EB Grosskopf (1888–1949)

  • 0

EB Grosskopf (Foto: Wikimedia Commons, openbare domein)

Gebore en getoë

Ernst Berthold Grosskopf is op 18 Oktober 1888 in Bloemfontein gebore as die jonger broer van die latere bekende dramaturg JFW Grosskopf. Hulle vader was eerwaarde JT Grosskopf, sendeling van die Lutherse gemeente.

Hulle moeder, gebore in 1864 in die Lydenburgse distrik, was die oudste dogter van eerwaarde H Grützner, wat in 1859 saam met A Merensky (vader van dr H Merensky) na die Transvaal gestuur is. Hulle was die eerste sendelinge wat die Republiek in sy gebied laat arbei het.

EB Grosskopf het sy skoolopleiding in Bloemfontein ontvang.

Verdere studie en werk

Ná skool is hy na die universiteit in Bloemfontein, en nadat hy sy graad behaal het, het hy ook daar skoolgehou. Hy was een van die eerste studente wat die BA-graad aan die ou Grey Kollege, later die UKOVS, verwerf het.

In 1915, etlike maande nadat Die Burger gestig is, het hy by die redaksie aangesluit, waar hy onder andere as parlementêre verslaggewer en later as sportredakteur gewerk het. Hy het in 1922 weer gaan onderwys gee. Drie maande na die stigting van Die Suiderstem (in 1936) het hy by die redaksie van dié koerant aangesluit en toe Die Naweek in 1940 gestig is, is hy as redakteur aangestel, ’n pos wat hy beklee het tot November 1949, ’n paar weke voor sy afsterwe. Hy was bekend as pionierskrywer en -joernalis. Hy het ook heelwat radiowerk gedoen.

Hy is in 1920 getroud met Kotie Strauss van die distrik Calvinia, en ’n dogter en twee seuns is uit die huwelik gebore.

As mens was EB Grosskopf uiters beskeie. Toe iemand hom kort voor sy dood vir ’n biografiese skets van 1 000 woorde gevra het, was sy antwoord: “Dis ten eerste heeltemal te veel: binne 1 000 woorde sal ek my hopeloos vaslieg en in die kloue van die gereg beland. Ek is gebore, getroud, vader van twee seuns en ’n dogter, het ’n paar prulwerkies gepleeg ... Dis al (soos die dierbare oorlede Jan Celliers in ’n oomblik van kortasemigheid gesug het).

“Ten tweede weet ek voor my siel dat ek nie in die intelligentsia tuishoort nie. Ek is maar ’n humble musket-bearer soos oubaas Merriman dit uitgedruk het toe hulle hom vra hoekom hy in die Unie-Volksraad geëis het om ’n sitplek in die agterste bank te kry. Ek voel ook somtyds of ek ’n oubaas is wat ’n genadige stilswye oor sy ‘jeugdige misdade’ verdien het.”

EB Grosskopf is op 15 Desember 1949 ná ’n siekbed in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorlede. Hy was 61 jaar oud. Hy is oorleef deur sy eggenote en sy drie kinders, Marie Pienaar, HJ Grosskopf en EM Grosskopf. Die begrafnis het uit die Duitse Kerk in Langstraat, Kaapstad plaasgevind.

Ná sy dood het J Steinmeyer, voorheen van Die Burger en ’n oudkollega van EB Grosskopf, die volgende geskryf: “Binne enkele maande ná die oprigting van Die Burger het Ernst Grosskopf tot die redaksie toegetree en ’n hele paar jaar ’n gewaardeerde lid daarvan gewees. By sy kollegas was hy bemind, veral in sy sin vir humor. Vir hom was die humoristiese kant van elke saak die mees opvallende. In sy besondere rubrieke het hy uitgemunt.

