
LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
Jeanette Stals
Aanvanklik skryf Stals kortverhale en in 1981 skryf sy in vir JP van der Walt en Seun se landswye romansewedstryd. As wenner van die tweede prys word Verlief, Verloof, Verdwyn gepubliseer. Die liefdesverhaal Om die berg te klim verskyn heelwat later by Human en Rosseau en in 2002 ook in groot druk.
Afgetree uit die onderwys en werksaam as toergids en gastehuis-eienaar, kan sy meer op skryf konsentreer en omdat sy graag misdaadfiksie lees, begin sy haar toespits op die spanningsgenre. Haar eerste boek in die reeks met Luna as hoofkarakter, Katoog, verskyn in 2016. Vermis is die tweede boek met Luna as hoofkarakter. Sy werk tans aan ’n lywige historiese roman.
Opsomming

Vermis
Jeanette Stals
Uitgewer: LAPA
ISBN: 97807993853331
Dit is die tweede boek in ’n reeks oor Luna, ’n jong speursersant van Stellenbosch. In hierdie verhaal word sy betrek by die ondersoek na ’n tienermeisie, Elodie, wat spoorloos uit ’n plaaslike gastehuis verdwyn het. Die meisie se ouers het as jong getroudes na Engeland geëmigreer en nou is die pa weer hier vir werk. Die ma en dogter het met vakansie saamgekom en Elodie kry ook geleentheid om spesiale vioollesse by die universiteit by te woon.
Luna se bekommernis oor wat met die meisie gebeur het, laat haar dieper betrokke raak by die gesin en noop haar eindelik om meer te waag as wat haar bevelvoerders van haar sou verwag. Sy volg ’n suspisieuse motor, word oorrompel en self ontvoer. In die bak van die motor vind sy die meisie, maar nou is albei gevangenes van ’n kartel wat handel dryf in jong vroue.
Luna moet elke greintjie inisiatief inspan en al haar kennis betreffende selfverdediging bymekaarskraap om van die ontvoerders af weg te kom. Ook om vir Elodie uit die gebou te kry en steeds uit die ontvoerders se kloue te hou.
Geleidelik blyk dit dat die gesinnetjie se bestaan nie so idillies is as wat dit vir buitestanders mag lyk nie. Aan die einde van die verhaal wag ’n skokkende onthulling op die leser.
Uittreksel
Een
Sy kom uit ’n donker plek. Probeer haar oë oopmaak. Kop pyn. Ooglede sit vas. Eindelik is daar ’n skrefie lig. Skerp, maar troebel. Maak weer toe.
Haar bene is seer. Ook haar hande, maar sy kan dit nie beweeg nie. Sy is op ’n bondel saamgetrek.
Sy byt vas, stoot haar bene stadig weg van haar lyf. Dowwe seer knel om haar enkel en sy lê eers weer stil. Probeer haar hand uitsteek om daar te voel, maar haar hande is aan mekaar vas, nes haar voete.
Water . . . Sy is so verskriklik dors.
Gwen klop aan die deur. “Elodie?”
Geen reaksie van haar dogter nie.
Sy kyk op. Nommer sewe – dit ís die regte deur.
Gesluit, kom sy agter toe sy die handvatsel afdruk. Sy buk en kyk by die sleutelgat in, sien dwarsdeur. Geen sleutel aan die binnekant nie.
Sy klop weer, hard en dringend.
“Elodie!” Hou asem op terwyl sy wag en bid vir ’n reaksie. Enigiets, selfs ’n deur-die-slaap-grom sal welkom wees. Maar daar’s niks.
Wat nou? Sy kry skielik koud.
Kyk om haar. Die gastehuis se gang is vreemde, byna vyandige terrein.
“Elodie!” roep sy weer en hamer teen die deur.
Die bestuurder verskyn aan die bopunt van die trap en kom nader.
“Is daar ’n probleem, Mevrou?”
Gwen se hande val langs haar sye. “My dogter is nie hier nie.”
Die vrou kom met ’n frons nader, klop aan die deur.
Ek het al geklop! wil Gwen skree, maar die stilte wat soos ’n waterval om haar opbou, druk haar keel toe.
“Ek gaan die spaarsleutel kry,” sê die vrou.
Dis ’n ewigheid voor sy terug is en dit in die slot druk. Oopsluit.
Die kamer is leeg.
Twee
Op pad werk toe lui Luna se selfoon en sy sien dis kaptein Bruwer wat bel. Vir wat nou? Sy is so te sê al by die kantore.
“Sersant Joubert,” antwoord sy.
“Gaan direk na die gastehuis by Merriman honderd en tien.”
Nie eens net “goeiemôre” of “is jy al op pad werk toe?” nie. Die nimlike Bruwer. “Het jy dit? Honderd en tien. Rustenbosch-gastehuis.”
