Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Ys deur Rudie van Rensburg

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg is in 1951 in Bloemfontein gebore. Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad, waarna hy in 1982 medestigter en uitgewer van Bloemnuus word, en later redakteur van Die Ekonoom-saketydskrif. In 1987 verhuis hy Kaap. Ys is die sesde roman in die Kassie Kasselman-speurreeks na Slagyster, Kopskoot, Judaskruis, Pirana en Kamikaze. Rudie skilder reeds die afgelope 25 jaar en van sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje en Australië. Hy is getroud met Lize en het drie kinders.


Opsomming

Ys
Rudie van Rensburg

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801501

Kassie Kasselman en Rooi Els bevind hulle in die Spesiale Spookeenheid – ’n elite groep van die SAPD. Maar as oud-stasiespeurders word hul vaardighede ernstig bevraagteken deur hul nuwe bevelvoerder. Wanneer ’n Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel vermoor word, is dit ’n gulde geleentheid om hul staal te wys, tussendeur ’n Washington-gekonkel, ’n oud-Pollsmoor-gevangene op vrye voet in Kaapstad en duisterhede in hul bevelvoerder se persoonlike lewe. En dan is daar die man met Die Drang ... en sy kettingsaag. Ysingwekkende oomblikke wag op Kassie en Rooi.


Uittreksel

Proloog

’n Dowwe knal weerklink in sy ore, net-net hoorbaar bo die gesuis van die tierende wind.

Hy gil van die steekpyn in sy blad, verloor sy greep op die slee se handvatsel, val sywaarts en ploeg ’n voor deur die dun sneeulaag op die klipharde ysveld.

Daar is die metaalsmaak van bloed in sy mond toe hy op sy maag rol en sy kop lig. Die slee lê op sy sy, die honde maal angstig rond. Hy kreun van die pyn toe hy probeer om sy bolyf op te lig en sy arms weier om te reageer. Warm vog stoot in sy keel op. Dit voel of hy gaan verstik.

Hy draai sy kop met moeite sywaarts toe hy stemme hoor. Duidelik afgeëts teen die verblindende Arktiese lug kom twee mans aangestap, jaggewere oor hul skouers.

Hy wil vra hoekom hulle hom geskiet het, maar kry nie die woorde gevorm nie. Bloed borrel by sy mond en neus uit. Sonder ’n woord gryp elkeen ’n voet vas en begin hom sleep. Hulle stap met mening en hy kners op sy tande om nie van die pyn te skree nie.

Op die kruin van die ysrif sien hy vir die laaste keer die slee en honde. Swart spikkeltjies in die sneeulandskap. Sy bloedspoor kronkel van daar af soos ’n rooi rivier wat na sy watergraf lei.

1

Van JFK af ry Willie Nel met die trein onderdeur die East River na die Groot Appel. Hy klim by ’n moltreinstasie af, maar besef eers hy was oorhaastig toe hy in 79th Street uitstap. Hy wink swetsend ’n taxi nader, nie bereid om sy swaar tas die hele ent te dra nie.

Vandag bewonder hy nie soos gewoonlik die wolkekrabbers van Manhattan nie. Die kenmerkende energie van die voetgangers op die sypaadjies behou ook nie sy aandag nie.

Die vlug van Alaska af was uitputtend. Hy was van Juneau na Chicago op pad, maar moes op die laaste nippertjie sy kaartjie kanselleer en ’n vlug na New York bespreek. Wat sou MacArthur in New York doen? En hoekom sy dringende behoefte om vandag te ontmoet? Die sending van twee weke gelede was tog suksesvol; niemand vermoed enige onraad nie.

Die taxi laai hom in West 88th Street af. Hy stap ’n draai om ’n stomende mangat voordat hy met die tas teen ’n paar trappe opsukkel na die sypaadjie.

