Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Truitjie roer my nie deur Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling

Erns en Schalk (Foto: Alet Pretorius)

Schalk Bezuidenhout, die krulkopkomediant met die snor en kenmerkende truitjies, is op 26 reeds volksbesit. Sedert hy in 2015 in Trevor Noah se voorprogram opgetree het, het hy meteoriese opgang gemaak as 'n stand-up-komediant, TV-aanbieder en -akteur. Schalk woon in Groenpunt in Kaapstad, maar voorstedelike Kempton Park in Gauteng is sy grootwordplek. 

Erns Grundling is ’n TV-aanbieder en veelbekroonde joernalis. Hy het voorheen by Weg, LitNet, Insig en Huisgenoot gewerk. Hy is oorspronklik van Port Elizabeth en woon in Kaapstad. Sy 2016-reisboek Elders, oor sy Camino-staptog, was ’n groot treffer.


Opsomming

Truitjie roer my nie
Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801778

Wat beteken dit as ’n jong Afrikanerman jou beskryf as “nogals orraait”? Hoe trek jy die gehoor se aandag as die basaarpoeding hulle gemesmeraais het? En waar in die wêreld is die berugte Pomona Spur? In dié piepie-jou-nat-van-die-lag memoire verklap Schalk – en sy soortvan-bestuurder, Erns Grundling – die bisarre en hartroerende dinge wat hy oorgekom het op sy reise regoor die land na oral waar ’n mikrofoon en ’n gehoor hom inwag.


Uittreksel

Die begin

Ek haat die stereotipe dat komediante die funny guy in school was. Ongelukkig is dit in my geval waar. Ek was die clown in die klas. Ek sê altyd die humorgeen in my is ’n kombinasie van my ma en my pa. My pa is so skerp soos ’n lem, maar baie deadpan. My ma is weer baie animated, maar haar grappe is nie altyd so goed nie. Ek is waar hulle comedy powers ontmoet. Oftewel, ek dink graag so.

Ek is nog altyd mal oor Jim Carrey. Ek wil amper sê dat hy my gunstelingakteur van alle tye is. By die huis het ek altyd Jim Carrey se bekende karakter, Ace Ventura, nagemaak. Dan het my ma, wanneer ons by mense kuier of mense by ons, my altyd forseer om dit te doen. “Doen Ace Ventura vir die tannie! Ag toe man, Schalkie, jy doen dit so oulik!” Ek sou altyd protesteer, maar altyd verloor. As ek weer sien, staan ek voor ’n vreemde tannie en trek gesigte wat lyk soos ’n demoon wat uit die hel uit ontsnap en maak asof ek uit ’n renoster se hol uit kruip (dit gebeur in een van die Ace Ventura movies, net ingeval jy nou wonder waarvan ek praat). Die belangrikste vereiste vir ’n Ace Ventura impersonation is dat die gehoorlid al ’n Ace Ventura-fliek moes gesien het. Meeste van die tannies vir wie ek Ace Ventura nagemaak het, het nog nooit eers van Jim Carrey gehoor nie. Hulle het altyd vriendelik gesmile en stilletjies gedink: Arme Greta, haar kind is fokken mal.

Ek was (jy kan seker raai) ’n verfynde klein seuntjie. Ek is baie gespot en het baie kere ná skool by die huis aangekom en by my pa gehuil: “Die kinders by die skool noem my ’n moffie.” My pa se advies het nie veel gehelp nie. “Die volgende ou wat jou ’n moffie noem, slaan jy so hard as wat jy kan met jou vuis op die neus.” Thanks, Pa. Dan is ék die een wat uit Laerskool Kruinsig geskors word. My gesin is middelklas. Hulle het nie die lapa of eers die onder-dertiens se derde rugbyspanuniform geborg nie. Ek was nou nie juis ’n valuable asset vir die skool nie.

Ek sal nie sê my humorsin is gebore uit survival nie, maar een ding is seker: Boelies is gewoonlik nie baie snaaks nie. So as die snaakse outjie kom jy gewoonlik vinnig in hulle goeie boekies. Jy is die nar wat met die klap van ’n vinger sal perform en hulle sal entertain soos een of ander Middeleeuse hofnar wat vir die koning optree. As hy weier, word sy kop afgekap. Die boelies sou nou nie my kop afkap nie, maar sonder hulle goedkeuring was my sosiale status dood. As gevolg van jou snaakse maniertjies hou die meisies ook baie van jou. Dan is die boelies (met ander woorde die rugbyouens) baie nice, want as hulle lelik is met jou, hou jou mooi vriendinnetjies nie so baie van hulle nie. Niemand het my ooit as ’n bedreiging in die meisie-afdeling gesien nie. Ek was mos die drama-outjie en die redenaar en dié is mos almal moffies.

