Duistering

  • 0

Foto: Canva

Duistersig

Ek moet seker iewers begin. Lêers en papiere – kom ons begin daar. Dis beter as praatjies oor die voetstappe op die koue keldervloer. Of die lastige gedagtes oor skadu’s wat terugkyk. Papiere, ek werk deesdae daagliks daarmee. Hope ou-skool-omslagte, handgeskrewe notas en fotostate.

Ek werk tussen die stof en neonbuise. Hier in Die Rubriek se gewraakte dokumentstoor in Pretoria. In verdieping minus drie. Bottom of the bottom. My werkgewer, die Rubriek – ’n mediahuis, of is dit nou die vagevuur ...

Hulle noem my deesdae die Ou Papierdier. Oftewel die vent in die kelder. Dit is aanvanklik bevordering genoem ... Menslike hulpbronne se poetswoorde ongeag – ek noem dit wat dit is: ’n gepaste einde vir ’n woelige en afsydige vent.

“Ons gaan u herontplooi, meneer,” die woorde van die nuwe HR-meisie, skaars ouer as twintig. “Die raad het die besluit geneem en goedgekeur. U word as die spanhoof van die nuwe digitaliseringsprojek aangestel. Baie geluk!” Kort en kragtig. By die Rubriek word sulke dinge selde bevraagteken.

Ek het bloot my kop geknik – stil-stil ingestem tot diens in die kelder. “Dis dan reg so.” Ek gaap haar effens aan ... Sy lyk nog so nat agter die ore. “Teken net hier en let asseblief op die bykomende vertroulikheidsbepalings. Ons vertrou dat u verstaan waarom dit nodig is, gegewe die aard van hierdie belangrike werk. Het u hulp nodig om u goedjies na die kelder te trek?”

Sy het nogmaals haar hare reggetrek en vinnig ’n pen aangegee.

Ek het bloot geteken. My lot sou nou val in die kelder.

Die kelder, oftewel die papiermonster, soos dit soms genoem word, is vroeg in die Rubriek se geskiedenis in ’n sameloop van toevallige besluite op die been gebring. Dit lyk mos sleg as jou personeel in papier verdrink. Soos almal weet: Die beeld na buite is alles vir die Rubriek. So het een papierboks na die ander stadig hul weg “net tydelik” na minus drie gevind.

Die praktyk het vinnig gevestig geraak. Bestaan al voort sedert die sewentigs. Stadig en gelate in stilte gegroei – na soveel jare, ’n regte papiermonster – deeglik betrokke in die onderstrominge van die Rubriek.

Soos hierdie dinge werk, is die probleem van bestuurspan na bestuurspan aangegee – as “eendag se probleem”. So het die papiermonster al etlike hoofde en nuwe stelsels oorleef. Dit gooi telkens wal teen enige beswyming van vernuwing. Stelsels verval in onbruik. Papier lê geduldig en wag. Nuwelinge weet meesal nie eens van die stoor op minus drie nie. Nie omdat dit enigsins geheim gehou word nie, eerder omdat dit so sterk in die vloei van alledaagse Rubriek-gebruike ingeburger is.

Waarom iets bevraagteken wat ouer as jy self is?

Hierdie kelder is al vir maande my kantoor. In die hartjie van die papiermonster. Die buisligte is altyd effens flou – asof mens net in dele behoort te sien. Dit voel deesdae al hoe meer asof die skadu’s tussen die kaste my aankyk – asof die papiere self my wese peil.

Dalk is die gedurige dreun van die groot rotasiedrukkers op minus twee – vir die weeklikse koerante – besig om my gek te maak.

Tog wonder ek soms of ek alleen is ...

Die duister het ’n vreemde uitwerking op mens. Die deurmekaar dekor help ook nie. Dit werp graag onheilspellende skaduwees op alles. Rakke, kabinette, stapels bokse. Heelwat donker kolle om met jou kop te smokkel.

