Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Uit die bloute deur Chanette Paul

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Chanette Paul

Chanette Paul het reeds in verskeie genres gepubliseer, maar met haar spanningsromans wat sedert 2007 verskyn, vind sy werklik haar nis.

Die vyf boeke in die Gys Niemand-reeks is onlangs herdruk en die boeke wat daarna gevolg het – Die Maanschijnbaai-tweeluik, Labirint, Siende Blind, Raaiselspieël, Ewebeeld en Paaiboelie asook die Offer-tweeluik, Offerlam en Offerande – is steeds in druk.

Met die Offer-tweeluik – Offerlam en Offerande – maak sy haar internasionale buiging.

Offerlam en Offerande is in Nederlands vertaal en in België uitgegee. Albei is baie goed deur resensente ontvang en Offerlam verkry vier sterre in Vrij Nederland se gesaghebbende Detective en Thrillergids wat aan net 7 uit 636 boeke vyf sterre toegeken het.

Offerlam is ook in Engels vertaal as Sacrificed en in die VSA vrygestel waar dit goed ontvang is. Janet Levine van New York Journal of Books sê byvoorbeeld: “Sacrificed places Chanette Paul among the classiest thriller writers of our day.”

Chanette word geloof vir karakterisering, die manier waarop sy atmosfeer skep en die volgehoue spanningslyne in haar stories.

Kenmerkend van haar boeke is ’n deurlopende tema van vroue wat opstaan teen veral emosionele geweld. Haar vroulike karakters is sterk, maar hulle word nie noodwendig so gebore nie. Hulle word sterk deur verantwoordelikheid te neem vir hulle keuses, hulself te leer ken en groei só tot volwaardige, vervulde vroue.

Chanette is bekend daarvoor dat haar romans sosiale kommentaar subtiel oordra en ’n droë sin vir humor kenmerk haar werk.

Sy is reeds sewe keer benoem vir ATKV-Woordveertjies in verskeie kategorieë en wen in 2015 met Ewebeeld en in 2017 met Offerande Veertjies in die liefdesromankategorie. Sy behaal ’n driekuns toe Ewebeeld die Lekkerlit Boek van die Jaar 2014 wen. Vorige boeke wat dieselfde prys gewen het, is Maanschijnbaai: Jo & Sue (2012) en Siende Blind (2013).

Chanette werk ook as manuskripontwikkelaar vir LAPA Uitgewers.


Opsomming

Uit die bloute
Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799388947

Jojo Richter, die heldin van Siende blind, Raaiselspieël, Ewebeeld en Paaiboelie is terug.

Sy bars van nuuskierigheid oor die groep vroue in die Akkedisberge wat wag vir ’n moederskip vanaf die Pleiade-sterrestelsel. Wat gaan hier aan? Is hulle stapelgek, of steek daar iets in hulle bewerings dat die regering die feite oor kontak met ruimtewesens verdoesel?

Wanneer ’n boogskutter op rolskaatse ’n bekende regter vermoor, begin die vingers wys na die VVV-groep. Valk en Irene raak betrokke. Jojo ook. Intussen word die vreemde verdwyning van ’n groot aantal jong mans ook die span se probleem.

Jojo besluit om ondersoek in te stel. Is die vroue van die VVV-groep vredeliewende vegetariërs, of koelbloedige moordenaars? Jojo word deur ’n hommeltuig dopgehou en kom onverrigtersake by die huis aan.

Toe sy egter by die bure begin inligting soek, vloei die bloed in strome. In hierdie boek stapel die lyke op en die leser se senuwees word weer tot die einde toe beproef.

Uit die bloute is dik en vol kinkels. Dit is ’n klassieke Chanette Paul werk hierdie en nie iets om te begin lees as jy ’n sperdatum het wat voorlê nie!


Uittreksel

Wraak is nie soet nie. Dit het ’n bitter nasmaak. Dis ’n primitiewe manier van balans bring. Maar soms is dit die enigste uitweg. Al moet dit op so ’n mooi namiddag voltrek word.

Die lug is poskaartblou. Die see wat van die voet van die kranse af dein tot waar dit die onmeetlike op die horison ontmoet, nog ’n dieper blou. Die son skyn vol somerbeloftes al is dit nog vroeglente. Seemeeue krys in vlug en swarttobies swiep oor die rotse.

Die rolskaatse sing grinterig onder haar voete, vibreer in haar kuite en knieë. Die kranspad is ongelyk, maar begaanbaar met die sagter, smaller wieletjies. Op haar rug wip die rugsakkie spesiaal gemaak vir die inhoud. Die boog se punt steek uit sodat sy dit maklik hand oor skouer kan raakvat, maar vir ’n verbyganger sal dit hopelik na ’n stuk dryfhout of ’n musiekinstrument lyk.

