jou seun. Want jy het hom lanklaas gesien en jy wil sy gesig sien – sy gemoedstoestand beoordeel. “My seun, hoe gebeur dit na soveel meisies?” Jou bene wil-wil knak, jou hande bewe en jy is naar toe jy by sy huis instap. Hý lyk en voel nie beter nie. Sy rooi oë, strak mond en die plooitjies om sy oë. “Ma, my angsmedisyne werk nie meer nie.” Hy is in ’n toestand. Hoe hou ’n ma se hart? Hoe erg moet dit voel as jy dink dat jou ouers jou gaan verwerp? Hoeveel slapelose nagte moes hy nie verduur voordat hy besluit het hy kan nie meer die geheim alleen dra nie? Jy druk hom styf en lank teen jou vas. “My seun …”
Snags vat jy en jou man hande. Lê in stilte, elkeen met sy eie gedagtes, vrese en wonder oor die verlede, die hede en die toekoms. Dit was vroeg Oktober 2024. Die wêreld gaan nie stil staan nie. Elkeen probeer die situasie op sy eie verwerk. Die jaar spoed na ’n einde. Kleinboet se vrou verwag ’n baba vroeg in Desember. Ons eerste kleinkind!
Kersdag word by julle huis gevier. Die ergste skok en stof het gaan lê. Jy het ’n nuwe spreekwoord geleer in ’n werkskursus: It is what it is! Jy nooi al die manne en hul liefdes uit. Begin spyskaart bedink en beplan. Bestel ’n lewensgrote Kersboom en silwer balle. Laat manlief 100 meter feeliggies om die dek se tralies vleg wat feestelik flits. En op Kersdag sit almal gemoedelik om die lang tafel. Die twee gay paartjies en die getroude jongste, sy vrou en die nuwe babaseuntjie. Die skoonmense ook. Die silwer Kersballe skitter teen die rooi en groen tinseldraperings om die kersboom. Buite om die dek en bo-stoep flits die blou feeliggies. Almal het help kosmaak, stoepvloere afgewas na die reën en patiostelle uitgedra. Sy sit ’n oomblik stil en kyk na haar drie seuns. Hul gesels soos van ouds: broers wat saam op ’n plaas grootgeword het. Wat saam met lorries en trekkertjies op die sand ploegwalle gemaak het. Almal kry ’n beurt om die nuwe babaseuntjie vas te hou. Geskenke word uitgeruil. Natuurlik was daar ook bietjie ongemak. Opgemaakte geselsies. Maar later het die gemoedelikheid tóg in die lekker lag en smaaklike kos en wyn sy lê kom kry.
Sy kyk weer na die maan wat ’n sagte sirkel om haar kop soos ’n heilige balanseer. Dis haas tyd om in te gaan. Hy sal wonder wat van haar geword het – die tee seker koud wat hy elke aand voor bed vir haar maak. Sy weet nou: Aanvaarding is ’n besluit. Vrede is ’n besluit. Geluk is ’n besluit, al moet jy dit daagliks en selfs soms uurliks doen. Dankbaarheid is ’n wilsbesluit. En jy hoef nie almal van alles te vertel nie. Nie vir die uitgebreide familie nie. Nie aan al jou vriende nie. Dis niemand se besigheid nie. Ons het twee gay seuns. Twee! Daar is ’n ligtheid en nuwe energie in jou lyf: Die kinders het almal liefde gevind en is gelukkig. Hoe ver het ons gekom …
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie


Kommentaar
Eg en kosbare woorde!