Dan’s daar nog die onrusbarende lêers wat ook elke nou en dan kop uitsteek uit die wal van papier. Sommige lêers bly by jou; sommige foto’s ruk jou wese tot stilstand, veral waar jy so in die flou neonskemer lees.

Ek kla nie. Daar is afleggings in die boonste verdiepings. My werksekerheid spruit egter voort uit krammetjies en skuifspelde. Glo dit of nie. Solank as wat die blinknuwe hoëspoedskandeerder in die kelder nie klein ystertjies kan sluk nie, is my pos skynbaar veilig. Dit, en die gedwonge muilband waartoe ek natuurlik verbind is.

Hoe eindig mens hier? Baie eenvoudig. Soos jare verloop, maak ambisie plek vir praktiese oorwegings – rekeninge en skoolgelde. Opgehoopte kredietkaartskuld. ’n Drekspul van ’n ekonomie met min opsies. Vaardighede wat moeilik oorplaas en vinnig hul vervaldatum nader.

Konsultante was natuurlik betrokke. Dis hulle skuld. Oftewel, dis wat ek myself vertel. Of dalk ... was dit my eie hardegat. Wie weet? By die Rubriek lê jou lot nooit werklik in jou eie hande nie. Jy weet nooit wie eintlik die lêers hou nie.

Kom ons blameer dan die konsultante. Die weegmanne van vandag se korporatiewe wêreld. Gekleed in lelike dasse. Bewapen met laptops en uitspattige logo’s, PowerPoint en dreunende gonswoorde. Soos werkersmiere – heen en weer tussen raadsaalafsprake. Voorstelle. Aanbiedings ... dreigende opskuddings ... nuwe besems ... pen op papier.

Selfs die Rubriek, met al sy vernuf, kon nie aan die vlaag van digitalisering ontsnap nie. Sisteemoptimalisering was die jongste gonswoord – die voorloper van ’n dreigende ingryping wat later soos ’n veldbrand van instelling tot instelling sou versprei.

Die konsultasiefirma is aanvanklik slegs deur IT by die waterverkoelers genoem; later het die gerugte momentum gekry. Die ou werkswyses en legacy systems was skielik in die visier van nuwe tegnologie. Die papiermonster se dae was getel. Of so het die bestuur geglo.

Die pitch aan die raad? Ou dokumente is terselfdertyd ’n “vreesaanjaende korporatiewe risiko” én ’n moerse “geleentheid om institusionele kennis nuut in te span”. “Alles op papier moet so gou as doenlik in digitale lêers omgeskakel word.” Meneer Malherbe, raadsvoorsitter, se woorde.

Uiteraard sou poste verander – nog ’n berekende meevaller om alewige korporatiewe herstrukturering te regverdig. So het die nuwe “papierlose strategie” uiteindelik van PowerPoint tot KPI’s en taktiese instruksies gevorder. Dit was gereed vir sistematiese inwerkingstelling.

Intussen het die MHB-weermag hul lemme geslyp vir afleggings.

Aan personeel is vertel: Die verlede is nou “ryke stof” vir “digitale mynwese” en “waardeontginning”.

Die raadsbesluit is klakkeloos deurgevoer. Stadig het dit deur die geledere gesypel. Enkele weke later is die nuwe digitaliseringsprogrammatuur ontplooi – kompleet met ’n pittige logo van ’n speelse towenaar wat papier besweer en gepaardgaande animasies.

’n Datawolk is opgestel, kompleet met multivlaktoegangsklarings – ’n bron van aansienlike raadsoorwegings.

’n Blinknuwe hoëspoedskandeerder is kort daarna by minus drie afgelewer. In ’n enorme krat neergesit. Sy werk was behoorlik uitgeknip. ’n Reusagtige masjien in eie reg, maar tog verswelg in die skaduwee van stapels bokse, kabinette en berge papier. Op sy beurt weer vinnig gesout deur die alombekende lagie van die middestad se stof.

Lang storie kort, teen die middag van my verplasing was ek reeds in die kelder. Ek het gevoel soos ’n ou hond wat skielik ’n lelike dwarsklap gegee is.