“Ja, Kaptein.”
“Hoe ver is jy daarvandaan?”
“’n Paar minute, Kaptein.”
“Kry jou voor die hek.” Verbinding verbreek. Tipies Bruwer.
Diefstal of inbraak? Nie as Bruwer self daar die septer swaai nie. Wat dan?
Net verby die groot verkeersirkel sien Luna die gastehuis se uithangbord. Kaptein Bruwer en luitenant Johan Botha staan daar in die flou oggendson. Bruwer se groot kop is effens versonke tussen sy krom skouers. Dit lyk asof hy gereed is om te storm, maar dis hoe hy gewoonlik lyk. Hulle staan voor die hek soos belowe. Hy hou altyd by sy beloftes, nes by dreigemente.
Gelukkig is luitenant Botha ook hier, haar halfbroer. Lank en skraal, met ’n haakneus en ligte hare wat meestal bietjie deurmekaargekrap is. Die vingers in sy hare help hom om beter te dink, sê hy. Hy is haar senior met heelwat meer jare ondervinding en sy het al baie by hom geleer. Hulle werk goed saam, want hy gee haar die ruimte wat sy nodig het. Persoonlik, sowel as in die werkplek.
Luna trek haar stokou wit Golf op een van die parkeerplekke voor die hek in en klim uit.
“Tienerdogter van gaste hier is missing,” sê Bruwer toe sy by hulle kom, en een wenkbrou op sy rottweilergesig trek skepties in ’n boog. “So sê die ma. Buitelanders, ons sal daarop moet ingaan,” voeg hy by.
“Van waar kom hulle?” vra Luna.
“Engeland. Êrens naby Londen.” Hy kyk stip na haar, wag vir ’n sinvolle reaksie van haar kant af.
“Net die ma en dogter hier?”
Bruwer lyk tevrede en knik sy kop. “Die man ook. Hy’s hier as konsultant vir ’n konstruksiemaatskappy. Vrou en kind saamgebring. Hulle is oorspronklik van Suid-Afrika en sal ook by familie hier kuier.”
“H’m.” Luna kyk deur die traliehek. Die gebou lyk na ’n ouerige woonhuis wat opgeknap en vergroot is tot ’n gastehuis. Die Franse voordeur se boonste helfte het glaspanele. Dit sien mens nie meer in nuwer geboue nie. Alles word deesdae ondeurdringbaar, agter slot en grendel beveilig.
“Ek wil hê jy moet dophou wat hier gebeur, wie kom en gaan.” Bruwer se donker oë verraai niks. “Bring soveel moontlik tyd saam met die ouers deur. Kyk wat hulle doen en met wie hulle praat, ook waaroor die gesprekke gaan, indien moontlik.” Luna knik. “Maak ’n nuisance van jouself. Dis nou aanvullend tot die gewone ondersoek. Ek wil weet wat aangaan, of ons hier met ’n misdaad te doen het en of die kind net rondloop.”
“Reg, Kaptein.”
Botha, wat nog nie ’n woord gesê het nie, lig sy hand en trek ’n grys skyfie oor die paneelbord op die hek se pilaar. Die hek sluit met ’n piepgeluid oop.
“Ander gaste eet nog ontbyt agter op die stoep,” sê Bruwer terwyl hulle met die paadjie aanstap voordeur toe. “Ons sal nie nou dinge hier te veel ontwrig nie. Die ma wag vir ons bo in die leeskamer.”
Met die instapslag is Luna bewus van die gesellige atmosfeer. ’n Paar gaste kan deur die agterste glasdeur en groot venster gesien word waar hulle buite onder die afdak sit en eet. Binne speel musiek sag op die agtergrond, en gebraaide spek geur die lug. Ook varsgemaalde koffie. Houtvloere en meubels uit die vyftigerjare is smaakvol aangevul met moderner items.
Luna het net ’n paar oomblikke waarin sy Madiba se sketse van hande teen die muur kan waardeer toe ’n netjies geklede vrou met kort swart hare en wakker oë hulle tegemoet loop.
“Kan ek vir julle koffie boontoe stuur?” Ronel, die bestuurder, lees Luna op haar naamplaatjie.
“Dankie, ja,” besluit Bruwer en neem die voortou met die trap op.
Bo is ’n portaal wat direk by ’n leeskamer aansluit. Daar staan ’n rusbank teen die linkerkantste muur en aan die ander kant twee gemakstoele. Agter die stoele is ’n ingeboude rak met boeke en langsaan is nog ’n outydse boekrak met glasdeurtjies, ook vol boeke gepak.
