Duitswester leer ken die Godheid

  • 0

Duitswester,

Soms, wanneer iemand (soos jy, byvoorbeeld) nie genoeg insig en kennis het van ’n aangeleentheid (in hierdie geval die Wese van God Wie jy veronderstel is om te dien in stede van ’n klompie reëls) om sinvolle vrae te vra nie, dan is die beste antwoord juis sinvolle teenvrae – vrae waarvan die antwoorde óf die onduidelikheid wat jy het, vir jou sal opklaar, óf jou kwaadwillige vasklou aan irrelevante dogmatiek sal openbaar. Die vrae is dus ’n pedagogiese metode, middel, om vir jou mee behulpsaam te wees, óf jou uit te wys vir wat jy is. Jou aanhoudende weiering spreek dus alreeds boekdele.

Jou vrae is uit onkunde gebore en eenvoudig te ontoereikend en swak gestel om met ’n ‘ja’ of ’n ‘nee’ te beantwoord – iemand wat so min van die geopenbaarde Wese van God weet soos jy, sal gewoon nog méér verward raak deur blote ‘ja of nee’ antwoorde. Ek wil dus nie aandadig wees aan enige verdere verwarring wat reeds by jou te bespeur is nie. Jy weet gewoon nie wat die begrip Drie-enige God, beteken nie.

Ek sal egter, ter wille van jou, jou vrae beantwoord op die enigste manier hoe dit min of meer sinvol beantwoord kán word:

Is God Messias? – Ja, in die hoedanigheid van die Goddelike Persoon, die Seun, die HERE Jesus Christus (vleesgeworde Woord van God) in die Goddelike Drie-eenheid;
Is God die Heilige Gees? – Ja, in die hoedanigheid van die Goddelike Persoon van die Heilige Gees, in die Goddelike Drie-eenheid;
Is Messias God? – Ja, in die hoedanigheid van die Goddelike Persoon, die Seun, die HERE Jesus Christus, in die Goddelike Drie-eenheid;
Is Messias die Heilige Gees? Nee, die Messias, oftewel die Goddelike Persoon, die Seun, die HERE Jesus Christus, is ’n onderskeibare Persoon in die Goddelike Drie-eenheid, net soos die Goddelike Persone van die Vader en van die Heilige Gees. Die Messias werk egter onlosmaaklik deur die Heilige Gees en doen wat die Vader Hom sê om te doen;
Is die Heilige Gees God? – Ja, in die hoedanigheid van Goddelike Persoon, die Heilige Gees, in die Goddelike Drie-eenheid;
Is die Heilige Gees Messias? – Nee, die Goddelike Persoon, Heilige Gees, is ’n onderskeibare Persoon in die Goddelike Drie-eenheid, net soos die Seun, die HERE Jesus Christus, is, onderskeibaar van die Goddelike Persone van die Vader en die Seun in die Goddelike Drie-eenheid. Die Heilige Gees werk egter onlosmaaklik deur die Messias;
Is hulle ewe oud? Is hulle gelyk? Het hulle ewe veel outoriteit? Is een onderdanig aan enige van die ander? – Die Goddelike Drie-eenheid is Één God in Sy geopenbaarde Drie-enige Wese en aard, maar Wie geen ontstaan het nie, maar die ontstaan is van alle ander dinge en behalwe dus om te sê dat die Godheid in Sy Drie-enige Wese ewig en tydloos is (vandaar Sy geopenbaarde Naam “hayah JAHVEH – ‘Ek IS’”) kán die ‘ouderdom’ van die Godheid derhalwe nie ter sprake kom nie. Die Persone van die Drie-enige Godheid is gelyk, ja, want hulle is Één, want die Seun (die Woord) én die Heilige Gees is beide uit die Vader, met ewe veel almagtige outoriteit, maar die Woord, die Seun is onderdanig aan die Vader en die Heilige Gees alleenlik in dié sin dat die Seun, die Woord, in Sy hoedanigheid as Messias op aarde net kom doen wat die Vader Hom sê om te doen en dan na die Vader terugkeer, maar tóg deur die Vader, met alle mag in die Hemele en op aarde beklee is. Hierdie ‘onderdanig’ moet dus eerder verstaan word as ’n perfekte staat van eenheid en eensgesindheid met die Vader en die Heilige Gees, vir die ewige Goddelike doel, wat dié ook al van tyd tot tyd, behels.

Nou is jou vrae volledig, in besonderhede beantwoord. As jy daarmee verskil, sal jy natuurlik dit Skriftuurlik moet kan verantwoord – maar jy sal nie kan nie.
Beantwoord nou my vrae van die 17de Maart, as jy die moed het.

Dit is só jammer jy ken die reëls van God soos resitasies, maar jy ken nie die God van die reëls nie… want as jy het, sou jy nie sulke antagonistiese briewe aan my geskrywe het, nie.

Groete en geseënde Christusfees.

Kobus de Klerk.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top