“Die bekendste van sy gereelde bydraes tot Die Burger was “Rissies” wat hy onder die skuilnaam Duineboer laat verskyn het. Daarin het Grosskopf vrye spel gegee aan sy humor, sy besondere soort nooit sonder ’n angel nie. Die steke in sy geskryf was niks anders as ’n uiting van sy diepe misnoeë oor die behandeling wat hy van amptelike kant in die begin van die Eerste Wêreldoorlog ondervind het.

“Om een of ander rede wat aan hom nooit verklaar is nie, is Ernst Grosskopf in die begin van die Eerste Wêreldoorlog geïnterneer nieteenstaande hy ’n gebore Afrikaner was. Ná ’n kort verblyf in die kamp van Pietermaritzburg is hy daaruit ontslaan om onmiddellik daarop in hegtenis geneem te word en in die tronk in Pietermaritzburg opgesluit te word. Aanklagte is nooit teen hom ingedien nie en ten slotte is hy uit die tronk ontslaan sonder opgawe van redes, nòg vir sy hegtenis nòg vir sy ontslag. Dié behandeling het ’n diepe gevoel van onregverdigheid by Ernst laat ontstaan, ’n gevoel waarvan hy glo nooit heeltemal ontslae geraak het nie.

“Dit is dié gevoel wat hom so dikwels beweeg het om sy humor te krui met steke aan die adres van die owerheid. Hy het selfs eenkeer in botsing gekom met die Volksraad oor ’n opmerking wat hy in sy rubriek oor daardie wetgewende liggaam gemaak het. Om redes van gesondheid het Grosskopf bedank as lid van die redaksie tot diep leedwese van sy kollegas wat sowel sy geselskap as sy besondere werk hoog op prys gestel het.

“Nadat hy by Die Burger weg is, het hy die joernalistiek nie heeltemal die rug toegekeer nie. Hy het gereeld in tydskrifte van hom laat hoor en ten slotte die redaksie van Die Naweek op hom geneem, ’n weekblad wat danksy Grosskopf se leiding ’n ruime leserskring verwerf het.”

Ernst Grosskopf het bekendheid as skrywer verwerf met sy kortverhale, maar veral met sy klassieke jeugverhaal Patrys-hulle, wat op sy eie jeugherinneringe gegrond was. Hy het egter eenmaal gesê dat die geveg tussen die “Basoeto’s” en die “Vrystaters” die enigste gebeurtenis in die boek is wat werklik plaasgevind het. Die seun in die rol van Louw Wepener was ’n jong Duitsertjie van Dewetsdorp in die Vrystaat. Hy was later ingenieur in Amerika. Die omgewing waar die seuns se kaskenades afgespeel het, was na alle waarskynlikheid die Duitse sendingstasie Bethanie in die distrik Edenburg.

Patrys-hulle is aanvanklik as vervolgverhaal in Die Huisgenoot gepubliseer, en in Die Boerevrou van Augustus 1926 het die resensent geskryf dat dit beslis ’n werkie is wat meer as verbygaande waarde het. En dat ook grootmense die boek met genot sal lees, want hy gee die seun soos hy is – met sy nukke, grille en stoutigheid. Die skrywer probeer nie preek nie en tog spreek daar ’n gesonde moraal uit alles wat gegee word en juis dit sal die leser bekoor.

Die boek handel oor die lotgevalle en avonture van ’n paar leerlinge, van wie Patrys die belangrikste is. Party van die kaskenades staan in verband met die skool, ander is uit die daaglikse lewe geneem en is taamlik kleurryk, hoewel nie oordrewe nie. Die skrywer het veral aandag gewy aan die sonnige kant van die seun se lewe en hy het uitstekend daarin geslaag om ons in die gemoedstoestand van die seuns, en hier en daar ook meisies, te plaas. Alles word uit hulle perspektief beskou en dit maak die werk al dadelik eg.

Volgens die resensent is grappigheid ’n ander verdienste van die werk en dit moet regtig ’n droë mens wees wat nie hier en daar lekker lag nie. Ook die ou onderwyser wat met die kweperlat probeer indruk maak, loop plek-plek deur. En dit is ’n boek wat die resensent graag sal wou aanbeveel, al stem hy nie met alles saam nie.

