Edvard Munch se beroemde skildery, Moeder Natuur se kreet

  • 1

Edvard Munch se beroemde skildery, Moeder Natuur se kreet (Fotobron: Wikipedia)

Die Noorweegse kunstenaar Edvard Munch het altesaam vyf weergawes van die skildery hiernaas geskep, twee in olie en tempera op karton (die eerste in 1893, die laaste in 1910), twee in pastelkryt op karton en ’n litografiese plaat waarvan daar sowat 45 eksemplare afgedruk is, waarvan hy ook sommiges met die hand ingekleur het.

In teenstelling met die algemene mening daaroor, beeld  Munch nie ’n skreeuende figuur uit nie – die figuur skrik vir ’n harde geluid. Munch het self vertel dat hy en twee vriende op die Ekeberg, ’n bult langs ’n fjord naby die stad Oslo, gestap het, toe die hemelruim opeens met ’n besonderse sonsondergang tot helderrooi verkleur het.

Dit was vir die sensitiewe kunstenaar asof die ganse natuur hardop skreeu; so sterk was hierdie gewaarwording dat hy hom verbeel het dat hy hierdie “kreet” werklik  hoor.

Die oorspronklike Noorweegse naam vir Munch se skildery is ’n enkele woord, “Skrik”, presies soos op Afrikaans. Op Duits het hy dit ’n meer beskrywende titel gegee, wat op die kreet-idee dui: “Der Schrei der Natur”, oftewel “Die Natuur se gil.” Dus is die algemene benaming “Die Kreet” (“The Scream”) tog wél in die kol.

Kenners bespiegel dat, benewens die ontroering wat ’n besonderse natuurtoneel in die mens se gemoed kan oproep, die kunstenaar ook buitengewoon bekommerd en aangedaan was vanweë die feit dat sy suster onlangs in ’n nabygeleë inrigting vir geestelik versteurdes opgeneem is. Hy het self later vertel hy was indertyd verward en bekommerd. Vandaar dan sy uitbeelding van poele bloed in die hemelruim en die vrees op die verwronge gesig van die geraamte-agtige figuur.

Een van die pastelweergawes van “Skrik” is in 2012 vir ’n bedrag van byna $120 000 000 verkoop, die hoogste prys wat enige skildery al ooit gehaal het. Beide die olieverfweergawes is al deur die jare gesteel, die mees onlangse in 2004. Albei is mettertyd teruggevind, maar nie sonder ’n mate van beskadiging nie. En nog meer onlangs is daar in die media berig dat die 1910 weergawe besig is om te verbleek weens klamheid in die museumatmosfeer, veroorsaak deur die asems van die baie besoekers wat die skildery graag wil sien. Die Oslomuseum was verplig om ’n vogwerende skerm voor die prent op te rig.

Daar word algemeen aanvaar dat ’n kunstenaar nie altyd ten volle bewus is van die profetiese reikwydte van sy kuns nie. ’n Mens kan bespiegel oor die vraag: was Munch nie werklik profeties oor wat vir die aarde nog voorlê nie? Het die natuur nie miskien tóé al so geskreeu oor al die lugbesoedeling en gevolglike aardverwarming nie? Moes dit meer as honderd jaar vat voor ons, soos Munch, Moeder Natuur se noodkreet hoor? Só lank het dit gevat dat die uitbeelding van die kreet selfs ook al begin verbleik het, die gevolg van mense se belangstelling in die uitbeelding van die kreet en nie in die réde daarvoor nie. En toe neem die natuur die saak in eie hande: die pandemie het ’n drastiese vermindering in lugbesoedeling tot gevolg gehad, vanweë ’n geweldige afname in petrol- en dieselverbruik. Selfs die uitbeelding van haar pyn het sy begin beskerm – besoekers aan baie kunsmuseums moet tans wegbly of as hulle wél toegelaat word, word die wasem van hul asems deur maskers opgevang.

Help die wêreldwye grendeltyd ons nie tans om die natuur se balans te herstel nie? Of is die pandemie Moeder Natuur se wraak op die onbesonne mensdom se vernietiging van natuurlike bronne en ons ondeurdagte opvreet van mooi klein diertjies soos die ietermagô?                                   

  • 1

Kommentaar

  • Berdéhan Brand

    Om die balans in die natuur te herstel, sal meer as ’n jaar of twee se grendeltyd neem – ongeag hoe Moeder Natuur wil wreek. Die wat diertjies soos die ietermagô, sklipaaie en vlermuise wil eet, sal dit steeds doen. Dalk die mag agter Moeder Aarde (wat haar laat draai en in ’n wentelbaan hou, ’n ander perspektief).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top