Duitswester en 25 Desember

  • 0

Duitswester

Jy skrywe oor Kersfees wat op 25 Desember gehou word. Jy skrywe ook tereg in jou brief dat God dit nie nodig ag om vir ons presies te kenne te gee wanneer die HERE Jesus Christus gebore is, nie en jy noem selfs ’n paar bekende argumente rondom 25 Desember.

Tog staan dit vas dat die HERE gebore is as Messias, as Verlosser. Dit staan ook vas dat die ganse Hemele in vervoering was oor dié geboorte en dat dit ’n geleentheid vir groot blydskap is. Die Woord vermeld dit só:

10 En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,
11 dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.
12 En dit is vir julle die teken: julle sal ’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.
13 En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:
14 Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!” – Lukas 2

Jy vra dan ook “… ek wil tog die Christene vra. Deur hierdie dag te vier en jul kinders hierdie onding te leer, help julle jul kinders op die pad van geloof in G_d of nie?”

En dan noem jy ook ’n stukkie geskiedenis omtrent 25 Desember spesifiek. Sommige betwis daardie weergawe, ander kan weer daar byvoeg en só gaan dit aan.

Maar jy is só verkeerd as jy sê dat ons, ons kinders ’n “onding” leer en jy moet baie versigtig wees met jou oordeel, want jy is totaal verkeerd … jy sien, ons leer ons kinders dat die Messias, die HERE Jesus Christus, vir hulle en alle ander gebore is en dat ons wêreldwyd daardie dag, 25 Desember, gebruik om die blye advent van die geboorte van ons HERE, die Messias, ons Verlosser, te gedenk. Dít is wat ons, ons kinders leer en niks van die goed waarna jy uit die verskiet verwys nie. Daardie dinge uit die verskiet, bestaan nog net in jóú gemoed en ’n paar ander wat soos jy daaroor voel, maar daardie dag, die 25ste Desember, word vir eeue al geassosieer met die blye tyding van die herdenking van die geboorte van ons HERE, spesiaal vir ons, ook vir jóú.

Kry Vrede in jou hart en laat staan die kwaad van “ondinge” waarvan jy nog net kan praat, maar nie meer kan sien, nie. Vir die HERE is ’n “onding” nie vir lank só nie, want die HERE vernuwe en heilig – só doen hy vir jóú en vir my. Só neem die HERE enigiets oor en maak dit Heilig. Ook ’n dag waarop Sy kinders Sy geboorte wil herdenk.

Verstaan tog mooi, die “onding” bestaan nog slegs in jóú gemoed, terwyl die HERE al lánkal van die ‘onding’ waarvan jy uit die gryse verlede praat, ontslae geraak het. Mense (báie van hulle) wie die 25ste Desember as die herdenking van die HERE Jesus gebruik en beleef, ontvang Sy nabyheid en Sy Krag en Sy teenwoordigheid sonder twyfel, want dáár is HY in ons midde:

19 Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. 20 Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde – Mattheus 19.

Groete,

Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top