’n Vrou staan met haar rug na hulle voor die groot skuifdeure wat op ’n balkon uitloop. Sy is van gemiddelde lengte, effens mollig, en dra ’n sandkleurige linnelangbroek met ’n sagte pienk bloes daarby. Haar ligte hare is in ’n kort, modieuse kapsel gestileer. Op die oog af lyk dit asof sy voor die glasruit staan om die berge in die verte te bewonder. Gebaai in oggendson troon dit bokant die aangrensende geboue uit.
Die vrou draai om en rig blou oë vol angs op Luna.
Dit sal die ma wees.
“Mevrou O’Neill,” sê Bruwer, beduie toe na Luna. “En dis sersant Joubert wat met luitenant Botha gaan saamwerk. Sy sal meestal dinge hier by die gastehuis monitor.” Sy Engels is sterk in die plaaslike tongval gemarineer, maar hy gebruik ten minste die regte woorde. “Sersant Joubert sal julle ook op hoogte hou, nuwe verwikkelinge aan julle deurgee. En as julle vrae het, kan julle dit ook vir haar vra.”
Ha-ha, dink Luna. Slegs verwikkelinge wat Bruwer reken nodig is om deur te gee. En die groot vraag kan niemand nog beantwoord nie.
Sy weet egter wat hy van haar verwag. Behalwe die formele ondersoekprosedures moet sy haar oë en ore oophou vir alles wat hier gebeur. Almal wat hier werk of hier tuisgaan, moet van naderby bekyk word. Selfs die dogter se familie en vriende moet onder die vergrootglas kom. Misdade teen vroue, indien dit hier ter sprake is, word feitlik deur die bank gepleeg deur ’n man met wie sy ’n verhouding het, of gehad het. By ’n veertienjarige slagoffer kan dit iemand in die vriendekring of familie wees met pedofielneigings.
Die vrou se oë draai na Luna. “Hallo.” Woorde opgedroog, steek sy haar hand uit soos na ’n reddingstou.
Luna soek nie die aanraking nie, is ook nie verplig nie, maar neem die hand. Dis bewerig en klam, die drukkie halfhartig. Die vrou se ligte vel lyk deurskynend, so bleek is sy. En waar is die pa? Wat is die ouers se verhouding met mekaar en met die dogter? begin Luna se gedagtes koers kies. Met watter ander mans het die familie, en meer spesifiek die kind, noue kontak gehad? Want indien die kind saam met ’n wildvreemde weg is, sal dit bitter moeilik wees om te weet waar hulle na haar moet begin soek.
“Soos reeds genoem, mevrou O’Neill,” gaan Bruwer voort, “die kanse is goed dat u dogter net iewers saam met ander jong mense uithang. Dis ’n studentedorp met baie kuierplekke.” Hy verswyg liewer die feit dat driekwart van die tieners wat verdwyn van die huis af wegloop.
Die vrou skud haar kop heftig, “Nee.” Sy kyk van Bruwer na Botha en toe na Luna. “Sy’s net veertien. Sy hang nog nie uit nie.” Hulle reageer nie. “Alles hier is vir haar vreemd,” sê sy sagter. “Sy ken nie enige studente nie. Waar sal sy ‘uithang’?”
“Hoe lank is julle nou al hier?” vra Luna.
“Ons het die negende April gekom.”
Elf dae. Mens kan heelwat mense leer ken in elf dae.
“Wat reken u dan, waar anders kan sy wees?”
Die vrou skud weer haar kop. “Dis wat ek nie verstaan nie.”
Haar oë soek desperaat na iets wat Luna nie het om vir haar te gee nie.
Een van die gastehuis se personeel kom die trap op en plaas ’n skinkbord met vier wit koppies koffie sowel as melk en suiker op die lae tafel. Haar naamplaatjie sê sy is Sylvia. Luna knik vir haar ’n dankie.
“Nie vir my nie,” sê die ma toe kaptein Bruwer die skinkbord optel en nader bring. “Ek moet weet wat aangaan. Waar Elodie is.” Haar stem klink baie naby aan breek, maar sy hou haar in. Nog geen trane of wilde aantygings teen enigiets of iemand nie.
Bruwer sit die skinkbord neer en help homself. Sluk die koffie vinnig af en plaas die koppie terug op die piering. “Ek laat u nou in die bekwame hande van hierdie twee speurders,” sê hy. “Luitenant Botha sal die ondersoek lei en sersant Joubert is tot julle beskikking. Maar dit gaan ’n spanpoging wees waarby ons nog mense sal betrek.”
Bruwer wil eers seker maak die meisie kuier nie net iewers nie, vermoed Luna, maar hy kan dit nie vir die ontstelde ma sê nie. Stellenbosch kry baie besoekers en veral mense uit die buiteland moet gelukkig gehou word.
