Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Wat het geword van Dinsdag? deur Tinus Horn

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Tinus Horn

Tinus Horn raai hy het sy geesdrif vir stories by sy ma geërf en dit is die fokus van al sy skeppende werk, of hy nou skryf of skilder of kort animasieflieks maak. Hy was onder meer rugbyskrywer vir The Star, sportredakteur van Vrye Weekblad, en ’n ekstra in ’n fliek wat niemand gesien het nie. Wat het geword van Dinsdag? is sy vierde roman. Hy woon in Hermanus.


Opsomming

Wat het geword van Dinsdag?
Tinus Horn

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178037

Joe arriveer kort voor die draaipunt van die millennium in New York. Tot sy verbasing wag Nina hom by die backpackers in. Nina, wat nooit eintlik Joe se iets was nie. Nie rêrig nie. Hy ontmoet ook vir Michael, ’n verloopte Suid‐Afrikaanse Jood met absurde drome vir homself en sy lendelam fiets. O, en dan is daar Elrike, wat Joe se gedagtes lees nog voordat hy hulle kan bedink.

Dié drietal word die spil waarom alles draai in Wat het geword van Dinsdag?. Dis ’n roman wat verdigsel en waarheid vervleg, nes die kunswerke van twyfelagtige waarde wat Joe produseer. Enersyds is die roman ’n terugblik op drie onstuimige dekades in Johannesburg, en andersyds ’n verhaal van een man se leuens wat hom inhaal – oor sy kleintyd, oor drome van roem wat hy skaars kan onthou, maar bowenal oor Nina.

’n Fyn afgeronde, skerpsinnige roman oor selfontdekking, heimwee en verlies.


Uittreksel

Die radio in die taxi is oud en krapperig. Dit klink asof die omroeper oor sy woorde struikel, en dis seker gepas in ’n stad vol Argentyne en Hongare en Slowake en Swede en Belarusse

wat sukkel om mekaar se kodewoorde wat vir Engels moet instaan te ontsyfer.

Nou sanik Mick Jagger al stotterend oor voldoening wat hom nie beskore is nie, en hy klink wraggies verbaas.

Die verkeer vloei. By ’n stopteken kruis ’n man met ’n seuntjie en ’n hond. Die kind lag en die man lag, en ek wonder of ’n mens op jou eerste dag in New York mag huis toe verlang, en ek wonder oor die woord “huis”, en ek besluit dis ’n woord wat ’n mens – wat ek – nie ydellik durf gebruik nie.

 

Ek loop by die youth hostel se trap op en ’n ou wat ’n fiets dra, skuur haastig by my verby. Ek wil net gou my rugsak in ’n locker neerplof en die strate invaar, maar ek kom nie verder as die oop  deur van die kamer wat ek met vyf ander gaan deel nie.

Genugtig – Nina. Sy sit op die punt van die bed naaste aan my. Sy’s die enigste een daar.

“Surprise!”

Hel, ja. “Skok” sou ’n beter woord wees. Sjoe. Hoeveel jaar nou? Tien? Elf?

Sy het gebel toe sy by ’n gemeenskaplike vriend hoor ek is op pad New York toe en gesê sy’s die week voor my aankoms toevallig by ’n toneelfees in – waar nou weer? Atlanta, dink ek – en sy gaan my dalk sien, soos wat mense maar sê. Ek het opgewonde probeer klink maar dadelik daarvan vergeet, net soos ek soms amper van Nina vergeet.

Ons het deur die jare kontak behou, ’n foonoproep op verjaarsdae en so, en sou mekaar hoeveel keer dalk sien. Ons het nooit verby dalk gevorder nie.

Sy staan op, vou haar arms oop sodat ek kan instap en trek my teen haar vas. Dis lekker. Natuurlik is dit lekker. Ek is van voor af verbaas oor hoe klein sy eintlik is. Wanneer mens in daardie bos hare van haar vaskyk, kan mens jou maklik verbeel daar is meer van haar.

“Kom,” sê ek in die bos hare in. “Kom ons move.”

“Ag nee, shame, jy lyk gedaan. Hoeveel ure? Agtien. En jet lag. Kom slaap eers ’n bietjie, toe. Kom. Kom lê agter my rug en hou my vas. Ons is mos nagdiertjies, ons.”

Sy laat los, stap weg, trek die blindings toe en glip onder die deken in, amper alles in een beweging.

“Ek wou ’n danser word,” het Nina lank gelede vir my gesê.

“Maar jy is dan een,” het ek geantwoord. En sy is. Of sy nou dans of nie.