Stadig het die realiteit deurgesyfer. Die omvang van die legacy system. Die swak lig en stof. Die groot aantal dose papier. Verskillende handskrifte: soveel mense, soveel geskiedenis, soveel ink oor die jare.

Glo dit of nie, ’n mediahuis – minstens die Rubriek – versamel steeds enorme hope papier elke jaar. Joernalisnotas. Foto’s. Uitknipsels. Bondels en bondels fotostate. Dokumente in groot bruin koeverte. Die moeilikste is die lomp bruin koeverte. Koeverte en omslagte wat nie maklik stilsit nie. Gly graag rond. Soek maniere om uit die kelder te ontsnap – of so lyk dit.

Daarom die bokse, rakke, kabinette, slotte – alles om papier bymekaar te hou. Rakke van vloer tot plafon gestapel. Alles gereed vir die omhelsing van die nuwe digitale era.

Mens sien bykans alles oor die mens in hierdie lêers. Van nonsenskonfetti, soos ná werk se kruidenierslysies, tot dokumente met kommerwekkende klassifisering. Dis nou as jy die groot rooi letters op sommige van die bruin omslagte kan vertrou.

Daardie letters op bruin omslagte verduidelik waarom meneer Uys self kom inloer het. Meneer Uys, die uitvoerende hoof, in die vlees. Ek was uiters verbaas. Hy het die hope papier effens oorbluf aangekyk. Die maatskappy se peperduur nuwe skandeerder liggies gestreel. Die stof van sy vingers met sy sakdoek afgevee.

“Nou kan die ou papiere nuwe lewe kry, of hoe?”

Dit was sy eerste woorde ooit aan my. Sy gesigsuitdrukking – effens besorg. Ek het juis onraad vermoed; stil-stil gewonder of daar dalk dinge tussen die blaaie sal lê wat nooit bedoel is om weer die lig te sien nie.

Meneer Uys was self bekommerd oor sulke geraamtes in die kas. Ewig die oordeelkundige; hy’t reeds ’n plan daarvoor gemaak. Ek was daardie plan. En voortaan vasgevang in ’n ongesproke werkswyse – my eie Uys-protokol, soos ek dit noem.

 “Laat weet my dadelik as jy iets in hierdie gemors sien wat my moet bekommer. Jy sal dit herken as jy dit sien. Jou lêer wys jy’t ’n goeie aanvoel hiervoor – so moenie kanse vat nie,” het meneer Uys beklemtoon. “Hier’s my nommer. Hou alles maar tussen ons.” ’n Nota met sy persoonlike nommer word in my hand gestop.

Sy stemtoon het geen twyfel gelaat nie – dinge is afgehandel.

Ek wou opvolg met ’n hangende vraag oor sekerheidsklarings, toegangsvlakke en sulke onbenullighede, maar ek het gou besef die saak gaan nié verder aangeroer word nie.

Die ongesproke Uys-protokol is daar en dan in werking gestel. Ek het aan die werk gespring. Die werkswyse is eenvoudig: Ek whatsapp meneer Uys as iets my “bekommer” en sowat vyftien minute later – ’n klop aan die deur. Sy hardebaard-handlangers – die uitgesoekte sekuriteitspan – verskyn. Die dokumente wat bekommer, verdwyn na ’n spesiale stoorplek op verdieping ses. Bestem vir “bykomende verwerking, regsoorweging en bewaring”.

Die hardebaardmanne is meesal ernstig. Kom met stram kakebene. Praat nie baie nie. Soms vra hulle my of ek buite die gebou oor die werk praat. En met wie. Ek skud gewoonlik maar net my kop – veiliger om minder te sê. Soms maak hulle ’n snedige opmerking of twee. Daarop gemik om die Ou Papierdier op sy plek te hou.

Mens vreet baie dinge op as werk so skaars is.

So het ek ingeoefen geraak om papier na die digitale wolk te pos. Nou en dan ’n WhatsApp aan Uys. Stadige vordering, dag na dag, deur die berg van papier.