“Wanneer laas het u u dogter gesien, Mevrou?” vra Johan Botha nadat Bruwer omgedraai het en die trap afgaan.
“Elodie is haar naam. Elodie,” herhaal sy sagter, asof sy die kind na haar toe probeer lok, en maak haar oë toe. Sy maak dit weer oop en kyk na Johan. “Ons het gisteraand by Manouche hier onder in die dorp gaan eet. Seker net ná nege teruggekom want my man het nog werk gehad om te doen.”
“En . . .?”
“Elodie het naggesê en by haar kamer ingegaan.”
“Dit was vroeg. U het haar nie weer gesien nie?”
“Nee. Ek kon hoor sy sluit haar deur. Ons kamer en hare is reg langs mekaar.” Sy druk haar lippe opmekaar, hou haar emosies binne terwyl sy vir ’n reaksie van Johan wag, maar hy knik net. “Wel, vanoggend was sy nie meer daar nie. En haar selfoon gaan oor na voice mail.”
“U man wou nog werk, sê u. Hier of . . .?”
“Op die balkon daar in ons kamer. Dan pla dit my nie. Ek was moeg en het gaan inkruip.”
“En u het gisteraand niks verder gehoor nie? Of deur die nag miskien?” Sy reageer nie. “Die dogter se deur wat oop- of toegaan, stemme of ander geluide hier in die gang?” probeer hy.
“Niks. Hier bly ander mense ook.” Sy beduie met haar hand in die gang af. “In daardie kamer. Maar ek het hulle ook nie gehoor kom of gaan nie.”
“U slaap baie vas?”
“Ja.”
“U is gelukkig,” sê Johan en steek vas toe hy besef hoe onvanpas die opmerking is. “Kan u die twee kamers vir ons wys?”
“Ja.” Sy staan op, klaarblyklik gretig om meer te doen as net praat.
Die eerste twee kamers, links in die gang, se deure staan oop. Sy beduie na die eerste een. “Ons slaap hier en Elodie in die volgende een.”
Hulle stap verby na Elodie se kamer en gaan in. Die gordyne teen die oorkantste muur is toegetrek. Was dit nie vir die daklig wat brand nie, sou dit skemerdonker binne gewees het.
“Het julle vanoggend die lig aangeskakel, mevrou O’Neill?” vra Luna.
Die vrou kyk met ’n frons na haar en dink ’n oomblik na. “Nee. Dit het gebrand.”
Die gordyne lig effens van die oggendbries wat inwaai en die kamer het ’n skoon, vars geur. Buiten ’n paar kreukels op die wit duvet, asof iemand op die kant van die bed gesit het, lyk dit nie asof daar in die bed geslaap is nie.
“Sy’t nie miskien die bed vroeg opgemaak en uitgegaan nie?” vra Luna.
“Die personeel hier maak die beddens op. En waarheen sal sy so vroeg gaan?” Vir die eerste keer is daar ’n vonkie weerstand in die verslae ma.
“Sy kon miskien gaan draf het?”
“Sy stel nie in sport belang nie. Sy speel viool en klavier.”
“Waar is u man?” kom Johan tussenbeide. “Is hy hier?”
Die vrou draai na hom. “Nee. James is al weg werk toe. Baie vroeg, net ná sesuur.”
“Het u hom gekontak?” Ongeduld slaan deur in sy stem. “Weet hy dat Elodie vermis word?”
“Ek het ’n paar keer sy selfoon probeer maar kry hom nie in die hande nie. Wou by hom hoor of hy weet . . . of sy dalk saam met hom . . .” Sy steek verward vas. “Ek weet sy sou nie saam met hom gegaan het nie, maar het tog so gehoop.”
“Waarom sou sy nie?” vra Luna.
“Hy het gaan werk.” Die blou oë flikker. “En ons twee het ander planne gehad vir vandag.”
“Antwoord u man nie sy foon nie?” wil Johan weet.
“Dit lui nie eens nie. Hy’t gesê daar’s nie goeie ontvangs waar hy werk nie,” voeg sy gou by. Arms gevou, hou sy haar boarms vas asof sy haarself bymekaar moet hou.
“En waar is dit?”
“Anderkant Helshoogte op ’n plaas iewers tussen die berge. Hulle bou ’n dam. Ek was nog nie daar nie.”
“Wie se plaas is dit?” vra Johan. “U man moet gekontak word.”
Haar hande gly los en sy steek een in haar langbroek se sak. “Ek sal ons vriend bel en vra of hy ’n landlynnommer het.” Sy lyk doelgerigter en meer in beheer van haarself. “Conrad woon hier naby. Net om die hoek, in Schoongezichtstraat. Hy’s ook ’n ingenieur en het vir James gesê van die werk hier.”