The Fast Food Mecca is ’n tipiese systraatrestaurantjie, eerder die uithangplek van die omgewing se kantoorwerkers as ’n toeristetrekpleister. Die plek is swak verlig en die reuk van ou kookolie en aartappelskyfies hang swaar in die lug. Daar is nog geen teken van MacArthur nie. Willie gaan sit teen die venster vir ’n uitsig op die straat.

Minute later stop ’n swart limousine aan die oorkant van die straat. Die agterdeur word oopgemaak en senator Jack MacArthur klim uit. Met ’n swaaiende wysvinger gee hy instruksies aan die chauffeur voordat hy oor die straat waggel.

In die restaurantjie sien hy Willie dadelik en wink hom met ’n breë glimlag nader. “Kom ons gaan sit daar agter waar dit stiller is,” sê hy met sy dralende Texas-aksent.

Hy vee met ’n rooi sakdoek die sweet van sy voorkop af en bestel ’n worsbroodjie met skyfies en ekstra tamatie-en-uiesmoor. Willie bestel net koffie.

“Nie honger nie?” vra MacArthur.

“Ek’t op die vliegtuig ontbyt geëet.”

MacArthur leun met sy arms op die lendelam tafeltjie wat onder sy gewig kreun. “Ek’s bly jy kon dit maak.” ’n Sweetlagie blink op sy bolip.

“Wat doen jy in New York?” vra Willie.

“Vir vinnige sake hier. Ek’s môre weer op pad terug Washington toe.”

“Wat’s so dringend dat ek hierheen moes kom?”

MacArthur sug. “Sy assistent vermoed iets.”

“Sy assistent?”

“Ja, ek moes jou ingelig het oor die man, maar ek het nie besef die donner gaan so lastig wees nie. Jou manne moes hóm ook eintlik uitgehaal het.”

“Waarop grond hy sy vermoedens? Nie eens die media ruik onraad nie.”

“Op niks. Sê net sy baas sou nooit daar iets oorgekom het nie. Daarvoor was hy glo te versigtig en het hy die toestande te goed geken.”

“Hoe het dit by jou ore uitgekom?”

“Hy’t met die president se staf hoof gaan praat. Hulle was glo destyds klasmaats op Harvard. Die staf hoof het my gebel. Dis duidelik die assistent dink ek of een van my komiteelede ‘mag iets daarvan weet’, soos hy dit gestel het. Verbeel jou!”

“Wat sê jy toe vir hom?”

MacArthur grynslag. “Dat die groenes ’n fanatiese spul is wat niemand ernstig kan opneem nie. En dat ek en my komitee sy universiteitsvriendjie se gat hof toe sal sleep as hy voortgaan met sulke wilde en ongegronde aantygings.”

’n Kelner met tamatiesousvlekke op sy wit baadjie bring hulle bestelling. MacArthur neem ’n groot hap van sy worsbroodjie.

Sous loop in twee dun straaltjies uit sy mondhoeke aan weerskante van sy ken af. Hy vee dit met ’n papierservet af, maar ’n dun streep sous bly op ’n bolwang agter.

Hy kyk na Willie. “Ons sal van die assistent ontslae moet raak.”

“Sal dit nie juis agterdog wek nie? Niemand neem hom tog seker ernstig op nie?”

MacArthur skud sy kop. “Ek het nie ’n keuse nie. Die bliksem gaan nou in sy baas se plek die referaat by die konferensie lewer, wat beteken hy sal die aandag van die wêreldmedia geniet. Hy kan besluit om sy vermoede oor sy baas se verdwyning uit te basuin. Kan jy dink watse slegte publisiteit dit kan afgee? Al Amerika en Europa se voorste omgewingsjoernaliste gaan by die konferensie wees.”

“Sal hy dit waag?”

“Jou raaiskoot is so goed soos myne. Maar die referaat gaan op sigself groot golwe maak, wat ek nie nou kan bekostig nie. Dis waarom ons in die eerste plek van sy baas ontslae wou raak.”