Etlike dae gelede het Maggie, my gawe assistent – vriendelik, maar nie veel van ’n papiermens nie – een oggend ’n volgende boks voor my neergesit. Lêers wat die skadu’s behoorlik aangeroer het. Nie eens een van die gewone formele argiefbokse nie. Anders. Geen beskrywings. Geen name. Geen datums. Net ’n drukkerpapierboks. Mondi se ou kenteken, maar iewers uit die 1980’s of ’90’s

Binne-in die boks ’n enkele lêer. Nie eens so dik nie. Net “De Lange”, slordig met swart koki gekrabbel op die groot bruin omslag. ’n Ou geel rekkie hou alles bymekaar. Soos my oë val oor die omslag, lees ek die rooi letters in die gevreesde rooi klassifiseringstempeldruk: Duistersig: Fase 1 – Lopie 3.

Dit lyk dadelik soos iets wat binnekort verwyder sal moet word. Tyd vir die Uys-protokol ...

Ek staan gereed om die WhatsApp aan meneer Uys te stuur. Besig om sy kontak op my werkselfoon te soek. Ek sukkel – hierdie spesifieke lêer was rusteloos. Wou net nie stil lê op die groeiende stapels papier op my lessenaar nie.

Terwyl ek met dom vingers op die foon tik, begin die lêer stadig afgly. Dit kantel. Tuimel af oor die kant van die stapels. Soos dit val, gryp ek uit reaksie daarna. Effens te stadig – ek maak dinge net erger. Stamp ’n hoop notas en ’n enkele foto uit die omslag.

Alles versprei oor die vloer. “Ag deksels,” mompel ek. “Nou weer ’n deurmekaarspul.”

Soos ek opstaan om die gemors op te ruim, merk ek die foto wat uitgeval het. Agterop is ’n enkele swart kode gestempel: DS-237. Op die voorkant. Die beeld van ’n jong vrou, lyk soos ’n meisie van hoërskoolouderdom. Swart hare, glasblou oë – aantreklik – maar met ’n ontstellende strak uitdrukking op haar gesig.

Iets aan die foto het my dadelik bekommer.

Hierdie was natuurlik nie my eerste blootstelling aan die Rubriek-foto’s nie. Misdaad, skandes van bekendes, intriges oor die jare – ek het byna alles alreeds gesien. Heelwat onrusbarende beelde. Dis juis foto’s wat gereeld by meneer Uys geland het – bedoel vir die kolk van stilte in die spesiale kluis.

Maar hierdie foto? Hierdie lêer?

Iets is eenvoudig nie pluis nie.

Ek sou raai die foto is geneem in ’n hotelkamer of dalk ’n luukse instelling. Amanda J sit op ’n stoel – geposeer. Amper soos ’n paspoortfoto. Formeel – maar met klassieke en vleiende beligting. Ontstellend intiem vir hierdie oënskynlike rekord van ’n navorsingsprojek.

Ek het eers nie verder geblaai nie. Gewonder.

Wie is agter die lens?

Wie was aan die stuur van hierdie program?

Wat is sogenaamde Duistersig?

Dan’s daar die tydstip, natuurlik. Die laat negentigs. Die oorgangsjare met skadukarakters. Intriges en geheime.

Die Rubriek was daar deur dit alles.

Die lêer knaag aan my. Ek moes meer weet. Waar is hierdie Amanda J nou? Lewe sy nog?

Teen my beter wete het ek verder deurgeblaai. En leidrade begin optel. Die protokol vereis afstand. Die protokol vereis vergeet. Ek het dit bloot verontagsaam. Ek het met aandag begin lees.

Uys se tiere – ek kon my net voorstel wat hulle sou doen, sou hulle uitvind hiervan. “Jy was veronderstel om net die skandeerder te voer, toe raak ons nuuskierig, of hoe? Stappe sal volg ...” Die Rubriek spesialiseer in stappe. Laat ek eerder nie daaroor spekuleer nie ...