Die hoofstuk oor die geveg tussen die “Boere” en die “Basoeto’s”, waarin klippe as ammunisie moes dien, met die onvermydelike gevolg, is een van die kostelike vertellings. Die hele “kommando” met “verpleegsters” en al het in ’n oogwink verdwyn en net ’n paar het die gewonde “burger” gevolg om te sien wat tuis gaan gebeur. Die verering van die gewonde die volgende dag by die skool is besonder goed geteken.

In Klasgids van Oktober 1989 skryf Elsabe Steenberg dat hoewel Patrys-hulle nie die eerste Afrikaanse kinderboek was nie, dit die eerste een was wat dadelik gewild was, en dit het deur die dekades gewild gebly, sodat daar al ongeveer 50 herdrukke was. In 1988 is ’n televisiereeks van die verhaal gemaak en ook dít was besonder gewild by jong kinders.

Die bekoring van die werk lê wel in die feit dat kinders as kinders met heerlike egtheid optree, volgens Steenberg. Die gebruik van ’n verteller is baie prominent, en hoewel die moderne ideaal is dat karakters direk gebeeld moet word en van binne uit self beleef, werk die verteller in Patrys omdat hierdie verteller self gedurig by gebeure betrokke is. Met goeie reg beweer hy naby die slot dat hy Patrys en Nettie “albei goed ken”. Hy ken hulle so goed dat hy in Patrys se gemoed kan inkyk en met groot betrokkenheid beskryf of beeld hoe hy voel en wat hy doen.

Vir Steenberg is die gang van die verhaal episodies, maar die geheel word bevredigend tot eenheid gebind deurdat Patrys en sy maats die hele tyd op dieselfde dorpie hulle lewenslustige gang gaan en die laaste maande van die skooljaar chronologies betrek word. Enkele motiewe loop ook deur: Patrys se gevoel vir Nettie en die persoonlikheidsbotsings tussen Patrys en Jan Flap. Daar is geen kunsmatige, oppervlakkige intrige soos wat in baie hedendaagse avontuurverhale aangetref word nie – alle episodes is realisties en oortuigend, en wys terug na karakters wat met fyn sielkundige insig geteken word en steeds voorop staan.

Steenberg meen dat dit eerstens gaan oor karakterisering. Selfs as die stoute verteller beskryf word, gaan so ’n beskrywing gewoonlik onvermydelik oor in lewendige beelding. Patrys bly in die middelpunt. Hy word ook soms beskryf, maar word veral lewendig gebeeld deur handeling.

Verhoudings word met begrip uitgelig en Patrys se deurmekaar gevoelens omtrent Nettie word pragtig oorgedra: die oorgevoeligheid, ’n voorgee van onverskilligheid, seergemaaktheid as Nettie óók selfbeskermend reageer en hom ’n donkie noem. Die skugter begin van ’n seun-meisie-verhouding en die emosies wat daarmee gepaard gaan, het in al die jare (sedert die 1920’s) nie verander nie, dus word die boek om daardie rede nog gelees.

Hoewel daar stemmige episodes voorkom, slaan kindgerigte humor oral uit. Wanneer die seuns voor stok gekry word oor hulle Basoeto-oorlog-spelery, merk die  verteller droog op: “Om nie in botsing te kom met die owerhede nie, het die seuns van toe af maar Zoeloe-oorlog gespeel”; as oom Jan ’n klomp onbruikbare seuns agternasit, plant hulle haastig ’n kennisgewing teen ’n hek: “Overtreders en Oom Jan sal vervolg wordt.”

Dit is dan volgens Steenberg veral om die humor, en ook die onvoorwaardelike betrokkenheid van die skrywer by verhaalgegewe en karakters, dat Patrys-hulle ’n klassieke kinderboek is.