In die hoërskool het daar ’n wonderlike ding gebeur. Daar was ’n outjie (wat nou in Binnelanders is), Germandt Geldenhuys, wat ’n maandelikse nuusbulletin gedoen het tydens saalopening. Hy het dit 94.7 genoem en voor die bulletin het hy die Highveld Stereo-deuntjie gesing. Hy sou onderwysers, die cool kinders, kinders wat gedink het hulle is cool, die nuutste couples, almal uithaal. Ek was in graad 9 (standerd 7 vir die ouer lesers) toe Germandt in matriek was. Die kinders was MAL oor 94.7 en Germandt wou nie dat dit ’n natuurlike dood sterf wanneer hy die skool verlaat nie. Hy het my eendag ’n lift in sy vanilla Volla gegee en 94.7 aan my oorhandig. Dit was vir my ’n massiewe eer en ek het die verantwoordelikheid met trots aanvaar.

Met 94.7 het ek respek ervaar soos nog nooit vantevore nie. Skielik het ek ’n soort mag gehad. ’n Soort mag wat niemand anders gehad het nie. Fok rugby speel – ek kon die rugbyspelers embarrass! Voor die hele skool! Ek kon die hotste meisie in die skool verneder. Kinders het links en regs na my toe gekom, die nuutste skindernuus in my oor gefluister en my gesmeek om dit in die volgende 94.7 te gebruik. Die onderwysers was nie altyd so mal oor my nie. My pa was die adjunkhoof en onderwysers het dikwels in sy kantoor ingestorm en gekla oor my “onvanpaste” aanmerkings op die aantreeblad. My pa het sy skouers opgetrek en gesê: “Dit het niks met my te doen nie.”

Ek onthou ’n spesifieke oggend wat ek op die verhoog gestap het om ’n 94.7 te doen. As die kinders my sien opstap, het hulle al geweet wat kom. Die skool, al eenduisend-tweehonderd van hulle, cheer nog voor ek my mond oopgemaak het. Net voor ek my eerste skoot af vuur, hoor ek hoe een van die Lewensoriënteringonderwysers sê: “Iemand moet hierdie kind stop.”

Nou was ek ’n rockstar. Niks meer van hierdie moffie-moffie-kak nie.

Net ’n vinnige iets oor die woord “moffie”. Ek is die verste ding van ’n homophobe. Van my beste vriende is gay! (Grappie. Dis mos wat mense sê om enige soort haatspraak te justify. Maar net vir die rekord, van my beste vriende ís gay.) Om iemand ’n moffie te noem het vir my niks te doen met gay-wees nie. Ek bedoel, op laerskool het ons nie eers werklik verstaan wat gay is nie. Daar was een outjie wat twee mammas gehad het, maar ons het gedink dit is awesome. Deur vir ’n outjie te sê hy is ’n moffie, sê jy dat hy minder van ’n man/seun is as jy, met ander woorde minderwaardig. Daarom sê ek dat dit niks te doen het met homoseksualiteit nie. ’n Gay man is nie outomaties minder van ’n man nie. Om ’n moffie genoem te word maak seer, maak nie saak wie jy is nie. Dis ’n boelie se manier van sê: Jy kan niks aan my terugdoen nie al wil jy, want jy is ’n moffie. Ironies genoeg, baie van die boelies wat my op skool ’n moffie genoem het, is nou bouncers by gay clubs.

Ek het ’n paar jokes in daai nuusbulletins gedoen waarop ek nou nog trots is. Ook ’n paar waaroor ek spyt is. Ek sal jou laat besluit waaroor ek trots en waaroor ek spyt is.

Daar was ’n outjie, Riaan van Staden, wat baie kort was. In matriek het ek gesê dat ek mal is oor Riaan se diverse style, “want Riaan koop sy klere by Build-A-Bear; so een dag is hy ’n polisieman, dan ’n dokter, dan ’n brand- weerman”.

Dan was daar ’n meisie, Johané Noble, wat gedink het sy is baie hotter as wat sy was. Sy het gedink elke ou probeer haar vry. Meanwhile wou hulle net haar huiswerk afskryf. In een van my 94.7-stories het ek gesê: “Hier is ’n storie oor een van die hotste meisies in die skool . . . SIT JOHANÉ! DIS NIE JY NIE!” Johané was in trane en haar ma het haar voor die eerste periode kom haal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top