In die lêer kom drie name gereeld na vore: Amanda J, die eerste foto, Elna D, Sandra L. Die name is met wit plakkers op die foto’s geplak. ’n Enkele foto vir elke jong vrou. Soortgelyke stilistiese foto’s. Al die notas is effens geel van ouderdom – ’n ou A4-skryfblok. Geskrif in blou ink – slordig en haastig.

Niemand van die meisies kon ouer as hoërskoolouderdom gewees het nie. Die notas kom voor soos mediese of psigiatriese notas. Skrif soos ’n haastige praktisyn s’n. Penmerke wat dui op ’n knipbord waar die pen soms te hard gedruk het.

Ek neem die eerste bondel notas in die hand. Dis gemerk vir: Subjek Amanda J.

 Ek begin stadig lees. September 23, 1993 AJ, Fase 2: “Ek kan nie meer nie, dokter. Asseblief. Moenie my weer vra om weer onder te gaan nie – ons moenie sukkel met hierdie goed nie.” Die jong Amanda J se woorde – aangehaal. Soveel jaar gelede. Iewers in ’n kamer, skynbaar alleen. Dalk in Pretoria. Dan’s daar die notas van ’n praktisyn. Oftewel, die navorser in die lêer. Die dokter, soos sy die persoon genoem het. Ek lei af, dalk ’n psigiater, weens die aard van die notas.

Die dokter skryf deurgaans in ’n koue onpersoonlike toon. Hy gee voor om net ’n waarnemer te wees, maar sy invloed is beduidend op hierdie jong vroue – die “subjekte” van die program. Dit lyk asof veral Amanda J aansienlik onder sy aandag was.

Hy skryf:

September 24, 1993. Amanda J se vordering in die protokol is merkwaardig. Noemenswaardige suksesse! Haar waarnemings oorskry beslis blote toeval beduidend. Die statistieke is versigtig nagegaan. Wat ek nie sou gee vir haar soort vermoëns nie. Die toepassings hiervan? Enorm. Dekmantels – blootgelê. Ons kan ons volk se belange bewaar. Ons vyande behoorlik uitoorlê.

 Hoekom huiwer sy so hewig om voort te gaan – sien sy nie die groter prentjie nie?

 Sy werk al hoe meer teen ons, teen my.

 Sy kla gedurig oor newe-effekte. Nagmerries, sekerlik gewone tieneruitdagings, maar wat staan my te doen?

Môre is ons volgende sessie ...

 Ons moet ’n manier vind. Ons moet voortgaan.

Ek neem nooit werk huis toe nie. Die bykomende vertroulikheidsbepalings verbied dit uitdruklik. Die vreemde lêer het in sy doel geslaag. Uit die kelder ontsnap. Dit het stil saamgery op die bus, sommerso, in my rugsak. Na my woonstel in die stad.

Oktober 1, 1993. Ons maak vordering. Subjek Amanda J het die versterkte aansporings aanvaar. Sy is effens meer gelate. Minder innemend. Haar resultate bly merkwaardig.

 Ons moet wel haar spanningsvlakke monitor, maar ons sal daar kom – ons gaan voort.

 Ons gaan hierdie protokol bemeester ...

Amanda is die sleutel ...

Oktober 7, 1993: Subjek Amanda J. Sessie 14.

Amanda word weereens aangehaal: “Dokter, jy wil my nie glo nie, maar ons moet hierdie ding stop. Ek is nie alleen as ek onder is nie. Ons is nooit alleen nie. Glo my, asseblief. Ons peil in duister ... duister peil terug. Waarom doen julle hierdie, dokter? Julle weet nie wat terugkyk nie.”

Daardie selfde dag skryf die dokter weer:

Amanda J se paranoïese idees is besig om te vererger. Sy maak melding van skadufigure, oftewel “Skadu”, soos sy dit noem. Dit kan een van verskeie vorms van paranoïese hallusinasie wees. Dalk ’n neurose van die onderbewussyn. Sy praat verder gedurig van die “duister wat terugpeil”.