Hy tik met sy voorvinger op die tafeltjie. “Die referaat is geskeduleer vir twee weke van nou af. ’n Dag of twee daarna stem die Huis van Verteenwoordigers oor my komitee se voorgestelde wysigings aan die energiewet, en ’n paar dae later dien dit voor die Senaat. Ek moet nog ’n klomp Kongreslede voor daardie tyd swaai, en die referaat kan my hele appelkar omgooi.”

Willie reageer nie. Die besonderhede van die Amerikaanse politiek interesseer hom nie.

“Tot nou toe lyk dit of ons op die meeste Republikeine in albei huise se steun kan reken,” gaan MacArthur voort, “maar dis nog nie ’n gegewe nie. Prominente mediaberigte oor die referaat kan fataal wees – groen kwessies is mos deesdae die Washington Post en hoofstroom-TV-stasies se bleddie stapelvoedsel. Dit kan ’n paar van die Republikeine en veral die klomp draadsitters van die Demokrate oortuig om teen die wysigings te stem.”

Hy grinnik, vat nog ’n hap van sy worsbroodjie. “Gelukkig is ons president ten gunste daarvan. Hy meen aardverwarming is ’n bullshit-konsep wat die Chinese geskep het om Amerikaanse vervaardiging nie-mededingend te maak. Maar soos jy weet, is selfs sý hande afgekap as die Kongres dit nie goedkeur nie.”

“Jack, ek wil nie jou oordeel bevraagteken nie. Ek was nog altyd bereid om die vuilwerk te reël, want jy betaal goed. Maar tree jy nie nou oorhaastig op om die assistent te wil uithaal nie?”

MacArthur lag. “Komende van jou is dit nogal ’n verrassing! Jy sien gewoonlik vir enigiets kans.”

Hy leun vorentoe. “Hierdie voorsitterskap van die komitee is vir my belangrik, Willie. Alle oë is op my om te sien of ek die wysigings kan deurdruk. Dit sal ook as maatstaf dien om te wys of ek met toekomstige presidentsverkiesings ’n geskikte kandidaat kan wees.”

Hy neem ’n skyfie, doop dit in die sous en hap behaaglik. “Oor ’n honderd jaar van nou af wil ek nie net ’n terloopse voetnota in die geskiedenisboeke wees nie. Daar moet hoofstukke aan my gewy word. In Washington noem hulle dit aspirasie.”

Willie knik net. Is dit bloot politieke retoriek of dink MacArthur regtig hy staan ’n kans? wonder hy. Of betaal die oliebase MacArthur onder die tafel deur om te sorg dat hy die wysigings aanvaar kry?

Willie vermoed dis laasgenoemde. Die Republikeine sal nooit iemand met so ’n duistere verlede as presidentskandidaat steun nie. MacArthur het net te veel geraamtes in die kas – en hy behoort dit te weet. Maar dis nie Willie se plek om met die senator daaroor te redekawel nie.

“Reg, ek maak soos jy sê,” stem hy in. “Waar bevind die assistant hom nou? Jy wil hom seker geëlimineer voor hy na die konferensie vertrek?”

“Juis nie. Dan soek ons vir moeilikheid. Jy sal hom by die konferensie moet gaan uithaal.”

“In Suid-Afrika?”

MacArthur glimlag. “Ek het gedink jy sal bly wees om jou geboorteland weer te besoek. Blykbaar is ’n lewe daar deesdae nie veel werd nie. Laat dit soos ’n inbraak lyk wat skeefgeloop het. Jy moet seker nog betroubare vriende hê wat jou daar kan help? En die gunstige wisselkoers behoort hulle dienste baie bekostigbaar te maak.”

“Ek was twaalf jaar laas in Suid-Afrika.”

“Maar jy’t nog vriende daar?”

Willie knik.

“Dan kan julle oormôre lekker reünie hou. Jy klim laat vanmiddag op ’n direkte vlug Kaapstad toe. Ek het reeds gereël dat ’n kaartjie vir jou bespreek word. Dit help dat jy nog jou Suid-Afrikaanse paspoort het.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top