“Kom, babes. Wakey. Die nag is op ons.” Babes.

Dis ’n paar sekondes voor ek onthou waar ek is, en hoekom Nina op my bed sit. Sy hou ’n beker na my toe uit. Koffie.

Die nag is voorwaar op ons, sien ek deur die skrefies van die half oopgetrekte blindings voor die vensters. Nou moet ons wragtig move. Of . . . wag, ek moet eers gaan stort. Want hier sit Nina.

’n Halfuur later stap ons af – of is dit op? – in Broadway. Ek is amper verbaas dat dit net ’n straat is. Wat ek verwag het, weet ek nie. Nina haak haar pinkie by myne in en ons lag, nie vir iets nie, sommer net.

Ek loop stadiger en gaan staan, en nou lag sy vir my. “Jy’s soos ’n plaasjapie in ’n comic. Het jy nog nooit liggies gesien nie?”

“Fok die liggies.” Hillbrow het eens op ’n tyd so gelyk, net op kleiner skaal. Op sestien was ek daaraan verslaaf, aan die liggies en die lewe, en veral aan die feit dat mens sommer kon sien: hier pleeg mense op groot skaal sonde.

Liggies verveel my deesdae. Oor sonde moet ek nog besluit.

“Jy lees my verkeerd,” sê ek en beduie na die kostrokkies.

“Ag nee, komaan – hotdogs. Nee. Jy’t net een eerste aand in New York. En jy’t vir my. Komaan, man, ek bederf jou.”

Sy laat dit klink asof ’n hotdog die towerspreuk sal verbreek, dat ek haar kwyt sal wees, dat die liggies almal terstond sal verdof.

Ek wil Nina vanaand by my hê, maar ek wil nie hê sy moet hierdie aand hijack en my na ’n eetplek toe vat met ’n uitsig “op alles” soos sy belowe nie.

Ek is nie hier vir “alles” nie. Ek is hier om ’n stokou storie oor New York, ’n uitgedinkte storie, een wat ek ken uit flieks en boeke, voor my oë te sien afspeel. Ek wil ’n enorme sny pizza of ’n foot-long hotdog by een van hierdie trokkies in die straat koop en op die randsteen met ’n root beer sit en afsluk. Nie om geld te spaar, soos sy dalk raai omdat ek in ’n youth hostel bly nie. Ek wil dit doen omdat ek lus het.

Ek wil vanaand op die sypaadjie struikel oor ’n gebroke oorlogveteraan in ’n vuil denimbaadjie met afgesnyde moue terwyl hy ’n president vloek wat lankal dood is. Ek wil nie ’n toeris wees nie. Ek wil maak asof die Empire State en die Statue of Liberty my laat gaap, so gewoond is ek aan hulle. Ek wil my kop wegdraai van elke Duitser of Japannees met ’n kamera en ’n straatkaart. Ek wil in ’n kelder wat ondrinkbare mieliepit-whisky bedien luister hoe die verrimpelde nasaat van ’n slaaf ’n ou kitaar onsedelike dinge aandoen terwyl hy ’n geheim van pyn en verlies die nag in fluister. Hy fluister nie omdat dit ’n geheim is nie. Hy fluister want hy rook al vyf-en-sestig jaar lank en sy stembande is gefok.

Ons kan op pad terug iewers inval waar Nina ’n New York van haar eie kan verbeel, soos sy, jare gelede, op haar eerste aand gemaak het. Sy het ’n toneelstuk – “te lank, te swaar” – by The Lyric gaan kyk en daarna tot toemaaktyd in Pete’s Tavern gaan sit en haar verbeel O. Henry sit ’n entjie weg aan ’n onvergeetlike verhaal en skryf. Dis tog hoe mens maak in ’n plek soos New York. Vir wat wil jy dit met die werklikheid gaan staan en bederf?

Ek en Nina was nooit rêrig ’n iets nie. Nie amptelik nie. Ons het nie die mag gehad om mekaar seer te maak of teleur te stel nie. Nie amptelik nie. Elke keer – ja, dit was ’n patroon – elke keer wanneer dit amper wou lyk asof ons ’n iets gaan word, het dit net opgehou. Nie amptelik nie. Sommer so.

Ek het een aand lank gelede in ’n hormoonbeswyming vir haar gesê ek is lief vir haar. “Nee, Joe,” het sy gesê. “Jy’s lus vir my.”