Oor sy kortverhaalbundel Dorpenaars en ander het die resensent in Suiderstem van 31 Mei 1941 geskryf dat die bundel 16 kortverhale bevat uit die lewe van ’n plattelandse dorpie, “waar nooit iets gebeur nie”, soos die skrywer sê. Die skrywer gee die leser die indruk dat hy geloer het – hier om ’n hoek, daar uit ’n boom, uit die donker, en selfs hier en daar gehoor of gesien het wat in ’n brief staan. Dit sou ook ’n wonder wees as ’n leser nie een van die karakters in die boek op een of ander karakter in sy eie dorpie kan toepas nie.

Die skrywer maak baie gebruik van dialoog, wat sy verhale lewendig, aantreklik en realisties maak, want dit is meer aan die woorde uit ’n mens se mond dat jy hom eintlik leer ken. Die leser kry ook die indruk dat Grosskopf met sy duim en wysvinger op sy kinnebak sy karakters sit en beskou terwyl hy met moeite ’n glimlag binnehou. Want wat ook al mag ontbreek, daar ontbreek nie aan die komiese in die verhale nie. Die leser word soms gedwing om hard te lag vir die gebeure of karakters.

Die boek is vermaaklike leesstof en in ’n maklike styl geskryf en soos so baie van Langenhoven se werke, is ook hier vermaaklikheid op die oppervlak, maar oral vind ons dat dit spruit uit diepe waarheid.

En wat vir Dorpenaars en ander gegeld het, is ook waar van Grosskopf se ander kortverhaalbundels.

Dorpenaars en ander is ’n paar keer herdruk juis as gevolg van die lekker verteltrant en die eenvoudige manier waarop EB Grosskopf sy stories “opdis”.

Ernst Grosskopf het ook die ou Nibelunge-legendes in Afrikaans verwerk. Sy bekwame vertaalwerk gaan gepaard met ’n innige waardering van die boeiende inhoud van die heldhaftige ou mites wat so ’n belangrike invloed op die Duitse lewensbeskouing gehad het en wat veral vir die komponis Wagner so beïnvloed het. Volgens die Zoutpansberg National Afrikaner van 29 Mei 1948 behoort meer boeke van hierdie soort uitgegee te word, aangesien dit baie sou help om die algemene kultuurkennis van volwassenes en ook kinders aan te vul.

Toe daar in 2002 ’n kortlys van die 20ste eeu se 100 beste Afrika-boeke opgestel is, was EB Grosskopf van Patrys-hulle-faam se naam ook daar, saam met dié van Elsa Joubert, PG du Plessis, André P Brink, Antjie Krog en PJ Schoeman.

Publikasies:

Publikasie

Patrys-hulle

Publikasiedatum

  • 1926
  • 1928
  • 1930
  • 1932
  • 1933
  • 1934
  • 1935
  • 1937
  • 1938
  • 1939
  • 1942
  • 1944
  • 1946
  • 1949
  • 1950
  • 1952
  • 1955
  • 1956
  • 1957
  • 1958
  • 1959
  • 1960
  • 1968
  • 1982

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Die Boerevrou, Augustus 1926
  • Steenberg, Elsabe: “Patrys-hulle” – die oue en die immer-nuwe. Klasgids, Oktober 1989

 

Publikasie

Swart slang en ander verhale

Publikasiedatum

  • 1930
  • 1933
  • 1939
  • 1940
  • 1942
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Henri, die skildknaap met ander verhale

Publikasiedatum

1935

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Dorpenaars en ander

Publikasiedatum

  • 1940
  • 1942
  • 1944
  • 1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Unie-Volkspers
  • Port Elizabeth: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Letters (pseud): Dorpenaars en ander. Suiderstem, 31 Mei 1941
  • LV: Grosskopf in heruitgaaf. Die Burger, 29 April 1966

 

Publikasie

Die Nibelunge. Verwerk deur EB Grosskopf

Publikasiedatum

194-?

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Legendes

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Die Nibelunge, verwerk deur Eb Grosskopf. Zoutpansberg National Afrikaner, 29 Mei 1948

 

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top