Duisende rande se prysgeld is op die spel in die derde Dagbreek Maties Straatmyl wat in samewerking met Maties Atletiek tydens die Namaqua Straatmylfees aangebied word. Die Straatmyl vorm deel van die jaarlikse Universiteit Stellenbosch Woordfees.
Die wedloop, gehou in die Victoriastraat in Stellenbosch, vind op Woensdag 6 Maart 2013 om 17:30 plaas en word jaarliks ter ere van De Villiers Lamprecht wat die eerste droommyl – in minder as 4 minute – in Suid-Afrika gehardloop het, aangebied. De Villiers, ’n oudinwoner van die Manskoshuis Dagbreek, het dié prestasie op 13 November 1964 behaal toe hy die afstand in 3.59.7 afgelê het. De Villiers het in Desember 70 geword.
Die organiseerders het ook bekendgemaak dat die voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese atleet, Johan Cronje, aan die wedloop gaan kom deelneem.
Daar word vanjaar weer drie wedlope aangebied – vir mans, vroue en vir elite atlete. Die inskrywingsfooi is R10 per persoon terwyl elite atlete geregistreer moet wees. Totale prysgeld van R8 000 is op die spel vir die wenners.
Benewens Puma wat R1 000 se pryse vir elke wedloop geskenk het, kan atlete wat ’n droommyl hardloop, ’n addisionele R2 000 in die sak steek. Atlete wat die roeterekord oortref – tans gehou deur Annei Klopper (Vroue, 5.15.01); Lochner Slabbert (Mans, 4.22.15) en Jeromy Andreas (Elite, 4.04.2) – is ’n verdere R300 ryker. ’n Gelukstrekking ter waarde van R1 000 word ook vir atlete gehou.
Vir die beste ondersteunersgroep of koshuis is daar R2 000 se Namaqua wyn op die spel. Vermaak deur onder andere trompoppies van die Hoërskool Hottentots-Holland, vuurdansers en ’n DJ word tussen die wedlope aangebied.
Mnr. Francois Fouche, organiseerder van die wedloop, sê dat die wedlope baie opwindend vir toeskouers behoort te wees. “Mens kry nie meer aldag kans om ’n wedloop oor ’n myl te sien nie en dan is daar natuurlik nog die moontlikheid om ’n droommyl te sien ook. Boonop vind die wedloop in die historiese kern van die Universiteit, in die boomryke Victoriastraat, plaas, wat sal bydra tot unieke aard van hierdie wedloop.”
Borge sluit in Puma, Bos Ystee, Namaqua Wyne, die Oud-Dagbrekerbond en Nu'Bar Somerset-Wes.
- Skakel met Francois Fouche by tel 0833685948 of straatmyl@hotmail.com vir meer inligting.

