Duitswester die kansvatter

  • 0

Duitswester

Jou snedige tirade oor my gaan jou niks baat nie – jy weet mos, ek steur my min aan diesulkes wat sulke dinge doen want dit is duidelik dat die inhoud van my skrywes jou ontstel omdat jy nie raad daarmee het nie – dan maar ’n sarsie halfgebakte slegsê.

Jou geheue is ook maar skraal, sien ek. Daarmee saam is daar ook ’n soort ontkenningsindroom by jou te bespeur. Maar dit daargelaat. Kom ek herinner jou – jý is die een wat hasepad gekies het toe ek aan jou oor die drie-eenheid van God uitgewys het dat die Woord vol bevestiging is daarvan, en jou ’n paar vrae gevra het, wat jy toe nooit beantwoord het nie … het jy nie die insig nie, of is jy bang vir jouself vir die implikasie van die eerlike antwoorde op daardie vrae? Want jy kan nie, behalwe om jouself as ’n mens wat nog sy God nie ken nie en verknog is aan wettiese voorskrifte asof dié God is, te openbaar. Ek wonder of jy hoegenaamd weet Wie die Heilige Gees is …

So gepraat van “put up or shut up” … Probeer gerus. Dit help nie jy resiteer die woorde van die Bybel sonder om die betekenis en effek daarvan te verstaan nie. Vir jou bestaan God uit ’n stel voorskrifte. Tag! Ek het gehoop dat, as ’n persoon wat die Messiaanse judaïsme aanhang, jy tog sal weet dat die HERE die Messias is en dat HY lééf en die Woord in en deur Hom!

Gelukkig kan jy nie ’n Christen genoem word nie. Maar ook nie ’n gelowige nie. Om in ’n boek vol woorde te glo, is soos om ’n woordeboek as lewensfilosofie aan te hang. Dit beteken niks en is nie geloof in God nie. Woorde in ’n Bybel sonder die Lewende Gees Wie dit aan jou openbaar, is dood – en jý en Cornelius wys dit uit – die satan het ook probeer om die Skrifte te gebruik om die HERE mee te konfronteer ... en klaaglik misluk.

Terloops, jy wat Cornelius so napraat as dit by my kom (wie anders is die “baie manne” na wie jy verwys – jy, Cornelius en sy alter-ego’s?) Nou nóg ’n vraag – stem jy saam met Cornelius se siening van die Godheid? Dink jy hy praat met outoriteit as dit by Godsake aankom?

Nou is daar twee stelle vrae aan jou – die vorige stel en ook nou dié in hierdie brief – weereens onbeantwoord, of sal jy dié keer die moed hê om dit sinvol en sonder aggressie en tirade te beantwoord? Of die hasepad kies en later probeer voorgee dat dit ek is wat hasepad kies – dit is één ding wat ek nié doen nie en jy behoort dít ten minste te weet.

Jý is die een wat stellings maak al skuilend agter jou skuilnaam en dan hasepad kies sonder om te antwoord op reaksie – en dan maak asof jy nie gelees het nie.

Kobus de Klerk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top