 Duidelik ’n soort delusie in haar denke. Ten spyte van haar suksesse, is sy nou werklik te onstabiel vir hierdie program. Ons sal van haar ontslae moet raak. Dis jammer. Geen van die vorige deelnemers het nog ooit soveel sukses in die Duistersig Program bereik nie.

 Dit laat nog ’n ronde van deelnemers as ’n mislukking.

 Vir ’n paar dae is daar geen notas nie, dan volg twee opvolgende inskrywings. Aangedui as Dinsdag, Oktober 12, 1993 #1 en #2.

#1 Ek is vanoggend in kennis gestel dat Amanda J blykbaar haar oppassers verwilder het. [Naam weerhou] het geskakel en laat weet ek moet dadelik kom. Haar hoofversorger het onlangs uit die bloute selfdood gepleeg. Niemand wil meer met haar werk nie – dit lyk of een of ander wangeloof onder die personeel posgevat het. Ons sal moet ingryp.

 Stappe word beplan.

#2 Amanda J het op een of ander manier uit die program ontsnap!

 Ons is besig met die ondersoek. Sy moes toegang tot die kodes en werkskedules gekry het. Dit, of sy het bloot in die duister in verdwyn.

 Haar kamer was leeg – volledig gesluit gevind.

 Geen spoor van haar het oorgebly nie.

 Sover het die leuenverklikkertoetse en ondersoeke niks opgelewer nie. Ek verstaan dat sy die personeel wesenlik die skrik op die lyf gejaag het.

 Aan die einde het sy ’n ongelooflike manier met woorde gehad. Dit was nog altyd daar, maar ná die protokol ...

 Sy’t gepraat van die skadu’s, die duister.

 Dinge wat fluister.

 Geen man is immuun teen sulke woorde nie.

 Ek het nooit aandag aan skadu’s gegee nie – ek sien myself as ’n regdenkende wetenskaplike – maar ek sien skadu’s.

 Dit voel of ek alewig aangegluur word. Was Amanda reg? Is ons besig om te verdrink in hierdie program?

 Ek het seker ’n blaaskans nodig.

 Hierdie werk vat aan mens. Haar woorde van ons laaste sessie eggo alewig in my gedagtes – werk soos ’n stadige gif.

 Watter hoërskooldogter praat so?

 “Ons versamel ’n rekening in die duister, dokter. Ons skuld hoop op – soos die oordeel wat bruis – wat oor ons gaan spoel. Laat my gaan, dokter. Voor ons almal onderdompel word in hierdie program.”

Ek glo nie ek sal ooit daardie woorde en die reuk van haar Jasmyn-parfuum kan vergeet nie.

Onderdompelende oordeel en jasmyn.

 Ek sluit nou haar lêer tot verdere kennisgewing.

Dit is waar die dokter se handgeskrewe notas ophou ... Die laaste bladsye in die omslag is ’n ou memorandum. Lyk soos die Rubriek se ouer setkas. Gedateer 31 Oktober 1993. ’n Dokument met ’n interne klassifisering: Konfidensieel: slegs vir Raad / uitvoerende vlak.

 Vir wie dit mag aangaan

 Die raad het besluit om die Duistersig Projek met onmiddellike effek en tot verdere kennisgewing te staak.

 Alle werknemers wat by die projek betrokke was, word versoek om alle dokumentasie en rekords oordeelkundig te bewaar waar vereis – of te vernietig waar toepaslik.

 Ons spreek ons innige medelye uit met die verlies van dr [naam en van uitgeblok]. Die raad bedank alle betrokkenes vir hul ondersoekende werk tydens die projek.

 Werknemers word herinner aan hul verpligtinge ingevolge die bestaande vertroulikheidsooreenkomste soos onderteken is.

 [Besonderhede uitgekrap]
Raadsvoorsitter

Wie is hierdie Amanda? Wie is die dokter waarna sy verwys? Waarom breek die tydlyn so bot in Oktober van 1993?

