Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Vuurwarm deur Jan Braai

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Jan Braai

Jan Braai | Foto: verskaf

Jan Scannell – beter bekend as Jan Braai – se groot passie is vleis en vleisbraai. Jan het Nasionale Braaidag eiehandig ’n jaarlikse kuier- en kosfees gemaak deur Erfenisdag nie-amptelik te herdoop tot Braaidag. Die een aktiwiteit wat alle Suid-Afrikaners saambind is immers om kos oor oop vure te kook.


Opsomming

Vuurwarm
Jan Braai

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178174

Suid-Afrikaners vier elke jaar Nasionale Braaidag op 24 September. ’n Dag vir al die burgers van Suid-Afrika om lekker te ontspan en rondom die braaivleisvure te kuier met hul vriende en familie.

Die dryfkrag agter hierdie inisiatief is ’n man bekend as Jan Braai. In die boek gaan Jan verder as algemene raad oor vuurmaak en die braai van steak, tjops, hoender en wors: Hy daag ons uit om ook sy heerlike kerrie-potjies, pannekoek, hoender-mayonnaise broodjies, malvapoeding en appeltert op ’n oop vuur te probeer! Dié pragboek is gepak met meer as 80 lusmaak-resepte, wat alle braaiers – van beginners tot dié wat wéét – sal inspireer om vriende en familie te nooi vir smulkos en samesyn.

Vuurwarm, nou vir die eerste keer in sagteband beskikbaar, is deur Die Burger beskryf as die "ensiklopedie van braai" en meer as 12 000 kopiee is reeds opgeraap.


Uittreksel

Steak-en-moutpastei

Die Iere het hulle eie weergawe van Nasionale Braaidag. Hulle noem dit St Patrick’s Day en op daardie dag kom die hele Ierland tot stilstand vir een groot partytjie. Ek was al by ’n paar St Partrick’s Day-vieringe in Dublin as deel van my voortdurende navorsing ter bevordering van Nasionale Braaidag. Nou, elke enkele kroeg in Ierland bedien ’n fantastiese pastei van steak en mout; dis stapelvoedsel daar. Ek het die resep aangepas om by ons plaaslike braaitoestande te pas. Jy maak die pastei se vulsel in ’n potjie en jy braai die deeg op ’n rooster oor die kole. Pasteityd!

Wat jy nodig het

(vir 6 mense)

2 sopies olyfolie
1 kg steak (dikrib is die beste, andersins kruissnit; in blokkies van 2 x 2 cm gesny)
2 teelepels sout
1 teelepel swartpeper
1 sopie koekmeel
1 ui (fyngekap)
1 wortel (geskil en fyngekap)
2 selderystokkies (fyngekap)
1 sopie gemengde kruie (roosmaryn, tiemie, pietersielie; of sopie droë gemengde kruie)
1 blikkie of bottel moutbier (stout beer; omtrent 400 ml)
250 g knopiesampioene (in die helfte gesny)
1 pakkie skilferkorsdeeg (400 g, heeltemal ontdooi)

Laat waai!

Maak die pastei se vulsel:

1. Verhit die olie in ’n potjie op ’n warm vuur. Voeg dan die vleisblokkies, sout en peper by en roer. Strooi die meel oor die vleis en roer om die meel eweredig te versprei. Die bodem van die pot kan dalk ’n bietjie droog lyk, maar moet jou nie te veel daaroor bekommer nie. Braai nou die vleis in die pot vir so 5 minute totdat dit effe bruin is.

2. Voeg die gekapte uie, wortel, seldery en kruie by en braai nog so 5 minute.

3. Gooi nou die mout by. Roer om enige taai stukkies onderin die pot los te wikkel en kry die mengsel aan die prut. Sit die deksel op en laat dit vir so 15 minute prut.

4. Voeg die sampioene by, sit die deksel weer op en laat dit vir 1 uur op ’n lae hitte prut. Dit is baie belangrik om die hitte laag te hou. "Baie lae hitte" beteken net ’n paar kole en geen noemenswaardige vlamme onder die pot nie.

5. Wanneer die vulsel in die pot amper reg is (na omtrent 1 uur se prut), rol jy die skilferkorsdeeg oop. Nou het jy twee keuses: sny die deeg óf in die vorm van die bakkies waarin jy die pastei gaan bedien, óf in vierkante wat jy dan bo-op die vulsel in borde of bakkies gaan sit. Braai die deegvormpies in ’n geoliede toeklaprooster vir omtrent 20 minute oor baie matige kole. Draai die rooster gereeld totdat die deeg goudbruin en bros is. Moenie te vinnig braai nie, want dan is die kanse goed dat jy die kors sal verbrand. Dit sal aanvanklik lyk of die deeg begin smelt; ontspan, dit sal gou harder en maklik hanteerbaar word mits jy aanhou om dit versigtig oor die hitte om te draai.

6. Wanneer die vulsel reg is, haal jy die potjie van die vuur af en roer deeglik. Die vloeistof behoort nou dik en blink te wees. Indien nie, laat dit vir ’n paar minute sonder die deksel prut sodat dit kan reduseer en verdik. Proe en voeg sout en peper na smaak by.

7. Bedien deur die vulsel in bakkies of in borde op te dis en dan die gebraaide stukke kors bo-op te sit. Jy kan ook die pastei saam met kapokaartappels voorsit as jy lus het.

 en ...

Al is Guinness die wêreldbekende voorbeeld van moutbier, is dit glad nie die enigste een nie. Die resep sal net so lekker smaak met ’n plaaslike gunsteling soos Castle Milk Stout.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top