Ek moes drieuur daardie oggend, vol wyn en ek kan nie onthou wat nog nie, na Hillbrow se noodapteek toe ry om vir haar ’n morning-after-pilletjie te gaan koop. Ek het gewens ek kon slaap totdat die apteke naby haar woonstel oopmaak, maar ek het ’n huurkar gehad wat ek moes terugbesorg en – wel, ek wou kyk hoe sy die pilletjie afsluk.

Sy’t geglimlag toe sy die pilletjie by my vat en in die opwasbak se drein afspoel. “Fok jou, Joe,” het sy gesê en my ’n speelse klappie, dalk nie heeltemal speels nie, op die wang gegee.

Nina glo die heelal is haar goedgesind en sal na haar omsien. Ek hoop weer die heelal kyk weg wanneer ek stupid is. In die morning-after-pil is my geloof onwrikbaar, maar hy werk net as mens hom drink. ’n Dag of wat later het ek ’n uroloog aan die Wes-Rand met moeite omgepraat om twee klein buisies te knip en te knoop.

“Jy’s te jonk.”

“My besluit.”

“Jy’s dalk later spyt.”

“My besluit.”

“Kry iemand anders.”

“Huisdokter?”

Hy het gesug en die ontvangsdame aangesê om vir my  ’n afspraak te maak.

Die prosedure was gou verby. Ek was half deur die slaap. Nina het saam met my gewag tot ek behoorlik wakker was.

Ek het by haar ingehaak toe ons kar toe stap. Sy’t my sonder ’n woord by die huis afgelaai.

En nou sit ek hier en ek eet my hotdog. ’n Hotdog in Manhattan smaak helaas nie veel anders as ’n hotdog by ’n skoolkermis in Suid-Afrika nie. Die tamatiesous is die beste deel.

Nina sit langs my met haar hand op my knie. Ek staan op en gooi die laaste hap saam met die servet in ’n asdrom. “Kom,” sê ek. “Kom ons spring op ’n trein.”

As Nina teleurgesteld is omdat ek nie wil hê sy moet vir my “alles” gaan wys nie en haar eerder na ’n hool toe wil sleep, steek sy dit goed weg. Ek dink sy is eintlik bly. Van wanneer af hou Nina van “alles”?

Sy leun oor na my toe, staan so effens op haar tone en soen my op my wang, met daardie wonderbaarlike bos hare wat oor alles tuimel. Sy vat my hand en huppel vooruit, ligvoets, en sleep my agterna.

 

Een aand saam. Net een. Soos afgespreek, is Nina vroegoggend weg sonder om te groet. “Ek verpes koebaais,” het sy al hoeveel keer vir my gesê.

Die eerste keer, lank gelede, was ek vies vir haar. Ek wou die laaste bietjie lekkerte uit ons samesyn pers. Maar Nina was dalk reg, soos wat sy oor baie dinge dalk reg is.

Ek was gisternag teleurgesteld toe Nina in haar eie bed gaan inkruip het. Ons was al twee lekker vrolik, beslis nie dronk genoeg om seks in ’n kamer vol vreemdelinge te oorweeg nie. Ek wou haar net vashou. Ek weet sy slaap sleg op vliegtuie en sy wou die paar ure voor die taxi haar oplaai, gebruik om van ons malle swerftog deur Greenwich Village te herstel, maar ek wou haar herinner dis ons enigste aand saam, soos sy vroeër met my gemaak het.

My vriend Francois se mens moet negentig persent van jou lewe toneel speel. As jy per ongeluk op iemand afkom by wie jy kan wees wie en wat jy is, moet jy verbete aan daardie iemand klou.

Maar my ervaring weerspreek sy teorie. By Nina moes en moet ek iemand anders wees, want by haar is die ware ek ’n dwaas.

Ek moes haar eenkeer by die lughawe aflaai, en die koebaai was voorwaar ’n mistroostige storie. Eers die gewone roetine.

Toustaan, bagasie weeg, instapkaartjie. Ek het haar handbagasie tot by die punt gedra waar ek moes omdraai.

“Ai, Joe,” het sy gesê en met haar duim oor my stoppelbaard gevryf. “Jy kyk te min kak flieks. Dis hier waar jy my moet smeek om te bly.”

Ek het geraai iemand wag vir Nina by die aankomsaal aan die ander kant. Soos daar seker môre iemand vir Nina in die aankomsaal aan die ander kant sal wag. Ek het in die kroeg van ’neetplek op die lughawe gaan sit, besef ek het skaars genoeg geld vir parkering gebring, ’n glas water bestel en besluit om Nina te vergeet, soos dit die held in ’n ander soort kak fliek betaam.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top