Sy het inderdaad ’n manier met woorde. Net van lees, maar haar woorde maal selfs in my kop. “Peil in duister ... duister peil terug.”

Geen hoërskoolkind praat so nie ...

Wat het agter die skerms gebeur? Wat is Duistersig?

Die vermiste dokter was ’n daadwerklike leidraad. ’n Voorgevoel het my na die Rubriek se eie koerantargiewe gelei. Die ou uitgawes. Uiteindelik het ek op een vreemde nuusberig afgekom. Die tydlyn het gepas, maar roem en eerbetoning – nie soveel nie.

Die vreemde nuusberig se opskrif het gelees: Geroemde Pretoriase psigiater dood in eie swembad gevind.

 Die berig was uiters vreemd. Die Rubriek, altyd geweeg, was nog nooit ’n poniekoerant nie, maar die berig het soos een gelees.

Kan dit die dokter wees? Die tydlyn pas. Op die mikroskyfie se skerm was die berig van Woensdag 13 Oktober 1993.

Die mediese gemeenskap van Pretoria is verlede Dinsdagaand geruk deur ’n tragedie. Die Rubriek kan bevestig dat dr Albert van Rensburg, ’n bekende plaaslike psigiater, dood in die swembad van sy woonhuis aangetref is.

Volgens bure het dr Van Rensburg omstreeks 17:00, soos gewoonlik, tuisgekom. Kort daarna is benoude gille vanuit die woonhuis gehoor. Hy was blykbaar alleen tuis.

Getuies meen dat Van Rensburg deur ’n ruit op die eerste verdieping gebars het voordat hy in die swembad beland het. Bloed en glas was duidelik sigbaar op die toneel.

Elna van Deventer, ’n buurvrou, het aan Die Rubriek gesê dat Van Rensburg hoorbaar ontsteld was.

“Ons het gehoor hoe ons buurman met kru taal herhaaldelik hard geskree het dat ‘iets’ hom moes uitlos. Dit was erg ontstellend,” het sy gesê.

Kort daarna is ’n harde slag gehoor, soos glas wat breek, het Van Deventer bevestig. Bure het dadelik die polisie en nooddienste ontbied, maar toegang tot die woning is vertraag weens die streng sekuriteit- en toegangsbeheer van die perseel.

Nooddienste kon hom nie betyds red nie.

Die liggaam is later van die toneel verwyder. ’n Nadoodse ondersoek sal volg.

Bronne bekend aan Die Rubriek het aangedui dat alles tot dusver daarop dui dat Van Rensburg wel alleen tuis was. Die woonhuis toon geen tekens van gedwonge toegang nie. Alle slotte en alarms was steeds geaktiveer toe die polisie die deur moes oopbreek om toegang te verkry.

Wat hom tot die voorval gedryf het, is tans onbekend. Die polisie ondersoek alle moontlikhede.

Naasbestaandes het dr Van Rensburg as ’n gerespekteerde psigiater beskryf. Hy het in sowel privaat as openbare praktyk gewerk en op verskeie navorsingspanele gedien.

Ek voel steeds die oë in my nek. Uys se handlangers? Amanda se woorde wat steeds in my kop maal.

Vrae oor Van Rensburg se vreemde sterfte?

Wanneer word mens ’n lêer?

My gedagtes word onderbreek. Vinnig slaan ek die lêer toe. Plaas dit onder in die stapeltjie voor my. Die bekende voetstappe is op pad – Uys se manne. Hul harde skoene klik-klik op die koue keldervloer – effens vinniger as gewoonlik.

Is ek uitgevang?

Gaan ek self ’n nota word in ’n drukkerpapierboks – hier in die argiewe?

Dalk is ek klaar daar ...

Die lêer is terug in die kelder. Waar hy hoort. Ek voel steeds skadu’s wat my aangluur. ’n Duister wat oor die rakke neerdaal.

Ek het nooit daardie WhatsApp gestuur nie ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top