Die sjor-sjar-ritme van die skaatse is hipnotiserend. Die kranspad is stil. Die inwoners van Bientangsbaai sal eers later met hulle honde kom stap. Die naweekgaste is al huis toe en die toeriste slaap nog hulle middagete af. Net ’n paar benut die veelheid van baaitjies wat met steil paadjies van die kranspad af bereikbaar is. Dis vir ’n verandering windstil en die afgelope paar dae se soelte is uitsonderlik vir dié tyd van die jaar.

Bientangsbaai is die soort vakansiedorp wat mense soos die teiken lok. Dis al sy derde besoek hierdie jaar. Elke keer saam met ’n ander slet. Hierdie keer ’n klein, fyn, Asiatiese meisiekind wat seker die plesiere van sy vele besoeke aan Thailand by hom oproep.

Sedert hulle Vrydag hier aangekom het, stap die twee elke middag na dieselfde beskutte strandjie toe. Een wat van die kranspad af feitlik onsigbaar is. Dis net op een punt waar die plantegroei oopmaak dat ’n mens kan afkyk op die baaitjie wat ’n ent ondertoe ingewig lê tussen rotse aan beide kante. Hulle behoefte aan privaatheid pas haar uitstekend.

Sy skrik toe sy moet uitswaai vir ’n drawwer wat onverwags om ’n draai kom. Sy ignoreer hom, maar haar hartklop skiet die hoogte in.

’n Entjie verder kom sy onder ’n melkhout tot stilstand en kalmeer doelbewus. Dit was ’n vlugtige ontmoeting en die meeste mense is onoplettend. Hy sal die rolskaatse onthou. ’n Vrou in swart noupassende klere. Haar hare en oë is verberg. Nee, hy sal haar nie op herkenbare wyse kan beskryf nie.

Sy visualiseer die taak wat voorlê en voor sy weer die paadjie aandurf, maak sy seker haar hande bewe nie meer nie.

Sekondes later swiep sy verby die opening na die trappies wat ondertoe lei tot by die baaitjie waar die teiken is. Ongeveer honderd meter verder draai sy om. Niemand in aantog nie. Sy skaats terug en kom tot stilstand. Met die rolskaatse aan moet sy mooi trap om by die gaping te kom wat haar ’n uitsig op die strandjie gee.

Soos ’n uitgespoelde rob, pens in die lug met net ’n swembroek aan, lê hy. Die meisiekind in ’n piepklein bikini sit wydsbeen oor sy bobene terwyl sy hom masseer. Daar. Daar waar die kwaad in ’n man uitbroei. Daar waar dít sit wat van mans barbare maak.

Sy hou haar kop skuins. Klink nie asof iemand aankom nie.

Haar bewegings is so geoefen soos tande borsel toe sy die boog uittrek, die drie pyle gereed kry. Sy haal diep asem, bring alles in haar tot ewewig, sentreer haar denke.

Sy lig die boog, span die pyl, mik, laat vry. Om te verneder en angs te skep. Volgende pyl. Span, mik, laat vry. Om dood te maak. Volgende. Span, mik, laat vry. Vir die wis en die onwis.

Die Thaise meisiekind het verstar van skok en spring eers op toe die derde pyl die oorgewig oumanslyf diep binnedring. Haar gil los op in die gedruis van ’n brekende brander en die gekrys van ’n meeu.

Daar is nie tyd om te kyk wat verder op die strand gebeur nie. Boog in die rugsak. Terug op die paadjie. Sjor-sjar-sjor-sjar. Nie te vinnig nie. As sy iemand teenkom, moet sy nie meer aandag trek as wat nodig is nie.

Die voertuig staan by die afgespreekte plek op ’n grondpaadjie wat buite seisoen min gebruik word. Boogkuttershandskoen uit. Rolskaatse af. Valhelm los.

Sy stap vinnig, maar nie oorhaastig nie, na die voertuig. Gooi die rugsak, valhelm en skaatse agterin. Klim in. Die bestuurder trek weg nog voor haar deur behoorlik toe is.

Sy haal haar beanie af. Skud haar hare los. Rits die swart top oop en pluk dit uit. Trek die moulose T-hempie reg. Vervang die sportsonbril met ’n ander een.

In die kantspieël lyk sy nou soos ’n sorgvrye vakansieganger pleks van ’n speler in ’n Roller Blade-fliek.

Eers toe hulle by die blouvlagstrand se teerpad indraai en deel word van die verkeer na Bientangsbaai se hoofpad kyk die bestuurder na haar, die blou oë vraend.

Sy knik. “Dit is volbring.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top